Download as docx, pdf, or txt
Download as docx, pdf, or txt
You are on page 1of 6

Is die Bybel nog relevant vir ons

wêreld vandag?
deur

Elmer Grobler

Die Grootste Oorsaak van Misverstand


'n Fundamentele beginsel van effektiewe kommunikasie wat ek in my lewe geleer het, is om die
konteks of verband van my boodskap duidelik te definiëer. Een van die grootste oorsake van
vertroebelde en gebroke verhoudings kan toegeskryf word aan gebrekkige kommunikasie, en
een van die grootste gevolge van gebrekkige kommunikasie is misverstand - en een van die
grootste oorsake van misverstand is gebrekkige begrip van die konteks of verband waarop die
misverstand betrekking het.

Hierdie waarheid is ook op die Bybel van toepassing. Om die Bybelboodskap reg te verstaan
moet 'n mens die konteks of verband van die inhoud reg verstaan. Die vraag is, watter verband?
Sommige Bybelleraars glo dat die Bybel streng in sy historiese verband gelees en verstaan moet
word. Ek is egter oortuig dat die Bybel in sy ewigheidsverband gelees en verstaan moet word.

Die Bybel is 'n profetiese boek wat nie gebonde is aan die grense van tyd nie. Die geskiedenis
het slegs te doen met tyd - tyd wat in die verlede lê. Wat die Bybel egter uniek maak as die
Woord van God is juis die feit dat dit in ewigheidsverband geskryf is, gelees en verstaan moet
word. Die Bybel bevat nie slegs profesieë nie -- die Bybel is profeties in sy geheel, daarom is dit
die ewige Woord van God. Daar is geen deel van die Bybel wat nie profeties is nie -- daarom is
die boodskap van die Bybel grensloos! Die rede waarom die Bybel vir baie geleerdes 'n dooie
boek is, is omdat hulle dit slegs in historiese verband lees en daarom die ewigheidsboodskap
misverstaan! Hiermee ignoreer ons nie die tyds- of historiese faktor in die Bybel nie, maar is dit
belangrik om tyd en geskiedenis binne die verband van die ewigheid te verstaan, soos ons
hieronder sal verduidelik.

'n Bybelstudieles uit die Digitale Tegnologie


Ek moes onlangs 'n nuwe webprogram leer en bemeester om my webblaaie mobiel-aanpasbaar
te maak. Ek wil graag in 'n neutedop vir jou die beginsels van hierdie program verduidelik omdat
dit 'n unieke kommunikasieles bevat en van groot waarde is om die boodskap van die Bybel te
verstaan.
Hierdie program werk op die beginsel van konteks of verband. Jy ken mos die vraag goed: "In
watter verband staan dit?", of "Met betrekking tot wat sê jy dit?" Die program bestaan uit 'n stel
van verskillende elemente of 'houers' waarin inligting of data gestoor kan word en wat inmekaar
en aanmekaar gepas word. Die eerste element is die 'liggaam' of 'body' van die webblad. Die
'liggaam' is die 'moederhouer' waarbinne al die ander elemente gestoor word. Die volgende
element word genoem 'n 'afdeling', word binne-in 'n 'liggaam' geplaas en definiëer die inhoud en
gedrag van daardie spesifieke gedeelte of afdeling van die 'liggaam'. Die volgende element word
genoem 'n 'houer', word binne-in 'n 'afdeling' geplaas en definiëer die inhoud en gedrag van
daardie spesifieke gedeelte van die 'afdeling'. Die laaste element word genoem 'n 'afdelingsblok',
word binne-in 'n 'houer' geplaas en definiëer die inhoud en gedrag van daardie spesifieke
gedeelte van die 'houer'. Binne hierdie basiese elemente kan nou 'n rits van ander elemente
ingesluit word, soos byvoorbeeld fotos, teks en videos.

Wat egter belangrik is om te verstaan by die bou van 'n webblad is dat elke element die
eienskappe erf van sy 'ouer' (parent). Met ander woorde die gedrag van elke element word
bepaal deur die eienskappe van sy 'ouer'-element. 'n Ander manier om dit te verduidelik is dat
elke element binne die konteks of verband van sy 'ouer'-element staan. As jy hierdie beginsel
verstaan, sal jy die Bybel met nuwe oë lees.

Lees die Bybel deur 'n Nuwe Bril ...


Op die foto hierbo het ek vir jou 'n Bybelwebblad gebou op hierdie beginsel. Die webblad se titel
is 'Die Sentrale en Wesenlike Boodskap van die Bybel'. Die sentrale en wesenlike boodskap van
die Bybel is die 'liggaam' of 'body' van die webblad (die wit gedeelte) en word gedefiniëer deur
God-Drie-enig -- wie Hy is, hoe Hy is, Sy karakter en Sy persoonlikheid (die blou gedeelte), soos
dit tot openbaring kom in die Bybel. Elke ander onderwerp in die Bybel staan binne die konteks
van wie en hoe God is! Enige leerstelling of teologie wat teenstrydig is met die karakter en wese
van God-Drie-enig, is dwaalleer.

Die volgende element op die webblad is die ewigheids-'afdeling' (die ligrooi gedeelte). Die begrip
van ewigheid kan slegs verstaan word binne die konteks of verband van die karakter en wese
van God. Om dus die Bybel in sy ewigheidsverband te verstaan, moet jy in 'n persoonlike
verhouding met Jesus Christus staan en God persoonlik ken. Ons het hierbo gesê dat die Bybel
'n profetiese boek is en in Ewigheidstaal geskryf is. Om die Bybel te verstaan moet jy dus
Ewigheidstaal verstaan en die gawe van hierdie taal ontvang mens slegs deur die inwonende
Heilige Gees wanneer jy in 'n intieme persoonlike verhouding met Jesus Christus staan. Geen
kennis van Grieks of Hebreus is 'n plaasvervanger vir Ewigheidstaal nie!
Binne die ewigheidsverband kry ons drie fases of dispensasies van God se werk in ewigheid,
naamlik, die skepping, die herskepping, en die voltooide herskepping. Die skepping verduidelik
vir ons wat God se doel is met die skepping. Dan volg die sondeval. Die sondeval lui die
dispensasie van tyd in. Met die sondeval het verganklikheid ingetree op aarde. Tyd is teenstrydig
met die wese en karakter van God en die gevolg van die sondeval. Die dispensasie van tyd (die
groen gedeelte) is die volgende element en staan binne die konteks van die ewigheid. Alhoewel
die dispensasie van tyd sy eie elemente bevat, is dit belangrik om te verstaan dat tyd binne die
konteks of verband van God se ewigheidplan vir die skepping en die mens staan!

Die Bybel is 'n progressiewe openbaring van God, Sy skeppings-, herskeppings- en


verlossingsplan in die dispensasie van tyd. Die herskepping bestaan daarom uit vier
dispensasies of tydsfases, naamlik, dié van die gewete; dié van die wet; dié van genade of die
Kerkdispensasie; en dié van rus of die duisendjarige vrederyk (die geel gedeeltes). Wat belangrik
is om te verstaan is dat die genade- of Kerkdispensasie waarin ons tans leef, soos elke ander
dispensasie, binne die konteks van God se wese en karakter, en Sy ewige skeppingsplan staan.
Die hele Bybel en elke ander onderwerp in die Bybel moet dus verstaan en geleer word binne die
ewigheidsverband van die Bybel en God se ewigheidsplan met die mens.

Die Belangrikheid om die Bybelboodskap in sy Ewigheidsverband te


Verstaan ...
Elke mikro-onderwerp in die Bybel (bv geloof, redding, liefde, gehoorsaamheid, heiligmaking, die
seën en voorsiening van God, ens.) moet verstaan en geleer word binne die makro-prentjie (of
konteks) van die Bybel. Een van die groot gevare van die Christendom van ons tyd is die
flagrante misbruik en gebruik van die Bybel in 'n aardse, tydsdispensasionele en daarom
verkeerde konteks. Die sosiale media is vol daarvan! 'Vertrou net op die Here', 'Die Here sal jou
nooit in die steek laat nie', 'Jou deurbraak kom', 'Spreek lewe', en môre is al jou probleme
opgelos, terwyl baie Christene niks verstaan van 'n lewe wat aan die wil, doel en plan van God
vir hulle lewens oorgegee en onderworpe is nie!

Laat ek vir jou 'n voorbeeld gee waarvan ek praat. Een van die mees misbruikte verse in die
Bybel is Fil 4:13: "Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee." Hierdie vers staan binne
die konteks van die apostel Paulus se roeping en bediening in diens van God se
herskeppingsplan vir die wêreld, om die Evangelie aan die heidennasies te bring in terme van
Jesus se Groot Opdrag. Hierdie vers is slegs van toepassing op iemand wat ten volle en
onvoorwaardelik aan Jesus Christus se Woord, Sy wil, Sy plan en Sy doel vir jou lewe oorgegee
en onderworpe is. Wanneer hierdie vers aangehaal word vir of deur iemand wat leef om sy
persoonlike doelwitte na te streef buite God se wil en plan vir sy lewe, geld 'n ander beginsel,
naamlik, God gee so iemand oor aan 'n gees van misleiding. Ons lees onder andere in 2 Thes
2:10,11 : "... omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie ...
sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo," (Sien ook 1 Konings 22, 2
Kronieke 18 en Rom 1:24.)

Baie Christene verstaan nie die verskil tussen positiewe denke of -verklaring, en geloof nie! Die
gevolg daarvan is dat mense (selfs Christene) 'n verkeerde begrip van God ontwikkel en later in
'n "persoonlike verhouding" met 'n selfgemaakte Jesus in hulle verbeelding leef! In werklikheid is
dit niks anders as afgodery nie! Daarom sê die tweede gebod: "Jy mag vir jou geen gesnede
beeld of enige gelykenis maak ... nie." Ex 20:4. Ook nie in jou gedagtes nie! Enige Godsbegrip
wat jy vereer wat nie in harmonie is met die wese, karakter en skeppingsplan van God in die
Bybel as geheel nie, is afgodery!

Die Boodskap van die Bybel is Absoluut Relevant vir ons Tyd ...
Die inhoud van die Bybel is net so relevant vir die moderne wêreld van ons tyd as vir die tyd
waarin dit geskryf is! Die Bybel is in ewigheidstaal geskryf en verander nooit! Die post-moderne
Christen wil die boodskap van die Bybel aanpas en probeer relevant maak vir ons moderne tyd,
terwyl hulle die relevansie van die Bybel vir die tyd waarin ons leef nie raaksien nie.

Die geskiedenis van die wêreld en alle wêreldgebeure moet gesien en verklaar word binne die
konteks van God se herskeppingsplan vir die wêreld, waarvan die eindtydse profesieë 'n
onmisbare element is. 'n Gesonde begrip van die sentrale en wesenlike boodskap van die Bybel
is ook 'n basiese voorwaarde vir die korrekte begrip en verklaring van die Bybel se eindtyd-
profesieë.

Dit is van fundamentele belang vir die Kerk om te verstaan waar ons
geslag onsself op God se kalender met betrekking tot Sy herskeppingsplan
bevind om hoegenaamd relevant te wees!
Om relevant te wees beteken ongelukkig iets heeltemal anders vir die post-moderne kerk. Vir
hulle is relevansie en wêrelds- of tydgesindheid sinoniem, maar hierdie is 'n onderwerp vir 'n
ander geleentheid.

As Christene en die Kerk dus verstaan dat ons tans in die laaste pylvak voor Jesus se
wederkoms leef, en dat die EEN DING wat Sy wederkoms vertraag die onvervulde sendingtaak
is, sal die hele Kerk wêreldwyd soos een man betrokke raak om die Onbereikte Wêreld met die
Evangelie te help bereik! As Christene dit nie doen nie, kan daar slegs twee redes hiervoor wees
-- hulle verstaan nie die sentrale en wesenlike boodskap van die Bybel nie, of hulle is so tyd-,
aards- en wêreldsgesind en daarom afvallig van die waarheid, dat hulle dit nie wil weet nie, of dit
hulle nie traak nie!
Die Sentrale en Wesenlike Boodskap van die Bybel in 'n Neutedop
Om op te som: die sentrale en wesenlike boodskap van die Bybel is die volgende:

Die doel van die skepping is om 'n nageslag vir God en 'n Bruid vir Sy Seun
te verwek na Sy beeld om saam met Hom oor die skepping te heers in
ewigheid.
As jy hierdie waarheid verstaan, sal die Nuwe Testament van die Bybel vir jou nuwe betekenis
kry en jou van vele dwalinge van ons tyd bewaar! In die artikel, God Se Skeppingsdoel Vir Die
Mens, brei ek verder uit op die onderwerp.

You might also like