Verhalende Poësie en Die Epos RAKA Deur N.P. Van Wyk Louw Aantekeninge

You might also like

Download as pdf or txt
Download as pdf or txt
You are on page 1of 8

Verhalende poësie en die epos: “Die koms van Raka” uit N.P.

van Wyk Louw se Raka


(1941)

Aantekeninge deur prof. Andries Visagie

N.P. van Wyk Louw (1906-1970)

1. Verhalende poësie en die epos


In die poësie word daar tussen liriese poësie en verhalende poësie onderskei; soms word
daar ook na dramatiese gedigvariasies verwys as ‘n derde onderafdeling in die digkuns
aangesien sommige dramaturge hul dramas in digvorm aanbied. Die belangrikste
onderskeid is egter tussen liriese en verhalende poësie, waarvan die liriese poësie in die
meeste tale vir die grootste korpus van werke sorg. Die liriese poësie sluit die meeste korter
digvorme soos die kwatryn, die sonnet, die pantoem en die villanelle in. Hierteenoor verwys
die verhalende poësie na langer gedigte wat ‘n storie vertel en waarvan die epos (epiese
poësie) die bekendste voorbeeld is.

Die epos is ‘n baie ou digsoort wat alreeds in die meeste antieke kulture voorgekom het.
Die epos is ‘n langer vertelling wat sentreer rondom die roemryke avonture en krygsdade
van ‘n held, gewoonlik met die ingryping van die gode. In die epos is daar meestal een of
ander gewelddadige handeling waardeur die held sy statuur verwerf (Madelénat 1986: 18;
40). Die held staan meestal aan die hoof van ‘n gemeenskap wie se verhouding tot die
omringende omgewing aan die begin van die epos op een of ander manier agteruitgegaan

1
het. Deur sy positiewe, maar gewoonlik gewelddadige, optrede gryp die held in om hierdie
agteruitgang te stuit. Die held behaal in die epos ‘n oorwinning oor sy teenstanders en ‘n
verbeterde verhouding ontstaan dan tussen die held en sy gemeenskap enersyds en die
breër omgewing andersyds. ‘n Glorieryke vrede tree in en selfs op ‘n kosmiese vlak tree
daar ‘n normalisering van verhoudinge in. Die handeling kan dus beskryf word as post
tenebras lux oftewel “lig ná die duisternis” (Madelénat 1986: 43-44).

Aangesien die Afrikaanse poësie redelik jonk is, is daar min voorbeelde van tradisionele
helde-eposse in Afrikaans. In die twintigste eeu het daar egter wêreldwyd ‘n aantal meer
moderne literêre eposse ontstaan waarvan Raka deur N.P. van Wyk Louw seker die
bekendste voorbeeld in Afrikaans is. Die literêre epos is die “bewuste skepping van ‘n
individu wat sy werk opstel met ‘n duidelike politieke of kunsdoel voor oë” en gemik is op
literêre lesers en nie op ‘n breë of volkse publiek nie (Grové 1990: 6). In die literêre epos is
die fokus sterker op ‘n onheroïese karakter, soos byvoorbeeld in D.J. Opperman se Joernaal
van Jorik, en is die resultaat eerder ‘n geval van post lucem tenebrae (duisternis ná die lig)
aangesien die hoop op sukses by die held nie vervul word nie en die ondergang of dood van
die held bewerkstellig word. Die oorwinning kan egter op ‘n ander vlak wel bereik word
indien die held byvoorbeeld vir sy koning sterf of hom vir sy gemeenskap opoffer sodat die
gemeenskap ‘n beter toekoms kan tegemoetgaan. Verder, soos in die geval van Raka, kan
die lyding en dood van die heldefiguur betekenisvol word indien die fisieke dood as ‘n
oorwinning van die gees geherkodeer word (Madelénat 1986: 44-45).

2. “Die koms van Raka” (Groot verseboek. Deel 1, pp. 136-139)

Die vroue het hom die eerste gewaar


in die loom namiddag toe die arbeid klaar
was – aan die stampblok, in die jong-groen landerye –
en hulle gedrie, geviere, in dun rye
met kruik en geel, wind-ligte kalbas
op heup en skouer deur die stekerige gras
rustig gestap het na die koel seekoegate
om daar te drentel tot die bruin en laat
skemering en die eerste sterre, met klam sand
en sagte modder om die enkels, in die hand,
om veel te lag en ure te praat,
of skugterig soms een-een uit te waad
deur die taai waterblomme, naak en blink...

2
Raka, die aap-mens, hy wat nie kan dink,
wat swart en donker is, van been en spier
’n lenige boog, en enkeld dier.

Oorkant die water het hy uitgestap


uit die gebreekte riete, en soos ’n kind wat om die grap
van ’n bont kalbassie tandeloos en stil lag,
wit gegryns en, neergehurk, gewag.

Die vroue het sku digter by mekaar


gekruip en oor die stil stroom gestaar:
het hy êrens deur die groot moerasse gekom
waar die ryk waters vlakker óm en óm
in vuil skuim maal en onder die son lê en blink
dagreise breed, en die opdrifsels stink,
verrottend, in die biesies en warm riet?
Hy was geen boorling van dié ruim gebied
van oerwoud en groot groen riviere.
Maar nou het hy met ’n kabbeling in sy spiere
opgerys en oor die grys sand
’n vreemde dans gevoer uit sy land:
geil van begeerte, van wilde vlug en vang
en paring en uitskree onder die dwang
van drifte wat geen naam of doel meer ken;
en toe, soos ’n naelloper na die wit lint ren,
die water afgeskiet en weggeraak
waar die bosse ver-weg blou gange maak...
maar teruggekom terwyl die vroue nog stil
was van die wonder – een het geril
asof die poele skielik kouer
was tussen die kanette – en oor sy skouer
’n jong bok gedra waarvan die keel
vars uitgeskeur was met ’n hand, en die geel
huid, vol trilling nog, besmeer
met bloed; dié het hy skuwerig neer
laat gly op die sand, oorkant die water,
en vriendelik gelag met oog en tand
en rooi tong soos van ’n hond; daarby
vrugte en neute en soet riet wat hy
met ’n taai afbeur van die takke gepluk
het, of mét die bleek wortels uitgeruk;
maar woorde het hy geen enkele gesê.

Toe het die vroue die geskenke laat lê


en deur die skemerte die paadjie na die kraal
gevat, die kruike op die kop, traag en skraal,
en langer in die dun skemerlig,
gewieg op heup en voet, in lenige ewewig,
maar min gepraat, want elkeen was ontrus
oor die mooi dier en die vreemde lus
wat sy diep in haar hart maar sterk voel roer het
- soos ’n kind wat speel en áfloer
in die oog van ’n droë bron, miskien
swart water en blink paddas sien...
sy hart bly ongerus in die son en by die spel
deur die vermoede van ’n vreemde land gekwel –
so ’t hulle deur die jong aand uit die riet

3
opgekom. En dié nag was raaisel en lied
stil rondom die kole, maar laat
was die duister nog lewend en luid van die praat.
Die kinders het sku en wyd-oog gesit
en wakker nog toe die as wit
van die laaste stompe val.
Die ander dag
toe die blou visvanger stil was na sy jag
oor die gladde, warm seekoegate,
en klein geslaap het aan ’n takkie oor die water,
het die kinders hom gesien – Raka, die swart dier:
nou’t hy oor die sand vir hulle plesier
gebuitel, soos ’n perd gerol, gegryns, gespring,
met ’n mank dans gehuppel in ’n kring, -
en skielik in die water weggeplas
waar hy glad en vinnig soos ’n otter was.
’n Blink vis het hy uit op die sand gegooi,
lank soos ’n man se skeen en rooi
en geel gevlek bo die wit maag;...
maar meer as hul vrees het hy hulle behaag
met sy mal spronge; hulle het gevlug
lag-lag die biesies uit, maar lag-lag trug
gekyk oor hy so snaaks was; en bo in die kraal
met lag en skrik die ding verhaal.
Die manne het daarna sy krag bemerk
aan die tekens van die groot bosse: sy werk
moes dit gewees het as die swart buffelbul
wat die bosgange en grasruigtes vul
met hees snuiwe en bulk, smôrens styf
in die voetpad gelê het waar die swaar lyf
in die knieë geknak het; as die krokodil
hoog op die sand uit gelê het en ril
soos ’n klein akkedissie wat die kinders met ’n stok
geslaan het; - of die ou spiesvegter, die gensbok,
oordwars, gebreek, stil tussen die polle was;
- as die vlakvark gelê het in die gras
met sy wit lemme, en sy oë soos ’n vis
se oë styf. Die jagters wis
wat krag was en hulle het gevrees.
Maar in die rooi nag by die wilde fees
met bier en bloed en dans en trom
het elkeen soos vuur aan sy voete voel kom
die nuwe jag –
en blind was die oë, wit van die waan, van ’n nuwe krag
en ’n nuwe dans; en duister woorde
het opgeskuim in ’n vreemd-verstoorde
gesang, soos vuil water wat ópwolk
as die magtige seekoei onder in ’n kolk
sy donker vaart vat...

Net een was stom


en het ver buite die digte drom
en die rooi glans gestaan in die nag:
Koki, die ratsste op sy voete in die jag,
die slank speler met die spies, hy wat
’n jong bul op sy skuins skouers vat
en wegdra soos ’n hond – hy’t nie gesing

4
aan die swart lied wat uit die kring
in die rook en stof gestyg het, maar gedink
aan die ou en helder verdriet wat klink
in die vroeër, yler liedere, en vermoed
dat daar veel kwaad in aantog deur die bloed
van sy besete mense was.
Maar nou
het Raka soos ’n hond pal om die kraal gehou:
geeneen het bedags die klein voetpaaie
gevat wat kronkel deur die draaie
van die blou bosse, of die grasruigtes of palmiet,
en nie sy swart lyf sien roer in die riet
of kreupelhout, of êrens soos ’n skildwag gestel –
maar in die nag as die bosapies skel
uit die donker klae, het hy óm die kraal
soos die ritseling van klein nagdiere gedwaal;
as die wit mis uit die water styg
en in die donkerte gras en blaar en twyg
langs die klam paaie tot ’n vaalte bind
wat soos lang drade beweeg met die wind,
het Raka uit sy lêplek opgekom en gegluur
na die gloed en die rooi strepe van die vuur
tussen die pale deur; en dan het hulle gehoor
ver en verdrietig, in die mis verloor,
sy huil soos van ’n dier, of skielik ná
en skerp sy strandjut-lag, dan klae
en sagte snorke weer, en laat
as die kole koud was en die rokie slaat
af grond toe van die swaar mis en smoor
die kraal en hutte bitter, het hulle gehoor
hoe hy hard in die nag aan die dun pale snuif.

’n Vrou het dan soms onrustig rondgeskuif


op haar matte, swaar van droom, en uit die stil
hut skielik helder uitgegil
van wellus en skrik, en daarna in halwe waak
geweet dat die groot dier naak
en rusteloos buite in die donker was.

N.P. van Wyk Louw se Raka vertel die verhaal van ‘n monster genaamd Raka wat opduik in
die woongebied van ‘n goed ontwikkelde swart stam met beskaafde waardes êrens in
Afrika. Raka word beskryf as ‘n “aap-mens” wat nie kan praat nie, maar oor ‘n geweldige
fisieke krag beskik. Hy probeer dadelik om toenadering tot die mense van die stam te soek.
Kort na sy verskyning word dit duidelik dat die mense al hoe meer onder die indruk kom van
Raka se krag. Die uitsondering is egter die adellike leier van die stam, Koki, wat Raka
onmiddellik as ‘n gevaar vir die kultuur van sy stam erken. Hy onderneem uiteindelik ‘n
ekspedisie om Raka dood te maak, maar Raka met sy dierlike krag kry die oorhand en hy
slaag daarin om Koki dood te maak. Koki se dood beteken die einde van die stam se

5
beskaafde waardes en Raka verkry toegang tot die kraal wat hy tot dusver nie kon
binnedring nie. Die suggestie is dat Raka, en alles wat hy verteenwoordig, voortaan die lewe
van die gemeenskap sal bepaal. Met die dood van Koki blyk dit duidelik dat Louw nie die
patroon van die tradisionele volksepos gevolg het nie, maar verkies het om ‘n meer literêre
epos (post lucem tenebrae) te skryf.

In “Die koms van Raka”, die eerste van vyf dele waaruit Louw se gedig bestaan, val die klem
aanvanklik op die verskyning van Raka aan verskillende lede van die stam: hy verskyn eers
aan die vroue, dan aan die kinders en laastens is dit die mans wat die tekens van sy brute
geweld in hul omgewing opmerk. Die eerste reël, “Die vroue het hom die eerste gewaar”,
skep ‘n gevoel van afwagting by die leser omdat die “hom” nie dadelik gespesifiseer word
nie en die leser eers twaalf reëls later verneem na wie die “hom” verwys.

Met die karakterisering van Raka aan die einde van die eerste strofe beïnvloed die digter die
leser om hom in ‘n baie ongunstige lig te beskou: “Raka, die aap-mens, hy wat nie kan dink,
/ wat swart en donker is, van been en spier / ‘n lenige boog, en enkeld dier.” Raka se
onvermoë om te kan dink en die feit dat hy “swart en donker” is, suggereer dat hy suiwer uit
sy instinkte handel en boonop by die magte van die duisternis en donkerte tuishoort. Waar
hy wel indruk maak, is met sy sterk voorkoms: hy is “van been en spier / ‘n lenige boog”. By
mense wat nie die rede of intellektuele vermoëns as waardevol ag nie, mag hy dus op ‘n
fisieke vlak wel respek inboesem. Die meer kritiese oog sal egter waarneem dat hy in die
tweede strofe “uit die gebreekte riete” gestap kom – waar hy hom ook al begewe,
veroorsaak sy indrukwekkende krag sinnelose vernietiging.

Uit Raka se verskynings is dit duidelik dat hy in sy toenadering wel goed weet hoe hy elke
betrokke groep moet benader. In sy eerste ontmoeting met die vroue wat met die kweek
en voorbereiding en van kos en water besig was – vergelyk in strofe 1 die verwysings na die
“stampblok”, die “jong-groen landerye” asook die “kruik en geel, wind-ligte kalbas” – bied
hy kos as geskenke aan. Aan die einde van die tweede strofe dra hy vir die vroue ‘n jong bok
aan asook vrugte, neute en soet riet. Verder wend hy hom naas sy appél op die basiese
behoefte aan voedsel ook tot ‘n ander basiese instink, naamlik seksuele begeerte. Hy voer
‘n “vreemde dans” voor die vroue uit, “geil van begeerte, van wilde vlug en vang / en

6
paring”. Alhoewel die verskrikte vroue nie die geskenke aanvaar het nie, is elkeen in die
derde strofe “ontrus / oor die mooi dier en die vreemde lus / wat sy diep in haar hart maar
sterk voel roer het”. In die nag het ‘n vrou soms “helder uitgegil / van wellus en skrik” as die
“naak dier” buite ronddwaal (laaste strofe).

Met die kinders volg Raka ‘n ander strategie waarmee hy ewe veel sukses behaal. Hy
vermaak die kinders “vir hulle plesier” met allerhande komieklike streke. Hy slaag daarin
om hulle te “behaag / met sy mal spronge” en ook deur ‘n groot vis in die rivier te vang. In
Raka speel die motief van die dans deurlopend ‘n belangrike rol: vir die stam, met Koki as
die mees aristokratiese verteenwoordiger, is die dans deel van hul ontwikkelde
kultuuruitinge. Hierteenoor voer Raka “‘n mank dans” uit wat niks meer is nie as ‘n
“gehuppel in ‘n kring”. Sy ontwikkelingsvlak is duidelik baie laag, maar soos dit dikwels
gebeur, is dit juis die laagste gemene deler wat die massamense beïndruk. Kort nadat die
mans, die derde groep, wat onder Raka se invloed kom, “sy krag bemerk” het aan die sterk
diere wat hy doodgemaak het, begin die dans van die stam verander: “en blind was die oë,
wit van die waan, van ‘n nuwe krag / en ‘n nuwe dans; en duister woorde / het opgeskuim in
‘n vreemd-verstoorde / gesang, soos vuil water wat ópwolk” (p. 138, onder). Die
kultuuruitinge van die stam, naamlik die taal, die musiek en die dans word met ander
woorde besoedel deur Raka se invloed: die vertroude dans van die stam verander in ‘n
“nuwe dans” en die helder taal word byvoorbeeld vervang deur “duister woorde”.

In die derde laaste strofe van “Die koms van Raka” word dit duidelik gestel dat Koki nie “die
swart lied” van sy stamgenote gesing het nie. Hy het gedink aan die “vroeër, yler liedere, en
vermoed / dat daar veel kwaad in aantog deur die bloed / van sy besete mense was.” Soos
dikwels in die werk van N.P. van Wyk Louw word die aristokratiese of profetiese enkeling
gestel teenoor die massamense wat nie sy visie vir kulturele uitnemendheid deel nie. Die
waardes wat die aristokratiese enkeling voorstaan, is broos en word by herhaling deur
barbaarsheid oorweldig en vertrap.

Die oorwinning van die held in hierdie literêre epos is suiwer op ‘n geestelike vlak. A.P.
Grové (1990: 26) vermoed byvoorbeeld dat daar in Raka talle aanduidings van
“sirkelbewegings” is, “‘n oprank uit die swaar aarde en ‘n terugstort in die koue klei” wat

7
keer op keer herhaal word. ‘n Beskawing bloei op en verval dan weer, in ‘n ewige
sirkelgang. Die moontlikheid bestaan dus dat die onbeskaafde Raka uiteindelik sal ontwikkel
en dat daar weer ‘n geestelike held soos Koki sal wees, ook al duur dit talle generasies.
Hoewel Koki dus die stryd teen Raka verloor wanneer hy doodgemaak word, is daar die
moontlikheid dat sy aristokratiese ideaal nie uitgewis is nie, en dat die geestelike held dus
weer kan opstaan.

Bronne
Grové, A.P. 1990 (1966). Raka. N.P. van Wyk Louw. (Blokboek). Kaapstad & Johannesburg:
Human & Rousseau.

Madelénat, Daniel. 1986. L’épopée. Paris: Presses Universitaires de France.

You might also like