Download as docx, pdf, or txt
Download as docx, pdf, or txt
You are on page 1of 6

1

Sondag 27 Desember 2020 – Enkele Kersmites die nekslag toegedien


Votum
Seën
My vertrekpunt: Tekste:
1. Daar is net EEN God!
Deuteronomium 6: 4: “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste
Here. 5Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.
Jesaja 43:10-11: Israel, julle is my getuies, sê die Here, en ook my dienaar wat Ek
uitverkies het sodat julle My kan ken en in My kan glo en kan besef dat Ek die Here is.
Voor My was daar geen god nie, en na My sal daar ook nie een wees nie, Ek, Ek is die
Here, buiten My is daar geen redder nie.
Psalm 89: 6-12 Die hemel loof u wondermag, Here, die hemelinge loof u trou. Wie in
die hemel kan met die Here vergelyk word? Wie onder die hemelwesens is soos die
Here? Hy is God, vir Hom het die hemelse vergadering 'n heilige ontsag. Hy is magtig,
gevrees onder almal rondom Hom.
Here, almagtige God, wie is soos U? U krag is groot, Here, u trou is oral!
U heers oor die onstuimige see: as sy golwe opstaan, laat U hulle bedaar.
Aan U behoort die hemel, aan U behoort ook die aarde, die wêreld en alles daarin.
U het alles gemaak.
2. Hy het ALLES gemaak en alles behoort aan Hom!
Deuteronomium 10:14: “Die hemel, selfs die hoogste hemel, behoort aan die Here jou
God, ook die aarde en alles daarop.” 
1 Korintiërs 10:26 “want die aarde met alles wat daarop is, behoort aan die Here.”
Johannes 1:1-3: “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die
Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand
gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.”
3. Alles tot eer van God!
1 Timoteus 4:4-5: Alles wat God gemaak het, is immers goed. Niks wat met
danksegging ontvang word, is verwerplik nie, want dit word deur die woord van God en
deur die gebed geheilig.
1 Korintiërs 10:30-31: “As ek iets met danksegging geniet, waarom word daar van my
kwaadgepraat oor iets waarvoor ek God dank? Of julle eet en of julle drink of wat julle
ook al doen, doen alles tot eer van God.”
So kom ons kom by die verskillende mites en uitbeeldings op Kerskuns
2

Vraag: Redes en Datering van Kersvieringe:


a) Geboortedae nie gevier nie – eerder sterfdae – mens het nie geweet of ‘n lewe
gevier behoort te word of nie voor dit nie gelewe is nie. Die hele gedagte van “sê
niks oor die dooies nie, behalwe iets goeds” berus op die uitgangspunt.
bv. Pred.7:1: Sterfdag is beter as geboortedag;
b) Wederkoms was baie spoedig verwag, nog in die tyd van die apostels, dus was
dit nie nodig om te skryf oor Jesus se geboorte nie - Sy Wederkoms was meer in
die oog.
bv. Johannes 20:20-22 – Petrus se opmerking oor die geliefde dissipel;
1 Tess.4:13vv Oor die lot van die gelowiges wat gesterf het voor die
wederkoms;
c) Valse leerstellings oor die persoon van Jesus het begin om die rondte te doen,
bv. dat Hy nie ten volle mens was nie, die erkenning van sy geboorte was die
beste teenvoeter vir die vals leer:
bv. 1 Joh.4:2-3 Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus
werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig
is. 3En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God
afkomstig is nie.” En
2 John.1:7: 7Daar het baie misleiers te voorskyn gekom in die wêreld. Hulle
erken nie dat Jesus die Christus is wat mens geword het nie. Dit is wat ek met
“die misleier”, “die antichris”, bedoel.
d) Nie alle Christen-leiers was ten gunste van die viering van die geboorte nie;
bv. Origenes (185-254nC) ‘n baie invloedryke gelowige maar van sy werke het tot
baie snaakse idees aanleiding gegee – so is daar sommiges wat meen dat
Origenes geglo het dat die einde sal aanbreek wanneer die duiwel self tot
bekering sou kom1 en daar is legendes wat vertel dat hy homself kastreer het
n.a.v. sy verstaan van Jesus se woorde oor jou hand afkap of oog uitpluk wat jou
laat struikel.
e) Tertullianus (gebore 160nC) was die eerste wat 25 Desember as Jesus se
geboortedatum bereken het en wel as volg: volgens hom is Jesus gekruisig op 25
Maart, die algemene geloof was dat groot profete sterf op dieselfde dag as hulle
konsepsie om so ‘n presies afgeronde lewe te lei. Nege maande na 25 Maart
bring ons by 25 Desember uit. Maar Kersfees was teen die tyd al reeds wyd
gevier deur Christene dwarsdeur die Romeinse Ryk, soms op 25 Maart, 19/20
April of 20 Mei of 17 November is reeds deur verskillende kerke gevier. Die
gewildste dag egter was 6 Januarie in die Oosterse kerke.
f) Wat gebeur in die derde eeu? Die Christendom het so verspreid geraak en
opgang gemaak dat van die Romeinse keisers baie ongemaklik begin raak het.
Godsdiens speel ’n belangrike rol om eenheid te bewerk, ons sien dit vandag
nog. Keiser Lucius Domitius Aurelianus (215-275nC) verklaar dus kort voor sy
1
Patrides CA The Salvation of Satan
3

dood 25 Desember 274 as die amptelike geboortedag van die Romeinse


Songod, waarskynlik as teenvoeter vir die Christelike God. Dit was tradisioneel
die dag waarop die son gedraai het volgens die Romeinse kalender en die Lente
terugkeer na die Noorde. Die Kerk het egter o.g.v. Maleagi 4:2 “Maar vir julle wat
eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale.”
Die dag as verwysend na Christus verstaan. Die OAV het gepraat van “die son
van geregtigheid”. Op die manier is geredeneer dat die Christus die ware
onoorwinlike God (Sol Invictus) is.
g) Onthou sommige kerke het reeds 25 Desember as die geboorte van Jesus
gevier. Die nuwe keisers kon nie die dag afforseer as ‘n feesdag regoor die
Romeinse ryk nie en na Konstantyn se oorwinning en die Christendom wat
staatsgodsdiens word, is die 25ste Desember mettertyd as die aanvaarde dag vir
die geboorte van Christus gebruik alhoewel dit nog baie jare sou vat voor dit deur
die hele kerk aanvaar sou word. In die Oosterse Kerk sou 6 Januarie egter die
amptelike dag in die Oosterse kerk bly terwyl die datum in die Westerse kerk
gevier word as die besoek van die Wyse manne.
SLOTSOM: Die Kerk het nie 25 Desember by die Heidene oorgeneem nie,
historiese getuienis laat dit lyk asof die heidene eerder die datum by die
Christene geleen het.
Vraag: Hoekom is daar altyd verskillende diere, soos ‘n bees en ‘n donkie,
hoenderhen en kuikens, hoenderhaan of mossies in die Kersuitbeeldings?
Die Christene in die eerste wou nooit Kersfees los maak van die beloftes van die OT
oor die Messias of van die Jesus-verhaal soos opgeteken in die Bybel nie. Daarom het
elke figuur of dier in die prente simboliese betekenis.
Die Bees en Donkie het hulle gekry in Jesaja 1:3 “'n Bees ken sy eienaar en 'n donkie
die krip van sy baas, maar Israel ken My nie, my volk het geen begrip van wat Ek doen
nie.” En daarom word die bees en donkie altyd verbind met die Krip en is dit eintlik ’n
bekeringsoproep aan almal wat dit sien om Jesus as Here te erken;
Die skape word natuurlik algemeen verbind met die herders wat Jesus in die stal kom
besoek. Dikwels sal daar een swart skaap wees wat mens dan herinner aan Jesus se
gelykenis oor die verlore skaap.
Die haan verwys natuurlik direk na Petrus wat Jesus verraai (Mat.26:75) en ’n hen met
kuikens na Jesus se woorde op pad na Jerusalem (Mat.23:37): “Jerusalem, Jerusalem,
hoe dikwels wou ek jou kinders bymekaar maak soos ’n hen haar kuikens onder die
vlerke, en julle wou nie!”
Mossies word ook dikwels in Kerskuns gebruik en herinner aan Jesus se woorde dat
ons baie meer werd is as baie mossies (Mat.10:29-31), en duiwe of tortelduiwe is
natuurlik simbool van vrede, maar ook van die goeie boodskap (dink aan Noag en die
4

ark) asook van die offer wat arm mense moes bring (dink aan Jesus se besnydenis in
Lukas 2:21-24)
Vraag: Hoekom word Josef dikwels as baie ouer as Maria uitgebeeld?
Die Bybel vertel vir ons bitter min oor Josef, ons het absoluut geen idee hoe oud hy
was nie. Joodse meisies is gewoonlik in die huwelik uitgegee so tussen 14-16 en daar
is vrouens vir ‘n seuns gekies wanneer die jongman so 19-21 jaar oud was. Jong
meisies is dikwels vir ouer mans as bruide gegee, dit is waar. Die rede was dat baie
vroue gesterf het wanneer hulle geboorte gegee het en ouer mans is dus beskou as
meer stabiel en ‘n beter opsie om vir sy vrou te sorg as jonger mans. Die van julle wat
al Fiddler on the Roof gekyk het sal weet dat die scenario ook in die film afspeel. Liefde
was selde ‘n oorweging vir ‘n huwelik, jy het nie lief geword vir iemand en dan met die
persoon getrou nie, nee, jou ouers het vir jou ‘n lewensmaat gekies en dan het jy maar
eenvoudig lief geword vir die persoon. Dit verklaar steeds nie hoekom is Josef ouer nie,
aangesien jongmense OOK getrou het en die Skrif gee geen aanduiding van Josef se
ouderdom nie. Ons weet dat Josef nog geleef het toe Jesus so ongeveer 12 jaar oud
was (Luk.2:41vv).
Die ouer Josef was die gevolg van die debat oor Maria se maagdelikheid en die leer
dat sy altyd ‘n maagd gebly het. Die Oosterse Kerk het aanvaar dat die broers en
susters van Jesus (Mat.13:55) die kinders van Josef en Maria was maar die Westerse
Kerk het vasgeskop en gesê, nee Maria is vir ewig ‘n Maagd. Hierdie hele debat is in
die 4de eeu gevoer en die Proto-evangelie van Jakobus uit die tyd is een van die
voorbeelde wat ons kry oor die geskrifte wat Maria verering en later in gevalle selfs
Maria aanbidding tot gevolg gehad het. Volgens hierdie Buite-bybelse geskrifte, bekend
as Apokriewe, was Josef ‘n ou man met sy eie kinders by ‘n ander vrou toe hy Maria as
sy vrou geneem het. Volgens die legende in Die Verhaal van Josef die Skrynwerker2
was Josef 110 jaar oud toe hy dood is toe Jesus so ongeveer 23/24 jaar oud was.
Epiphanius maak hom 90 jaar oud met sy dood maar sê nie wanneer nie.
Persoonlik glo ek dat Jesus se broers en susters almal biologies kinders van Maria en
Josef was en Josef ‘n jongman toe hy met Maria getroud is. Dat hy dood is voor Jesus
se openbare optrede op die ouderdom van 303, maak hom so in sy 40’s miskien dalk
vroeë 50’s met sy sterwe wat al bo die gemiddelde ouderdom4 vir hande arbeiders uit
die tyd is.
Vraag: Hoekom is daar DRIE wyse manne (Magi) in die prente.
Die Bybel vertel nie vir ons hoeveel wyse manne gekom het of dat hulle met kamele
gekom het nie. Die Bybel vertel ook vir ons dat hulle Maria en die kind IN DIE HUIS kry
(Mat.2:11), hulle was dus nie by Jesus in die stal nie. Waar kom ons dus aan drie wyse

2
https://www.newadvent.org/cathen/08504a.htm
3
Lukas 3:23
4
Sien o.a. https://www.verywellhealth.com/longevity-throughout-history-2224054
5

manne en kamele? Weer eens, die vroeë Christene het in die OT gaan soek vir ‘n
antwoord en toe kry hulle Jesaja 60:6: “Jou land sal vol kamele wees, jong kamele uit
Midian en Efa. Almal wat uit Skeba kom, bring goud en wierook en verkondig die lof
van die Here.” Midian was natuurlik Abrahams se seun by Ketura en Efa en Skeba sy
kleinseuns (Gen.25:3-4). Die vroeë Christene het dit interpreteer as deel van God se
seën aan Abraham dat ook heidense vorste wat die Messias kom vereer, in die seën
sou deel. Tradisioneel word daar na hulle verwys as Belsassar uit Babilonië, Kaspar uit
Indië en Melchior uit Persië maar sommige Sjinese Christene maak aanspraak daar op
dat een van die drie uit Sjina kom. Een van die wyse manne word gewoonlik as ‘n swart
man uit Afrika aangedui – dis ‘n baie ou tradisie in die kuns.
Sommige tradisies vertel van ‘n vierde wyse man, Artaban, wat weens verskeie redes
nie betyds vir die geboorte kon opdaag nie omdat hy die skatte wat hy vir die Kind wou
vat gebruik het om ander mense se lewens te red. Hy is egter betyds was vir die
kruisiging. Piet Naude vertel ook die verhaal in sy boek “Stories vir die Lewe” maar dan
noem hy hom Propasin – dis altyd vir my ‘n baie emosionele verhaal om te lees.
Die drie geskenke van goud, wierook en mirre is deur Origenes na wie ek netnou
verwys het, gebruik as simbolies: goud vir Jesus se Koningskap, Wierook vir Jesus se
goddelikheid en mirre vir Jesus se menslikheid, en daar word dikwels aanvaar dat die
getal wyse manne berus op die aantal geskenke wat gebring is. Soms word die drie
geskenke ook in verband gebring met die Vader , Seun en Heilige Gees maar dis ‘n
moderner interpretasie.
Vraag: Kan die gee van geskenke op Kersfees regverdig word uit die Bybel?
Persoonlik dink ek dis die maklikste van al die vrae. Die boek Ester vertel van die
herkoms van die Purimfees onder die Jode, dis ‘n fees wat die verlossing wat God
bewerk het deur middel van Ester en Mordegai vier deur lekkernye as gawes aan
mekaar te stuur (Ester 9:19). Seker die dat ek altyd so baie sjokolade kry!
Vraag: Wat van die Kersboom?
Sover ek kon agterkom is Kersbome ‘n baie laat ontwikkeling in die Kersviering – so die
9de tiende eeu eers. Daar word tradisioneel gebruik gemaak van immergroen bome
omdat groen die simbool is van hoop (vergelyk die groen olyftakkie in die bek van die
duif wat terugkeer na Noag se ark toe Gen.8:11). Dit het in Noord Europa ontstaan en
dis moontlik dat dit ook verbind kan word met Winifred, sendeling na die Germaanse
stamme in die 8ste eeu se afkap van ‘n heilige boom waarna hy niks oorkom nie en wat
toe ‘n massa-bekering tot gevolg gehad het. In die geskiedenis wat ek kon naspoor is
die boom dikwels onderstebo opgehang aan ‘n haak aan die dak en is dit beskou as
simbool van die boom van die ewige lewe wat in die Paradys staan en wat ons ook in
Openbaring aantref. Sommige sien ook die krip en die kruis verteenwoordig in die hout.
6

Ek hoop ek het nou meeste van die vrae wat ek gesê het ek sal probeer antwoord,
geantwoord. Miskien nie heeltemal na almal se goedkeuring nie. Weet nie of hier
iemand is wat ‘n vraag het nie?
Ek wil afsluit deur te sê, ek glo in ‘n God wat se liefde vir die mense GEEN grense ken
nie. Wanneer iemand ‘n duiwel of ‘n boosheid in iets wil soek, dan gaan hulle dit daar
kry. Ek is egter oortuig daarvan dat geen bose mag enige, geen, niks, zilts, ek wil
amper die f-woord gebruik wat die swart eerwaarde in sy gebed gebruik het, so sterk
voel ek daaroor dat die Bose geen absolute mag het oor gelowiges nie. Daarom wil ek
afsluit met Romeine 8 se einde:
Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan
teen ons wees? Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons
almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk
nie? Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan
ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood
opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.
Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging,
honger of naaktheid, gevaar of swaard?  Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of
engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte
of enigiets anders, Kan ek byvoeg: Kersliggies, Kersbome, Kersgeskenke? in die
skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus
Jesus ons Here.
Amen

You might also like