Die Metafoor in Seisoenlektuur - Daniel Hugo Aantekeninge

You might also like

Download as pdf or txt
Download as pdf or txt
You are on page 1of 6

Die metafoor toegelig aan die hand van “Seisoenlektuur” deur Daniel Hugo

Aantekeninge deur prof. Andries Visagie

Een van die unieke kenmerke van die poësie is die hoë voorkoms van metafore.
Vanselfsprekend kom metafore ook voor in gewone taalgebruik, soos byvoorbeeld wanneer
iemand op „n wintersoggend opmerk: “My voete is twee blokke ys”. In poëtiese taalgebruik
kom die leser te staan voor komplekse en ongewone metafore wat hy of sy moet interpreteer
omdat hulle nie altyd onmiddellik sin maak nie. Verder is dit ook waar dat sommige gedigte
geen of baie min metafore bevat, maar die meeste digters kan nie nalaat om die een of ander
tyd metafories te dig nie.

Die doel van hierdie lesing om eerstens „n bondige bespreking te bied van die eietydse
metafoorteorie en om tweedens hierdie teorie op die gedig van Daniel Hugo,
“Seisoenlektuur”, toe te pas.

1. Hoe funksioneer die metafoor?


Een definisie van die metafoor is dat dit tot stand kom wanneer een idee voorgestel word in
die gedaante of vorm van „n ander idee wat treffender voorkom of beter bekend is (Ricoeur
1978: 57). Die dinamiek wat in „n metafoor op die spel is, is met ander woorde ‟n proses van
vergelyking waardeur die twee domeine wat met mekaar vergelyk word, ‟n interaksie met
mekaar aangaan en nuwe en dikwels ook verrassende betekenisse vrystel deur die
interaksieproses. Een van die vaders van die interaksieteorie oor die metafoor in die
twintigste eeu, die Britse literatuurwetenskaplike I.A. Richards, het twee begrippe geskep
waarmee die twee domeine wat in „n metaforiese uitdrukking met mekaar vergelyk word,
benoem kan word. Volgens Richards is die tenor die letterlike komponent van die
metaforiese uitdrukking en die vehicle verteenwoordig die figuurlike komponent van die
metaforiese uitdrukking. In Richards se interaksieteorie volg daar „n proses waarvolgens daar
binne die metafoor ‟n wisselwerking tussen gedagtes plaasvind en nie net „n wisselwerking
tussen die woorde waarmee hierdie gedagtes uitgedruk word nie. As ons dus terugkeer na die
metafoor, MY VOETE IS TWEE BLOKKE YS, is die tenor, die kernelement oftewel die
letterlike komponent, naamlik VOETE. Die vehicle, dit wil sê die figuurlike komponent in
die metaforiese vergelyking is TWEE BLOKKE YS. „n Metafoor het dus twee baie
duidelike en afsonderlike komponente wat gesien kan word as die primêre en die sekondêre
komponente. Die sekondêre komponent (TWEE BLOKKE YS) word opgeroep deur die

1
woord of frase wat in ‟n nieletterlike sin gebruik word en die primêre komponent (VOETE) is
daardie element binne die metaforiese uitdrukking wat letterlik gebruik word.

In die metafoorteorie het dit uiteindelik nodig geword om nie net by hierdie tweeledige
konsepsie van die metafoor vas te steek nie aangesien die wisselwerking tussen die twee
komponente ook op „n bevredigende manier verklaar moes word. George Lakoff en Mark
Johnson het toe met die konseptuele metafoorteorie vorendag gekom. Volgens die
konseptuele metafoorteorie bestaan die metafoor uit twee konseptuele domeine. Daar is
reeds daarop gewys dat die metaforiese uitdrukking uit twee komponente bestaan naamlik die
metaforiese uitdrukking en die letterlike uitdrukking. In die konseptuele teorie word die
figuurlike oftewel metaforiese uitdrukking, wat Richards as die vehicle omskryf het, nou die
brondomein genoem en die letterlike uitdrukking, wat Richards as die tenor omskryf het, die
teikendomein. Die brondomein verwys na die betekenisveld waarvandaan die metafoor
ontleen is en die teikendomein verwys na die konseptuele veld waarop die metafoor toegepas
word (Knowles and Moon, 2006: 33).

Die brondomein (TWEE BLOKKE YS) en die teikendomein (VOETE) ontmoet mekaar dan
in „n sogenaamde integrasieruimte, dit wil sê die ruimte waar die brondomein en die
teikendomein in interaksie met mekaar tree en uiteindelik die nuwe betekenis voortbring.
Aspekte van die brondomein, TWEE BLOKKE YS, (“twee onbeweeglike entiteite”, “dood”,
“bevrore water”) ontmoet aspekte van die teikendomein, VOETE, (“twee beweeglike
entiteite”, “lewend”, “liggaamsdele wat normaalweg warm is”) in die integrasieruimte wat
die betekenis van onder meer “koud” tot gevolg het. Daar is uiteraard baie meer aspekte wat
met VOETE en TWEE BLOKKE YS geassosieer kan word, maar die ontvanger van die
metaforiese boodskap selekteer noodwendig net die relevante elemente om binne die
integrasieruimte met mekaar in wisselwerking te tree.

Ons metafoor van die voete wat met twee blokke ys vergelyk word, kom voor binne ‟n enkele
uitdrukking. In „n gedig word daar ook gewerk met metafore wat binne die bestek van „n
enkele frase of „n enkele sin voorkom. Hierdie metafore wat aangetref word binne die
begrensing van „n enkele frase, sin of versreël word lokale metafore genoem. In sommige
gedigte is daar naas lokale metafore ook sprake van globale metafore, dit wil sê metafore wat
almal binne dieselfde betekenisveld staan en nie net binne enkele frases beperk word nie,
maar uitgebreid binne „n strofe of selfs binne die volledige gedig (of digbundel!) voorkom.

2
„n Globale metafoor bestaan uit „n aantal lokale metafore wat almal dieselfde teikendomein
betrek. Indien „n digter byvoorbeeld verskillende aspekte van die liefde as teikendomein wil
belig, kan hy of sy die liefde eerstens metafories vergelyk met waansin; in „n volgende reël
kan die liefde metafories vergelyk word met koors; in „n derde reël kan die liefde met „n
verkoue vergelyk word. Sodoende skep die digter dan „n reeks metafore wat almal dieselfde
teikendomein betrek, maar wat „n groter variasie vertoon wat die brondomein(e) betref.
Liefde word dus telkens met iets anders vergelyk (“waansin”, “koors”, “verkoue”), maar die
verskillende brondomeine waaruit geput word, kom meestal wel uit verwante betekenisvelde:
“waansin”, “koors” en “verkoue” kan byvoorbeeld almal binne die betekenisveld van “siekte”
geplaas word. Sodoende kom „n globale metaforiese verhouding in die gedig tot stand
waarin die liefde as die globale teikendomein funksioneer en die verskillende elemente wat
met siekte geassosieer word, die globale brondomein uitmaak.

2. Metaforiek in “Seisoenlektuur” deur Daniel Hugo


Kom ons kyk vervolgens hoe funksioneer die lokale en die globale metafore in „n gedig,
“Seisoenlektuur”, deur Daniel Hugo.

Seisoenlektuur

soos „n boek kraak die lente

oop, begin te blom;

somer ritsel van bye

wat welsprekend brom

die suidoos blaai die dae

al haastiger om

sodat ons by die laaste

hoofstuk – herfs – kan kom

dan sal ons in „n bladstil

tuin en sagte son

lank kan lees, mymerend oor

die goeie slotsom

3
net „n enkele bladsy wit

word vir winter uitgesit

Kaapstad, April 1989

Uit: Hugo, Daniel. 1991. Dooiemansdeur. Kaapstad: Tafelberg

In die eerste twee reëls van die eerste strofe word die lente met „n boek vergelyk wat
oopkraak. Die teikendomein is hier die lente en die brondomein is die boek: die kern van die
saak waaroor dit hier gaan, is immers die lente. Die digter wil primêr „n stelling oor die lente
maak en nie soseer oor boeke nie. Die begin van die lente word spesifiek met die oopslaan
van „n boek vergelyk. Lente word immers as die begin van nuwe lewe gesien en daarom is
dit gepas dat dit vergelyk word met die oopmaak van „n boek vergelyk word waarin die leser
met afwagting gaan begin lees. Die werkwoord “kraak” suggereer ook dat die boek „n
splinternuwe boek kan wees, net soos die lente die assosiasie van nuutheid het. In die
integrasieruimte van hierdie metafoor word die betekenis van lente met ander woorde in
wisselwerking gebring met die volgende betekenisassosiasies wat ons met „n nuwe boek het:
“afwagting” en “nuutheid”. Hierdie metaforiese vergelyking sluit onmiddellik baie mooi aan
by die titel van die gedig wat in der waarheid ook uit die twee semantiese komponente
bestaan wat in die metaforiese vergelyking in die eerste reël voorkom. Die titel gee naamlik
te kenne dat die gedig die betekenisvelde van sowel seisoene as leesstof (lektuur) sal ontgin,
en in die eerste reël vind ons dadelik bevestiging hiervan wanneer sowel van „n boek (met
ander woorde „n vorm van lektuur) en die lente (wat een van die vier seisoene is) gepraat
word.

In die derde reël is daar „n verwysing na nog „n seisoen, naamlik somer: “somer ritsel van
bye”. Die werkwoord “ritsel” aktiveer hier „n metaforiese vergelyking deurdat ons
onmiddellik besef dat bye nie normaalweg kan ritsel nie, maar eerder zoem. „n Effektiewe
manier om metafore te herken, is naamlik om op te let na afwykings in die normale
seleksionele patrone van die taal. Indien daar „n afwyking plaasvind van die verwagte
kombinasiereëls in die betrokke taal waarin die gedig geskryf is, kan „n mens dadelik begin

4
vermoed dat daar sprake van „n metaforiese vergelyking kan wees. Die werkwoord “ritsel”
assosieer ons eerder met die geluid van bladsye papier. Sodra ons hierdie assosiasie gemaak
het, word dit moontlik om die teikendomein “somer” met die brondomein van “bladsye” te
skakel. Die beeld van „n boek wat oopgeslaan word in die eerste strofe word dus ook hier
volgehou.

In die derde en vierde reëls van die eerste strofe vind ons „n voorbeeld van personifikasie:

somer wat ritsel van bye

wat welsprekend brom

Bye, wat insekte is, kan natuurlik nie “welsprekend” wees nie omdat hulle glad nie eers kan
praat nie. Die adverbum (bywoord) “welsprekend” verwys na „n menslike eienskap. Die
verbreking van die seleksionele beperkings op betekenisvlak wat tipies is van personifikasie
(met ander woorde menslike eienskappe wat aan niemenslike wesens of dinge toegeken
word) lei ons as lesers na die identifikasie van „n metafoor. Die bywoord “welsprekend” help
ons om die brondomein te herkonstrueer wat met die teikendomein “bye” geassosieer word.
Die metaforiese vergelyking bestaan dus uit bye (tenor) wat met welsprekende mense
(vehicle) vergelyk word. As ons beweeg na „n interpretasie van hierdie metafoor wat deur
personifikasie tot stand gebring word, kan ons opmerk dat die welsprekendheid van die bye
goed aansluit by die gedagte van lektuur wat in die titel geaktiveer is aangesien die aktiwiteit
van lees dikwels met geleerdheid en dus ook welsprekendheid verbind word. Die gebrom
van die bye word dus as ‟t ware die geluid wat deur „n groep welsprekende lesers
voortgebring word wanneer hulle hardop voorlees.

In die tweede strofe word die herfs (teikendomein) metafories met “die laaste hoofstuk”
(brondomein) vergelyk. Weer eens sien ons dat die teikendomein een van die seisoene van
die jaar is en dat die brondomein met „n bepaalde aspek van „n boek oftewel leesstof (lektuur)
vergelyk word. Wat Daniel Hugo in sy gedig doen, is om „n globale metaforiese verhouding
tot stand te bring waarmee hy telkens die seisoene van die jaar met lektuur vergelyk.

5
Trouens, die titel van die gedig vervat reeds hierdie globale metafoor, maar ons kan dit eers
ten volle begryp wanneer ons die individuele lokale metafore bestudeer het. Uiteindelik kan
ons die gevolgtrekking maak dat die digter die opvolging van die verskillende seisoene van
die jaar met die stelselmatige lees van „n boek vergelyk. Soos die jaar deur die verskillende
seisoene aanstap, so vorder die leser ook van hoofstuk tot hoofstuk met sy boek.

Bronne

Knolwes, M., & R. Moon. 2006. Introducing Metaphor. New York: Routledge.

Ricoeur, Paul. 1978. The Rule of Metaphor. Multi-disciplinary studies of the creation of
meaning in language. London: Routledge.

You might also like