Download as docx, pdf, or txt
Download as docx, pdf, or txt
You are on page 1of 11

Iets in die Familie

Timoteus Tredoux se middeljarige buurman staan en moker twee bont strooikussings op sy

voorstoep teen mekaar om die stofpartikels wind-af te verdryf. Die dowwe plofgeluid herinner Tim

dis Maandagoggend, net ná agt. ʼn Grou, mistroostige oggend. Hy snuif hard, steun orent, swaai sy

bleekwit bene onder die duvet uit en drentel soeserig badkamer toe om die bad vol te tap en

badsout in die water te sprinkel.

Hierdie weeklikse ritueel het Tim die afgelope jaar telkens vanuit sy oopplan-kombuis

dopgehou. ʼn Verbete trek om die donkerkopman, wat lyk of hy met ʼn klippie in sy skoen deur die

lewe wroet, se mond. Meestal is hy ontwykend, of kaalvoet in die netjiese agtererf as hulle mekaar

wel buite gewaar. ʼn Blogger van nering het die outomaton te vertelle gehad; voorheen werksaam by

ʼn koerant as redakteur. Maandae, met die reëlmaat van ʼn metronoom, hoor Tim die stofsuier se

geruis deur Matias Lubbe se grasdak. Soms sien hy ʼn verestoffer teen die voorhuis se ruite fladder en

Lubbe se wilde krulhare met ʼn blou oorfoon oor sy kop. Later die dag word die nuwerwetse stofsuier

se swart binnegoed versigtig met ʼn tuinslang afgespoel en op die stoep uitgepak om te droog.

Volgens Dirk en Sandra Prinsloo, Makadamia-Villa in die Laeveld se eienaars (wat bo teen

die eskarp woon), is Matias Lubbe die enigste huurder wat volstrek weier om deel van die

WhatsApp-groepie te wees. “Pourquoi pas!” het Timoteus verontwaardig in sy hoedanigheid as

administrateur uitgeroep. Die groepie is juis gestig met die gedagte dat die inwoners van al ses

wonings teen Heidelberg-kop na mekaar se belange omsien. Soos familie. Veiligheid is ʼn prioriteit

(dan en wan deel iemand ook ʼn grappie) omdat daar ʼn ruwe oop stuk veld duskant die nou paadjie is

wat meandries na die ander plotte volg. Daar was hoeka ʼn inbraak by Francisca en Paul, ʼn Kärcher-

hoëdrukspuit is gesteel; en nou hierdie dissident.

Matias Lubbe se vrou of vriendin of lewensmaat of sielsgenoot of minnares of wat hulle dit

ook al deesdae noem, Natalie, is wel deel van hulle familiegroepie. ʼn Pragtige, saggeaarde mens wat
Timoteus aanbetref; sophistiquée is die woord wat hy graag gebruik om haar te beskryf. Tim glo vas

hy sal weldra tot die blogger deurdring, it takes two to tango ‒ ʼn pas de deux.

Matias Lubbe sien verál op teen Maandae, maar sodra hy besig raak is daar tog iets terapeuties aan

die knutselwerk. Dié donkiewerk en ʼn antidepressant met sy tweede oggendkoffie laat hom tydelik

vergeet dat hy al langer as ʼn jaar sonder inkomste sit en die vooruitsig bleek daaruit sien. Meestal

voel hy nutteloos en ingeperk, sy selfvertroue geknou, maar hy is nie alleen nie. Onlangs het hy

gelees van ʼn ‘Professor Waffle’: terneergedruk, sosiaal geïsoleer en ingeperk. Waffle het binne ses

minute vyf mense en toe homself afgemaai ‒ ʼn sneller kan daartoe lei dat iemand buite sy aard

optree. Fatum, maar só futiel wil hy nie eindig nie.

Matias glo in ʼn stap-vir-stap stelsel om die huis skoon te maak: Ná Natalie kantoor toe

vertrek, trek hy die beige gordyne sorgvuldig oop ‒ immer op die uitkyk vir gekko’s wat alewig die

mure bekak. Hy was, droog en bêre eers die skottelgoed, vee dan die peule onder die reusagtige

boom (uitheems van iewers in Suid-Amerika) op die stoep bymekaar, klop die leefarea se kussings

uit en begin daarna bolangs afstof terwyl die wasmasjien ʼn eerste bondel klere rondomtalie. In sy

ore speel deurentyd ʼn ellelange lys musiek wat hy op YouTube saamgestel het. In vandag se

eendeweer sal die wasgoed ongelukkig moet oorstaan.

ʼn Frons plooi meteens sy voorkop. ʼn Steurende geluid?

Matias is aanvanklik onseker, lig dan teësinnig die JBL-oorfoon van sy regteroor en luister

skewekop. Ja, waaragtig. Bo Van Morrisen se Queen of the Slipstream klink ʼn skel getoet voor die

groot staalhek. Dís wat jy kry as jy in die naaste erf aan die toegangshek woon ‒ die enigste van die

ses erwe wat met draad toegespan is om te verhoed dat Natalie se stokou Jack Russelhondjie kan
spore maak. Matias retireer na ʼn hoek in die kombuis. Ongesiens en deur die skuifdeur met ʼn

plakker van ʼn helikopter daarop, hou hy die vragmotor geïrriteerd dop. Hy swets sag as die

bestuurder die soveelste maal die toeter druk. Eindelik, verlig sien hy hoe hulle onverrigter sake in

die nou paadjie teen die steilte omdraai.

Tredoux hoor ook die geskal en kyk met ʼn rossige blos op sy wange hoe ʼn dreunende vragmotor

voor die geoutomatiseerde staalhek luier. Dit is verblydend om te sien niemand het goedsmoeds

oopgemaak nie ‒ om veiligheidsredes ‒ inwoners van Makadamia-Villa móét na mekaar se belange

omsien. Soos familie betaam. Die impasse met Matias Lubbe sal hy weldra aanspreek. Tim stap flink

om die marmerblad en bestudeer sy foon. A! Daar het jy dit! Die Brasilaan, Francisca, wat skuins bo

hom woon het op die groepie getik: Can someone please open gate for delivery if we are not here.

Thanks. Tim soek gou sy afstandbeheer en druk die groen knoppie in die algemene rigting van die

toegangshek, maar teen dié tyd het die vragmotor reeds begin aanstaltes maak. “Ouvert”, sê hy en

sien tegelykertyd deur die kombuisvenster hoe Samantha en ʼn paar vriende op die grasperk voor

haar tweeslaapkamerhuis sit-lê en kuier met haar keeshond wat iemand in die gesig lek.

Die staalhek swaai wawyd oop.

En steek vas.

Tim verstel die aluminiumblinding en sit sy leesbril op. Sy oë vonkel en sy grys wenkbroue lig

lewenslustig wanneer hy agter sy skootrekenaar plaasneem. Hy klik speel en kyk vasgenael hoe ʼn

blonde jongman die donkerkop se penis tussen sy hande vasvat en entoesiasties daaraan begin suig.

Tim Tredoux kreun behaaglik, trek die serp om sy keel al stywer en maak sy gulp los.
*

Matias glimlag verleë as hy besef hy het ʼn blik Spray & Cook saam met die stoflappe uitgehaal en nie

Mr Min se multi surface cleaner nie. Die musiek in sy ore demp momenteel en ʼn hoëfrekwensie

waarskuwing stel hom in kennis van twee boodskappe op sy tablet. Kan dit wees? wonder hy traag

met sy moed wat in sy skoene sak ... al weer die geskarrel van rotpootjies in die plafon waar die

grasdak en die teëldak bymekaarkom.

RATTEX

Hy sleep sy wysvinger vlugtig oor die Huawei se skerm. Boodskap 1: Hi, die loodgieter sal

vandag daar wees. Het jou nommer vir hom gegee. N. Hoe laat, wonder Matias. Boodskap 2: Ek wt

nie hoekm jy my geblok het nie en nie antwrd as ek bel nie!!!! Ek mus ju nr by Sophia kry. Jou broer

het wr bgn drink en slaan blykbr gate in die deure. Mskien sal hy na ju luistr. Jy betr mt hom prt. Ons

is fmlie, onthou dt nt!!!

Matias se bloeddruk skiet oombliklik deur die dak. Nee ... Hy grynslag swartgallig en stap

kopskuddend met sy vingerpunte wringend teen sy slape tot onder die reusagtige boom. Hadidas

vlieg krysend teen die donker hemel op en hy skrik. ʼn Spiertjie pols bultend in sy regterkies en hy

sluk aan die knop in sy keel. ʼn Werwelwind pluk onverwags aan die takke en smyt ʼn handvol peule

oor die stoep. Matias staar verslae voor hom uit, wrokkig ...

Jissis, iemand het al weer die hek oop gelos!

Hoeveel keer moet hy herhaal hy sien nie langer kans vir familiedrama nie. Hoeveel keer!

Hoeveel keer moes hy haar al blok; hoeveel nuwe nommers en name? Ad nauseam ... Ag, jirre tog,

hoe gemaak met frenopatie? Vergewe en vergeet.

En vermy.
“Hoekom kyk jy nie net of die donnerse hek agter jou toegegaan het nie!”

Matias voel ʼn skeelhoofpyn aankom. Hy swaai driftig om en lig die oorfone wat skielik soos ʼn

laksman se tou om sy keel wurg van sy nek af. Hulle gaan hom gek maak, stapelgek. “Ek kan nie glo

sy het my nuwe nommer vir haar gegee nie ... ek kan nie. God weet, eendag is eendag dan gaan ek

dit verloor...” Matias herken die gutturale histerie in sy stem, vee afgerem oor sy gesig en drentel

wrewelig tot teen die besemtrosvy in die agtererf. Klipdassies skarrel inderhaas oor die rotse tot

onder in die oop veld duskant die smal pad wat na die ander plotte lei ‒ so vet soos otters. In die

verte lê die dorp dynserig.

Diep asemhaal: stadig in, stadig uit. Laat dit gaan. Hy staar strak voor hom uit. Dán, meteens:

irrasioneel verwyderd en verwonderd beleef hy ʼn dèja-vu by die groen vrug van die vyeboom.

Woef!woef!woef!woef-woef-woef! Woef!

Matias stap driftig weg as die buurvrou se steekhaarbrak op hom afstorm en onophoudelik

teen die draad begin blaf. “Voertsek!” Sy en ʼn paar mense sit hom van die graswal voor haar huis,

rokend, belangeloos en aangaap. Hulle groet mekaar al lankal nie meer nie. Soms hoor hy as Tim met

haar gesels: die swierbol en die flerrie met haar sketterstem. Oor frivoliteite: dalk ʼn grappie op die

groepie of ʼn amourette. Asof Matias Paul nie soms smiddae in die tweespoorpaadjie behoedsaam na

haar huis sien sluip nie. ʼn Getroude man met ʼn kind. Een groot familie en Matias, die persona non

grata.

Buite die skuifdeur gaan hy staan en staar gehipnotiseer na die stewige dwarstak aan die

reuseboom voor die stoep, stip, asof dit telepaties met hom kommunikeer. “Kry jy soms

selfmoordgedagtes?” het dokter Bezuidenout gevra. “Nee.” In sy geestesoog het hy homself al van

daardie tak sien hang wanneer dinge te veel raak. ʼn Voorspooksel.

Would you like to mark the message as spam?

Yes
Hy blok ook Sophia se nommer.

Matias snuif stuurs, maak die yskas oop en skink ʼn lang koeldrankglas vol koue witwyn.

Koelkop bly, maan ʼn stem. Vanaf die skuifdeur druk hy ʼn paar keer aan die afstandbeheer en die

staalhek se arms pluk die hek rukkerig toe. Hy vou die oorfone oor sy kop, stel die musiek harder, vat

ʼn stewige sluk wyn en trap harder as wat nodig is op die stofsuier se aan-af-skakelaar. Die wêreld is

mal, sing Francois van Coke.

Tim Tredoux se wit Kia Sportage kruip teen die steil sementpad af met gruisklip wat hard onder die

bande knars.

Matias sien toevallig die beweging uit die hoek van sy oog terwyl hy die ruit afvee en hulle

wuif vlugtig vir mekaar voor die karretjie buite gesigsveld verdwyn. Hy onthou nog Tredoux se eerste

woorde: “een groot familie”; “mekaar se belange”; “WhatsApp-groepie”. Matias het hom ferm

onderbreuk: “Nee dankie.” Wat ʼn vreemde ou skepsel. Behep met voëls. Altyd aan die suikerwater

(nooit heuning nie!) meng en saad uitsit. Hy verwys selfs na hulle as sy kinders. Sindsdien bearbei

Tim hom om by die groepie aan te sluit en sodoende die esprit de corps ʼn hupstoot te gee.

Eergisteraand het Tredoux en ʼn opgeskote knapie met ʼn moestas tot middernag langs ʼn

vuur op sy patio soos bakvissies gesit en gerinkink tot hy genoeg gehad en hulle vasgevat het. “Mea

culpa,” het Tim bruusk verskoning aangebied.

*
Kort duskant Uplands trek Tim haastig van die pad af. Hy sukkel te veel om te tik terwyl hy bestuur.

Op die groepie, sonder sy leesbril: Sam, cops on the main road. Get your friends inside. Heasding our

way. Lockdown regulations ... arrests habe been made in town.

Sy antwoord met dankbare, uitgestrekte handpalms na voor en rye vol laggende emoji’s en

hartjies.

Tim is kwalik weg of Paul en Francisca se dogtertjie met ʼn maatjie hardloop draadlangs deur Tredoux

se oop erf na die buurvrou se huis. Hulle sing uit volle bors totdat hulle Matias opmerk: “Hallo,

Oom!” hoor hy bo sy musiek.

“Hallo julle,” groet hy en waai met die lap.

“Ons gaan gou ietsie gaan haal voor dit begin reën!” verduidelik sy geesdriftig en kyk

outomaties op.

Hy glimlag gemoedelik.

Vanuit die niet begin die steekhaarbrak skel teen die draad blaf.

“Abbie! Abbie! Abbie!” raas die kind. “Kom saam!”

Matias se polsslag versnel. Hy vee die sweet freneties van sy voorkop af en gaan in.

Natalie het ʼn stempos gelos, iets wat sy selde doen. Haar intonasie is uit die staanspoor

ambivalent: “Mattie, die loodgieter het gesê hy sal 13:00 daar wees. Ek het gevra hy moet jou self

bel.” Sy maak keel skoon en na ʼn oomblik se stilte met die geritsel van papier op die agtergrond

vervolg sy: “Daar is nog ... um, Sophia het my gebel en ... Johan is blykbaar hoog de hel in vir jou oor
ʼn e-pos wat jy van Facebook af vir hom gestuur het oor die gevare van alkoholisme en gesinsgeweld

en wat alles. Ek het gesê jy het jou profiel lank terug al gesluit ... um, ek het gaan kyk en daar is ʼn

profiel met foto’s van jou ... ons twee ... kan jy glo ... en posts waarin jy goed sê soos familie ... um,

bloed is dikker as water. Luister, ek kon dadelik sien jy het dit nie geskryf nie. Dit moet jou ma

wees... Ek het die rekening as ʼn fake profile rapporteer.” Sy sug hard. “Jammer ... maar ... moet jou

asseblief nie te veel ontstel nie. Dankie vir al jou harde werk by die huis. Ek is lief vir jou. Sien later.”

Buite begin dit saggies reën.

“Jy is laat,” sê Matias uitdrukkingloos in die motreën toe die loodgieter skuins voor drie-uur in die

oprit stilhou. “Hoekom bel jy my nie net en laat weet nie?” Matias is effens aangeklam, maar

nietemin tevrede met sy elokusie.

ʼn Grofbenige jongman klap die bakkie se deur toe. “Jaaaa, jammer ou pel maar ʼn job het my

lank besig gehou en my slaaf het hierdie blerrie Covid-19 gekry, so dis net ek,” verduidelik hy

maskerloos. Hy steek sy hand met ʼn grimas uit om te groet en ʼn spasmodiese hoesbui ontsnap deur

sy keel. “Michael. Tee gaan lekker wees.”

Matias frons misnoeg, effe onvas op sy voete. “Jou slaaf, sê jy...” Hy mompel iets

binnensmonds. “Kom. Ek dink die uitloop is hier agter verstop. Seker weer boomwortels. Ek sal jou

gaan wys.” Matias stap voor en die loodgieter volg met lang treë agterna. Hy trap versigtig op die nat

grond, wiebel effens om die tweede hoek van die huis.

“Ek ken oom Dirk baie goed,” vertel Michael, in die luim vir gesels. “Ek het al by oom

Timothy ook gebraai. Hy sê altyd julle is soos een groot familie hierso.” Matias wil uitbars van die lag,

maar bedwing homself. “Ja, een groot gelukkige familie.” Agter die huis beduie hy na ʼn vuilwit
plastiekpyp wat onder die grond verwyn en skreef sy donker oë teen ʼn buitjie reën wat sterker

uitsak.

Michael glimlag wyebek. “Ou maat, kyk, dis kak weer en ek het nie vandag ʼn handlanger nie.

So hier is wat gaan gebeur: jy gaan gou binnetoe gaan en die kraan...”

Uit die bloute peil die steekhaarhond op hulle af en begin verwoed blaf.

Matias swets, raap ʼn paar klippe bymekaar en slinger die eerste rakelings verby die hond se

kop. “Fokkof!” gil hy briesend uit volle bors. Hy trek los met ʼn volgende sarsie en die hond kies die

hasepad. “Fokkof net jou pestilensie!” Hy kom uitasem tot sy sinne, steeds met ʼn klip in die hand.

“Wat sê jy vir my, Michael? Werk ek vir jou? Is ek ook jou slaaf?” ʼn Gevoel van défaitisme oorrompel

Matias, ontman, gekastreer, ʼn eunug; hy wil skielik huil van frustrasie.

Michael glimlag ongemaklik. “Oom Dirk het gesê jy kan ʼn moeilike ou wees.”

“Abbie!”

Samantha het intussen agter die balustrade van haar patio verskyn. “Abbie!” roep sy. Die

hond hardloop vinnig soontoe en spring in haar arms. Sy en Matias gluur mekaar moorddadig aan.

“Screw you,” vorm haar lippe die woorde.

“Jy kan ook maar gaan. Jou ellendeling. Gaan tog net,” sê Matias futloos.

Michael lig sy skouers nonchalant. “Suit yourself, dickhead.”

Matias stap marsiaal na die vyeboom in die hoek van die erf, gly byna en gluur wrokkig na

haar huis van onder die druipnat blare. Die bakkie vertrek. Weerskante van die patio is ʼn erker en in

die middel staan die dubbeldeur wawyd oop. Die bitch ... hy haat haar. Dit reën harder. Hy pluk

hardhandig ʼn paar van die groen vye af en die wit melk vloei taai deur sy vingers. Musiek pomp

meteens oorverdowend deur die opening en weergalm teen die hang af. Klanke wat hy nie ken nie.
Matias klem die harde groen vrugte stywer vas, sy kneukels en wange bleekwit. Tim is nie hier nie,

hy kan ... hy kan...

Niemand sal weet nie...

Nee!

In sy fantasma gooi hy die ruite uit. Vensters breek en versplinter oor die klipvloer, sy asem

jaag. Kortstondig smaak hy die genot van soet, verbeelde wraak. Die eienaar het gesê hul moet hul

vendetta onderling uitsorteer. Matias druk sy rug teen die breë stam en laat die vrugte een vir een

uit sy hand val.

Hoekom voel hy so magteloos? Hy gluur morbied voor hom uit.

Dan beweeg Paul se rysige lyf slu-sku in die tweespoorpaadjie voor hul huis verby na die

voetgangerhekkie aan die anderkant.

Matias skiet soos ʼn pyl uit ʼn boog en hardloop so vinnig hy kan. Hy trap modderspore deur die

voorhuis en terug buite onder die groot boom gryp hy die graaf ‒ vir ingeval. Die draadheining is pap

en hy klim moeiteloos bo-oor, sy verstand skielik glashelder.

Timoteus is verbaas.
Iets moes gebeur het. Matias Lubbe staan hom druipnat anderkant die oop staalhek en

inwag. Hy groet joviaal deur die venster en glimlag nog breër toe Lubbe vra of hy sy nommer by die

Whats-App-groepie sal voeg. “Bien sûr!” roep Tredoux triomfantlik.

Hy verspul nie tyd nie: Welcome to our family, Matias.

Matias wag tot skuins voor sewe voor hy trankiel in die aandwind uitstap en die videogreep waarin ʼn

poedelkaal Paul Samantha orgasmies laat gil op die groepie laai; met die kriptiese boodskappie:

Never screw your family.

(Henning Janse van Vuuren)

You might also like