Download as docx, pdf, or txt
Download as docx, pdf, or txt
You are on page 1of 8

Muiter aan boord RMS Exempli Gratia

Iewers in ’n uithoek van hierdie land lê die nanag se oorskot met gebarste binnegoed op die
versengende droë middaghitte en wag. Oorkant die bouvallige sokkerstadion kon ’n
brandmaer straatbrak dalk die middel haal, en ’n verminkte, harige affêrinkie – danksy ’n
wanhopige sprong – selfs die oorkant. ’n Gesette ou vrou, bont kopdoek en wit voorskoot sal
vroegoggend stoffies met ’n grasbesempie oor die kaal sypaadjie buite haar huis begin
opjaag. Plek-plek sal smeulende hopies blare, rommel en rubber se rook met die
alomteenwoordige rooi poeierstof vermeng om smorend bo ’n ongelyk wêreld te bly hang. ’n
Afgeleefde bakkie sal aankruie oor ’n spoedwal, onverwags die straat kruis, halflyf oor die
sypaadjie parkeer en onverklaarbaar begin toet.

Ek weet dit.

Die langverwagte prinsipaal se titel sal voortaan “uitvoerende hoof” (executive head) heet,
het strategies geplaaste baniere aangekondig. Wit markiestente is vroeg die vorige week reeds
opgeslaan en belanghebbendes na die stuurman se inhuldiging genooi: stamhoof, pastoor,
voorsitter en eienaar van die skool (doctor), direksielede, ouers en kinders. Die te waterlating
is swierig gevier. Reusagtige kospotte het vroegdag vertroostend begin prut, koeldrank is
yskoud uit staalbaddens bedien en lofprysing het in die vertes oor skroppende hoendertjies
teen die koppe weergalm. Pastoor het met die nodige élan voorspel dat nie ’n enkele kind uit
hierdie skool sal druip nie. Een ná die ander het sprekers agter die mikrofoon ingeskuif.
Tradisie (en protokol het die doctor verklaar) dikteer dat die vorige skoolhoof (interim head)
ook hartlik vir haar harde werk bedank moet word. Tydens háár spreekbeurt het sy skewekop
geprewel, binnensmonds gemompel en afwesig na haar voete in haar goue sandale gestaar.
Toe gaan plof sy aangedaan in haar stoel neer. Máár onthou net, het ’n direksielid later oor ’n
opgehoopte bord kos terloops vir my geglimlag, kinders is oulik en die toekoms en alles is
goed en wel, maar dis hoog tyd dat hy wins sien. Hoe meer dinge verander, sê hulle, hoe
meer bly dit dieselfde. En alles wat was, sal weer wees.

Amen.

1
“We have to turn this ship around,” het die uitvoerende hoof (executive head) met presiese
panache tydens een van vele werksessies benadruk en die skip se nuwe koers geolie
uitgestippel. ’n Gedeelde missie. Die interim head het dikmond toegekyk; sy het die
executive head met broeiende agterdog bejeën. Bundeltjies dokumente is uitgedeel: 16
Habits of Mind, Growth Mindset, Teaching Higher Order Thinking. Ensovoorts. Kollegas,
daar is rede tot kommer: Sweedse kindertjies loop los voor. Ons is myle agter. In Swede
assesseer hulle nie onnodig nie en onderwysers verdien net soveel soos die regters. “You
can’t fatten a cow by weighing it,” het iemand filosofies opgemerk. “Praise Jesus,” ’n ander,
die onderwys ís waarlik ’n professie. Net daar en dan, tóé, aan die begin van die tweede
termyn het ’n opgewondenheid in die personeelkamer posgevat. Dit het selfs begin reën ‒ ’n
gewisse teken van ’n koersvaste, voorspoedige reis. Wiskundiges het fluks probeer bereken
hoeveel water verlore gaan omdat die geute nie in tenks uitloop nie en dít sal stop, is plegtig
onderneem. Die slagspreuk: “ ’n honderd persent wedersydse respek ten alle tye” is gebaar,
omarm en as mantra aangeneem.

’n Vars bries van verandering het kom lawe.

Nie lank daarna nie het die wind koud gedraai, kan ek onthou, dit was ’n onstuimige dag op
die oop see.

“Oukei ...” nou effens op die agtervoet, “die verandering aan die rooster, ekstra nauurse
vergaderings en langer ure is bloot ’n tydelike maatreël ... tot ek hierdie skip omgedraai het.”
Weer meer in beheer: “Kyk ... niemand sal summier ontslaan word nie, nie nou al nie, maar
as jy ons gedeelde visie ... nie deel nie ... as jy nie inskakel nie ... dan is dit dalk eerder tyd vir
jou om aan te beweeg – shape up or ship out. I expect everyone to be on board.”

Skeepsreg.

Een oggend is die pad skielik verlate, maar dít gebeur nie volkome onverwags nie. Die vorige
termyn was daar ook só ’n onaardige stilte, maar het die verhuurder my betyds teen die
dreigende opmars gewaarsku. Ongelukkig het ons verhouding intussen versuur en soek ek
dringend nuwe blyplek. Die twis het ontstaan toe ek daarop aangedring het dat vele gebreke
(geiser, yskas, vensters, watertoevoer – dis ’n lang lys) onmiddellik herstel word. “Jy is

2
inkompetent!” het ek geskel. “Don’t think you can speak to me like that just because you are
white!” het sy teruggekap. Anders as wat protokol vereis, is daar nie formeel aan die einde
van die gesprek gegroet nie. Jy betaal ieder geval te duur aan huur het my kollegas my
verseker: “It’s because you are white.”

“Hei uMlungu!” roep een van ’n groepie skoolkinders en slenter laggend aan: selfone,
oorfone, langbroeke te kort, wit kouse hoog opgetrek en hemde wat uithang. Die kinders neul
dikwels hulle is honger. “Sharing is caring,” sê hulle. “Feed your mind,” sê ek. Dis
onmoontlik om op ’n leë maag te konsentreer. Of as dit so warm is. Óf hulle sopas ’n toets
afgelê het – ’n common test. Dis boring ─ alles is boring. “It’s abuse,” kla hulle – om dag in
en dag uit so in ’n klaskamer te moet sit – presies soos dit vyftig jaar gelede was. Ek glimlag
nostalgies. Steek op jou hand, hoeveel van julle gaan eendag ’n onderwyser word?

Nie een nie.

“Chillax,” sê hulle, daar is geen rede om ’n muggiesifter te wees nie.

Daardie spesifieke oggend, onthou ek, was nog erger as gewoonlik: Die bokke buierig, die
beeste traer as gebruiklik en die moedswillige donkies soos altyd kop in een mus ‒ al wat ’n
dier is was dwars. Noag sou dit moeilik op ’n ark sonder anker gehad het. Tesame met die
talle ongelisensieerde bestuurders, onverskrokke huurmotors, pap wiele, slaggate en
slentergangers belemmer hulle die verkeersvloei. Desnieteenstaande bespeur die executive
head dadelik ’n doelbewuste traagheid onder sy personeel om betyds op te daag en groet stug.
Muitery onder die matrose sal nie geduld word nie. Name sal voortaan neergeskryf word,
skeepsrol sal stiptelik bygehou word, stappe sal geneem word. Van nou af: sodra die
oggendvergadering afgehandel is, sal die klok lui en onderwysers en kinders moet
onmiddellik na hul mentorklasse beweeg. “I am the boss ... am I not the boss!” het hy
handewringend verneem en verbete na sy lugverkoelde kantoor onder in die gang gevlug.

Maar buite, onder die genadelose son op die oop see, gaan die lewe sy eie gang.

3
Ontvangs lyk ondertussen effens anders: daar is plakkate van Madiba, Jeugdag en foto’s van
die skoolkinders. Van die stoele is ook rondgeskuif. Die skool kry ’n weeklikse nuusbrief en
die doctor herhaal sy belofte aan die executive head van ’n splinternuwe huis.

Pas na ek getrek het, daal die soetste stilte een môre weer oor die hoofpad neer. Helaas,
duskant die eerste bult lê ’n hoop afgekapte boomtakke, verder aan versper klippe die roete
en in die verte dreig ’n swart rookkolom. Hiérdie slag gaan die protesaksie oor die gebrek aan
watertoevoer. Rykes het water, maar húlle wat reg langs die dam woon moet met dromme
loop skep. “Dit is ’n EFF-betoging,” verseker Elisa, my verhuurder, my. Sy is aan die ANC-
vroueliga verbonde, ’n formidabele vrou. Sy stel voor ek bied omkoopgeld aan. R50.00 sal
waarskynlik die wa deur die drif trek. Sy glo die klomp kwaaddoeners soek bloot genoeg geld
vir drank en dagga, dan sal hulle tot rus kom.

Ek vat ’n kans. Ek moet by die werk kom. Daar is ’n skip om om te draai.

“If you come here again, you’ll be sorry. Do you understand me? Turn around!” snou die
woedende betoger my minagtend met ’n dreigende wysvinger toe en kyk skaars na die
R20.00 in my hand. Ek slaan my oë op na die polisiebeamptes wat met gevoude arms loom
teen ’n bakkie aanleun en gaap die brandende vlamme wat die teer opslurp geskok aan.
Daardie aand skryf ek ’n klag aan die stasiebevelvoerder en e-pos dit aan die plaaslike
polisiekantoor. Ek wys ook op die onrusbarende middernagrumoer van die charismatiese
kerke wat soos paddastoele opskiet.

Ek is gestrand en die betoging duur voort. Die executive head is onsimpatiek en geïrriteerd –
van die ander personeellede is wel deur die blokkade, laat hy kortaf per Whatsapp weet – hy
verwag (expect) dat almal by die werk moet wees. Daarom stuur Elisa douvoordag haar seuns
om my met ’n agterpad werk toe te begelei en spreek ek af om hulle namiddag weer te
ontmoet.

Ek word stug in die personeelkamer begroet ‒ ’n matroos met rotkoors besmet.

Ná skool wag Peter met vyf van sy vriende agterop ’n bakkie my reeds by Shoprite Usave in
en verklaar die staking tot iets van die verlede. Ek moet net kort op sy hakke bly, adviseer hy.
Nietemin, iewers tussen die bondel betogers sak ’n splintergroepie op my toe en klap venynig

4
op die kar se dak, meslemme glim, donker gesigte druk teen die toe ruit. Peter en sy vriende
verwilder genadiglik die anargiste.

Die soter staan geanker in die stuurkajuit, kompas in die hand, oë onwrikbaar op die sterre.

“Do you know the difference between an animate and inanimate object?” vra hy laat een
Vrydagmiddag aan die week se oortreders wat detensie uitdien. Niemand antwoord nie –
gaap ons net in stilte aan. “Snags kry die bakstene voete en loop hulle rond. So julle straf is
om die bakstene wat rondlê terug op hul plek te besorg. En rommel op te tel.”

Die ewige, nimmereindige rommel.

Om een of ander rede het my gedagtes pal terug bly draal na die ry afgekapte, omgedopte en
bloedgevulde beeskoppe wat ek in die vleisafdeling van ’n kettingwinkel gesien het. Dit het
my nogal ontstig.

Veral die reuk het bly kleef.

“Your brother is killing our matric dance,” verwyt ’n graad 12-kind my.

“My brother?”

“Yes, the principal.”

“Executive head.”

“Jy moet asseblief met hom praat,” pleit ’n onderwyser by my, “hy raak ’n diktator, ’n
outokraat, maar hy sal jou verstaan.” Hy het nie langer tyd om te merk of voor te berei nie,
kla hy.

“Hoekom sê jy nie self wat jou pla nie?”

“Ek het ’n vrou ... kinders ... by die huis.”

’n Smeltdraad by my nuwe blyplek flakker uit en vir die soveelste keer het ek nie krag of
water nie.

5
*

Die skool moet beter bemark word en daarom gaan ’n ‘Ope Dag’ gehou word, kondig die
uitvoerende hoof een oggend fleurig aan. Terloops, prestasie-assessering van opvoeders is
spoedig op die agenda. Hy het sy grys baard afgeskeer en glimlag begeester. Saterdag 1
September is die gekose dag en hy verwag (expect) van almal om teenwoordig te wees.

Almal móét daar wees.

’n Ongemaklike stilte kry lêplek in die skeepsruim. Die interim head proes verontwaardig
agter ’n hand. Die kinders gaan nie kom nie, waag ’n senior bestuurslid eindelik. In húl
kultuur word op Saterdag begrafnis gehou ‒ familietyd is belangrik en daar is bowendien ’n
aanbiddingsfees by die stadion. “Nee-nee. Álmal!” Die wat nié daar is nie kry detensie. Dit
gaan pret wees. Julle sal sien. Ek ... ons het teikens wat gehaal moet word. Ons moet bemark.
Ek kan hierdie skip nie alleen omdraai nie. Gooi kole. New York, here we come! Die doctor
sal ook daar wees.

“Gaan die skool darem kos voorsien? Dit was altyd die gebruik ...”

Die executive head lig onmiddellik sy hand, maar swyg tandeknersend onderwyl sy gelaat
verkleur. Flertse rooi vlam oor die bleek gelaat. Etlike sekondes tik verby voor hy doodluiters
in kenmerkende timbre laat blyk: “That ship has sailed.”

Dis windstil.

Amper dertig ouers het opgedaag en ’n tranerige brief vol verwyt word vervolgens uitgestuur
– ’n dringende beroep word gedoen: Ouers moet hul kinders ondersteun. ’n Reusesukses
verkondig die nuusbrief, maar tydens die middagvergadering is daar ’n openlike
krapperigheid aanwesig. “Luister ... julle beter my goed verstaan! Ek is nie Jan Rap nie, I was
headhunted! Hierdie kultuur van mense wat net opdaag wanneer hulle wil, sál verander. En
gou ook. Dis nou as jy weet wat goed is vir jou. Meer as dertig jaar ondervinding in die
onderwys ... hulle wat my visie nie deel nie beter aanbeweeg, ek is hier om te bly ... shape up
or ship out. Ek het dit al gesê, I expect everyone to be on board.”

Die interim head het grinnikend toegekyk.

6
Bly sit, het hy as nagedagte bygevoeg. Hier is ’n verteenwoordiger van die
moedermaatskappy wat vir julle gerief begrafnispolisse verkoop.

Ek het opgestaan en uitgestap.

Daai aand, met ’n glas koue Sauvignon Blanc in die hand, vraestelle wat wag om gemerk te
word en Elisa se boerbokke wat dreig om op my kar te klouter, dink ek na oor die kuns van
skeepvaart en Die Skip. Op my foon lees ek: “ ‘Not even God himself could sink this ship.’ --
Employee of the White Star Line, at the launch of the Titanic, May 31, 1911” ¹ en “If only
one or two of the compartments had been opened, Titanic might have stayed afloat.” ² ’n
Boodskap maak op die foonskerm oop: “Alle opvoeders moet aanstaande jaar ’n week vroeër
van verlof terugkeer sodat oriëntering gedoen kan word.”

Ek sug, sluk my glas leeg, staan op en skink nog ’n glasie.

Iewers dryf ’n gletser, glashelder. Of wink rotse daar voor?

Ek onthou nog goed, op die laaste dag van die termyn daag minder as tien persent van die
leerders by die skool op. Die executive head is briesend. Die vermetelheid! Hierdie is nie ’n
staatskool nie spreek hy die teenwoordiges toe en gelas dat alle ouers wie se kinders nie by
die skool is nie hom onmiddellik en persoonlik sal spreek alvorens ’n rapport oorhandig
word. Maar meteens is daar ’n ontevrede gemor en nie lank nie toe staan ’n lang ry ouers in
die gang en murmureer. Na ’n geskarrel verskyn die kaptein uit sy kajuit en vra opvoeders
om die rapporte gou uit te deel.

“Dit was nie maklik nie,” kug die uitvoerende hoof later, “maar ek dink hulle het hulle les
geleer ...”

“Ja, dit is jammer om jou te sien gaan,” sê hy oënskynlik afgehaal, “jy verskaf nie redes vir
jou bedanking nie.”

“Ek is eintlik ’n skrywer,” antwoord ek. “Hulle sê ’n skrywer skryf omdat hy nie anders kan
nie.”

7
“M’m.” Hy takseer my van oorkant sy rekenaar af. Een oog dwaal na die skerm ‒ Facebook.
“En waaroor skryf jy? Wat is jou planne?”

Ek vryf nadenkend oor my ken. “Ag, enigiets, goed wat met my gebeur. Dalk ’n nuwe
avontuur. Asië miskien.”

Hy staan op, kiertsregop, en hou sy hand uit. “Sterkte.”

Miskien maak hy ’n verskil hier op RMS Exempli Gratia, mymer ek. Ons skud blad, soos
protokol vereis.

Soms dink ek terug aan al die katte en brandmaer brakke op die gehawende paaie daar aan
die gatkant van die wêreld – sommige sal die middel haal, of met ’n laaste wanhopige sprong,
miskien die oorkant.

Dalk het die skip selfs gedraai, hier in die see van storms.

1. https://www.archives.gov/exhibits/american_originals/titanic.html

2. https://www.smithsonianmag.com/history/photos-of-the-titanic-tragedy-from-101-years-
ago-19446446/

You might also like