Download as pdf or txt
Download as pdf or txt
You are on page 1of 20

AFK1501/001/3/2021

Studiebrief 001/3/2021

Voetspore: Op reis deur die Afrikaanse


letterkunde
AFK1501

Semester 1

Departement Afrikaans en Algemene


Literatuurwetenskap

Hierdie studiebrief bevat belangrike inligting oor


die nuwe assesseringsreëlings vir die 2021 akademiese jaar.

STAAFKODE
INHOUD

Bladsy
1 INLEIDING ...................................................................................................................................... 3
2 NUWE ASSESSERINGSREËLINGS ............................................................................................. 3
2.1 Assesseringsplan ............................................................................................................................ 3
2.2 Sperdatums .................................................................................................................................... 4
2.3 Unieke werkopdragnommers .......................................................................................................... 4
2.4 Indiening van werkopdragte ............................................................................................................ 5
2.5 Werkopdragvrae ............................................................................................................................. 5
2.5.1 Vrae vir Werkopdrag 01 (Semester 1) ............................................................................................ 6
2.5.2 Vrae vir Werkopdrag 02 (Semester 1) .......................................................................................... 10
2.6 Die eksamen ................................................................................................................................. 19
2.6.1 Eksamendatum ............................................................................................................................. 19
2.6.2 Eksamentoelating ......................................................................................................................... 19
2.6.3 Subminimum ................................................................................................................................. 19
2.6.4 Hereksamen ................................................................................................................................. 19
3 TEN SLOTTE ............................................................................................................................... 20

2
AFK1501/001/3/2021

1 INLEIDING

Beste student

As gevolg van die ministeriële versoek om die 2021 registrasiedatums te verleng, is Unisa
genoodsaak om die semesterdatums en die assesseringsreëlings vir die 2021 akademiese jaar
aan te pas.

Daar is vanjaar (2021) slegs een oorhoofse assesseringsperiode en een eksamenperiode. Die
eksamenperiode sal vanaf September tot November 2021 plaasvind.

Die doel van hierdie studiebrief (TL001) is om jou in te lig van die nuwe sperdatums en
assesseringsreëlings asook die korrekte werkopdragvrae vir AFK1501-21-S1.

Verwys asseblief na die oorspronklike Studiebrief 101 (beskikbaar op myUnisa > AFK1501-21-
S1 > Official Study Material) vir al die normale administratiewe inligting soos dosente se
kontakbesonderhede en hoe om die e-reserwes te raadpleeg.

2 NUWE ASSESSERINGSREËLINGS

2.1 Assesseringsplan

In hierdie module is daar steeds drie assesseringsgeleenthede:

Daar word van jou verwag om TWEE WERKOPDRAGTE in te handig (dit is jou formatiewe
assessering), en EEN EKSAMENPORTEFEULJE (die summatiewe assessering).

Vir WERKOPDRAG 01, moet jy 20 meerkeusevrae (multiple choice questions) beantwoord wat
oor al vier leereenhede in die studiegids handel (leereenheid 1 tot 4). Werkopdrag 01 tel 20 punte
en dra 20% by tot jou semesterpunt.

WERKOPDRAG 02 is ’n geskrewe of getikte werkstuk waarin jy langer vrae oor al vier die
leereenhede (leereenheid 1 tot 4) moet beantwoord. Vrae ter waarde van 25 punte word by elke
leereenheid gestel. Werkopdrag 02 tel 100 punte in totaal en dra 80% tot jou semesterpunt by.

Opdrag Gewig (% van jou semesterpunt)

Werkopdrag 01 (meerkeuesevrae) 20%

Werkopdrag 02 (geskrewe/getikte opdrag) 80%

3
Vir die doeleindes van die eksamen, moet jy ’n EKSAMENPORTEFEULJE voltooi oor al vier
leereenhede. Vrae ter waarde van 25 punte word by elke leereenhed gestel. Die
eksamenportefeulje tel 100 punte in totaal, en beslaan 55% van jou finale punt vir AFK1501. Jou
voltooide eksamenportefeulje moet vóór die betrokke sperdatum op myUnisa ingehandig word.

Jou FINALE PUNT vir AFK1501 word soos volg bereken:

Komponent Finale punt

Formatiewe assessering (jou “semesterpunt”): Werkopdrag 01 en 02 45%

Summatiewe assessering (jou “eksamenpunt”): die eksamenportefeulje 55%

100%

2.2 Sperdatums

Die nuwe sperdatums vir AFK1501-werkopdragte is soos volg:

Nuwe sperdatum:

SEMESTER 1 Werkopdrag 01 12 Mei 2021

Werkopdrag 02 14 Julie 2021

2.3 Unieke werkopdragnommers

Vir administratiewe redes kry alle werkopdragte by Unisa ’n sogenaamde “unieke nommer”. Jy
moet asseblief hierdie unieke nommer duidelik op jou werkopdrag se voorblad aandui.

Die unieke nommers vir AFK1501-werkopdragte is soos volg:

Unieke werkopdragnommer:

SEMESTER 1 Werkopdrag 01 646616

Werkopdrag 02 621899

Let wel: Semester 1 en 2 het verskillende unieke werkopdragnommers. Gebruik asseblief die
korrekte unieke nommers vir die semester waarvoor jy geregistreer is.

4
AFK1501/001/3/2021

2.4 Indiening van werkopdragte

Weens die ontwrigting van COVID-19, moet jy verkieslik jou werkopdragte elektronies via
myUnisa inhandig. Sodoende ontvang die Universiteit onmiddellik jou werkopdragte en kan dit
nie in die pos verlore raak nie.

Onthou asseblief om die volgende inligting by jou werkopdrag in te sluit:

▪ Jou naam en van


▪ Jou studentenommer
▪ Die modulekode (AFK1501)
▪ Die unieke werkopdragnommer
▪ ’n Getekende plagiaatverklaring (die plagiaatvorm is beskikbaar op myUnisa > AFK1501-
21-S1 > Additional Resources > Plagiaat).

2.5 Werkopdragvrae

Hier volg die spesifieke werkopdragvrae vir 2021.

Let wel: Hierdie vrae is slegs van toepassing op studente wat vir Semester 1 geregistreer is.

5
2.5.1 Vrae vir Werkopdrag 01 (Semester 1)

WERKOPDRAG 01 (S1)
Vir die doeleindes van Werkopdrag 01, moet jy die volgende 20 meerkeusevrae beantwoord
wat oor al vier die leereenhede in die studiegids handel (leereenheid 1 tot 4).

Sperdatum: 12 Mei 2021


Unieke werkopdragnommer: 646616

1. Voltooi: Die term “verbeelde wêreld” verwys na

[1] die wêreld van die storie.


[2] ’n wêreld wat geen verband hou met die alledaagse realiteit nie.
[3] die wêreld van mense wat aanstellerig is.

2. Die lesers van ’n literêre teks onderneem ’n “reis” in die sin dat

[1] hulle die teks by ’n boekwinkel of biblioteek moet gaan soek.


[2] alle groot skrywers ook altyd formidabele reisigers is.
[3] lesers in so ’n mate met gebeure of karakters mag identifiseer dat hulle tot nuwe
lewensinsigte kom.

3. Volgens Derek Attridge bevind die kreatiewe leser hom/haarself

[1] buite die storiewêreld, in sy/haar eie leefwêreld.


[2] binne die storiewêreld, maar met ’n spesifieke agenda wat betrokkenheid by karakters
uitsluit.
[3] buite en binne die storiewêreld.

4. Volgens Burger (2018) beskou Attridge “die ander” as

[1] alles wat nie “ek” is nie.


[2] alles wat onbekend is.
[3] alles wat reeds bestaan maar nog nie ontdek is nie.

5. Volgens Weber (1980) wil literêre niefiksie “waar” wees,

[1] “as fact and at the same time true as fantasy”.


[2] “as history and at the same time true as art”.
[3] “as fantasy and at the same time true as fiction”.

6
AFK1501/001/3/2021

6. Die karakter Thandiwe is ’n jong ________-sprekende kind

[1] Sotho
[2] Zulu
[3] Xhosa

7. Karel Schoeman se Slot van die dag verteenwoordig die volgende tipe “reis”:

[1] die outobiografiese “reis” van die ouerwordende skrywer.


[2] die laaste reis van die skrywer per vliegtuig na Kaapstad.
[3] die spirituele reis van die Boeddhisme na die Christelike godsdiens.

8. “Die ramp” (T.T. Cloete) is volgens die studiegids ’n voorbeeld van ’n

[1] kortkortverhaal.
[2] gedig.
[3] hoorspel.

9. Die subteks van ʼn kortverhaal verwys na

[1] die subtitel van die verhaal.


[2] die newekarakters wat slegs in die verhaal geïmpliseer word.
[3] ’n tipe onderliggende idee wat deurlopend in die verhaal teenwoordig is

10. Watter karakter is die “waarnemingspunt” in Dorado?

[1] Rory Berg


[2] Gilbert du Toit
[3] die Howlers

11. Ongeveer hoeveel radiostelle is daar tans in Suid-Afrika?

[1] eenmiljoen
[2] tienmiljoen
[3] vyftigmiljoen

12. ’n Dramateks word eers werklik “lewendig” as dit gespeel word (Keuris, 1996:2). Hierdie
eienskap staan bekend as die ________ van die dramateks.

[1] fiksionaliteit
[2] opvoeringsgerigtheid
[3] werklikheidsillusie

7
13. Wanneer die luisteraar meer weet as ’n karakter in die radiodrama, staan dit bekend as

[1] toneelaanwysing.
[2] dramatiese ironie.
[3] karakterisering.

14. Wie is die skrywer van Blindemol?

[1] Tom Dreyer


[2] Hennie Aucamp
[3] Chris Barnard

15. In Blindemol, bestaan daar _________ tussen die karakters, Souf en Ralie.

[1] uiterlike konflik


[2] innerlike konflik
[3] letterlike konflik

16. Wat noem ons ’n strofe met vier reëls?

[1] ’n kwatryn
[2] ’n oktaaf
[3] ’n koeplet

17. “Agter die gordyne begin die dag dans” (uit “Moenie slaap nie” deur Ingrid Jonker) is ’n
voorbeeld van

[1] personifikasie.
[2] vergelyking.
[3] ironie.

18. Met watter vaste digvorm stem die struktuur van “Vaarwel aan Insulinde” deur C. Louis
Leipoldt ooreen?

[1] Italiaanse (of Petrarkaanse) sonnet


[2] Engelse (of Shakesperiaanse) sonnet
[3] onkonvensionele (of gebroke) sonnet

19. In Loftus Marais se gedig, “die digter as rockster”, neem die spreker ’n ________ houding in?

[1] uitdagende
[2] romantiese
[3] melankoliese

8
AFK1501/001/3/2021

20. Watter bekende liedjieskrywer is onlangs met die Nobelprys vir Letterkunde vereer?

[1] Leonard Cohen


[2] Bob Dylan
[3] Koos Kombuis

WERKOPDRAG 01: TOTAAL: [20]

9
2.5.2 Vrae vir Werkopdrag 02 (Semester 1)

WERKOPDRAG 02 (S1)
Vir die doeleindes van Werkopdrag 02, moet jy vrae beantwoord ter waarde van 25 punte
per leereenheid, vir ’n groottotaal van 100 punte:

Leereenheid 1: 25 punte
Leereenheid 2: 25 punte
Leereenheid 3: 25 punte
Leereenheid 4: 25 punte
Groottotaal: 100 punte

E-reserwes is beskikbaar by http://oasis.unisa.ac.za/search/r.

Sperdatum: 14 Julie 2021


Unieke werkopdragnommer: 621899

LEEREENHEID 1

Vraag 1.1

1.1 Skryf ’n paragraaf oor die onderskeid tussen die interpretasie van ’n literêre teks, en die
uitvoering van die teks, na aanleiding van die volgende uitspraak:

Die literêre prosateks word ’n belewenis, ’n uitvoering (performance), vir die leser wat nie
op ’n veilige afstand buite die storiewêreld bly nie, maar bereid is om in hierdie wêreld “in
te reis” sonder vooropgestelde idees of ’n agenda (Van Heerden et al 2018:6).
(4)

Vraag 1.2

1.2 Kies slegs EEN van die volgende kortverhale (beskikbaar op e-reserwes) en beantwoord
dan die onderstaande vrae daaroor:

▪ Dido, E.K.M. 2011. Sjabloon. In: Nel, M. & Vermaak, A. (samestellers) Skreeu en ander
verhale. Pretoria: Lapa Uitgewers, 92-94.
▪ Franz, G.H. 1982. Makhwibitsana. In De Vries, A. (samesteller). Die Afrikaanse
Kortverhaalboek. Kaapstad: Human & Rousseau, 45-49.
▪ Kalmer, H. 2012. Hoe Vlieger sy naam gekry het. In: Vlieger en die gevare van die close
dance. Kaapstad: Queillerie, 11-13

10
AFK1501/001/3/2021

▪ Muller, E. 1988. Nag by die drif. In: Fryer, C. (samesteller). Kinders van die aarde.
Kaapstad: Tafelberg, 36-44.

Vrae:

1.2.1 Beskryf kortliks (in ’n paragraaf van 250-300 woorde) wat jy sintuiglik ervaar het terwyl jy
die verhaal gelees het en hoe hierdie sintuiglike ervaring jou begrip van die verhaal
beïnvloed het? (4)

1.2.2 Benoem die plotstruktuur van hierdie verhaal. Motiveer jou antwoord deur ’n kort
opsomming van die plot te gee. (4)

1.2.3 Wie is die karakters in die verhaal en wat is die aard van hulle interaksie/verhoudings?
Maak gebruik van voorbeelde uit die verhaal om jou antwoord te staaf. (5)

1.2.4 Waar speel die verhaal af en watter invloed het hierdie ruimte op die karakters en
gebeure? Maak gebruik van voorbeelde uit die verhaal om jou antwoord te staaf. (5)

1.2.5 Bespreek een belangrike tema van die verhaal. Maak gebruik van voorbeelde uit die
verhaal om jou antwoord te staaf. (3)

[21]

Leereenheid 1: Subtotaal: [25]

LEEREENHEID 2

Vraag 2

Let wel:
Jy het ’n keuse tussen Vraag 2.1 OF Vraag 2.2.

Vir Leereenheid 2, moet jy dus net een essay skryf ter waarde van 25 punte.

Vraag 2.1

2.1 Skryf ʼn essay van ongeveer 1000 tot 1200 woorde waarin jy die tipes reise bespreek wat
in die roman Dorado deur Tom Dreyer onderneem word.

Skenk in jou essay aandag aan die volgende aspekte:

▪ Wat is die tipes reise wat in Dorado onderneem word?


▪ Hoe sluit die reise wat onderneem word aan by die ruimte in die roman?
▪ Hoe hou die tipes reise wat onderneem word verband met die soek-motief in die roman?
▪ Kry Gilbert tydens sy reise antwoorde op sy vrae of sy soeke na ’n patroon wat sal sin
maak van sy lewe?
11
▪ Hoe kom die verskillende reise in Dorado tot ʼn einde in die slot van die roman?

Wenk: Lees weer die gedeelte in die studiegids (Van Heerden et al 2018:35-38) wat handel oor
tipes reise in Dorado. Lees ook al die resensies oor Dorado wat op die e-reserwes verskyn.
Gebruik hierdie bronne as agtergrondinligting om jou essay te skryf, maar onthou om die
korrekte bronverwysingstegniek te gebruik indien jy enige inligting of idees daaruit wil gebruik.

(25)

OF
Vraag 2.2

2.2 Skryf ʼn essay van ongeveer 1000 tot 1200 woorde waarin jy die roman Dorado en die
kortverhaal “Poloroid” deur Tom Dreyer met mekaar vergelyk.

Verwys in jou essay na die volgende verhaalelemente:

▪ Hoe vergelyk die karakters in Dorado met die karakters in “Polaroid”?


▪ Hoe vergelyk die ruimte in Dorado met die ruimte in “Polaroid”?
▪ Hoe vergelyk die vertellersperspektief in Dorado met die vertellersperspektief in
“Polaroid”?
▪ Hoe vergelyk die tema van Dorado met die tema van “Polaroid”?

Wenk: Lees weer die gedeelte in die studiegids (Van Heerden et al 2018:34-35) wat handel oor
Dorado en “Polaroid”. Lees ook al die resensies oor Dorado wat op die e-reserwes verskyn.
Gebruik hierdie bronne as agtergrondinligting om jou essay te skryf, maar onthou om die
korrekte bronverwysingstegniek te gebruik indien jy enige inligting of idees daaruit wil gebruik.

(25)

Algemene riglyne vir die essay:

Hou assbelief die volgende riglyne in gedagte wanneer jy jou essay beplan/skryf.

Jou antwoord moet aan al die vereistes van ’n literêre essay voldoen. Raadpleeg die dokument
getiteld “Riglyne vir die skryf van literêre essays” wat elektronies beskikbaar is onder
“Additional Resources” op myUnisa.

Jou essay sal volgens die onderstaande kriteria nagesien word:

12
AFK1501/001/3/2021

Kriterium: Gewig:

Inhoud 50%
▪ Die student se argumentering is relevant tot die gegewe onderwerp (die
student antwoord wat gevra word).
▪ Die student beantwoord die vraag volledig.
▪ Die student bied genoegsame en relevante bewyse (voorbeelde) uit die teks
aan om sy/haar argumente te ondersteun.
▪ Die student formuleer argumente op ’n logiese, oortuigende en helder wyse.
▪ Die student wend literêr-analitiese vaardighede op ’n sinvolle wyse aan.

Struktuur 30%
▪ Die essay beskik oor ’n gepaste inleiding, inhoudsparagrawe (“liggaam” of
“middel”) en gevolgtrekking (slot).
▪ Die essay beskik oor ʼn logiese paragraafstruktuur. Paragrawe vloei logies op
mekaar.
▪ Verbinders en diskoersmerkers (byvoorbeeld “Eerstens”, “Vervolgens”, “Dus”
ens.) word gebruik om paragrawe met mekaar te skakel.
▪ Opskrifte en subopskrifte word korrek gebruik (indien van toepassing).
▪ Die struktuur ondersteun logiese argumentasie.

Taalgebruik 10%
▪ Die spelling, styl en leestekengebruik in die essay is korrek.
▪ Die student handhaaf ’n gepaste akademiese register.

Verwysings 10%
▪ Student het ten minste een sekondêre bron sinvol by sy/haar essay betrek.
▪ Verwysings in die teks word korrek volgens die Harvard-metode aangedui.
▪ Die bibliografie is korrek en goed versorg.
▪ Direkte aanhalings en parafrases word korrek gebruik en is goed geïntegreer
met die res van die teks.

TOTAAL 100%

Inhoud:
▪ Die inhoud van jou essay tel verreweg die meeste (50%).
▪ Maak seker jy beantwoord spesifiek wat gevra word. Dit help nie jy gee net ’n
opsomming van die verhaalgebeure nie!
▪ Maak deurgaans in jou bespreking gebruik van voorbeelde uit die roman om jou argument
te staaf. Jy kan parafraseer (in jou eie woorde omsit) of direk aanhaal.
▪ Gee altyd (waar moontlik) die betrokke bladsynommer/s in hakies.
▪ Let wel: Jy sal geen punte verdien indien jy bloot uit die studiegids (of enige ander bron)
knip en plak (copy and paste) nie. Skryf jou essay in jou eie woorde.

13
Struktuur:
▪ Jou essay moet ’n logiese oorhoofse struktuur hê, met ’n inleiding, middel en ’n slot.
▪ Gebruik asseblief volsinne en paragrawe, nie telegramstyl of kollyste (bullet points) nie.
▪ Jy kan subopskrifte gebruik as jy wil.

Taalgebruik:
▪ Jy moet ’n gepaste akademiese register/styl gebruik; geen sleng of vloekwoorde nie.
▪ Jou essay moet behoorlik geproeflees word voordat jy dit inhandig.
▪ Jy sal gepenaliseer word vir taal-, tik- en spelfoute as dit die leesbaarheid van jou essay
belemmer.

Sekondêre bronne en bronverwysings:


▪ Daar word van jou verwag om ten minste een ander sekondêre bron in jou essay te
betrek, soos byvoorbeeld ’n resensie of akademiese artikel wat jy geraadpleeg het (die
studiegids vir AFK1501 tel nie).
▪ Jy moet die korrekte bronverwysingsmetode gebruik, naamlik die verkorte Harvard-
metode, om sekondêre bronne te erken.
▪ Raadpleeg die dokument getiteld “Abridged referencing for students”, beskikbaar onder
“Additional Resources” op myUnisa.
▪ Jou essay moet ook ’n korrekte bibliografie (bronnelys) aan die einde hê.

Leereenheid 2: Subtotaal: [25]

LEEREENHEID 3

Vraag 3

Bestudeer die Handleiding vir RSG/Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie 2019, wat


beskikbaar is onder “Additional Resources” op myUnisa.

Luister na Die lyk deur Karin du Toit, aanlyn beskikbaar by


http://www.rsg.co.za/images/upload/sound/klanke/20200611_RADIOTEATER_Die_Lyk.mp3.
Die oudiolêer van die hoorspel is ook beskikbaar op myUnisa onder Addisionele Hulpbronne.

Die lyk is ’n donker komedie wat handel oor ’n mishandelde vrou wat haar man een aand met ’n
mes in die rug steek. Die stuk is as die algehele wenner aangewys in die RSG/Sanlam
Radiodrama-skryfkompetisie 2019. Die regisseur is Renske Jacobs. Vir meer inligting, besoek
https://www.rsgplus.org/rsg-radio/programme/radioteater/donderdagaand-die-lyk-is-donker-
komedie/.

Die karakters en rolverdeling is soos volg:

14
AFK1501/001/3/2021

Karakter: Gespeel deur:

TRUDIE ’n vrou wat vir jare lank fisies en emosioneel Elzabé Zietsman
deur haar man, Wynand, mishandel is; sy
steek hom een aand met ’n mes in die rug

FRANCOIS Trudie se volwasse seun wat sy ma moet help Cobus Venter


om van die lyk ontslae te raak

MARIAAN Trudie se uiters nuuskierige buurvrou Ria Smit

LYDIA Trudie se huishulp Eloise Cupido

WYNAND Trudie se afknouende man en Francois se Hannes Muller


stiefpa

THYS Wynand se werkskollega David Louw

LEONI Wynand se jong minnares en mede-afperser Mari Molefe Van


Heerden

Beantwoord die volgende vrae:

3.1 Verduidelik wat bedoel word met die opvoeringsgerigtheid van ’n dramateks. (2)

3.2 Wat word die skrywer van ’n drama genoem? (1)

3.3 Waarom is dit (volgens RSG se handleiding) belangrik vir die skrywer van ’n radiodrama
om sy/haar luisteraars se aandag vanuit die staanspoor te boei? (1)

3.4 Watter twee tipes akoestiek kom in die radiodrama voor? Noem kortliks waarvoor elkeen
gebruik word. (2)

3.5 In watter drie situasies sal die eggo effektief gebruik kan word? (3)

3.6 Waarvoor word die filtermikrofoon gebruik? (1)

3.7 Voltooi die onderstaande tabel oor Die lyk deur Karin du Toit. Die eerste toneel is reeds vir
jou ingevul. Daar is 14 tonele in totaal. (10)

Toneel # Wie praat? Waaroor praat Wanneer Waar praat Hoe praat Watter hulpmiddels
(Karakters) die persone? / praat die die die word gebruik?
Wat gebeur? persone? persone? persone? (Akoestiek, Perspektief,
(Gebeure) (Tyd) (Plek) (Dialoog) Byklanke, Dowe, Eggo,
Filtermikrofoon,
Musiek)

Toneel 1 (vanaf 0:36) Trudie Hoe om van Laatnag, Trudie se Angstig, Toneel open met
Francois Wynand se lyk iewers na huis, bekommerd opgewekte musiek
ontslae te raak 02:00 in die aanvanklik
oggend in die Byklanke:
sitkamer en

15
Trudie het later die – tikgeluide op
vroeër die aand motorhuis sleutelbord
vir Wynand in – sleepgeluide van
die rug gesteek liggaam op seil
met ’n mes – deur wat klik
– sagte dreuning van
Hulle laai die lyk die boksvrieskas
in die – geluid van plank op
boksvrieskas in die vloer wat Francois
die motorhuis nader bring
– stampgeluid van lyk
wat in die vrieskas
intuimel

Toneel 2 (vanaf
7:30)

Toneel 3 (vanaf
16:24)

Toneel 4 (vanaf
19:00)

Toneel 4 (vanaf
23:15)

Toneel 5 (vanaf
24:35)

Toneel 6 (vanaf
25:54)

Toneel 7 (vanaf
27:38)

Toneel 8 (vanaf
28:55)

Toneel 9 (vanaf
24:35)

Toneel 10 (vanaf
36:30)

Toneel 11 (vanaf
38:47)

Toneel 12 (vanaf
45:26)

Toneel 13 (vanaf
52:20)

Toneel 14 (vanaf
58:30)

Einde 1:02:42

3.8 Hoe sluit Die lyk as radiodrama aan by die tema van gendergebaseerde geweld? (2)

3.9 Gee ’n kort definisie van “donker komedie” (onthou om bronne te vermeld) en verduidelik
waarom Die lyk as ’n donker komedie beskryf kan word. (3)

Leereenheid 3: Subtotaal: [25]


16
AFK1501/001/3/2021

LEEREENHEID 4

Vraag 4

Bestudeer die gedig “roofsonnet” deur Antjie Krog.

“roofsonnet” verskyn in die afdeling “wondweefsel” wat deel uitmaak van die bundel, Kleur kom
nooit alleen nie (2000), en is op die e-reserweplatform beskikbaar (gaan na
http://oasis.unisa.ac.za/search/r).

Beantwoord die volgende vrae:

4.1 Verskaf ’n verklaring vir elkeen van die volgende woorde/frases wat in die gedig voorkom.
Indien nodig, raadpleeg ’n verklarende woordeboek of doen ’n internetsoektog om die
begrippe na te speur.

litteken (reël 1)

deurletselde (reël 3)

primêre hegting (reël 4)


(primary wound healing)

sekondêre hegting (reël 7)


(secondary wound healing)

heel (reël 5)
(heal)

kikoejoe (reël 8)
(kikuyu)

palmvel (reël 9)

skelet (reël 13)

(8 x ½ = 4)

4.2 Met watter tipe sonnet het ons hier te make? (1)

4.3 Wat word die rymskema in hierdie gedig genoem? (1)

4.4 “roof”, “litteken”, “wond” en “letsel” is alles woorde wat in die gedig herhaal word en wat die
idee van ’n wond beklemtoon. Haal nou drie woorde aan wat verwys na die liggaam en/of
bepaalde liggaamsdele. (3)

17
4.5 Verduidelik die metafoor wat in strofe 1 (reël 1 tot 3) geaktiveer word. Verwys na die vorm
van hierdie betrokke orgaan, die figuurlike betekenis/se wat daaraan gekoppel word, asook
die verband met kleur (reël 11) en die bundeltitel, Kleur kom nooit alleen nie. (5)

4.6 Gee ’n verklaring vir die reëls “maar vel kom net een maal” (reël 9) en “daarom bring letsels
altyd kleur” (reël 11). (2)

4.7 Hoe word die beeld van vel en grond in “roofsonnet” met mekaar in verband gebring? Gee
’n aanhaling om jou antwoord toe te lig. (2)

4.8 Verduidelik die dubbele betekenis van die woord “roof” in die gedig se titel teen die
agtergrond van Afrika en Suid-Afrika se koloniale geskiedenis. (4)

4.9 Verduidelik die betekenis van die slotstrofe (reël 12 tot 14) in jou eie woorde. (2)

4.10 Wat is die tema van “roofsonnet”? Kies die mees geskikte opsie:

a) genesing
b) versoening
c) identiteitskepping
d) al drie die bogenoemde
(1)

Leereenheid 4: Subtotaal: [25]

WERKOPDRAG 02: TOTAAL: [100]

18
AFK1501/001/3/2021

2.6 Die eksamen

In die verlede het AFK1501-studente ’n lokaalgebaseerde eksamenvraestel geskryf, maar as


gevolg van COVID-19, sal jy vanjaar ’n geskrewe of getikte eksamenportefeulje aflê. Die
eksamenportefeulje is soortgelyk aan ’n werkopdrag wat tuis voltooi en aanlyn via myUnisa
ingehandig moet word.

Belangrik: Hou asseblief die amptelike moduleblad (AFK1501-21-S1) op myUnisa dop vir
enige verdere kennisgewings rakende die reëlings vir die eksamen.

2.6.1 Eksamendatum

Soos reeds verduidelik, is daar vanjaar slegs een eksamenperiode wat van September tot
November 2021 sal strek.

Die amptelike eksamenrooster sal nader aan die tyd gepubliseer word. Raadpleeg asseblief jou
eksamenrooster op myUnisa vir die finale eksamendatum vir AFK1501.

2.6.2 Eksamentoelating

Jy moet ten minste een van die twee werkopdragte vir AFK1501 inhandig om eksamentoelating
te kry.

2.6.3 Subminimum

Die subminimum vir die AFK1501-eksamen is 40%. Dit beteken dat, indien jy minder as 40% in
die eksamen behaal, jy die module summier druip (maak nie saak hoe goed jou semesterpunt is
nie).

Indien jy tussen 40% en 50% in die eksamen kry, kan jy moontlik vir ’n hereksamen
(“supplementary examination”) kwalifiseer.

Let wel: Jou finale punt (semesterpunt + eksamenpunt) moet uiteindelik 50% of hoër wees om
AFK1501 te slaag.

2.6.4 Hereksamen

Die hereksamen word in die daaropvolgende semester geskryf. Die hereksamen vir AFK1501
sal, met ander woorde, eers in 2022 plaasvind.

Die hereksamenvraestel moet met ten minste 50% geslaag word. Jy kry net een kans op ’n
hereksamen. Daarna moet jy van voor vir die module registreer.

19
3 TEN SLOTTE

Voltooi asseblief beide werkopdragte tot die beste van jou vermoë – veral Werkopdrag 02.

Baie studente voltooi net Werkopdrag 01. Hulle kry miskien ’n goeie punt vir Werkopdrag 01 (want
dit is redelik eenvoudig) en dan dink hulle verkeerdelik dat dit outomaties tot ’n goeie
semesterpunt sal lei. Maar kyk mooi: Werkopdrag 01 tel slegs 20% van jou semesterpunt, wat op
sy beurt net 45% van jou finale punt verteenwoordig. Werkopdrag 01 tel dus effektief net 9% van
jou finale punt vir AFK1501.

Daarom is dit ontsettend belangrik dat jy ook Werkopdrag 02 voltooi. Die voltooiing van
Werkopdrag 02 is buitendien die beste eksamenvoorbereiding wat jy kan doen, want die vrae in
die eksamen bou direk voort op die vrae in Werkopdrag 02.

Wees versigtig vir allerlei derdepartyplatforms wat sogenaamde “studiehulp” aan studente bied.
Dikwels het hierdie platforms geen affiliasie met Unisa nie. Gebruik eerder die amptelike
moduleblad op myUnisa (AFK1501-21-S1) en jou aangewese e-tutor. Die e-tutors is
professioneel opgelei en beskik oor die nodige kwalifikasies om jou op ’n sinvolle wyse by te
staan – maak asseblief van hulle dienste gebruik.

Ons wens jou alle sterkte toe en hoop dat AFK1501 vir jou interessant en verrykend sal wees.
Kontak asseblief vroegtydig jou e-tutor of dosente as jy sukkel, of onseker is oor enigiets.

Groete

Dr Neil van Heerden


012 429 6424 | vheern@unisa.ac.za

20

You might also like