Download as docx, pdf, or txt
Download as docx, pdf, or txt
You are on page 1of 6

Geloftedag-Erediens

16 DESEMBER 2019
Gereformeerde Kerk - Laeveld, Tzaneen

Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde
om ‘n gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy ons sal
beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en
datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n Sabbat sal
deurbring; en dat ons ‘n huis tot Sy eer sal oprig waar
dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê
dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook
vir die opkomende geslagte. Want die eer van Sy naam
sal verheerlik word deur die roem en die eer van
oorwinning aan Hom te gee.

Geloftedag 16 Desember 2019 deur Ds Adriaan van Tonder


Openbaring 2:1-7 Eerste liefde verlaat!
Miskien ook sal ons sterwe en iewers ruggelings stort,
dat hierdie helder aarde in ons verdonker word.
Miskien sal niemand later mooi dinge van ons weet,
en nêrens sin te kry wees in al ons stryd en leed.
Sal elkeen as hy magt’loos naby die sterwe lê,
net hierdie eensaam wete uiteindelik nog hê.
Dat ons nie kon gebuig word soos hul geweld dit wou,
en dat ons vry kon lewe...Net aan ons bloed getrou!
(Uit: Die Halwe Kring NP van Wyk Louw)

Die Here verklaar dat die gemeente van Efese nie gebuig kon word nie – nie deur vals
leerstellings nie, nie deur slegte mense nie, nie deur vervolging nie.
Die gemeente was aktief en op datum in hulle omstandighede. Hulle was gedissiplineerd
besig in hierdie kosmopolitiese stad. Dit was ‘n gemeente waar Paulus betrokke was, dit
was ‘n stad waar Johannes lank gebly het en Maria saam met hom daar. Dit was ‘n
hawestad wat mens toegang gegee het tot Klein Asië wat sending moontlikhede
oopgemaak het. Dit was ‘n stad waar die invloei van gedagtes vanuit die hele bekende
wêreld ontmoet het, invloede wat die gemeente met deurdagte onderskeiding moes
evalueer, aanvaar, aanpas of verwerp.

Godsdienstig was dit die stad met onder andere die groot tempel van Artemis, een van die
sewe wonders van die antieke wêreld. So godsdienstig was dit ‘n uitdaging vir die
gelowiges om nie deur die hoofstroom godsdienstige denke meegesleur te word nie. Daar
was ‘n groot kontingent Jode, mense met wie die Christene op daardie stadium waarskynlik
‘n baie moeilike verhouding gehad het. Enersyds het die Jode en die Christene dieselfde
Skrifbron gedeel, die Ou Testament. Die Nuwe Testament was immers nog nie saamgestel
nie, eers omtrent 80 jaar later sou Ireneaus in Lugdunum, die huidige Lyon in Frankryk, ‘n
voorlopige NT Kanon vasstel wat sekere huidige Skrif uitgesluit1 en ander boeke ingesluit2
het. Die kloof tussen Christene en Jode was egter aan die vergroot en Jode was dikwels
die Christene se grootste teenstanders, soos dit ook in Efese was.

Polities was die Christene ingelig maar blykbaar redelik onbetrokke omdat politieke werk
dikwels keiserverering ingesluit het. Christene in die eerste drie eeue was totale pasifiste,
hulle het uit die weermag bedank waar dit moontlik was of hulleself losgekoop of deur
ander Christene laat loskoop. Oor slawerny het die eerste Christene nie veel te sê gehad
nie, behalwe dat hulle Christene wat slawe aanhou vir nie-produktiewe doeleindes,
gekritiseer het op grond daarvan dat gemaksug as ‘n sonde gesien is en slawe wat vir
mens se gemak daar was, nie goedgekeur is nie.

Baie Christene het uit die slawekorps gekom en dit het sosiale en maatskaplike ongemak
teweeg gebring waar beide die eienaars en die slawe lidmate van dieselfde gemeentes

1
Philemon, II Peter, III John, and Jude Bron: http://www.ntcanon.org/Irenaeus.shtml
2
1 Clemens en Herder van Hermas Bron: http://www.ntcanon.org/Irenaeus.shtml

Geloftedag 16 Desember 2019 deur Ds Adriaan van Tonder


was. Dit het besondere ongemak veroorsaak waar ‘n slaaf in die gemeente opgang gemaak
het en dalk selfs die amp van diaken of ouderling bereik het maar sy eienaar was ‘n
gewone lidmaat

Kultureel was die Hellenistiese leefstyl bekend aan almal, Koine Grieks was die algemene
spreektaal en die Hellenistiese kultuur was beskou as die “beskaafde” kultuur van die tyd al
was die Romeine in beheer.

Baie van wat ons nou oor die Efese-gemeente gesê het kan ons ook van toepassing maak
op die trekkers. Ook hulle was bekend met die kosmopolitiese aard van die Kolonie aan die
Kaap. Mense van dwarsoor die wêreld was immers hier byeen: Europeërs uit verskeie van
ons se stamlande, slawe uit die Ooste , die Khoi en San aan die Kaap, Afrika stamme wat
al meer en meer suid emigreer het. Die Engelse het die Kolonie oorgeneem en hulle
invloed het al sterker en sterker geword en het die maatskaplik-sosiale toestande aan die
Kaap in die war gebring. Tot nou was klasseverskille die oorwegende skeiding tussen
mense aan die Kaap, nie kleur nie. Maar nou is slawe vrygestel en op dieselfde vlak gestel
as die ander burgers. Ekonomiese krisisse het die burgers in die gesig gestaar wens die
vrystelling van die slawe waarvoor hulle nie vergoeding ontvang het nie. Polities was die
regering onmagtig om hierdie sosiale veranderings te bestuur en rowerbendes en plundery
het begin toeneem.

Godsdienstig is die Kaap skielik op sy kop gekeer. Vanaf 1652 tot 1796 was die NG Kerk
die enigste aanvaarde Kerk aan die Kaap, geen ander denominasie is erken nie, selfs nie
eens Duits Lutherse sendelinge nie. Nou skielik word die Kaap oorval deur godsdienstige
groepe wat vreemd was aan die Calvinisties Protestantse geloof: Anglikane, Katolieke,
Lutherane, Morawiërs kom die land binne, stig kerke.

In sy Manifes3 aan Goewerneur Stockenstrom wys Piet Retief al hierdie besware uit. Die
Burgers moes besluit hoe om dit te hanteer en hulle kies om te trek en dit loop uit op die
Groot Trek. Dit het gelei tot verguising en dreigemente deur die Engelse regering en selfs
die Kaapse Kerk. Op ordelike en gelei deur hulle godsdienstige oortuigings vanuit veral die
Ou Testament trek die Trekkers die binneland in, verweer hulle teen vyande soos by
Vegkop, sluit hulle verdrae met stamhoofde en onderteken hulle uiteindelik ‘n ooreenkoms
vir ‘n stuk grond as eie vaderland met Dingaan, koning van die Zoeloes en leier van
waarskynlik op daardie stadium, die magtigste leër in die ganse Afrika.

Julle ken die verhaal, die verraad van Dingaan, die moorde by Bloukrans en Weenen en die
daaropvolgende verwarring onder die Trekkergemeenskap, die koms van Andries Pretorius
en die aanloop tot die slag van Bloedrivier wat ons vandag hier byeen bring. Die Trekkers
moes weer besin: waarheen hiervandaan? Hulle kies om hulle op God te beroep en die
Gelofte is die uitvloei-sel daarvan – hulle beroep hulle op hulle eerste liefde: die Drie-Enige
God.

Laat my toe om in tyd te spring: dis die jaar 2019. Die Engelse is vervang met die ANC, ‘n
grondwet gebaseer op God se Woord is vervang met Grondwet gebaseer op Menseregte;

3
https://www.sahistory.org.za/archive/manifesto-emigrant-farmers-piet-retief-1837

Geloftedag 16 Desember 2019 deur Ds Adriaan van Tonder


polities is ons in chaos, maatskaplik het die gaping tussen ryk en arm oënskynlik
onoorbrugbaar geraak; ons ekonomie lê op die ashoop; burgerlike instansies doen hulle
bes om vir ons ‘n aanvaarbare bestel te beding, met gemengde suksesse en selfs waar
hulle suksesvol is om dit te beding, word die uitvoerbaarheid daarvan ‘n probleem. Watter
oplossing het ons in ons dag? Waarheen trek ons?

Ons het die opsie om fisies te emigreer, daar is al oor 900 000 Afrikaners in Engeland, New
Zeeland, Australië4 en 85 000 in Amerika5. Ons kinders en kleinkinders leef in lande in die
Verre Ooste; daar kan skaars meer van Calvinisties-Protestantse kerke gepraat word, elke
persoon wat meen dat hy of sy ‘n openbaring van God gekry, wys ‘n middelvinger vir die
tradisionele kerke en stig hulle eie “kerke”, as so iets moontlik is; na die tradisionele sewe
jaar loop hierdie “kerke” dood want iemand daar het weer ‘n openbaring van God gekry om
sy/haar eie kerk te stig en die woorde van die Here Jesus word geëggo dat skares mense
word soos skape sonder ‘n herder en mens-roofdiere, of sal ek hulle eerder aasdiere noem,
die skeptici en godloënaars en losbandiges en dwelm-smouse maai onder malende
massas; ons kinders en jongmense word gekonfronteer op TV en op skool en deur
vreemde godsdienstige groepe met Christus-vreemde idees en leringe; die deursnee
lidmaat se Bybelkennis haal skaars die toetsvlak van 30% soos wat nou beoog word vir
Wiskunde in Matriek. Ons baklei dat die spoeg spat as kerke onder mekaar. Emigrasie lyk
nie na ‘n slegte oplossing nie!

Die alternatief is om na binne te keer, eilande van “ons eie” te skep soos Orania, ons koppe
soos volstruise in die grond te druk en die wêreld te ignoreer wat in elk geval sy gang sal
gaan, selfs sonder ons. Dit sal ons stadig laat wegkwyn, ons mettertyd vergete raak of
gewoon geïgnoreer kan word tensy ons bereid is om te verander. Ons staan midde in ‘n
moordsituasie, maak nie saak watter kant toe ons gaan nie! Ons voel verraai, ek is nie altyd
seker deur wie nie, maar ons is aggressief, ons is kwaad, ons soek rigting!

Daarom dink ek daar is ‘n derde opsie. Ek glo die Gelofte van 1838 kan vir ons daardie
rigting gee. Die Gelofte wys ons terug op die Skrif, en die Skrif wys ons terug op God Drie-
Enig, en God-Drie-Enig verklaar – ek het dit teen julle, julle het my nie meer so lief soos
aan die begin nie! Ja julle doen dikwels baie goeie dinge, ja die waarheid word soms
uitbasuin op TV, Radio en sosiale media, maar van ‘n verhouding met My as julle God en
Verlosser is daar lankal nie meer sprake nie!

Hoe kan ons dan terugkeer na ons eerste liefde toe? Wat is die essensie, die wesens-
eienskappe van die liefde waarheen ons moet terugkeer? Ek dink dit bevat drie wesenlike
elemente waaraan ons dringend moet aandag gee:
1. Erken ons afhanklikheid van God Drie-Enig

Met al ons menslike kennis en al ons menslike vermoëns was ons nie in staat om die
huidige noodsituasie droogte of kragvoorsiening te verhoed nie, ons kon dit ook nie bestuur

4
https://businesstech.co.za/news/lifestyle/293908/heres-how-many-south-africans-are-leaving-for-new-zealand-
australia-and-the-uk/
5
https://en.wikipedia.org/wiki/South_African_Americans

Geloftedag 16 Desember 2019 deur Ds Adriaan van Tonder


nie. Die natuur as openbaringsmiddel volgens die Nederlandse Geloofs-belydenis bring ons
hard terug aarde toe: ONS IS AFHANKLIK VAN DIE HERE VAN DIE HEMEL EN DIE
AARDE! Die Gelofte begin met die woorde: “Ons staan voor die Heilige God van Hemele
en aarde” Ons sal moet terugkom en bely dat liefde begin by afhanklik-heid en dat ons deur
en deur afhanklik is van God alleen – die natuur basuin dit uit! Die stank van ons
ekonomiese rommelstatus maak ons deeglik daarvan bewus! Die statistieke van geweld,
misdaad en moord plaas dit op die hofrol vir die hofgeding in die aardse en hemelse
regbank.

Ons moet sterf aan “ons sal self” sodat Christus deur ons kan begin optree. Ons moet
bereid wees om laer te trek, nie as verdedigingsmiddel soos so dikwels tydens die Trek
gebeur het nie, maar as aanvaltegniek soos by Bloedrivier. Ons moet terugkom by die EEN
wat regtig saak maak!

Hoe kan ons dit doen? Ons doen dit deur belydenis van Hom in Wie ons glo, en soos
Franciskus ons leer, as dit regtig nodig is, mag ons woorde gebruik. Maar ons kan ons
afhanklikheid van God bewys deur by HOM insig en wysheid te soek oor hoe om ons
huidige situasie te hanteer. Een van die insigte wat ek op hierdie saak uit die Skrif kry, is
Jeremia se woorde aan die Volk in ballingskap in Jeremia 29:7: “soek die vrede van die
stad waarheen Ek julle in ballingskap wegge-voer het, en bid daarvoor tot die HERE; want
in die vrede daarvan sal julle vrede hê.” Ons afhanklikheid van God word weerspieël in ons
gebedslewe, en dan nie hoeveel keer ons bid nie, maar waarvoor ons bid. “Soek die vrede
vir Suid-Afrika, vir Limpopo, vir Tzaneen, vir ons kerke! Want dis wanneer daar vrede in ons
land, ons dorp, ons gemeentes is dat ons weet dat ons ook vrede met God het, dat ons
eerste liefde seëvier, ons verhouding met God herstel is.
Hoe doen ons dit? Paulus skrywe aan ons: Rom_12:18 as dit moontlik is, sover as dit van
julle afhang, leef in vrede met alle mense. Ons sal aktief vir vrede moet WERK, nie BAKLEI
nie, maar WERK om ons afhanklikheid van God mee uit te druk. Baklei vernietig, breek af,
dit misbruik energie wat positief aangewend kan word. Werk bou op, dit skep energie om te
verbeter.
2. Ons sal God moet begin vertrou.

Wanneer die Trekkers die aand voor die slag die Gelofte herhaal, dan hang daar ‘n swaar
miswolk oor alles. Van die getuienis wat vir ons bewaar gebly het vertel dat die Zoeloes,
wat reeds gereed was en die nag al ‘n aanval wou loods, weerhou is deur die mis en die
glimmer van die lanterns wat ‘n bonatuurlike glans rondom die laer veroorsaak het.

Pretorius dring by die vegters aan om op God te vertrou, maar te sorg dat hulle kruit droog
bly. Ons sal God moet begin vertrou maar ons mag nie slap lê in ons voorbereiding vir die
stryd nie. Pretorius as ‘n uitstaande militaris sou geweet het van die massas Zoeloes
rondom die laer, sy verkenners sou hom daarvan vertel het. Hy sou geweet het van hoe die
Impi’s ingedeel is, van die jong onervare vegters voor en die ou ringkoppe wat agter sit.
Vertroue in God begin met opleiding deur God – dit begin daarmee dat ons die sake
waarop dit regtig aankom sal kan onderskei, dat ons geoefend sal raak in die stryd waarin

Geloftedag 16 Desember 2019 deur Ds Adriaan van Tonder


ons betrokke is. Paulus gebruik nie verniet sport en militêre beelde nie. Alle sport, beroepe
en ook oorlog vereis voortdurende opleiding en oefening, voorbereiding vir wanneer dit
regtig nodig is. Vertroue in ons vermoë om die toekoms aan te pak, begin met
voorbereiding en oefening en inoefening. Die Here gee, maar dis ons hand wat die daad
moet pleeg – “as HY ons vyande in ons hand GEE!” lui die belofte.

Ons het die Heilige Gees as ons Breier, kom ons maak staat op Hom om ons reg te laat
oefen met die regte oefeninge, en op alle vlakke is basiese kennis die vertrekpunt, maar
nooit die eindpunt nie. Kennis en ervaar groei immers hand aan hand.
3. Ons sal moet begin om dankbaar te leef!

“Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle. (1 tes.5:18).
Die Gelofte sluit af met die woorde: Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die
roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee. Afhanklikheid en vertroue moet altyd
uitloop op dankbaarheid – dankbaarheid onder alle omstandighede.

Natuurlik voel mens asof daar geen rede tot dankbaarheid is wanneer jy in die middel van
die stryd is nie. Wanneer die Trekkers die aand die mis bekyk twyfel ek of enige een van
hulle dankbaar was oor die mis, inteendeel, dit moes hulle vrese verhoog het dat die vyand
ongesiens tot teenaan die laer kon kom, dit sou hulle bekommernis oor die kruit wat kan nat
word verhoog het. Dankbaarheid desondanks en ten spyte van is iets waarvoor ons ons sal
moet beywer want dit kom nie vanself nie. Dankbaarheid ook binne die onverstaanbare, die
onverklaarbare, die onaanvaarbare, bly ‘n wesenseienskap van die liefde. Het jy al
dankbaarheid ervaar tydens hierdie droogte en die hittegolwe? Die kragonderbrekings?

Geloftedag 2019 roep ons op om weer ons eerste liefde op te soek, en dan onsself af te
vra: Hoe lyk my afhanklikheid van God, hoe lyk my vertroue in God, hoe lyk my
dankbaarheid teenoor God. Sonder gesonde afhanklikheid, intensionele vertroue en
oortuigende dankbaarheid sal ons nooit die wese van die Gelofte kan verstaan nie.
Amen.
Op U almag vas vertrouend, het ons vadere gebou,
skenk ook ons die krag o Here, om te handhaaf en te hou,
dat die erwe van ons vadere, vir ons kinders erwe bly,
knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry,
soos ons vadere vertrou het, leer ook ons vertrou o Heer,
met ons land en met ons nasie, sal dit wel wees God regeer.
Seën Here, seën Suid-Afrika.

Amen

Geloftedag 16 Desember 2019 deur Ds Adriaan van Tonder

You might also like