Download as pdf or txt
Download as pdf or txt
You are on page 1of 465

Originally published by Multnomah Books, a division of Random House,

Inc. under the title Redeeming Love

Copyright © 1997 by Francine Rivers


All rights reserved

Published by arrangement with Brown & Miller Literary Associates, LLC

Afrikaanse uitgawe
© 2012 Christelike Uitgewersmaatskappy
Posbus 1599, Vereeniging, 1930

Eerste uitgawe 2012

Skrifaanhalings uit die Bybel Nuwe Lewende Vertaling © 2006, 2011


Christelike Uitgewersmaatskappy, tensy anders vermeld

ISBN 978-1-4316-0472-2
e-ISBN 978-1-4316-0661-0

© Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie boek mag gereproduseer
word op enige manier, meganies of elektronies, insluitende laserskyf- of
bandopnames en fotokopiëring, sonder die skriftelike toestemming van die
uitgewer nie, behalwe redelike aanhalings vir navorsings- en
resensiedoeleindes.
Aan elkeen wat seergekry het en honger is.
Jesus het vir hulle gesê:
“Laat die een onder julle wat sondeloos is,
die eerste een wees wat ’n klip na haar gooi.”
~ Johannes 8:7
Inhoudsopgawe
Erkennings
Kind van die duisternis
Proloog
Miskenning
Een
Twee
Drie
Vier
Vyf
Ses
Sewe
Agt
Nege
Tien
Elf
Twaalf
Dertien
Veertien
Vrees
Vyftien
Sestien
Sewentien
Agtien
Negentien
Twintig
Een en twintig
Onderdanigheid
Twee en twintig
Drie en twintig
Vier en twintig
Vyf en twintig
Ses en twintig
Sewe en twintig
Agt en twintig
Nege en twintig
Dertig
Een en dertig
Twee en dertig
Drie en dertig
Vier en dertig
Epiloog
Van die outeur
Besprekingsvrae
Erkennings
Ek wil baie dankie sê vir Karen Ball,
my redakteur, dat sy in hierdie boek geglo het,
en dat sy my gehelp het om dit soveel leesbaarder te maak.
Kind van die duisternis
Proloog

Die prins van die duisternis is ’n ware heer.


Shakespeare

Nieu-Engeland, 1835

Alex Stafford lyk net soos wat Mamma gesê het. Hy is lank en donker en
die mooiste mens wat Sarah nog ooit in haar lewe gesien het. Selfs in sy
stowwerige ryklere, met sy natgeswete hare, is hy soos die prinse in die
stories wat Mamma altyd lees. Sarah se hart klop wild van vreugde en trots.
Nie een van die ander pa’s wat sy al by die kerk gesien het, lyk soos hý nie.
Hy kyk na haar met sy donker oë, en haar hart klop wild van
opgewondenheid. Sy het haar beste blou-en-wit rok aan, en Mamma het
haar hare met pienk en blou linte gevleg. Hou Pappa van wat hy sien?
Mamma het gesê pienk is sy gunsteling kleur, maar hoekom glimlag hy nie?
Was sy dalk te woelig? Mamma het gesê sy moet stil en regop staan en haar
soos ’n dame gedra. Sy het gesê hy sal daarvan hou. Maar hy lyk glad nie
beïndruk nie.
“Is sy nie pragtig nie, Alex?” vra Mamma. Sy klink vreemd ... asof sy
nie genoeg asem kry nie. “Is sy nie die pragtigste klein dogtertjie wat jy nog
ooit gesien het nie?”
Sarah sien hoe haar pa se donker oë frons. Hy lyk glad nie gelukkig nie.
Hy lyk kwaad. Soos Mamma soms wanneer Sarah te veel praat of te veel
vrae vra.
“Net ’n paar minute,” sê Mamma vinnig. Té vinnig. Is sy bang? Hoekom
is sy so bang? “Dis al wat ek vra, Alex. Asseblief. Dit sal baie vir haar
beteken.”
Alex Stafford kyk af na Sarah. Sy mond lyk kwaai en hy bekyk haar stil.
Sarah staan so stil as wat sy kan. Sy het vanoggend lank na haarself in die
spieël gekyk en sy wéét wat hy sien. Sy het haar pa se ken en neus, en haar
ma se blonde hare en ligte vel. Sy het ook haar ma se oë, hoewel hare dalk
selfs nóg blouer is. Sarah wil hê haar pa moet dink sy is mooi, en sy kyk
hoopvol na hom, maar die kyk wat sy kry, sê vir haar hy hou nie van wat hy
sien nie.
“Het jy doelbewus vir haar ’n blou rok aangetrek, Mae?” Pappa se
woorde laat Sarah skrik. Hulle is koud en kwaai. “Omdat dit die kleur van
haar oë beklemtoon?”
Sarah kan nie anders nie; sy kyk na haar ma – en haar moed sak tot in
haar skoene. Die hartseer is duidelik op Mamma se gesig.
Alex kyk in die gang af. “Cleo!”
“Sy’s nie hier nie,” sê Mamma sag terwyl sy haar kop regop hou. “Ek het
vir haar gesê sy hoef nie vandag te kom nie.”
Pappa se oë lyk selfs donkerder. “Het jy? Wel, dit laat jou in ’n moeilike
posisie, nie waar nie?”
Mamma verstyf, byt op haar lip en kyk af na Sarah. Sarah wens sy weet
wat dan nou verkeerd is. Is Pappa nie bly om haar te sien nie? Sy was so
opgewonde om uiteindelik tyd saam met hom deur te bring, al is dit net ’n
klein rukkie.
“Wat moet ek doen?” vra Mamma vir Pappa. Sarah bly eerder doodstil,
maar sy hoop nog steeds ...
“Stuur haar weg, ek is seker sy weet waar om vir Cleo te kry.”
Pienk kolle verskyn op Mamma se wange. “Bedoelende wát, Alex? Dat
ek ander in jou afwesigheid onthaal?”
Sarah se glimlag verdwyn en sy is verward. Hulle praat so kwaai met
mekaar. Hulle kyk nie eers na haar nie. Het hulle vergeet sy’s hier? Wat is
verkeerd? Mamma is verslae. Hoekom is Pappa so kwaad dat Cleo nie hier
is nie?
Sarah byt haar lip en kyk na haar ma en dan na haar pa. Sy stap nader en
trek aan sy jas. “Pappa ... ”
“Moenie dít vir my sê nie.”
Sy knip haar oë, bang en verward oor hoekom hy so optree. Hy ís haar
pappa. Mamma het so gesê. Hy bring dan selfs vir haar geskenke elke keer
wanneer hy kom kuier. Mamma gee dit altyd vir haar. Miskien is hy kwaad
omdat sy nog nooit dankie gesê het nie. “Ek wil graag dankie sê vir al die
geskenke wat ... ”
“Sarah,” sê haar ma vinnig. “Nie nou nie, my skat.”
Pappa kyk kwaad na Mamma. “Laat haar klaar praat. Dis mos wat jy
wou hê, of hoe? Hoekom sê jy nou vir haar om stil te bly, Mae?”
Mamma staan nader en hou Sarah vas. Sarah kan voel hoe haar ma se
hand bewe, maar Pappa glimlag en buk af na haar toe. “Watter geskenke?”
vra hy.
Hy is so aantreklik soos Mamma altyd gesê het. Sy is trots daarop dat hy
háár pa is.
“Jy kan maar vir my sê.”
“Ek hou altyd van die lekkers wat Pappa vir my bring,” sê Sarah, baie
bly dat hy nou aandag aan haar gee. “Dit is baie lekker, maar ek hou die
heel meeste van die kristalswaan.”
Sy glimlag weer en straal van vreugde noudat Pappa so mooi na haar
luister. Hy glimlag selfs, hoewel Sarah nie seker is sy hou van sy glimlag
nie. Dit is klein en styf.
“Regtig?” sê hy en staan op. Hy kyk na Mamma. “Ek is bly my geskenke
beteken vir jou so baie.”
Sarah kyk op na haar pa, baie bly oor sy goedkeuring. “Ek het dit op my
vensterbank gesit. Die son skyn daardeur en laat die kleure teen die muur
dans. Wil Pappa kom kyk?” Sy vat sy hand. Hy pluk dit weg, en sy knip
haar oë seergemaak. Sy verstaan nie.
Mamma byt op haar lip, steek haar hand na Pappa uit, maar trek haar
hand dan vinnig terug. Sy lyk weer bang. Sarah kyk van haar een ouer na
die ander en sukkel om te verstaan. Wat het sy verkeerd gedoen? Is Pappa
nie bly dat sy van sy geskenke hou nie?
“So, jy gee my geskenke vir die kind,” sê hy. “Dit is goed om te weet
wat dit vir jou beteken.”
Sarah byt op haar lip. Pappa se stem is so koud, maar voor sy iets kan sê,
druk Mamma liggies op haar skouer. “Liefie, wees ’n soet dogtertjie en
gaan speel ’n bietjie buite.”
Sarah kyk ongelukkig op. Het sy iets verkeerds gedoen? “Kan ek bly,
asseblief? Ek sal niks sê nie.” Dit lyk of Mamma nie meer weet wat om te
sê nie. Haar oë is nat, en sy kyk na Pappa.
Alex buk af na Sarah. “Ek wil hê jy moet buite gaan speel,” sê hy
saggies. “Ek wil graag alleen met jou ma gesels.” Hy glimlag en raak
liggies aan haar wang.
Sarah glimlag, sy is in die wolke. Pappa het aan haar gevat; hy’s nie
kwaad nie. Hy is lief vir haar! Net soos wat Mamma gesê het. “Kan ek maar
terugkom wanneer julle klaar gepraat het?”
Pappa staan styf op. “Jou ma sal jou kom haal wanneer sy reg is. Gaan
speel nou.”
“Goed, Pappa.” Sarah wil bly, maar sy wil eerder haar pa tevrede stel. Sy
hardloop uit die sitkamer, deur die kombuis na die agterdeur. Sy pluk ’n
paar madeliefies in die tuintjie en hardloop dan na die rose. Sy pluk die
blaartjies een vir een. “Hy het my lief, hy het my nie lief nie, hy het my lief,
hy het my nie lief nie ... ” Sy bly stil toe sy om die hoek kom. Sy wil nie vir
Mamma en Pappa pla nie. Sy wil net naby hulle wees.
Sarah droom gelukkige drome. Miskien sal Pappa haar op sy skouers tel.
Sy wonder of hy met haar op sy groot, swart perd sal gaan ry. Sy sal
natuurlik iets anders moet aantrek. Hy sal nie wil hê haar rok moet vuil
word nie. Sy wens sy kon op sy skoot sit terwyl hy met Mamma praat. Sy
sou dit baie geniet en glad nie ’n oorlas wees nie.
Die sitkamervenster is oop en sy kan stemme hoor. Mamma hou daarvan
dat die sitkamer na rose ruik. Sarah wil na haar ouers sit en luister. Dan sal
sy weet wanneer Pappa wil hê sy moet terugkom. As sy tjoepstil is, sal sy
hulle nie pla nie en hoef Mamma net by die venster uit te leun om haar in te
roep.
“Wat kon ek doen, Alex? Jy het nog nooit eens ’n minuut saam met haar
deurgebring nie. Wat moes ek vir haar sê? Dat haar pappa nie omgee nie?
Dat hy wens sy is nooit gebore nie?”
Sarah se mond gaan oop. Sê dis nie die waarheid nie, Pappa! Sê dis nie
waar nie!
“Ek het daardie swaan vir jóú van Europa af teruggebring en jy mors dit
op ’n kind wat nie eens die waarde daarvan besef nie. Het jy die pêrels ook
vir haar gegee? Wat van die musiekdosie? Sy het dit seker ook gekry!”
Die madeliefies fladder uit Sarah se hand. Sy gaan sit op die grond en
gee nie om vir haar mooi rok nie. Haar hart bedaar na die woeste, gelukkige
klop. Alles binne haar wil inmekaarstort met elke woord wat sy hoor.
“Asseblief, Alex. Ek het nie gedink dis verkeerd nie. Dit het dit makliker
gemaak. Sy het my vanoggend gevra of sy nou oud genoeg is om jou te
ontmoet. Sy vra elke keer wanneer sy weet jy kom. Hoe kon ek wéér vir
haar nee sê? Ek kon dit nie oor my hart kry nie. Sy verstaan nie hoekom jy
haar so afskeep nie, en ek verstaan dit ook nie.”
“Jy weet hoe ek oor haar voel.”
“Hoe kan jy sê hoe jy voel? Jy ken haar nie eens nie. Sy’s ’n pragtige
kind, Alex. Sy’s slim en sjarmant en bang vir niks. Sy aard eintlik so baie
na jou. Sy is iemand, Alex. Jy kan nie vir altyd maak asof sy nie bestaan
nie. Sy’s jou dogter ... ”
“Ek het genoeg kinders by my vrou. Wéttige kinders. Ek het vir jou gesê
ek wil nie nog een hê nie.”
“Hoe kan jy dit sê? Hoe kan jy nie jou eie vlees en bloed liefhê nie?”
“Ek het jou van die begin af gesê hoe ek voel, maar jy wou nie luister
nie. Sy moes nooit gebore gewees het nie, Mae, maar jy wou jou eie kop
volg.”
“Dink jy ek wóú swanger word? Dink jy ek het beplan om haar te hê?”
“Ek het al dikwels daaroor gewonder. Veral toe ek ’n oplossing vir die
probleem gereël het en jy geweier het. Die dokter na wie toe ek jou gestuur
het, sou die hele gemors kon opklaar. Hy sou onslae raak ... ”
“Ek kon dit nie doen nie. Hoe kan jy van my verwag om my ongebore
kind te vermoor? Verstaan jy dan nie? Dit is sonde.”
“Jy gaan te veel kerk toe,” sê hy spottend. “Het jy al ooit gedink dat jy
nie die probleme sou hê wat jy nou het as jy van haar ontslae geraak het
soos ek gesê het nie. Dit sou maklik gewees het, maar jy kon nie daarmee
voortgaan nie.”
“Ek wou haar hê!” sê Mamma hartseer. “Sy was ’n deel van jou, Alex,
en ’n deel van my. Ek wou haar hê selfs al wou jy haar nie ... ”
“Is dit die werklike rede?”
“Jy maak my seer, Alex!”
Sarah deins terug toe iets in stukke val. “Is dit die werklike rede, Mae?
Of het jy haar gehad omdat jy gedink het as jy my kind verwag, sal jy ’n
houvas op my hê wat jy andersins nie kon hê nie?”
“Hoe kan jy so iets dink!” Mamma huil nou. “Jy glo dit, nie waar nie? Jy
is ’n dwaas, Alex. O, wat het ek gedoen? Ek het álles weggegooi vir jou!
My familie, my vriende, my selfrespek, alles waarin ek geglo het, elke
verwagting wat ek ooit gehad het ... ”
“Ek het hierdie huis vir jou gekoop. Ek gee vir jou meer as genoeg geld.”
Mamma se stem styg vreemd. “Weet jy hoe dit vir my voel om in die
straat af te stap in hierdie dorp? Jy kom en gaan soos en wanneer dit jou
pas. En hulle weet wie jy is, en hulle weet wat ek is. Niemand kyk na my
kant toe nie. Niemand praat met my nie. Sarah kom dit ook agter. Sy het my
eenkeer daaroor uitgevra, en ek het vir haar gesê ons is anders as ander
mense. Ek het nie geweet wat anders om te sê nie.” Haar stem breek. “Ek
sal waarskynlik hel toe gaan vir dit wat ek geword het.”
“Ek is moeg vir jou skuldgevoelens en siek daarvan om van daardie kind
te hoor. Sy is besig om alles tussen ons te bederf. Onthou jy hoe gelukkig
ons was? Ons het nooit gestry nie. Ek kon nie wag om na jou toe te kom
nie; om by jou te wees nie.”
“Moenie ... ”
“En hoeveel tyd het ek vandag oor saam met jou? Genoeg? Jy het dit op
haar gemors. Ek het jou gesê wat sal gebeur, nie waar nie? Ek wens sy is
nooit gebore nie!”
Mamma gil ’n verskriklike naam. Daar is ’n slag. Vreesbevange spring
Sarah op en hardloop. Sy hardloop deur Mamma se blomme en oor die
grasperk en met die paadjie op na die tuinhuisie. Sy hardloop tot sy nie
meer kan nie. Sy snak na haar asem, haar longe brand en sy val in die lang
gras neer. Haar skouers ruk soos sy snik, en haar gesig is nat van die trane.
Sy hoor ’n perd na haar kant toe galop. Sy hardloop vinnig na ’n beter
wegkruipplek tussen die wingerde by die spruit. Sy loer versigtig uit en sien
hoe haar pa op sy groot, swart perd verbyry. Sy koes en sit gebukkend, in
trane, en wag dat Mamma haar moet kom haal.
Maar Mamma kom nie, en sy roep haar ook nie. Ná ’n rukkie dwaal
Sarah terug na die tuinhuisie en gaan sit en wag by die rankplante. Teen die
tyd dat Mamma opdaag, het Sarah haar trane afgedroog en haar mooi rok
afgestof. Sy bewe nog steeds van dit wat sy gehoor het.
Mamma is bleek, haar oë dof en rooi aan die kante. Daar is ’n blou merk
aan die kant van haar gesig. Sy het probeer om dit met poeier weg te steek.
Sy glimlag, maar dis nie haar gewone glimlag nie.
“Waar was jy, my skat? Ek het oral na jou gesoek.” Sarah weet dit is nie
waar. Sy was op die uitkyk vir haar. Mamma lek haar kantsakdoek nat en
vee ’n kol van Sarah se wang af. “Jou pa is skielik weggeroep vir
besigheid.”
“Gaan hy terugkom?” Sarah is bang. Sy wil hom nooit weer sien nie. Hy
het Mamma seergemaak en haar laat huil.
“Miskien vir ’n lang tyd nie. Ons sal maar moet wag en sien. Hy’s ’n
baie besige en belangrike man.” Sarah sê niks en haar mamma tel haar op
en gee haar ’n stywe drukkie. “Alles is reg, my poppie. Weet jy wat gaan
ons twee doen? Ons gaan terug huis toe en ander klere aantrek. Dan pak ons
vir ons ’n piekniekmandjie en gaan af na die spruit toe. Sal jy daarvan
hou?”
Sarah knik en gooi haar arms om haar ma se nek. Haar mond bewe, en sy
probeer om nie te huil nie. As sy huil, kan Mamma dalk raai dat sy
afgeluister het, en dan sal sy ook kwaad wees.
Mamma hou haar styf vas en druk haar gesig in Sarah se hare. “Ons sal
hierdeur kom. Jy sal sien, my skat. Ons sal. Ons sál.”

Alex kom nie terug nie, en Mamma word maer en bleek. Sy bly later in die
bed, en wanneer sy opstaan, wil sy nie vir lang ente gaan stap soos
gewoonlik nie. Wanneer sy glimlag, verhelder haar oë nie meer nie. Cleo sê
sy moet meer eet. Cleo sê baie dinge, onverskillig, wanneer Sarah naby
genoeg is om te kan hoor.
“Hy stuur nog steeds vir jou geld, juffrou Mae. Dit beteken darem iets.”
“Die geld beteken niks.” Trane wel in Mamma se oë op. “Dit het nog
nooit iets beteken nie.”
“Dit sou iets beteken het as jy niks gehad het nie.”
Sarah probeer Mamma opbeur deur vir haar groot bosse blomme te
bring. Sy kry mooi klippe, was hulle en gee dit vir haar as geskenke.
Mamma glimlag altyd en sê dankie, maar haar oë bly dof. Sarah sing die
liedjies wat Mamma vir haar geleer het: hartseer Ierse ballades en ’n paar
Latynse kerkgesange.
“Hoekom sing Mamma nie meer nie?” vra Sarah. Sy klim by haar op die
bed en laat haar pop in die deurmekaar beddegoed sit. “Mamma sal beter
voel as Mamma sing.”
Mamma borsel haar lang, blonde hare stadig. “Ek is nie juis lus vir sing
nie, my skat. Ek het op die oomblik te veel dinge om aan te dink.”
Sarah voel ’n swarigheid in haar groei. Dit is alles haar skuld. Alles haar
skuld. As sy nooit gebore was nie, sou Mamma gelukkig gewees het. “Gaan
Alex terugkom, Mamma?”
Mamma kyk na haar, maar Sarah gee nie om nie. Sy sal hom nie meer
Pappa noem nie. Hy het Mamma seer en hartseer gemaak. Vandat hy weg
is, het Mamma min aandag aan haar gegee. Sarah het selfs gehoor hoe
Mamma vir Cleo sê die liefde is nie ’n seën nie, dis ’n vloek.
Sarah kyk na haar ma en haar hart sink. Sy lyk só hartseer. Haar gedagtes
is ver, en Sarah weet sy dink aan hom. Mamma wil hê hy moet terugkom.
Mamma huil snags omdat hy nie kom nie. Mamma druk snags haar gesig in
haar kussing, maar Sarah kan haar steeds hoor snik.
Sy byt haar lip en laat haar kop sak terwyl sy afgetrokke met haar pop
speel. “Wat sal gebeur as ek siek word en doodgaan, Mamma?”
“Jy sal nie siek word nie,” sê Mamma en kyk na haar. Sy glimlag. “Jy is
te jonk en gesond om dood te gaan.”
Sarah hou haar ma dop terwyl sy haar hare borsel. Dit is soos sonstrale
wat oor haar bleek skouers vloei. Mamma is só mooi. Hoe kan Alex haar
nie liefhê nie? “Maar as ek sou doodgaan, Mamma, sou hy dán terugkom en
by Mamma kom bly?”
Mamma raak baie stil. Sy draai om en staar Sarah aan. Die geskokte blik
in haar oë maak Sarah bang. Sy moes dit nie gesê het nie. Nou gaan
Mamma dalk raai dat sy hulle hoor baklei het ...
“Moet dit nooit dink nie, Sarah.”
“Maar ... ”
“Nee! Jy vra nooit weer so ’n vraag nie. Verstaan jy?”
Mamma het nog nooit voorheen haar stem verhef nie. Sarah voel hoe
haar ken bewe. “Goed, Mamma.”
“Nooit weer nie,” sê Mamma sagter. “Belowe my. Niks hiervan het
enigiets met jou te doen nie, Sarah.” Mamma sit haar arms om haar en vryf
haar rug. “Ek het jou lief, Sarah. Ek het jou bitter lief. Ek het jou liewer as
enigiets of enigiemand in die hele wêreld.”
Behalwe hom, dink Sarah. Behalwe Alex Stafford. Wat as hy terugkom?
Wat as hy Mamma laat kies? Wat sal Mamma dan doen?
Sarah klou bang aan haar ma vas en bid dat hy moet wegbly.

’n Jong man kom kuier by Mamma.


Sarah sien hoe haar ma met hom gesels van waar sy naby die kaggel met
haar pop sit en speel. Die enigste mense wat ooit na hul huis toe kom, is
meneer Pennyrod, wat kaggelhout bring, en Bob. Bob hou van Cleo. Hy
werk by die slaghuis en terg Cleo oor gebraaide kruisskywe en sappige
lamsboude. Cleo lag vir hom, maar Sarah dink glad nie hy is snaaks nie. Hy
dra ’n vuil, wit voorskoot vol bloedvlekke.
Die jong man het vir Mamma ’n brief gegee, maar sy maak dit nie oop
nie. Sy gee vir hom tee, en hy bedank haar. Hy sê nie veel daarna nie, praat
net oor die weer en sê hoe mooi Mamma se blomtuin is. Hy sê dis ver van
die stad af. Mamma gee vir hom koekies en het heeltemal van Sarah
vergeet.
Sy weet iets is nie reg nie. Mamma sit te regop en praat baie saggies. “Sy
is ’n pragtige klein dogtertjie,” sê die man en glimlag vir haar. Sarah kyk
skaam af, bang dat Mamma haar uit die vertrek sal stuur omdat hy haar
raakgesien het.
“Ja, sy is. Dankie.”
“Sy lyk soos jy. So mooi soos ’n sonsopkoms.”
Mamma glimlag vir haar. “Sarah, hoekom gaan pluk jy nie blomme vir
die tafel nie?”
Sarah vat haar pop en gaan uit sonder om teë te praat. Sy wil maak soos
Mamma vir haar sê. Sy haal ’n skerp mes uit die kombuislaai en stap na die
blomtuin. Mamma is die liefste vir rose. Sarah pluk ook ridderspoor,
ranonkels, magrietjies en madeliefies, tot die mandjie aan haar arm vol is.
Toe sy weer binne kom, is die jong man weg. Die brief lê oop op
Mamma se skoot. Haar oë is helder en haar wange bloesend. Sy glimlag,
vou die brief op en druk dit in haar mou. Sy staan op, kom na Sarah toe, tel
haar op en swaai haar vrolik in die lug. “Dankie vir die blomme, liefie.” Sy
soen vir Sarah.
Toe haar ma haar neersit, sit Sarah die mandjie blomme op die tafel.
“Ek is nou maar eenmaal lief vir blomme,” sê Mamma. “Is dit nie
pragtig nie? Hoekom rangskik jy hulle nie? Ek moet iets in die kombuis
gaan haal. O, Sarah, dis ’n pragtige, wonderlike dag. Dink jy nie ook so
nie?”
Dis ’n aaklige dag, dink Sarah en kyk haar ma agterna. Sy is siek van
vrees. Sy haal die groot blompot van die tafel af, dra dit buitentoe en gooi
die verlepte blomme op die komposhoop. Sy pomp vars water en gooi dit in
die blompot. Dit spat op haar rok toe sy dit terugdra en weer op die tafel sit.
Sy het nie die stele afgeknip of die blare verwyder nie. Sy gee nie om hoe
dit lyk nie, en sy weet haar ma sal nie eens oplet nie.
Alex Stafford gaan terugkom.
Mamma kom saam met Cleo terug na die sitkamer. “O, liefie, ek het die
wonderlikste nuus. Cleo gaan vir die week see toe en sy wil jou graag saam
met haar vat. Is dit nie wonderlik nie?”
Sarah se hart begin vinnig en hard klop.
“Is dit nie gaaf van haar nie?” gaan Mamma opgewek voort. “Sy het ’n
vriend wat ’n herberg bestuur, en hy hou baie van klein dogtertjies.”
Cleo glimlag styf en koud.
Sarah kyk na haar ma. “Ek wil nie gaan nie, Mamma. Ek wil by Mamma
bly.” Sy weet wat aangaan. Mamma gaan haar wegstuur omdat haar pa haar
nie wil hê nie. Miskien wil Mamma haar ook nie meer hê nie.
“Nonsens,” lag Mamma. “Jy was nog nooit êrens anders as net hier nie
en jy moet ’n bietjie die wêreld sien. Jy sal van die see hou, Sarah. Dis
regtig pragtig. En jy kan op die sand sit en na die branders luister. Jy kan
sandkastele bou en skulpe optel. Wag net tot jy voel hoe die skuim jou tone
kielie.”
Mamma lyk weer asof sy léwe. Sarah weet dis die brief. Alex moes
geskryf het dat hy vir Mamma gaan kom kuier. Sy wil natuurlik nie weer so
’n bohaai hê soos verlede keer nie, so sy sorg dat Sarah uit die pad is. Sy
hou haar ma se stralende gesig dop, en haar hart is swaar.
“Kom nou, liefie. Laat ons jou goedjies regkry om te gaan.”
Sarah kyk hoe haar klere opgevou en in ’n sak gedruk word. Mamma
kan nie wag om van haar ontslae te raak nie. “Waar’s jou pop?” vra Mamma
en kyk rond. “Jy wil haar tog seker saamvat.”
“Nee.”
“Hoekom nie? Jy is dan nooit sonder jou pop nie.”
“Sy wil by die huis bly saam met Mamma.”
Mamma frons, maar sy laat dit daar. Sy verander ook nie van plan nie.
Cleo kom haal vir Sarah, en hulle loop die myl in stad toe. Cleo koop die
kaartjies net toe die koets aangery kom. Die drywer vat hul reissakke, en
Cleo tel vir Sarah in die koets. Sy klim in, gaan sit oorkant Sarah en
glimlag. Haar bruin oë is op en wakker. “Dit gaan ’n avontuur wees, Sarah.”
Sarah wil uit die koets spring en huis toe hardloop na Mamma toe, maar
Mamma sal haar maar net weer terugstuur. Toe die perde wegtrek, hou
Sarah aan die venster vas en kyk uit soos die bekende huise verbyflits. Dit
koets ratel oor die brug en ry op ’n pad met bosse weerskante. Alles wat vir
Sarah bekend is, is gou buite sig, en sy sink terug in die bonsende sitplek.
Hoe verder hulle ry, hoe eensamer voel sy.
“Ons gaan in die Four Winds bly,” sê Cleo, duidelik gelukkig dat Sarah
doodtevrede is om stil te sit. Sy het waarskynlik verwag sy gaan ’n kabaal
opskop. As sy gedink het dit sal haar ma van plan laat verander, sou sy dit
gedoen het. Sy was nog nooit vir langer as ’n paar uur weg van Mamma af
nie. Maar Sarah weet dit sal niks verander nie. Alex Stafford kom kuier;
daarom moet sy gaan. Sy sit stil en haar gesiggie is ernstig.
“Hulle het lekker kos en netjiese kamers,” vertel Cleo. “En ons is naby
die see. Jy kan met ’n graspaadjie afstap na die rotse toe. Die branders
breek teen die rotse. Dis ’n wonderlike geluid, en die reuk van die soutlug is
lekkerder as enigiets wat jy ken.”
Lekkerder as enigiets ...
Sarah hou van hulle huis en die blomtuin agter die kothuis. Sy sit graag
saam met Mamma langs die tuinhuisie, met hul kaal voete in die spruit.
Sy probeer om nie te huil nie en kyk weer by die venster uit. Haar oë
brand en haar keel voel rou van die stofpad. Die ure sleep stadig verby; die
harde gekap van die perdehoewe gee haar hoofpyn. Sy is moeg – so moeg
dat sy skaars haar oë kan oophou, maar elke keer dat sy hulle toemaak, rol
die koets skielik eenkant toe of swaai skerp sodat sy wakker skrik.
Die drywer stop een keer om nuwe perde te kry en klein herstelwerkies
te doen. Cleo vat Sarah na die ruskamer toe. Toe Sarah uitkom, kan sy vir
Cleo nêrens kry nie. Sarah hardloop na die koets, dan na die stalle en
uiteindelik na die pad terwyl sy Cleo se naam roep.
“Moenie so raas nie! Liewe aarde, hoekom gaan jy so te kere?” sê Cleo
en kom haastig na haar toe. “Jy hardloop hier rond soos ’n afkop hoender.”
“Waar wás jy?” vra Sarah, en die trane stroom oor haar wange. “Mamma
het gesê ons moet by mekaar bly!”
Cleo lig haar wenkbroue. “Wel, verskoon my, jong dame, maar ek het vir
my ’n glas bier gaan kry.” Sy gryp Sarah se hand en lei haar terug na die
stasiegebou.
Die stasiemeester se vrou staan in die deur en droog haar hande af. “Wat
’n pragtige klein meisietjie,” sê sy en glimlag vir Sarah. “Is jy honger,
hartjie? Daar is nog tyd vir ’n bordjie herderspastei.”
Sarah kyk af grond toe, skamerig onder die vrou se blik. “Nee, dankie,
mevrou.”
“En goeie maniere ook nog,” sê die vrou.
“Kom saam, Sarah,” sê Cleo en gee haar ’n hupstoot na binne.
Die vrou vryf Sarah liggies op die rug en vat haar na ’n tafel toe. “Jy
moet ’n bietjie vleis aan jou lyf kry, skatlam. Probeer ’n bietjie my
herderspastei. Hulle sê ek is een van die beste kokke op die roete.”
Cleo gaan sit en drink ’n sluk van haar bier. “Jy moet iets eet voor ons
verder gaan.”
“Ek is nie honger nie.”
Cleo leun vorentoe. “Ek gee nie om of jy honger is of nie,” sê sy
dreigend. “Maak soos ek sê. Die drywer sê dis nog ’n halfuur voor ons
vertrek, en dan is dit nog drie of vier uur voor ons by die kus aankom. Ek
wil nie hoor dat jy dan kla jy’s honger nie. Hierdie is jou laaste kans om iets
te eet voor ons by Four Winds kom.”
Sarah kyk met groot oë na Cleo en probeer haar bes om nie te huil nie.
Cleo sug swaar en steek haar hand uit om Sarah se gesig lomp te streel.
“Eet net ietsie, Sarah,” sê sy. Gehoorsaam tel Sarah haar lepel op en begin
eet. Mamma het gesê die uitstappie is vir háár beplan, maar selfs Cleo laat
haar voel asof sy in die pad is. Dit is duidelik dat Mamma haar weggestuur
het om van haar ontslae te raak.
Toe hulle weer in die koets is, is Sarah stil. Sy sit regop langs die venster
en staar na buite, haar klein handjies op haar skoot gevou. Cleo lyk
dankbaar vir die stilte en sluimer uiteindelik in. Toe sy wakker word,
glimlag sy vir Sarah.
“Kan jy die seelug ruik?” vra sy. Sarah sit nog steeds in dieselfde posisie
as toe Cleo aan die slaap geraak het, maar sy weet haar stowwerige gesig
het wit strepe van die trane wat sy nie langer kon inhou nie. Cleo kyk net
hartseer na haar en draai haar kop weg om by die venster uit te kyk.
Net ná sononder kom hulle by Four Winds aan. Sarah klou aan Cleo se
hand vas terwyl die drywer hul reissakke losmaak. Sarah hoor ’n harde
gebrul soos ’n monster en skrik. “Wat is daardie geluid, Cleo?”
“Die see wat teen die rotse slaan. Mooi, nè?”
Vir Sarah is dit die vreesaanjaendste geluid wat sy nog ooit gehoor het.
Die wind huil deur die bome soos ’n ondier op soek na ’n warmbloedige
prooi, en toe die deur na die Four Winds oopgaan, hoor sy harde gelag en
mans wat skree. Sarah beur terug. Sy wil nie daar ingaan nie.
“Oppas nou,” sê Cleo en stoot haar vorentoe. “Vat jou sak. Ek het my eie
om te dra.”
Sarah sleep haar sak na die punt van die deur. Cleo druk die deur met
haar skouer oop en gaan in, met Sarah op haar hakke. Cleo kyk in die
vertrek rond en glimlag. Sarah volg haar blik en sien ’n man by die kroeg
besig om arm te druk teen ’n gespierde matroos. ’n Groot man is besig om
bier te skink, en hy sien Cleo dadelik raak. Hy leun vorentoe, tik aan die
man wat armdruk en knik in Cleo se rigting terwyl hy saggies iets sê. Die
man draai sy kop effens. Die matroos vat sy kans terwyl die ander man se
aandag afgetrek is en druk sy arm met mening op die kroegtoonbank neer
met ’n triomfkreet. Sarah kyk beangs hoe die verloorder opspring en die
matroos op sy regteroog slaan sodat hy op die naat van sy rug op die vloer
te lande kom.
Cleo lag. Dit lyk asof sy vergeet het van Sarah, wat nou agter haar romp
wegkruip. Sarah snik saggies toe die man van die kroeg na Cleo oorstap en
haar ’n stewige soen gee terwyl die ander mans in die kroeg hom
aanmoedig. Toe hy verby Cleo kyk om Sarah aan te gluur, dink sy sy gaan
flou word van vrees. Hy lig sy wenkbroue. “’n Porseleinpoppie? Jy moes ’n
aantreklike kêrel gehad het as ek so na haar kyk.”
Dit vat ’n oomblik voor Cleo haar asem terug het en besef wat hy bedoel.
“O, sý. Nee, Merrick. Sy’s nie myne nie. Sy’s die vrou by wie ek werk se
dogter.”
“Wat doen sy hier saam met jou?”
“Dis ’n lang, hartseer storie wat ek liewer wil vergeet.”
Merrick knik en streel haar wang. “Hoe hou jy van die lewe op die
platteland?” Hy glimlag, maar Sarah dink nie dis ’n gawe glimlag nie.
Cleo skud haar kop. “Dis alles wat ek ooit gehoop het dit sou wees.”
Hy lag en vat haar reissak. “En dis hoekom jy terug is by Four Winds,
hm?” Hy vat Sarah se sak ook en grynslag breed. Hy lag toe sy van hom af
terugdeins asof hy die duiwel self is.
Sarah het nog nooit iemand soos Merrick gesien nie. Hy is baie groot,
met swart hare en ’n geknipte baard. Hy herinner haar aan die
seerowerstories wat Mamma haar vertel het. Sy stem is hard en diep, en hy
kyk na Cleo asof hy haar wil opeet. Dit lyk nie asof Cleo omgee nie. Sy
steur haar glad nie aan Sarah nie en loop deur die vertrek. Sarah loop
agterna, bang Cleo vergeet van haar. Almal staar haar aan.
“Haai, Stompie, gee vir ons Cleo ’n glas bier!” skree Merrick vir die grys
kroegman wat Cleo met ’n knipoog en grinnik verwelkom. Merrick gryp
Sarah om haar middel, tel haar hoog op en sit haar op die kroegtoonbank
neer. “En ’n bietjie verwaterde wyn vir die bleek kind.” Hy voel aan haar
fluweelbaadjie. “Jou mamma moet ryk wees, of wat sê ek?”
“Haar pappa is ryk,” sê Cleo. “En hy is getroud.”
“Ek sien.” Merrick grinnik spottend in Cleo se rigting. “So, dis hoe sake
staan. Ek dog jy het ’n ordentlike werk gesoek.”
“Dit is ordentlik. Niemand sien op my neer nie.”
“Weet hulle jy het vir vyf jaar in ’n kroeg gewerk voor jy besluit het om
jou posisie in die lewe te verbeter?” Sy hand gly teen haar arm af. “Om nie
te praat van ’n bietjie ekstra werk agter die skerms nie ... ”
Cleo kyk vlugtig na Sarah en stoot sy hand weg. “Mae weet. Sy’s nie een
wat op ander neersien nie. Ek hou van haar.”
“Lyk die kleintjie enigsins soos sy?”
“Sy is haar ma se ewebeeld.”
Merrick tik Sarah onder die ken en streel haar wang. “Oë so blou soos
viooltjies en hare soos ’n engel. Jou mamma moet vrééslik mooi wees as sy
naastenby soos jy lyk. Ek sou haar graag wou sien.”
Cleo verstyf, en Sarah kry die gevoel sy’s vies. Sy wens Merrick wil haar
uitlos, maar hy hou aan om haar wang te streel. Sarah wil so ver moontlik
wegkom van hierdie man met die swart baard, donker oë en nare glimlag.
“Los haar uit, Merrick. Sy’s bang genoeg; jy hoef haar nie nog te terg
ook nie. Dis die eerste keer dat sy van haar ma af weg is.”
Hy lag. “Sy lyk nogal effens bleek. Ontspan, kleintjie. Ek sal niks aan
jou doen nie. Drink ietsie.” Hy stoot die beker verwaterde wyn na haar toe.
“Daar’s hy. ’n Slukkie hiervan en jy sal vir niks meer bang wees nie.” Hy
lag weer toe Sarah haar gesig afkeurend trek. “Is sy beter gewoond?”
“Sy’s gewoond aan niks,” sê Cleo, en Sarah is nou seker sy is kwaad.
Cleo hou niks daarvan dat Merrick so baie aandag aan haar gee nie. Sy kyk
na Sarah, duidelik vies oor haar houding teenoor Merrick. “Moenie so ’n
bangbroek wees nie. Hy’s meer blaf as byt.” Ou Stompie en die ander by
die kroegtoonbank lag. Merrick ook.
Sarah is lus om af te spring en weg te hardloop van die luidrugtige
stemme en starende oë af. Sy gee ’n sagte snik van verligting toe Cleo haar
arms uitsteek om haar af te tel, haar hand vat en haar na ’n tafel toe lei. Sy
byt op haar lip toe Merrick hulle volg. Hy trek ’n stoel uit en gaan sit. Elke
keer wanneer die bekers leeg is, bestel hy weer. Hy maak grappies en Cleo
lag baie. Een keer buk hy half onder die tafel in, en Cleo stoot hom weg.
Maar sy glimlag, en sy praat al hoe meer. En haar stem klink snaaks. So
asof die woorde almal inmekaarvloei.
Buite reën dit en die takke skuur teen die venster. Sarah is moeg, haar
ooglede so swaar dat sy hulle skaars kan oophou.
Merrick lig weer sy beker. “Die kleintjie is gedaan.”
Cleo vat aan Sarah se kop. “Vou jou arms op die tafel en slaap ’n
bietjie.” Sarah maak soos sy sê en wens hulle kon loop, maar Cleo is
duidelik nie reg om te gaan nie. Dit lyk asof sy dit geniet. Sy kyk stip na
Merrick en glimlag op ’n manier wat Sarah nog nooit gesien het nie.
“Hoekom moes jy haar Four Winds toe bring?” vra Merrick. Sarah hou
haar oë toe en maak asof sy slaap.
“Omdat haar ma haar elegante pa vermaak en hulle albei haar uit die pad
wou hê,” Cleo se woorde is koud. “Moenie dit doen nie.”
“Moenie?” Hy lag diep. “Jy weet dis waarvoor jy gekom het. Wat is fout
met daardie plaasjapies?”
“Niks. Een wil met my trou.”
“Kom ons gaan boontoe en praat oor hoekom jy teruggekom het.”
“Wat moet ek met haar doen? Ek was só kwaad toe Mae my met haar
opsaal,” sê Cleo.
Die trane brand Sarah se oë en haar keel voel dik. Wil niemand haar dan
meer hê nie?
“Ek reken jy sal maklik van so ’n mooi kleintjie ontslae kan raak.
Iemand sal haar wil hê.”
“Dis wat ek vir Mae gesê het, maar sy sê nee. Sy vertrou my. Die kind is
al wat sy het wanneer haar minnaar nie daar is om huis-huis te speel nie. Al
wat Mae min of meer weet, is hoe om mooi te lyk en blomme te plant.”
“Ek dog jy sê jy hou van haar.”
“Ek hou van haar, maar elke keer as Menéér besluit om te kom kuier, is
dit ek wat met die kind opgeskeep sit. Dis ’n beslommernis om ’n kind oral
met jou saam te sleep, veral as sy nie jou eie is nie.”
Merrick lag sag. “Wel, hoekom gooi ons haar nie in die see nie? Dalk
doen ons haar ma en pa ’n guns. Hulle kan jou dalk selfs ’n bonus gee.”
Sarah se hart klop wild.
“Dis nie snaaks nie, Merrick.” Cleo sug swaar, kwaad. “Ek beter haar
wakker maak en in die bed sit. Sy het ’n lang dag agter die rug.” Sy stamp
aan Sarah, wat verlig opkyk. Cleo vat haar hand. “Kom ons gaan slaap. Sê
vir meneer Merrick nag.”
Hy grinnik. “Laat ek julle veilig boontoe vat, dames.”
Toe Cleo die deur van haar ou kamer oopstoot, hou Merrick dit oop en
kom in. Sarah kyk benoud na Cleo.
“Wat doen jy?” fluister Cleo skerp. “Jy kan nie saam met my hier inkom
nie. Sy sal haar ma vertel, en ek sal my werk verloor.”
“Laat dit aan my oor.” Merrick buk af en knyp Sarah aan die ken. “Sê jy
net enigiets vir iemand oor ek wat in Cleo se kamer is en ek sal jou klein
pienk tongetjie afsny. Verstaan jy?” Sarah glo hom en knik haar kop. Hy
glimlag effens en los haar. Sy skarrel na die hoek en gaan sit bewend op ’n
hopie. Sy voel naar. “Sien?” kraai Merrick vrolik. “Jy het niks om te vrees
nie. Sy sal nie ’n woord oor ons vir iemand sê nie.”
Cleo gaap hom grootoog aan. Sy lyk ontsteld, en Sarah hoop sy gaan
hom vra om te loop. “Dit was baie wreed,” sê sy en kyk na Sarah. “Hy het
dit nie bedoel nie, liefie. Hy het net gespeel. Moenie ’n woord glo wat hy sê
nie.”
“Glo my, my meisie. Ek het glad nie gespeel nie.” Hy gryp Cleo teen
hom vas. “Wreed? Dit sal wreed wees om my uit te gooi as jy weet ek wil
net by jou wees.”
Sy stoot hom weg. Hy gryp weer na haar, en sy ontduik hom. Maar selfs
Sarah kan sien dis ’n halfhartige poging. Hoe kan Cleo hierdie man naby
haar verdra?
“Ek ken jou, Cleo.” Merrick glimlag snedig en sy oë blink. “Hoekom het
jy al die pad teruggekom Four Winds toe? Net om weer die see te sien?”
“Dis net soveel in my bloed soos in joune.”
Merrick kry haar weer in die hande en soen haar. Cleo stoei om uit sy
arms te kom, maar hy hou haar styf vas. Toe sy teen hom ontspan, staan hy
effens terug en sê: “Daar is meer as die see in jou bloed.”
“Merrick, moenie. Sy kyk vir ons ... ”
“Wat maak dit saak?”
Hy soen haar weer, en dié keer sit sy haar teë. Sarah is lam van vrees.
Miskien gaan hy hulle albei doodmaak.
“Nee!” sê Cleo woedend. “Maak dat jy wegkom. Ek kan dit nie doen nie.
Ek is veronderstel om na haar om te sien.”
Hy lag. “Ek het nie geweet jy neem jou pligte só ernstig op nie.” Hy los
haar, maar Sarah kan sien Cleo lyk nie baie bly nie. Dit lyk of sy wil huil.
Merrick glimlag en draai sy rug op Cleo. “Kom, kleintjie.”
“Wat doen jy, Merrick?” vra Cleo dreigend toe Sarah van hom af
wegskarrel.
“Ek vat haar uit. Dit sal haar nie kwaad doen om ’n rukkie in die gang te
sit nie. En moenie nee sê nie. Ek ken jou te goed. In elk geval, sy sal net
buite die deur wees. Niemand sal haar pla nie.” Hy vat ’n kombers en
kussing van die bed af en beduie vir Sarah om te kom. “Moenie dat ek jou
moet kom haal nie.”
Sarah waag dit nie om teë te stribbel nie.
Sy volg Merrick tot in die gang en sien hoe hy die kombers en kussing in
die donker neergooi. Iets groots hardloop in die gang af en kruip in die
donker weg. Sy kyk hom met groot oë aan.
“Sit jy nou net hier en moenie roer nie. As jy nie stilsit nie, sal ek jou kry
en afvat see toe en vir die krappe voer. Verstaan jy?”
Sarah se mond is droog. Sy kan nie ’n woord uitkry nie. Sy knik net.
Cleo kom na die deur toe. “Merrick, ek kan haar nie hier los nie. Ek het
’n rot gesien.”
“Sy’s te klein. Die rotte sal haar nie pla nie. Sy sal veilig wees.” Hy tik
Sarah op die wang. “Jy sal mos? Bly hier tot Cleo jou kom haal. Jy roer nie
van hierdie plek af tot sy jou roep nie.”
“J-ja, meneer,” stamel sy en haar stem steek in haar keel vas.
“Sien jy?” Hy staan op en stoot Cleo terug by die kamer in. Hy maak die
deur hard agter hulle toe.
Sarah hoor hoe Merrick praat en Cleo giggel. Dan hoor sy ook ander
geluide en sy is bang. Sy wil weghardloop van die geluide wat hulle maak,
maar onthou wat Merrick gedreig het om met haar te doen as sy sou roer.
Angsbevange trek sy die vuil kombers oor haar kop en druk haar ore toe.
’n Swaar stilte volg. Sarah loer in die donker gang af. Sy kan voel hoe oë
haar dophou. Wat as die rot terugkom? Haar hart klink soos ’n trom in haar
borskas; klop deur haar hele lyf. Sy hoor ’n sagte gekrap en trek haar bene
styf teen haar lyf op. Sy staar die donkerte in, angsbevange oor wat daar
wegkruip.
Die deur klik oop, en sy skrik. Merrick kom uit. Sy maak haarself klein
en hoop hy sien haar nie raak nie. Dit werk. Hy het vergeet van haar
bestaan. Hy kyk nie eens in haar rigting nie en stap in die gang en met die
trap af. Cleo sal haar nou kom haal. Cleo sal haar uit hierdie donker gang
kom haal.
Minute gaan verby. Dan ’n uur. En nog een.
Cleo kom haar nie haal nie. Styf teen die muur, opgekrul in die kombers,
wag Sarah. Soos sy vir haar ma gewag het die dag toe Alex daar was.

Cleo se kop wil bars toe sy wakker word met die son wat op haar gesig
skyn. Sy het die vorige aand te veel bier gedrink en haar tong voel dik. Sy
steek haar hand uit, maar Merrick is nie daar nie. Dis soos hy is. Sy gaan
haar nie nou daaroor bekommer nie. Hoe kan hy ná laas nag ontken dat hy
haar liefhet? Sy smag na ’n koppie koffie. Sy staan op, was haar gesig en
trek haar klere aan. Sy maak die deur oop en sien die kind in ’n hopie in die
koue gang. Haar blou oë het donker kringe om.
“O tog!” sê Cleo saggies. Sy het skoon van die kind vergeet. Vrees en
skuldgevoelens pak haar beet. Wat as Mae moet weet sy het haar dogter ’n
hele nag lank in ’n koue, donker gang gelos? Sy tel vir Sarah op en dra haar
die kamer binne. Haar handjies is soos ysblokke en sy is spierwit.
“Moenie vir jou ma sê nie,” sê sy tranerig. “Dit sal jou skuld wees as sy
my laat loop.” Sy raak sommer kwaad dat sy in so ’n moeilike situasie
geplaas is met haar werk wat van ’n kind se stilswye afhang. “Hoekom het
jy nie laas nag kom slaap soos jy veronderstel was nie? Merrick het mos
gesê jy moet terugkom wanneer hy loop.”
“Nee, hy het nie. Hy het gesê ek moenie roer totdat jy my kom haal nie,”
fluister Sarah ongelukkig en begin huil omdat Cleo so kwaad is.
“Moenie jok nie! Ek het hom gehoor! Dis glad nie wat hy gesê het nie!”
Sarah huil nou kliphard en lyk verward en verskrik. “Ek is jammer, Cleo.
Ek is jammer. Ek is jammer.” Die dogtertjie se ogies is groot en rooi. “Moet
asseblief nie vir Merrick vertel nie. Moenie dat hy my in die see gooi of vir
die krappe voer soos hy gesê het nie.”
“Sjuut! Hou op huil,” sê Cleo, nou effens kalmer. “Dit help nie om te
huil nie. Het dit jou ma al ooit gehelp?” Vol berou trek sy Sarah nader en
hou haar vas. “Ons sal vir niemand sê nie. Dis ons twee se geheim.”
Merrick kom nie terug Four Winds toe nie, en daardie aand raak Cleo
dronk. Sy het Sarah vroeg in die bed gesit en teruggegaan kroeg toe in die
hoop dat hy later sal kom. Maar hy daag nie op nie. Sy bly nog ’n rukkie,
lag saam met die ander mans en gee voor dat sy nie omgee nie. Sy vat ’n
bottel rum saam met haar kamer toe. Sarah sit regop in die bed, wawyd
wakker, haar oë groot.
Cleo is lus vir gesels. Sy wil Merrick van haar hart afkry. Sy haat hom
omdat hy wéér haar hart gebreek het. Sy het hom al soveel keer toegelaat
om dit te doen. Wanneer sal sy leer om vir hom nee te sê? Hoekom het sy
teruggekom? Sy moes geweet het wat sou gebeur; wat elke keer gebeur.
“Ek gaan jou nou die heilige waarheid vertel, my skattebol. Luister
mooi.” Sy vat ’n groot sluk rum en sluk die trane en hartseer weg terwyl
haar bitterheid en woede kom en gaan. “Mans gebruik ’n mens net. Jy gee
jou hart vir hulle, en hulle ruk dit in stukke.” Sy vat nog ’n sluk en praat
sleeptong. “Nie een van hulle gee om nie. Vat nou maar jou deftige pappa.
Gee hy vir jou ma om? Nee.”
Sarah duik vinnig onder die komberse in en druk haar ore toe.
So, die klein prinses stel nie in die wrede waarheid belang nie? Wel, dis
jammer. Cleo ruk die komberse verwoed van Sarah af. Toe sy wegskarrel,
gryp Cleo haar aan die bene en sleep haar terug. “Sit regop en luister na
my!” Sy trek die kind regop en skud haar. Sarah knyp haar oë styf toe en
draai haar gesig weg. “Kyk na my!” beveel Cleo totdat Sarah gehoorsaam.
Sarah kyk na haar met groot, bang oë. Sy bewe verskriklik erg. Cleo
versag haar greep. “Jou mamma het gesê ek moet mooi na jou kyk,” sê sy.
“Wel, ek gaan mooi na jou kyk. Ek gaan jou die heilige waarheid vertel. Jy
moet luister en jy moet leer.” Sy laat haar los, en Sarah sit doodstil.
Cleo gluur die kind aan, gaan val in die stoel by die venster en vat nog ’n
sluk rum. Sy wys met haar vinger na Sarah en probeer haar bewende hand
stilhou. “Jou dierbare pappa gee vir geen siel om nie; veral nie vir jou nie.
En al waarvoor hy vir jou ma omgee, is oor wat sy bereid is om vir hom te
gee. En sy gee hom alles. Hy daag op wanneer dit hom pas, gebruik haar en
ry dan weg na sy mooi huis in die stad, met sy aristokratiese vrou en
goedopgevoede kinders. En jou ma? Sy lewe vir die volgende keer wat sy
hom gaan sien.”
Sy sien hoe Sarah terugskuif totdat sy styf teen die afgedopte muur
vasgedruk sit. Asof dit haar sal beskerm. Niks kan ’n vrou teen die harde,
ware feite beskerm nie. Cleo lag hartseer en skud haar kop.
“Sy is so ’n liewe, onnosel domkop. Sy wag vir hom en val op haar gesig
om sy voete te soen wanneer hy terugkom. Weet jy hoekom hy so lank
weggebly het? Dis oor jou. Hy kan sy eie saad nie voor sy oë verdra nie.
Jou mamma huil en smeek, en wat het dit haar al in die sak gebring? Die
een of ander tyd gaan hy moeg raak vir haar en haar op die ashoop gooi en
vir jou saam met haar. Dis nou een ding waarvan jy kan seker wees.”
Sarah huil en vee die trane van haar wange af.
“Niemand gee vir iemand om in hierdie wêreld nie,” sê Cleo, wat al hoe
hartseerder voel. “Ons almal gebruik mekaar op die een of ander manier.
Om goed te voel. Om sleg te voel. Om niks te voel nie. Die gelukkiges is
nou eers goed hiermee. Soos Merrick. Soos jou ryk pappa. Die res van ons
vat maar net wat ons kan kry.”
Cleo sukkel nou om helder te dink. Sy wil aanhou praat, maar haar
ooglede is so swaar dat sy dit nie kan oophou nie. Sy sak in haar stoel af en
laat haar ken op haar bors rus.
Al wat sy nodig het, is ’n paar minute se rus. Dis al. Dan sal alles beter
lyk ...

Sarah hou Cleo dop terwyl sy aanhou mompel en dieper in die stoel wegsak
tot sy aan die slaap raak. Sy slaap terwyl die spoeg teen haar pap
mondhoeke afloop.
Sarah sit in die deurmekaar bed. Sy ril en wonder of Cleo reg is. Diep
binne-in sê iets vir haar sy is. As haar pa omgegee het, sou hy haar wou
dood hê? As Mamma omgegee het, sou sy haar weggestuur het?
Die heilige waarheid. Wat is die heilige waarheid?
Die volgende oggend val hulle in die pad. Sarah het die see nie met ’n
oog gesien nie.

Toe hulle by die huis kom, gee Mamma voor dat alles reg is, maar Sarah
weet iets is verskriklik verkeerd. Oral staan bokse, en Mamma is besig om
haar goed in te pak.
“Ons gaan by jou ouma en oupa kuier,” sê Mamma opgewek, maar haar
oë is dof en dood. “Hulle het jou nog nooit gesien nie.” Sy sê vir Cleo sy’s
jammer dat sy haar moet laat gaan, en Cleo sê dis geen probleem nie. Sy het
uiteindelik besluit om met Bob, die slagter, te trou. Mamma sê sy hoop Cleo
sal baie gelukkig wees, en toe is Cleo daar weg.
Sarah word in die middel van die nag wakker. Mamma is nie in die bed
nie, maar Sarah kan haar hoor. Sy volg die geluid van haar ma se gebroke
stem tot in die sitkamer. Die venster is oop, en sy kyk uit. Wat maak
Mamma in die middel van die nag buite?
Die maanlig skyn helder oor die blomtuin, en Sarah sien haar ma op haar
knieë in haar dun, wit nagrok. Sy is besig om al die blomme uit te ruk.
Hande vol op ’n slag pluk sy die plante uit en gooi hulle in alle rigtings
terwyl sy huil en met haarself praat. Sy tel ’n mes op en staan op. Langs
haar geliefde roosbome val sy weer op haar knieë neer. Die een na die ander
sny sy hul wortels af. Elke liewe een.
Sy leun vorentoe en huil hartverskeurend terwyl sy heen en weer wieg,
heen en weer, met die mes nog steeds in haar hand.
Binne gaan sit Sarah op die vloer en kruip in die donkerte van die
sitkamer weg – haar hande beskermend oor haar kop.

Die hele volgende dag ry hulle in ’n koets en slaap daardie nag in ’n


herberg. Mamma praat nie juis nie, en Sarah sit met haar pop styf teen haar
bors vasgedruk. Daar is net een bed in die kamer, en Sarah slaap tevrede in
haar ma se arms. Toe sy die volgende oggend wakker word, sit haar ma by
die venster met die bidkrale deur haar vingers gestrengel terwyl sy bid.
Sarah luister, hoewel sy nie verstaan nie, hoe haar ma dieselfde sinne oor en
oor herhaal.
“Jesus vergewe my. Ek het dit oor myself gebring. Mea culpa, mea culpa
... ”
Hulle ry nog ’n dag lank in ’n ander koets en stop in ’n dorpie. Mamma
is gespanne en bleek. Sy stof vir Sarah af en trek haar hoed reg. Sy vat haar
hand en hulle loop ’n ver ent tot hulle by ’n boomryke straat kom.
By ’n wit heining stop Mamma by die hekkie. “Here, asseblief, laat hulle
my vergewe,” fluister sy. “Asseblief, God.”
Sarah kyk na die huis voor haar. Dit is nie veel groter as hul kothuis nie,
maar dit het ’n lekker stoep en houers vol plante in die vensterbanke. In al
die vensters hang kantgordyne. Sy hou baie daarvan.
Toe hulle by die voordeur kom, haal Mamma diep asem en klop. ’n Vrou
kom na die deur. Sy is klein en grys en het ’n geblomde rok en ’n wit
voorskoot aan. Sy kyk en kyk na Mamma. Haar blou oë skiet vol trane.
“Ag,” sê sy. “Ag, ag ... ”
“Ek het huis toe gekom, Moeder,” sê Mamma. “Laat my asseblief huis
toe kom.”
“Dis nie so maklik nie. Jy wéét dis nie so maklik nie.”
“Ek het nêrens anders waarheen ek kan gaan nie.”
Die vrou kyk na Sarah. “Ek hoef seker nie te vra of dit jou kind is nie,”
sê sy met ’n hartseer glimlag. “Sy is pragtig.”
“Asseblief, Mamma.”
Die vrou maak die deur oop en laat hulle inkom. Sy vat hulle na ’n klein
vertrekkie vol boeke. “Wag hier, dat ek eers met jou pa praat,” sê sy en loop
uit. Mamma stap op en af en vryf haar hande teen mekaar. Sy staan ’n
oomblik stil en maak haar oë toe. Haar lippe beweeg. Die vrou kom terug,
haar gesig bleek en geplooi, haar wange nat. “Nee,” sê sy. Een woord. Dis
al. Nee.
Mamma gee ’n tree na die deur se kant toe, maar die vrou keer haar. “Hy
sal net dinge sê wat jou nóg seerder gaan maak.”
“Seerder? Hoe kan ek nóg seerder kry, Mamma?”
“Mae, asseblief, moenie ... ”
“Ek sal smeek. Ek sal op my knieë gaan. Ek sal vir hom sê hy was reg.
Hy wás reg.”
“Dit sal nie help nie. Hy sê wat hom betref, is sy dogter dood.”
Mae storm verby haar. “Ek is nie dood nie!” Die vrou wys vir Sarah om
in die kamer te bly. Sy loop haastig agter die vrou aan en druk die deur toe
op pad uit. Sarah wag en kan êrens in die huis stemme hoor.
Ná ’n rukkie kom Mamma terug. Haar gesig is bleek, maar sy huil nie
meer nie. “Kom, my skat,” sê sy kortaf. “Ons moet gaan.”
“Mae,” sê die vrou. “Ag, Mae ... ” Sy druk iets in haar hand. “Dis al wat
ek het.”
Mamma sê nie ’n woord nie. ’n Man se stem kom van ’n ander vertrek
af. ’n Kwaai, dringende stem. “Ek moet nou gaan,” sê die vrou. Mamma
knik en draai weg.
Toe hulle aan die eindpunt van die boomryke straat kom, maak Mae haar
hand oop en kyk na die geld wat haar ma daarin gedruk het. Sy gee ’n sagte
gebroke laggie. Sy vat Sarah se hand en stap aan terwyl die trane oor haar
wange loop.

Mamma het haar robynring en pêrels verkoop. Sy en Sarah bly in ’n herberg


tot hul geld op is. Mamma verkoop haar musiekdosie, en vir ’n rukkie bly
hulle heel gerieflik in ’n goedkoop losieshuis. Uiteindelik vra sy Sarah se
kristalswaan terug, en met die geld wat hulle daarvoor kry, bly hulle lank in
’n vervalle hotel tot Mamma uiteindelik ’n gehuggie naby die dokke in New
York kry en hulle daar gaan bly.
Sarah sien uiteindelik die see. Daar dryf rommel in, maar sy hou nogtans
baie daarvan.
Soms stap sy af en gaan sit op die kaai. Sy hou van die soutreuk en die
skepe wat met hul vrag inkom. Sy hou van die klank van die water wat teen
die pilare onder haar spat en die geluide van die seemeeue bokant haar kop.
Daar is rowwe mans by die dokke en matrose wat van oraloor kom.
Party kom kuier, en dan vra Mamma vir Sarah om buite te wag tot hulle
weer weg is. Hulle bly nooit lank nie. Partykeer knyp hulle haar aan die
wang en sê hulle sal terugkom wanneer sy ’n bietjie groter is. Party sê sy is
mooier as Mamma, maar Sarah weet dis nie waar nie.
Sy hou nie van hulle nie. Mamma lag wanneer hulle kom en maak of sy
bly is om hulle te sien. Maar wanneer hulle weer weg is, huil sy en drink
whiskey tot sy op die deurmekaar bed by die venster aan die slaap raak.
Op sewe wonder Sarah of Cleo nie deels reg was omtrent die heilige
waarheid nie.
Toe kom bly oom Rab by hulle, en dinge word ’n bietjie beter. Minder
mans kom kuier, maar hulle kom steeds wanneer oom Rab nie meer geld
het nie. Hy is groot en dom, maar Mamma is liefdevol teenoor hom. Hulle
slaap saam in die bed by die venster, en Sarah slaap op ’n matrassie op die
vloer.
“Hy’s nie vreeslik slim nie,” verduidelik Mamma, “maar hy het ’n goeie
hart, en hy probeer vir ons sorg. Dis moeilike tye, liefie, en soms kry hy dit
nie reg nie. Hy het Mamma se hulp nodig.”
Soms wil hy net buite sit en dronk word en liedjies sing oor vroue.
Wanneer dit reën, gaan hy na die herberg onder in die straat om saam
met sy vriende te kuier. Dan drink Mamma en slaap. Om die tyd om te kry,
tel Sarah blikkies op en was hulle tot hulle soos silwer blink. Sy sit hulle
onder die lekplekke in die dak. Dan sit sy in die stil huisie en luister hoe die
reënwater musiek maak soos dit in die blikkies drup.
Cleo was reg oor huil ook. Om te huil, help niks nie. Mamma huil en
huil tot Sarah haar ore wil toedruk en haar nooit weer wil hoor nie. Mamma
se trane verander niks.
Wanneer die ander kinders vir Sarah spot en haar ma lelike name noem,
kyk sy na hulle en sê niks nie. Wat hulle sê, is waar; sy kan nie daarteen stry
nie. Wanneer sy die trane in haar voel opbou soos ’n groot, harde drukking
in haar – warm, so warm dat sy dink hulle sal haar brand – sluk sy hulle net
dieper en dieper af tot hulle soos ’n harde klip in haar bors sit. Sy leer om
die kinders wat haar terg in die oë te kyk en met ’n koue arrogansie en
minagting vir hulle te glimlag. Sy leer hoe om voor te gee dat niks wat hulle
sê haar kan raak nie. En partykeer oortuig sy haarself dat niks haar raak nie.
Die winter toe Sarah agt is, word Mamma siek. Sy wil nie ’n dokter sien
nie. Sy sê sy het net rus nodig. Maar sy word al sieker en haal al hoe
moeiliker asem. “Kyk mooi na my dogtertjie, Rab,” sê Mamma en glimlag
soos lank gelede.
Die volgende oggend is sy dood. Met die eerste lente-sonstrale op haar
gesig en haar bidkrale in haar wasbleek hande. Rab huil hartverskeurend,
maar Sarah stort nie ’n traan nie. Die swaar gevoel in haar is amper te groot
om te verduur. Toe Rab vir ’n rukkie uitgaan, gaan lê sy langs Mamma en
vou haar arms om haar.
Mamma is koud en styf. Sarah wil haar warm maak. Sarah se oë voel
krapperig en warm. Sy maak hulle toe en prewel oor en oor: “Word wakker,
Mamma. Word wakker. Word asseblief wakker.” Toe sy nie wil nie, kan
Sarah die trane nie keer nie. “Ek wil saam met Mamma gaan. Vat my ook,
God, asseblief. Ek wil saam met my mamma gaan.” Sy huil tot die
moegheid haar oorval en word eers wakker toe Rab haar van die bed af
optel. Daar is ’n paar mans by hom.
Sarah kan sien hulle is van plan om aan Mamma te vat, en sy skree op
hulle om haar uit te los. Rab hou haar styf vas en versmoor haar amper in sy
stinkende hemp terwyl die ander Mamma in ’n laken toedraai. Sarah word
stil toe sy sien wat hulle doen. Rab los haar, en sy gaan sit hard op die vloer
en beweeg nie.
Die mans praat asof sy nie daar is nie. Miskien is sy nie meer nie.
Miskien is sy anders, soos Mamma eenkeer gesê het.
“Ek is seker Mae was op haar dag ’n mooi vrou,” sê een terwyl hy besig
is om die doodskleed oor Mamma se gesig toe te werk.
“Die dood was vir haar ’n verlossing,” sê Rab en begin weer huil. “Ten
minste is sy nou nie ongelukkig nie. Sy’s vry.”
Vry, dink Sarah. Vry van my. As ek nooit gebore was nie, sou Mamma in
’n pragtige kothuis in die platteland gewoon het, omring met blomme.
Mamma sou gelukkig gewees het. Mamma sou bly lewe het.
“Wag ’n bietjie,” sê die een. Hy wikkel die bidkrale uit Mamma se
vingers en laat val dit in Sarah se skoot. “Ek is seker sy sou wou hê jy moet
dit hou, engel.” Hy werk die kleed klaar toe terwyl Sarah die krale deur
haar koue vingers trek en voor haar uit staar.
Hulle is almal daar weg, en Mamma saam met hulle. Sarah sit vir ’n lang
ruk alleen en wonder of Rab sy belofte sal nakom om vir haar te sorg. Toe
dit aand word en hy nie terugkom nie, gaan Sarah af na die dokke en gooi
die bidkrale in ’n vervalle skuitjie. “Wat help dit?” skree sy na die hemel.
Geen antwoord nie.
Sy onthou hoe Mamma eenkeer na die groot kerk gegaan het en met die
man in swart klere gepraat het. Hy het lank gepraat en Mamma het
geluister, met haar kop gebuig en trane wat oor haar wange loop. Mamma
het nooit weer teruggegaan nie, maar soms het sy nog met die krale deur
haar vingers gespeel terwyl die reën teen die venster slaan.
“Wat help dit?!” skree Sarah weer. “Sê my!” ’n Matroos kyk haar snaaks
aan terwyl hy verbystap.
Rab kom eers twee dae later huis toe. Hy is so dronk dat hy haar nie
herken nie. Sy sit kruisbeen met haar rug na die vuur en kyk na hom. Hy is
vol dronkverdriet, en morsige trane rol teen sy bebaarde wange af. Elke
keer dat hy die halfleë bottel aan die nek optel, kyk sy hoe sy adamsappel
op en af wip. Ná ’n rukkie val hy om en begin snork terwyl die res van die
whiskey deur die krake in die vloer wegvloei. Sarah gooi die kombers oor
hom en gaan sit langs hom. “Dis alles reg, Rab. Ek sal nou vir jou sorg.” Sy
kan dit nie so goed soos haar ma doen nie, maar sy sal ’n plan maak.
Die reën slaan teen die ruite. Sy sit haar blikkies uit en sny haar gedagtes
af van alles behalwe die geluid van die druppel wat in die blikkies val en
musiek maak in die koue, somber vertrek.
Sy is bly, maak sy haarself wys. Regtig bly. Niemand sal meer aan die
deur kom klop nie. Niemand sal hulle meer pla nie.
Die volgende oggend is Rab oorweldig deur skuldgevoelens. Hy begin
weer huil. “Ek moet my belofte aan Mae hou, anders sal sy nie in vrede rus
nie.” Hy sit met sy kop in sy hande en kyk met hartseer oë na Sarah. “Wat
gaan ek met jou doen, kind? Ek het ’n dop nodig.” Hy soek in die kaste,
maar daar is niks behalwe ’n blikkie boontjies nie. Hy maak dit oop, eet die
helfte en los die res vir haar. “Ek gaan ’n rukkie uit om oor dinge te dink.
Ek moet met ’n paar vriende gesels. Miskien kan hulle help.”
Sarah gaan lê op die bed, druk Mamma se kussing teen haar gesig en
troos haarself met haar ma se reuk. Sy wag vir Rab om terug te kom. Soos
wat die ure verbygaan, begin sy diep binne-in bewe.
Dit is koud, buite sneeu dit. Sy steek die vuur aan en eet die boontjies.
Bewend trek sy die kombers van die bed af en draai haar daarin toe. Sy
gaan sit so naby moontlik aan die vuurherd.
Die son is besig om te sak, en daar heers ’n doodse stilte. Alles in haar
verflou en sy dink as sy haar oë toemaak en ontspan, kan sy ophou
asemhaal en doodgaan. Sy probeer daarop konsentreer, maar sy hoor ’n man
se opgewonde stem. Dis Rab.
“Jy sal van haar hou. Ek sweer. Sy’s ’n soet kind. Lyk soos Mae. Mooi.
Regtig mooi. En slim.”
Sy is verlig toe hy die deur oopmaak. Hy is nie dronk nie, net effens
besope; sy oë helder en vrolik. Vir die eerste keer in weke glimlag hy. “Nou
sal alles regkom, kind,” sê hy en bring nog ’n man saam met hom by die
huisie in.
Die vreemdeling is soos die dokwerkers op die pier gebou, en sy oë is
hard. Hy kyk na haar en sy deins terug. “Staan op,” sê Rab en help haar op.
“Die meneer het jou kom ontmoet. Hy werk vir ’n man wat ’n dogtertjie wil
aanneem.”
Sarah het geen idee waarvan Rab praat nie, maar sy weet sy hou nie van
die man by hom nie. Hy kom nader en sy probeer agter Rab wegkruip, maar
Rab stoot haar voor hom uit. Die vreemdeling vou sy hande om haar ken,
lig haar gesig en draai dit heen en weer om haar te bekyk. Toe hy haar los,
vat hy ’n hand vol van haar blonde hare en vryf dit tussen sy vingers.
“Mooi,” sê hy en glimlag. “Baie mooi. Hy sal van dié een hou.”
Haar hart klop woes. Sy kyk op na Rab, maar hy dink nie daar is fout
nie.
“Sy lyk soos haar ma,” sê Rab en sy stem breek.
“Sy’s maer en vuil.”
“Ons is arm,” sê Rab treurig.
Die man haal ’n rol note uit sy broeksak, tel twee af en gee dit vir Rab.
“Kry haar skoon en koop vir haar ordentlike klere. En bring haar dan
hierheen.” Hy gee vir hom ’n adres en loop.
Rab is opgewonde. “Dinge begin nou regkom vir jou, kindjie,” sê hy en
grinnik. “Ek het jou ma mos belowe ek sal mooi na jou kyk.” Hy vat haar
aan die hand en loop vinnig met haar na ’n huisie ’n paar blokke
daarvandaan. ’n Vrou in ’n dun kamerjas maak die deur oop. Haar krulhare
val oor haar bleek skouers en sy het kringe onder haar bruin oë.
“Ek het jou hulp nodig, Stella.” Hy verduidelik alles aan haar. Sy frons
en byt op haar onderlip.
“Is jy seker, Rab? Was jy nie net dronk nie? Dit klink net nie reg nie. Het
hy nie sy naam gelos of enigiets nie?”
“Ek het hom nie gevra nie, maar ek weet vir wie hy werk. Radley het my
gesê. Die man wat haar wil aanneem, is skatryk en ’n belangrike man in die
regering.”
“Hoekom soek hy dan in die dokke na ’n dogter?”
“Dit maak tog nie saak nie. Dis haar beste kans, en ek het Mae belowe.”
Sy stem raak weer huilerig.
Stella kyk hartseer na hom. “Moenie huil nie, Rab. Ek sal die kind
mooimaak. Gaan drink ’n dop en kom haal haar later. Sy sal reg wees vir
jou.”
Toe hy weg is, snuffel Stella deur haar klerekas en kom op iets sags en
pienks af. “Ek is nou by jou,” sê sy en vat ’n emmer om water te gaan haal.
Toe sy terugkom, maak sy ’n pot water warm. “Was jou silwerskoon. Geen
man wil ’n vuil dogter hê nie.” Sarah maak soos Stella sê, maar vrees groei
in haar maag.
Stella was haar hare met die res van die water. “Jy het die mooiste hare
wat ek nog gesien het. Dit lyk soos sonskyn. En dan het jy nog twee mooi
blou oë ook.”
Die vrou verstel die pienk oorrok en vleg Sarah se hare met blou linte.
Sarah onthou hoe haar ma dieselfde gedoen het toe hulle in die kothuis
gewoon het. Of het sy dit gedroom? Stella sit pienk verf op Sarah se koue
wange en vryf dit liggies in. “Jy is so bleek. Moenie bang wees nie, hartjie.
Wie sal nou ’n fraai klein engeltjie soos jy seermaak?”
Die volgende dag is Rab terug. Hy is dronk, en daar rinkel geen munte in
sy broeksak nie. Sy oë is groot, sonder uitdrukking en vol verwarde pyn.
“Hallo, kind. Nou ja, dis dan tyd om totsiens te sê.”
Sy klou aan hom vas. “Moet my nie wegstuur nie, Rab. Hou my by jou.
Wees jy my pa.”
“Ja? En wat moet ek met ’n kind doen?” Hy wikkel haar los en kyk af na
haar met ’n hartseer glimlag. “Ek het genoeg probleme.”
“Jy hoef niks te doen nie. Ek kan vir myself sorg. Ek kan vir jou sorg.”
“Hoe gaan jy dit nogal doen? Jy’s nie oud genoeg om enigiets te doen
wat geld kan inbring nie. Gaan jy steel, soos ek? Nee. Trek jy nou maar by
die rykman in en geniet die lewe. Toe, kom nou.”
Hulle loop en loop. Dit raak later donker. Sarah is bang vir die
skaduwees en klou styf aan Rab se hand vas. Hulle loop verby kroeë vol
harde musiek en ’n lawaai en gesing. Hulle loop in strate af vol huise;
groot, deftige huise soos wat sy nog nooit in haar lewe gesien het nie. Die
verligte vensters lyk soos groot, gloeiende oë wat elke beweging van haar
volg. Sy hoort nie hier nie, en hulle weet dit. ’n Bewende Sarah staan styf
teen Rab terwyl hy vir ’n paar mans die stukkie opgefrommelde papier wys
en aanwysings vra.
Sarah se bene pyn, en haar maag grom. Rab staan stil en kyk op na die
groot huis omring deur ander soortgelykes. “Is dit nie ’n pragtige plek nie!”
Hy gaap die huis in verwondering aan.
Geen blomme nie. Klip. Koud. Donker. Sarah is te moeg om om te gee
en gaan sit ongelukkig op die onderste trap. Sy wens sy was terug in die
gehuggie by die dokke met die reuk van die see wat met die gety uitdryf.
“Kom nou, kind. Nog net ’n paar trappe, dan’s jy by die huis,” sê Rab en
trek haar op. Sy staar benoud na die yslike brons leeukop op die deur. Rab
vat die ring wat die leeu in sy ontblote slagtande hou en slaan dit teen die
deur. “Deftig,” sê hy.
’n Man in ’n donker pak maak die deur oop en bekyk Rab uit die hoogte.
Rab wys vir hom die stukkie papier voordat hy die deur in sy gesig kan
toeslaan. Die man kyk daarna en maak dan die deur wyd genoeg oop sodat
hulle kan instap. “Dié kant toe,” sê hy afsydig.
Dis warm binne en dit ruik lekker. Hulle stap ’n groot vertrek binne. Op
die vloer lê ’n pragtige geblomde mat op ’n blink houtvloer. Bo hulle hang
blink ligte. Sarah het nog nooit iets so moois gesien nie. Dis soos dit in die
hemel moet lyk, dink sy verwonderd.
’n Rooikopvrou met donker oë en ’n vol, rooi mond kom hulle tegemoet.
Sy het ’n pragtige swart rok aan met blinkswart krale wat om haar skouers
en groot borste glinster. Sy kyk af na Sarah en frons effens. Haar oë flits na
Rab en kyk dan weer sagter na Sarah. Sy buk en steek haar hand uit. “My
naam is Sally. Wat is joune, liefie?”
Sarah kyk na haar en probeer agter Rab skuil.
“Sy’s skaam,” maak Rab verskoning. “Moet jou nie aan haar steur nie.”
Sally staan op en kyk hardvogtig na hom. “Is jy seker jy weet wat jy doen?”
“Natuurlik. Dis ’n pragtige plek wat julle hier het, mevrou. Ons ou krot
steek maar sleg af hierteen.”
“Met die trap op en dan regs,” sê Sally somber. “Die eerste deur links.
Wag daar.” Sy steek haar hand uit voor Rab twee tree kan gee en keer hom
voor. “Tensy jy jou kop gebruik en my raad volg. Maak dat julle wegkom.
Vat haar huis toe.”
“Hoekom sal ek dit wil doen?”
“Ná vanaand sal jy haar nooit weer sien nie.”
Hy haal sy skouers op. “Sy is in elk geval nie myne nie. Is hy hier? Die
belangrike ou, bedoel ek.”
“Hy sal nou-nou hier wees, en jy sal stilbly as jy enige verstand het.”
Rab pyl op die trap af. Sarah wil by die deur uithardloop, maar hy hou
haar hand styf vas. Sy kyk om en sien dat die vrou in swart haar dophou. Sy
het ’n gepynigde uitdrukking op haar gesig.
Alles in die boonste vertrek is groot: die mahoniekas, die vuurherd, die
houtlessenaar, die koperbed. In die hoek staan ’n wit marmerwastafel en ’n
koperhanddoekrak wat so mooi gepoleer is dat dit lyk soos regte goud. Al
die lampe het juweleklossies, en die gordyne voor die vensters is bloedrooi.
Hulle is dig toegetrek sodat niemand kan in- of uitsien nie.
“Gaan sit daar oorkant, kind, en rus ’n bietjie,” sê Rab. Hy gee haar ’n
klappie op die rug en wys na ’n leunstoel. Dit is presies soos die een waarin
Mamma altyd in die kothuis gesit het. Sarah se hart begin wild klop. Is dit
dalk dieselfde een?
Sê nou maar haar pa was jammer? Sê nou maar hy het die hele tyd na
haar en Mamma gesoek en uitgevind waar sy is en wat gebeur het? Sê nou
maar hy is jammer oor al die nare goed wat hy gesê het en wil haar tog hê?
Haar hart klop al vinniger terwyl hoop en drome wat spruit uit vrees en
wanhoop haar gemoed vul.
Rab loop na ’n tafel naby die venster. “Kyk net hier.” Hy streel liefdevol
met sy vingers oor ’n stel kristalbottels. Hy haal die prop van een af en ruik
aan die vloeistof binne-in. “Goeiste ... ” Met ’n sug lig hy die bottel na sy
lippe en keer dit om. Hy sluk die helfte van die inhoud weg en vee sy mond
met die agterkant van sy mou af. “Dit is die naaste wat ek ooit aan die
hemel sal kom.” Hy haal die prop van nog ’n bottel af en skink ’n bietjie
daarvan in die bottel waaruit hy eerste gedrink het. Hy hou hulle in die lug
op om te sien of hulle weer ewe vol is, sit hulle versigtig neer en sit die
proppe terug.
Hy maak die klerekas oop, snuffel daardeur en steek iets in sy broeksak.
Dan loop hy na die lessenaar, krap daar rond en steek nog goed in sy sakke.
Sarah hoor hom stilletjies lag. Haar ooglede is swaar en sy lê met haar
kop teen die rugleuning. Wanneer kom haar pa dan? Rab loop terug na die
glasbottels en drink van nog twee.
“Geniet jy my brandewyn?” vra ’n diep stem.
Sarah kyk verras op. Sy staar na die man, haar hart in haar skoene. Dis
nie haar pa nie. Dis ’n lang, donker vreemdeling. Sy oë glinster, en Sarah
dink sy het nog nooit so ’n koue óf aantreklike gesig gesien nie. Hy is van
kop tot tone in swart geklee en het ’n blink hoed op.
Rab druk vinnig die prop terug in die kristalkraffie en sit dit terug op die
silwerskinkbord. “Het lanklaas sulke kwaliteit geniet,” sê hy. Sarah sien hoe
hy verbleek toe die man hom met vreemde oë aankyk. Rab maak sy keel
skoon en trap rond. Hy lyk senuweeagtig.
Die man haal sy hoed af en sit dit op die lessenaar neer. Dan trek hy sy
handskoene uit en sit hulle in die hoed.
Sarah is so gefassineer deur die man dat sy nie dadelik die man raaksien
wat reg agter hom staan nie. Sy knip haar oë uit pure verbasing. Dis
dieselfde man wat na die dokke toe gekom het om na haar te kyk. Sy sit
dieper terug in die stoel. Die tweede man hou vir Rab dop, en sy oë herinner
haar aan die rotte in die stegie agter die gehuggie.
Sy kyk na die goed versorgde man en sien dat hy met ’n skewe glimlag
na haar kyk. Maar op die een of ander manier laat daardie glimlag haar nie
beter voel nie. Dit laat haar binnegoed bewe. Hoekom kyk hy so na haar,
asof hy honger is en sy iets is wat hy wil eet?
“Wat is haar naam?” vra hy en hou sy oë op haar.
Rab se mond val oop en hy lyk dronkgeslaan. “Kan self nie sê nie.” Hy
gee ’n ongemaklike, besope laggie.
“Wat het haar ma haar genoem?” vra die man droog.
“Liefie ... maar jy kan haar noem net wat jy wil.”
Die man grinnik humorloos en kyk met minagting na Rab. Hy bestudeer
Sarah noukeurig. Sy is bang, só bang dat sy nie kan roer toe hy na haar toe
loop nie. Hy glimlag weer toe hy stilstaan, en sy oë blink vreemd. Hy haal
’n dik rol note uit sy broeksak en verwyder ’n goue knippie. Hy tel verskeie
note af en hou dit na Rab uit sonder om na hom te kyk.
Rab gryp die geld gulsig en tel dit weer voordat hy dit in sy sak druk.
“Dankie, meneer. Liewe aarde, toe ou Radley my sê dis jy wat ’n dogter
soek, kon ek die kind se geluk nie glo nie. En sy het nie baie daarvan in
haar lewe geken nie, dié kan ek jou verseker.” Hy hou aan babbel en noem
die man se naam twee keer, te dronk en te dom om die verandering op die
man se gesig raak te sien.
Maar Sarah sien dit.
Hy is woedend. Maar dis meer as net woede. Hy lyk ... Sarah sidder
weer. Sy is nie seker hoe hy lyk nie, maar dit kan niks goeds beteken nie. Sy
kyk vlugtig na Rab en voel hoe die paniek in haar opbou. Hy klets
ongesteurd en probeer die man vlei. Hy mis die subtiele teken wat die
belangrike man aan die man agter hom gee. ’n Gil stol in Sarah se keel.
Haar stem is, soos die res van haar, uit pure vrees gevries. Sy kyk in afgryse
hoe Rab aanhou praat. Hy hou nie op nie tot die swart koord om sy nek is.
Sy oë peul uit. Al wurgend krap hy aan sy nek tot die bloed onder sy vuil
vingernaels vloei.
Sarah spring uit haar stoel en hardloop na die deur. Sy draai en trek aan
die knop om te ontsnap, maar die deur wil nie oopgaan nie. Sy hoor hoe
Rab versmoor, met sy voete wat skop en op die vloer trap soos hy spartel.
Sy slaan met haar vuiste teen die hout en skree.
’n Harde hand vou oor haar mond en ruk haar van die deur af weg. Sy
skop en byt en veg; en bereik net mooi niks nie. Die man se liggaam is van
klip. Hy gryp haar arms en hou hulle styf met die een hand vas terwyl sy
ander hand haar mond harder toedruk.
Rab is stil.
“Kry hom hier weg,” sê die man wat haar vashou, en sy sien Rab uit die
hoek van haar oog op die vloer. Die swart lus is nog steeds om sy nek, sy
gesig verwring. Die man wat na die houthuisie gekom het, maak die tou los
en sit dit terug in sy sak. Hy trek Rab regop en gooi hom oor sy skouer.
“Almal sal dink hy’s dronk.”
“Voor jy hom in die rivier gooi, deursoek sy sakke en bring terug wat hy
ook al van my gesteel het,” sê die koue stem bokant haar.
“Goed, meneer.”
Sarah hoor die deur oop- en toegaan.
Toe die man haar los, hardloop sy en gaan sit in ’n bondeltjie in die
verste hoek van die vertrek. Hy staan in die middel van die kamer en bekyk
haar ’n lang ruk. Dan stap hy na die marmertafeltjie en gooi water in die
porseleinbak. Hy draai ’n wit lap droog uit en stap na haar toe. Sy kruip nog
dieper in die hoek in. Hy buk af en gryp haar ken.
“Jy’s veels te mooi vir verf,” sê hy en begin haar gesig skoonvee.
Sy bewe toe hy aan haar vat. Sy kyk na die plek waar Rab gelê het. Die
man lig haar ken op.
“Ek dink nie daardie dronklap was jou pa nie. Jy lyk glad nie soos hy
nie, en ’n mens kan in jou oë sien jy’s slim.” Hy was die rooisel van haar
wange en mond en gooi die lap eenkant. “Kyk vir my, kleintjie.” Hy hou
haar gesig vas sodat sy nie kan wegkyk nie. “Solank jy presies maak soos
ek sê, sal ons goed oor die weg kom.” Hy glimlag effens en streel haar
wang. Sy oë glinster vreemd. “Wat is jou naam?”
Sarah kan nie ’n woord uitkry nie.
Hy vat aan haar hare, haar keel, haar arm. “Dit maak nie saak nie. Ek
dink ek sal jou Angel noem.” Hy staan op en vat haar hand. “Toe, kom nou,
Angel. Ek het ’n paar dinge om vir jou te leer.” Hy tel haar op en sit haar op
die groot bed neer. “Sodra jy jou tong terugkry, kan jy my Duke noem.” Hy
trek sy swart syjas uit. “Wat sommer gou sal wees.” Hy glimlag weer terwyl
hy sy das afhaal en sy hemp stadig begin oopknoop.
Teen die oggend weet Sarah dat Cleo haar die heilige waarheid oor alles
vertel het.
Miskenning
Een

Maar krag alleen, al spruit dit uit die Muses voort,


is soos ’n gevalle engel: ontwortelde bome,
duisternis en wurms en lyksklede en grafte behaag dit;
want dit voed op die klitsgras van die lewe
en die dorings van die lewe;
en dit vergeet die groot doel van poësie,
dat dit ’n vriend sal wees om die sorge te laat verdwyn,
en die gedagtes van die mens op te hef.
Keats

Kalifornië, 1850

Angel stoot die tentflap net oop genoeg sodat sy op die straat kan uitkyk. Sy
bewe in die koue middagluggie wat die reuk van ontnugtering met hom
saamdra.
Pair-a-Dice lê in die hoofertsspleet van Kalifornië. Dis die aakligste plek
wat jy jou kan voorstel: die dorp is ’n krotbuurt gevul met drome oor goud,
dis niks meer as ’n verrotte tentkamp nie bewoon deur uitgeworpenes en
aristokrate, ontworteldes en onteiendes, die eens rykes en nou goddeloses.
Kroeë en dobbelhuise staan langs mekaar in modderstrate waar
sedeloosheid en gierigheid, eensaamheid en illusies van grootsheid hoogty
vier. Pair-a-Dice is ’n aaklige plek. Dit is ’n plek waar wanhoop gebore uit
vrees en die smaak van mislukking boesemvriende is.
Angel glimlag sinies toe sy sien hoe ’n man op een straathoek die
saligheid verkondig en sy broer op ’n ander hoek, hoed in die hand, die
godverlatenes besteel. Oral waar sy kyk, sien sy hoe desperate mense, ver
weg van hul huise en families, ontvlugting soek van die vaevuur
meegebring deur hul eie vervaagde hoop op ’n toekoms.
Hierdie selfde dwase noem haar ’n eksotiese skoonheid en soek
vertroosting waar hulle wéét hulle dit beslis nie sal kry nie: by haar. Hulle
trek lootjies om haar gunste; vier onse goud vooruitbetaalbaar aan Duchess,
eienaar van die Palace, die tentbordeel waar sy bly. Enigeen met genoeg
goud, kan Angel vir ’n halfuur besit. Haar eie piepklein deel word agter slot
en grendel bewaar deur ’n reus genaamd Magowan. Die res – die
ongelukkiges wat dit nie kan bekostig om haar talente uit te toets nie – staan
kniediep in ’n see van modder wat Main Street genoem word, in die hoop
om “die engel” selfs net te sien. En sy bly amper al ’n jaar in hierdie plek
wat vir niks anders as besigheid geskik is nie. Wanneer gaan dit end kry?
Hoe het al haar desperate pogings haar tot hier gebring, tot in hierdie
vieslike plek vol gemors en stukkende drome?
“Dis eers genoeg vir nou,” sê Duchess terwyl sy verskeie mans wegwys.
“Ek weet julle wag al lank, maar Angel is moeg en julle wil haar op haar
beste hê, nie waar nie?” Die mans kla en dreig, smeek en probeer haar
ompraat, maar Duchess weet wanneer Angel nie meer kan nie. “Sy moet
eers rus. Kom vanaand weer. Alle drankies is gratis.”
Verlig dat hulle weg is, laat Angel die tentflap val en gaan lê op die
deurmekaar bed. Sy staar afgetrokke na die seildak. Duchess het vanoggend
aangekondig dat die nuwe gebou amper klaar is en dat die meisies môre kan
trek. Angel kan nie wág om weer vier mure om haar te hê nie. Ten minste
sal die koue nagwind nie meer deur die gate in die verslete seildoek op haar
inwaai nie. Sy het nie besef hoeveel vier mure vir haar beteken toe sy die
oorvaartgeld op ’n klein barkie na Kalifornië betaal het nie. Al waaraan sy
toe kon dink, was om te ontsnap. Al wat sy voor haar kon sien, was haar
kans op vryheid. Sy is gou ontnugter toe sy op die loopbrug kom en besef
sy is een van drie vroue tussen 120 lewenslustige jong mans wat net één
ding in hul kop het: avontuur.
Die twee ervare prostitute het dadelik aan die werk gespring, maar Angel
het in haar kajuit probeer bly. Binne twee weke was dit duidelik dat sy net
een keuse het: word weer ’n prostituut of word verkrag. Wat maak dit in elk
geval saak? Wat ken sy anders? Sy kan netsowel haar sak met goud vul soos
die ander. Miskien, net miskien, kan sy haar vryheid koop wanneer sy eers
genoeg geld het.
Sy het die ruwe seereis oorleef, die aaklige matrooskos, die beknopte
kajuit en gebrek aan waardigheid en ordentlikheid, met die hoop dat sy teen
die tyd dat sy die kus van Kalifornië bereik, genoeg geld sal hê om nuut te
begin. Toe, met die opgewondenheid dat hulle byna gaan vasmeer, tref ’n
finale slag haar.
Die twee ander prostitute oorval haar in haar kajuit. Toe sy weer haar
bewussyn herwin, is hulle aan wal met al haar geld en al haar besittings. Al
wat sy oorgehad het, is die klere aan haar lyf. Nog erger, daar is nie ’n
enkele matroos aan boord wat haar land toe kan roei nie.
Verslae en verward het sy vir twee dae op ’n hopie in die skip se boeg
gesit totdat die fortuinsoekers gekom het. Toe hulle alles gevat het wat hulle
van die verlate skip en van haar wou hê, het hulle haar na die dokke
gebring. Dit het hard gereën, en terwyl hulle gestry en hul buit verdeel het,
het sy net weggestap.
Dae lank het sy rondgedwaal, met haar gesig en hare weggesteek onder
’n vuil kombers wat een van die mans vir haar gegee het. Sy was honger; sy
het koud gekry; en sy het haar aan haar lot oorgegee. Vryheid was ’n
droom. Sy het oorleef deur op Portsmouthplein te werk tot Duchess, ’n vrou
verby haar fleur maar met ’n goeie kop vir besigheid, haar genader en
omgepraat het om na die goudvelde te kom.
“Ek het nog vier meisies: ’n Franse enetjie van Parys, ’n Chinesie wat
Ah Toy aan my verkoop het, en twee meisies wat lyk of hulle van ’n leë
aartappelboot van Ierland af ontsnap het. ’n Bietjie kos sal hulle laat lyf
aansit. Maar jý. Met die eerste oogopslag het ek gedink hiér is nou ’n
meisie wat kan ryk word met die regte bestuur. ’n Meisie met jou skoonheid
kan vir haarself ’n klein fortuin maak daar bo in die goudkampe. Daai jong
mynwerkers sal goud uit die stroom haal en met mekaar baklei om dit in jou
hande te kan sit.”
Hulle het ooreengekom dat Angel tagtig persent van haar inkomste aan
Duchess sal oorbetaal, wat dan sal sorg vir haar persoonlike veiligheid. “En
ek sal toesien dat jy die beste klere, kos en huisvesting het wat daar is.”
Die ironie was vir Angel lagwekkend. Sy het van Duke af gevlug en in
Duchess se hande beland. Dis nou wat ’n mens geluk noem.
Ten spyte van haar oënskynlike welwillendheid is Duchess ’n gierige
tiran. Angel weet sy laat haar omkoop om die lootjies te knoei, terwyl
daardie stofgoud nooit in die meisies se beursies beland nie. Die fooitjies
wat vir goeie diens gelos word, word volgens die oorspronklike
ooreenkoms verdeel. Mai Ling, Ah Toy se Chinese slaaf, het eenkeer haar
goud probeer wegsteek, en Magowan met sy wrede glimlag en hande so
groot soos hamme is gestuur om ’n bietjie met haar “te gesels”.
Angel haat haar lewe. Sy haat vir Duchess. Sy haat vir Magowan. Sy
haat haar eie miserabele hulpeloosheid. En sy haat die mans die meeste van
almal oor hulle onuitblusbare soeke na plesier. Sy gee haar liggaam aan
hulle, maar níks meer nie. Miskien is daar niks meer nie. Sy weet nie. En dit
pla die mans blykbaar glad nie. Al wat hulle sien, is haar skoonheid, ’n
volmaakte sluier om ’n klipharde hart, en hulle is in die wolke. Een kyk in
haar engeloë, en hulle is verlore.
Sy laat haar nie deur hul nimmereindigende liefdesverklarings mislei nie.
Hulle begeer haar op dieselfde manier as wat hulle die goud in die strome
begeer. Hulle begeer haar met wellus. Hulle baklei vir ’n kans om by haar te
wees. Hulle baklei, worstel, dobbel en gryp – en alles wat hulle besit, word
op haar uitgegee sonder om daaroor te dink. Hulle betaal om haar slawe te
word. Sy gee hulle dit wat hulle as die hemel beskou en verdoem hulle tot
die hel.
Wat maak dit saak? Sy het niks oor nie. Sy gee nie om nie. Selfs groter
as die haat wat haar verteer, is die moegheid wat haar siel uitmergel. Op
agtien is sy moeg vir die lewe en het sy aanvaar dat niks ooit sal verander
nie. Sy wonder hoekom sy ooit gebore is. Seker maar hiervoor, dink sy. Vat
dit, of los dit. Die heilige waarheid. En die enigste manier om dit te los, is
om haarself dood te maak. Elke keer dat sy daaraan dink, elke keer as sy die
kans het, begewe haar moed haar.
Haar enigste vriendin is ’n vet ou prostituut met die naam Lucky, wat so
vet geword het oor haar liefde vir drank. Maar selfs Lucky weet niks van
Angel se verlede of hoe sy in hierdie gemors beland het nie. Die ander
prostitute dink sy’s onaantasbaar. Hulle wonder almal oor haar, maar vra
nooit vrae nie. Angel het dit van die begin af duidelik gemaak dat die
verlede heilige grond is waaroor niemand durf loop nie. Behalwe Lucky,
papdronk Lucky, vir wie Angel ’n sagte plekkie het.
In haar vrye tyd gee Lucky haar oor aan drank. “Jy moet planne hê,
Angel. Jy moet hoop hê in hierdie wêreld.”
“Hoop vir wat?”
“Jy kan op géén ander manier oorleef nie.”
“Ek kom heel goed oor die weg.”
“Hoe?”
“Ek kyk nie terug nie, en ek kyk ook nie vorentoe nie.”
“Wat van nóú? Jy moet dink aan nou, Angel.”
Angel glimlag ligweg en borsel haar lang, goue hare. “Nou bestaan nie.”
Twee

Sy stap in skoonheid, soos die nag


van wolklose plekke en sterbelaaide hemelruime:
en die beste deel van die donker en die lig
ontmoet in haar aansien en haar oë.
Byron

Michael Hosea is besig om kratte groente van sy wa af te laai toe hy ’n


pragtige vrou in die straat sien afstap. Sy het swart klere aan, soos ’n
weduwee, en ’n groot, fris man met ’n pistool op sy heup is langs haar. Oral
in Main Street los die mans dit waarmee hulle besig is, haal hul hoede af en
kyk na haar. Sy praat nie ’n woord met enigiemand nie. Sy kyk nie links of
regs nie. Sy beweeg met eenvoudige, vloeiende grasie, haar skouers reguit,
haar kop omhoog.
Michael kan nie sy oë van haar afhou nie. Sy hart klop onbedaarlik soos
wat sy nader kom. Hy probeer haar dwing om na hom te kyk, maar sy kyk
nie na hom nie. Hy laat sy asem uit toe sy by hom verby is, onbewus
daarvan dat hy dit opgehou het.
Hierdie een, geliefde.
Michael voel ’n mengsel van adrenalien en vreugde. Here, Here!
“Pragtig, nè?” sê Joseph Hochschild. Die fris geboude winkelier staan
met ’n sak aartappels op sy skouer en grinnik. “Dis Angel. Die mooiste
meisie wes van die Rockies en heel waarskynlik die mooiste oos van die
Rockies ook.” Hy klim met die trappies op na sy winkel.
Michael laai ’n vaatjie appels op sy skouer. “Wat weet jy van haar af?”
“Niks meer as enigiemand anders nie. Sy gaan graag op lang wandelings.
Dis ’n gewoonte van haar. Omtrent dieselfde tyd elke Maandag-,
Woensdag- en Vrydagmiddag.” Hy wys met sy kop in die rigting van die
mans in die straat. “Hulle kom almal om na haar te kyk.”
“Wie’s die man by haar?” ’n Aaklige gedagte kom by hom op. “Haar
man?”
“Mán?” Hy lag. “Meer soos ’n lyfwag. Sy naam is Magowan. Hy maak
seker dat niemand haar lastig val nie. Niemand raak aan haar tensy hulle hul
geld betaal het nie.”
Michael frons liggies en gaan terug buitentoe. Hy staan agter sy wa en
kyk haar agterna. Sy roer iets diep binne hom. Daar is ’n somber, tragiese
waardigheid omtrent haar. Die winkelier tel nog ’n krat op, en Michael vra
die vraag wat in hom brand. “Hoe kan ek haar ontmoet, Joseph?”
Hochschild glimlag afgetrokke. “Jy sal in die ry moet val. Duchess hou
’n gereelde loting om te bepaal wie vir Angel kan sien.”
“Wie is Duchess?”
“Duchess daar onder.” Hy knik in die teenoorgestelde rigting straataf.
“Die een wat die Palace besit, die grootste bordeel in Pair-a-Dice.”
Michael voel of iemand hom in die maag geskop het. Hy gaap
Hochschild aan, maar die man is onbewus daarvan. Hy dra ’n krat wortels
binnetoe en gooi dit in ’n drom uit. Michael tel nog ’n vaatjie appels op sy
skouer.
Here? Het ek verkeerd verstaan? Ek moes. Dit kan nie dié een wees nie.
“Ek het al ’n slag of wat my goud betaal om my naam in ’n hoed te kry.”
Sê Joseph oor sy skouer. “Dit was voor ek besef het dit verg meer as dít om
net jou naam in die regte hoed te kry.”
Michael sit die vaatjie hard neer. “Sy’s ’n prostituut? ’n Meisie soos sy?”
Hy wil dit nie glo nie.
“Sy’s nie sommer enige prostituut nie, Michael. Angel is spesiaal, as ek
reg verstaan. Spesiale opleiding. Maar ek kan dit nie bekostig om self uit te
vind nie. Wanneer ek ’n behoefte het, gaan sien ek vir Priss. Sy’s skoon,
doen dinge eenvoudig en sy kos nie te veel swaar verdiende goud nie.”
Michael het vars lug nodig. Hy gaan weer buitentoe. Hy kan homself nie
keer nie en loer weer straataf na die skraal meisie in swart. Sy is op pad
terug aan die oorkant van die straat en loop weer reg langs hom verby. Sy
reaksie is dié slag hewiger, moeiliker om te verduur.
Hochschild laai ’n krat rape af. “Jy lyk soos iemand wat pas ’n skop in
die gesig gekry het,” glimlag hy droogweg. “Of dalk is jy al te lank op
daardie plaas van jou.”
“Kom, laat ons regmaak,” sê Michael kortaf en gaan met die laaste krat
binnetoe. Hy moet sy gedagtes by sy besigheid hou en van haar vergeet.
“Jy sal genoeg goud hê om haar te ontmoet sodra ek jou betaal het,” sê
Hochschild. “Méér as genoeg.” Hy maak die krat leeg en sit dit eenkant
neer voordat hy sy skaal op die toonbank tel. “Vars groente is ’n fortuin
werd hier by ons. Hierdie ouens gaan op na die strome en leef van niks
anders nie as meel, water en soutvleis. Dan kom hulle dorp toe met
tandvleis wat bloei en geswelde bene van skeurbuik en dink hulle het ’n
dokter nodig. Maar al wat hulle nodig het, is ordentlike kos en ’n skoot
goeie verstand. Wat het ons hier? Laat ons sien. Twee vaatjies appels, twee
kratte elk van wortels en rape, ses kratte skorsies en twintig pond
wildsvleis.”
Michael sê wat hy vir die wavrag wil hê.
“Wat?! Jy verneuk my.”
Michael glimlag effens. Hy is nie onnosel nie. Hy het die grootste
gedeelte van ’48 en ’49 goud gewas en wéét wat die mans nodig het. Goed,
kos is net ’n deel daarvan, maar dis ’n deel wat hy kan voorsien. “Jy sal
dubbeld soveel maak.”
Hochschild maak die kluis agter die toonbank oop en haal twee sakke
goudstof uit. Hy skuif een oor die toonbank na Michael toe en weeg ’n
gedeelte van die ander sak in ’n leersakkie af. Hy gooi die groter sak terug
in die kluis, skop die deur toe en voel aan die handvatsel om seker te maak
dis toe.
Michael gooi die stof in ’n lyfband wat hy self gemaak het. Hochschild
hou hom dop, sy mond skeef. “Jy het genoeg daar vir ’n lekker tyd. Wil jy
vir Angel ontmoet? Dan moet jy met Duchess gaan gesels en haar jou
goudstof wys. Sy sal jou reguit boontoe stuur.”
Angel. Haar blote naam roer iets in hom. “Nie vandag nie.”
Joseph sien sy kake is styf geklem en knik. Michael Hosea is ’n stil man,
maar daar is niks sags aan hom nie. Daar is iets aan hom wat maak dat die
mans hom met respek behandel. Dis nie net sy lengte of sy liggaamskrag
nie, wat albei indrukwekkend is. Dit is sy reguit blik. Hy is seker van
homself, al het die res van die wêreld nie ’n idee van wie hy werklik is nie.
Joseph hou van hom, en hy kan duidelik sien watter uitwerking Angel op
hom het. Maar as Michael nie daaroor wil praat nie, is dit sy saak. “Wat
gaan jy met al daardie goudstof doen?”
“Ek gaan ’n paar beeste koop.”
“Mooi so,” sê Hochschild goedkeurend. “Teel vinnig met hulle.
Beesvleis is meer werd as groente.”
Op pad uit die dorp uit ry Michael verby die bordeel. Dis ’n groot,
elegante gebou. Die plek wemel van die mans – meestal jonk, party met
baarde en ander gladgeskeer – byna almal dronk of goed op pad soontoe.
Iemand speel op ’n viool en die mans maak vuil woorde op vir elke
deuntjie, elkeen vuiler as die vorige een.
En sy bly hier, dink hy. Bo in een van daardie kamers, met ’n bed en
seker amper niks anders nie. Hy piets die perde met die leisels en ry verby,
’n diep frons op sy voorkop.
Vir die res van die dag kan hy haar nie uit sy gedagtes kry nie, al die pad
terug deur die hoofertsspleet na sy vallei toe. In sy gedagtes bly hy sien hoe
sy in daardie modderige straat opstap, ’n skraal meisie, in swart geklee, met
’n beeldskone, bleek gesig van klip. Waar kom sy vandaan?
“Angel,” sê hy en proe haar naam op sy tong. Net as ’n toets. En hy
wéét, die oomblik toe hy dit sê, dat sy dae van wag verby is.
“Here,” sê hy swaar. “Here, dit is nie presies wat ek in gedagte gehad het
nie.”
Maar hy weet hy gaan in elk geval met daardie meisie trou.
Drie

Ek kan my eie wanhoop verduur,


maar nie ’n ander se hoop nie.
William Walsh

Angel was haar, trek ’n skoon, blou syjapon aan en gaan sit op die bed se
voetenent om op die volgende klop aan die deur te wag. Nog net twee en sy
is klaar vir die aand. Sy hoor hoe Lucky in die kamer langsaan lag. Lucky is
groot pret wanneer sy dronk is, wat die meeste van die tyd is. Die vrou kan
haarself behoorlik in ’n bottel whiskey verloor.
Angel het eenkeer saam met haar probeer drink om te sien of sy ook
haarself kan verloor. Lucky het geskink en sy het probeer byhou. Sommer
gou het haar kop gedraai en haar maag begin ruk. Lucky het die kamerpot
vir haar gebring en simpatiek gelag. Sy het gesê party mense kan hul drank
vat en ander nie, en Angel kan nié. Sy het haar na haar kamer toe gevat en
gesê sy moet slaap.
Daardie aand, toe die eerste man aan haar deur klop, het Angel hom in
allesbehalwe beleefde woorde vertel om sy ry te kry. Hy was briesend en
het sy goudstof by Duchess gaan terugvra. Duchess het na haar kamer
gekom. Angel een kyk gegee en vir Magowan laat roep.
Angel kon Magowan nie verdra nie, maar sy was nie bang vir hom nie.
Hy het haar nog nooit lastig geval nie. Hy was net altyd aan haar sy
wanneer sy gaan stap het. Hy het niks gesê nie. Hy het niks gedoen nie. Hy
het net seker gemaak niemand val haar lastig buite die Palace nie. Sy het
geweet dis nie soseer om háár te beskerm nie, maar vir Duchess.
Mai Ling het nooit gesê wat Magowan gedoen het toe hy na haar kamer
gestuur is nie, maar Angel kon die vrees in die Chinese meisie se oë sien
elke keer wat hy naby was. Hy kon net vir haar glimlag, en sy sou wasbleek
word en in sweet begin uitslaan. Angel het innerlik gegrynslag. Dit sal méér
as woorde kos om haar vir enige man bang te maak.
Daardie aand toe Magowan haar kamer binnekom, was Angel net bewus
van ’n donker figuur wat oor haar troon. “Jy gaan nie waarde vir jou geld
kry nie,” het sy gesê. Sy het haar oë gefokus. “O, dis jy. Los my uit, ek gaan
nie vandag stap nie.”
Hy het beveel dat haar bad vol getap word. Die oomblik toe die twee
bediendes weg is, het hy weer oor haar gebuk en wreed gegrinnik. “Ek het
geweet ek sal die een of ander tyd ’n paar woorde met jou moet hê.” Hy het
haar beetgekry. Nou effens nugterder, het sy gestoei, maar hy het haar
opgetel en in die yskoue bad water gesit. Sy het na haar asem gesnak en
probeer uitspring, maar hy het haar vasgegryp en haar kop onder die water
gedruk. Onder die gewig van sy reuse hand het vrees haar beetgepak en sy
het begin stoei. Toe haar longe begin brand vir lug en sy haar bewussyn
begin verloor, het hy haar kop uit die water gelig. “Genoeg?” het hy
sarkasties gevra.
“Genoeg,” het sy hees gesê en na asem gesnak.
Hy het haar weer onder water gedruk. Sy het vasgeskop en probeer
wegkom. Toe hy haar weer oplig, het sy gestik en begin opgooi. Hy het
gelag en sy kon sien hy geniet elke oomblik. Hy het wydsbeen voor haar
gestaan en weer na haar kop gemik. ’n Ontsettende woede het haar oorval
en haar vuis het met mening uitgeskiet. Hy het op sy knieë neergeval en sy
het vervaard weggestorm.
Hy het haar agternagesit en sy het gegil. Hy het haar weer beetgekry. Sy
het geskop en hom gekrap en gehyg van inspanning. Hy het ’n hand om
haar keel gehad toe die deur oopbars en Duchess instorm. Sy het die deur
agter haar toegeklap en op hulle al twee gegil om op te hou.
Magowan het gehoorsaam, maar het Angel vyandig aangegluur. “Ek
gaan jou doodmaak. Dít belowe ek jou.”
“Dis genoeg!” het Duchess woedend gesê. “Ek kon haar van die trap af
hoor gil. Wat dink jy sal gebeur as die mans dit moes hoor?”
“Hulle sal hom hang,” het Angel gesê, haar bene oormekaar gevou en vir
hom gelag.
Duchess het haar geklap. Angel het geskok teruggeval. “Niks meer van
jou nie, Angel,” het Duchess gewaarsku. Sy het weer na Magowan gekyk.
“Ek het gesê jy moet haar nugter maak, Bret, en ’n woordjie met haar hê.
Dis al wat ek wou hê jy met haar moes doen. Verstaan jy my mooi?” Sy ruk
aan die klokkie se tou.
Die drie het in ’n doodse stilte gewag. Die klap het Angel stilgemaak. Sy
het geweet Duchess se woede lê nog vlak. Een kyk na Magowan, en sy het
ook geweet dat nog ’n uitbarsting van haar sal maak dat hy al sy
selfbeheersing verloor.
Toe iemand versigtig klop, het Duchess die deur net wyd genoeg
oopgemaak om warm koffie en brood te bestel. Sy het die deur weer
toegemaak, deur die kamer gestap en op die regop stoel gaan sit. “Ek het
jou gestuur om iets baie eenvoudigs te doen, Bret. Doen jy net wat ek vir
jou sê en niks meer nie,” het sy gesê. “Angel is reg. Hulle sal jou hang.”
“Sy moet ’n les leer,” het Magowan gesê, sy oë donker op Angel. Al
haar dapperheid het verdwyn. Sy kon duidelik sien dat iets onheilspellends
en wreedaardigs in sy oë skyn. Sy ken daardie kyk. Sy het dit al voorheen
van tyd tot tyd op ’n ander man se gesig gesien. Sy het Bret nog nooit
ernstig opgeneem nie, maar hy was beslis ernstig. Sy het maar te goed
geweet dat vrees die laaste ding is wat sy moet wys. Dit sal hom net meer
bloeddorstig maak totdat selfs Duchess hom nie sal kan keer nie. Daarom
het sy stil en kalm gebly, soos ’n muis in sy gaatjie.
Duchess het haar ’n lang ruk bekyk. “Jy gaan jou nou gedra, reg so,
Angel?”
Angel het stadig regop gesit en met somber, siniese oë na haar gekyk.
“Ja, mevrou.” Sy het gebibber van die koue.
“Gee vir haar ’n laken voor sy verkoue kry.”
Magowan het ’n laken van die bed af gegryp en na haar gegooi. Sy het
die satyn soos ’n koninklike kleed om haar gevou en dit nie gewaag om na
hom te kyk nie. Hulpelose woede en vrees het haar oorval.
“Kom hier, Angel,” het Duchess gesê.
Angel het haar kop gelig en na haar gekyk. Toe sy te stadig na sy sin
reageer, gryp Magowan ’n handvol blonde hare en pluk haar op. Sy het op
haar tande gebyt en geweier om te gil. Dit sou hom net genot verskaf. “As
sy vir jou sê om iets te doen, dan doen jy dit,” het hy gegrom en haar
vorentoe gestoot.
Angel het op haar knieë voor Duchess neergeval.
Die vrou het haar hare gevryf, en die sagtheid ná Magowan se wreedheid
het Angel laat vermurwe. “Wanneer die skinkbord kom, wil ek hê jy moet
al die brood eet en elke druppel koffie drink, Angel. Bret sal hier bly om te
kyk dat jy dit doen. Sodra jy klaar is, sal hy loop. Oor twee uur wil ek jou
gereed hê om te werk.”
Duchess het opgestaan en na die deur gestap. Sy het omgekyk. “Bret, nie
nog ’n merkie aan haar nie. Sy is ons beste meisie.”
“Nie ’n merkie nie,” het hy koud geantwoord.
Hy het sy belofte gehou. Hy het nie aan haar geraak nie, maar hy het
gepraat. En wat hy gesê het, het Angel se bloed laat stol. Sy het die koffie
en brood ingewurg, en geweet hoe gouer sy klaar is, hoe gouer sal hy loop.
“Jy gaan nog myne wees, Angel. Oor ’n week, of oor ’n maand gaan jy
dit te ver voer met Duchess of te veel van haar vra. Dan sal sy jou op ’n
skinkbord vir my gee.”
Ná daardie aand het sy haar gedra, en Magowan het haar uitgelos. Maar
hy wag. Dit weet sy. Sy weier om hom die genoegdoening te gee wat Mai
Ling hom gegee het. Sy glimlag altyd uittartend vir hom wanneer hy na
haar kamer toe kom. Solank sy doen wat van haar verwag word, sal
Duchess gelukkig wees en Bret Magowan niks aan haar kan doen nie.
Maar sy weet nie hoe lank sy nog daarmee sal kan voortgaan nie. Dag na
dag bou die spanning in haar op, en die inspanning om ’n kalm front voor te
hou, begin haar uitput.
Nog net een vanaand, dan kan ek slaap, dink sy. Sy hou haar hande voor
haar en kyk na hulle. Haar hande bewe. Haar hele lyf bewe. Sy wéét sy is
besig om ’n ineenstorting te kry. Sy het vir te lank te veel voorgegee. Sy
skud haar kop. Al wat sy nodig het, is ’n goeie nagrus. Sy sal môre weer
beter voel. Nog net een, dink sy en hoop dit sal vinnig verby wees.
Daar is ’n klop aan die deur en sy staan op om oop te maak. Die man
voor haar is langer en ouer as die meeste, en goed gebou. Behalwe dit, is
daar niks spesiaals omtrent hom nie. Maar sy voel ... wat? ’n Vreemde
ongemaklikheid. Sy bewe nou erger. Haar senuwees is flenters, amper
onbeheers. Sy laat haar kop sak en haal stadig asem terwyl sy die vreemde
reaksie wegdwing met elke bietjie krag wat sy oorhet.
Nog net een, dan is ek klaar vir die aand.
Ondanks sy ses en twintig jaar voel Michael soos ’n groentjie waar hy buite
Angel se oop deur in die flou lanternlig van die bordeel se gang staan. Sy
hart klop so woes hy kan skaars asemhaal. Sy is selfs mooier en kleiner as
wat hy onthou het. Haar skraal lyf is duidelik in die blou satynjapon, en hy
probeer om nie laer as haar skouers te kyk nie.
Sy staan opsy om hom binne te laat. Al wat Michael kan sien, is haar
bed. Dis opgemaak, maar in sy kop vorm ongevraagde prentjies, en hy kyk
senuweeagtig na haar. Sy gee ’n halwe glimlag. Dis ’n wêreldse,
verleidelike glimlag. Sy weet presies wat in sy kop aangaan, al is dit nie wat
hy daar soek nie.
“Hoe kan ek jou plesier gee, meneer?”
Haar stem is diep en sag en verbasend gekultiveerd, maar sy is so reguit
dat dit hom onverhoeds betrap. Niks anders wat sy kon sê, kon hom meer
pynlik bewus maak van wat sy vir ’n lewe doen nie, of van sy verskriklike
fisieke aangetrokkenheid tot haar nie.
Hy stap die kamer binne. Angel maak die deur agter hom toe en leun
daarteen. Sy wag op sy antwoord terwyl sy hom vinnig opsom. Haar
ongemak verflou. Hy is nie veel anders as die ander nie. Net ’n bietjie ouer
as die meeste, en sy skouers is effens breër. Hy is nie meer ’n kind nie, maar
hy lyk ongemaklik; érg ongemaklik. Miskien het hy ’n vrou iewers en voel
hy skuldig. Miskien het hy ’n goeie Christenma en wonder wat sy daarvan
sou dink dat hy ’n prostituut besoek. Dié een sal nie lank bly nie. Fantasties.
Hoe gouer, hoe beter.
Michael weet nie wat om te sê nie. Hy het die hele dag aan niks anders
gedink as om haar te sien nie, en noudat hy hier in haar kamer is, is hy
sprakeloos. Sy hart klop in sy keel. Sy is so pragtig, en sy lyk geamuseerd.
Here, wat nou? Ek kan nie eens verder dink as wat ek vir haar voel nie. Sy
loop na hom toe, en elkeen van haar bewegings maak hom meer bewus van
haar liggaam.
Angel raak aan sy bors en hoor hoe hy sy asem intrek. Sy glimlag en
loop om hom. “Dis nie nodig om skaam te wees voor my nie, meneer. Sê
vir my wat jy wil hê.”
Hy kyk af na haar. “Vir jou.”
“Ek is joune.”
Michael hou haar dop terwyl sy na die wastafeltjie stap. Angel. Die
naam pas by haar voorkoms: ’n vlekkelose, blou-oog porseleinpop met ’n
bleek gelaat en goue hare. Miskien is marmer ’n beter beskrywing.
Porselein kan breek. Sy lyk te hard daarvoor; so hard dat dit hom seermaak
om na haar te kyk. Hoekom? Hy het nie verwag om dit te voel nie. Hy het
hom te veel bekommer oor die drange wat hy gewéét het sy in hom sou
ontketen. God, gee my die krag om haar verleiding te weerstaan.
Sy skink water in ’n porseleinbak en tel ’n stukkie seep op. Alles wat sy
doen, is grasieus en uitlokkend. “Hoekom kom jy nie hier dat ek jou kan
was nie.”
Hy kan voel hoe die hitte oor sy hele lyf spoel en die meeste daarvan in
sy gesig agterbly. Hy hoes en dit voel of sy kraag hom versmoor.
Sy lag saggies. “Ek belowe, dit sal nie seer wees nie.”
“Dit is nie nodig nie, juffrou. Ek is nie hier vir seks nie.”
“Nee, jy is seker hier vir Bybelstudie.”
“Ek het hierheen gekom om met jou te praat.”
Angel kners op haar tande. Sy probeer haar irritasie wegsteek en laat
haar blik vermetel op hom daal. Hy verskuif ongemaklik onder haar blik.
“Is jy séker jy wil gesels?”
“Ek is seker.”
Hy lyk doodseker. Met ’n sug droog sy haar hande af. “Net soos jy wil,
meneer.” Sy gaan sit op die bed en kruis haar bene.
Michael weet wat sy probeer doen. Hy veg teen die skielike begeerte om
gehoor te gee aan die duidelike boodskappe wat sy die hele tyd na hom
uitstuur. Hoe langer hy stilstaan, hoe meer prentjies vorm in sy gedagtes, en
aan die kyk in haar oë weet hy dat sy daarvan bewus is. Spot sy met hom?
Sonder twyfel.
“Bly jy in hierdie kamer wanneer jy nie werk nie?”
“Ja.” Sy hou haar kop skeef. “Waar het jy gedink bly ek? In ’n klein wit
kothuisie iewers aan die einde van ’n straat?” Sy glimlag om die
venynigheid uit haar woorde te haal. Sy haat mans wat vrae vra en dinge
oor haar probeer uitvind.
Michael kyk na haar kamer. Geen persoonlike besittings, geen prente
teen die muur nie, niks op die klein tafeltjie in die hoek met die
kanttafeldoek op nie, geen vroueklere wat rondlê nie. Alles is netjies,
skoon, eenvoudig. ’n Beskeie klerekas. ’n Bedkassie, ’n paraffienlamp, ’n
marmerwastafel met ’n geel porseleinwaterbeker en ’n regop stoel is al
meubels wat sy het. En die bed waarop sy sit.
Hy gaan haal die stoel in die hoek, sit dit voor haar neer en gaan sit. Haar
satynjapon val effens oop. Hy weet sy speel speletjies met hom. Sy swaai
haar voet verveeld, soos ’n pendule, sestig sekondes per minuut, dertig
minute in ’n halfuur. Al tyd wat hy het.
Here, ek het miljoen jaar nodig om tot hierdie vrou deur te dring. Is U
seker dis die een wat U vir my bedoel het?
Haar oë is blou en onpeilbaar. Hy kan niks daarin lees nie. Sy is ’n muur,
’n nimmereindige oseaan, ’n oortrokke naghemel so donker dat hy sy hand
nie voor sy gesig kan sien nie. Hy sien net wat sy wil hê hy moet sien.
“Jy sê jy wil gesels, meneer. So, gesels.”
Michael voel bedruk. “Ek moes nie só na jou toe gekom het nie. Ek
moes ’n ander manier probeer kry het.”
“Is daar ’n ander manier?”
Hoe gaan hy dit ooit tot haar laat deurdring dat hy nie soos die ander
mans is wat na haar toe kom as hy op dieselfde manier as hulle na haar toe
gekom het nie? Goud. Hy het na Joseph geluister en na Duchess toe gegaan.
Toe het hy geluister hoe die vrou vertel Angel is ’n verbruiksartikel – ’n
besondere, waardevolle, goed bewaakte kommoditeit. Betaal eers, dan kan
jy praat. Om te betaal, het na die maklikste en kortste pad gelyk. Hy het nie
omgegee wat die prys is nie. Nou besef hy dat die maklikste pad nie die
beste een was nie.
Hy moes ’n ander manier, ’n ander plek, probeer het. Sy is te gereed om
te werk en glad nie reg om te luister nie. En hy sukkel om sy aandag van
haar lyf af te hou.
“Hou oud is jy?”
Sy glimlag liggies. “Oud. Báie oud.”
Hy kan sien dit is waar. Sy praat nie van jare nie. Hy twyfel of enigiets
haar onkant kan vang. Sy lyk gereed vir enigiets. Tog voel hy iets anders
omtrent haar aan, net soos die eerste keer toe hy haar gesien het. Daar is
nog ’n laag onder die een wat sy nou vir hom wys. Here, hoe kom ek by
daardie laag uit?
“Hoe oud is jy?” vra sy die teenvraag.
“Ses en twintig.”
“Dis oud vir ’n gouddelwer. Die meeste van hulle is agtien of negentien.
Ek het lanklaas ’n ware man gesien.”
Haar gebrek aan subtiliteit laat hom sterker voel. “Waar kom die naam
Angel vandaan? Is dit oor jou voorkoms? Of is dit jou regte naam?”
Haar mond verstyf effens. Haar naam is al wat sy oorhet, en sy het nog
nooit vir enigiemand gesê wat dit is nie. Nie eens vir Duke nie. Die enigste
mens wat haar ooit op haar naam genoem het, was Mamma. En Mamma is
dood.
“Noem my net wat jy wil, meneer. Dit maak geen verskil nie.” Net
omdat hy nie wil hê waarvoor hy betaal het nie, beteken nie sy gaan hom
enigiets anders gee nie.
Hy kyk aandagtig na haar. “Ek dink Mara pas by jou.”
“Iemand wat jy lank gelede geken het?”
“Nee, dit beteken bitter.”
Sy kyk na hom en raak stil. Wat se speletjie is dit? “Is dit wat jy dink?”
Sy trek haar een skouer lui op. “Wel, Mara is seker net so ’n goeie naam
soos enige ander.” Sy begin weer haar voet heen en weer swaai en tel die
tyd af. Hoe lank is hy al hier? Hoe lank moet sy nog hier met hom sit?
Hy hou aan. “Waar kom jy vandaan?”
“Sommer van hier en daar.”
Hy glimlag effens oor haar beleefde en volgehoue swygsaamheid.
“Enige spesifieke hier en daar?”
“Sommer net hier en daar,” sê sy. Haar voet hou op swaai en sy leun
vorentoe.
“Wat van jou, meneer? Wat is jou naam? Kom jý van ’n
noemenswaardige plek af? Het jy ’n vrou iewers? Is jy te bang om te doen
wat jy regtig wil doen?”
Sy bestook hom nou met vrae, maar in plaas daarvan dat dit hom
ontsenu, voel hy hoe hy ontspan. Hy sien meer kans vir hierdie meisie as
die een wat hom by die deur gegroet het. “Michael Hosea,” sê hy. “Ek woon
in ’n vallei suidwes van hier. Ek is nie getroud nie, maar sal een van die dae
wees.”
Sy frons ongemaklik. Dis die manier waarop hy na haar kyk. Die
skerpheid ontsenu haar. “Wat se soort naam is Hosea?”
Hy glimlag skeef. “Profeties.”
Is hy besig om met haar te spot? “Gaan jy my toekoms voorspel?”
“Jy gaan met my trou, en ek gaan jou hier wegvat.”
Sy lag. “My derde huweliksaanbod vandag. Ek voel só gevlei.” Sy skud
haar kop en leun weer vorentoe, haar glimlag koud en sinies. Dink hy dis ’n
nuwe aanslag? Dink hy dis nodig? “Wanneer wil jy hê moet ek my rol begin
speel, meneer?”
“Nadat die ring aan jou vinger is. Ek wil jou eers ’n bietjie beter leer
ken.”
Sy haat hom omdat hy die speletjie uitrek. Die tydmors, die
skynheiligheid, die spul leuens. Dit was ’n lang aand, en sy is nie lus
hiervoor nie. “Wat kan ek sê? Wat ek doen, is wat ek is. Dit beteken dat jy
my vertel hoe jy wil hê ek moet wees. Maar jy beter vinnig maak, jou tyd is
amper om.”
Michael kan sien hy het ’n behoorlike gemors van hierdie eerste
ontmoeting gemaak. Wat het hy verwag? Om hier in te stap, reguit te praat
en met haar aan sy arm hier uit te loop? Sy lyk asof sy lus het om hom uit te
skop. Hy is kwaad vir homself dat hy so ’n naïewe dwaas is. “Jy praat nie
van liefde nie, Mara, en ek het nie hierheen gekom om jou te gebruik nie.”
Die rustige diepsinnigheid van sy woorde en daardie naam – Mara –
maak haar nog meer woedend. “Nie?” Sy lig haar ken. “Ek dink ek
verstaan.” Sy staan op. Hy sit steeds, en sy gaan staan langs hom en trek
haar sagte hande deur sy hare. Sy kan sy spanning aanvoel en geniet dit.
“Kom ek raai, jy wil my leer ken. Jy wil weet hoe ek dink en wat ek
voel. En bo alles wil jy weet hoe ’n ordentlike meisie soos ek in ’n
besigheid soos dié beland het.”
Michael sluit sy oë en kners op sy tande. Hy probeer met alles in hom
om die effek wat haar aanraking op hom het te ignoreer.
“Doen dit wat in jou gedagtes is, meneer.”
Michael stoot haar beslis van hom weg. “Ek het gekom om met jou te
praat.”
Sy bekyk hom deur skrefiesoë, ruk haar japon toe en knoop die
satynbande vas. Sy voel steeds kaal onder sy blik. “Jy is by die verkeerde
meisie. Wil jy weet wat jy kan kry? Ek sal jou vertel.” En sy doen dit
sonder skaamte. Hierdie keer bloos hy nie. Hy reageer nie eens nie.
“Ek wil jou leer ken, nie wat jy kan doen nie,” sê hy.
“As jy geselskap soek, gaan kroeg toe.”
Hy staan op. “Kom saam met my en word my vrou.”
Sy lag lelik. “As jy ’n vrou soek, kry een oor die pos of wag vir die
volgende wa wat die berge oorsteek.”
Hy stap na haar toe. “Ek kan vir jou ’n goeie lewe gee. Ek gee nie om
hoe jy hier beland het of waar jy voorheen was nie. Kom net saam met my.”
Sy glimlag leedvermakerig. “Vir wat? Meer van dieselfde? Kyk, ek het
dieselfde storie al van honderde ander mans gehoor. Jy het my gesien en op
my verlief geraak en nou kan jy nie sonder my lewe nie. Jy kan my ’n
wonderlike lewe bied. Wat ’n grap.”
“Ek kan.”
“Dit kom alles op dieselfde ding neer.”
“Nee, dis nie waar nie.”
“Uit my oogpunt wel. ’n Halfuur is meer as genoeg tyd vir enigiemand
om my te besit, meneer.”
“Wil jy vir my sê dat dít die tipe lewe is wat jy begeer?”
“Wat het begeer met enigiets te doen? Hierdie ís my lewe.”
“Dit hoef nie te wees nie. As jy kon kies, wat sou jy wou hê?”
“Van jou? Niks nie.”
“Van die lewe.”
’n Leegheid oorval haar. Die lewe? Waarvan praat die man? Sy voel
moeg van al sy vrae en verdedig haarself met ’n afsydige, kil glimlag. Sy
wys met haar hande na haar eenvoudige kamer met sy enkele
meubelstukke. “Ek het alles wat ek nodig het, net hier.”
“Jy het ’n dak oor jou kop, kos en mooi klere.”
“En ’n werk,” sê sy styf. “Moenie my werk vergeet nie. Ek is régtig goed
in my werk.”
“Jy haat dit.”
Vir ’n oomblik is sy stil, versigtig. “Jy het my net op een van my slegte
aande gevang.” Sy stap na die venster en maak asof sy uitkyk, maar maak
haar oë toe en sukkel om haar te bedwing. Wat is vanaand fout met haar?
Wat is dit omtrent dié man wat haar ontstel? Sy verkies die doodsheid bo
hierdie roering van emosie. Hoop is pyniging. Hoop is ’n vyand. En hierdie
man is ’n doring in haar vlees.
Michael gaan staan agter haar en sit sy hande op haar skouers. Hy voel
hoe sy verstyf toe hy haar aanraak. “Kom saam met my huis toe,” sê hy sag.
“Wees my vrou.”
Angel skud sy hande vies af en staan weg van hom af. “Nee, dankie.”
“Waarom nie?”
“Omdat ek nie hier wil weggaan nie, dis hoekom. Is dit ’n goed genoeg
rede vir jou?”
“As jy nie saam met my wil kom nie, laat my dan ten minste effens
nader aan jou kom.”
Uiteindelik. Hier gaan ons. “Ses tree behoort dit reg te kry, meneer. Sit
net jou een voet voor die ander.”
“Ek praat nie van voete en duime nie, Mara.”
Al haar gevoelens kom tot stilstand in haar en sak af na onder asof hulle
in ’n swart gat onder haar voete wil verdwyn. “Angel,” sê sy. “My naam is
Angel. Het jy my gehoor? Angel! En jy mors my tyd en jou goud.”
“Ek mors niks nie.”
Sy gaan sit weer op die bed en blaas haar asem uit. Sy kyk skeef op na
hom. “Jy weet, meneer, die meeste mans is nogal eerlik wanneer hulle
hierheen kom. Hulle betaal, vat wat hulle wil hê en maak weer dat hulle
wegkom. Dan is daar ’n paar ander, soos jy. Hulle wil graag anders wees.
So hulle vertel vir my hoe baie hulle omgee en wat fout is met my lewe en
hoe hulle dit kan regmaak.” Haar mondhoeke krul sardonies. “Maar
uiteindelik kry hulle end daarmee en doen maar dit wat hulle regtig hier
soek.”
Michael trek sy asem in. Sy is eerlik en reguit. Goed. Hy kan ook reguit
praat. “Ek hoef net na jou te kyk om van my liggaam bewus te raak. Jy weet
presies hoe om swakheid uit te buit. Ja, ek wil jou hê, maar jy is verkeerd
oor hoe graag en vir hoe lank.”
Sy voel nou baie ongemaklik. “Jy hoef nie sleg te voel daaroor nie. Dis
maar soos mans is.”
“Twak.”
“Wil jy my nou iets van mans leer? Dis iets waarvan ek alles weet,
meneer. Mans.”
“Jy weet niks van my af nie.”
“Elke man wil graag glo hy is anders as die voriges. Hy dink graag hy is
beter as die ander.” Sy tik met haar hand op die bed. “Kom hier, laat ek jou
wys presies hoe eenders julle almal is. Of is jy bang ek is dalk reg?”
Hy glimlag teer. “Jy sal meer op jou gemak wees met my in daardie bed,
nie waar nie?” Hy stap nader en gaan sit op die stoel, geensins ontsenu nie.
Hy leun na haar toe, sy hande losweg inmekaargestrengel tussen sy knieë.
“Ek sê nie ek is beter as enige ander man wat jou besoek nie. Ek wil net
méér hê.”
“Soos?”
“Alles. Ek wil hê wat jy nie eens besef jy het om te gee nie.”
“Party mans verwag vreeslik baie vir ’n paar onse goudstof.”
“Luister na wat ek jou kan bied.”
“Ek kan nie sien dat dit wat jy my kan bied anders is as wat ek reeds het
nie.” Iemand klop twee keer aan die deur.
Verligting spoel deur Angel, en sy probeer nie eens om dit weg te steek
nie. Sy glimlag kamma en trek haar skouers op. “Wel, jy het jou halfuur se
gesels ingekry, nie waar nie?” Sy staan op en loop verby hom. Sy haal sy
hoed van die haak by die deur af en hou dit na hom uit. “Tyd om te gaan.”
Hy lyk teleurgesteld, maar nie oorwin nie. “Ek sal jou weer sien.”
“As dit jou gelukkig maak.”
Michael vat aan haar gesig. “Verander van plan. Kom sommer nou saam
met my. Dit moet beter wees as hierdie lewe.”
Angel se hart klop wild. Dit lyk asof hy dit regtig bedoel. Maar aan die
ander kant, Johnny het ook opreg gelyk. Johnny, met sy sjarme en gladde
tong. Toe dit daarop neerkom, was al wat hy wou hê om iets van Duke af
weg te vat en dit te gebruik. En sy wou met alle mag wegkom. Hulle het
albei misluk, en die prys wat sy moes betaal, was veels te hoog.
Angel wil die boer net uit haar kamer hê. “Jy kan jou goudstof op ’n
ander plek beter spandeer. Ek het nie wat dit ook al is waarna jy soek nie.
Probeer vir Meggie. Sy’s die filosoof.” Sy begin die deur oopmaak.
Michael druk sy hand teen die deur. “Jy het álles waarna ek soek. Anders
sou ek nie gevoel het wat ek gevoel het toe ek jou die eerste keer gesien het
nie. Ek sou nie nou so seker gewees het nie.”
“Jou halfuur is om.”
Michael kan sien sy gaan nie na hom luister nie. In elk geval nie hierdie
keer nie. “Ek gaan weer kom. Al wat ek van jou wil hê, is ’n eerlike halfuur
van jou tyd.”
Sy maak die deur vir hom oop. “Meneer, nog vyf minute en die duiwel
sal jou kom haal.”
Vier

Ek versuim die goeie wat ek so graag wil doen,


maar die slegte wat ek nie wil nie, dít doen ek.
Romeine 7:19

Hosea doen wat hy beloof het. Die volgende aand is hy terug. En die
volgende aand, en die aand daarna. Met elke keer groei Angel se onrus.
Soos hy praat, kan sy die wanhoop in sy haar voel groei. Sy weet mos van
beter as om van enigeen enigiets te glo. Het sy dan nie op die harde manier
geleer nie? Hoop is ’n droom, en om daarna uit te reik, verander haar lewe
in ’n ondraaglike nagmerrie. Sy gaan haar nie weer deur mooi woorde en
leë beloftes laat ompraat nie. Geen man sal haar kan oorreed dat daar ’n
beter lewe is as die een wat sy lei nie.
Tog kan sy nie van die spanning ontslae raak wat in haar opwel elke keer
wat sy die deur oopmaak en daardie man voor haar staan nie. Hy raak nooit
aan haar nie. Hy teken net woordprentjies van vryheid wat die ou, pynlike
honger wat sy as kind ervaar het weer in haar laat ontwaak. Dit is ’n honger
wat nooit weggegaan het nie. Maar elke keer wat sy weggeloop het om ’n
antwoord daarop te vind, het die ongeluk haar getref. Tog het sy aanhou
probeer. Die laaste keer het die honger haar van Duke af laat vlug en haar in
hierdie aaklige, walglike plek laat beland.
Sy het uiteindelik haar les geleer. Niks raak ooit beter nie. Dinge gaan
net van sleg na slegter. Dit was slimmer om eerder daarby aan te pas, dinge
te aanvaar en te oorleef.
Waarom kan hierdie man dit net nie in sy kop kry dat sy nêrens saam met
hom of enigiemand anders wil gaan nie? Waarom gooi hy nie tou op en los
haar uit nie?
Hy kom keer op keer terug en maak haar gek. Hy is nie glad en sjarmant
soos Johnny nie. Hy probeer haar nie dwing, soos Duke nie. Hy is nie soos
honderde ander wat betaal en kom vat wat hulle wil hê nie. Om die
waarheid te sê, is hy anders as enigiemand wat sy nog ooit geken het. Dit is
wat haar die meeste pla. Michael Hosea pas nie in enige boksie wat sy ken
nie.
Elke keer wanneer hy loop, probeer sy hom uit haar gedagtes verban,
maar iets omtrent hom kou aan haar. Sy vang haarself dat sy op die
snaaksste oomblikke aan hom dink en moet haar keer om aan iets anders te
dink. Sodra sy dit regkry, praat die ander weer van hom.
“Wie is die man wat gisteraand by jou was?” vra Rebecca tydens
aandete.
Angel onderdruk haar irritasie en smeer botter op haar brood. “Watter
een?” sê sy en kyk vlugtig na die fris rooikop.
“Die groot, aantreklike een. Wie anders?”
Angel vat ’n happie brood. Sy beplan om haar aandete in rus en vrede te
geniet en nie om vrae te beantwoord oor wie in en uit haar kamer kom nie.
Wat maak dit saak hoe enigeen van hulle lyk? Ná ’n ruk lyk hulle in elke
geval almal eenders.
“Kom nou, Angel,” sê Rebecca ongeduldig. “Dis nie asof dit vir jou saak
maak nie. Hy was gisteraand by jou; die laaste een wat by jou deur uit is.
Ek het hom in die gang gesien toe hy by die trap opkom. Al ses voet van
hom. Donker hare. Blou oë. Breë skouers. Elke duim van hom lenig en
sterk. Hy loop soos ’n soldaat. Toe hy vir my glimlag, het ek tot in my tone
lekkergekry.”
Lucky stuur die bredie aan en kry ’n bottel rooiwyn beet. “As ’n dwergie
vol pokmerke vir jou glimlag, sal jy ook tot in jou tone lekkerkry.”
“Drink jou wyn. Ek het nie met jou gepraat nie,” sê Rebecca snedig. Sy
het nie tyd vir Lucky se beledigings nie, en sy bepaal weer haar aandag by
Angel. “Jy kan nie maak asof jy nie weet van wie ek praat nie. Jy wil my
net niks sê nie.”
Angel gluur haar aan. “Ek weet niks nie. Ek wil net my ete geniet, as jy
nie omgee nie.”
Torie lag. “En hoekom sal sy hom nie vir haarself wil hou nie,” sê sy met
haar swaar Britse aksent. “Miskien het Angel uiteindelik ’n man ontmoet
van wie sy hóú.” Die ander lag.
“Miskien wil sy net nie gepla wees nie, soos sy sê,” sê Lucky.
Rebecca sug. “Angel, kry my ’n bietjie jammer. Ek het die een onervare
knapie ná die ander gehad die afgelope maand. ’n Man sal vir ’n
verandering welkom wees.”
Torie stoot haar bord terug. “As iemand soos hý na my kamer toe kom,
sal ek hom toesluit en daar hou.”
Angel gooi vir haar ’n glas melk in en wens hulle almal wil haar net
uitlos.
“Dis jou tweede glas,” sê Renee van die kop van die tafel af. “Duchess
het gesê ons mag net elkeen een glas kry omdat dit so duur is, en jy vat
twee glase!”
Lucky glimlag. “Ek het voor aandete vir haar gesê sy kan my melk kry
as ek haar wyn kan kry.”
“Dis nie regverdig nie!” kla Rebecca. “Ek hou net so baie van melk soos
Angel! Sy kry altyd haar sin.”
Lucky grinnik. “As jy nog ’n glas melk moet drink, sal jy net meer vet
om jou middellyf sit.”
Hulle begin stry, en Angel is lus om te gil en van die tafel af op te staan.
Haar kop klop van die pyn. Selfs Lucky se ewige gekarring irriteer haar, en
Rebecca laat haar nie met rus oor daardie dekselse man nie.
“Hy moet baie geld hê as hy drie nagte na mekaar na jou kamer toe kan
kom. Wat’s sy naam? Moenie maak of jy nie omgee nie.”
Al wat Angel wil hê, is dat hulle haar moet uitlos. “Hy is nie ’n myner
nie. Hy is ’n boer.”
“’n Boer?” Torie lag. “Vir wie probeer jy flous, skat? Hy’s nie ’n boer
nie. Boere lyk so dom soos die grond wat hulle omploeg.”
“Hy’t gesê hy is ’n boer. Dit beteken nie hy is een nie.”
“Wat is sy naam?” hou Rebecca aan.
“Ek kan nie onthou nie.” Moet die man haar selfs in sy afwesigheid
treiter?
“Natuurlik onthou jy!” Rebecca is nou vies.
Angel gooi haar servet neer. “Kyk! Ek vra nie name nie. Ek gee nie om
wie hulle is nie. Ek gee hulle wat hulle wil hê, en hulle gaan hul gang. Dis
al.”
“Nou hoekom kom hy dan aanmekaar terug?”
“Ek weet nie, en ek gee glad nie om nie.”
Lucky skink nog ’n glas wyn. “Rebecca, jy’s net jaloers dat hy nie na jou
kamer toe kom nie.”
Rebecca gluur haar aan. “Hoekom hou jy nie jou mond nie? Hou aan om
jou aan die bottel te vergryp, en Duchess sal jou kort voor lank onder jou
alie skop.”
Lucky lag, min gepla. “Dit is nog ’n heel bruikbare alie.”
“As daar nie so ’n tekort aan vroue was nie, sou niemand ooit aan jou
deur geklop het nie,” sê Torie snedig.
Lucky is nou lus vir baklei. “Selfs dronk is ek beter as enigeen van julle
nugter.”
Angel steur haar nie aan die beledigings wat nou heen en weer geslinger
word nie. Sy is net bly hulle los haar uit. Maar nou is hý weer in haar
gedagtes.
Meggie, wat langs Angel sit, het die hele tyd nog niks gesê nie. Sy gooi
’n teelepel kosbare suiker in haar swart koffie en kyk na Angel. “So, hoe is
hierdie wonderlike man, Angel? Het hy darem iets tussen die ore?”
Angel kyk haar vies aan. “Nooi hom in en vind self uit.”
Meggie lig haar wenkbroue, glimlag en leun terug in haar stoel. “Regtig?
Ek sal dit dalk net doen aangesien hy soveel belangstelling onder ons
vriendinne ontlok het.” Sy kyk Angel aandagtig aan. “Sal jy regtig nie
omgee nie?”
“Hoekom sal ek?”
“Ek het hom eerste gesien,” sê Rebecca.
Lucky lag. “Jy sal eers iemand moet kry om hom uit te slaan en na jou
kamer toe te sleep.”
“Duchess sal niks daarvan hou nie,” sê Renee bitsig. “Julle weet mos die
mans betaal meer vir Angel. Nugter weet hoekom.”
“Omdat sy doodmoeg beter lyk as jy op jou mooiste,” skater Lucky.
Renee gooi ’n vurk na haar, wat Lucky maklik ontduik. Dit kletter teen
die muur.
“Bly nou asseblief stil, Lucky,” sê Angel, oortuig daarvan dat Magowan
enige oomblik gaan kom kyk wat aangaan. Wanneer Lucky begin drink,
dink sy nie voor sy praat nie.
“So jy gee regtig nie om nie,” sê Rebecca.
“Jy kan hom met my seën kry,” sê Angel. Solank hy haar net nie meer
pla nie. Hy wil haar hê. Sy hele liggaam smag na haar, maar hy doen niks
daaromtrent nie. Hy praat net. Hy vra vrae. Hy wag, nugter weet waarvoor.
Sy is moeg om leuens uit te dink om hom gelukkig te hou. Hy vra maar net
weer dieselfde vraag op ’n ander manier. Hy hou nie op nie. Elke keer dat
hy kom, is hy meer vasberade. Verlede keer het Magowan twee keer kom
klop, en eindelik deur die deur geskree hy beter sy klere aan sy lyf kry as hy
nie moeilikheid wil hê nie. Hosea het nie eens sy hemp losgeknoop nie.
En hy het elke keer dieselfde ding gesê voor hy loop. “Kom saam met
my. Trou met my.”
“Ek het nou al drie keer nee gesê. Wanneer gaan jy my glo? Nee. Nee.
Néé.”
“Jy’s nie gelukkig hier nie.”
“Ek sal nie gelukkiger wees saam met jou nie.”
“Hoe weet jy dit?”
“Ek wéét.”
“Trek iets aan waarin jy kan reis en kom saam met my. Nou. Moenie so
baie daaroor dink nie. Doen dit net.”
“Magowan sal dalk iets hieroor te sê hê.” Maar sy kon duidelik sien dat
hy hom geensins oor Magowan bekommer nie. Sy het vir ’n oomblik
gewonder hoe dit moet wees om saam met so ’n man te leef wat blykbaar
vir niks bang is nie. Aan die ander kant was Duke ook vir niks bang nie, en
sy weet hoe dit voel om saam met hom te leef.
“Vir die laaste keer, nee,” het sy gesê en haar hand na die deurknop
uitgesteek.
Hy het haar aan haar gewrig gegryp. “Wat hou jou hier?”
Sy het haar hand losgeruk. “Ek hou daarvan.” Sy het die deur oopgeruk.
“Maak nou dat jy wegkom!”
“Sien jou môre,” het hy gesê en uitgeloop.
Angel het die deur toegeklap en daarteen geleun. Sy het altyd ’n
polsende hoofpyn teen die tyd dat Hosea gaan. Daardie nag het sy op haar
bed se voetenent gaan sit en haar vingers teen haar slape gedruk om die pyn
te verlig.
Dieselfde pyn wat haar nou weer pla. Pyn wat al hoe erger word soos
wat Hosea se vraag in haar gedagtes rondmaal. Wat is dit wat haar hier hou?
Hoekom loop sy nie net by die deur uit nie?
Sy bal haar vuiste. Sy sal eers haar goud uit Duchess moet kry, maar sy
weet baie goed daar is geen kans dat sy alles op een slag sal kry nie.
Stukkies en brokkies, dis wat sy sal kry. Genoeg vir enkele luukshede, maar
nie genoeg om van te leef nie. Duchess kan dit nie bekostig om só vrygewig
te wees nie.
En wat as sy wel genoeg goud het om op haar eie reg te kom? Dit kan
dieselfde uiteinde hê as op die skip of aan die einde van die seevaart toe sy
aangerand is en hulle haar daar gelos het tot daardie fortuinsoekers haar
gekry het. Daardie paar dae in San Francisco was die naaste wat sy nog aan
die verderf gekom het. Sy het koud gekry, honger gely en gevrees vir haar
lewe. Sy het teruggekyk op haar lewe saam met Duke en selfs daarna
verlang. Duke, van alle mense.
Die wanhoop oorval haar. Ek kan nie hier padgee nie. Sonder iemand
soos Duchess, of selfs Magowan, sal hulle my vir die wolwe gooi.
Sy kan dit nie waag om saam met Michael Hosea te gaan nie. Hy is
verreweg ’n donkerder onbekende.
Michael se goudstof en tyd begin min raak. Hy weet glad nie hoe om tot die
vrou deur te dring nie. Hy kan sien hoe sy haarself onttrek die oomblik wat
sy die deur oopmaak. Hy praat en sy kyk elke keer deur hom en maak asof
sy luister, maar hy weet sy hoor nie ’n woord nie. Sy wag net vir die halfuur
om verby te wees sodat sy die plesier kan hê om van hom ontslae te wees.
Ek het net genoeg stof vir nog een probeerslag, Here. Laat sy asseblief
na my luister!
Terwyl hy by die trap opklim en sy gedagtes orden oor wat hy hierdie
keer vir haar gaan sê, bots hy teen ’n rooikop. Hy staan terug en vra verleë
om verskoning. Sy sit haar hand op sy arm en glimlag vir hom. “Moenie
vanaand jou tyd met Angel mors nie. Sy het gesê jy sal meer van my hou.”
Hy kyk verstom na haar. “Wat het Angel nog gesê?”
“Dat ek haar ’n guns sal doen as ek jou by haar oorneem.”
Hy klem sy kake saam en stoot haar hand weg. “Dankie dat jy my gesê
het.”
Hy stap in die gang af, gaan staan voor Angel se deur en probeer sy
woede beheer. Jesus, wat doen ek weer hier? Ek het probeer. U weet ek het.
Sy stel nie belang in wat ek haar kan bied nie. Wat moet ek doen? Haar aan
haar hare hier uitsleep?
Hy klop twee keer, en die klank weergalm hard in die dowwe gang af. Sy
maak die deur oop, kyk skrams na hom en sê: “O, dis weer jy.”
“Ja, dis weer ek.” Hy stap in en klap die deur met mening agter hom toe.
Sy lig haar wenkbroue. ’n Briesende man kan onvoorspelbaar en
gevaarlik wees. Hierdie een kan haar sonder veel moeite baie skade
berokken.
“Ek maak geen vordering met jou nie, nie waar nie?”
“Dis nie my skuld dat jy jou goud mors nie,” sê sy saggies. “Ek het jou
die eerste aand al gewaarsku. Onthou jy?” Sy gaan sit op die bed se
voetenent. “Ek het jou nie mislei nie.”
“Ek moet teruggaan na die vallei toe en werk gedoen kry.”
“Ek keer jou mos nie.”
Sy gesig is bleek en stroef. “Ek wil jou nie in hierdie godverlate plek los
nie!”
Sy knip haar oë voor sy uitbarsting. “Dit het niks met jou te doen nie.”
“Dit het álles met my te doen van die oomblik toe ek jou gesien het.”
Haar voet begin grasieus heen en weer, heen en weer swaai soos wat sy die
tyd aftik. Sy lyk moeg. Haar blou oë toon geen emosie nie.
“Wil jy weer net praat?” Sy onderdruk ’n gaap en sug. “Praat maar. Ek is
die ene ore.”
“Praat ek jou aan die slaap?”
Sy kan die ongeduld in sy stem hoor en weet sy is besig om hom gek te
maak. Goed so. Miskien sal hy nou sy ry kry. “Dit was ’n lang en moeilike
dag.” Sy vryf haar rug. “En al hierdie gepraat raak ’n bietjie vervelig na ’n
ruk.”
Nou is hy kwaad. “Jy sal verkies dat ek saam met jou in die bed klim, nie
waar nie?”
“Ten minste sal jy dan voel jy het uiteindelik iets gekry vir al jou
goudstof,” sê Angel.
Michael se hart klop woes en vinnig. Hy stap na die venster en bewe van
woede en begeerte. Hy stoot die gordyn oop en kyk na buite. “Hou jy van
jou uitsig hier van bo af, Angel? Modder, aangelapte geboutjies en tente,
dronk mans wat kroegliedjies sing, almal wat om oorlewing veg.”
Angel. Dis die eerste keer dat hy haar só noem. Om die een of ander rede
maak dit seer. Sy weet sy is uiteindelik besig om tot hom deur te dring. Sy
wag vir die res. Hy sal haar vertel wat hy dink, vat wat hy wil hê, en gaan.
Dit sal die laaste sien van hom wees. Sy sal net moet seker maak dat hy nie
’n deel van haar saam met hom by daardie deur uitvat nie.
“Of die grondverdieping?” sê hy afkeurend. “Miskien hou jy meer
daarvan.” Hy laat die gordyn val en kyk na haar. “Laat dit jou magtig voel
om te sien hoe ek aand ná aand om jou guns meeding?”
“Ek vra jou nie om dit te doen nie.”
“Nee, jy vra my beslis nie. Jy vra niks nie. Jy het niks nodig nie. Jy wil
niks hê nie. Jy voel niks. Hoekom gaan ek nie net in die gang af na daardie
rooikop se kamer toe nie. Is dit waaroor dit gaan? Die een wat jy reken my
van jou hande moet afneem.”
So, dis wat die probleem is. Sy eer is gekrenk. “Ek wou net hê jy moet
die dorp met ’n glimlag op jou gesig verlaat.”
“Wil jy my sien glimlag? Sê my naam.”
“Wat is jou naam? Ek het vergeet.”
Hy trek haar van die bed af op. “Michael. Michael Hosea.” Heeltemal
buite homself, neem hy haar gesig in sy hand.
Michael.
Die aanraking van haar vel laat hom vergeet hoekom hy hier is, en hy
soen haar.
“Dis omtrent tyd.” Sy nestel stywer teen hom aan en maak ’n wilde vuur
in hom wakker. Haar hande raak besig en hy weet as hy haar nie keer nie,
gaan hy verloor; nie net die geveg nie, maar die héle oorlog.
Sy knoop sy hemp los en glip haar hand in. Hy ruk hom vervaard weg
van haar. “Jesus,” sê hy. “Jesus!”
Verbaas kyk sy op na hom. Skielik is alles vir haar kristalhelder. “Hoe op
aarde het jy dit reggekry om die rype ouderdom van ses en twintig te bereik
sonder om ooit met ’n vrou omgang te hê?”
Hy maak sy oë oop. “Ek het ’n besluit geneem om vir die regte een te
wag.”
“En jy dink regtig dis ek?” Sy lag. “Jou arme, onnosele drommel.”
Dis meer as wat hy kan verduur.
Jesus, ek het U misverstaan. Dit kan nie die een wees wat U vir my
gestuur het nie.
Hy kan die res van sy lewe sukkel om haar te oortuig. Hy is lus en gryp
haar en skud haar en noem haar elke slegte naam waaraan hy kan dink. Sy
kyk hom bloot aan met daardie glimlag op haar gesig wat sê sy het hom
uiteindelik ontsyfer.
Michael verloor sy humeur. “As dit al is wat jy van die lewe wil hê, dan
is dit nou maar dit.” Hy klap die deur toe en stap vinnig in die gang af, af
met die trap, deur die dobbelkamer, klap die swaaideure uit sy pad en stap
die nag in. Hy hou aan stap en hoop die naglug sal hom laat afkoel.
Michael ...
Vergeet dit! Vergeet dat ek ooit vir ’n vrou gevra het! My lewe hang nie
daarvan af nie.
Michael ...
Ek sal selibaat bly.
Michael, geliefde.
Hy stap nog steeds. God, hoekom sý? Sê my net dit. Hoekom nie ’n goed
opgevoede meisie, onaangeraak tot op haar huweliksnag, nie? Hoekom nie
’n godvresende weduwee nie? Here, stuur vir my ’n doodgewone vrou wat
goedhartig is, iemand wat langs my in die lande kan werk; help ploeg, help
saai en help oes! Iemand wat nie bang is om vullis aan haar hande te kry
nie, maar wat dit nie reeds in haar bloed het nie! Iemand wat vir my kan
kinders baar, of as dit nie so beskik is dat ek my eie kinders moet hê nie, dan
iemand wat reeds kinders het. Hoekom sê U ek moet met ’n prostituut trou?
Dit is die vrou wat Ek vir jou gekies het.
Michael kom tot stilstand. Hy is woedend. “Ek is nie ’n profeet nie!” gil
hy in die skemerlig. “Ek is nie een van u heiliges nie. Ek is net ’n gewone
man!”
Gaan terug en gaan haal vir Angel.
“Dit sal nie werk nie! Hierdie keer is U verkeerd.”
Gaan terug.
“Ek is seker sy is goed vir seks. Dit sal sy my gee, maar niks meer nie.
Wil U hê ek moet daarvoor teruggaan? Ek gaan na daardie kamer vol hoop
en kom elke keer verpletter daar uit. Waar is u triomf hierin? Sy gee nie om
of sy my ooit weer sien nie. Sy probeer my aan die ander afsmeer soos ’n ...
’n ... Nee, Here. Nee! Ek is net nog ’n gesiglose man in ’n lang ry vol
gesiglose mans in haar lewe. Dit kan nie wees wat U in gedagte gehad het
nie!” Hy lig sy gebalde vuis. “En dis beslis nie waarvoor ek gevra het nie!”
Hy trek sy vingers deur sy hare. “Sy het dit heel duidelik gemaak. Ek
kan haar kry op enige manier wat ek wil. Van die nek af ondertoe. Behalwe
die hart. Ek is net ’n man, Here! Weet U hoe sy my laat voel?”
Dit begin reën. ’n Koue, harde reënbui.
Michael staan in die donker, modderige pad ’n myl buite die dorp met
die reën wat van sy gesig af stroom. Hy maak sy oë toe. “Dankie,” sê hy
stuurs. “Baie, baie dankie.” Warm, ontstoke bloed bruis deur sy are. “As dit
u manier is om my te laat afkoel, werk dit nie juis goed nie.”
Laat my wil geskied, geliefde. Ek het jou uit ’n verlate put opgetrek, en
jou voete op ’n rots geplaas. Gaan terug en gaan haal vir Angel.
Maar Michael klou aan sy woede vas soos ’n skild. “Daar sal niks gebeur
nie. Die laaste ding wat ek wil hê, is ’n vrou wat gevoelloos is.” Hy stap
weer aan, dié slag na die huurstal waar sy wa en perde is.
“Dis ’n slegte tyd om op pad te gaan, meneer,” sê die stalkneg. “Daar is
’n storm aan die broei.”
“Dis net so ’n goeie tyd soos enige ander tyd, en ek is behoorlik siek vir
hierdie plek.”
“Jy en duisende ander.”
Michael moet by die Palace verbyry om uit die dorp te kom. Die dronk
gelag en klavierspel weergalm om hom. Hy kyk nie eens op na haar venster
toe hy verbyry nie. Hoekom moet hy? Sy is waarskynlik besig om te werk.
Sodra hy terug is in die vallei en van daardie verduiwelse meisie vergeet
het, sal hy beter voel.
En volgende keer wat hy tot God bid en vra om vir hom ’n vrou te stuur
om sy lewe mee te deel, sal hy heelwat meer spesifiek wees omtrent die
soort vrou wat hy graag wil hê.
Angel staan by haar venster en sien Hosea verbyry. Sy weet dis hy, selfs al
sit hy vooroor gebuig teen die reën. Sy wag dat hy moet opkyk, maar dit
gebeur nie. Sy kyk tot sy hom nie meer kan sien nie.
Sy het uiteindelik daarin geslaag om hom weg te jaag. Dis tog wat sy van
die begin af wou gehad het.
Waarom voel sy dan so ontredderd? Is sy dan nie bly dat sy uiteindelik
van hom ontslae is nie? Hy sal nooit weer in haar kamer sit en praat en
praat en praat tot sy wil gek word nie.
Hy het haar uiteindelik Angel genoem. Angel! Sy tel ’n bewende hand op
en druk dit teen die koue glas. Die koue dring in haar palm in en in haar
arm op. Sy druk haar voorkop teen die ruit en luister na die stortende reën.
Die geluid daarvan herinner haar aan die gehuggie by die dokke en haar ma
se doodsglimlag.
O, God, ek is besig om te versmoor. Ek is besig om dood te gaan.
Sy begin ruk en laat sak die gordyn terug. Miskien is dit die enigste
uitweg. Die dood. As sy dood is, sal niemand haar ooit weer kan gebruik
nie.
Sy gaan sit op die bed en trek haar knieë styf op teen haar bors. Sy laat
sak haar kop op haar knieë en wieg heen en weer. Hoekom moes hy na haar
toe kom? Sy het haar lot begin aanvaar. Sy het vrede gemaak daarmee.
Hoekom moes hy haar rus kom versteur? Sy bal haar vuiste. Sy kan nie
ontslae raak van die prentjie van Michael Hosea wat in die reën wegry nie.
Sy het die aaklige gevoel dat sy so pas haar laaste kans verspeel het.
Vyf

Die dood is vandag voor my.


Soos ’n man daarna verlang om sy huis te sien
wanneer hy jare lank in ballingskap geleef het.
Papirus van Ou Egipte

Die storm woed dae lank. Die reën val op die vensterruite soos trane, was
die stof weg en skep waterige beelde van die buitewêreld. Angel werk en
slaap en kyk uit oor die gehuggies, plankgeboue en ingesakte seiltente
verlig deur duisende lanterns tot dagbreek toe. Nie ’n spatseltjie groen êrens
nie. Net grys en bruin.
Henri is waarskynlik besig om ontbyt te bedien, maar sy is nie honger
nie en ook nie lus om saam met die ander te sit en na hul bakleiery en gekla
te luister nie.
Die reën val al hoe harder en vinniger, en daarmee saam kom
herinneringe. Sy en haar ma het altyd op reënerige middae ’n speletjie
gespeel. Wanneer dit gereën het, was dit bitter koud in die gehuggie. Te
koud vir enigeen wat nie nodig gehad het om daar te wees nie. Die mans het
weggebly en hulle in ’n gerieflike herberg warm gehou. Rab het saam met
hulle gegaan. Dan het Mamma vir Sarah op haar skoot getel en hulle al
twee in ’n kombers toegedraai. Hulle sou sit en kyk hoe die groot druppels
op die ruite val, al hoe groter word en eindelik in ’n rivier op die
vensterbank afgly. Dan het Mamma haar van haar kinderjare vertel. Net die
goeie dinge en gelukkige tye. Mamma het nooit gepraat oor hoe haar pa
haar uitgeskop het nie. Sy het nooit oor Alex Stafford gepraat nie. Wanneer
sy stil geraak het, het Sarah geweet sy onthou hom en voel weer die pyn.
Mamma het haar styf vasgehou en heen en weer gewieg terwyl sy neurie.
“Dinge sal anders wees vir jou, my skat,” sou sy sê en haar soen. “Dinge sal
anders wees vir jou. Jy sal sien.”
En Angel het gesien.
Sy hou op om aan die verlede te dink. Sy laat die gordyn terugval en
gaan sit by die tafeltjie met die kanttafeldoek oor. Sy onderdruk weer die
herinneringe. Liewer die leë holheid as die pyn.
Hosea sal nie weer kom nie. Nie dié keer nie. Sy maak haar oë styf toe;
haar klein handjie in ’n vuis gebal op haar skoot. Hoekom dink sy ooit aan
hom? “Kom saam met my en word my vrou.” Ja, tot hy moeg raak vir haar
en haar vir iemand anders gee. Soos Duke. Soos Johnny. Niks verander ooit
nie.
Sy gaan lê op die bed en trek ’n ligte satynlaken oor haar gesig. Sy
onthou hoe die mans die doodskleed oor ma se stywerige glimlag
toegewerk het en voel dolleeg binne. Watter hoop sy ook al eenmaal diep
binne haar gekoester het, is weg. Daar is niks oor om haar aan die gang te
hou nie. Sy is besig om ineen te stort.
“Ek sal op my eie oor die weg kom,” sê sy aan die stilte om haar en kan
byna hoor hoe Duke lag. “Natuurlik kan jy, Angel. Net soos die vorige
keer.”
’n Klop aan die deur ruk haar uit haar donker herinneringe. “Kan ek
inkom, Angel?”
Angel nooi Lucky binne. Sy herinner haar aan haar ma, behalwe dat
Lucky drink om gelukkig te wees. Mamma het gedrink om te vergeet.
Lucky is vir ’n verandering nugter, maar sy het ’n bottel en twee glase by
haar.
“Jy is stil deesdae,” sê Lucky en kom sit by haar op die bed. “Is alles
reg? Jy’s nie dalk siek of iets nie?”
“Ek is doodreg,” sê Angel.
“Jy het nie saam met ons kom ontbyt eet nie.” Lucky sit die bottel en
glase op die bedkassie.
“Ek was nie honger nie.”
“Jy slaap ook nie ordentlik nie. Jy het kringe onder jou oë. Jy voel
hartseer, nè?” Lucky vryf Angel se hare liggies terug. “Wel, dit gebeur met
ons almal, selfs met ’n ou prostituut soos ek.” Sy hou van Angel en is
bekommerd oor haar. Angel is so jonk – en so hard. Sy moet leer om die
lewe ’n bietjie ligter op te neem. Sy is beeldskoon, en dit sal altyd handig
wees in hierdie bedryf. Lucky hou daarvan om na haar te kyk. Angel is ’n
seldsame blom in hierdie tuin vol onkruid; iets spesiaals. Dis juis hieroor
dat die ander nie van haar hou nie. En omdat Angel nie meng nie. Sy is
afsydig.
Lucky is die enigste een wat sy na aan haar toelaat, maar daar is reëls. Sy
kan oor alles praat, behalwe mans en God. Sy het nog nooit gewonder of
gevra hoekom nie. Sy is maar net te dankbaar Angel laat haar toe om ’n
vriendin te wees.
Angel is vandag ekstra stil; haar mooi gesig bleek en afgetrokke.
“Ek het ’n bottel en twee glase gebring. Wil jy weer probeer drink?
Miskien sal dit dié keer beter gaan. Ons sal stadiger drink.”
“Nee.” Angel ril.
“Is jy seker jy’s nie siek nie?”
“Miskien ’n bietjie.” Sy is siek vir die lewe. “Ek het aan my ma gesit en
dink.”
Dis die eerste keer dat Angel enigiets oor haar verlede sê, en Lucky voel
geëerd om selfs net met ’n stukkie vertrou te word. Dit is ’n groot raaisel
onder die meisies waar Angel vandaan kom. “Ek het nie geweet jy het ’n
ma gehad nie.”
Angel glimlag droog. “Miskien het ek nie regtig nie. Miskien is dit net
my verbeelding.”
“Jy weet ek het dit nie so bedoel nie.”
“Ek weet.” Angel kyk na die plafon. “Dis net dat ek soms regtig daaroor
wonder.” Was daar ooit regtig ’n kothuis met blomme reg rondom en die
geur van rose wat deur die sitkamervenster inwaai? Het haar ma ooit regtig
gelag en gesing en saam met haar in die veld gehardloop?
Lucky raak aan haar voorkop. “Jy is koorsig.”
“Ek het ’n hoofpyn. Dit sal weer weggaan.”
“Hoe lank het jy dit al?”
“Vandat daardie boer my begin verpes het.”
“Was hy weer hier?”
“Nee.”
“Ek dink hy was verlief op jou. Is jy spyt jy het nie saam met hom
gegaan nie?”
Angel se maag trek op ’n knop. “Nee. Hy is net nog ’n man, soos al die
ander.”
“Wil jy liewer alleen wees?”
Angel neem Lucky se hand en hou dit vas. “Nee.” Sy wil nie alleen wees
nie. Nie wanneer herinneringe uit die verlede haar nie wil uitlos nie. Nie
wanneer die dood al is waaraan sy kan dink nie. Dis die reën, die eindelose,
gietende reën. Sy is besig om kop te verloor.
Hulle sit vir ’n lang ruk tjoepstil. Lucky gooi vir haar ’n drankie. Die
spanning borrel deur Angel wanneer sy onthou hoe haar ma gedrink het
totdat sy kon vergeet. Sy onthou haar ma se verdriet en skuldgevoelens en
die eindelose gehuil. Sy onthou vir Cleo, dronk en verbitterd, woedend teen
die lewe terwyl sy haar die heilige waarheid oor mans vertel.
Lucky is nie Mamma of Cleo nie. Sy is snaaks en uitbundig en gesels
graag. Die bekende woorde vloei soos salf teen die seer. As Angel net na
Lucky se lewensverhaal kan luister, sal sy dalk haar eie vergeet.
“My ma het weggeloop toe ek vyf was,” sê Lucky. “Het ek jou klaar die
storie vertel?”
“Vertel my weer.”
“Ek het by my tannie gaan bly. Sy was ’n ware dame. Haar naam was
juffrou Priscilla Lantry. Sy het ’n ordentlike jong man se huweliksaansoek
geweier omdat haar pa sieklik was en haar nodig gehad het. Sy het die ou
ding vyftien jaar lank versorg totdat hy dood is. Hy was nog nie koud in sy
graf nie toe my ma my voor haar deur gaan neersit het met ’n notatjie wat
sê ‘Dis Bonnie’. En sy het ‘Sharon’ onderaan geskryf.” Sy skater.
“Tannie Priss was nie gelukkig met die idee om ’n kind groot te maak
nie, veral nie die weggooikind van haar nikswerd suster nie. Almal in die
buurt het gedink sy’s ’n engel om haar oor my te ontferm.” Sy gooi nog ’n
glas whiskey. “Sy het gesê sy gaan seker maak dat ek ordentlik grootword
en nie soos my ma nie. As sy my nie twee keer op ’n dag geslaan het nie,
het sy gereken sy versuim haar plig. ‘Wie sy kind liefhet, tug hom.’”
Lucky sit die bottel hard op die bedkassie neer en stoot haar donker hare
uit haar gesig. “Sy’t gedrink. Nie soos ek nie. Sy het alles reg gedoen. Sy
het net teugies gevat. Nie whiskey nie, o nee. Madeirawyn, goeie Madeira.
Sy sou soggens begin met ’n slukkie hier en ’n slukkie daar. Dit het soos
vloeibare goud gelyk in haar mooi kristalglas. Sy was so joviaal en oulik
wanneer die bure kom kuier het.” Sy giggel. “Hulle het gedink sy lispel tog
te oulik.”
Sy sug en skud die amberkleurige vloeistof in haar glas. “Aakligste vrou
wat ek nog ontmoet het. Aakliger as Duchess. Sodra die gaste by die
voordeur uit is en in hul deftige koetse wegry, sou sy begin raas.” Sy boots
’n elegante, Suidelike, temerige uitspraak na. “Jy het nie ’n kniebuiging
gemaak toe mevrou Abernathy ingekom het nie. Jy het twee koekies van die
bord af gevat terwyl ek duidelik gesê het jy kan één kry. Die skoolmeester
sê jy het nie gister jou somme gedoen nie.”
Lucky drink die helfte van haar whiskey. “Dan het sy my laat sit en wag
terwyl sy soek na net die regte lat om van die wilgerboom af te sny. Dit
moes presies so dik soos haar wysvinger wees.”
Sy hou haar glas voor die lamp en kyk daardeur voor sy dit leegdrink.
“Een middag het sy by die dominee se vrou gaan tee drink. Hulle wou
glo my toelating by ’n skool vir jong dames bespreek. Terwyl sy weg was,
het ek die boom afgekap. Dit het op die dak geval en tot binne-in haar
deftige sitkamer geval. Al haar goeie kristalware het gebreek. Toe sy
terugkom, was ek al ver weg.”
Sy lag saggies. “Partykeer wens ek ek het lank genoeg gebly om haar
gesig te sien toe sy terugkom.” Sy staar na haar leë glas. “En partykeer
wens ek ek kon teruggaan en vir haar sê ek is jammer.” Sy vat haar bottel en
staan op. Haar oë is glasig. “Ek moet nou eerder loop en my
skoonheidslapie inkry.”
Angel gryp haar hand vas. “Lucky, jy moet probeer om nie so baie te
drink nie. Duchess praat daarvan om jou uit te gooi as jy nie minder gaan
drink nie.”
“Moet jou nie oor my bekommer nie, Angel,” sê Lucky en glimlag
vakerig. “Sover ek weet, is daar steeds twintig mans vir elke vrou op hierdie
plek. Die voordeel is beslis aan my kant. Maar pas jy eerder jouself op.
Magowan haat jou.”
“Magowan is ’n nikswerd stuk perdemis.”
“Dis waar, maar Duchess hou van hom en hy vertel haar al hoe lank jy is
lui en parmantig. Pas jouself net op. Asseblief.”
Angel is nie veel gepla nie. Wat maak dit in elk geval saak? Die mans sal
steeds kom kry wat hulle wil hê en betaal tot die ordentlike vroue opdaag.
Dan sal hulle haar soos haar ma behandel. Hulle sal maak asof hulle haar
nie ken nie as hulle op straat by haar verbyloop. Die goeie vroue sal
wegkyk terwyl die kinders haar aanstaar en vra wie sy is, net om stilgemaak
te word. Sy sal steeds moet werk – ná donker natuurlik – tot sy nie meer
mooi genoeg is nie, of te siek om enige belangstelling te wek.
As sy maar soos een van daardie mans in die berge kon wees wat die
wildernis aandurf en daar bly, vir hul kos jag, hul eie skuiling bou en nooit
aan enigiemand verantwoording hoef te doen nie. Om net uitgelos te word,
moet hemels wees.
Sy staan op en stap na die wastafeltjie, gooi water in die kom en was
haar gesig. Dit help nie juis nie. Sy druk die handdoek vir ’n lang ruk oor
haar oë. Daarna gaan sit sy by die tafeltjie langs die venster en kyk uit deur
die gordyn. Sy sien ’n leë wa in die straat en dink aan Hosea. Hoekom moet
sy juis nou aan hom dink?
Gestel ek het saam met hom gegaan. Sou dinge enigsins anders gewees
het?
Sy herinner haar aan die een keer dat sy wel saam met ’n man
weggeloop het. Op veertien was sy te onervare om Johnny se ambisies raak
te sien. Hy was op soek na iemand wat die pot aan die kook kon hou, en sy
wou van Duke af wegkom. Uiteindelik het nie een van hulle gekry waarna
hulle gesoek het nie. Sy knyp haar oë styf toe as sy dink aan wat Duke
gedoen het toe hy hulle laat terugbring het. Arme Johnny.
Sy was heel gelukkig voor die boer sy opwagting gemaak het. Hy is net
soos Johnny. Hy hou hoop as lokaas voor. Hy skets prentjies van vryheid en
probeer haar daarmee verlei. Wel, sy glo lankal nie meer die leuens nie. Sy
glo ook nie meer in vryheid nie. Sy droom nie eens meer daarvan nie. Toe
kom Hosea, en nou kan sy dit nie uit haar gedagtes kry nie.
Sy gryp die gordyn vas. “Ek moet hier wegkom.” Sy gee nie om
waarheen nie. Enigiets anders sal beter wees.
Sy het teen hierdie tyd genoeg goud verdien om haar eie klein huisie
iewers te bou en vir ’n tydjie op te hou werk. Al wat sy nodig het, is die
moed om na Duchess te gaan en te vra wat hare is. Sy is bewus van die
risiko, maar dit maak ook nie meer saak nie.
Pit, die kroegman, is besig om glase blink te vryf en weg te pak toe sy
onder kom. “Môre, juffrou Angel. Wil jy vir ’n wandeling gaan? Moet ek
kyk of ek Bret vir jou in die hande kan kry?”
Haar moed gebewe haar. “Nee.”
“Is jy honger? Henri het nou net vir Duchess iets gemaak om te eet.”
Miskien sal iets te ete die naarheid wegvat. Sy knik. Hy los die glase en
gaan by die deur aan die punt van die kroeg uit. Toe hy terugkom, sê hy:
“Henri sal nou-nou iets bring, Angel.”
Die klein, donker Fransmannetjie kom in met ’n skinkbord en gee vir
haar ’n bord gebraaide aartappels en spek. Die koffie is louwarm. Hy maak
verskoning en sê die voorrade is ’n bietjie min. Angel kan in elk geval nie
eet nie. Sy probeer, maar die kos steek in haar keel vas. Sy drink klein
slukkies koffie en probeer haar vrees wegsluk, maar dit sit soos ’n harde
klip in haar bors.
Pit hou haar dop. “Is iets fout, Angel?”
“Nee. Alles is reg.” Sy kan dit netsowel oor en verby kry. Sy stoot haar
bord terug en staan op.
Duchess se kamers is op die eerste verdieping agter die dobbelhuis.
Angel staan voor die swaar eikehoutdeur, haar palms natgesweet. Sy vee
haar hande aan haar romp af, haal diep asem en klop.
“Wie’s daar?”
“Angel.”
“Kom in.”
Duchess druk liggies met ’n servet aan haar mond, en Angel sien die
stukke kaasomelet wat oorgebly het op haar Dresdenbord. Een eier is twee
dollar werd, en kaas is omtrent glad nie bekombaar nie. Sy kan nie eens
onthou wanneer laas sy ’n eier geëet het nie. Die vals ou koei! Haar vrees
maak plek vir veragting.
Duchess glimlag. “Hoekom slaap jy nie? Jy lyk verskriklik. Het iets jou
ontstel?”
“Jy laat my te hard werk.”
“Snert. Jy is maar net weer in een van jou buie.” Sy stryk die vloeiende
rooi sy van haar dagjapon plat. Dit help nie juis om die vetrolle wat om haar
middel saampak te verbloem nie. Haar wange is rond gepof, en sy is besig
om ’n dubbelken te kry. ’n Pienk lint hou haar hare, wat al baie grys is, uit
haar gesig. Sy is veragtelik.
“Kom sit, hartjie. Ek kan sien daar is iets wat jou pla. Bret sê jy het nie
afgekom vir ontbyt nie. Is jy nou lus vir iets?” Duchess waai ’n lui hand
vrygewig in die rigting van ’n mandjie vol muffins.
“Ek wil my goud hê.”
Duchess lyk glad nie verras nie. Sy lag en leun vooroor om vir haarself
nog koffie te skink. Sy gooi room by. Angel wonder waar sy dit in die
hande gekry het en hoeveel dit gekos het. Duchess lig die elegante koppie
en drink klein slukkies terwyl sy Angel oor die koppie se rand bekyk.
“Hoekom wil jy dit hê?” vra sy asof sy net nuuskierig is.
“Omdat dit myne is.”
Duchess kyk haar geamuseerd en uit die hoogte aan. “Skink vir jou ’n
koppie koffie, dan gesels ons daaroor.”
“Ek wil nie koffie hê nie, en ek wil nie daaroor praat nie. Ek wil my
goud hê, en ek wil dit nóú hê.”
Duchess draai haar kop effens skeef. “Miskien kan jy ’n bietjie meer
beleefd vra. Het jy gisteraand ’n veeleisende kliënt gehad?” Angel
antwoord nie, en Duchess se oë vernou. Sy sit die koppie terug in die
piering. “Angel, hoekom het jy jou goud nodig? Wat is hier om te koop?
Nog snuisterye?” Sy lyk weer geamuseerd, maar haar oë hou ’n bedreiging
in. “Sê vir my wat dit is wat jy wil hê en ek sal probeer sorg dat jy dit kry.
Tensy dit natuurlik iets heeltemal buitensporigs is.”
Soos eiers en room. Soos vryheid. “Ek wil my eie huisie hê,” sê Angel.
Duchess se gesigsuitdrukking verander, verdonker. “Sodat jy vir jouself
kan werk? Raak jy ambisieus, my hartjie?”
“Ek sal glad nie vir jou kompetisie wees nie. Dit belowe ek jou. Ek sal
honderde myle hiervandaan wees. Ek wil wegkom. Ek wil met rus gelaat
word.”
Duchess sug en kyk bejammerend na haar. “Angel, ons kry almal sulke
verspotte idees. Glo my. Jy kan nie wegkom nie. Dis te laat.” Sy leun
vooroor en sit haar koppie en piering neer. “Ek kyk mos mooi na jou, nie
waar nie? As jy grondige klagtes het, sal ek beslis na jou luister, maar ek
kan jou nie net laat loop nie. Dis ’n wilde omgewing. Jy sal nie veilig wees
alleen daar buite nie. Verskriklike goed kan met ’n mooi meisie op haar eie
gebeur.” Haar oë blink. “Jy het iemand nodig om jou te beskerm.”
Angel lig haar ken effens. “Ek kan altyd vir my ’n lyfwag huur.”
Duchess lag diep uit haar maag. “Iemand soos Bret? Ek dink nie jy hou
soveel van hom soos ek nie.”
“Ek kan trou.”
“Trou?” Sy lag. “Jy? Jy maak seker ’n grap.”
“Iemand het my gevra.”
“O, ek is seker baie mans het jou gevra. Selfs jou dronk maatjie Lucky is
al gevra om te trou, maar sy is slim genoeg om te weet dit sal nooit werk
nie. Geen man wil ’n prostituut as vrou hê nie. Mans raak allerhande dom
goed kwyt as hulle eensaam is en ’n vrou begeer en daar is niemand anders
beskikbaar nie. Hulle kom egter gou tot hul sinne. In elk geval, jy sal nie
daarvan hou nie.”
“Ten minste sal ek net vir een man werk.”
Duchess glimlag. “Sal jy daarvan hou om ’n man se vuil onderbroeke te
was, vir hom kos te kook en sy kamerpot skoon te maak? Sal jy daarvan
hou om al daardie goed te doen én dan boonop vir hom te gee wat hy ook al
begeer? Sal jy daarvan hou? Of dink jy miskien hy sal jou heeldag laat
rondlê terwyl ’n bediende na alles omsien? Op ’n ander plek is dit dalk
moontlik, maar nie hier in Kalifornië nie. Dit sal slimmer wees om te bly
waar jy is.”
Angel is stil.
Duchess se mondhoeke krul. “Die probleem is dat jy te veel van jouself
dink, Angel.” Sy skud haar kop. “Julle meisies laat my soms voel asof ek
met bedorwe kinders te doen het. Goed, skat, laat ons nou maar by die punt
van jou besoek uitkom. Hoeveel meer wil jy hê? Dertig persent?”
“Net wat ek verdien het. Nou.”
Duchess sug swaar. “Goed dan, as dit is hoe dit moet wees. Maar jy sal
moet wag. Ek het dit vir jou belê.”
Angel sit doodstil terwyl die frustrasie en woede in haar kook. Sy bal
haar vuiste. “Laat die belegging uitbetaal. Ek weet jy het op hierdie
oomblik genoeg goud in jou kluis om my te betaal.” Sy wys na die bord.
“Jy het genoeg om vir jou eiers en kaas en room te koop.” Sy maak haar
hande bak. “’n Sak omtrent so groot is al wat ek verwag. Een van die mans
wat gisteraand by my was, is ’n rekenmeester, en hy het vir my ’n paar
somme gemaak.”
Duchess gluur haar aan. “Jy, my hartjie, praat soos ’n ondankbare gek.”
Sy staan op, haar eer gekrenk. “Julle vergeet wat ek alles vir julle doen.
Koste is nie meer wat dit was toe ons hierdie klein onderneminkie begin het
nie. Julle klere kos ’n klomp geld. Sy en kant is nie juis dik gesaai in ’n
myndorp nie, weet jy. Jul kos is nóg duurder. Hierdie gebou is nie verniet
opgerig nie!”
Angel se gebelgdheid en bitterheid het haar vrees en nugter denke laat
verdwyn. “Is my naam op die akte?”
Duchess stop. “Wat het jy gesê?”
“Jy het my gehoor. Is my naam op die akte?” Angel staan ook op, nou
buite beheer. “Jy het room vir jou koffie, en eiers en kaas vir ontbyt. Jy dra
satyn en kant. Jy drink selfs uit fyn porselein.” Sy tel ’n koppie op en gooi
dit teen die muur stukkend. “Hoeveel mans moes ek tevrede stel sodat jy
jouself dik kan eet en soos ’n koninklike kan aantrek! Duchess van waar?
Duchess van wát? Jy is niks anders as ’n vet ou prostituut na wie geen man
meer wil kyk nie!” Duchess se gesig is wit van woede.
Angel se hart klop al hoe vinniger. Sy haat haar. “Jy vra nie meer vier
onse goud vir my dienste nie. Wat is die tarief deesdae? Agt? Ek behoort
teen dié tyd genoeg te verdien het om myself van hierdie plek te bevry.”
“En as jy nie het nie?” vra Duchess baie saggies.
Angel ruk haar ken op. “Wel, ’n slim meisie kan baie goed vir haarself
doen.”
Duchess is nou kalm. “’n Slim meisie sou nooit eens daaraan gedink het
om so met my te praat nie.”
Angel hoor die dreigement in Duchess se stem en besef wat sy gedoen
het. Sy sak stadig in die stoel neer, haar hart in haar keel.
Duchess stap na haar toe en raak aan haar hare. “Ná alles wat ek vir jou
gedoen het,” sê sy swaarmoedig. “Jy het ’n kort geheue oor jou eerste weke
in San Francisco, of onthou ek verkeerd?” Sy vou haar hande om Angel se
ken en lig haar gesig. “Toe ek jou die eerste keer gesien het, was jy nog vol
letsels van ’n lelike geslaan. Jy het in ’n vieslike gehuggie gebly en was
besig om dood te gaan van die honger.” Haar vingers verstewig pynlik. “Ek
het jou uit die modder gered en iets van jou gemaak. Jy is ’n prinses hier.”
Sy laat los haar.
“’n Prinses van wat?” vra sy koud.
“Jy is so ondankbaar. Ek dink Bret is reg oor jou. Die spesiale
behandeling het jou bederf.”
Angel sidder. Haar onnadenkende woede het verdwyn. Sy neem Duchess
se hand en druk dit teen haar koue wang. “Asseblief. Ek kan dit nie meer
verduur nie. Ek moet hier wegkom.”
“Miskien het jy ’n verandering nodig,” sê Duchess en streel Angel se
hare. “Laat ek daaroor dink. Gaan nou boontoe en gaan rus. Ons praat later
weer.”
Angel maak soos wat Duchess gesê het. Sy gaan sit op haar bed se
voetenent en wag. Toe Magowan inkom sonder om te klop, weet Angel
presies wat haar antwoord is. Sy staan op en draai haar rug op hom terwyl
hy die deur sag toemaak.
“Duchess sê jy het vroeër baie te sê gehad. Wel, my skattie, ek gaan nou
’n bietjie gesels. Wanneer ek met jou klaar is, sal jy so gehoorsaam soos
Mai Ling wees. En ek gaan dit geniet. Ek wag al baie lank hiervoor. En jy
weet dit, nie waar nie?”
Angel kyk na die toe tweeverdiepingvenster en dan na die geslote deur.
“Jy sal nie by my verbykom nie.” Hy trek sy swart jas uit.
Angel se gedagtes gaan terug na ’n lang, donker man in ’n swart
aandpak. Met ’n skielike finaliteit besef sy dat daar vir haar geen
wegkomkans is nie. Daar was nog nooit, en daar sal nooit wees nie. Wat sy
ook al doen, elke keer wat sy probeer wegkom, word sy weer vasgevang,
erger as die vorige keer.
“Moenie bekommerd wees nie. Ek sal geen merke laat wat sal wys nie.
En jy sal vanaand werk, of jy nou lus het of nie.”
’n Magtelose woede pak haar beet. Sy onthou alles wat haar al
aangedoen is vandat sy ’n kind in ’n gehuggie by die dokke was tot nou in
hierdie kamer. Dit gaan nooit beter word nie. Dit is al wat sy van die lewe
kan verwag. Die wêreld was vol Dukes en Duchesse en Magowans en mans
wat voor haar deur kom toustaan. Daar gaan altyd iemand wees wat haar
gaan gevange hou en gebruik, iemand wat ’n wins gaan maak uit haar vlees
en bloed.
Daar is een manier om weg te kom.
Miskien het sy nog altyd geweet dis die enigste manier. Sy kan dit voel
soos ’n lewende teenwoordigheid in die kamer; ’n krag wat donker en
winkend langs haar staan. En sy is uiteindelik reg om dit aan te gryp. ’n
Paar goed gemikte woorde, en Magowan sal ’n einde aan alles bring. Sy sal
uiteindelik vry wees – vir altyd vry.
Magowan frons toe hy die uitdrukking op haar gesig sien, maar sy gee
nie om nie. Haar vrees het verdwyn. Sy grynslag vir hom. “Wat’s fout met
jou?” Haar oë gloei helder en wild, en sy begin lag.
“Waarvoor lag jy?”
“Vir jou, ou grote. Duchess se skoothondjie.” Sy lag harder toe sy die
verbaasde uitdrukking op sy gesig sien. Haar lag raak al hoe skriller. Dit
klink vreemd en helder in haar ore. Dis alles so snaaks, só ongelooflik
snaaks. Hoekom sien sy dit nou vir die eerste keer raak? Haar hele lewe is
een yslike groot grap. Selfs toe Magowan se vuis haar tref, kan sy nie
ophou lag nie. Nie met die eerste hou of die tweede een nie. Ook nie met
die derde nie.
Ná die vierde hou, is al wat Angel kan hoor, die monster wat in haar ore
brul.
Ses

Ek sal jou liefhê en beskerm, ek sal jou help,


jou ondersteun en eerbied vir jou hê.
Ek sal by jou bly in voorspoed of teëspoed,
gesondheid of siekte. Ek belowe om
aan jou getrou te bly tot die dood ons skei.
Huweliksformulier

Michael kan Angel nie uit sy gedagtes kry nie. Hy probeer om op sy werk
te konsentreer, maar wanneer hy weer
sien, dink hy weer aan haar. Hoekom knaag sy so aan hom? Hoekom het hy
hierdie snaakse gevoel dat iets verkeerd is? Hy werk elke dag tot ná donker
en sit dan voor die vuur gepynig deur gedagtes aan haar. Hy sien haar gesig
in die vlamme, en sy roep hom nader. Sonder twyfel na die hel self toe. Of
is dit wat hy nou ervaar reeds ’n voorsmakie daarvan?
Hy onthou die tragiese atmosfeer wat haar omring het daardie eerste dag
toe sy by hom verbygestap het, maar herinner hom aan hoe hard sy is. Hy
het gesweer hy sal nie weer na haar toe gaan nie, maar hy doen dit elke nag
wanneer Angel in sy drome by hom spook. Hy kan nie van haar af wegkom
nie. Sy dans voor hom soos Salome voor koning Herodes. Hy reik uit na
haar, maar sy beweeg terug, uittartend. Jy wil my hê, nè, Michael? Kom dan
terug. Kom terug.
Ná ’n paar dae word sy drome nagmerries. Sy vlug van iets. Hy hardloop
agter haar aan en skree op haar om te stop, maar sy hardloop tot sy by ’n
afgrond kom. Sy kyk om na hom, en die wind laat haar goue hare oor haar
wit gesig waai.
Mara, wag!
Sy draai om, kyk na hom, steek haar arms uit en verdwyn oor die rand
van die afgrond.
“Nee!” Michael skrik wakker met sweet wat van hom afstroom. Sy bors
voel swaar; sy hart klop so woes dat sy hele liggaam skud. Hy trek sy
bewende hande deur sy hare. “Jesus,” fluister hy in die donker. “Jesus,
verlos my asseblief hiervan.” Hoekom bly sy so by hom spook?
Hy staan op, maak die deur oop en leun swaar teen die kosyn. Dit reën al
weer. Hy maak sy oë toe. Hy het dae laas gebid. “Ek sal ’n dwaas wees om
terug te gaan,” sê hy hardop. “’n Dwaas.” Hy kyk weer uit na die donker
hemelruim. “Maar dis wat U wil hê, Here? En U gaan my geen vrede gee
totdat ek dit doen nie.”
Hy sug diep en vryf die agterkant van sy nek. “Ek kan nie sien dat dit
iets goeds kan voortbring nie, maar ek sal teruggaan, Here. Ek hou nie juis
van die idee nie, maar ek sal doen wat U vra.” Toe hy eindelik weer in die
bed klim, slaap hy vir die eerste keer in dae diep en sonder om te droom.
Die volgende oggend is dit ’n mooi dag buite. Michael laai die wa en
span die perde in.
Toe hy laat die middag by Pair-a-Dice inry, kyk hy op na Angel se
venster. Die gordyne is toe. ’n Spiertjie spring in sy kakebeen en ’n skerp
pyn brand in sy ingewande. Sy is seker besig om te werk.
Here, U het gesê ek moet u wil laat geskied, en ek probeer baie hard.
Moet dit dan so vreeslik seermaak? Ek het ’n vrou nodig, en ek het op u
keuse gewag. Waarom het U dít vir my gegee? Hoekom is ek terug in
hierdie kamp en kyk ek op na haar venster met my hart wat by my keel wil
uitspring? Sy wil niks van my af weet nie.
Met geboë skouers ry hy in Main Street af om al sy sake af te handel. Hy
het die goud nodig om bo by die trap van die Palace uit te kom. Hy hou
voor Hochschild se winkel stil, spring van die wa af en stap met lang treë
by die trap op. Daar is ’n nota teen die venster. Gesluit. Michael klop
nogtans hard aan die deur. Hochschild skree ’n string vloekwoorde van
binne wat enige geharde matroos sou laat skaam kry. Sy woede verdwyn toe
hy oopmaak.
“Michael! Waar was jy? Ek is al weke lank uit voorraad uit en daar is
geen teken van jou nie.” Ongeskeer, dronk en met sy hemp wat uithang,
kom Joseph uit om in die wa te gaan kyk. “’n Hele vrag. Dank die hemel.
Ek gee nie om of alles vol kewers en vrot is nie. Ek sal alles vat wat jy het.”
“Jy is die tipe man met wie ek graag besigheid doen,” sê Michael en
glimlag skeef. Hy stapel die kratte opmekaar en dra hulle twee-twee in. “Jy
lyk verskriklik. Is jy siek?”
“Te diep in die bottel gekyk. Is jy haastig? Het jy tyd om te gesels?”
“Nie dié keer nie.”
“Gaan jy weer alles wat ek jou gee by die Palace spandeer? Dis een van
ons mans se beproewings, nie waar nie? Hierdie behoefte aan ’n vrou.”
Michael se kakebeen verstyf. “Hoe weet jy so baie van my persoonlike
sake?”
“Dit was nie so moeilik nadat jy laas keer vier dae later steeds op die
dorp was nie.” Hochschild gee Michael een kyk, fluit geluidloos en
verander die onderwerp. “Hulle het goud getref so drie myl teen die rivier
op.” Hy vertel meer. “Met al daardie goudstof wat inkom, kan ek my pryse
verhoog.”
Michael sit die laaste krat hard op die toonbank neer. Angel se prys is
seker ook opgestoot.
Hochschild betaal hom. Hy krap sy grys wang. Michael is gewoonlik
geselserig, maar vandag is hy teruggetrokke. “Het jy al jou beeste gekry?”
“Nog nie.” Hy het al sy swaarverdiende goud daaraan bestee om Angel
verlede keer die hof te maak. Hy gooi sy goudstof in sy gordel.
“Daar is gerugte dat Angel vir ’n rukkie lank nie besigheid doen nie,” sê
Joseph.
Haar naam is al wat nodig is. Michael voel asof hy voor die bors geslaan
is. “Het sy vir haarself ’n ruskans verdien?”
Joseph se wenkbroue lig. Só ’n opmerking was glad nie soos wat
Michael gewoonlik is nie. Hy moes hard geval en erg seergekry het. Hy
skud sy kop. “Vergeet dat ek van haar gepraat het.”
Hy stap saam met Michael uit en kyk hoe hy op sy wa spring. “Die dorp
het laas Woensdag ’n predikant gekry. As jy lus is om hom te hoor, hy preek
by die Gold Nugget Saloon.”
Michael dink aan Angel. Hy tel die leisels op. “Ek sal jou oor ’n paar
weke sien.”
“Jy beter daardie perde ’n rukkie laat rus. Lyk asof jy hulle hard gedryf
het tot hier.
“Ek is juis nou op pad na die stalle.” Hy lig sy hoed en ry in Main Street
af. Dit gaan omkoop en mooipraat kos om Angel vanaand te sien. Hy los
die twee trekperde en wa by McPherson en gaan na die middedorp om ’n
kamer by die hotel oorkant die Palace te huur. Vir die eerste keer in sy lewe
is Michael lus om baie dronk te word. In plaas daarvan gaan stap hy eerder
’n lang ent. Hy het tyd nodig om sy emosies onder beheer te kry en te dink
oor wat hy vir haar gaan sê.
Teen skemer kom hy terug; sy gemoed glad nie kalmer nie. ’n Skare is
saamgedrom buite die Gold Nugget Saloon waar die nuwe predikant skree
oor die hede wat die eindtye in Openbaring is. Michael staan en luister op
die buiterand van die skare. Een keer kyk hy op na Angel se venster.
Iemand beweeg terug in die skadu’s in.
Hy behoort nou dadelik oor te stap en met Duchess reëlings te tref. Sy
hart klop vinniger en hy begin sweet deur net daaraan te dink. Hy sal nog ’n
rukkie wag.
Iemand raak aan sy rug. Hy draai om en sien ’n ouer vrou met
bloedbelope oë na hom opkyk. Haar hare is donker en krullerig en sy het ’n
laag gesnyde skrilgroen rok aan.
“Ek’s Lucky,” sê sy. “Angel se vriendin.” Sy is dronk en praat sleeptong.
“Het jou van oorkant die straat af gesien.” Sy knik in die Palace se rigting.
“Jy is mos die een, nie waar nie? Die een wat aangehou het om vir Angel te
vra dat sy saam met jou moet weggaan?”
Die woede skiet deur hom soos ’n veldbrand. “Wat het sy nog vir jou
vertel?”
“Moet jou nie vererg nie, meneer. Gaan vra haar net weer.”
“Het sy jou gevra om hierheen te kom?” Staan sy daar bo terwyl sy vir
hom van agter die gordyn lag?
“Nee.” Sy skud haar kop beslis. “Angel vra nooit vir iets nie.” Trane wel
in haar oë op, en sy vee haar neus aan haar tjalie af. “Sy weet nie eens ek
praat met jou nie.”
“Wel, dankie, Lucky, maar laas toe ek haar gesien het, kon sy nie wag
dat ek by daardie deur moes uitstap nie, en dit was baie duidelik dat sy
gehoop het ek kom nooit weer terug nie.”
Lucky kyk op na hom. “Kry haar daar uit, meneer. Selfs al gee jy nie
meer om nie, selfs al wil Angel nie. Kry haar net daar uit.”
Met skielike onrus gryp Michael haar aan die arm toe sy omdraai. “Wat
is fout met haar, Lucky? Wat probeer jy vir my sê?”
Lucky vee weer haar neus af. “Ek kan nie meer praat nie. Ek moet
teruggaan voordat Duchess agterkom ek is weg.” Sy stap oor die straat,
maar in plaas daarvan om voor in te gaan, sluip sy agter om.
Michael kyk op na Angel se venster. Iets is verkeerd. Báie verkeerd. Hy
loop met lang treë oor die straat en gaan by die swaaideure in. Behalwe vir
’n paar mans wat sit en drink en kaartspeel, is die plek byna heeltemal
verlate. Die lyfwag is nie onder by die trap om hom te keer nie. Die gang is
donker en stil. Te stil. ’n Man kom by Angel se kamer uit, en Duchess is by
hom. Sy sien Michael eerste raak.
“Wat maak jy hier? Niemand word hierbo toegelaat voor hulle my nie
betaal het nie!”
“Ek wil vir Angel sien.”
“Sy werk nie vandag nie.”
Hy kyk na die swart sak in die man se hand. “Wat is fout met haar?”
“Niks,” antwoord Duchess skril. “Angel vat net ’n paar dae af om te rus.
Maak nou dat jy wegkom.” Sy probeer hom voorkeer, maar Michael stoot
haar opsy en gaan by die kamer in.
Duchess gryp hom aan die arm. “Bly weg van haar af! Dok, keer hom!”
“Nee, mevrou, ek gaan nie.”
Michael stap tot by die bed en sien haar. “Liewe Here ... ”
“Dit was Magowan,” sê die dokter sag agter Michael.
“Dis nie my skuld nie!” sê Duchess en staan terug uit vrees vir dit wat sy
op Michael se gesig sien. “Dit is nie!”
“Sy’s reg,” sê die dokter. “As Duchess nie op daardie oomblik hier
ingekom het nie, sou hy haar seker doodgemaak het.”
“Sal jy nóú hier wegkom en haar uitlos?” sê Duchess.
“Ek sal gaan,” sê Michael. “En ek vat haar saam met my.”

Angel word wakker toe iemand aan haar raak. Duchess gaan weer tekere.
Angel smag na die donker. Sy wil niks voel nie, nooit weer nie, maar daar is
iemand, so naby dat sy die hitte van sy asem kan voel. “Ek gaan jou saam
met my huis toe vat,” sê die sagte stem.
“Jy wil haar huis toe vat? Ek sal haar vir jou in geskenkpapier toedraai,”
sê Duchess, “maar jy gaan eers betaal.”
“Vrou, het jy dan geen ordentlikheid nie?” ’n Ander man se stem. “Die
meisie sal gelukkig wees om te leef ... ”
“O, sy sal leef. En moet jy nie op my neersien nie! Ek kén vir Angel. Sy
sal dit oorleef. En hy kan haar nie verniet kry nie. Laat ek jou nog iets
vertel. Sy het dit oor haarself gebring. Die klein heks het presies geweet wat
sy doen. Sy het Bret te ver gedryf. Sy het my nog net probleme gegee
vandat ek haar die dag in San Francisco uit die modder opgetel het.”
“Jy sal jou goud kry,” sê die stem wat haar uit die donker gehaal het.
Maar nou is dit hard. Kwaad. Het sy weer iets verkeerd gedoen? “Maar
maak dat jy hier wegkom voor ek iets doen wat ek sal berou.”
Die deur klap toe. Die pyn ontplof in Angel se kop en sy steun. Sy kan
twee mans hoor praat. Die een praat met haar. “Ek wil met jou trou voor ons
saam vertrek.”
Met haar trou? Sy gee ’n kreunlaggie.
Iemand vat haar hand. Eers dink sy dis Lucky, maar Lucky se hand is sag
en klein. Hierdie een is groot en hard; die vel grof en vol eelte. “Sê net ja.”
Sy sal selfs instem om met die duiwel te trou as dit haar uit hierdie plek
sal kry. “Hoekom nie?” kry sy dit uit.
Sy dobber op ’n see van pyn en sagte stemme. Die kamer is vol mense.
Lucky is hier, en Dok, en die ander man wie se stem so bekend is, maar wat
sy steeds nie kan plaas nie. Sy voel hoe iemand ’n ring aan haar vinger sit.
Iemand lig haar kop ’n bietjie op en laat haar iets bitters drink.
Lucky vat haar hand. “Hulle span sy wa in sodat hy jou saam met hom
huis toe kan vat. Jy sal heelpad slaap ná die slaapmiddel wat jy nou net
gedrink het. Jy sal niks voel nie.” Sy voel hoe Lucky aan haar hare vat.
“Jy’s nou ’n gewone getroude vrou, Angel. Hy het ’n trouring aan ’n ketting
om sy nek gehad. Hy sê dit was sy ma s’n. Sy ma, Angel. Hy het sy ma se
trouring aan jou vinger gesteek. Kan jy my hoor, skatjie?”
Angel wil vra met wie dit is wat sy getrou het, maar wat maak dit tog
saak? Die pyn raak geleidelik effens beter. Sy is verskriklik moeg. Miskien
sal sy tog doodgaan. Dan sal dit alles oor wees.
Sy hoor hoe ’n bottel teen ’n glas klink. Lucky is al weer aan die drink.
Angel kan hoor sy huil. Sy druk Lucky se hand swak. Lucky druk terug en
snik saggies. “Angel.” Sy vryf haar hare. “Wat het jy gesê wat Bret dit aan
jou laat doen het? Wou jy hê hy moes jou doodmaak? Is die lewe regtig só
sleg?” Sy streel nog steeds haar hare. “Byt vas, Angel. Moenie moed opgee
nie.”
Angel sink weer weg in die gemaklike donkerte terwyl Lucky voortklets.
“Ek gaan jou mis, Angel. Sal jy af en toe aan my dink wanneer jy in jou
huis met die rankrose reg rondom bly? Onthou jou ou vriendin, Lucky.”
Sewe

Ek sterf van die dors


langs die kant van die fontein.
Charles D’Orleans

Angel word stadig wakker met die wonderlike geur van goeie kookkos. Sy
probeer regop sit, maar krimp ineen van die pyn. “Stadig nou,” sê ’n man se
stem, en ’n sterk arm glip onder haar skouers in en lig haar sagkens regop.
Sy voel hoe iets agter haar gesit word om haar rug en kop te ondersteun.
“Die duiseligheid sal verbygaan.”
Haar oë is amper heeltemal toegeswel, en sy kan vaagweg ’n man in lang
stewels, ’n oorpak en ’n rooi hemp uitmaak. Hy staan gebukkend oor die
vuur en roer in ’n groot ysterpot.
Die oggendlig stroom deur ’n venster voor haar. Die lig maak haar oë
seer. Sy is in ’n hut nie veel groter as haar kamer by die Palace nie. Die
vloer is van houtplanke; die vuurherd van bont klip. Behalwe vir die bed
kan sy die onduidelike buitelyne van ’n tafel, vier volgepakte rakke, ’n stoel
van wilgerhout, ’n laaikas en ’n groot swart trommel met komberse bo-op
gestapel, sien.
Die man kom terug en gaan sit op die punt van die bed. “Sien jy kans om
iets te eet, Mara?”
Mara.
Sy vries. Stukkies begin terugkom ... Magowan se slanery, stemme oral
om haar, iemand wat haar vra ...
Haar hart slaan wild in haar bors. Sy voel aan haar vingers – daar is ’n
ring aan een. Die geklop in haar kop vererger. Sy vloek saggies. Van al die
mans in die wêreld moes dit nou juis hý wees.
“Dis wildspastei. Jy is seker honger.”
Sy maak haar mond oop om vir hom te sê waar hy dit moet neersit, maar
die pyn skiet in haar kakebeen op sodat sy niks kan sê nie. Hosea staan op
en gaan terug na die vuur toe. Hy kom sit weer met ’n bakkie en ’n lepel. Sy
kan sien hy is van plan om haar te voer. Sy sê iets leliks en probeer haar kop
wegdraai, maar selfs daardie eenvoudige beweging is vir haar te veel.
“Ek is bly jy voel beter,” sê hy droog. Sy pers haar lippe opmekaar en
weier om te eet. Haar verraaier van ’n maag knor. “Gee die wolf in jou
maag kos, Mara. Daarna kan jy die een aanvat wat jy dink voor jou deur
staan.”
Sy gee in. Sy is dood van die honger. Die dun pap van vleis en groente
wat hy haar met ’n lepel voer, is lekkerder as enigiets wat Henri ooit
gemaak het. Die geklop in haar kop verminder. Haar kakebeen pyn
verskriklik; haar arm is in iets soos ’n hangverband.
“Jou skouer is uit lit uit,” sê Michael. “Jy het vier gebreekte ribbes, ’n
gekraakte sleutelbeen en harsingskudding. Dok weet nie of jy dalk
inwendige beserings ook opgedoen het nie.”
Die sweet tap van haar gesig af weens die inspanning om regop te sit. Sy
praat stadig en stywerig. “So, jy het my uiteindelik gekry. Gelukkige jy. Is
dit jou huis?”
“Ja.”
“Hoe het ek hier gekom?”
“In my wa. Joseph het my gehelp om ’n hangmat te maak sodat ek jou
uit die Palace kon kry.”
Sy kyk af na die eenvoudige goue troupand aan haar vinger en bal haar
vuis. “Hoe ver is ek van Pair-a-Dice af?”
“’n Leeftyd.”
“In myle.”
“Dertig. Ons is noordwes van Nieu-Helvesië.” Hy bied weer vir haar die
lepel aan. “Eet iets. Jy moet ’n bietjie gewig aansit.”
“Nie genoeg vleis aan my bene om jou te behaag nie?”
Michael reageer nie.
Angel weet nie of haar sarkasme hom raak of nie. Effens te laat besef sy
dat sy hom dalk kan kwaad maak en dat nou nie die beste tyd is om dit te
doen nie. Sy sluk nog ’n bietjie sop en probeer om nie te wys hoe bang sy is
nie. Hy gaan terug na die ysterpot en maak weer die bakkie vol. Hy gaan sit
by ’n klein tafeltjie en eet.
“Hoe lank is ek al hier?” vra sy.
“Drie dae.”
“Drie dae?”
“Jy het die meeste van die tyd geyl. Jou koors het eers gistermiddag
gebreek. Kan jy enigiets onthou?”
“Nee.” Sy probeer ook nie. “Ek veronderstel ek moet jou bedank omdat
jy my lewe gered het?” sê sy bitter. Hy eet in stilte verder. “So, wat gaan dit
wees, meneer?”
“Wat bedoel jy?”
“Wat wil jy van my hê?”
“Vir eers niks nie.”
“Net geselskap, nè?”
Hy kyk nou na haar, en sy voel ongemaklik voor sy kalmte. Hy staan op
en kom na haar toe. Haar hart klop vinnig. “Ek gaan jou nie seermaak nie,
Mara,” sê hy. “Ek is lief vir jou.”
Dis nie die eerste keer dat ’n man sê hy het haar lief nie. “Ek voel
gevlei,” sê sy droog. Toe hy niks verder sê nie, klou sy die kombers in haar
vuis vas. “Terloops, my naam is nie Mara nie. Dis Angel. Jy behoort ten
minste die naam reg te kry as jy die ring aan my vinger gaan steek.”
“Jy het gesê ek kan jou noem net wat ek wil.”
Mans het haar al baie ander name as Angel genoem. Party mooi. Party
minder mooi. Maar sy wil nie hê hierdie man moet haar enigiets anders as
Angel noem nie. Dis met wie hy getrou het. Angel. En Angel is al wat hy
gaan kry.
“Die naam Mara kom uit die Bybel,” sê hy. “Uit die boek Rut.”
“En aangesien jy ’n man is wat die Bybel lees, reken jy die naam Angel
is te goed vir my.”
“Goed het niks daarmee te doen nie. Angel is nie jou regte naam nie.”
“Angel ís wie ek is.”
Sy gesig verhard. “Angel was ’n prostituut in Pair-a-Dice, en sy bestaan
nie meer nie.”
“Niks is enigsins anders as vroeër nie, wat jy my ook al noem.”
Michael gaan sit op die rand van die bed. “Alles het verander,” sê hy. “Jy
is nou my vrou.”
Sy is so swak dat sy bewe, maar sy baklei terug. “Dink jy regtig dit maak
’n verskil? Hoe? Jy het vir my betaal, net soos jy nog altyd het.”
“Om Duchess te betaal, het na die vinnigste manier gelyk om van haar
ontslae te raak. Ek het nie gedink jy sal omgee nie.”
“O, ek gee nie om nie.” Haar kop klop.
“Jy moet eerder weer lê.”
Sy het nie die krag om haar teë te sit toe hy sy arm om haar sit en die
kussings agter haar rug uithaal nie. Sy voel sy hand, grof, vol eelte en warm
teen haar kaal vel toe hy haar laat teruglê.
“Moenie jouself ooreis nie,” sê hy en trek die kombers oor haar.
Sy probeer mooi na sy gesig kyk, maar kan nie. “Ek hoop jy gee nie om
om te wag nie. Ek is nie juis daartoe in staat om nou dadelik my
dankbaarheid vir jou te wys nie.”
Sy kan die glimlag in sy antwoord hoor. “Ek is ’n geduldige man.”
Sy vingerpunte streel liggies oor haar klam voorkop. “Ek moes jou nie so
lank laat regop sit het nie. Jy is nie sterk genoeg vir meer as ’n paar minute
op ’n slag nie.” Sy wil teëstribbel, maar weet dis nutteloos. Hy weet seker
sy verduur erge pyn. “Wat pyn die meeste?”
“Niks waaraan ek wil hê jy moet raak nie.”
Sy sluit haar oë en wens sy kan doodgaan sodat die pyn kan ophou. Hy
raak aan haar slape, en sy trek haar asem diep in.
“Ontspan.” Sy liefkosing is nóg verkennend nóg intiem, en sy ontspan
effens. “Terloops,” sê hy, “my naam is Michael. Michael Hosea. Net in
geval jy nie kon onthou nie.”
“Ek kon nie,” jok sy.
“Michael. Dis nie so moeilik om te onthou nie.”
“As ’n mens wil.”
Hy lag saggies. Sy weet sy het hom daardie laaste nag by die bordeel
ontstel. Hoekom het hy haar saam met hom weggevat van Pair-a-Dice af?
Toe hy by die deur uit is, het sy nie verwag om hom ooit weer te sien nie.
Hoekom het hy teruggekom? Watter nut het sy vir hom in háár toestand?
“Jy raak weer gespanne. Ontspan die spiere in jou voorkop,” sê hy.
“Komaan, Mara. Dink daaroor as jy dan aan iets moet dink.”
“Hoekom het jy teruggekom?”
“God het my gestuur.”
Hy is mal. Dis wat dit is. Hy is so mal soos ’n haas.
“Probeer om nie so baie te dink nie. Daar is ’n kokkewiet buite die
venster. Luister na hom.”
Sy hande werk so sagkens. Sy maak soos hy sê, en die pyn bedaar ’n
bietjie. Hy praat saggies met haar, en sy raak lomerig. Sy het al hoeveel
manstemme in haar lewe gehoor, maar nie een soos dié nie. Diep, kalm,
gerusstellend.
Sy is so moeg sy wil net doodgaan en vir ewig slaap. Sy kan amper nie
eens haar oë oophou nie. “Jy en God moet eerder nie veel verwag nie,”
mompel sy.
“Ek wil alles hê.”
“Jou gesanik.” Hy kan hoop so al wat hy kan, en hy kan vra ook. Maar al
wat hy gaan kry, is wat oor is. Niks. Heeltemal niks.
Agt

Al soek ’n spotter na wysheid, sal hy dit nooit kry nie.


Spreuke 14:6

Angel gee glad nie om of sy ooit weer opstaan nie. ’n Stil donkerte lê nog
swaar oor haar. Sy het ’n uitweg gesien om ’n einde aan haar aaklige lewe
te maak en het in ’n oomblik van desperaatheid daarna uitgereik. En weer
misluk. In plaas daarvan om die vrede te vind waarna sy so smag, het sy
pyn gevind. In plaas daarvan om vry te wees, is sy nou maar net weer
gebind aan ’n ander man.
Hoekom kan sy niks reg doen nie? Hoekom loop al haar planne skeef?
Hosea is die een man wat sy die graagste wou vermy, en nou besit hy
haar. Sy het nie krag om teen hom te baklei nie. Nog erger, sy is van hom
afhanklik vir kos, water, ’n blyplek – álles. Haar totale afhanklikheid van
hom skaaf haar stukkend. En sy haat hom selfs meer daaroor.
As Hosea ’n gewone man was, sou sy weet hoe om hom te hanteer, maar
hy is nie. Niks wat sy sê, ontstel hom nie. Hy is ’n granietberg. Sy kan hom
nie seermaak nie. Sy stil vasberadenheid ontsenu haar. Daar is nou iets
omtrent hom wat sy nie kan beskryf nie. Hy het ’n slag gesê hy het baie van
haar geleer tydens haar koors, maar hy het nie gesê wat nie. Sy is
bekommerd oor die “alles” wat hy wil hê. Elke oomblik wat sy wakker is, is
hy daar. Sy wens hy wil haar net alleen los.
Angel voel al hoe meer in ’n strik vasgevang. Dié keer is sy nie in ’n
deftige huis nie. Sy is nie in ’n verrotte tent gemaak van ’n skip se seile nie,
of ’n tweeverdiepingbordeel nie, maar dit is nogtans ’n strik, en hierdie mal
mens het die sleutel.
Wat wil hy van haar hê? En hoekom kry sy die vreemde gevoel dat hy
gevaarliker is as al die ander mans wat sy al ooit geken het?
Ná ’n week los Michael haar vir ’n paar uur op ’n slag alleen in die hut
om te gaan werk. Sy weet nie wat hy doen nie, en sy vra ook nie. Sy gee nie
om nie. Sy is verlig hy kloek nie meer al om haar rond en vee haar voorkop
af en voer haar sop met ’n lepel nie. Sy wil op haar eie wees. Sy wil dink,
en sy kan dit nie doen as hy die hele tyd by haar is nie.
Die alleenheid waarna sy so gesmag het, raak later eensaamheid en dink
is al wat sy doen. Dit reën, en sy luister na die gedrup op die dak ... en dit
laat haar dink aan die gehuggie by die dokke en Mamma en Rab. Die
herinnering aan Rab laat haar aan Duke dink, en Duke laat haar aan al die
ander dink tot sy dink sy gaan van haar kop af raak. Miskien moet sy ook
maar met God begin gesels soos hierdie mal man wat sy ma se trouring aan
haar vinger gesteek het.
Hoekom het hy dit gedoen? Hoekom het hy met haar getrou?
Dan, skielik, staan hy in die deur. Groot, sterk, stil en met daardie
uitdrukking in sy oë waarmee hy na haar kyk. Sy wil hom ignoreer, maar sy
teenwoordigheid vul die hut. Selfs wanneer hy doodstil voor die vuur sit
met dieselfde ou verweerde boek, neem hy die hele plek oor. En daarmee
saam neem hy haar oor. Selfs wanneer sy haar oë toemaak, sien sy hom
daar. Hy sit op ’n stoel voor die vuur, binne-in haar kop.
Sy verstaan hom nou glad nie beter as by die bordeel nie, maar hy het op
’n manier verander. Hy is anders. Hy praat nie meer so baie nie. Om die
waarheid te sê, hy praat baie min. Hy glimlag net vir haar en vra hoe sy
voel en of sy enigiets nodig het en doen dan sy eie ding, wat dit ook al is
wat hy doen. Dag ná dag sien sy hoe hy sy hoed opsit en weet hy gaan haar
weer alleen los.
“Meneer,” sê sy, vasbeslote om hom nooit op sy naam te noem nie,
“hoekom het jy my hierheen gebring as al wat jy gaan doen, is om my
alleen in hierdie hut te los?”
“Ek gee jou tyd om te dink.”
“Te dink oor wat?”
“Wat dit ook al is waaroor jy moet dink. Jy sal opstaan wanneer jy reg
is.” Hy vat sy hoed van die haak af by die deur en loop uit.
Die oggendsonlig stroom by die oop venster in. ’n Vuur brand in die
herd. Haar maag is vol en sy is lekker warm. Sy behoort tevrede te wees. Sy
behoort te kan ontspan en terug te lê en aan niks te dink nie. Die
afsondering behoort genoeg te wees.
Wat is fout met haar?
Miskien is dit die stilte. Sy is so gewoond aan geluide wat haar van alle
kante aanval. Mans wat aan deure klop, mans wat vir haar sê wat hulle wil
hê. Mans wat vir haar voorsê wat sy moet doen. Mans wat skree, mans wat
sing en in die kroeg onder haar op mekaar vloek. Partykeer is stoele teen die
mure stukkend gegooi en glase gebreek. En altyd Duchess wat vir haar
vertel hoe dankbaar sy behoort te wees. Of Magowan wat vir iemand kom
sê sy tyd is om en as hy nie sy broek aantrek en die pad vat nie, hy dit sal
berou. Maar sy het nog nooit hierdie rustigheid geken nie; hierdie
oorverdowende stilte nie.
Sy kla.
“Daar’s baie klanke,” sê Hosea. “Luister net daarna.”
Met niks anders om haar mee besig te hou nie, doen sy dit. En hy is reg.
Die stilte verander, en sy kan geluide hoor deurbreek. Dis soos die reën
destyds toe sy die blink blikkies in die donker gehuggie uitgepak het. Sy
begin stemme uitken in die koor om haar. ’n Kriek bly onder haar bed; ’n
brulpadda net buite die venster. ’n Menigte geveerde vriende kom en gaan
buite: rooiborsies, mossies en ’n lawaaierige spotvoël.
Uiteindelik staan Angel op haar eie voete.
Sy soek na iets om aan te trek, maar kry niks. Sy het tot nou toe nie besef
dat niks in die hut aan haar behoort nie. Niks van haar eie goed is hier nie.
Waar is dit? Het hy nie eens daaraan gedink om dit saam te bring nie? Wat
moet sy dra? ’n Krapperige goiingsak?
Dit lyk nie asof hy self veel besit nie. Die klein laaikassie het net ’n
ekstra verslete lang onderbroek, ’n oorpak en ’n klompie dik sokkies in –
alles heeltemal te groot vir haar. Daar is ’n ou verweerde swart trommel in
die hoek, maar sy is te moeg om dit oop te maak en daardeur te snuffel.
Kaal, en te swak om ’n kombers van die bed te trek om om haar lyf te draai,
gaan leun sy op die vensterbank en teug die vars, koue lug in.
’n Swerm voëltjies fladder van tak tot tak in ’n groot boom. ’n Groter
voël loop spoggerig na die grond en pik niks meer as ses voet van die hut af
nie. Hy is so astrant dat sy glimlag. ’n Ligte briesie waai by die venster in
en daarmee saam ’n geur so ryk dat sy dit byna kan proe. Die weiveld naby
Mamma se kothuis het net so geruik. Sy sluit haar oë en drink dit in.
Toe sy haar oë oopmaak, tuur sy oor die uitgestrekte stuk land. “O,
Mamma,” fluister sy en haar keel word dik. Die swakheid kruip in haar
bene op en haar ribbes begin weer pyn. Sy bewe en voel lighoofdig.
Michael kom by die deur in en toe hy haar kaal by die oop venster sien
staan, gaan haal hy sonder om ’n woord te sê ’n laslappiekombers van die
bed af. Hy gooi dit om haar en sy buig onder die gewig. Hy tel haar
versigtig op.
“Hoe lank is jy al op?”
“Nie lank genoeg om weer in die bed gesit te word nie.” Hy hou haar
soos ’n kind in sy arms, en dit hitte van sy liggaam maak haar ook warm.
Hy ruik na die aarde en die son. “Jy kan my nou weer neersit, maar nie in
die bed nie. Ek het my lewe in die bed deurgebring, ek is moeg daarvoor.”
Michael glimlag. Sy gaan nie halwe werk doen nie, ook nie om weer op
die been te kom nie. Hy sit haar op die stoel voor die vuur neer en gooi nog
’n stomp op.
Die pyn skiet in haar sye op. Sy gryp die stoel se leunings vas en kan
elke plekkie voel waar Magowan haar geskop en geslaan het. Hy het nie
veel gemis nie. Sy voel versigtig aan haar gesig en frons. “Het jy ’n spieël?”
Michael hou die blink blikkie wat hy gebruik wanneer hy skeer, na haar
uit. Sy staar verskrik na haar gesig. Ná ’n lang ruk gee sy die blikkie terug,
en hy sit dit terug op die rak.
“Hoeveel het jy vir my betaal?”
“Alles wat ek by my gehad het.”
Sy lag swak. “Meneer, jy is ’n idioot.” Hoe kan hy selfs na haar kyk soos
sy nou lyk?
“Daar is geen permanente skade nie.”
“Nie? Wel, ten minste het ek nog al my tande. Dis seker iets.”
“Ek het nie met jou getrou omdat jy mooi is nie.”
“Natuurlike nie. Jy het met my getrou oor my fantastiese persoonlikheid.
Of het God vir jou gesê jy moet dit doen?”
“Miskien het Hy gedink die horings op jou kop sal in die gate in my kop
pas.”
Angel lê met haar kop terug. “Ek het geweet jy is mal die eerste keer toe
ek jou gesien het.” Sy is tot die dood toe moeg en dink aan hoeveel
gemakliker sy sal wees wanneer sy weer op haar rug op daardie
strooimatras lê. Sy kan dalk op haar voete kom, maar een tree en sy gaan
weer haar neus breek, reg hier op die plankvloer.
Michael kom nader en tel haar versigtig op ten spyte daarvan dat sy
protesteer.
“Meneer, ek het gesê ek wil nie nou al weer gaan lê nie.”
“Goed, sit dan regop in die bed.”
“Wat het van al my goed geword?”
“Ek het dit vergeet. In elk geval, jou goed sal nie meer by jou pas nie. ’n
Boer se vrou dra nie satyn en kant nie.”
“Nee, ek veronderstel sy trippel kaal op en af tussen die rye boontjies en
wortels.”
Hy grinnik, sy oë vol humor. “Dit kan nogal interessant wees.”
Angel kan sien hoekom Rebecca so betower is deur hom, maar ’n mooi
voorkoms maak geen verskil aan haar nie. Duke was ’n aantreklike man. ’n
Charismatiese bekoorder. “Kyk,” sê sy styf. “Ek wil op my eie begin
opstaan. Mét iets aan my lyf.”
“Ek sal jou gee wat jy nodig het wanneer jy dit nodig het.”
“Ek het dit nóú nodig.”
Hy trek ’n skewe mond. “Dit lyk so,” sê hy gemaak kalm. Hy loop na die
verweerde ou trommel en maak dit oop. Hy haal ’n bondel uit en bring dit
na haar. “Jy sal vir ’n rukkie hiermee moet klaarkom.” Sy maak die bondel
nuuskierig los. Die grys wol val uitmekaar en sy besef dis ’n verslete
mantel. Binne-in is twee linnewolrompe – een ’n dowwe bruin, die ander
swart; twee bloese – een wat seker op sy dag wit was maar nou byna geel is
– en die ander een met dowwe blou en pienk blomme. Albei sal tot onder
haar ken toeknoop en die moue is lank genoeg om oor haar polse te gaan.
Twee hoede pas by die bloese. Binne-in is twee eenvoudige kamisole, lang
damesbroeke en gestopte swart wolkouse. Laastens is daar twee swart
afgeloopte toerygskoene.
Sy kan haar oë nie glo nie. “Ek sal jou vir ewig dankbaar wees vir
hierdie goedhartigheid,” sê sy sarkasties.
“Ek weet dis nie heeltemal waaraan jy gewoond is nie, maar ek dink jy
sal sien dat hierdie goed jou beter pas as enigiets anders wat jy voorheen
gedra het.”
“Ek sal probeer om jou woord hiervoor te neem.” Sy streel met haar
vingers oor die linnewol.
Hy glimlag effens. “Oor nog ’n week of twee sal jy ’n paar takies kan
begin doen.”
Sy lig haar kop, maar hy is reeds besig om by die deur uit te stap.
Takies? Watter takies het hy in gedagte? Koeie melk? Kook? Miskien
verwag hy sy moet hout kap en dit saam met die water van die spruit af
aandra. En sy klere! Hy verwag seker sy moet was en stryk. Wat ’n grap! Sy
kan een ding goed doen en niks anders nie. Hy gaan wreed ontnugter word
wanneer sy takies begin doen.
Hy kom in met arms vol brandhout.
“Meneer, ek het geen idee wat ’n boervrou doen nie.”
Hy pak die hout netjies. “Ek het nie verwag dat jy sal weet nie.”
“Watter tipe takies het jy dan in gedagte?”
“Kook, wasgoed, strykwerk, tuinmaak.”
“Ek het dan nou net gesê ... ”
“Jy’s slim. Jy sal leer.” Hy gooi nog ’n stomp op die vuur. “Jy sal nie
regtig hard hoef te werk voor jy nie heeltemal reg is nie, wat nog minstens
’n maand sal neem.”
Regtig hard werk? Wat bedoel hy? Sy besluit om ’n ander rigting in te
slaan. Haar mondhoeke krul in ’n goed geoefende glimlag. “Wat van die
ánder vroulike pligte?”
Michael kyk terug na haar. “Sodra dit vir jou meer as werk beteken, sal
ons die huwelik volvoer.”
Sy reguit manier verras haar. Wat het geword van die boer wat bloos en
opspring wanneer sy aan hom raak? Ontsenu kruip sy terug in haar dop van
woede. “Goed, meneer. Ek sal doen wat jy ook al goeddink. Ek sal elke uur,
elke dag vandat jy my begin versorg het, terugwerk.”
“En wanneer jy dink ons is gelyk, gaan jy die pad vat. Is dit waaroor dit
gaan?”
“Ek gaan terug Pair-a-Dice toe om te gaan haal wat Duchess my skuld.”
“Nee, jy gaan nie,” sê hy saggies.
“Ja, ek gaan.” Sy sal haar geld uit Duchess kry, al moet sy dit ook uit die
ou dierasie se wegsteekplek vat. Dan sal sy iemand huur om vir haar ’n hut
net soos dié een te bou, ver genoeg buite die dorp sodat sy nie die geraas
kan hoor en die stank kan ruik nie, maar naby genoeg om die voorrade wat
sy nodig het te kan kry. Sy sal ’n geweer koop. ’n Groot geweer en baie
koeëls. En as enige man dit durf waag om aan haar deur te kom klop, sal sy
dit gebruik. Tensy sy geld nodig het. Dan sal sy hom eers moet laat inkom
om besigheid te doen. Maar as sy versigtig en slim is, kan sy vir ’n lang tyd
lewe met dit wat sy reeds verdien het. Sy kan nie meer wag nie. Sy het nog
nooit heeltemal op haar eie gewoon nie, en dit gaan hemels wees.
Jy was vir ’n hele week alleen, spot ’n stemmetjie diep binne-in haar, en
jy was sielsongelukkig, onthou jy? Erken dit maar, om alleen te wees, is
glad nie so hemels nie. Nie wanneer jy soveel duiwels het wat jou geselskap
hou nie.
“Jy het dalk ’n klomp goudstof vir my betaal, meneer, maar jy besit my
nie.”
Michael bekyk haar geduldig. Sy is klein en swak, maar het ’n wil van
staal. Dit straal uit haar uitdagende blou oë en onbuigsame houding. Sy
dink sy kan hom ore aansit, maar sy is verkeerd. Hy is besig om God se wil
te laat geskied, en hy het sy eie planne. Planne wat aanhou groei, maar hy
het vir eers genoeg gesê. Laat haar ’n bietjie daaroor nadink.
“Jy is reg,” sê hy. “Ek besit jou nie, maar jy gaan nie hiervan wegvlug
nie.”
Hulle eet in teenoorgestelde kante van die hut. Sy op die bed met haar
bord op haar skoot, en hy by die tafel. Die enigste geluid in die hut is die
knetterende vuur.
Angel sit haar bord op die bedkassie. Sy bewe verskriklik, maar is
vasbeslote om nie te lê nie. Sy bekyk hom. Die een of ander tyd sal sy hom
verstaan. Hy is ’n man, nie waar nie? Hy kan nie te gekompliseerd wees
nie. Sy sal hom stukkie vir stukkie ontsyfer.
“Hulle het almal swakplekke, hartjie,” het Sally haar vertel. “Jy moet net
hul boodskappe ontsyfer en uitvind wat dit is wat hulle van jou wil hê.
Solank jy hulle tevrede hou, sal dit baie goed met jou gaan. Andersins raak
hulle gemeen.”
Soos Duke wanneer sy hom teëgegaan het. Angel het alles van Duke
geweet ná die eerste nag. Hy het van mag gehou. Hy wou onmiddellike
onderdanigheid hê. Dit het nie saak gemaak of sy hou van wat hy wil hê
nie, solank sy dit net gedoen het. Met ’n glimlag. Enige huiwering het haar
daardie koue, donker kyk gegee; teëstribbeling, ’n klap; uittarting, brute
krag. Haar weglopery het vir haar brandwonde van sy sigaar op die hals
gehaal. Teen die tyd dat hy moeg was om haar vir homself te hou, het sy
een belangrike les geleer: om voor te gee. Dit maak nie saak wat sy voel nie
– hoe bang, gewalg of kwaad nie – gee voor jy geniet wat die mans ook al
wil hê en waarvoor hulle betaal het. En as sy nie kon voorgee dat sy dit
geniet nie, moes sy maak asof sy nie omgee nie. Sy het baie goed geword
hiermee.
Sally het verstaan, maar Sally het haar eie reëls gehad.
“Die geluk het teen jou gedraai toe daardie dronklap jou hierheen
gebring het. Aan die ander kant, miskien nie. Aangesien jou ma ook ’n
prostituut was, is die kanse skraal dat enigiemand van die bodorp jou sal wil
hê, al is jy hoe mooi. Hoe dit ook al kon wees, dit is wat dit nou is, Angel.
En dis waar jy gaan bly.”
Sy het met haar hande aan Angel se ken gevat en haar gedwing om op te
kyk. “En ek wil ná vandag nooit weer daardie uitdrukking op jou gesig sien
nie. Wat jy ook al voel, leer om dit vir jouself te hou. Verstaan jy? Ons het
almal ons eie hartverskeurende verhale om te vertel, party erger as joune. Jy
leer hoe om ’n man te lees, gee hom waarvoor hy betaal het en stuur hom
met ’n glimlag weg. As jy dit doen, sal ek jou behandel soos die ma wat jy
verloor het. Doen jy dit nie, sal jy dink jou tyd saam met Duke was
hemels.”
Sally het haar woord gehou, en Angel het alles omtrent mans geleer wat
sy ooit wou. Party weet wat hulle wil hê; party dink net hulle weet. Party sê
een ding en bedoel iets anders. Party het moed gehad. Meer van hulle is
vermetel. Maar maak nie saak wat nie, dit kom alles op dieselfde ding neer.
Hulle gee hul geld vir ’n stuk van haar. In die begin stukkie vir stukkie. Ná
’n rukkie druppeltjie vir druppeltjie. Die enigste verskil was of hulle die
geld stilletjies onder die syonderklere op die bed se voetenent insteek of
haar reguit in die oë kyk en dit in haar handpalm sit. Sy kyk na Michael
Hosea. Watter soort man is hy?
Sy vroetel met die gehawende klere en byt op haar lip. Miskien wil hy sy
kopie in linnewol toegedraai hê sodat hy dit nie van naby hoef te beskou
nie. Miskien wil hy dit nie sien vir wat dit is nie. Geen lantern nie, asseblief,
en hou die ring aan jou vinger sodat ons kan voorgee dit is reg. Dan hoef ek
nie te dink wat ek doen, is onsedelik nie. Sy kan selfs voorgee sy is ’n
maagd. Sy kan selfs maak asof sy dankbaar is, as dit sou nodig wees. O ja,
baie dankie dat jy my gered het. Sy kan enige speletjie speel, solank sy weet
dit hoef net ’n klein rukkie aan te hou.
Jesus. God. Ek is só moeg van voorgee. Ek is moeg daarvan om so te
lewe. Hoekom kan ek nie net my oë toemaak en doodgaan nie?
“Ek het genoeg gehad,” sê sy toe sy haar bord op die bedkassie sit. Meer
as genoeg.
Michael het haar die hele tyd dopgehou. “Ek sal jou niks meer gee as wat
jy kan hanteer nie.”
Angel kyk na hom en weet hy praat nie van takies nie. “En wat van jou,
meneer? Dink jy jy kan dit wat ek vir jou gaan gee, hanteer?”
“Toets my.”
Angel kyk hoe hy sy aandete eet. Niks bekommer hom nie. Alles aan
hom sê vir haar dat hy weet wie en wat hy is, selfs al weet sy dit nie. En sy
weet as sy nie vinnig gesond word en maak dat sy hier wegkom nie, sal hy
haar stukkie vir stukkie uitmekaar trek.

Die oomblik toe Hosea die volgende oggend by die deur uitstap, trek Angel
aan. Sy trek die kamisool aan en maak die uitgerafelde strikkies vas. Die
materiaal is so dik dat niks wys nie. Dit bedek haar geheel en al. Sy het nog
nooit iets so eenvoudigs, so ongekunsteld ... so goedkoop gedra nie.
Wie het hierdie goed voor haar gedra? Wat het van haar geword? Te
oordeel aan die klere was die vrou sedig en hardwerkend – net soos daardie
vroue wat anderpad gekyk het wanneer hulle Mamma sien aankom het.
Angel kry die knoophakie in die linkerstewel en trek die skoene aan.
Hulle pas seker goed genoeg om oor die weg mee te kom. Michael kom
terug, en sy kyk op na hom. Sy lig haar een wenkbrou. “Ek dog jy sê jy was
nooit getroud nie.”
“Daardie goed was my suster, Tessie, s’n. Sy en haar man, Paul, het
saam met my weswaarts gekom. Sy is dood aan koors op die Groenrivier.”
Dit bring seer herinneringe soos wat hy terugdink aan hoe hulle Tessie in
die middel van die pad hierheen begrawe het. Elke wa het oor haar graf
gery sodat daar geen teken kon agterbly nie. Hy en Paul wou nie hê die
Indiane of wilde diere moet haar uitgrawe nie.
Hy kan steeds nie daarmee vrede maak dat hulle sy geliefde jong sussie
so moes begrawe nie: sonder ’n steen of ’n kruis om die plek te merk nie.
Tessie het meer verdien.
“Wat het van haar man geword? Is hy ook dood?”
Hy trek sy jas uit. “Sy grond lê braak aan die voet van die vallei. Hy
soek goud op die Yuba. Paul kon nog nooit lank met een ding besig bly
nie.” Sy liefde vir Tessie het hom vir ’n rukkie op die smal paadjie gehou,
maar ná haar dood het hy weer wild geraak.
Angel glimlag hartseer. “So, jou swaer is een van die talle wat die strome
van Kalifornië verkrag – en enigiets anders waarop hulle hul hande kan lê.”
Michael draai om en kyk na haar.
Angel voel sy blik op haar en weet wat hy dink.
“As hy ’n man is en hy’s op die Yuba, het hy tien teen een die Palace
besoek.” Sy kan sien haar raaiskoot is in die kol. Sy trek haar skouers
gevoelloos op en maak hom nog seerder. “Ek kan nie sê of hy ooit in my
kamer beland het nie. Beskryf hom vir my, miskien onthou ek hom.”
Haar woorde is hard en koud, maar sy kan Michael nie flous nie. Sy
probeer haar bes om hom weg te stoot. Hy wonder hoekom.
Sy stilte ontsenu haar. “Jy hoef jou nie te bekommer oor of hy my ken of
nie. Ek sal weg wees voor hy terugkom.”
“Jy sal net hier by my wees, waar jy hoort.”
Sy glimlag afsydig. “Die een of ander tyd sal ’n wavrag vol maagde hier
opdaag, almal respektabel in hul stowwerige, verweerde linnewol. Dan sal
jy tot jou sinne kom. Min of meer dieselfde tyd wanneer jy moet sê:
Ontmoet my vrou; ek het haar by ’n bordeel in Pair-a-Dice gekoop in
1851.”
“Dit maak nie saak wie hierheen kom nie. Ek het met jou getrou.”
“Wel, dit kan maklik genoeg reggemaak word.” Sy gly die trouring van
haar vinger af. “Sien? Ons is nie meer getroud nie.” Sy hou dit in haar hand
na hom toe uit. “Dis hoe maklik dit is.”
Michael kyk ondersoekend na haar. Glo sy regtig dis so maklik? Haal net
die ring af en die huwelik is tot niet, en alles gaan aan soos voorheen? “Dis
waar jy verkeerd is, Mara. Ons is steeds getroud, of jy nou die ring dra of
nie. Maar ek wil nogtans hê jy moet dit aanhou.”
Sy frons effens en maak soos hy sê. Sy draai die ring om haar vinger.
“Lucky het gesê dit het aan jou ma behoort.”
“Dit het.”
Sy laat haar hande langs haar sye val. “Sê maar net wanneer jy dit wil
terughê.”
“Dit sal nie gebeur nie.”
Sy sit haar hande op haar skoot en kyk ongeërg na hom. “Nes jy wil,
meneer.”
Dit maak hom kwaad. “Ek haat daardie frase. Nes jy wil. Asof jy my ’n
koppie koffie aanbied.” Nes jy wil. Sy bied haar liggaam op dieselfde
manier aan. “Laat ons mekaar nou mooi verstaan. Ek het met jou getrou om
getrou te bly in voorspoed en teëspoed, tot die dood ons skei. Ek het
beloftes voor God gedoen toe ek met jou getrou het, en ek gaan dit nooit
verbreek nie.”
Angel weet alles van God af. Doen alles reg of Hy sal jou soos ’n
kokkerot doodtrap. Dis God. Sy sien die donkerte in Hosea se oë en sê
liewer niks.
Mamma het in God geglo. Mamma het geloof gehad. Sy het haarself
wyd oopgestel. Ons Vader wat in die hemel is, is presies soos Alex Stafford.
Angel is nie dom genoeg om haarself vir enigeen oop te stel nie, allermins
vir Hom. En as hierdie man dink hy kan haar dwing ... Sy het kleintyd al
geleer dat dit waarin jy nie glo nie, jou nie kan seermaak nie.
“Onthou jy enigiets van die troue?” vra Michael en ruk haar uit haar
morbiede gedagtes.
“Ek onthou ’n man in swart wat oor my praat met ’n stem dooier as
Jesus.”
“Jy het ja gesê. Onthou jy dit?”
“Ek het nie ja gesê nie. Ek het gesê ‘waarom nie?’.”
“Dis goed genoeg.”
Nege

Neem my juk op julle skouers.


Kom leer van My, want Ek is
sag en nederig van hart, en julle
sal rus en nuwe moed vir julle lewe kry.
Jesus, Matteus 11:29

Om haar klere aan te trek, was al wat Angel die eerste paar dae nadat sy
opgestaan het, kon doen. Ná ’n week op haar voete waag sy dit na buite. Dit
maak Michael op ’n vreemde manier seer om haar in Tessie se klere te sien.
Geen twee vroue kon méér van mekaar verskil het nie: Tessie, vriendelik en
liefdevol, ongekompliseerd en openhartig; Mara, kil en ongeërg,
gekompliseerd en geheimsinnig. Tessie, donker en stewig gebou; Mara,
blond en skraal. Michael glo nie vir ’n oomblik dat sy buitentoe gekom het
omdat sy eensaam is en na sy geselskap soek nie. Sy is net moeg daarvan
om in die hut vasgekluister te wees. Sy is verveeld.
Maar Angel is eensaam, en daarom is sy krapperig en op die verdediging
toe Michael naderkom. Sy wil hom immers nie verkeerde idees laat kry nie.
“Wanneer begin ek om die landerye te ploeg?” vra sy droog.
“In die herfs.”
Sy kyk skerp op na hom.
Michael lag en vee haar hare van haar skouers af. “Sien jy kans om ’n
entjie te gaan stap?”
“Hoe ver?”
“Tot jy sê stop.”
Hy vat haar hand en probeer homself oortuig dat dit hom nie pla dat haar
hand soos ’n dooie vis in syne lê nie. Passiewe weerstand. Hy wys vir haar
die mieliekrip en die gereedskapskuur. Hy vat haar na die houtbrug oor die
stroom waar hy die pakkamer wil bou om vleis en suiwelprodukte te stoor
sodra hy dit kan bekostig om ’n koei te koop. Hy stap met haar in die
paadjie na die klein skuur en wys vir haar die twee trekperde. Hy wys na
die landerye wat hy geploeg en beplant het en vat haar uit na die oop
weiveld. “Ek het met agt osse hier begin en met die twee wat jy daar
oorkant sien, geëindig.”
“Wat het van die ander geword?”
“Die Indiane het een gesteel, en vyf het in die tuig gevrek. Dit was swaar
tye,” sê hy. “Dis nie net diere wat langs die Humboldt Sink gesterf het nie.”
Michael kyk af na haar en sien hoe bleek sy is. Sy vee die sweet met die
agterkant van haar hand van haar voorkop af. Hy vra of hulle moet omdraai.
Sy sê nee. Hy begin in elk geval terugstap. Sy is gedaan en te hardkoppig
om dit te erken.
Here, gaan sy so hardkoppig wees oor alles?
Op pad terug wys Michael haar waar hy ’n druiweprieel wil aanplant.
“Ons sal op warm dae daaronder sit. Daar is niks wat so lekker ruik soos
druiwe wat in die son ryp word nie. Ons sal ’n slaapkamer en ’n kombuis
aanbou en ’n stoep aan die westekant sodat ons saans kan sit en kyk hoe die
son ondergaan en die sterre verskyn. Op warm somersmiddae sal ons
appelwyn drink en kyk hoe ons mielies groei. En kinders, eendag, as dit
God se wil is.”
Haar maag draai. “Jy het genoeg werk in gedagte om vir ’n lang tyd te
hou.”
Michael lig haar ken en kyk haar reguit in die oë. “Dit sal ons ’n leeftyd
vat, Mara.”
Sy ruk haar ken weg. “Moet net nie jou hoop op my vestig nie, meneer.
Ek het my eie planne, en dit sluit jou nie in nie.” Sy loop die res van die pad
alleen.

Die wandeling was goed vir haar, maar sy is uitgeput. Tog wil sy nie binne
wees nie. Sy sleep Michael se stoel uit sodat sy in die buitelug kan sit. Sy
wil die son se hitte op haar gesig voel. Sy wil die vars lug ruik. ’n Ligte
middagwindjie speel deur haar hare, en sy kan die grond ruik; sterk en ryk.
Haar spiere begin ontspan, en sy maak haar oë toe.
Michael kom terug van die landerye af en kry haar vas aan die slaap.
Selfs nie die blou kolle wat haar oë en kakebeen omring, bederf die
vreedsame uitdrukking op haar gesig nie. Hy vat ’n haarsliert en vryf dit
tussen sy vingers. Dit voel soos sy. Sy roer effens. Hy kyk na haar dun, wit
nek en hou die reëlmatige polsslag daar dop. Hy smag daarna om af te buk
en sy mond teen haar keel te druk. Hy wil haar reuk inasem.
Here, ek het haar lief, maar gaan dit altyd só voel? Asof daar ’n pyn in
my is wat ek nooit sal kan afskud nie?
Angel word wakker. Sy maak haar oë oop en skrik toe sy Hosea bokant
haar sien staan. Die son is agter hom, so sy kan nie sy gesig sien of raai wat
hy dink nie. Sy stoot haar hare weg en kyk anderpad. “Hoe lank sit ek al
hier?”
“Jy het so rustig gelyk. Jammer as ek jou wakker gemaak het. Jy het ’n
bietjie kleur op jou wange gekry.”
Sy raak aan hulle en voel die hitte. “Voeg rooi by die swart en blou.”
“Is jy honger?”
Sy is. “Jy kan netsowel begin om my te leer kosmaak.” Sy krimp ineen
van die pyn toe sy opstaan en hom na binne volg. Sy sal moet weet hoe om
vir haarself te kook wanneer sy ’n plekkie van haar eie het.
“Die eerste ding wat jy moet doen, is om ’n ordentlike vuur te maak.”
Hy krap die kole in ’n vuurwarm bed oop en gooi nog hout op. Hy loop met
die emmer buitentoe en kom terug met ’n stuk gepekelde wildsvleis. Hy sny
dit in stukke en gooi dit in die kokende pot. Angel kan die skerp kruie ruik
soos hy dit tussen sy handpalms vryf en in die kokende water laat val.
“Ons los dit nou dat dit ’n rukkie kan kook. Kom saam met my
buitentoe.” Hy vat ’n mandjie, en sy volg hom na ’n groentetuin. Hy sak af
en wys vir haar hoe ’n mens weet watter wortels en uie reg is om geoes te
word. Hy trek ’n ryp aartappelplant uit. Sy wil nie erken dat sy verstom is
nie. As enigiemand haar sou vra, sou sy gesê het aartappels kom van Ierland
af. Die een plant wat hy uitgetrek het, lewer genoeg aartappels om ’n hele
paar dae lank te hou.
Angel staan op en sien Hosea ’n paar voet weg gehurk sit. Hy ruk plante
uit die grond en gooi hulle eenkant toe. ’n Snydende herinnering aan
Mamma in die maanverligte tuin laat haar versteen. “Hoekom verwoes jy
jou tuin so?”
Michael kyk vinnig op toe hy die toon in haar stem hoor. Haar gesig is
wit en ontstig. Hy staan op en vee sy hande aan sy broek af. “Ek trek
onkruid uit. Dit versmoor alles. Ek het nog nie tyd gehad om hier te werk
nie. Een van die dinge wat ek jou gaan vra om te doen, is om na die tuin om
te sien, sodra jy gereed is.”
Hy tel die mandjie op en knik in die rigting van die heuwels. “Daar groei
heelwat wilde kossoorte. Sigorei, mosterd en hoofsaaklik mynersblaarslaai.
Ek sal jou leer waarvoor om uit te kyk. Omtrent ’n halfmyl teen die spruit
af is brame. Hulle is teen die laatsomer ryp. ’n Halfmyl teen die heuwel op
is bloubessies. Ons het appels en okkerneute ook.” Hy gee die mandjie vir
haar aan. “Jy kan die groente in die spruit gaan afspoel.”
Sy doen wat hy gevra het en kom terug na die hut. Michael wys haar hoe
om die groente te skil en op te sny en laat dit dan aan haar oor. Die vleis
kook in die pot oor die vuur, en hy vat ’n ysterhaak en skuif die pot na die
buiterand van die vuur. “Roer dit af en toe. Ek moet die vee gaan versorg.”
Dit lyk nie asof die bredie vinnig genoeg kook nie, so Angel skuif die
pot terug op die vuur. Dan kook dit weer te vinnig en sy skuif dit weer weg.
Sy spring behoorlik rond: roer en skuif, roer en skuif. Die hitte en harde
werk maak haar baie moeg. Sy vee die nat slierte van haar voorkop af weg.
Haar oë traan van die rook.
Michael kom in met ’n emmer water. Hy sit dit hard neer, en die water
stort oor op die vloer. “Oppas!” Hy gryp haar arm en pluk haar weg van die
vuur.
“Wat doen jy?”
“Jou romp was besig om te rook. Nog ’n minuut en jy sou in vlamme
uitgeslaan het.”
“Ek moes naby genoeg kom om die bredie te roer!” Die deksel val, die
kos kook oor die rand en sis op die rooiwarm kole. Sonder om daaroor te
dink, gryp sy die handvatsel. Sy gil, vloek en gryp die haak.
“Stadig!” waarsku Michael, maar sy is nie van plan om te luister nie. Sy
pluk te hard en die haak glip uit haar hand. Dit kletter en die pot val; die kos
in die vuur. Die vuur sis en spoeg. ’n Rookwolk vul die hut met die vieslike
reuk van gebrande bredie.
Sy kan nie eens dít reg doen nie! Angel gooi die ysterhaak by die gemors
in die vuur en gaan sit op die wilgerstoel. Sy leun vorentoe en hou haar
pynlike ribbes vas.
Michael maak die twee vensters en die deur oop, en die rook begin
uitgaan.
Met geklemde kake sien Angel hoe ’n stuk wildsvleis in die vlamme
verdwyn. “Jou kos is klaar, meneer.”
Hy probeer om nie te glimlag nie. “Dit sal volgende keer beter gaan.”
Sy gluur hom vies aan. “Ek weet niks van kook af nie. Ek ken nie die
verskil tussen onkruid en ’n wortel nie, en as jy my agter jou ploeg sit, sal
jy nie ’n reguit genoeg voor hê om in te plant nie.” Sy staan op. “Jy wil hê
ek moet werk. Goed, ek sal werk. Op die enigste manier wat ek ken. Net
daar,” sê sy en wys na die bed. “Nou dadelik as jy wil, meneer. As die bed
nie vir jou reg is nie, wat van die vloer, of die stal, of waar jy ook al wil?
Wat dit ook al is wat jy wil hê, sê maar net!”
Hy blaas sy asem uit. “Dit was net ’n pot bredie, Mara.”
Sy is woedend van frustrasie. “Hoe het ’n heilige soos jý my gekies?
Toets jy jou geloof? Is dit wat dit is?” Sy vlieg verby hom na buite.
Sy wil weghardloop, maar kan nie. Elke tree maak seer. Sy haal skaars
die landery voor sy moet stop om asem te haal. Hy het teen haar gestamp
toe hy haar van die vuur weggeruk het, en haar hele lyf pyn. Maar die
fisieke pyn is niks in vergelyking met haar eie selfveragting en vernedering
nie. Sy is dom! Sy weet niks! Hoe gaan sy ooit op haar eie regkom as sy nie
eens ’n eenvoudige maaltyd kan kook nie? Sy kan nie eens ’n vuur maak
nie. Sy weet niks van wat nodig is vir oorlewing nie.
Jy gaan leer.
“O, nee, ek gaan nie! Ek gaan hom nie om hulp vra nie. Ek gaan hom
niks skuld nie.” Sy bal haar gebrande hand in ’n vuis. “Ek het hom nie
gevra om terug te kom nie. Ek het nie hiervoor gevra nie!”
Sy stap af na die spruit om haar hand in die koue water te steek en haar
griewe te koester.
Tien

Daarom sal Ek haar naderlok en weer terugwen.


Ek sal haar na die woestyn toe lei en daar teer dinge
vir haar sê. Ek sal daar haar wingerde aan haar teruggee.
Dan sal die Akorvlakte verander in ’n deur van hoop.
Hosea 2:13-14

Die gemors in die vuurherd is opgeruim toe Angel terugkom, maar Hosea is
nie daar nie. Anders as wat sy verwag het, voel sy nie verlig dat hy nie daar
is nie. In plaas daarvan is daar ’n holheid in haar wat haar laat voel sy sweef
in ’n leë ruimte. Is hy daar buite iewers besig om aan ’n gepaste straf te
dink vir haar uitbarsting?
Hy moet dink sy is ’n onnosele gek. Sy is seker sy suster kon ’n vuur
pak, ’n ordentlike maaltyd voorberei, ’n land omploeg en alles doen wat sy
moes. Sy kon waarskynlik elke wilde groenteplant van die Atlantiese
Oseaan tot by die Stille Oseaan op ’n afstand uitken. Sy kon seker wilde
diere uitruik en hulle self skiet én afslag.
Angel gaan sit moedeloos op die vloer voor die vuurherd en kyk na die
leë es. Dis nes my lewe is: ’n leë, koue nuttelose gat in ’n muur. Sy is dom
en onhandig. Ja, maar sy is mooi. Sy raak aan haar gesig. Of liewer, sy wás
mooi.
Sy staan op. Sy moet iets doen. Enigiets. Sy het lig en hitte nodig. Sy het
al hoeveel keer gesien hoe Hosea die vuur pak. Miskien kan sy dit ook
regkry. Sy vat houtsplinters en stapel hulle bo-op mekaar, sit dan fyn hout
en klein takkies bo-op. Sy haal die vuurklip en staalring van die mantel af,
maar hoe hard sy ook al probeer, sy kry nie eens ’n vonk nie.
Michael staan in die deur en hou haar dop. Hy is vroeër uit om na haar te
gaan soek en het haar langs die spruit sien sit, so moedeloos dat sy nie eens
besef het hy is daar nie. Hy het op ’n afstand gebly en ’n ogie oor haar
gehou tot sy terug huis toe gedrentel het. Sy is so vasgevang in haar eie
wanhoop en morbiede gedagtes dat sy blind is vir enigiets anders. Veral vir
hom.
Sy vloek en sit haar vuiste teen haar oë.
Michael sit sy hand liggies op haar hare en voel hoe sy skrik. “Laat ek
jou wys hoe om dit te doen.” Hy hurk langs haar en hou sy hand uit. Sy gee
vir hom die gereedskap aan. “Jy kan nie verwag om dit die eerste keer reg
te kry nie. Dit kos oefening.” Soos om ’n bredie te kook, wil hy sê. Soos om
’n ander tipe lewe te lei.
Angel kyk hoe hy die vuur pak en die vuurslag teen die vuurklip slaan.
Daar is ’n vonk, en hy blaas dit liggies tot die skaafsels begin rook en
daarna brand. Hy sit fyn houtjies bo-op en dan groter takke. Binne minute is
die vuur aan die gang.
Michael sit terug met sy voorarms op sy opgetrekte knieë. Hy wil net die
vuur en Mara se nabyheid geniet, maar sy het ander planne. Sy gryp die
yster, slaan die takke af, krap die fyn houtjies en houtsplinters uitmekaar en
slaan elke kool morsdood.
Sy gaan kniel nader, pak die vuur net soos wat hy dit gedoen het. Sy
doen dit perfek en slaan dan die vuurslag teen die vuurklip. Sy kry ’n vonk,
maar dit bly nie brand nie. Sy probeer weer, hierdie keer meer vasberade,
maar niks gebeur nie. Haar gebrande hand pyn erg, maar sy hou die
gereedskap met soveel vasberadenheid vas dat haar hande begin sweet. Met
elke mislukte poging pyn haar bors meer, tot die pyn so erg en
onuithoudbaar is dat sy op haar hakke terugsak.
“Ek kan nie.” Wat help dit tog?
Michael kry haar jammer. Sy het nog nie een keer gehuil nie, selfs nie
toe sy buite haarself was van die koors nie. En God weet, sy het dit nodig.
“Los dit, Mara.”
“Goed.” Angel sit die vuurklip en staalring tussen hulle. “Doen jý dit.”
“Dis nie wat ek bedoel nie. Jy probeer te hard. Jy verwag om alles reg te
doen. Dit is nie moontlik nie.”
“Ek weet nie waarvan jy praat nie. Ek wil net ’n vuur pak. Dis al.”
“Ons praat nie eens dieselfde taal nie,” sê hy. Hy kan netsowel Engels
praat met ’n Spaanssprekende meisie van Kalifornië. “Dis asof jy met my
baklei wanneer dit nie nodig is nie.”
Sy weier om na hom te kyk. “Pak dit weer sodat ek kan sien wat ek
verkeerd doen.”
Hy maak so. Sy hou hom sekuur dop en sien dat sy niks verkeerd gedoen
het nie. Hoekom wil haar vuur nie brand nie? Die herd is vol gloeiende lig,
en hy het dit binne enkele oomblikke gedoen. Haar vuur wil nie eers aan die
gang kom nie, maar syne sal die hele nag deur brand.
Angel staan skielik op en staan terug. Sy haat dit dat hy so vaardig is. Sy
verafsku sy kalmte. Sy wil al twee vernietig, en sy het net één wapen wat sy
weet hoe om te gebruik.
Sy strek haar lui uit, bewus van sy oë op haar. “Ek sal dit seker eendag
regkry,” sê sy en gaan sit op die bed. “My skouers pyn. Wil jy hulle nie vir
my masseer soos die ander dag nie?”
Michael doen wat sy vra. Hy knie die spanning uit haar spiere, en
vererger sy eie. “O, dit voel heerlik,” sê sy en die verleidelike ondertoon
laat sy hart onbeheers klop. Haar hare val terug en lê soos sy oor sy hande.
Hy sit sy een knie op die bed, en sy sit haar hand op sy bobeen.
So, dís haar plan, dink hy hartseer. Omdat sy nie ’n vuur in die vuurherd
aan die gang kan kry nie, gaan sy een in hom aansteek. Dit het haar
sekondes geneem om dit te doen. Hy trek terug.
Angel voel hoe hy terugstaan en staan op. Sy laat gly haar arms om sy
middellyf en druk haarself teen sy reguit rug. “Ek weet ek het iemand nodig
om na my te kyk, en ek is bly jy het my kom haal.”
Here, gee my krag! Michael sluit sy oë. Toe sy haar hande beweeg, gryp
hy haar gewrigte vas en maak hom heeltemal uit haar arms los.
Toe hy omdraai, is Angel gereed vir hom. Sy weet hoe om haar rol te
vertolk. Sy ken al die woorde uit haar kop uit. Sagte, stukkende woorde ...
berekende woorde om aan sy hart te ruk, om hom te laat voel sy verwerping
het haar seergemaak. Roer skuldgevoelens saam met warm, kokende bloed
in. Gee hom genoeg rede en verskonings om toe te gee. Daardie laaste aand
in die bordeel het hom reeds swak gemaak. Hy is soos ’n lam ter slagting.
Angel kom weer nader, sluit haar emosies af en gebruik haar kop. Sy
trek sy kop af en soen hom. Michael grawe sy vingers in haar hare in en
soen haar terug.
Sy gebruik dit wat sy ken om teen hom oorlog te maak. Sy weet niks van
vuurmaak of bredies kook nie, maar hiervan weet sy álles.
Hy wikkel homself uit en gryp haar aan die skouers. “Jy is genadeloos,”
sê hy, onwillig om oor te gee.
Angel kyk op na hom en kan sien sy het hom nie geflous nie. Hy weet
presies wat sy doen en hoekom sy dit doen. Sy probeer losruk, maar hy hou
haar vas. “Dit hoef nie te wees soos jy dit ken nie.”
“Los my!” Sy worstel met alles in haar. Michael kan sien dat sy haarself
seermaak en laat haar gaan. Sy stap ’n ent van hom af weg.
“Het dit jou beter laat voel?”
“Ja!” sis sy en lieg blatant.
“Die Vader behoede my.”
Sy wou graag hê hy moet meer as net fisieke ongemak verduur. Sy wou
hom verwoes. Sy wou hom soos ’n wurm aan ’n hoek sien spartel. Sy val in
die wilgerstoel neer. Haar nek is styf, en sy kyk stip voor haar uit.
Michael kyk haar koud aan. Sy vervloek hom stilweg. Sy dink sy het
verloor, maar dink sy hy het gewen? Hy gaan buitentoe. Het hierdie vrou ’n
toegeeflike beentjie in haar liggaam, Here? Of is dit waarna ek vir die res
van my lewe moet uitsien!? Jesus, sy speel vuil.
Sy baklei teen jou op die enigste manier wat sy ken.
Michael stap af na die spruit. Hy kniel en spat koue water op sy gesig.
Hy bly vir ’n lang ruk op sy knieë sit. Daarna loop hy na die skuur om die
metaalbad te kry.
Angel sit met haar rug na hom toe hy inkom. Hy sit die bad voor die
vuur neer. Sy kyk van die bad na hom en weer weg sonder om iets te sê.
Laat sy hom vuil voel? Het hy ’n bad nodig om haar af te was? Vir die
volgende uur dra hy water van die put af aan en maak dit warm in die groot
swartpot wat oor die vuur hang. Hy gooi ’n koekie seep in die water.
“Ek gaan ’n entjie stap,” sê hy en loop by die deur uit.
Verras loop sy na die deur en maak dit oop. Hy hou aan stap tot hy tussen
die bome wegraak. Met ’n frons maak sy die deur toe. Sy trek haar klere uit
en klim in die bad. Sy skrop haar hare en lyf behoorlik, gooi die warm
water oor haar om af te spoel en klim uit. Sy wil klaar wees voordat hy
terugkom. Hy het ’n handdoek oor die stoel se rug gelos. Sy droog haar af
en draai die handdoek om haar hare. Sy trek haastig aan, gaan sit weer voor
die vuur en haal die handdoek van haar kop af. Haar hare is ’n gekoekte
gemors en sy trek haar vingers deur die koeke.
Hosea bly vir langer as ’n uur weg.
Toe die deur eindelik agter haar oopgaan, kyk sy skrams op na hom. Sy
donker hare is nat. Sy aanvaar hy het in die ysige stroom gebad en ervaar ’n
prikkie skuldgevoel en twyfel. Hy stap rusteloos op en af. Sy hou aan om
haar vingers deur haar hare te trek, maar is bewus van elke beweging wat
hy maak. Hy maak die trommel oop en laat die deksel weer toeklap. In die
verbygaan laat val hy ’n borsel op haar skoot. Sy tel dit op en kyk daarna.
Haar keel voel dik. Sy kyk op na hom en begin haar hare borsel. Hy leun
met sy heup teen die tafel en hou haar dop. Sy weet nie wat hy dink nie. Sy
weet nie wat om te sê nie.
“Moet dit nooit weer aan my doen nie,” sê hy.
Hy is bleek, en sy voel iets in haar roer, styf opkrul en diep insink. “Ek
sal nie,” sê sy en bedoel dit.
Michael sit in die wilgerstoel voor die vuur, sy hande ontspanne tussen
sy knieë. Hy staar vir ’n lang ruk na die vlamme. “Ek dink ek het ’n goeie
idee gekry van hoe dit vir jou moes wees.”
Sy kyk verbaas op. “Wat bedoel jy?”
Hy kyk na haar. “Dit voel nie lekker om gebruik te word nie. Wat die
rede ook al is.”
Iets knoop in haar. Sy hou die borsel in haar skoot en staar afgetrokke
daarna. “Ek weet nie wat ek hier maak met ’n man soos jy nie.”
“Die oomblik toe ek jou sien, het ek geweet ek gaan met jou trou.”
“Jy sê so.” Sy kantel haar kop. “Kyk, meneer, laat ek ’n paar lewensfeite
aan jou verduidelik. ’n Boer wat vir weke en weke alleen bly en dan dorp
toe kom ... Jy kon na die suidekant van ’n noordwaartse merrie gekyk het en
geweet het sy is die een vir jou.”
“Dit was jou jong, yskoue gesig,” sê Michael. Hy flits ’n droewige
glimlag na haar. “En dan die res van jou.” Sy blik flikker oor haar. “Jy was
in swart geklee soos ’n weduwee, en Magowan was saam met jou. Ek neem
aan om seker te maak jy loop nie weg nie.”
Sy sê vir ’n lang ruk niks. Sy sluit haar oë en probeer om nie daaraan te
dink nie, maar dis soos ’n aaklige stank in die vertrek. Dit hang in die lug,
en sy kan nie daarvan wegkom nie. Dit is reg hier onder die skoon reuk van
die seep wat hy vir haar gegee het om te gebruik. Die smerigheid is binne-in
haar; dit vloei in haar bloed.
“Onthou jy toe jy my gevra het wat vir ’n naam Hosea is en ek gesê het
dis profeties?” Sy begin weer om haar hare stadig te borsel, maar Michael
weet sy luister dié keer na hom. “Hosea was ’n profeet. God het vir hom die
opdrag gegee om met ’n prostituut te trou.”
Sy loer na hom met ’n spottende glimlag. “Het God jou beveel om met
my te trou?”
“Ja, Hy het.”
“Praat Hy persoonlik met jou?” vra sy spottend.
“Hy praat persoonlik met almal. Die meeste mense doen net nie die
moeite om te luister nie.”
Dis beter om hom te laat voortgaan. “Ek is jammer ek het jou in die rede
geval. Jy was besig om vir my ’n storie te vertel. Wat het toe gebeur? Het
hierdie profeet met die prostituut getrou?”
“Ja, hy het gedink God moet ’n rede hê. ’n Goeie rede.”
Net soos hy waarskynlik het. “Het hierdie Hosea die sonde uit haar uit
geslaan? Ek neem aan sy het op haar knieë na hom gekruip en sy voete
gesoen omdat hy haar siel gered het.”
“Nee, sy het weer ’n prostituut geword.”
Haar maag ruk. Sy kyk op na hom en soek na die een of ander teken op
sy gesig. Hy kyk net na haar, plegtig, afgetrokke, enigmaties. “So, God is
op die ou end toe nie so almagtig nie?” sê sy saggies.
“God het hom beveel om haar weer te gaan haal.”
Sy frons effens. “En het hy?”
“Ja.”
“Net omdat God gesê het hy moet?” Geen man sal dit doen nie.
“Ja, en omdat hy haar liefgehad het.”
Sy staan op, gaan staan by die venster en kyk na die lug wat nou sterk
skemer raak. “Liefde? Nee, ek dink nie dis hoekom hy dit gedoen het nie.
Dit was sy eie trots. Die ou profeet wou net nie aanvaar dat hy haar nie by
hom kon hou nie.”
“Trots verjaag ’n man, Mara. Dit het my van jou af verdryf daardie laaste
aand in Pair-a-Dice.” Hy moes na die Here geluister en teruggegaan het. Hy
moes haar aan haar hare daar uitgesleep het, maak nie saak hoeveel sy ook
al sou skop en skree nie.
Angel kyk oor haar skouer na hom. “Het sy toe by die profeet gebly?”
“Nee, sy het hom weer verlaat. Hy moes haar die tweede keer loskoop.”
Sy hou nie baie van sy storie nie. “En het sy toe by hom gebly?”
“Nee, sy het aanhou wegloop. Sy het selfs kinders by ander mans
gehad.”
Haar binneste voel swaar. Om haarself te beskerm, tart sy hom. “En hy
het haar op die ou end gestenig,” sê sy sarkasties. “Nie waar nie? Hy het
haar uiteindelik teruggestuur na waar sy hoort.” Hy antwoord nie en sy keer
weer haar rug op hom. “Kom tot die punt, meneer. Sê dit en kry klaar.”
“Eendag sal jy ’n besluit moet maak.”
Hy sê niks verder nie, en sy wonder of dit die einde van die storie is. Sy
byt op haar tande. Sy gaan hom nie vra of die prostituut ooit by die profeet
gebly het en of hy uiteindelik moed opgegee het met haar nie.
Michael staan op, maak twee blikkies boontjies oop en gooi dit in ’n pot.
Dis sommer gou warm en hy skep dit vir hulle op. “Kom sit en eet saam
met my, Mara.”
Sy gaan sit saam met hom by die tafel. Hy buig sy kop en begin bid en
die woede stoot in haar op. Sy probeer hom ignoreer en begin eet. Hy kyk
na haar en sy glimlag uitdagend. “Weet jy wat dink ek?” sê sy. “Ek dink
God het jou met my laat trou om jou vir die een of ander groot sonde in jou
verlede te straf. Het jy al baie vroue begeer, meneer?”
“Dit pla my nou en dan,” sê hy en bekyk haar op en af met ’n droewige
glimlag. Hy eet die res van die maaltyd in stilte.
Sy beny hom sy kalmte en selfbeheersing. Toe hy klaar is, vat sy sy bord
en sit dit op hare. “Aangesien jy gekook het, sal ek die skottelgoed was.” Sy
hou nie van die donkerte nie, maar dis beter as om saam met hom in die hut
te wees. Netnou vertel hy nog een van sy simpel stories. Dié slag een wat
regtig oulik is, van ’n melaatse of iemand met lopende sere.
Nadat sy die borde gewas het, sit sy nog ’n bietjie langs die spruit. Haar
hele lyf pyn, en sy weet sy het haar vandag ooreis, maar net om na die
water te luister, maak haar kalm en rustig.
“Wat maak ek hier?” vra sy vir haarself. “Wat maak ek hier by hom?”
’n Ligte windjie ritsel deur die blare van die populierboom, en sy is seker
sy hoor ’n sagte stem. Sy kyk om, maar daar is niemand nie. Bibberend stap
sy vinnig terug en sien Hosea teen die deurkosyn leun waar hy vir haar wag.
Sy hande is diep in sy broeksakke. Sy stap om hom by die hut in en pak die
borde weg. Sy is doodmoeg en gereed om te gaan slaap.
Sy trek haar klere uit en glip onder die kombers in. Sy dink aan daardie
meisie wat teruggegaan het na prostitusie toe. Miskien het sy ook ’n
Duchess gehad wat vir haar geld geskuld het. Miskien het die profeet haar
mal gemaak, soos hierdie boer haar gek maak. Miskien wou sy net op haar
eie wees. Het die profeet ooit daaraan gedink?
Angel verstyf toe Hosea langs haar in die bed klim. Dis haar eie skuld.
Gee hulle die voorsmakie van ’n soen, en hulle wil die hele maaltyd hê.
Hoe gouer dit oor en verby is, hoe gouer kan sy slaap.
Sy sit regop, vee haar hare ongeduldig oor haar skouer en kyk hom
vreesloos aan.
“Nee.”
Sy is verbaas oor die ongeduldige kyk in sy oë. “Nee?”
“Nee.”
“Kyk, meneer. Ek kan nie jou gedagtes lees nie. Jy moet vir my sê wat
dit is wat jy wil hê.”
“Ek wil in my eie bed slaap, met my vrou langs my.” Hy trek liggies aan
haar hare. “En dis ál wat ek wil hê.”
Stomverbaas lê sy terug teen die kussings en wag dat hy van besluit
verander. Ná ’n lang ruk raak sy asemhaling dieper. Sy draai haar kop
versigtig en kyk in die vuur se gloed na hom. Hy slaap sowaar. Sy bekyk sy
ontspanne profiel vir ’n hele tydjie en draai dan weg van hom.
Angel probeer om ruimte tussen hul liggame te maak, maar Michael
Hosea vul die bed net soos wat hy die hut vul.
Net soos hy haar lewe begin vul.
Elf

Halfpad deur die reis van ons lewe,


het ek in ’n donker woud tot my sinne gekom.
Dante

Angel kreun toe Duke oor haar buk. Hy lag sag. “Het jy gedink jy kan van
die Alfa en Omega wegkom?”
Iemand roep van ver af na haar, maar Duke verdring die stil, sagte stem.
“Jy het gedink vierduisend myl is ver genoeg, maar hier is ek.”
Sy beur weg van hom en probeer hoor wie dit is wat na haar roep.
Duke trek haar weer nader. “Jy behoort aan my. Vir altyd, en jy wéét dit.
Ek is die enigste een aan wie jy ooit sal behoort.” Sy asem ruik na die
naeltjies wat hy altyd kou nadat hy sy sigare gerook het. “Ek weet wat jy
dink, Angel. Ek kan jou gedagtes lees. Kon ek nie altyd nie? Hoop maar
soveel soos wat jy wil, maar ek sal nooit sterf nie. Selfs wanneer jý nie
meer bestaan nie, sal ek nog lewe. Tyd sal my nie inperk nie.”
Sy baklei teen hom, maar hy is nie ’n werklikheid wat weggestoot kan
word nie. Hy is ’n skaduwee wat haar toevou, wat haar insluk en in ’n diep
swart gat afneem. Sy voel hoe haar liggaam hom absorbeer terwyl sy val.
Hy dring deur tot in haar siel, tot in die duisternis binne haar. Sy pluk aan
haar eie vlees. “Nee, nee!”
“Mara, Mara!”
Sy skrik verwild wakker, met haar mond oop in ’n geluidlose gil.
“Mara,” sê Michael sagkens. Hy sit op die rand van die bed. Sy probeer
ophou bewe terwyl hy haar hare uit haar gesig vee. “Jy het soveel
nagmerries. Waaroor gaan dit?”
Sy sagte stem en aanraking laat haar ’n klein bietjie ontspan. Sy stoot sy
hand weg. “Ek kan nie onthou nie,” jok sy. Duke brand in haar gedagtes.
Soek hy steeds ná hierdie lang tyd na haar? Sy weet wat die antwoord is en
voel yskoud. Sy kan steeds sy gesig voor haar sien. Dit voel soos gister dat
sy van hom af weggeloop het, in plaas van ’n jaar gelede. Hy gaan haar
eendag kry. En wanneer hy haar kry ...
Sy kan dit nie verduur om daaraan te dink nie. Sy kan dit nie waag om
weer aan die slaap te raak nie. Die nagmerrie sal weer begin en dieselfde
wees as elke keer.
“Mara, sê vir my waarvoor jy bang is.”
“Vir niks nie,” sê sy styf. “Los my net uit.”
Michael laat sy hand op haar bors rus en haar spiere verstyf. “As jou hart
nog vinniger klop, gaan dit by jou bors uitspring.”
“Probeer jy my gedagtes aflei na iets anders?”
Michael vat sy hand weg. “Daar is méér as die fisieke tussen ons.”
“Daar is níks tussen ons nie.” Sy draai haar rug op hom.
Michael trek die komberse van haar af. “Ek sal jou wys wat daar is.”
“Ek het gesê los my uit!” Rou van die nagmerrie, rou van by hom wees,
pluk sy die komberse weer oor haar.
Michael pluk die komberse af. Hy vat dit saam in ’n bondel en gooi dit
op die trommel in die hoek. “Staan op. Nou. Jy sal, of jy nou wil of nie.”
Angel is bang vir hom waar hy oor haar troon. Sy kan aanvoel dat hy sy
humeur met moeite beteuel.
“Ons gaan ’n entjie stap,” sê hy.
“Nóú? In die middel van die nag?” Dis koud en donker. Sy snak na haar
asem toe hy haar optel en op haar voete neersit.
Hy trek sy broek aan. “Jy kan jou klere aantrek, of jy kan kaal gaan. Dit
maak geen verskil aan my nie.”
Sy hou nie van die skaduwees in die hut nie, en sy gaan nie by daardie
deur uit die donkerte in nie. “Ek gaan nêrens nie. Ek bly net hier.”
Sy pyl op die kombers af, maar hy gryp haar aan die arm en swaai haar
om. Sy koes en lig haar arm op om ’n hou af te weer, en Michael se woede
verdwyn. Is dít wat sy van hom verwag, selfs ná al hierdie tyd? “Ek sal jou
nooit seermaak nie.” Hy gaan haal die kombers en vou dit om haar. Hy kry
haar skoene en hou dit na haar uit. Sy wil dit nie vat nie. “Jy kan jou skoene
aantrek of jy kan kaalvoet loop. Dis jou keuse, maar jy gaan saam met my.”
Angel vat die skoene.
“Waarvoor is jy regtig bang, Mara? Hoekom praat ons nie daaroor nie?”
Sy gooi die knoophakie eenkant toe en staan op. “Ek is vir niks bang nie,
allermins vir ’n vuil boer soos jy.”
Hy maak die deur oop. “Nou kom dan, as jy so dapper is.”
Sy kan die skuur uitmaak, maar hy vat haar aan die hand en begin in die
rigting van die woud stap. “Waarheen vat jy my?” Sy is vies vir die bewing
in haar stem.
“Jy sal sien as ons daar kom.” Hy hou aan stap en trek haar agter hom
aan.
Angel kan skaars enigiets anders as vorms sien. Hulle is onheilspellend
en donker, en party beweeg. Sy onthou hoe Rab haar jare gelede deur die
donker nag aangejaag het en word bang. Haar hart klop vinniger. “Ek wil
teruggaan.” Sy struikel en val amper.
Michael vang haar en help haar weer regop. “Kan jy asseblief net een
keer probeer om my te vertrou? Het ek al ooit iets gedoen om jou seer te
maak?”
“Jou vertrou? Hoekom moet ek? Jy is mal om my in die middel van die
nag hierheen te bring. Vat my terug.” Sy bewe onbedaarlik.
“Nie voordat jy gesien het wat ek jou wil wys nie.”
“Selfs al beteken dit jy moet my sleep?”
“Tensy jy wil hê ek moet jou oor my skouer gooi.”
Sy ruk haar hand los. “Loop dan maar.”
“Goed,” sê hy. Angel swaai om om terug te stap, maar kan nie die hut of
die skuur tussen die bome deur sien nie. Toe sy weer omkyk, kan sy Hosea
ook nie sien nie en raak paniekerig. “Wag,” skree sy. “Wag!”
Michael gryp haar vas. “Ek is hier by jou.” Hy voel hoe sy ruk en vou sy
arms om haar. “Ek sal jou nie in die donker alleen los nie.” Hy lig haar
gesig effens en soen haar sag. “Wanneer gaan jy begin verstaan dat ek jou
liefhet?”
Angel sit haar arms om hom en druk haar styf teen hom aan. “As jy my
liefhet, vat my terug. Ons kan lekker warm en gemaklik in die bed wees. Ek
sal doen net wat jy wil hê.”
“Nee,” sê hy ru en baklei teen sy reaksie op haar. “Kom saam met my.”
Sy probeer hom terughou. “Wag, asseblief. Goed, ek is bang vir die
donker. Om hier buite te wees, herinner my aan ... ” Sy bly skielik stil.
“Aan wat?”
“Aan iets wat gebeur het toe ek ’n kind was.” Hy wag, en sy byt op haar
lip. Sy wil nie oor Rab praat en oor wat met hom gebeur het nie. Sy wil nie
aan die aakligheid van daardie aand dink nie. “Asseblief, vat my net terug.”
Michael kam sy vingers deur haar hare en buig haar kop agtertoe sodat
hy haar gesig in die maanlig kan sien. Sy is bang, só bang dat sy dit nie kan
wegsteek nie.
“Ek is ook bang, Mara. Nie vir die donker nie, nie vir die verlede nie –
maar vir jou en die gevoelens wat jy in my wakker maak wanneer ek aan
jou raak. Jy gebruik my begeerte vir jou as ’n wapen. Wat ek vir jou voel, is
’n gawe. Ek weet wat ek wil hê, maar as jy jou teen my vasdruk, is al wat
ek kan voel jou liggaam en my behoefte. Jy laat my bewe.”
“Vat my dan terug na die hut toe ... ”
“Jy hoor nie wat ek sê nie. Jy verstaan niks nie. Ek kan jou nie terugvat
nie. Jy gaan nie jou sin kry nie. Dit moet wees soos ek dit wil hê, of glad
nie.” Michael vat haar hand. “Kom nou.” Hy loop deur die donker woud.
Haar hande sweet, maar haar hand lê nie meer soos ’n dooie vis in syne nie.
Sy klou vas asof haar lewe van hom afhang.
Angel hoor geluide wat van oral af kom, ’n konstante gelui en gezoem
wat uit alle rigtings kom en haar kop binnedring. Dis ’n stilte wat so stil is
dat dit skree. Sy wil net terug wees in die hut, weg van die swart,
bewegende goed om haar. Gevleuelde demone wat vir haar kyk en grynslag.
Dit is Duke se wêreld.
Sy kry koud en voel swak van moegheid. “Hoe ver is dit nog?”
Michael tel haar in sy arms op en dra haar. “Ons is amper daar.” Die
woud lê agter hulle, en die maan bokant hulle omvou die heuwels in ’n
grillerige silwergrys. “Net tot bo-op daardie koppie.”
Toe hulle die kruin bereik, sit hy haar op haar voete neer, en sy kyk
verward rond. Daar is niks. Net nog koppies en dan die berge in die verte.
Michael kyk hoe die nagwindjie haar hare in die maanlig laat dans. Sy
gaan sit in ’n hopie in die kombers en gluur hom aan. “Hier is dan niks.”
“Alles wat iets beteken, is hier.”
“Die hele ent pad vir niks.” Sy weet nie wat sy verwag het nie. ’n
Monument. Iéts. Sy is uitgeput en bewe van die koue naglug. Die kombers
is nie genoeg nie. Tien komberse sou nie genoeg wees nie. Die koue is
binne-in haar. Wat dink hy doen hy om haar in die middel van die nag teen
hierdie koppie uit te sleep? “Wat is so spesiaal hieraan?”
Michael gaan sit agter haar. Hy sit sy sterk bene weerskante van haar en
trek haar styf teen hom vas. “Wag net.”
Sy wil haar teësit, maar sy kry te koud om te stry. “Vir wat?”
Hy sit sy arms om haar. “Vir die oggend.”
“Ek kon in die hut daarvoor gewag het.”
Hy lag teen haar hare. Hy lig dit op en soen haar in haar nek. “Jy sal nie
verstaan voor jy dit nie van hier af gesien het nie.” Hy vryf sy neus teen die
sagte vel onder haar oor. Sy bewe ligweg. “Jy kan ’n bietjie slaap as jy wil.”
Hy trek haar nog nader aan hom. “Ek sal jou betyds wakker maak.”
Sy is nie vaak ná die stap nie. “Doen jy dikwels dié soort van ding?”
“Nie dikwels genoeg nie.”
Hulle is weer stil, maar sy is nie ongemaklik daarmee nie. Sy liggaam se
hitte maak haar warm. Sy voel die gewig van sy arm oor haar en sy
stewigheid wat haar rug omvou. Sy kyk na die sterre; klein juweeltjies teen
swart fluweel. Sy het dit nog nooit so gesien nie. Dit is so naby dat dit voel
of sy haar hand kan uitsteek en aan elke helder stukkie lig kan raak. Die
naghemel is asemrowend. Dit het nog nooit só gelyk deur ’n venster nie. En
die reuk – dik, vogtig, aards. Selfs die geluide om haar word soos ’n vorm
van musiek, soos die voëls en insekte, soos die reën wat in die blikkies drup
in ’n vuil gehuggie by die kaai. Toe begin die duisternis verdwyn.
Dit gebeur stadig, skaars sigbaar. Die sterre word al hoe kleiner en die
swart versag. Sy staan op, trek die kombers styf om haar en kyk. Agter haar
is dit steeds donker, maar voor haar is dit lig: ’n bleek geel wat groei tot
briljante goue strepe met rooi en oranje gemeng. Sy het al voorheen die son
sien opkom van tussen vier mure en agter glas, maar nog nooit soos nou
nie, met die koel bries in haar gesig en wildernis in elke rigting. Sy het nog
nooit iets so beeldskoon soos dit gesien nie.
Die oggendlig vloei stadig oor die berge, oor die vallei na die hut en die
woud daaragter en teen die heuwels op. Sy voel Hosea se sterk hande op
haar skouers.
“Mara, dis die lewe wat ek jou wil gee.”
Die oggendson is so skerp dat dit haar oë brand. Dit verblind haar erger
as wat die duisternis ooit het. Sy voel sy lippe teen haar hare. “Dis wat ek
jou aanbied.” Sy asem is warm teen haar vel. “Ek wil jou lewe met kleur en
warmte vul. Ek wil dit met lig vul.” Hy vou sy arms om haar en hou haar
rug teen hom. “Gee my ’n kans.”
Angel voel ’n swaarheid in haar groei. Hy het soveel mooi woorde, maar
mooi woorde is nie die lewe nie. Die lewe is nie so eenvoudig nie; nie so
ongekompliseerd nie. Dis gekoek en verdraaie, verwronge vanaf geboorte.
Sy kan nie die laaste tien jaar wegvee nie; selfs nie die agt voor Rab haar
deur die strate na die bordeel gelei en haar daar gelos het sodat Duke haar
vir ewig kan vernietig nie. Dit het lank voor dit begin.
Sy is skuldig aan die feit dat sy gebore is.
Haar eie pa wou haar uit haar ma se baarmoeder laat sny en soos gemors
laat weggooi. Haar eie pa. En as Mamma geweet het dat sy hom oor haar
klein oortreding sou verloor, sou sy dit gedoen het. Al daardie jare se
nimmereindige trane het dit vir Angel duidelik gemaak.
Nee, honderde dagbreke soos hierdie, selfs nie duisende nie, kan dit wat
was, verander nie. Die waarheid staan sterk. Nes Duke in haar droom gesê
het. ’n Mens kan nie daarvan wegkom nie. Dit maak nie saak hoe hard jy
probeer nie, van die waarheid kan jy nooit wegkom nie.
Haar mond vertrek in ’n droewige glimlaggie, en haar siel pyn. Dalk is
hierdie man alles wat hy voorgee om te wees. Dalk bedoel hy elke woord
wat hy sê. Maar sy weet iets wat hy nie weet nie. Dit sal nooit wees soos
wat hy dit wil hê nie. Dit kan net nie gebeur nie. Hy is ’n dromer. Hy wil
die onmoontlike van haar hê. Die son sal nog vir hom ook opkom, en hy sal
wakker skrik.
Angel wil nie naby wees wanneer dit gebeur nie.
Twaalf

Self as jy my sou oorreed, sal jy my steeds nie oorreed nie.


Aristophanes

Michael kan die verandering in Angel aanvoel ná daardie nag, maar dis nie
’n verandering wat hom bly maak nie. Sy onttrek haar en bly op ’n afstand.
Hoewel haar kneusplekke weg is en haar ribbes genees het, loop sy steeds
gewond rond. Sy laat hom nie naby aan haar kom nie. Sy het die gewig
aangesit wat sy verloor het na Magowan se wrede aanval. Fisiek raak sy
sterker, maar Michael is bewus van ’n dieper weerloosheid in haar. Hy gee
vir haar werk om vir haar ’n doel te gee, en die bleekheid van lang dae in
die bordeel en hut verdwyn. Maar tog straal daar geen lewe uit haar oë nie.
Die meeste mans sou tevrede wees om so ’n gedienstige, hardwerkende
vrou te hê. Nie Michael nie. Hy het nie met haar getrou om ’n werker te hê
nie. Hy wil ’n vrou hê wat sy lewe deel – wat deel is van hom.
Elke aand is ’n beproewing. Hy lê langs haar en asem haar reuk in tot sy
kop daarvan sing. Sy maak dit duidelik dat hy haar liggaam kan gebruik
wanneer en hoe hy ook al wil. Sy kyk elke aand na hom wanneer sy haar
klere uittrek. Die vraag in haar oë maak sy mond droog, maar hy gee nie in
nie. Hy wag, terwyl hy bid dat haar hart moet versag.
Haar nagmerries hou aan. Sy skrik gereeld bewend en papnat gesweet
wakker. Daarna wil sy glad nie hê hy moet aan haar raak nie. Eers wanneer
sy weer aan die slaap raak, kan hy sy arms om haar vou en haar nader trek.
Dan ontspan sy, en hy weet dat sy iewers op ’n dieper vlak weet dat sy
veilig is by hom.
Dit bied ’n klein bietjie bevrediging en help wanneer die natuurlike
drange van sy liggaam dit vir hom moeiliker maak hoe langer hulle
bymekaar is. In sy gedagtes roep hy gereeld beelde op van hoe hulle mekaar
liefkoos soos dit in Hooglied beskryf word. Hy kan byna haar arms om hom
voel en haar heuningsoet soene proe. Dan skrik hy uit sy dagdroom wakker
en voel meer beroof as ooit tevore.
Hy kan haar nou syne maak as hy wil. Sy sal inskiklik wees. Sy sal
kundig wees. En hy sal die hele tyd terwyl hy sy hoop in haar uitgiet weet
dat sy die dakbalke tel of aan haar werk vir die volgende dag dink; of
enigiets wat hom van haar weghou. Sy sal nie in sy oë kyk of omgee dat hy
binne-in sterf van sy liefde vir haar nie.
Die herinnering is in Michael se gedagtes vasgebrand: Angel wat in die
Palace op haar bed se voetenent sit en haar voet soos ’n pendule heen en
weer swaai. As hy hom nou aan sy fisieke drange moet oorgee, sal dit
dieselfde wees. Dit sal Angel wees, nie Mara nie, wat net vir hom wag om
klaar te kry sodat sy hom kan vergeet soos al die ander mans wat al haar
liggaam gebruik het.
God, wat moet ek doen? Ek is besig om mal te word. U verwag te veel
van my. Of verwag ek te veel van haar?
Die antwoord bly dieselfde: Wag.
Bo alles word Michael verswelg deur die behoefte dat sy sy naam moet
sê. Net een keer, Jesus. God, asseblief. Net een keer. Michael! ’n Erkenning
van sy bestaan. Die meeste van die tyd kyk sy déúr hom. Hy wil meer wees
as bloot iemand wat op die buiterand van haar siel loop; iemand wat sy glo
op haar gaan trap en haar gaan gebruik. Liefde is vir Angel ’n walglike
woord.
Hoe is ek veronderstel om haar te leer wat die liefde regtig is wanneer
my eie instinkte in die pad daarvan staan? Here, wat doen ek verkeerd? Sy
is nou nog meer afsydig as wat sy in Pair-a-Dice was.
Wees geduldig, geliefde.
Michael se frustrasie word erger, en hy begin dink aan sy pa wat geglo
het elke vrou wil gedomineer word.
Michael het dit nie voorheen geglo nie, en hy glo dit ook nie nou nie,
maar hy wens amper hy kon. As hy daardie leuen kon glo, sal sy lewe saam
met Angel soveel makliker wees. Elke keer dat sy dwarsdeur hom kyk, dink
hy aan sy pa. Elke keer dat sy in haar slaap teen hom vaskruip, weet hy wat
sy pa van sy selfopgelegde onthouding sou sê.
Hy hoor ’n ander stem, donker en magtig en so oud soos tyd.
Wanneer gaan jy jou soos ’n man begin gedra? Doen dit; maak haar
joune. Hoekom twyfel jy? Neem haar in besit. Sy is joune, nie waar
nie? Wees ’n man. Geniet haar liggaam as jy niks anders van haar kan
kry nie. Hoekom wag jy?
Michael stoei met die stem in sy kop. Hy wil dit nie hoor nie, maar dis
daar en hits hom aan wanneer hy op sy weerloosste is.
Selfs op sy knieë in gebed tart die stem hom.

Angel raak mettertyd kriewelrig. Iets is in haar binneste aan die gebeur:
stadig, verraderlik en dreigend. Sy hou van die lewe in die klein hut. Sy
voel gemaklik en veilig, behalwe vir Michael Hosea. Sy hou nie van die
emosies wat hy in haar laat ontwaak nie; die gevoelens wat aan haar
weerstand begin kou nie. Sy hou nie daarvan dat hy nie in enige boksie wat
sy ken, pas nie; dat hy sy belofte hou nie; dat hy haar nie gebruik nie; dat hy
haar anders behandel as wat sy nog ooit behandel is nie.
Hy word nooit kwaad as sy foute maak nie. Hy gee vir haar komplimente
en praat haar moed in. Hy deel sy eie blapse met haar met ’n sin vir humor
wat haar minder geïrriteerd maak met haar eie onkundigheid. Hy gee haar
die hoop dat sy kan leer en laat haar trots voel wanneer sy iets bemeester.
Sy kan al vuurmaak. Sy kan kook. Sy kan onkruid en eetbare plante van
mekaar onderskei. Sy begin al selfs na die stories luister wat hy saans lees –
nie dat sy ’n woord daarvan glo nie.
Hoe gouer ek van hom af wegkom, hoe beter.
Sy het onafgehandelde sake wat sy in Pair-a-Dice moet gaan afhandel.
Sy kan in elk geval haar eie klein hut net soos hierdie een hê wanneer sy die
goud kry wat sy verdien het. En sy sal nie saam met ’n man hoef te bly nie.
Angel probeer in haar kop uitwerk hoeveel tyd en geld Hosea daaraan
bestee het om haar gesond te maak en te leer hoe om selfversorgend te
wees. Sy is vasbeslote om hom vir elke uur en ons goud terug te betaal voor
sy weggaan.
Sy werk in sy tuin, sy kook, vee die hut, was, stryk en stop sy klere.
Wanneer hy die mis uit ’n stal wegvat, gryp sy ’n graaf en help. Wanneer hy
brandhout vir die winter kap, pak sy arms vol netjies langs die skuur op ’n
hoop.
Ná vier maande is haar vel bruingebrand, haar rug sterk en haar hande
grof. Sy kyk in die blink blikkie en sien dat haar gesig weer soos voorheen
lyk. Selfs haar neus het reguit aangegroei. Dit het tyd geword om te begin
dink aan teruggaan.
“Dink jy daardie groente wat ek vir jou versorg het, sal in Pair-a-Dice ’n
sak goud werd wees?” vra sy hom een aand tydens aandete.
“Waarskynlik meer.” Michael kyk op. “Ons sal genoeg hê om ’n klompie
vee te koop.”
Sy knik, onverwags in haar skik met die vooruitsig. Miskien sal hy ’n
koei koop, dan sal hulle melk hê. Miskien sal hy haar leer hoe om kaas te
maak. Angel frons. Watter verskil maak dit aan haar of hy ’n dosyn koeie
koop of nie? Sy moet teruggaan en dinge in Pair-a-Dice gaan afhandel. Sy
kyk af en eet stadig. Die dag kom vinnig nader dat sy sy ma se ring kan
afhaal en van hom kan vergeet.
Angel was die skottelgoed en stryk terwyl Michael hardop uit die Bybel
voorlees. Sy luister nie en stoot die strykyster rond totdat dit koud is en niks
meer kan doen nie. Sy sit dit terug op die rooster. Sy bly nou al maande
lank saam met hierdie man. Sy werk soos ’n slaaf; sy het nooit in die Palace
so hard gewerk nie. Sy kyk na haar hande. Haar naels is gebreek en stomp,
en sy het eelte. Wat sal Duchess hiervan sê? Sy tel die strykyster weer op.
Sy probeer planne maak, maar haar gedagtes dwaal na die tuin, na die
babavoëltjies in ’n nes buitekant die slaapkamervenster, na die diep, stil
kalmte in Michael Hosea se stem terwyl hy lees. Wat is fout met my?
Hoekom het ek weer hierdie swaar gevoel in my? Ek het gedink dis weg.
Dit sal nie weggaan voor jy nie teruggaan Pair-a-Dice toe en gaan
haal wat Duchess jou skuld nie.
Ja, dit moet dit wees. Totdat sy teruggaan Pair-a-Dice toe, sal alles in die
lug hang. Die ou heks het haar ingedoen. Angel sal nie toelaat dat sy
daarmee wegkom nie.
Angel dink dat sy in elk geval verlig behoort te wees dat haar tyd by die
boer oor is. Maar sy is nie. Sy voel net soos daardie aand toe sy hom by
Pair-a-Dice sien wegry het: asof iemand ’n gat in haar gesteek het en die
lewe uit haar vloei; nie vinnig nie, maar in ’n stadige rooi stroompie wat die
grond om haar voete vlek.
Jy moet teruggaan, Angel. Jy móét. Jy sal nooit vry wees as jy dit nie
doen nie. Jy sál jou geld kry. Dit sal baie wees, en jy sal vry wees. Jy
kan altyd ’n hut net soos hierdie een bou, en dié slag sal dit net joune
wees. Jy sal dit nie met ’n man hoef te deel wat te veel van jou verwag
nie. Hy verwag van jou wat jy nie eens het om te gee nie; wat jy nooit
gehad het nie. Boonop is hy gek om tot ’n god te bid wat nie bestaan of
omgee nie en om ’n boek vol mites te lees asof dit die antwoord op alles
is.
Sy kou haar lip terwyl sy werk. Sy sit die strykyster terug op die rooster
sodat dit weer warm kan word. “Wanneer gaan ons weer Pair-a-Dice toe vir
voorrade?” Dertig myl is ’n lang pad om te stap.
Michael hou op lees. Hy kyk op na haar. “Ek gaan nie terug Pair-a-Dice
toe nie.”
“Nooit weer nie? Hoekom nie? Ek dog jy verkoop jou groente aan
daardie Jood in Main Street.”
“Joseph. Sy naam is Joseph Hochschild. En ja, ek het. Ek het besluit dis
beter om nie terug te gaan soontoe nie. Hy weet van my besluit. Daar is
ander plekke: Marysville, Sacramento ... ”
“Jy behoort terug te gaan om ten minste jou geld te gaan haal.”
“Watter geld?”
“Die goud wat jy vir my betaal het.”
Sy mond verstyf. “Dit maak nie vir my saak nie.”
Sy kyk na hom. “Dit behoort saak te maak. Gee jy nie om dat jy verneuk
is nie?” Sy begin weer stryk.
Michael hou haar dop en besef sy wil teruggaan. Selfs ná al hierdie tyd
by hom verlang sy nog na haar lewe in Pair-a-Dice. Sy liggaam word warm
en gespanne. Sy hou aan met stryk asof niks fout is nie, oënskynlik blind vir
sy gevoelens. Hy is lus en skud haar totdat sy verstaan.
Verstaan sy énigiets, Here? Verstaan sy? God, het ek dan glad nie tot
haar deurgedring nie? Het ek haar te hard laat werk? Of is sy net verveeld
met hierdie rustige lewe? Jesus, wat moet ek doen? Haar soos ’n hond aan
’n ketting vasmaak?
Hy dink aan iets om haar gedagtes vir ’n rukkie van Pair-a-Dice af te lei.
Dis ’n gemene, lae plan, maar dit sal haar vir nog ’n paar weke by die huis
hou. Miskien kom sy in hierdie tyd tot haar sinne.
“Ek het ’n takie wat ek graag wil hê jy môre vir my moet doen,” sê hy.
“As jy bereid is.”
Sy het daaraan gedink om môre al te loop, maar dis ’n lang ent om te
stap, en sy weet nie eens watter pad om te vat nie. Sy twyfel of hy haar die
regte rigting sal wys. Wat moet sy doen? Sy god vra? “Wat is dit?” vra sy
kortaf.
“Daar is ’n swart okkerneutboom in die weiveld. Die neute het al
afgeval. Ek sal bly wees as jy hulle kan optel. Ek het ’n sak in die skuur. Jy
kan hulle op die werf uitgooi om droog te word.”
“Goed,” sê sy. “Nes jy wil.”
Hy kners op sy tande. Is ons nou weer terug daarby? Nes jy wil. As sy
nog een woord sê, gaan hy sy pa se teorie op die proef stel. “Ek gaan kyk of
alles reg is by die diere.” Hy stap buitentoe om te bedaar.
Hy loop na die kraal toe.
“Hoe kan ek tot hierdie vrou deurdring?” sê hy deur geklemde kake.
“Wat wil U van my hê? Was ek net veronderstel om haar hierheen te bring
sodat sy tyd kon hê om te rus en te genees voor sy teruggaan? Wie se wil is
dit?”
Hy kan nie meer die stil, klein stemmetjie hoor nie.
Daardie nag is sy stryd erger as ooit. So byna-byna luister hy na sy
liggaam se behoeftes eerder as na dié van sy hart en verstand, maar hy weet
wat van hom verwag word. Hy staan op en stap af na die spruit toe. Die
koue water help, maar bied geen oplossing vir dit wat hom pla nie.
Hoekom doen U dit aan my, Here? Hoekom het U vir my so ’n koppige,
frustrerende vrou gegee? Sy dryf my tot waansin.
Angel is bewus daarvan dat hy opstaan. Sy wonder waarheen hy gaan en
mis sy liggaamshitte. Toe hy terugkom, maak sy asof sy slaap. Maar in
plaas daarvan om by haar in die bed te klim, gaan sit hy op die wilgerstoel
voor die vuur. Waaroor broei hy so? Die vee? Die oes?
Toe sy die oggend opstaan, sit hy in die stoel en slaap. Angel trek sy ou
hemp uit en kry haar klere bymekaar. Toe sy omdraai, sien sy hoe hy haar
aankyk en weet onmiddellik wat dit is wat hom pla. Sy het daardie kyk al
genoeg op mans se gesigte gesien om te weet wat dit beteken. Is dit ál wat
hom pla? Nou waarom sê hy dan nie so nie?
Sy rek haar uit en laat haar arms effens sak sodat hy na haar moet kyk.
Sy glimlag op haar ou manier vir hom.
’n Spiertjie spring in sy wang. Hy staan op, haal sy hoed van die haak by
die deur af en stap uit.
Sy frons, stomverbaas.
Angel maak vir hom ontbyt en wag dat hy terugkom. Toe hy kom, eet hy
sonder om iets te sê. Sy het hom nog nooit in so ’n slegte bui gesien nie. Hy
kyk ontsteld na haar. “Het jy besluit of jy daardie neute gaan optel?”
Haar wenkbroue skiet op. “Ek sal dit optel. Ek het nie besef jy is só
haastig nie.” Sy stoot haar stoel terug en loop uit na die skuur om die sak te
kry. Dit vat haar ’n hele paar uur om die sak vol te maak. Sy sleep haar vrag
terug en gooi die neute uit. Trots op haar werk skud sy die sak uit.
Michael is besig om hout te kap. Hy hou op vir ’n rukkie, vee sy voorkop
met die agterkant van sy hand af en knik in die rigting van die hoop neute.
“Is dit al?”
Haar glimlag verstil. “Is dit nie genoeg nie?”
“Ek het gedink daar sal meer wees.”
Sy verstyf. “Jy bedoel ek moet alles optel?”
“Ja.”
Met stywe lippe stap sy terug. “Miskien is hy ’n eekhoring,” mompel sy
onderlangs. Miskien wil hy die neute saam met die groente en gerookte
wildsvleis verkoop. Hardkoppig en vies hou sy deur middagete aan met
optel. Hy kan sy eie kos maak. As hy wil neute hê, sal hy neute kry.
Dis al amper skemer toe sy die laaste sak in die skuur neersit. Haar rug
pyn. “Ek het deur al die blare gesoek, maar kon niks meer kry nie,” sê sy
sarkasties. Sy smag na ’n lang, warm bad, maar net die gedagte daaraan om
een emmer water aan te dra, laat haar van die idee afsien.
Hy glimlag. “Daar is genoeg om met die bure te deel.”
Deel? “Ek het nie besef ons hét bure nie,” sê sy vererg en pluk ’n
moedswillige blonde haarsliert uit haar mond. Sy het nie al hierdie werk vir
’n spul vreemdelinge gedoen nie. Hulle kan sowaar hul eie neute optel.
Hoekom gee jy tog om, Angel? Jy gaan in elk geval nie eens hier
wees nie.
“Ek gaan my was en dan aandete gereedkry,” sê sy en stap af na die
spruit toe.
“Dit klink goed,” sê Michael. Hy grinnik en steek die vurk in die hooi.
Hy begin sag fluit.

’n Halfuur later kom Mara teruggehardloop. “Kyk hier!” Sy hou haar hande
na hom toe uit sodat hy haar swart palms en vingers kan sien. “Ek het hulle
met seep gewas. Ek het vet probeer. Ek het selfs met sand geskrop. Hoe kry
’n mens dié goed af?”
“Dis die doppe se kleursel.”
“Bedoel jy my hande gaan so bly?”
“Net vir ’n paar weke.”
Haar blou oë trek op skrefies. “Het jy geweet dit gaan gebeur?”
Hy glimlag effentjies en gooi hooi in die stal.
“Hoekom het jy my nie gesê nie?”
Michael leun op die gaffel. “Jy het nie gevra nie.” Sy bal haar gevlekte
hande in vuiste, en haar gesig raak rooi van woede. Sy lyk nie meer
onverskillig en afsydig nie. Hy gooi olie op die vuur. “Die neute moet nog
geskil en gedroog word voor ons dit weer in die sakke kan pak. Dan het ek
en jy die hele winter om hulle te kraak.”
Hy sien hoe haar wange rooi uitslaan. Sy is gereed om te ontplof. “Jy het
dit met opset gedoen!”
Sy eie humeur lê vlak, so hy bly liewer stil.
“Hoe kan ek nou teruggaan met my hande wat só lyk?” Sy kan hoor hoe
Duchess vir haar donker hande lag.
Michael se mondhoeke trek skeef. “Jy weet, Mara, as jy regtig so graag
wou teruggaan, kon jy dit al weke gelede gedoen het.”
Sy bloos, en dit maak haar nog kwater. Sy het jare laas gebloos.
“Hoekom dit?” wil sy woedend weet. “Jy het waarde vir jou geld uit my
gekry!”
Hy gooi die vurk in die hooimied. “Ek het nog niks van jou gekry nie,
dametjie. Niks wat iets werd is nie.”
Haar woede laat haar rooi sien. “Miskien is jy net nie mans genoeg om
dit op die gewone manier te doen nie!” Sy swaai om, begin by die skuur
uitloop en vloek hom onderlangs.
Michael se humeur ontplof. Hy haal haar in en swaai haar om. “Moenie
onderlangs mompel nie, Mara. Komaan! Sê dit vir my in my gesig. Laat ons
nou vir eens en vir altyd hoor hoe jy regtig oor my voel.”
Sy ruk haar los en noem hom al wat ’n naam is. En sy ken ’n hele paar
sulke name. Sy sien hoe woedend hy is en wip haar ken uitdagend op.
“Kom, slaan my. Miskien sal dít van jou ’n man maak!”
“Ek twyfel, maar dis wat jy wil hê, nie waar nie? Nog ’n loesing. Meer
slanery.” Hy is bang vir sy eie emosies; die warm, bruisende bloed wat haar
tot ’n geveg wil uitdaag. Hy ril daarvan. “Dis al wat jy ken, en jy is so vol
van jou eie koppige trots dat jy nie wil uitvind of daar enigiets anders in die
wêreld is nie!”
“Moenie my laat lag nie! Dink jy jy is enigsins anders as die ander? Ek is
ontslae van dié plek. Ek het jou uur vir uur terugbetaal. Ek het genoeg
gewerk om jou waarde vir jou goud te gee.”
“Nonsens. Jy hardloop omdat jy bang is, want jy begin dit hier geniet.”
Sy mik ’n vuishou na hom, maar hy keer die hou weg. Sy probeer weer, en
hy gryp haar gewrig vas. “Uiteindelik het ek jou volle aandag!” Hy laat
haar toe om haarself los te wriemel. “Ten minste kyk jy na my in plaas van
deur my.”
Angel swaai om en storm oor die werf. Sy draf by die hut in en slaan die
deur hard agter haar toe. Michael verwag dat iets deur die venster gaan
vlieg, maar niks gebeur nie.
Sy hart klop soos ’n lokomotief. Hy slaak ’n sug van verligting en stoot
sy vingers deur sy hare. Daar gaan van nou af oorlog wees tussen hulle.
Wel, dan moet dit maar wees. Enigiets is beter as haar afsydige houding. Hy
gaan aan met sy werk.
Toe hy binnekom, lyk Mara verbasend bedaard. Sy kyk skrams na hom
en glimlag soet terwyl sy vir hom bredie in ’n bakkie skep en dit op die
tafel sit. Een versigtige happie, en hy weet daar is genoeg sout in om hom te
pekel. Die koekies het sand in, en toe hy in sy beker koffie kyk, sien hy ’n
halfdosyn vlieë bo-op die stomende koffie dryf. Hy lag en gooi die koffie
by die deur uit. Wat beplan sy nog vir hom? “Hoekom praat ons nie eerder
oor wat dit is wat jou regtig pla nie?”
Angel vou haar hande op die tafel. “Ek kan jou net een ding vertel. Ek
gaan beslis nie vir altyd hier by jou bly nie.” Hy kyk bloot na haar met
daardie effense, enigmatiese glimlag van hom wat haar woedend maak. “Ek
gaan nie,” sê sy weer.
“Ons sal elke dag aanpak soos wat dit kom, geliefde.” Hy haal ’n blikkie
boontjies van die rak af en maak dit oop. Haar oë blits gevaarlik. Hy leun
teen die tafel en eet sy koue aandete.
Sy gluur kom aan. “Ek hoort nie hier nie, en jy wéét dit.”
“Waar dink jy hoort jy? Terug in daardie bordeel?”
“Dis my keuse, nie waar nie?”
“Jy besef nog nie eens dat jy ’n keuse het nie. Jy dink daar is net een pad
om te loop, en dis afdraande hel toe.”
“Ek weet wat ek wil hê.”
“Gee jy om om my ook te sê?”
“Ek wil hier wegkom!” Sy staan op en gaan buitentoe, te kwaad en
gefrustreerd om na hom te kyk.
Michael sit die blikkie neer en gaan staan in die deur. “Ek glo dit nie.”
“Dit weet ek, maar ek kan nie sien hoe wat ek wil hê enigsins iets met
jou te make het nie.” Hy lag, maar dis nie omdat hy lekkerkry nie. Sy kyk
hom briesend aan. Haar oë glinster in die maanlig. “Wat het jy alles in
gedagte gehad toe jy my hierheen gebring het?”
Michael sê vir ’n lang tyd nie ’n woord nie. Hy wonder of sy dit sal
verstaan. Hy wonder of hy dit enigsins in die regte woorde kan uitspel. “Ek
wil hê jy moet my liefhê,” sê hy en kan die veragting op haar gesig sien.
“Ek wil hê jy moet my genoeg vertrou om my toe te laat om jou lief te hê,
en ek wil hê jy moet hier by my bly sodat ons saam ’n toekoms kan hê. Dis
wat ek wil hê.”
Haar woede bedaar voor sy opregtheid. “Meneer, kan jy nie verstaan dat
dit onmoontlik is nie?”
“Enigiets is moontlik.”
“Jy het geen idee wie en wat ek is behalwe dit wat jy in jou eie gedagtes
opgemaak het nie.”
“Vertel my dan.”
Vertel hom, Angel. Vertel hom.
Hy sou nooit kon raai wat sy al alles gedoen het en wat al aan haar
gedoen is nie. O, sy kan hom vertel. Aanlê met ’n dubbelloop. Op die man
af. Mik reguit vir die hart. Verwoesting. Dit sal ’n vinnige einde aan alles
bring. Hoekom huiwer sy?
Michael stap buitentoe. “Mara,” sê hy. Sy liefdevolle stem is soos sout in
haar wonde.
“My naam is nie Mara nie. Dis Angel. Angel.”
“Nee, dit is nie. Ek sal jou noem soos wat ek jou sien. Mara. Verbitter
deur die lewe; Tirsa, my geliefde wat ’n vuur in my aansteek totdat ek voel
ek smelt.” Hy stap nader aan haar. “Jy kan nie aanhou weghardloop nie.
Kan jy dit nie insien nie?” Hy gaan staan reg voor haar. “Bly hier. Bly by
my. Ons sal saam dinge uitwerk.” Hy raak aan haar. “Ek het jou lief.”
“Het jy enigsins ’n idee hoeveel keer ek al daardie woorde gehoor het?
Ek het jou lief, Angel. Jy’s so ’n pragtige klein dingetjie. Ek het jou lief, my
skat. O, liefling, ek is mal daaroor as jy dit doen. Sê jy is lief vir my, Angel.
Sê dit op so ’n manier dat ek jou sal glo. Ek is lief vir jou, ek is lief vir jou,
ek is lief vir jou. Ek is tot die dood toe moeg daarvan om dit te hoor!”
Sy kyk hom kwaai aan, maar die uitdrukking op sy gesig laat haar die
stryd gewonne gee. Sy vou haar arms styf om haar lyf. Moenie dink nie.
Moenie enigiets voel nie. Hy sal jou vernietig as jy dit toelaat. Sy probeer
haar aandag by iets anders bepaal.
Die naglug is so helder, met sterre oral en ’n maan so groot dit lyk soos
’n enkele silwer oog wat op hulle afkyk. Haar gedagtes en emosies is steeds
besig om te kook. Sy probeer haar verdedigingsmeganismes bymekaarkry,
maar dit is nie meer so sterk nie. Sy wil weer op daardie heuwel wees en die
son sien opkom. Sy onthou sy woorde: “Mara, dís die lewe wat ek jou wil
gee.” Wie probeer hy flous? Sy wéét dit kan nooit gebeur nie, selfs al weet
hy dit nog nie.
Haar oë brand. “Ek wil so gou moontlik teruggaan Pair-a-Dice toe.”
“Kom ek te naby aan jou?”
Sy swaai om. “Ek bly nie hier by jou nie!” Sy probeer haarself kalmeer
en met hom redeneer. “Kyk, meneer, as jy maar die helfte weet van wat ek
al gedoen het, sal jy my so gou moontlik terugstuur Pair-a-Dice toe ... ”
“Toets my. Vertel my, en kyk of dit ’n verskil aan my maak.”
Net die gedagte daaraan laat Angel ineenkrimp. Sy het Pandora se boks
oopgemaak en kan dit nie weer toekry nie. Die walglike, groteske
herinneringe herrys uit die dood. Haar pa. Haar oorlede ma wat aan die
bidkrale vasklou. Rab met die koord om sy nek omdat hy geweet het Duke
is nie die morele, agtermekaar burger wat die publiek dink hy is nie. Duke
wat haar herhaaldelik verkrag. Die dosyne mans in die jare daarna. En die
honger; die eindelose, pynlike honger in haar.
Michael kan in die maanlig sien hoe wit haar gesig is. Hy weet nie wat
sy dink nie, maar hy weet haar verlede kasty haar. Hy steek sy hand uit en
raak aan haar wang. “Ek wens ek kon jou kop oopmaak en saam met jou
binne-in klim.” Miskien kan hulle twee sáám die donkerte beveg wat haar
heel wil verswelg. Hy wil haar in sy arms toevou, maar sy het klaar van
hom onttrek. God, hoe kan ek haar red?
Angel kyk op na hom en sien die mistigheid in sy oë. ’n Skok trek deur
haar liggaam. “Huil jy? Oor my?” vra sy swak.
“Dink jy nie jy is dit werd nie?”
Iets in haar breek. Sy kriewel binne-in om van die gevoel ontslae te raak,
maar dis daar en groei met die ligte aanraking van sy hand op haar skouer;
met elke sagte woord wat hy sê. Sy is seker as sy haar hande teen haar hart
hou, sal haar palms vol bloed wees. Is dit wat hierdie man wil hê? Dat haar
hart vir hom moet bloei? “Praat met my, Amanda,” fluister hy. “Praat met
my.”
“Amanda? Wat is dié naam veronderstel om te beteken?”
“Ek weet nie, maar dit klink soos ’n teer, liefdevolle naam. Ek het gedink
jy sal meer daarvan hou as van Mara.”
Hy is ’n vreemde man met vreemde gewoontes. Wat het van haar
verdedigingsmeganismes geword? Waar is haar uittarting en woede? Haar
voornemens? “Wat wil jy hoor, meneer?” probeer sy geamuseerd sê, maar
slaag nie daarin nie. Wat kan sy vir ’n man soos hy vertel wat hy enigsins
sal verstaan?
“Enigiets. Alles.”
Sy skud haar kop. “Niks. Nooit nie.”
Michael vou sy hande sag om haar gesig. “Vertel my dan net wat jy op
hierdie presiese oomblik voel.”
“Pyn,” glip dit uit voor sy kan keer. Sy stoot sy hande weg en gaan in die
hut in.
Sy kry koud en is desperaat om warm te word. Sy kniel voor die vuur,
maar selfs daardie hitte wil nie haar liggaam binnedring nie. Sy kan in die
kole gaan lê en nog steeds nie die koue afweer wat van haar besit geneem
het nie.
Hardloop weg van hom, Angel. Hardloop nóú weg ...
Bly, geliefde.
Stemme baklei in haar kop en ruk haar siel uitmekaar.
Michael kom binne en gaan sit langs haar op die vloer. Hy sit doodstil en
kyk hoe sy haar knieë optrek en hulle teen haar bors vasklou. Hy weet sy
probeer hom weer uitsny. Hierdie keer gaan hy haar nie help om dit reg te
kry nie. “Gee jou pyn vir my,” sê hy.
Angel kyk verras na hom. Sy is in die wildernis saam met hierdie man.
Sy is desperaat om ’n bekende pad, die een of ander bekende baken te kry
om haar hieruit te lei. Sy kan nie onthou wanneer laas sy selfs net na aan
trane gevoel het nie. En sy het nie trane nie. Nie meer nie. Hosea verstom
haar.
“Ek het al alles vir jou gedoen behalwe die een ding wat ek die beste
ken.” Sy soek in sy oë na ’n verduideliking. “Hoekom nie?” Sy
gesigsuitdrukking verander, en sy voel hoe sy teenoor hom versag. Hy is
weerloos, en sy het vreemd genoeg geen begeerte om hom aan te val nie.
“Is jy bang? Is dit wat jou keer? Dink jy ek gaan met jou spot omdat jy nog
nooit by ’n vrou geslaap het nie?”
Michael steek sy hand uit en vryf een van haar haarslierte tussen sy
vingers. Waar is al sy rasionele antwoorde nou? “Ek skat ek het daaraan
gedink. Maar wat belangrik is, is dat ek moet weet hoekom.”
“Hoekom wat?” vra sy. Sy verstaan nie wat hy probeer sê nie.
“Hoekom jy met my sal liefde maak.”
“Hoekom?” Sy sal hierdie man nooit verstaan nie. Al die ander mans wat
sy ken, sou verwag dat sy hulle moet bedank as hulle vir haar soveel as ’n
boks sjokolade of ’n bos blomme gee. Hierdie man het haar aan die lewe
gehou en verpleeg tot sy gesond was. Hy het haar dinge geleer wat haar kan
help om op haar eie twee bene te staan. En nou wil hy weet hoekom sy haar
liggaam vir hom aanbied. “Sal dankbaarheid ’n goed genoeg rede wees?”
“Nee. Dit was nie in my mag om jou te laat lewe of sterwe nie. Dit was
die Here se besluit.”
Angel kyk weg. “Moenie met my oor jou god praat nie. Hy het nie
teruggekom na my toe nie. Jý het.” Sy lê met haar kop op haar opgetrekte
knieë en sê niks verder nie.
Michael begin iets sê, maar die stem laat hom stilbly.
Michael, daar is ’n tyd vir alles.
Hy onderdruk ’n sug en neem die boodskap ter harte. Sy is nie gereed
om na die hoekoms en waarvoors te luister nie. Dit sal suur wees, nie salf
nie. Hy bly dus eerder stil.
Here, gee vir my leiding, asseblief.
Die vuur knetter, en die kalmerende geluide laat Angel ontspan. “Ek wou
sterf,” sê sy. “Ek kon nie wag nie, en net toe ek dink ek het, toe is jy daar.”
“Wil jy nog steeds eerder sterf?”
“Nee, maar ek weet ook nie hoekom ek wil lewe nie.” Die opwelling van
emosie gaan verby. Sy draai haar kop effens en kyk weer na hom. “Miskien
het dit iets met jou te doen. Ek weet nie meer nie.”
Die vreugde borrel in Michael op, maar net vir ’n oomblik. Sy lyk
seergemaak, nie gelukkig nie; verward, onseker. Hy brand om aan haar te
raak, maar is bang sy verstaan dit verkeerd.
Vertroos my lam.
As ek nou aan haar raak, Here ...
Vertroos jou vrou.
Michael vat haar hand. Haar hele arm verstyf, maar hy los nie haar hand
nie. Hy draai haar hand in syne om en strek sy vingers oor haar swart palm
en vingers uit sodat sy groot hand hare bedek. “Ons is sáám in hierdie ding,
Amanda.”
“Ek verstaan jou nie,” sê Angel.
“Ek weet, maar gee my kans en jy sal.”
“Nee, ek dink nie ek sal ooit nie. Ek weet nie wat jy van my wil hê nie.
Jy sê alles en vat niks. Ek kan sien hoe jy na my kyk, maar jy het my nog
nooit soos jou vrou behandel nie.”
Michael draai die goue pand om haar vinger. Sy is sy vrou. Dis tyd dat
hy iets daaromtrent doen. As sy nie die verskil ken tussen seks en liefde
maak nie, sal hy haar moet wys. O, God, ek is bang, bang vir die diepte van
my fisieke begeerte. Bowenal is hy bang hy weet nie hoe om haar te
bevredig nie.
Here, help!
Angel sien hoe hy na die ring aan haar vinger kyk. “Wil jy dit terughê?”
“Nee.” Hy vleg sy vingers deur hare en glimlag vir haar. “Die getroude
lewe is vir my net so nuut soos vir jou.” ’n Kalmte daal oor hom neer, en hy
weet alles gaan oukei wees.
Angel kyk weg. Sy het al met hoeveel getroude mans te doen gehad, en
sy weet wat hulle daaroor te sê het. Hul vrou verstaan hulle nie. Hulle het
vir die gerief getrou en om ’n nageslag te hê. Hulle is verveeld met
dieselfde vrou en soek ’n bietjie afwisseling –
soos om biefstuk vir aandete te geniet in plaas van bredie; vis in plaas van
hoender. Die meeste sê hul vroue geniet nie seks nie. Dink hulle sý geniet
dit?
“Wat ek van die huwelik af weet, is nie te bemoedigend nie.”
“Miskien nie.” Michael soen haar hand. “Maar ek glo die huwelik is ’n
kontrak tussen ’n man en ’n vrou om ’n lewe saam te beplan. Dis ’n belofte
om mekaar altyd lief te hê.”
“Jy weet wat ek is. Hoekom sal jy so ’n belofte aan my wil maak?”
“Ek weet wat jy wás.”
Sy voel ’n pyn binne-in haar. “Jy sal nooit leer nie, nè?”
Michael buig oor na haar, lig haar gesig op na hom en soen haar. Sy beur
nie terug nie, maar neem ook nie deel nie. Here, ek sal ’n bietjie hulp hier
waardeer. Hy bewe terwyl hy sy vingers deur haar hare kam en haar weer
soen.
Hy is so huiwerig dat Angel ontspan. Dit kan sy hanteer. Sy kan hom
met gemak hanteer. Sy kan hom selfs ’n bietjie aanhelp.
Michael deins terug. Hy gaan nie sy begeerte toelaat om soos ’n wilde
perd met hom weg te hardloop nie. Hy gaan nie liefde uit die oog verloor
ter wille van seks nie, al is sy baie meer gemaklik daarmee.
“My manier, nie joune nie. Onthou?” Hy staan op.
Angel kyk hom verward aan. “Wat weet jy daarvan?”
“Ons sal maar moet wag en sien.”
“Hoekom maak jy dinge vir jouself so moeilik? Dit kom alles op
dieselfde ding neer. Dit sal nie mý manier of jóú manier wees nie. Dit sal
net wees soos wat dit is.”
’n Geslagsdaad is wat sy bedoel, en hy weet nie hoe om vir haar te wys
dat dit ’n viering van die liefde behoort te wees nie.
Al wat Angel sien, is sy vasberadenheid. Sy staan stadig op en gaan
staan by hom. “As dit dan op jou manier moet wees, goed. Laat dit op jou
manier wees.” In die begin.
Michael kyk haar in die oë en sien geen hardheid nie. Maar hy sien ook
nie begrip nie. Hy weet nie meer na watter deel van homself hy moet luister
nie. Sy liggaam maak hom gek. Sy is vir hom so beeldskoon.
“Laat ek jou help,” sê sy en vat sy hand.
Michael sit op die wilgerstoel. Sy hart klop in sy keel toe sy voor hom
kniel en sy stewels uittrek. Hy is vinnig besig om beheer te verloor. Hy
staan op en gee effens pad van haar. Hy knoop sy hemp los en trek dit uit.
Terwyl hy uittrek, dink Michael die hele tyd aan Adam in die Tuin van
Eden. Hoe het hy gevoel die eerste keer toe Eva na hom toe gekom het?
Doodsbenoud, maar bruisend van die lewe?
Toe Michael omdraai, staan sy vrou kaal voor die vuur vir hom en wag.
Sy is ongelooflik, net soos Eva moes gewees het. Michael loop in
verwondering na haar toe.
O, Here, sy is so volmaak, soos geen ander skepsel op aarde nie. My
maat. Hy tel haar in sy arms op en soen haar.
Toe hy hom langs haar op hul huweliksbed uitstrek, is hy verwonderd
oor hoe sy by hom pas, vlees tot vlees; vir hom gemaak. “O, Jesus,” fluister
hy, sprakeloos oor dié geskenk.
Angel voel hoe hy bewe en weet dis as gevolg van sy lang selfopgelegde
onthouding. Vreemd genoeg skrik dit haar nie af nie. In plaas daarvan voel
sy ’n vreemde gevoel van simpatie. Sy stoot die gevoelens eenkant toe en
probeer hom uit haar gedagtes sit. Sy is verbaas toe hy van haar wegbeur en
haar oë deursoek. Sy eie oë is so vol emosie dat sy wegkyk.
Dink aan jou geld in Pair-a-Dice, Angel. Dink aan hoe jy gaan
teruggaan en dit by Duchess gaan haal. Dink aan hoe jy iets van jou eie
gaan hê. Dink aan hoe vry jy gaan wees. Moenie aan hierdie man dink
nie. Dit het in die verlede vir haar gewerk. Hoekom nie nou nie? Komaan,
Angel. Onthou jy hoe jy altyd jou gedagtes afgesluit het? Jy het dit al
voorheen gedoen. Doen dit nou weer. Moenie dink nie. Moenie voel nie,
vertolk net jou rol. Hy sal nooit weet nie.
Michael is nie soos ander mans nie, en hy weet. Hy hoef nie dood te
gaan om te besef dat sy hom tot by die hemelpoorte gebring het en die
hekke in sy gesig toegeklap het nie.
“My liefling,” sê hy en draai haar gesig terug na hom toe. “Hoekom laat
jy my nie nader aan jou toe nie?”
Sy probeer lag. “Hoe naby wil jy wees?” Sy wéét hierdie man is anders
as die res en moet haarself teen hom beskerm.
Michael sien die doodsheid in haar blou oë, en dit breek sy hart. “Jy sluit
my aanhoudend uit. Tirsa, bly by my.”
“Is ek nou Tirsa?”
O, Jesus, help my. “Hou op om van my af weg te hardloop!”
Angel wil dit uitgil: “Nie van jóú nie! Van dít. Van die sinlose,
selfsugtige soeke na plesier. Hulle s’n en joune, nie myne nie. Nooit myne
nie.” Maar sy doen dit nie. In plaas daarvan sê sy kwaai: “Hoekom moet jy
altyd praat?” Sy spartel, maar hy is onwrikbaar.
Hoekom moet hy aanhou sukkel om haar gedagtes binne te gaan en hom
met haar binneste te bemoei en haar konsentrasie te verbreek? Hy hou aan
om haar gevoelens deurmekaar te maak en dit tot ’n borrelende massa te
roer. Hy hou haar vas en kyk diep in haar oë en is bewus van haar, en iets
dieps beweeg binne haar.
Haar paniek groei, en sy maak haar oë toe.
“Kyk na my, geliefde.”
“Moenie.”
“Moenie wat nie? Jou liefhê nie? Deel van jou word nie? Ek ís deel van
jou.”
“Op dié manier?”
“Op élke manier.”
“Nee,” sê sy en beur weg.
“Ja!” sê hy teer. “Dit kan mooi wees. Dit hoef nie te wees soos wat jy
geleer is nie. Dit is ’n seën. O, my geliefde, sê my naam ... ”
Hoe kan hy dink dit kan enigiets anders as walglik en eenvoudig wees?
Sy weet alles wat daar te wete is daaroor. Het Duke haar dan nie geleer nie?
Het al die ander nie? So, hierdie boer wil weet hoe dit regtig is. Wel, sy sal
hom wys.
“Moenie.” Sy kras bevel verwar haar.
“Wil jy nie hê ek moet jou tevrede stel nie?”
“As jy my tevrede wil stel, sê my naam.” Sy asem vloei met hare ineen.
“Jy het gesê jy sal nie nee sê vir enigiets wat ek vra nie. Onthou jy? Ek wil
hê jy moet my naam sê. Jy het gesê enigiets. Kan jy nie jou belofte hou
nie?” Hy verloor sy humeur. “Sê dit!”
“Michael,” stamel sy dit uit.
Hy vou sy hande om haar gesig. “Kyk na my. Sê dit weer.”
“Michael.” Is hy nou tevrede? Sy wag vir sy triomfantlike grinnik. In
plaas daarvan sien sy die aanbidding in sy oë en hoor die teerheid in sy
stem.
“Sê dit weer ... ”
Toe alles oor is, hou Michael haar styf vas en sê hoe lief hy haar het en
watter genot hy in haar gevind het. Hy is nie meer weifelend nie, nie meer
in die minste onseker nie, en met sy groeiende sekerheid, word haar twyfel
al hoe groter.
’n Onbekende en onwelkome emosie begin diep binne-in Angel opwel.
Iets hards en styf gespanne begin versag en ontvou. En daarmee saam kom
die donker stem.
Maak dat jy wegkom van hierdie man, Angel. Jy moet hier wegkom!
Red jouself en vlug. Vlug!
Dertien

As jy dit nog nie het nie, sien jy gretig en volhardend daarna uit.
Romeine 8:25

Toe Michael uitgaan om sy oggendtake te doen, loop Angel teen die heuwel
uit na die pad toe. Die dowwe spore wat Michael met sy wa uitgetrap het
tydens sy ritte na die kamp se markte is moeilik om te volg. Op ’n pad
waarop daar nie gereeld gery word nie, is sy gou verdwaald. Alles lyk so
onbekend dat sy verbouereerd raak. Volg sy nog die regte rigting of stap sy
in ’n sirkel en is terug naby Hosea se huis waar sy begin het?
Donker wolke begin saampak. Angel trek haar tjalie stywer om haar,
maar die dun beskutting is nie genoeg teen die byt in die lug nie.
Sy mik in die rigting van die berge. Pair-a-Dice moet iewers daar bo
wees en deur in daardie rigting te gaan, het sy ’n beter kans om daar uit te
kom. Solank sy ooswaarts hou, behoort sy van Michael Hosea weg te kom.
Hoe verder sy van hom af wegkom, hoe beter.
Dinge tussen hulle het verander. Dis nie net die feit dat hy uiteindelik
met haar seks gehad het nie. Daar is iets anders, iets diepers en tasbaarders,
iets wat sy nie verstaan nie. Sy is nie seker wat dit is nie, maar sy weet as sy
haar lewe haar eie wil noem, moet sy van hom wegkom. Nou.
Maar waar is die pad na vryheid? Sy soek tevergeefs.
Sy sien ’n spruit en besluit om te gaan water drink. Sy buk af op haar
knieë, skep water met haar hande en drink gulsig. Sy kyk om haar rond en
wonder of dit dieselfde stroom is wat deur Michael se plaas loop. As dit die
geval is, moet sy sekerlik die spruit oorsteek en teen daardie heuwel uitklim
om weer by die pad uit te kom.
Die water lyk vlak en die stroom kalm. Sy het vergeet om die
knoophakie saam te bring. Vies vir haarself, sukkel sy met die skoene tot sy
hulle uit het. Sy tel haar romp op, bondel dit saam en bêre haar skoene in
die voue voor sy in die stroom inloop.
Die rotse steek haar sagte voete, en die water is so koud dat dit haar
seermaak. Sy voel-voel haar pad versigtig met haar voete, maar gly op ’n
gladde klip en laat een van haar skoene val. Angel vloek en probeer die
skoen bykom, maar gly weer en val dié keer in die water. Sy kom vinnig
weer op haar voete, maar is reeds sopnat. Nog erger, albei skoene dryf nou
met die stroom af. Sy haal haar tjalie af en gooi dit na die oorkantste oewer.
Een skoen het vol water geword en gesink. Angel kry dit maklik in die
hande en druk dit veilig voor by haar bloes in. Die ander skoen het teen die
takke van ’n ontwortelde boom vasgedryf. Sy strompel deur die water om
daarby uit te kom.
Die bruisende water raak dieper en die stroom hou haar terug, maar sy
weet sy kan nie die hele pad Pair-a-Dice toe kaalvoet loop nie. Sy móét
eenvoudig daardie skoen in die hande kry. Sy trek haar romp vasbeslote nog
hoër op en beweeg nader.
Toe die bodem skielik onder haar padgee, gryp sy na ’n tak en leun oor
om die skoen op te tel. Haar vinders raak-raak net aan die skoen toe die tak
skielik breek. Sy gil en verdwyn onder die koue water.
Die stroom trek haar al spartelend in die holte onder die boom in. Sy
klou aan die stam vas, trek haarself op en hyg na haar asem. Haar romp
haak iewers vas. Sy hou verbete aan die boom vas en skop haar romp los.
Sy gryp na die rankplante op die oewer. Die bloubessies se dorings steek in
haar palms, maar sy hou vas en trek haarself na die oewer toe, waar sy
uitgemergel neerval. Sy bewe onbeheers van die skrik en die koue.
Ontsteld gooi sy klippe na die skoen tot dit loskom en deur die stroom
gevat word. Dit steek vas in die riete nie ver van haar af nie, waar sy dit
sonder moeite kan uitkry.
Koud, moeg en verdrietig trek sy die papnat skoene aan en klim teen die
heuwel uit, oortuig daarvan dat sy die pad sal kry. Maar sy kry dit nie.
Dit begin reën. Eers net ’n paar druppels, toe harder. Die reën plak haar
hare teen haar kop vas en drup deur haar bloes. Koud, styf en so moeg dat
sy geen pyn voel nie, gaan sit Angel met haar kop in haar hande.
Wat help dit tog? Selfs al kom sy by die pad uit, kan sy nie so ver stap
nie. Sy sal dit nooit regkry nie. Sy is reeds doodmoeg, haar hele lyf pyn, sy
is honger, en sy het geen idee waar sy is nie.
Wie gaan daar wees om vir haar ’n geleentheid aan te bied Pair-a-Dice
toe? Wat as dit iemand soos Magowan is?
Gedagtes aan Michael se warm vuurherd, ’n warm kombers en kos pynig
haar. Sy het glad nie eens daaraan gedink om kos saam te bring nie. Haar
maag is hol van hongerte.
Verslae maar vasbeslote staan Angel op en stap aan.
Ná nog ’n myl is haar voete so seer dat sy haar skoene uittrek en een in
elke rompsak sit. Sy kom nie eens agter toe hulle een ná die ander uitval
nie.

Toe Michael terugkom vir ontbyt en sien dat Angel nie daar is nie, saal hy
sy perd op en gaan soek na haar. Hy verwyt homself dat hy dit nie verwag
het nie. Hy het die kyk in haar oë gesien toe hy haar laas nag gedwing het
om sy naam te sê. Hy het vir een kortstondige oomblik deur haar skanse
gebreek, en sy het niks daarvan gehou nie.
Hy volg die pad tot waar sy afgedraai het en volg haar spoor tot by die
stroom. Daar kry hy Tessie se tjalie. Hy sien skoenspore op die oewer en
volg haar spoor teen die heuwel uit.
Dit begin reën, en Michael bekommer hom dood oor haar. Sy moet
sopnat en koud wees en waarskynlik vreesbevange. Dis vir hom duidelik
dat sy geen idee het waar sy is of waarheen sy op pad is nie.
Hy kry haar skoene. “Here, sy is besig om weg van die pad af te dwaal.”
Hy galop tot bo die bult en kyk of hy haar kan sien. Hy kan haar in die verte
sien waar sy deur ’n grasveld loop. Hy maak sy hande bak voor sy mond.
“Mara!”
Sy stop en draai om. Selfs op hierdie afstand kan hy aan haar skouers en
die manier waarop sy haar kop draai, sien dat sy besluit het om hom te
verlaat. Hy ry stadig na haar toe. Toe hy omtrent honderd tree van haar af is,
klim hy van sy perd af en stap na haar toe. Haar gesig is vuil, haar bloes
geskeur, en daar is bloedvlekke op haar romp. Die blik in haar oë laat hom
stilbly.
“Ek gaan weg,” sê sy.
“Kaalvoet?”
“As ek moet.”
“Kom ons praat hieroor.” Toe hy sy hand onder haar elmboog sit, skram
sy weg en klap hom deur die gesig.
Verstom, struikel Michael ’n tree agteruit. Hy vee die bloed van sy mond
en kyk haar verbaas aan. “Waarvoor was dit?”
“Ek het gesê ek gaan weg. Jy kan my terugsleep, ek sal net weer
wegloop. Hoe lank dit ook al neem om dit in jou kop te kry.”
Michael staan stil. Sy woede brand erger as sy wang, maar hy weet wat
hy ook al nou sê, hy gaan later spyt wees daaroor.
“Hoor jy my, Michael? Dis ’n vry land. Jy kan my nie dwing om te bly
nie.” Hy sê nog steeds niks. “Jy besit my nie, ek gee nie om wat jy Duchess
betaal het nie!”
Geduld, het God gesê. Wel, sy geduld is besig om min te raak. Michael
vee die bloed van sy lip af. “Ek sal jou tot by die pad vat.” Hy stap weg na
sy perd toe.
Angel se mond hang oop van verbasing. Hy kyk na haar. Sy lig haar ken,
maar beweeg nie. “Ry jy saam of nie?” sê Michael.
Sy stap tot by hom. “So, jy het uiteindelik tot jou sinne gekom.”
Hy lig haar in die saal en swaai homself op agter haar. Toe hulle by die
pad kom, vat hy haar arm en lig haar uit die saal. Sy kyk hom verbysterd
aan. Hy haak die waterbottel los en gooi dit na haar. Sy vang dit teen haar
bors. Hy haal die skoene uit sy jas se sak en gooi hulle voor haar voete neer.
“Daardie kant is Pair-a-Dice,” sê hy. “Dis dertig myl, die hele pad
opdraand, en Magowan en Duchess wag daar vir jou.” Hy knik in die
teenoorgestelde rigting. “Daardie kant is huis toe. Een myl afdraand, ’n
vuur, kos en ek. Maar jy moet iets nou baie mooi verstaan. As jy terugkom,
gaan ons voort waar ons laas nag opgehou het, en ons hou nog steeds by mý
reëls.”
Hy los haar alleen in die pad.

Dis al donker toe Mara die hut se deur oopmaak. Michael kyk op van sy
boek, maar sê niks. Sy staan vir ’n oomblik in die deur, bleek, gespanne en
vaal van die stof. Met stywe lippe kom sy in.
“Ek sal vir die lente wag,” sê sy verbitterd en sit sy leë waterbottel op die
tafel. Sy val op ’n stoel neer, en hy kan sien dat elke spier in haar liggaam
pyn, maar sy is te hardkoppig om by die vuur na hitte te soek.
Michael kan aan haar gesig sien dat sy vir hom wag om met haar te spot.
Hy staan op en skep bredie uit die ysterpot. Hy vat ’n klein broodjie uit die
pan. Hy sit dit voor haar neer en glimlag droewig. Sy frons effens toe sy
vlugtig opkyk.
Duidelik morsdood van die honger begin sy eet. Hy skink vir haar koffie.
Sy drink klein slukkies en kyk hoe hy ’n pan vol warm water maak. Toe hy
met sy elmboog op die vuurherd leun en na haar kyk, kyk sy af en gaan
voort met haar ete.
“Kom sit hier,” sê hy toe sy klaar is. Sy is so moeg sy kan skaars
opstaan, maar sy maak soos hy sê. Hy kniel voor haar, sit die pan water by
haar voete en trek haar skoene uit.
Die hele pad terug kon sy haar voorstel hoe hy hom in haar ellende
verlustig en met haar spot. In plaas daarvan, kniel hy voor haar en begin
haar vuil voete vol blase was. Haar keel brand. Sy kyk af na sy donker kop
en worstel met die gevoelens wat in haar opwel. Sy wag dat dit moet
verdwyn, maar dit gebeur nie. Die gevoelens bly, en groei en laat haar nóg
seerder voel.
Sy hande is liefdevol. Hy is versigtig. Toe haar voete skoon is, masseer
hy haar pynlike kuite. Hy gaan gooi die vuil water weg en skink nog in. Hy
sit die pan op haar skoot neer, vat haar hande en was hulle. Hy soen haar
bevlekte, gekrapte palms en vryf salf in en draai hulle in warm lappe toe.
En ek het hom geklap. Ek het hom laat bloei ...
Angel krimp ineen van skaamte. Hy kyk op en sy kyk in sy oë. Hulle is
blou, soos ’n helder lentelug. Sy het dit nog nooit regtig raakgesien nie.
“Hoekom doen jy dit vir my?” vra sy met ’n swaar stem. “Hoekom?”
“Omdat een myl vir party van ons verder kan wees om te loop as dertig.”
Hy kam die stof en koeke uit haar hare, trek haar klere uit en sit haar in die
bed. Hy trek sy klere uit en gaan lê langs haar. Hy sê niks en hy vra niks.
Sy wil verduidelik. Sy wil sê sy is jammer. Die woorde wil net nie kom
nie. Hulle steek soos warm klippe in haar bors vas en druk haar al hoe
dieper en dieper na onder.
Ek wil nie so voel nie. Ek kan myself nie toelaat om so te voel nie. Ek sal
dit nie oorleef nie.
Michael draai op sy sy en stut sy kop met sy hand. Hy vee haar hare van
haar slape af weg. Sy is terug in sy klein hutjie en lyk meer verlore as ooit.
Haar liggaam is soos ’n ysblok. Hy trek haar nader om haar warm te maak
met sy hitte.
Angel roer nie toe hy haar soen nie. As hy seks wil hê, kan hy dit kry.
Soveel as wat hy wil. Enigiets. Vir vanaand, in elk geval.
“Probeer slaap,” sê hy. “Jy is nou veilig tuis.”
Tuis. ’n Rilling gaan deur haar liggaam toe sy diep inasem. Sy maak haar
oë toe. Sy het nie ’n tuiste nie. Haar kop lê op sy bors, en sy reëlmatige
hartklop maak haar rustig. Sy lê vir ’n lang ruk so, maar so moeg soos wat
sy is, kan sy nie aan die slaap raak nie. Sy draai op haar rug en lê en staar na
die plafon.
“Wil jy daaroor praat?” vra Michael.
“Oor wat?”
“Hoekom jy weggeloop het.”
“Ek weet nie.”
Michael vryf die kant van haar gesig saggies. “Ja, jy weet.”
Sy sluk swaar en veg teen emosies wat sy nie eens ken nie. “Ek kan dit
nie in woorde sê nie.”
Hy draai ’n stukkie blonde hare om sy vinger en trek dit liggies. “Toe ek
jou my naam laat sê het, kon jy nie langer voorgee dat niks tussen ons aan
die gebeur is nie, nie waar nie? Is dit wat dit is? Ek wou binne-in jou kop
klim, binne-in jou hart,” sê hy hees. “Het ek?”
“’n Bietjie.”
“Goed.” Hy streel weer haar gesig met een vinger. “’n Vrou is óf ’n muur
óf ’n deur, liefling.”
Sy lag halfhartig. “Dan is ek seker ’n deur waardeur duisende mans al
geloop het.”
“Nee, jy is ’n muur. ’n Klipmuur. Vier voet dik en honderd voet hoog.
Alleen kan ek nie oor jou kom nie, maar ek hou aan probeer.” Hy soen haar.
“Ek het hulp nodig, Tirsa.” Haar lippe versag, en sy raak aan sy hare. Hy
kan voel hoe iets in hom wakker gemaak word en lê effens weg van haar.
Hy weet hoe moeg sy is.
“Draai om,” sê hy saggies, en sy gehoorsaam. Hy trek haar liggaam styf
teen syne aan en sit sy arm om haar. Hy soen haar liggies op haar hare.
“Slaap nou.” Sy sug van verligting. Dis net ’n paar minute voor die slaap
haar oorval.
Sy lê in die veiligheid van Michael se arms en droom van ’n hoë, dik
muur. Hy is daar ver onder haar besig om rankplante te plant. Die oomblik
dat hy hulle in die grond steek, begin hulle groei en teen die muur uitklim
met hul sterk hegranke wat tussen die stene indring. Die messelklei begin
verkrummel.

Michael lê wawyd wakker in die donkerte. Hy sal moet ophou hoop om


deur haar skanse te bars. Maar hoe dring ek tot haar deur, Here? Sê vir my
hoe!
Hy maak sy oë toe en slaap rustig. Hy het heeltemal vergeet van die
vyand wat losloop in die wêreld. Die stryd is nog glad nie gewen nie.
Paul is op pad huis toe.
Veertien

Hou op om ’n oordeel oor ander uit te spreek.


Dan sal God ook nie ’n oordeel oor julle uitspreek nie.
Jesus, Matteus 7:1

Paul gooi sy paar besittings neer en staan op die heuwel. Hy sien hoe
Michael in die landerye werk en hou sy hande om sy mond om na hom te
roep. Michael sit die graaf neer en loop hom halfpad teen die heuwel uit
tegemoet. Hulle omhels mekaar. Paul bars amper in trane uit toe hy Michael
se veilige, sterk arms om hom voel.
“Ek is so bly om jou te sien, Michael,” sê hy, sy stem grof van moegheid
en emosie. Die verligting is so groot dat hy sy nie-manlike trane met moeite
bedwing. Hy staan terug en vryf skaam oor sy gesig. Hy het weke laas
geskeer en sy hare is lank. Hy het al vir ’n maand lank dieselfde klere aan.
“Ek moet seker erg lyk.” Hy lag flouerig. “Dit was verskriklik.” Harde werk
vir min of niks geld, drank om hom te help vergeet, vroue om hom te help
onthou en baklei net om te oorleef.
Michael sit sy hand op sy skouer. “Jy sal sommer baie beter lyk as jy
eers gewas en skoon aangetrek is en ’n ordentlike bord kos geëet het.” Paul
is te moeg om teë te stribbel toe Michael teen die heuwel uitstap en sy
besittings op sy skouer sit. “Hoe was dit op die Yuba?”
Paul glimlag wrang. “Aaklig en koud.”
“Het jy gekry waarna jy gesoek het?”
“As daar goud in daardie verdomde heuwels is, het ek nie veel daarvan
gesien nie. Wat ek gekry het, was skaars genoeg om mee te oorleef.” Hy
kyk na sy deel van die vallei en dink aan Tess. Die laaste paar dae het hy
heeltyd aan haar gedink en hoe dit hul droom was om Kalifornië toe te kom
en ’n plekkie van hul eie te bou. Haar dood het hom na die goudvelde
gedryf. Elke keer wat hy aan haar dink, oorval die pyn hom weer.
O, Tessie, hoekom moes jy doodgaan? Sy oë brand en skiet vol trane. Hy
het haar só bitter nodig. Hy weet nie meer wat hy doen nie. Sy lewe het
betekenisloos geword toe sy dood is.
“Is jy vir goed by die huis?” vra Michael.
Paul weet nie of hy sy stem kan vertrou nie en maak sy keel skoon. “Ek
weet nog nie,” erken hy reguit. “Ek is net ongelooflik uitgeput.” Hy is te
uitgeput om aan môre te dink. “Ek sou nie die winter in die berge oorleef
het nie. Ek was nie eens seker of ek dit tot by die huis sou maak nie.”
Noudat hy hier is, ervaar hy weer die ou pyn. Dank die Vader hy kan die
winter by Michael deurbring. Hy sien uit na ure se intelligente gesprekke.
Al waaroor die mans op die spruite gepraat het, was goud en vroue. Michael
praat oor baie dinge; groot dinge wat in ’n man se kop bly maal en hom
hoop gee.
Hy is na die spruite om sy fortuin op die vinnige manier te maak.
Michael het saam met hom gegaan, maar net vir ’n paar maande gebly. “Dis
nie wat ek uit die lewe wil hê nie,” het hy gesê en Paul probeer oortuig om
saam met hom terug te gaan plaas toe. Sy trots het Paul daar laat bly. Die
koue, ontnugtering en honger het hom laat terugkom. Nie ’n honger na kos
of selfs rykdom nie, maar ’n dieper geesteshonger.
Michael sit sy hand op Paul se skouer. “Ek is bly jy is tuis.” Hy grinnik.
“Daar is landerye om te bewerk, broer, en werksmense is skaars.”
Michael maak dit altyd so maklik. Paul glimlag afgetrokke. “Dankie.”
Hy val langs Michael in. “Dit was glad nie wat ek verwag het nie.”
“Geen pot aan die einde van die reënboog nie?”
“Nie eens ’n reënboog nie.” Hy voel alreeds beter. Hy dink hy sal tog
bly. Liewer grond breek as jou rug. Liewer ’n stal skoonmaak as om in
yskoue water te staan en ’n paar skamele stukkies goud in ’n geroeste pan te
probeer kry. Die stil, eenvoudige lewe van ’n boer is net wat hy nou nodig
het. Die eendersheid en roetine van elke dag. Om iets uit die aarde te sien
groei, eerder as om iets daaruit te neem.
“Het hier enigiets interessants gebeur terwyl ek weg was?” Hy kan sien
Michael het aangebou en nog ’n stuk veld skoongemaak.
“Ek het getrou.”
Paul steek vas en kyk Michael verstom aan. Hy vloek. “Jy speel seker.”
Die oomblik toe die woorde uit is, besef hy hoe sleg dit klink. “Jammer,
maar ek het nog nie een ordentlike vrou teëgekom vandat ons hier
aangekom het nie.” Hy sien die vreemde uitdrukking op Michael se gesig
en probeer red wat hy kan. “Sy moet báie spesiaal wees as jý met haar
getrou het.” Michael het altyd gesê hy wag vir die regte een.
Paul probeer bly wees vir Michael se onthalwe, maar hy kan nie. Hy is
jaloers. Die hele pad huis toe het hy daarna uitgesien om saam met Michael
voor die vuur te sit en lekker te gesels, en nou het hy ’n vrou. Dis nou tipies
hoe sý geluk werk.
Hy het Michael se raad nodig. Hy het sy vriendskap nodig. Sy swaer het
’n manier om na ’n mens te luister en dinge te verstaan wat jy nie eens gesê
het nie. Hy kan die moeilikste tye makliker maak; ’n gevoel skep dat alles
ten goede sal uitwerk. Michael kan ’n mens hoop gee, en God weet hoe
dringend hy juis nóú hoop nodig het. Hy het verwag om huis toe te kom en
alles dieselfde te kry.
Vir so lank as wat hy kan onthou, het vroue Michael probeer vang.
Hoekom moes een hom nou kry? “Getroud,” mompel Paul.
“Ja, getroud.”
“Baie geluk.”
“Dankie. Jy klink baie bly.”
Paul gaan staan stil. “Ag, Michael. Jy weet ek is net selfsugtig.” Hulle
stap verder. “Waar het jy haar in elk geval gekry?”
“Ek was net gelukkig.”
“Vertel my van haar. Hoe is sy?”
Michael knik in die huis se rigting. “Kom ontmoet haar.”
“O, nee. Nie soos wat ek nou lyk nie,” sê Paul. “Sy sal my net een kyk
gee en dink die buurt het agteruitgegaan. Wat is haar naam?”
“Amanda.”
“Amanda. Dis mooi.” Hy grinnik stout. “Is sy mooi, Michael?”
“Sy is beeldskoon.”
Sy kan die lelikste vrou wees, maar as Michael haar liefhet, sal hy dink
sy is beeldskoon. Paul besluit om nie te oordeel totdat hy haar self ontmoet
het nie. “Laat my vanaand in die skuur slaap,” sê hy. “Ek is doodmoeg en
sal graag jou vrou wil ontmoet wanneer ek skoon is.”
Michael bring vir hom ’n kombers, seep en skoon klere. Paul is te moeg
om op te staan. Hy lê met sy kop teen die muur en sy voete uitgestrek.
Michael kom weer terug met ’n warm bord kos. “Jy moet iets eet, ou broer.
Jy is so maer soos ’n kraai.”
Paul glimlag moeg. “Het jy vir haar gesê daar is ’n vuil bedelaar in die
skuur?”
“Sy het nie gevra nie.” Hy gooi hooi op ’n hoop. “Kruip hierin met jou
kombers en jy sal warm genoeg slaap vannag.”
“Dit sal hemels wees ná die harde grond vir soveel maande.” Dis die
eerste keer in weke dat hy ’n dak oor sy kop het. Hy proe aan die bredie en
lig sy wenkbroue. “Jy het met ’n uitstekende kok getrou. Sal jy asseblief vir
haar dankie sê namens my?” Hy eet die bredie gulsig op en gaan lê op die
hooi. “Ek is gedaan. Ek dink nie ek was al ooit so uitgeput nie.” Hy kan nie
meer sy oë oophou nie. Die laaste ding wat hy kan sien, is hoe Michael oor
hom buk en hom met ’n dik kombers toegooi. Al die spanning van die
laaste maande is verby.

Paul skrik wakker van die sagte gerunnik van ’n perd. Hy is styf en seer toe
hy opstaan. Hy strek hom uit en gaan kyk by die skuur uit. Michael is besig
om ’n gat te grawe vir ’n draadpaal. Paul leun teen die muur en hou hom ’n
tyd lank dop. Hy gaan terug na die hooi toe en tel die geleende klere op.
Hy gaan bad hom in die spruit sodat hy nie Michael se vrou hoef
aanstoot te gee nie. Hy skeer sy baard af, trek Michael se rooi wolhemp aan
en stap nader om te gaan hand bysit.
Michael hou op werk en leun op sy graaf. “Ek het gewonder wanneer jy
gaan wakker word. Jy het vir twee dae geslaap.”
Paul glimlag. “Wys jou net, om goud te soek, is harder werk as om draad
te span.”
Michael lag. “Kom saam huis toe. Amanda behoort ontbyt gereed te hê.”
Paul begin daarna uitsien om ’n vrou in die omtrek te hê. Hy verwag
iemand soos Tess voor die vuurherd: ’n stil en liefdevolle, goedgeaarde en
toegewyde vrou. Hy stap agter Michael by die deur in, opgewonde om haar
te ontmoet. ’n Skraal meisie staan voor die vuur met haar rug na hulle. Sy
dra ’n romp wat presies soos die een lyk wat Tess op die Oregon-pad gedra
het. Dieselfde bloes ook. Vreemd. Hy frons effens. Sy buk oor die pot, en
hy kan nie help om te sien dat sy ’n aantreklike agterstewe het nie. Toe sy
regop staan, sien hy haar dun middeltjie en die lang, goue vlegsel wat tot
daar hang. Glad nie sleg nie.
“Amanda, Paul is hier.”
Toe sy omdraai, voel Paul hoe sy maag ruk. Hy kan nie sy oë glo nie.
Daar staan sy en kyk hom waterpas in die oë. Daardie peperduur prostituut
van Pair-a-Dice. Hy kyk verbouereerd na Michael en sien hoe hy glimlag
asof sy die son, die maan en al die sterre in die hemel is.
“Paul, laat ek jou voorstel aan my vrou, Amanda.”
Paul staar haar aan en weet nie wat hy moet doen nie. Michael staan in
afwagting langs hom, en hy weet as hy nie bitter gou iets vriendeliks sê nie,
gaan dinge net erger word. Paul dwing homself om ’n stywe glimlag te gee.
“Jammer dat ek jou so aanstaar, mevrou. Michael het gesê jy is
beeldskoon.” En sy is dit ook. Net soos Salome en Delila en Isebel.
Wat besiel Michael om met ’n vrou soos dié getroud te wees? Weet hy
dat sy ’n prostituut is? Hy kan beslis nie weet nie. Die man het in sy lewe
nog nooit in ’n bordeel gekom nie. Hy het nog nooit by ’n vrou geslaap nie.
Nie dat hy nie genoeg kanse gehad het nie. Teen alle redelike denke en
natuurlike drange in, was Michael vasbeslote om vir die regte een te wag.
En kyk nou net. Wat het hy vir al sy kuisheid gekry? Angel!
Wat se storie het dié heks hom vertel? Wat gaan hy aan die situasie
doen? Moet hy nóú vir Michael die waarheid vertel?
Michael kyk hom vreemd aan.
Angel glimlag. Dis nie ’n vriendelike glimlag nie. Haar oë is
hemelsblou, maar hulle is yskoud. Sy weet hy het haar herken, en sy wys
duidelik dat sy nie omgee nie. En as sy nie omgee nie, is dit duidelik dat sy
nie uit liefde met Michael getrou het nie.
Hy glimlag vir haar. ’n Kouer glimlag as hare. Hoe het jy jou kloue in
hom gekry?
Angel sien die wêreld in een man se oë, en sy voel elke klip wat gegooi
word. Haar een mondhoek krul verder op. Sy verstaan hierdie man. Hy het
heel waarskynlik nooit die goud gehad om by die trap op te kom nie.
“Koffie, menere?”
Michael kyk van Angel na Paul en frons. “Sit, Paul.”
Paul gaan sit en probeer om nie na haar te kyk nie. Daar is ’n gespanne
stilte. Wat kan hy sê?
Michael leun ’n bietjie terug. “Noudat jy uitgerus is, kan jy ons alles van
die Yuba vertel.”
Paul begin praat uit pure moedeloosheid. Angel gee vir hom ’n bakkie
pap en ’n beker koffie. Hy bedank haar styf. Sy is pragtig, té pragtig – ’n
koue, onteerde, albaste godin.
Sy sit nie by hulle nie en praat ook nie met hulle nie. Paul dink sy weet
in elk geval meer van die Yuba af as hy. Net die mans met die beste
ontdekkings kon haar dienste bekostig. Wat maak sy hier? Watter soet
leuens het sy in Michael se oor gefluister? Wat sal gebeur as hy die
waarheid moet weet? Sal hy haar uitsmyt? Dit sal haar verdiende loon wees.
Paul vra uit oor die plaas en laat Michael vir ’n rukkie praat. Hy het tyd
nodig om te dink, of om ten minste te probeer dink. Hy loer skrams na
Angel. Hoe kan Michael nie weet nie? Hoe kan hy geen onraad vermoed
nie? Wat maak ’n pragtige meisie soos sy in die goudvelde? Dis sal nie vir
’n regdenkende man sin maak nie.
Aan die ander kant, één kyk in haar blou oë, en ’n man kan verlore wees.
Michael is nie ’n rokjagter nie. Hy is eerlik en liefdevol. Sy kan hom
enigiets vertel, en hy sal alles glo wat sy sê. ’n Meisie soos sy sal hom vir
ontbyt opeet. Ek moet hom die waarheid vertel. Maar hoe? Wanneer?
Michael staan op om vir hom nog koffie te skink, en Paul kyk na Angel.
Sy kyk na hom met haar kop effens gedraai. Haar blou oë kyk spottend na
hom. Sy is so selfversekerd dat hy byna net daar alles uitblaker. Maar die
woorde haak in sy keel vas toe hy die uitdrukking op Michael se gesig sien.
Angel haal haar tjalie van die haak by die deur af. “Ek gaan water haal,”
sê sy en tel die emmer op. “Ek is seker daar is baie waaroor julle twee wil
gesels.” Sy kyk reguit na hom voor sy by die deur uitstap.
Dit tref hom soos weerlig. Dit maak nie eens vir haar saak of ek hom
vertel of nie.
Michael kyk ernstig na hom. “Waaraan dink jy, Paul?”
Hy kan nie die woorde uitkry nie. Hy lag hees en probeer sy ou grappige
self wees, maar dit werk ook nie. “Jammer, maar sy het my asem
weggeslaan. Hoe het jy haar ontmoet?”
“Goddelike ingryping.”
Goddelik? Michael is in die swart put van die hel en besef dit nie eens
nie. Hy het halsoorkop geswig voor ’n duiwel met blou oë en lang, blonde
hare en ’n lyf wat ’n man tot sonde en die dood kan versoek.
Michael staan op. “Kom ons stap buitentoe, dan wys ek jou wat ek alles
gedoen het terwyl jy jou fortuin gaan soek het.”
Paul sien Angel is besig om sy klere te was. Vir wie probeer sy
beïndruk? Dink sy hy gaan stilbly omdat sy vir hom ’n guns doen? Sy kyk
nie na hulle kant toe nie. Hy gaan dit dalk nie oor sy hart kry om vir
Michael die waarheid oor haar te vertel nie, maar sy gaan definitief nie só
maklik hiermee wegkom nie.
“Gee my net ’n paar oomblikke met jou vrou, Michael. Ek het ’n slegte
indruk gemaak deur so na haar te staar. Ek wil net vir haar dankie sê vir
ontbyt en omdat sy my klere was.”
“Maak so, dan kry jy my onder by die spruit. Ek is besig om ’n
somerhuisie daar te bou. Jy kan my help.”
“Ek is nou daar.” Paul stap na Angel toe. Hy bekyk haar weer van bo na
onder, en hierdie keer maak hy geen fout nie. Dit is Tessie se klere wat sy
aanhet. ’n Onredelike woede oorval hom. Hoe kan Michael Tess se klere vir
haar gee? Hy kom by haar net toe sy sy verslete lang onderbroek klaar
uitgeskud het. Hy verwag dat sy sal omdraai, maar sy doen dit nie. Sy weet
hy is daar. Hy is daarvan oortuig. Sy ignoreer hom aspris.
“Hallo, Angel,” sê hy en dink dit sal haar gou genoeg laat omswaai. Sy
draai om, maar haar gesigsuitdrukking is koel en kalm. “Angel,” sê hy
weer. “Dis jou regte naam, nè? Nie Amanda nie. Help my reg as ek
verkeerd is.”
“Ek is bevrees jy het my uitgevang.” Sy hang sy onderbroek op die draad
wat Michael vir haar gespan het. “Is ek veronderstel om jou te onthou?”
Wat ’n skaamtelose vrou. “Ek veronderstel in jou werk begin alle gesigte
later dieselfde lyk.”
“En alles anders.” Sy bekyk hom op en af en lag. “Teëspoed opgetel op
die spruite, meneer?”
Sy is erger as wat hy verwag het. “Weet hy wie en wat jy is?”
“Hoekom vra jy hom nie?”
“Pla dit jou glad nie wat dit aan hom sal doen as hy moet weet nie?”
“Dink jy hy sal in duie stort?”
“Hoe het iemand soos jy jou kloue in hom geslaan?”
“Hy het my soos ’n gans vasgebind en my in sy wa hierheen gebring.”
“Dis ’n mooi storie.” Haar verveelde uitdrukking maak hom woedend.
“Wat dink jy sal hy doen as ek hom moet vertel ek het jou al voorheen
gesien, in ’n bordeel in Pair-a-Dice?”
“Ek weet nie. Wat dink jy sal hy doen? My stenig?”
“Jy is baie seker van jou houvas op hom, nè?”
Sy tel die leë mandjie op haar heup. “Vertel hom net wat jy wil, meneer.
Dit maak nie ’n verskil aan my nie.” Sy stap weg.
Op pad terug na Michael toe besluit Paul om alles vir hom te vertel, maar
toe hy by hom kom, het hy nie die moed nie. Hy werk die res van die dag
saam met Michael, maar kom nie so ver om hom iets te vertel nie. Toe hulle
teruggaan, wys Paul aandete van die hand. Sy verskoning is dat hy te moeg
is om te eet. Hy gaan terug skuur toe en peusel aan ’n stukkie biltong wat
hy in sy sak het. Hy wil nie saam met haar aan tafel sit nie. Hy kan nie
aanhou voorgee dat hy bly is sy beste vriend is met ’n bedrieglike prostituut
getroud nie. Hy pak sy goed in sy sak, swaai dit oor sy skouer en begin stap
na sy eie plek onder in die vallei.
Michael staan in die oop deur van die hut en sien hoe Paul wegstap. Hy
vryf sy nek en draai om.
Angel kyk na hom en voel hoe die spanning weer in haar begin opbou.
Sy gaan sit in die wilgerstoel wat hy vir haar gemaak het en sien hoe hy die
deur toemaak en voor die vuur kom sit. Hy tel sy stewels op en begin
byewas aan die skoene smeer om dit waterbestand te maak. Hy kyk nie na
haar nie. Hy het nie vanaand veel te sê nie, en hy het ook nie die Bybel van
die rak afgehaal om te lees nie. Dis duidelik dat hy gisteraand vergeet het.
“Jy wonder, nie waar nie?” sê sy. “Hoekom vra jy nie net nie.”
“Ek wil nie weet nie.”
“Natuurlik wil jy nie,” sê sy droog. Haar keel voel styf en rou. “Ek sal
jou in elk geval vertel, net om die lug te suiwer. Ek kan hom nie onthou nie,
maar dit beteken natuurlik nie veel in my werk nie. Ek het jou ook nie
onthou nie, selfs ná ’n paar besoeke.” Sy kyk weg.
Michael weet dis nie die volle waarheid nie, maar dit maak nogtans seer.
“Moenie jok nie, Amanda. Kan jy dit nie in jou verstand kry dat ek jou
liefhet nie? Jy is nou my vrou. Wat ook al voorheen gebeur het, is in die
verlede. Los dit daar.”
Die stilte is verby. Die storm woed met mening in hulle.
“Twee weke gelede wou jy álles van my weet. Wil jy nog steeds alles
weet?”
“Los dit net.”
Sy staan op. Met haar rug na hom gedraai, vee sy met ’n bewende hand
oor die mantel. “Jy verstaan steeds nie. Selfs al wóú ek hê dinge moet vir
ons uitwerk, sal die mense daar buite dit nie toelaat nie. Soos jou dierbare,
agtermekaar swaer.” Sy glimlag sinies en kyk na die muur. “Het jy gesien
hoe sy gesig lyk toe hy my herken?”
“Ek is jammer hy het jou seergemaak.”
Sy swaai om en gluur hom aan. “Is dit wat jy dink?” Sy lag honend. “Hy
kan my nie seermaak nie. En jý ook nie.” Sy gaan nie vir een van hulle die
geleentheid gee nie.

Dit vat Paul ’n hele dag om sy hut skoon te maak en te dink aan wat hy
omtrent Angel moet doen. Hy moet net teruggaan en met Michael oor haar
gaan praat. Hy kan nie stilbly nie. Dis Michael se reg om van haar bedrog te
weet. Sodra hy die waarheid weet, sal hy die regte ding doen en haar
uitsmyt. Sy sal dit oorleef.
Die huwelik kan nietig verklaar word. Dit is waarskynlik nie eens deur
’n regte predikant voltrek nie, so dit sal in elk geval nie tel nie. Michael kan
van die hele aaklige ondervinding vergeet. Met treine wat Kalifornië
binnestroom, is die kans goed dat hy ’n ander vrou sal kry, een wat hom van
Angel sal laat vergeet.
Michael kom oor en kap saam met hom hout. Hulle gesels, maar dis nie
meer soos voorheen nie. Daar maal te veel dinge in Paul se kop, en Michael
is vreemd peinsend. “Kom na ons toe vir aandete,” nooi Michael toe hy
loop, maar Paul kan nie die gedagte verduur om te dink dat hy oorkant
Angel aan ’n tafel sal moet sit en eet nie.
Michael lyk vies vir hom. “Jy het Amanda se gevoelens seergemaak.”
Paul wil lag. Seergemaak? Daardie harde prostituut? Nie sommer nie,
maar hy weet presies wat sy besig is om te doen. Sy is besig om ’n wig
tussen hom en Michael in te dryf. Sy wil hulle vriendskap verwoes. As sy
wil vuil speel ... “Ek sal môre oorkom.”
Angel is buite besig om komberse uit te slaan toe Paul daar aankom. Sy
stop vir ’n rukkie en kyk reguit na hom. Sy mors geen tyd om hom uit te
daag nie. “Hy werk onder by die spruit aan die somerhuisie. Hoekom gaan
vertel jy hom nie alles voor dit jou opvreet nie?”
“Jy dink ek sal dit nie doen nie, nie waar nie?”
“O, ek dink jy sal. Jy kan nie meer wag nie.”
“Het jy hom lief?” snou hy haar toe. “Dink jy jy kan hom gelukkig
maak? Een of ander tyd gaan hy jou sien vir wie en wat jy regtig is.”
Haar kneukels raak wit om die stok. Sy trek haar skouers op en draai om.
“Jy gee nie regtig om nie, nè?”
“Moet ek omgee?” Sy begin weer die komberse uitslaan.
Paul is lus en swaai haar om sodat hy haar ’n vuishou op haar arrogante
gesig kan gee. “Jy soek vir my.” Hy loop reguit af na die spruit toe.
Al die styfheid vloei uit haar toe Angel hom sien wegloop. Sy gaan sit
verslae op ’n stomp en weier om toe te gee aan die gevoelens wat haar
oorval.

“Jy is net betyds,” sê Michael. Hy staan regop en vee die sweet met sy arm
van sy voorkop af. “Help my ’n bietjie met hierdie planke.”
Paul help hom om die ingekeepte stomp wat aan die een kant plat
geskaaf is in posisie te kry. “Michael, daar is iets waaroor ek met jou moet
praat,” sê hy met ’n kreun toe die stomp in posisie gly. Michael gee hom ’n
onheilspellende kyk wat hy nie kan peil nie. Sy eie woede laat hom nogtans
voortgaan. “Dit het niks te doen met wat op die Yuba gebeur het of hoekom
ek nie kan besluit of ek wil bly of nie. Dis oor iets anders. Dis oor jou
vrou.”
Michael kom stadig orent en kyk na hom. “Hoekom voel jy jy moet
enigiets sê?”
“Omdat jy móét weet.” Hy sien steeds haar arrogante gesig voor hom.
“Michael, sy is nie wie jy dink sy is nie.”
“Sy is presies wie ek dink sy is, en sy is my vrou.” Hy buk weer om met
sy werk voort te gaan.
Sy moes regtig op sy gevoel gespeel het die afgelope dag. Woedend smyt
Paul die volgende stomp in posisie neer. Hy kyk oor die plaaswerf na haar.
Sy staan in die deur van Michael se hut. In Tessie se klere. Hy is lus en stap
na haar toe en ruk die klere van haar lyf af. Hy is lus om haar te slaan en
heeltemal uit die vallei weg te jaag. Michael, van alle mense, is om die bos
gelei. Michael met sy hoë ideale en sterk karakter. Michael met sy kuisheid.
Dit is ondenkbaar.
“Ek gaan dit nie uitlos nie. Ek kan nie.” Michael kyk nie eens na hom
nie. Paul gryp hom aan die arm. “Luister na my. Voor sy jou vrou geword
het, was sy ’n prostituut. Haar naam is Angel, nie Amanda nie. Sy het in ’n
bordeel in Pair-a-Dice gewerk. Sy was die duurste prostituut in die hele
dorp.”
“Haal jou hand van my arm af, Paul.”
Paul doen dit. “Gaan jy niks sê nie?” Hy het Michael nog nooit so
woedend gesien nie.
“Ek weet alles daarvan.”
Paul staar hom oopmond aan. “Jy wéét?”
“Ja.” Michael buk af om nog ’n stomp op te tel. “Kry die ander punt,
asseblief, Paul.”
Paul doen dit sonder om te dink. “Het jy geweet voor sy die ring aan
haar vinger gehad het of daarna?” vra hy sinies.
“Voor.”
Paul gooi die stuk hout in posisie. “En jy het nogtans met haar getrou?”
vra Paul.
Michael kom orent. “Ek het in elk geval met haar getrou, en ek sal dit
weer doen as ek moet.” ’n Eenvoudige stelling, kalm en stil geuiter, maar sy
oë brand van woede.
Paul voel of iemand hom hard in die maag geskop het. “Jy is betower
deur haar. Michael, sy het jou om die bos gelei.” Hy móét net met hom
redeneer. “Dit gebeur. Jy het maande lank nie ’n vrou met ’n oog gesien nie.
Dan sien jy een, en sy het mooi blou oë en ’n pragtige lyf, en jy verloor kop
oor haar. Geniet haar maar vir ’n rukkie, maar moet jouself nie probeer
oortuig sy sal ’n ordéntlike vrou wees nie. Een keer ’n prostituut, áltyd ’n
prostituut.”
Michael klem sy kake toe. Dis byna presies hoe Angel haarself beskryf.
“Hou op oordeel.”
“Moenie ’n gek wees nie!”
“Bly stil, Paul. Jy ken haar nie.”
Hy lag. “O, ek hoef nie. Ek weet genoeg. Jý is die een wat nie weet nie.
Watter ondervinding het jy van vroue soos sy? Jy sien alles en almal
volgens jou eie beginsels, maar die wêreld werk nie so nie. Sy is nie die pyn
werd wat sy vir jou gaan bring nie. Luister na my, Michael! Wil jy hê ’n
vrou wat al by honderde mans geslaap het, moet die ma van jou kinders
wees?”
Michael gluur hom aan. Is dít wat Angel haar lewe lank moes verduur?
Veroordeling en blinde haat? “Ek dink jy moet nou eerder stilbly,” sê hy
kwaad.
Maar Paul bly nie stil nie. “Wat sou jou ouers sê as hulle van haar moes
weet? Sou dit hul goedkeuring wegdra? Wat van die bure wanneer hulle
hier begin aankom? Goeie mense. Ordéntlike mense. Wat gaan hulle dink
wanneer hulle uitvind jou oulike klein vroutjie was ’n hoog betaalde
prostituut?”
Michael se oë word donker en onheilspellend. “Ek weet wat ék dink, en
ek weet wat God dink, en dis al wat saak maak. Miskien moet jy na jou eie
lewe kyk voor jy haar lewe veroordeel.”
Paul staar hom geskok aan. Michael het nog nooit daardie verwytende
toon met hom gebruik nie, en dit maak hom seer. Kan hy nie sien dat hy net
probeer help nie; dat hy net probeer keer dat daardie nikswerd vrou hom
verwoes nie? “Jy is vir my soos ’n eie broer,” sê hy aangedaan. “Jy het my
deur die slegste tye van my lewe gehelp. Ek wil nie sien hoe jy vernietig
word deur so ’n agterbakse klein heks wat jou hart so om haar pinkie
gedraai het dat jy nie eens besef hoe rampspoedig dit is nie!”
’n Spier spring in Michael se kakebeen. “Jy het nou genoeg gesê!”
Maar al wat Paul kan sien, is ’n prostituut in sy geliefde Tessie se klere.
“Michael, sy is niks anders as gemors nie!” Hy sien nie eens die vuishou
kom nie. Hy is heeltemal onbewus van wat gebeur. Die pyn versprei deur sy
kakebeen, en hy lê op sy rug, met Michael wat bo-oor hom staan met
gebalde vuiste en ’n briesende gesig.
Michael gryp hom voor aan sy hemp en pluk hom op sy voete. Hy skud
hom soos ’n pop. “As jy my liefhet soos jy sê jy het, moet jy haar ook
liefhê. Sy is deel van my. Verstaan jy? Sy is deel van my vlees en my lewe.
Wanneer jy iets teen haar sê, sê jy dit teen my. Wanneer jy haar uitsny, sny
jy my uit. Verstaan jy dit?”
“Michael ... ”
“Verstaan jy?”
Paul is vir die eerste keer in sy lewe bang vir sy swaer. “Ek verstaan.”
“Goed,” sê Michael en laat hom gaan. Hy stap ’n entjie weg, keer sy rug
op Paul en probeer sy woede beheer.
Paul vryf sy gekneusde ken. Sy is die oorsaak van hierdie konflik tussen
hulle. Dis alles haar skuld. O, ek verstaan maar alte goed, Michael. Báie
beter as jy.
Michael vryf sy nek en kyk na Paul. “Ek is jammer ek het jou geslaan.”
Hy blaas sy asem uit en kom terug. “Ek het hulp nodig, nie struikelblokke
nie. Sy ervaar baie pyn wat jy nie eens kan begin verstaan nie.” Hy bal ’n
vuis, sy gesig die ene pyniging, en sy oë vul met trane. “En ek het haar lief.
Ek het haar só lief dat ek my lewe vir haar sal opoffer.”
“Ek is jammer.”
“Moenie jammer wees nie. Bly net stil!”
Paul probeer sy bes terwyl hulle werk, maar sy gedagtes skree die hele
tyd. Hy gaan Michael help op die beste manier wat hy ken. Hy gaan haar
wegdryf. Op die een of ander manier. Hoe gouer, hoe beter. Hy sal ’n
manier kry.
Michael verbreek die spanning. “Jy sal moet dorp toe gaan en voorrade
aankoop vir die winter. Ek het nie genoeg om jou te help nie.”
“Ek het niks goudstof nie.”
“Ek het ’n bietjie opsy gesit. Dis joune. Jy kan my wa en perde gebruik.”
Paul voel skaam. Maar hoekom moet hy? Hy probeer net keer dat
Michael seerkry. Michael is ’n denkende man. Hy sal tot inkeer kom. Sy
groot probleem is dat hy karakterfoute in ander mense miskyk. Hy kyk na
’n prostituut en sien iemand wat die moeite werd is om lief te hê.
Paul kook van woede. Sy is klaar besig om tussen hulle te kom. Sy is
klaar besig om rusie te veroorsaak. Hy móét eenvoudig aan ’n manier dink
om Angel uit haar gerieflike hut te kry en haar terug te stuur na waar sy
hoort. En hy moet dit doen voor sy Michael se hart in stukke breek.
Hulle sit die laaste plank in posisie. Die binnemure is opgerig. Michael
sê hy kan die dak op sy eie hanteer. Hy sit sy hand op Paul se skouer en
bedank hom vir sy hulp. Maar die spanning hang swaar tussen hulle.
“Jy beter môre in die pad val Pair-a-Dice toe. Sê vir Joseph ek sal hom
binne ’n paar weke kom betaal. Hy sal toesien dat jy alles kry wat jy nodig
het.”
“Dankie.” Pair-a-Dice. Miskien kan hy ’n bietjie meer oor Angel en haar
swakhede uitvind as hy eers daar is. Duchess sal ongetwyfeld haar beste
meisie wil terughê, en sy kan altyd daardie reus wat Angel opgepas het,
stuur om haar te kom haal.

Toe Michael teen skemer inkom, vra Angel nie wat Paul alles gesê het nie.
Sy sit die kos op die tafel en gaan sit saam met hom aan: regop, haar kop
omhoog. Hy sê steeds niks. Hy is waarskynlik besig om dinge te oordink, te
ondersoek en te weeg. So laat hy dit maar doen.
Die swaar gevoel is terug in haar, en sy maak asof dit nie saak maak nie.
Toe Michael na haar kyk, lig sy haar ken en kyk reguit na hom. Gaan voort
en sê wat dit is wat jou pla, meneer. Ek gee nie om nie.
Michael sit sy hand op hare.
Die pyn ruk aan haar hart, en sy pluk haar hand weg. Sy kan nie na hom
kyk nie. Sy tel haar servet van die tafel af op, skud dit liggies en sit dit op
haar skoot. Toe sy weer opkyk, kyk hy steeds na haar. Sy oë, o, sy oë.
“Moenie so na my kyk nie. Ek het jou klaar gesê ek gee nie om wat hy
van my dink nie, en hy kan sê net wat hy wil. Dis alles waar. Jy het dit tog
geweet. En dit maak nie saak nie. Hy is nie die eerste man wat op my
neersien nie, en hy sal ook nie die laaste wees nie.” Sy onthou hoe Mamma
in die straat afgestap het en hoe die mans wat gereeld na die gehuggie
gekom het by haar verbystap asof hulle geen idee het wie sy is nie.
“Ek sou jou dalk glo as jy nie so kwaad was nie.”
Angel lig haar ken. “Ek is nie kwaad nie. Hoekom sal ek kwaad wees?”
Sy het geen eetlus nie, maar sy dwing haarself om te eet net sodat hy nie
iets daaroor kan sê nie. Sy dek die tafel af. Michael sit nog ’n stomp op die
vuur.
“Paul gaan vir ’n paar dae weg wees. Hy het voorrade nodig. Hy sal
môre hiernatoe kom vir die wa en perde.”
Angel lig haar kop en dink diep. Sy gooi water in die wasbak en was die
skottelgoed. Michael sal haar nie terugvat na waar sy hoort nie, maar sy
weet Paul sal. Net om die arme Michael teen homself te beskerm.
Haar maag trek op ’n stywe knop by die gedagte om Michael te verlaat.
Sy dwing haarself om eerder te dink aan die genoegdoening wat sy gaan
smaak wanneer sy voor Duchess staan en haar geld eis. Sy kan altyd die
kroegman se hulp inroep as dit sou nodig wees. Hy is net so groot soos
Magowan en weet hoe om sy vuiste te gebruik. Sodra haar goud veilig in
haar hande is, sal sy vry wees. Vry!
Sy het ’n pyn in haar bors, en sy druk haar hand daarteen.
Daardie nag trek Michael haar weer nader, en sy keer hom nie. Ná ’n
paar minute beur hy bewend van haar af weg. Hy is sopnat gesweet en kan
skaars asemhaal. “Wat probeer jy doen?”
“Goed wees vir jou,” sê sy en span alles in wat sy ken om hom die genot
te gee wat hy verdien.
Teen sonop is Paul daar om die wa en perde te kry. Michael help hom om
die perde in te span. Hy gee vir hom goudstof en ’n brief vir Joseph
Hochschild. “Ek sal oor vier, vyf dae op die uitkyk wees vir jou.”
“Ek het ’n bok gesien op pad hierheen. ’n Grote.”
“Dankie,” sê Michael. Toe Paul weg is, kom hy terug in die hut in en
haal die geweer van die rak bokant die mantel af. “Paul het ’n bok gesien op
pad hierheen. Ek gaan kyk of ek vir ons ’n bietjie meer vleis kan kry vir die
winter.”
Angel het die hele nag gedink hoe sy sal kan wegglip sonder dat Michael
iets agterkom. Hier is haar antwoord nou. Sy wag tot sy hom nie meer kan
sien nie en haal dan die ring van haar vinger af. Sy sit dit op sy Bybel neer
waar sy weet hy dit sal kry. Sy gryp haar tjalie, gooi dit oor haar skouers en
gaan vinnig buitentoe.
Die wa kan nog nie te ver weg wees nie. Sy lig haar romp op en hardloop
om dit in te haal.
Paul hoor haar roep. Hy trek die leisels in en wonder wat sy wil hê. Sy
wil seker hê hy moet vir haar iets saambring met Michael se goud. Of
miskien kom sy by hom pleit om dinge nie verder te vat nie. Wel, sy kan
probeer. Dit sal nie werk nie.
Angel is rooi in die gesig en uitasem toe sy by hom kom. “Ek het ’n
geleentheid nodig terug Pair-a-Dice toe.”
Hy steek sy verbasing weg met ’n kortaf laggie.
“So, jy gaan hom sommer nou al los.”
Sy glimlag spottend. “Het jy gehoop ek gaan bly?”
“Klim op,” sê hy en doen geen moeite om haar te help nie.
“Dankie,” sê sy droog en klim op die sitplek langs hom.
Paul het die grootste deel van die nag wakker gelê en gewonder oor wat
hy omtrent Michael se onteerde vrou kan doen, en hier het sy die probleem
vir hom opgelos. Hy het nie gedink sy sal so maklik weggaan nie. Geen
omkopery nie. Geen dreigemente nie. Sy is uit haar eie vrye wil op pad. Hy
klap die leisels, en weg is hulle.
Paul kyk skrams na haar terwyl sy die sweet van haar gesig afvee met
die soom van Tessie se tjalie. Hy bedwing hom met moeite om dit nie van
haar af te ruk nie. “Hoe dink jy gaan Michael voel wanneer hy agterkom jy
is weg?”
Sy kyk reguit voor haar uit. “Hy sal daaroor kom.”
“Jy gee nie juis om vir sy gevoelens nie, of hoe?” Sy sê niks. Hy kyk
voor hom uit en dan weer na haar. “Jy is reg. Hy sal oor jou kom. Oor ’n
paar jaar sal Kalifornië hordes geskikte meisies hê waaruit hy kan kies. Die
vroue was nog altyd mal oor hom.”
Sy kyk uit oor die woud asof sy glad nie gepla is nie. Paul wil haar so
diep seermaak dat sy net soos Michael sal bloei wanneer hy agterkom sy het
hom verlaat sonder om een keer terug te kyk. Het hy hom nie gewaarsku
nie? Maar sy behoort darem iets te voel. Dis net regverdig.
Hy is nuuskierig. “Wat het jou laat besluit om te loop?”
“Geen spesifieke rede nie.”
“Ek neem aan jy het verveeld geraak met die stil lewe wat Michael lei.
Of is dit omdat dit elke keer dieselfde man is?” Sy toon geen reaksie nie.
Michael sal nou insien dat hy reg was oor haar. Mettertyd sal hy aanvaar dat
hy ’n fout met haar gemaak het. Vroue is dol oor Michael. Benewens sy
aantreklikheid, straal hy ’n kombinasie van krag en teerheid uit wat vroue
soos vlieë aantrek. Hy sal weer trou wanneer hy gereed is, en hy sal nie lank
hoef te wag nie. Die volgende een sal beslis beter as hierdie een wees.
“Duchess sal bly wees om jou terug te hê. Ek verstaan jy het vir haar ’n
fortuin gemaak. Sy wou nooit sê waarheen jy is nie.”
Angel lig haar kop en glimlag soet vir hom. “Moenie verplig voel om
geselsies met my aan te knoop nie.”
Hy grinnik kil. So, sy woorde het darem ’n uitwerking op haar. Hy delf
dieper. “Ek neem aan praat is nie vreeslik belangrik in jou werk nie, of
hoe?”
Angel voel hoe die woede in haar opwel. Skynheilige vark. As Pair-a-
Dice nie soveel myle opdraand was nie, het sy net hier van die wa afgeklim
en verder gestap, maar sy is nie so dom om te dink sy kan dit maak nie.
Laat hy op haar pik net soveel soos hy wil. Een dag op ’n hoë sitplek saam
met ’n gemene skynheilige is nie die einde van die wêreld nie. Sy moet net
aan haar goud dink. Sy sal aan haar eie klein hut in die woud dink. En dat
sy nooit weer na nog ’n man soos hy sal hoef te kyk nie.
Paul hou nie daarvan om geïgnoreer te word nie, veral nie deur iemand
soos sy nie. Wie dink sy in elk geval is sy? Hy klap die leisels en hulle ry
vinniger. Hy ry oor elke gat in die pad sodat sy op en af skud. Sy moet klou
om haar balans te behou en nie afgegooi te word nie. Hy geniet dit om te
sien hoe ongemaklik dit vir haar is. Sy pers haar lippe styf opmekaar, maar
kla nie. Hy hou die harde pas vol tot die perde moeg is en hy weer stadiger
moet ry.
“Voel jy nou beter?” vra sy spottend.
Hy verag haar met elke myl al hoe meer.
Toe die son reg bo hulle is, trek hy van die pad af en spring af. Hy span
die perde uit en laat hulle wei. Hy stap die woud in. Toe hy terugkom, sien
hy sy is op pad na die bome aan die anderkant. Sy loop asof sy pyn het.
Sy saalsak is onder die voorste sitplek. Binne-in het hy ’n appel,
beesbiltong en ’n blikkie boontjies. Hy smul daaraan. Sy gee hom een
vinnige kyk toe sy terugkom en gaan sit in die skadu van ’n denneboom. Hy
skeur ’n stuk biltong met sy tande af en kou dit terwyl hy haar stip aankyk.
Sy lyk uitgeput en warm. Sy is seker honger ook. Dis háár probleem. Sy
moes daaraan gedink het om iets saam te bring.
Paul maak sy waterbottel oop en drink gulsig en druk weer die kurk in
toe hy klaar is. Hy kyk na haar en frons diep. Vererg staan hy op en stap na
haar toe. Hy swaai die bottel heen en weer voor haar gesig en sê: “Wil jy ’n
sluk hê? Sê asseblief as jy dors is.”
“Asseblief,” sê sy sag.
Hy gooi die bottel op haar skoot. Sy trek die kurk uit, vee die opening af
en drink. Toe sy klaar is, vee sy weer die opening af, sit die kurk terug en
hou dit na hom toe uit. “Dankie,” sê sy. Daardie blou oë verraai niks.
Paul stap terug en gaan sit onder ’n boom en eet die biltong op. Vies
begin hy die appel eet. Toe hy halfpad is, kyk hy na haar. “Honger?”
“Ja,” sê sy doodeenvoudig en kyk nie dié slag na hom nie.
Hy gooi dit wat oor is na haar. Hy staan op, kry die perde bymekaar en
span hulle in. Hy kyk om en sien hoe sy die dennenaalde en grond van die
halfgeëete appel afvee voor sy ’n hap vat. Haar kil, stil waardigheid maak
hom ongemaklik.
“Laat ons gaan!” Hy wag ongeduldig vir haar.
Sy krimp ineen van die pyn toe sy op die wa klim.
“Hoe het jy vir Michael ontmoet?” sê hy toe hy die leisels klap en hulle
weer op pad is.
“Hy het na die Palace toe gekom.”
“Moenie my laat lag nie! Michael sal sy voete nie in so ’n plek sit nie.
Hy drink nie, en hy dobbel nie, en hy het beslis nog nooit prostitute besoek
nie.”
Sy glimlag uittartend. “Nou hoe dink jy dan het dit gebeur, meneer?”
“Ek stel my voor ’n meisie met jou gawes sou die een of ander plan
beraam het. Jy het hom waarskynlik by die winkel ontmoet en hom vertel
dat jou familie op pad na die Weste dood is en dat jy nou alleen in die
wêreld is.”
Sy lag vir hom. “Wel, meneer, jy hoef nie meer te wonder nie. Noudat ek
uit die pad is, kan jy Michael die hele winter lank net vir jouself hê.”
Sy kneukels raak wit om die leisels. Is sy besig om op iets leliks te
sinspeel? Twyfel sy oor sy manlikheid? Hy trek die leisels in, trek die wa
van die pad en hou stil.
Sy verstyf, sy is op die verdediging. “Hoekom hou ons stil?”
“Jy skuld my iets vir die geleentheid.”
Sy raak doodstil. “Wat het jy in gedagte?”
“Wat het jy om te gee?” Hy wil haar rou skaaf. “Of dink jy as iemand jou
’n guns bewys, skuld jy hulle niks?” Sy kyk weg. Hy gryp haar arm styf
vas, en sy kyk weer na hom. Haar gesig is wasbleek. Hy kyk in haar siniese
blou oë. “Wel, jy skuld my iets vir hierdie geleentheid.” Hy los haar skielik.
Dié keer kyk sy nie weg nie. Sy sit na hom en kyk met ’n
uitdrukkinglose gesig.
“Weet jy, ek het dit nooit teen die trap uit gemaak in die Palace nie,” sê
hy genadeloos. Hy maak die leertoutjie om haar hare los. “Ek het nie
genoeg goud gehad om eens my naam in die hoed te kry nie.” Hy trek dit
af. “Ek het altyd gewonder hoe dit moet wees om Angel se heiligdom te
betree.”
“En nou wil jy graag uitvind.”
Paul wil haar laat spartel. “Miskien.”
Angel voel hoe die maalkolk in haar begin draai. Dit vloei afwaarts soos
water in ’n sinkgat. Sy het vergeet dat alles in die lewe ’n prys het. Sy asem
stadig uit en draai haar kop effens skeef. “Nou ja, laat ons dit dan maar
agter die rug kry.” Sy klim van die wa af.
Paul gaap haar aan. Hy spring aan die ander kant van die wa af, stap om
en kom staan voor haar. Sy is so wit soos ’n laken en doodmoeg. Hy is nie
seker of sy hom probeer flous nie. Dink sy regtig sy kan dertig myl stap?
Hy gaan haar beslis nie die kans gee om van plan te verander en terug te
gaan nie. “Wat beplan jy om te doen?”
“Net wat jou hart begeer, meneer.” Sy haal haar tjalie af en sit dit oor die
kant van die wa. “Wel?” Haar glimlag spot met hom.
Dink sy hy kan nie? Briesend gryp hy haar arm en stoot haar voor hom
uit in die bosse in. Hy is ru en vinnig. Sy enigste begeerte is om haar seer te
maak en te verneder. Sy maak nie ’n geluid nie. Nie een nie.
“Dit het jou nie baie lank gevat om in jou ou weë te verval nie, of wat sê
ek?” Hy gluur haar veragtend aan.
Angel staan stadig op en vee die blare van haar romp af. Sy skud dit uit
haar hare.
Paul is vervul met afkeer. “Dit pla jou nie eens nie, nè? Jy het die morele
waardes van ’n slang.”
Sy lig haar kop stadig en glimlag doods en koud.
Hy loop ongemaklik terug na die wa. Hy kan nie wag om hierdie rit klaar
te kry nie.

Angel kan die siddering voel kom. Sy maak haar kamisool vas en knoop
haar bloes toe. Die bewerasie raak erger. Sy stap tussen die bome in waar
Paul haar nie kan sien nie en val op haar knieë neer. Sweet slaan op haar
voorkop uit. Sy kry deur haar hele liggaam koud. Sy maak haar oë toe en
baklei teen die naarheid wat dreig om haar te oorval. Moenie daaraan dink
nie, Angel. Dit maak nie saak as jy dit nie toelaat nie. Vertel jouself dit het
nie gebeur nie.
Haar vingers grawe pynlik in die boombas in, en sy begin opgooi. Die
koue gaan verby, en die bewerasie hou op toe sy opstaan. Sy staan vir ’n
lang ruk en wag vir die kalmte om oor haar te kom.
“Maak vinnig!” skree Paul. “Ek wil voor donker daar wees.”
Met haar ken regop stap sy terug pad toe.
Paul gluur haar van die sitplek af aan. “Weet jy wat, Angel? Jy word
oorskat. Jy is nie meer as twee stukkies goud werd nie.”
Iets bars oop in haar. “En wat is jý werd?”
Sy oë vernou. “Wat bedoel jy?”
Sy stap nader en gryp die tjalie van die wa af. “Ek weet wat ek is. Ek het
nog nooit voorgegee om iets anders te wees nie. Nie een keer nie. Nog nooit
nie!” Sy plaas haar hand op die rand van die sitplek. “Kyk nou maar
byvoorbeeld na jou. Jy leen Michael se wa en perde en sy goud en gebruik
sy vrou.” Sy lag vir hom. “En wat noem jy jouself? Sy bróér.”
Sy gesig word eers wit en toe rooi, en toe weer wit. Hy bal sy vuiste en
dit lyk of hy haar gaan vermoor. “Ek moet jou net hier los. Ek behoort jou
die res van die pad te laat loop.”
Angel is nou kalm en ten volle in beheer. Sy klim op die wa en gaan sit
langs hom. Sy glimlag en vryf haar romp glad. “Jy kan nie juis nie, of hoe?
Ek het jou mos betaal.”
Vir die res van die rit praat hulle nie ’n woord nie.
Vrees
Vyftien

Daarop kom vra Petrus Hom: “Here, hoeveel maal moet


ek ’n medegelowige vergewe wat iets verkeerds teen my
gedoen het. Selfs tot sewe maal toe?” “Nee,” verseker Jesus
hom, “nie tot sewe maal toe nie, maar tot 70 maal sewe toe!”
Matteus 18:21-22

Die Palace is nie meer daar nie.


Angel staan bibberend in die vallende sneeu, enkeldiepte in die modder, en
staar na die swart rommel wat al oorblyfsel is. Sy kyk om haar en sien dat
die strate stil en verlate is. Baie van die geboue is half afgebreek, die planke
en plate klaar op waens gelaai. Wat gaan aan?
Oorkant die straat is ’n oop kroeg. Ten minste is die Silver Dollar nog
oop. Sy onthou die eienaar, Murphy. Hy het altyd by die agterste trap
opgekom. Toe Angel deur die swaaideure stap, hou die paar manne wat daar
is, op met praat en staar na haar. Murphy staan by die kroeg.
“As my oë my nie bedrieg nie, is dit Angel!” Hy glimlag breed. “Ek het
jou nie herken in daardie verflenterde klere nie. Max! Gaan haal vir die
dame ’n kombers. Sy is nat en half gevries. Haai, manne, kyk wie is terug!
Aarde, maar jy lyk verskriklik. Waar was jy, skat? Ons het gehoor jy is met
die een of ander boer getroud.” Hy lag asof dit ’n baie snaakse grap is.
Murphy is luidrugtig, en Angel wil vir hom sê hy moet sy mond hou.
“Wat het met die Palace gebeur?” vra sy sag en probeer om die siddering in
haar te laat bedaar.
“Afgebrand.”
“Dit kan ek sien. Wanneer?”
“’n Paar weke gelede. Dit was die laaste bietjie opwinding wat ons hier
gehad het. Die dorp is besig om ’n stil dood te sterf, ingeval jy nie gesien
het nie. Die goud wat hier oor is, is te moeilik om uit te kry. Nog ’n maand
of twee, en Pair-a-Dice gaan morsdood wees. Ek sal agter die ontdekkings
aan moet trek of bankrot speel soos wat reeds met baie ander gebeur het.
Hochschild het dit sien kom en het sy winkel al weke gelede afgebreek. Hy
is nou in Sacramento en maak baie geld daar.”
Sy probeer om haar ongeduld te beheer en om nie haar hoop te verloor
nie. “Waar is Duchess?”
“Duchess? O, sy is weg. Net ná die brand. Sacramento, San Francisco.
Ek weet nie presies waarheen nie. Maar dit sal ’n groter plek as dié wees.
Daarvan kan jy seker wees.”
Angel se moed sak tot in haar skoene toe sy besef hoe al haar planne
soos mis voor die son verdwyn. Max gee vir haar ’n kombers en sy draai dit
om haar om die koue wat al erger word, te keer. Murphy babbel
onophoudelik. “Sy het nie eens ’n vingerhoedjie oorgehad om in te spoeg
nadat Magowan die plek om haar afgebrand het nie. Twee van haar meisies
is dood in die brand.”
Sy kyk vinnig op. “Watter meisies?”
“Mai Ling, daardie klein Oosterse meisietjie. Ek sal haar mis.”
“Wie was die ander meisie?”
“Die dronkie. Wat was haar naam nou weer? Kan nie onthou nie. In elk
geval, hulle was bo vasgekeer toe dit begin brand het. Niemand kon hulle
uitkry nie. ’n Mens kon hulle hoor gil. Ek het vir baie lank daarna nog
nagmerries gekry.”
O, Lucky. Wat gaan ek sonder jou doen?
“Magowan het probeer wegkom,” sê Murphy. “Hy was omtrent vyf myl
weg voor ons hom ingehaal het. Ons het hom teruggebring en net daar in
Main Street gehang. Ons het hom soos ’n vlag opgehys. Dit het hom lank
gevat om dood te gaan. Hy was die gemeenste ... ”
Angel stap weg van die kroegtoonbank en gaan sit by ’n tafel. Sy moet
eers alleen wees en haar emosies onder beheer kry.
Murphy kom met ’n bottel en twee glase aangestap. Hy gaan sit en skink
vir haar ’n whiskey. “Jy lyk maar taamlik verslae, skat.” Hy skink vir hom
ook ’n drankie. Hy bekyk haar met sy donker, helder oë. “Jy het niks om
oor bekommerd te wees nie, Angel. Ek het ’n ekstra kamer bo.” Hy kyk
vlugtig na die mans. “Jy kan binne vyf minute weer aan die werk wees. Jy
moet net die woord spreek.” Hy leun oor na haar. “Ons moet net besluit hoe
ons die winste gaan verdeel. Hoe klink sestig persent vir my en veertig vir
jou? En jy kry verblyf, kos en klere; alles wat jy wil hê. Ek sal mooi na jou
kyk.”
Sy begin weer bewe. Angel sit haar hande om die glas whiskey en staar
droewig na die amberkleurige vloeistof. Al haar vooruitsigte is tot niet. Sy
het geen goud, geen klere behalwe dié aan haar lyf nie, niks kos nie en
nêrens om te bly nie. Sy is weer waar sy in San Francisco begin het.
Behalwe dat dit nou winter is en sneeu.
Daar gaan nooit ’n hut wees nie.
Murphy skuif weer nader. “Hoe klink dit, Angel?”
Sy kyk op na hom en glimlag wrang. Hy wéét sy kan nie nee sê nie. Ek
gaan nooit vry wees nie.
“Wel, wat sê jy?” Hy vryf met sy vinger heen en weer oor haar arm.
“Vyftig-vyftig, en hulle betaal mý,” sê sy. “Anders stel ek nie belang
nie.”
Murphy leun terug, en sy wenkbroue lig. Hy bekyk haar vir ’n lang ruk
en lag dan. Hy sluk sy glas leeg en knik. “Nou goed. Daar is net een
voorwaarde: Wat ek ook al wil hê, kry ek verniet. Dit is tog my plek, nie
waar nie?” Hy wag, en toe sy nie teëstribbel nie, glimlag hy. “Daar is nie ’n
beter tyd as nou nie, skatlam.” Hy staan op. “Haai, Max! Neem ’n bietjie
oor. Ek gaan vir Angel haar nuwe blyplek wys.”
“Gaan sy bly?” roep ’n man wat lyk asof Kersfees uiteindelik
aangebreek het.
Murphy grinnik. “Sy gaan bly.”
“Ek is volgende. Hoeveel?”
Murphy noem ’n hoë prys.
Angel drink die glas whiskey. Sy staan bewend op toe Murphy haar stoel
uittrek. Niks gaan ooit verander nie. Sy loop met die trap op, en haar hart
klop al stadiger. Toe sy bo kom, kan sy glad nie haar hart voel klop nie. Sy
kan heeltemal niks voel nie.
Ek moes by Michael gebly het. Hoekom het ek nie by Michael gebly nie?
Dit sou nooit uitgewerk het nie, Angel. Nooit ooit nie.
Dit het vir ’n rukkie.
Tot die wêreld begin inmeng het. Die wêreld het geen genade nie,
Angel. Jy weet dit. Dit was ’n ydele droom. Jy het net betyds padgegee
voor hy jou klaar gebruik het. Nou is jy terug waar jy hoort en gaan jy
doen waarvoor jy gebore is.
Wat maak dit tog saak? Dis nou te laat om te dink aan wat kon gewees
het. Dis te laat om te dink aan hoekom. Dis te laat om aan enigiets te dink.
Murphy wil álles hê.
Toe hy weg is, staan Angel op. Sy blaas die lamp dood en gaan sit in die
verdonkerde hoekie. Sy sit haar arms om haar bene en haar bors en wieg
heen en weer. Die pyn wat begin het met Paul se aankoms in die vallei word
groter en verswelg haar. Haar oë is styf toegeknyp, sy maak geen geluid nie,
maar die kamer weergalm van ’n stil kreet.

Elke dag is nes die vorige. Niks het verander nie. In plaas van Duchess, het
Angel nou vir Murphy; in plaas van Magowan, is daar die meer hanteerbare
Max. Haar kamer is kleiner en haar klere minder deftig. Die kos is
aanvaarbaar en volop. Die mans is steeds dieselfde.
Angel sit op die bed met haar bene gekruis, en die een swaai heen en
weer terwyl die jong myner sy klere uittrek. Sy hare is nog nat en glad
teruggekam, en hy ruik erg na skerp seep. Hy praat nie veel nie, en dit pas
haar, want sy is nie lus om te luister nie. Dié een gaan nie lank vat nie. Sy
sluit haar emosies en haar verstand af en begin werk.
Die deur gaan skielik oop, en iemand stamp die jong man van haar af.
Angel snak na haar asem toe sy die man bo haar se gesig herken.
“Michael!” Sy druk haarself regop. “O, Michael ... ”
Die jong man val met ’n slag op die vloer. Hy spring op sy voete. “Wat
dink jy doen jy?” Hy vloek en mik ’n hou na Michael. Michael slaan hom
dat hy teen die oorkantste muur val. Hy pluk hom regop en slaan hom dié
keer by die deur uit waar hy teen die buitenste muur val en inmekaarsak.
Michael gryp die myner se goed bymekaar en gooi dit by die deur uit bo-op
hom. Hy skop die deur toe en draai om.
Angel is só verlig om hom te sien dat sy voor sy voete wil neerval, maar
die uitdrukking op sy gesig laat haar terugdeins.
“Trek jou klere aan.” Hy wag nie vir haar om te beweeg nie, hy gryp
haar klere wat oral lê en gooi dit vir haar. “Nóú!”
Met ’n hart wat woes klop, sukkel sy met die klere en probeer
vreesbevange dink aan hoe sy van hom kan ontsnap. Voordat sy al haar
klere aanhet, ruk hy haar van die bed af, maak die deur oop en stoot haar in
die gang uit. Hy gee haar nie eens kans om haar skoene aan te trek nie.
Murphy is op pad boontoe. “Wat dink jy doen jy? Ek het gesê jy moet
onder wag. Daardie man het betaal. Jy kan wag vir jou beurt.”
“Gee pad voor my.”
Murphy gaan staan wydsbeen en bal sy vuiste vir hom. “Dink jy jy kan
by my verbykom?”
Angel het Murphy al voorheen sien baklei, en is seker Michael sal hom
nie kan aanvat nie. “Michael, asseblief ... ” Michael druk haar rof eenkant
toe en gaan staan voor haar.
Murphy storm op hom af, maar Michael is so vinnig dat Murphy lê
voordat hy weet wat hom tref. Michael gryp haar gewrig en sleep haar agter
hom aan. Voor hulle by die trap kom, is Murphy op sy voete. Hy pluk haar
aan die arm en vat so hard dat sy skree van die pyn. Michael los haar
gewrig, en sy val teen die muur. Murphy storm weer op hom af, en dié slag
stuur Michael hom teen die trap af.
Toe Michael oor haar buk, krimp Angel verskrik ineen. “Staan op!”
skree hy. Sy waag dit nie om te weier nie. Hy vat haar arm en stoot haar
voor hom uit. “Hou aan loop, moenie gaan staan nie.”
Toe hulle onder kom, storm Max op Michael af. Michael gebruik die
man se momentum om hom op te lig en hom bo-oor ’n pokertafel te gooi.
Nog twee mans sluit by die geveg aan en hy druk haar uit die pad uit net
voor hulle hom slaan. Die drie van hulle val nóg ’n tafel stukkend.
Speelmunte, kaarte en mans spat in alle rigtings. Nog twee word deel van
die chaos.
“Hou op!” gil sy, seker daarvan dat hulle hom sal doodmaak. Sy kyk
angsbevange rond op soek na ’n wapen om hom te help, maar Michael lê
nie lank genoeg nie. Hy skop een man van hom af en is weer regop. Sy
staan oopmond en kyk hoe hy baklei. Hy staan vas en slaan hard en vinnig
na elke man wat op hom afstorm. Hy swaai om en skop die een ou vol in
die gesig. Sy het nog nooit iemand só sien baklei nie. Hy lyk asof hy dit al
sy lewe lank doen in plaas daarvan om landerye te ploeg en mielies te plant.
Hy tref sekuur en hy slaan kliphard, en dié wat hy geslaan het, bly lê. Ná ’n
paar minute is die mans skrikkerig om hom aan te vat.
Michael is gereed vir hulle. Sy oë blits. “Toe, kom,” kners hy op sy tande
en daag hulle uit. “Wie wil nog tussen my en my vrou kom? Komaan!”
Niemand beweeg nie.
Michael skop ’n omgekeerde tafel uit sy pad en stap na Angel toe. Hy
lyk glad nie soos die man wat sy in die vallei leer ken het nie. “Ek het gesê
hou aan loop!”
Hy gryp haar arm en swaai haar om na die deur toe.
Sy wa staan voor die deur. Hy tel haar in sy arms op en lig haar tot op die
hoë sitplek. Voor sy kan dink aan weghardloop, is hy langs haar. Hy klap
die leisels. Sy klou vir lewe en dood. Hy ry asof die duiwel hulle jaag. Eers
’n hele paar myl buite Pair-a-Dice ry hy stadiger, en eerder ter wille van die
perde as ter wille van haar.
Angel is selfs te bang om net na hom te kyk. Sy is te bang om ’n woord
te sê. Só het sy hom nog nooit gesien nie. Nie eens daardie keer in die skuur
toe hy sy humeur met haar verloor het nie. Hierdie is nie die stil, geduldige
man wat sy gedink het sy ken nie. Hierdie is ’n vreemdeling wat wraak wil
neem. In haar gedagtes sien sy hoe Duke sy sigaar aansteek, en sy slaan in
koue sweet uit.
Michael vee bloed van sy lip af. “Help my om te verstaan, Angel. Sê vir
my hoekom.”
Angel. Daar lui ’n doodsklok in daardie naam. “Stop dat ek kan afklim.”
“Jy kom saam met my huis toe.”
“Sodat jy my kan doodmaak?”
“Jesus, hoor U wat sy sê? Hoekom het U vir my hierdie hardkoppige
vrou gegee?”
“Laat my afklim!”
“Oor my dooie liggaam. Jy gaan nie hiermee wegkom nie. Ons het ’n
paar sakies om reg te stel.”
Die uitdrukking in sy oë is so vol geweld dat sy spring. Sy val hard en
rol. Toe sy weer haar asem terug het, spring sy vervaard op haar voete en
hardloop. Michael trek die leisels skerp in en trek sy wa van die pad af. Hy
spring af en hardloop agter haar aan. “Angel!” Hy kan aan haar voetval
hoor sy vlug die woud in. “Dit word donker. Hou op hardloop voor jy jou
nek breek!”
Sy stop nie. Sy struikel oor ’n boomwortel en val haar wind uit. Sy lê op
die grond en hyg en kan hoor Michael is op haar hakke. Hy loop vinnig en
slaan takke uit sy pad tot hy haar raaksien.
Angel kom vinnig op haar voete en hardloop uit vrees van hom af weg
sonder om die takke raak te sien wat haar deur die gesig klap. Michael haal
haar in en gryp na haar skouers. Sy val en trek hom saam met haar grond
toe. Hy draai sy lyf sodat hy eerste val en probeer haar omrol. Sy skop en
kriewel en baklei om los te kom. Hy gooi haar op haar rug en druk haar vas.
Sy probeer om hom in sy gesig te krap, maar hy gryp haar gewrigte en druk
hulle op die grond vas.
“Dis genoeg!”
Sy lê hygend, haar oë wyd oop van vrees. Die oomblik toe hy sy asem
terugkry, trek hy haar op haar voete. Die oomblik toe hy sy greep verslap,
probeer sy weer vlug. Hy swaai haar om, en sy slaan hom in die gesig.
Amper slaan hy terug, maar hy weet as hy haar een keer geslaan het, gaan
hy nie ophou nie. Hy los haar, maar elke keer dat sy probeer vlug, swaai hy
haar om. Uiteindelik val sy hom aan. Sy klap, slaan en skop na hom. Hy
keer haar houe sonder om terug te baklei.
Toe sy effens rustiger word, trek Michael haar in sy arms en hou haar
styf vas. Haar hele liggaam bewe verskriklik. Hy kan die vrees uit haar voel
straal. En dis nie verniet nie. Sy woede maak hóm bang. As hy haar een
keer moes teruggeslaan het, sou hy haar doodgemaak het.
Hy het amper mal geraak toe sy hom verlaat het.
Hy het te voet gesoek tot hy die waspore gesien en besef het wat gebeur
het. Sy is saam met Paul weg. Sy is op pad terug Pair-a-Dice toe. Hy is
terug huis toe, seergemaak en woedend vir albei. Die lang wag op Paul se
terugkoms van die dorp was die naaste wat hy nog aan die hel was. Hoekom
het Paul dit gedoen? Hoekom het hy haar nie huis toe gestuur in plaas
daarvan om haar saam met hom te vat nie?
Maar Michael het geweet wat die antwoord is.
Paul het die wa en perde teruggebring. Hy het gesê Hochschild het na
Sacramento getrek en dis hoekom dit hom so lank gevat het. Dit was
duidelik dat hy nie uit vrye wil inligting oor Amanda sou gee nie. Michael
het hom reguit gevra. Paul kon nie iets anders sê nie as ja, hy hét Amanda
teruggevat Pair-a-Dice toe.
“Dit was haar plan om te gaan. Ek het haar nie omgepraat nie,” het ’n
bleek en verskrikte Paul gesê. Wat Michael die hardste getref het, was die
skuld wat duidelik op Paul se berouvolle gesig afgeëts was. Hy het nie
nodig gehad om meer te vra nie. Hy het gewéét wat op pad gebeur het. Of
in Pair-a-Dice.
“Michael, ek is jammer. Ek sweer dit was nie my skuld nie. Ek het jou
probeer vertel wat sy is ... ”
“Maak dat jy wegkom, Paul. Gaan huis toe en bly daar.” En hy het.
Michael het haar amper nie gaan haal nie. Sy verdien wat sy ook al gekry
het. Sy het daarvoor gaan soek, nie waar nie? Hy het gehuil. Hy het haar
gevloek. Hy het haar liefgehad en sy het hom verraai. Sy kon netsowel ’n
mes in hom gesteek en dit gedraai het.
Maar snags, in die donker, het hy daardie eerste dae onthou toe sy so siek
was en hy iets van haar siel te sien gekry het. Sy het baie tydens haar
ylhoofdigheid gesê wat ’n tragiese prentjie van haar lewe geskets het. Weet
sy ooit van beter? Hy het onthou hoe Paul op haar reageer het, en haar eie
woede. Hy het gesien hoe seer dit haar maak, hoewel sy alles ontken het.
Hy móés haar net gaan haal. Sy is sy vrou.
Tot die dood ons skei.
Op pad na Pair-a-Dice het hy hom op die ergste voorberei. Maar toe hy
by daardie kamer instap en self sien wat sy doen, het hy amper kop verloor.
As hy nie haar oë gesien of die manier gehoor het waarop sy sy naam gesê
het nie, sou hy hulle albei doodgemaak het. Maar hy hét dit gesien en
gehoor. Vir een kort, onbewaakte oomblik het hy geweet hoe sy regtig voel.
Verligting. So ’n intense verligting dat dit hom laat vassteek het.
Dit het nie gemaak dat die instinktiewe woede oor haar verraad nie meer
daar was nie, net onder die oppervlak aan die kook.
Michael sidder en staan effens weg van haar. “Kom,” sê hy moeg. “Ons
gaan huis toe.” Hy vat haar hand en begin terugloop deur die woud.
Angel wil haar teësit, maar sy is te bang. Wat gaan hy nou aan haar
doen? Is dit moontlik dat hy in hierdie bui so genadeloos soos Duke kan
wees? “Hoekom het jy my kom soek?”
“Jy is my vrou.”
“Ek het die ring op die tafel gelos! Ek het dit nie gesteel nie.”
“Dit het niks verander nie. Ons is steeds getroud.”
“Jy kon net daarvan vergeet het.”
Hy staan stil en kyk ernstig na haar. “Wat my betref, is dit ’n
lewenslange verbintenis, dametjie. Dit is nie ’n ooreenkoms wat jy nietig
verklaar wanneer dinge moeilik raak nie.”
Sy kyk vraend na sy gesig. Sy is nou baie verward. “Selfs nadat jy my
saam met ... ” Hy begin weer loop en sleep haar saam. Sy verstaan hom nie.
Sy verstaan hom glad nie. “Hoekom?”
“Omdat ek jou liefhet,” sê hy vol emosie. Hy swaai om voor haar en daar
is pyn in sy oë. “Dis hoe eenvoudig dit is, Amanda. Ek het jou lief.
Wanneer gaan jy verstaan wat dit beteken?”
Haar keel raak dik, en sy laat haar kop sak.
Hulle loop die res van die pad in stilte. Hy lig haar tot op die sitplek. Sy
skuif weg toe hy homself langs haar optrek. Sy kyk afgetrokke na hom.
“Jou soort liefde kan nie baie goed voel nie.”
“Voel jou soort enigsins beter?” Sy kyk weg. Hy haak die leisels los. “Op
die oomblik het liefde nie veel met gevoelens uit te waai nie,” sê hy stuurs.
“Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek is net so ’n mens soos die volgende
man. Ek kán voel. Op hierdie oomblik voel ek verskriklik baie; baie dinge
wat ek wens ek eerder nie gevoel het nie.” Hy skud sy kop en sy gesig wys
die hartseer en woede wat hy voel. “Ek kon jou vermoor toe ek by daardie
kamer instap, maar ek het nie. Ek kan op hierdie oomblik begrip in jou kop
infoeter, maar ek sal nie.” Hy kyk met donker oë na haar. “Dit maak nie
saak hóé seer dit maak nie, en dit maak nie saak hoe lus ek is om jou net so
seer te maak oor dit wat jy gedoen het nie. Die feit van die saak is, ek gaan
nie.” Hy klap die leisels en hulle is weer op pad.
Angel probeer haar gevoelens onderdruk, maar hulle keer aanhoudend
terug en versmoor haar. Sy bal haar vuiste en probeer daarteen baklei. “Jy
het geweet wat ek is. Jy het gewéét.” Sy wil hê hy moet verstaan. “Michael,
dis al wat ek nog ooit was. Dis al wat ek ooit sal wees.”
“Dis nonsens. Wanneer gaan jy end kry daarmee?”
Sy kyk weg, haar skouers hang. “Jy verstaan nie. Dit gaan nooit wees
soos jy dit wil hê nie. Dit kan nie! Selfs al was daar ooit ’n kans, dan is dit
nou daarmee heen. Kan jy dit nie verstaan nie?”
Sy oë sny deur hare. “Praat jy van Paul?”
“Het hy jou vertel?”
“Dit was nie nodig nie. Dit was op sy hele gesig geskryf.”
Angel probeer haarself nie verdedig nie. Sy maak geen verskoning nie.
Ineengekrimp staar sy strak voor haar uit.
Michael kan sien sy blameer haarself vir alles, maar sy en Paul sal albei
daarmee moet saamleef. Hy ook. Hy kyk voor hom in die pad en bly vir ’n
lang ruk stil. “Hoekom het jy teruggegaan? Ek verstaan dit glad nie.”
Sy sluit haar oë en soek na ’n goeie rede. Sy kry nie een nie en sluk
swaar. “Om my goud te gaan haal,” sê sy afgemete. Om dit hardop te erken,
laat haar klein en leeg voel.
“Om wat mee te maak?”
“Ek wil ’n hut in die bos hê.”
“Jy het mos een.”
Sy kan skaars praat so groot is die pyn in haar bors. Sy druk haar hand
daarteen. “Ek wil vry wees, Michael. Net vir een keer in my hele lewe.
Vry!” Haar stem breek. Sy byt op haar lip en klou so hard aan die kant van
die sitplek dat die hout in haar hande sny.
Michael se gesig versag. Die woede verdwyn, maar nie die seer nie; nie
die jammerte nie. “Jy ís vry. Jy weet dit nog net nie.”
Dis ’n lang, stil rit terug na die vallei toe.
Sestien

Die kop is ’n plek op sy eie,


wat op sy eie van die hel ’n hemel kan maak,
en van die hemel ’n hel.
Milton

Michael kan aan niks anders dink nie. Sy sê nie sy is jammer oor wat
gebeur het nie, sy maak glad nie verskoning nie. Sy sit net woordeloos,
regop, kop omhoog en met haar hande op haar skoot gebal asof sy op pad is
oorlog toe, in plaas van huis toe. Sal sy liewer sy geskenk van die hand wys
en in ewige duisternis leef as om haar kop en hart vir hom oop te maak? Is
haar trots al wat saak maak?
Hy verstaan nie.
Angel sit in stille marteling. Sy sukkel met die emosies wat aan haar ruk:
berou, skuldgevoelens, verwarring. Dit word ’n soliede massa, ’n klipharde
knop wat in haar keel en bors groei en soos ’n kanker die pyn na elke
ledemaat versprei. Sy is bang. Sy het gedink die hoop wat in haar is, is
lankal dood, maar dit vlam weer op. Sy het die klein liggie wat soms as
kind in haar geflikker het, vergeet. Iets sou die vonk aansteek, en dit sou
groei – totdat Duke dit vermorsel het.
Sy probeer dit nou met logika uitwis.
Niks kan weer dieselfde wees nie. Wat ook al tussen haar en Michael
ontwikkel het, is vernietig. Sy weet dit. Die oomblik toe Paul haar gebruik
het, het sy haar laaste kans verspeel.
Ek het dit aan myself gedoen. Mea culpa. Mea culpa.
Haar ma se woorde spook by haar, hartseer herinneringe aan ’n eensame
lewe. Hoekom voel sy weer die klein liggie wanneer sy wéét dit sal op die
ou end uitgedoof word? Net soos wat dit nog altyd was. Die hoop is wreed.
Soos net die reuk van kos voor ’n honger kind. Geen melk. Geen vleis.
O, God, ek kan nie meer op enigiets hoop nie. Ek kan nie. As ek dit
toelaat, sal ek dit nooit oorleef nie.
Maar dit is daar: ’n klein vonkie wat in die donker gloei.
Toe die eerste ligstrale van die oggend begin deurbreek, kom hulle in die
vallei aan. Angel voel die warmte van die son op haar skouers en onthou
hoe Michael haar in die middel van die nag agter hom aangesleep het om
die son te sien opkom. “Dít is die lewe wat ek jou wil gee.” Sy het nie toe
verstaan wat dit is wat hy vir haar aanbied nie. Sy het nie besef tot sy by
daardie trap van die Silver Dollar opgestap en wéér haar siel aan slawerny
verkwansel het nie.
Dis te laat, Angel.
Hoekom bring hy my dan terug? Hoekom het hy my nie in Pair-a-Dice
gelos nie?”
Het Duke jou nie ook teruggebring nie? Meer as een keer.
Sy het altyd vergelding in Duke se donker oë gesien. Hy het haar
behoorlik laat swaarkry. Maar dit was niks in vergelyking met wat hy aan
dié gedoen het wat dit gewaag het om haar te help nie. Soos Johnny – voor
Duke vir altyd van hom ontslae geraak het.
Maar Michael is glad nie soos Duke nie. Sy het nog nooit daardie koue
wreedheid in sy oë gesien nie. Sy het dit nog nooit in sy hande gevoel nie.
Elke ding het ’n prys, Angel. Jy weet dit.
Watter soort prys verwag hy van haar omdat hy haar van die hel af
teruggebring het? Watter prys omdat hy haar van haar eie dwaasheid gered
het?
Sy sidder.
Op die werf voor die hut draai Michael die wa om en maak die leisels
goed vas. Angel begin afklim, maar sy hand klem haar gewrig vas. “Bly
sit.” Sy stem is dik, en sy sit doodstil en wag op sy opdragte. Toe hy
omkom en haar van die wa aflig, sluit sy haar oë, te bang om in syne te kyk.
Hy sit haar sag op die grond neer.
“Gaan solank in,” sê hy. “Ek gaan na die perde omsien.”
Angel stoot die hut se deur oop, en ’n golf van verligting spoel oor haar.
Ek is tuis.
Vir hoe lank, Angel? Lank genoeg sodat hy jou kan laat ly voor hy
jou uitskop?
Sy kan nie nou sulke gedagtes toelaat nie. Sy stap in en kyk rond om te
sien of enigiets verander het. Alles lyk so bekend, so eenvoudig, so kosbaar.
Die ruwe tafel, die wilgerstoele voor die vuurherd, die bed wat uit ’n wabed
gemaak is, die verslete komberse wat sy suster gemaak het. Angel begin ’n
vuur pak en maak die deurmekaar bed op.
Sy tel ’n rooi wolhemp op, sit dit teen haar gesig en asem die geur van
Michael se liggaam in. Hy is die aarde en die lug en die wind. Haar asem
stop.
Wat het ek gedoen? Hoekom het ek dit alles weggegooi?
Paul se woorde kom weer by haar op: “Jy is nie twee stukkies goud werd
nie.” Dit is waar. Sy is ’n prostituut, en dis al wat sy ooit sal wees. Dit het
haar nie eens ’n dag gevat om in haar ou lewe te verval nie.
Bewend vou sy die hemp op en pak dit in sy kas weg. Sy moet ophou
dink. Sy moet regkom soos sy nog altyd reggekom het. Maar hoe kan sy
nóú? Hoe?
Haar kop soek desperaat na antwoorde, maar dis tevergeefs. Ek sal doen
net wat hy van my verwag vir so lank as wat hy wil as hy my laat bly. Ás hy
my net laat bly.
Sy is nie honger nie, maar weet Michael sal honger wees wanneer hy
terugkom. Sy doen baie moeite met die ontbyt. Terwyl die pap kook, stof sy
af en vee uit. ’n Uur gaan verby, en nog een. Daar is steeds geen teken van
Michael nie.
Wat dink hy? Is sy woede besig om al hoe meer te word? Is hy reeds
jammer dat hy haar teruggebring het? Gaan hy haar nou uitskop? Waarheen
sal sy gaan as hy dit doen?
Herinneringe aan Duke laat haar maag ruk.
Hy is nie soos Duke nie.
Alle mans is soos Duke wanneer hulle verraai word.
Haar kop tol in die rondte soos ’n voël wat na aas soek. Die
verdedigingsmeganismes in haar ontwaak en begin Michael aanvat.
Niemand het hom gedwing om na haar te kom soek nie. Dit is sy eie skuld
as hy seergemaak is deur dit wat hy gesien het. Dis nie haar skuld dat hy
juis op daardie oomblik by die deur ingestap het nie. Dis nie haar skuld dat
hy in die eerste plek soontoe gekom het nie. Hoekom het hy haar nie net
uitgelos nie? Sy het hom nooit probeer flous nie. Wat het hy verwag? Hy
het van die begin af geweet waarmee hy te doen het. Hy het gewéét wat sy
is. Wat is ek? skree haar verstand. Wie is ek? Ek het nie eens meer my eie
naam nie. Is daar enigsins ’n stukkie van Sarah oor?
Sy kan nie sy oë uit haar gedagtes kry nie, en die warm hartseer van haar
eie hart is onuithoudbaar.
Sy kan dit later nie meer verduur nie en gaan uit om na hom te soek. Hy
is nie in die veld nie, hoewel die perde besig is om te wei. Hy is nêrens te
sien nie. Uiteindelik gaan sy saggies by die skuur in en sien hom. Hy sit met
sy kop in sy hande en huil verskriklik. Haar hart sak tot in haar skoene
terwyl sy na hom kyk, en die verligting waarna sy soek, word selfs ’n
swaarder las.
Ek het kom seergemaak. Ek kon netsowel ’n mes gevat en hom daarmee
in die hart gesteek het. Dit sou beter gewees het as Magowan my
doodgemaak het. Dit sou beter gewees het as ek nooit gebore was nie.
Sy vou haar arms en gaan terug na die hut toe waar sy voor die vuur op
haar knieë neerval. Dis háár skuld. Al die “asse” oorweldig haar: As sy
nooit weggegaan het van Duke af nie ... as sy nooit op daardie skip geklim
het nie ... as sy haarself nie aan enige vreemdeling op die modderige strate
van San Francisco verkoop het of saam met Duchess gegaan het nie ... as sy
Paul geïgnoreer het ... as sy maar net hier gebly en nooit weggegaan het nie
... as sy nie teruggegaan het Pair-a-Dice toe of saam met Murphy teen
daardie trap uitgeloop het nie. As, as, as ... die eindelose, wentelende,
afwaartse trap.
Maar ek het dit alles gedoen. Ek het. En nou is dit te laat. Michael sit en
huil, terwyl ek geen traan vir enigiets meer het nie.
Sy slaan haar arms om haarself en wieg heen en weer. “Hoekom is ek
ooit gebore? Hoekom?” Sy kyk af na haar hande. “Hiervoor?” Sy kan voel
hoe die walglikheid van haar beroep op hulle is. Haar hele liggaam is
besmet, binne en buite. Michael het haar uit die bodemlose put kom haal en
vir haar ’n kans gegee – en sy het dit weggesmyt. Nou het hy haar weer
gaan haal en haar direk van haar besmette bed na sy huis toe gebring. En eie
aan haar eie domheid maak sy nog die hele oggend die huis skoon en het sy
glad nie eens daaraan gedink om haarself te probeer skoon was nie.
Sy soek haastig tot sy die seep kry en hardloop af na die spruit toe. Sy
ruk haar klere af, gooi dit traak-my-nieagtig neer en stap die water in. Die
yskoue lug en water byt aan haar, maar dit maak nie saak nie. Al wat sy
begeer, is om skoon te wees, om alles af te was. Alles so ver terug as wat sy
kan onthou.
Dalk tot by die presiese oomblik van haar verwekking.

Michael staan op en hang die harnasse op. Hy loop uit die skuur en stap
stadig huis toe. Watter hoop is daar vir ’n huwelik wat so deurdrenk is deur
seksuele verraad?
Sy het my van die begin af nooit liefgehad nie. Hoe kan ek dan
getrouheid verwag? Sy het dit nooit regtig eens belowe nie. Ek het haar
gedwing om die huweliksbeloftes te sê. Sy het nie ’n woord gesê dat sy
jammer is nie, Here. Nie een woord in die hele dertig myl nie. Het ek ’n fout
gemaak? Was dit u stem wat ek gehoor het, of was dit my eie vlees?
Hoekom doen U dit aan my?
Hy moes haar in Pair-a-Dice gelos het.
Sy is jou vrou.
Ja, maar ek weet nie of ek haar kan vergewe nie.
Die prentjie van haar saam met ’n ander man in die bed is in sy kop
vasgebrand. Hy kan dit nie uit sy kop kry nie.
Ek het haar liefgehad, Here. Ek het haar lief genoeg gehad om my lewe
vir haar op te offer, en sy het dít aan my gedoen. Miskien is dit nie meer
moontlik om haar te red nie. Hoe vergewe ’n mens iemand wat nie genoeg
omgee om selfs vergewe te wil word nie?
Wat is dit wat sy wil hê, Michael?
“Vryheid. Sy wil haar vryheid hê.”
Dit hut is netjies skoon; ’n gesellige vuur brand. Die tafel is gedek en sy
ontbyt is gereed. Al wat kort, is Angel. Michael vloek vir die eerste keer in
jare. “Laat haar teruggaan! Ek gee nie meer om nie. Ek is moeg gesukkel.”
Hy skop die pot van die ysterstaaf af. “Hoeveel keer moet ek agter haar
aangaan en haar terugbring?”
Hy sit vir ’n rukkie in die wilgerstoel, maar sy woede raak al hoe meer.
Hy sál haar weer gaan soek.
Hierdie keer sal hy haar mooi vertel wat hy van haar dink. Hy sal vir
haar sê as sy regtig so graag wil teruggaan, sal hy haar self terugneem.
Hy hardloop by die hut uit en gaan staan buite met sy hande in sy sye.
Hy wonder in watter rigting sy hierdie keer gegaan het. Hy bekyk die
omgewing, en tot sy verbasing sien hy haar kaal in die spruit staan.
Hy loop af na die oewer. “Wat maak jy? As jy wou bad, hoekom het jy
nie water aangedra en dit warm gemaak nie?”
Skielik skaam, wat vreemd is vir haar, draai sy haar rug op hom en
probeer haar kaal lyf wegsteek. “Gaan weg.”
Hy trek sy baadjie uit. “Kom uit daar. Jy sal longontsteking kry. As jy so
graag wil bad, sal ék die water aandra.”
“Gaan weg!” gil sy en val vooroor op haar knieë.
“Moenie simpel wees nie!” Hy loop in en ruk haar op haar voete. Haar
hande is vol gruis. Haar borste en maag is rou geskrop. “Wat doen jy aan
jouself?”
“Ek móét was. Jy het my nie kans gegee ... ”
“Jy het genoeg gewas.” Hy probeer om sy baadjie om haar te gooi, maar
sy skram weg.
“Ek is nog nie skoon nie, Michael. Gaan net weg en los my alleen.”
Michael gryp haar vas. “Sal jy klaar wees wanneer jy jou vel afgeskrop
het? Wanneer jy bloei? Is dit wat dit is? Dink jy jy gaan skoon kom deur dít
aan jou te doen?” Hy laat haar los, bang dat hy haar iets sal aandoen. “Dit
werk nie so nie,” sê hy deur saamgeperste kake.
Sy knip haar oë en gaan sit stadig. Die yskoue water kom tot by haar
middel. “Nee, seker nie,” sê sy sag. Haar gekoekte nat hare hang pap om
haar bleek gesig en skouers.
“Kom terug binnetoe,” sê hy en help haar om op te staan. Hierdie keer
kom sy sonder om teenstand te bied en struikel toe hulle op die oewer kom.
Toe sy buk om haar klere op te tel, trek hy haar saam daarsonder. Hy stoot
haar half in die hut in en klap die deur toe. Hy gryp ’n kombers van die bed
en gooi dit na haar. “Gaan sit voor die vuur.”
Angel vou die kombers om haar skouers en gaan sit. Sy tel nie haar kop
op nie.
Michael kyk skrams na haar en skink vir haar ’n koppie koffie. “Hier,
drink dit.” Sy maak soos hy sê. “Jy sal gelukkig wees as jy nie siek word
nie. Wat probeer jy doen? Wil jy my laat skuldig voel omdat jy besluit het
om weer ’n prostituut te word? Wil jy my laat skuldig voel omdat ek jou uit
daardie aaklige plek kom sleep het?”
“Nee,” sê sy sag.
Hy wil haar nie jammer kry nie. Hy wil haar skud tot haar tande uitval.
Hy wil haar vermoor.
Ek sal dit kan doen. God, ek sal haar kan vermoor en bly wees daaroor!
Sewentig maal sewe.
Ek wil nie meer luister nie. Ek is moeg geluister. U vra te veel. Dit maak
te seer. Kan U nie verstaan nie? Weet U dan nie wat sy aan my gedoen het
nie?
Sewentig maal sewe.
Sy oë brand van die trane, en sy hart klop soos ’n oorlogstrom. Sy lyk
soos ’n besmeerde kind. Donker kringe lê onder haar blou oë. Laat sy maar
swaarkry. Sy verdien dit. Daar is ’n merk in haar nek wat hom naar maak.
Sy probeer dit agter haar hand wegsteek, en hy kan sien hoe sy ineenkrimp.
Miskien het sy tog nog iets van haar gewete oor. Dalk voel sy ’n bietjie
skaamte. Dit sal gou genoeg verby wees, en sy sal weer gereed wees om
hom in stukkies op te sny.
Ek kan nie help hoe ek voel nie, Here. As ek gedink het sy kan my liefhê,
miskien dan ...
Soos jy My liefgehad het?
Dis nie dieselfde nie. U is God! Ek is net ’n man.
“Jy moes my nie kom soek het nie,” sê sy afgetrokke. “Jy moes nooit
naby my gekom het nie.”
“Dis reg, pak die skuld op my.” Miskien is sy reg. Hy voel naar. Hy bal
’n vuis en kyk af na haar. “Ek het my beloftes gemaak, en ek gaan daarby
bly, maak nie saak hoe dit my nou versmoor nie.”
Sy kyk met leë oë op na hom. “Jy hoef nie.” Sy skud haar kop.
“Dit sál werk. Ek sal dit laat werk.” U het mos belowe, Here? Of was dit
my verbeelding? Was sy eintlik reg dat dit net seksuele aantrekking was?
“Jy flous jouself,” sê Angel. “Jy verstaan net nie. Ek moes nooit gebore
gewees het nie.”
Hy lag vermakerig. “Selfbejammering. Jy is besig om daarin te verdrink,
nè? Jy is ’n blinde dwaas, Angel. Jy kan nie sien wat reg voor jou staan
nie.”
Jy ook nie.
Sy staar in die vuur. “Ek is nie blind nie. My oë is my lewe lank al
wawyd oop. Jy dink ek weet nie wat ek sê nie? Jy dink nie dis die waarheid
nie? Ek het my eie pa hoor sê dat ek veronderstel was om geaborteer te
word.” Haar stem breek. Sy kry weer haar selfbeheersing terug en gaan
sagter voort. “Hoe kan ’n man soos jý verstaan? My pa was getroud. Hy het
klaar genoeg kinders gehad. Hy het vir my ma gesê sy wou net ’n houvas
op hom hê. Ek het nooit uitgevind of dit waar was nie. Hy het haar
weggejaag. Hy wou haar nie meer hê nie. Hy het haar ophou liefhê. Oor
mý.”
Sy gaan aan in daardie sagte, gepynigde stem. “Mamma se ouers was
ordentlike mense uit ’n goeie omgewing. Hulle wou haar nie by hulle
inneem nie; nie met ’n buite-egtelike kind nie. Selfs die kerk het sy rug op
haar gedraai.” Die kombers val oop, en Michael staar na die rooi merke op
haar vel. Dit is rooi strepe waar sy haar eie vel probeer afskrop het.
Jesus, hoekom doen U dit aan my?
Dis makliker om kwaad te wees as om ’n blik in haar gepynigde siel te
kry.
“Ons het op die dokke beland,” sê sy emosieloos. “Sy het ’n prostituut
geword. Wanneer die mans weg was, het sy haarself aan die slaap gedrink
terwyl Rab uitgegaan en die geld opgedrink het. Sy was nie meer so mooi
nie. Sy is dood toe ek agt was.” Sy kyk op na hom. “Met ’n glimlag op haar
gesig.” Haar mondhoeke lig. “So, jy sien. Dis waar. Ek moes nooit gebore
gewees het nie. Dit was heel van die begin af ’n verskriklike fout.”
Michael gaan sit met ’n swaar gemoed. Die trane lê weer vlak, maar dié
slag nie oor sy eie verdriet nie. “Wat het toe van jou geword?”
Sy buig haar kop en gryp haar hande styf vas. Sy kyk nie na hom nie.
Daar is ’n lang, gespanne stilte voor sy baie sag sê: “Rab het my aan ’n
bordeel verkoop. Duke is mal oor jong meisietjies.”
Michael knyp sy oë toe.
Sy kyk op na hom. Natuurlik is hy gewalg. Wie sal nie wees nie? Die
gedagte aan ’n kind wat met ’n volwasse man gemeenskap het, is genoeg
om enigiemand te walg. “Dit was net die begin,” sê sy bot en laat sak haar
kop. Sy kan nie na hom kyk nie. “Jy sal jou nie eens kan indink wat daarna
gebeur het nie. Dinge wat aan my gedoen is. Dinge wat ék gedoen het.” Sy
sê nie dat dit ’n stryd om oorlewing was nie. Wat maak dit saak? Dit was
haar keuse om te gehoorsaam.
Hy kyk deur sy trane na haar. “En jy dink dis alles jou skuld, nie waar
nie?”
“Wie s’n anders? Mamma s’n? Sy het my pa liefgehad. Sy het my
liefgehad. Sy het God liefgehad. Die liefde het haar niks in die sak gebring
nie. Hoe kan ek haar vir enigiets blameer, Michael? Moet ek die skuld op
Rab pak? Hy was net ’n arme, dom dronkaard wat gedink het hy doen wat
die beste is vir my. Hulle het hom vermoor. In daardie vertrek, voor my oë,
omdat hy te veel geweet het.” Sy skud haar kop. Hy hoef nie alles te weet
nie.
“Dis nie jóú skuld nie, Amanda.”
Amanda. O, God. “Hoe kan jy my steeds so noem?”
“Omdat dit is wie jy nou is.”
“Wanneer sal jy ooit verstaan?” vra sy gefrustreerd. “Dit maak nie saak
wie dinge aan jou doen nie. ’n Mens kan nie maak asof dit het nie gebeur
het nie.”
Sy trek die kombers stywer om haar en vou haar arms om haar lyf. “’n
Mens neem dit alles in. Wat gebeur het, is wat ek is. Jy het self so gesê, en
jy is reg. Ek kan dit nie weg was nie. Ek kan nie skoon kom nie. Ek kan my
vel afkrap. Ek kan my bloed uittap. Dit sal nie enige verskil maak nie. Dis
soos ’n vieslike reuk waarvan ek nie kan ontslae raak nie, maak nie saak
hóé hard ek probeer nie. En ek het hét probeer, Michael. Ek het. Ek sweer.
Ek het baklei, en ek het weggeloop. Ek wou sterf. Ek het dit amper
reggekry met Magowan. Amper. Kan jy nie sien nie? Niks maak saak nie.
Niks het ooit ’n verskil gemaak nie. Ek is ’n prostituut, en dis wat ek bedoel
is om te wees.”
“Dis ’n leuen!”
“Nee, dit is nie. Dit is nie.”
Hy leun na haar toe, maar sy beur weg en hou haarself nóg stywer vas.
Sy kyk weg. “Amanda, ons sal hierdeur kom,” sê hy. “Ons sal. Dis ’n
gelofte wat ek aan jou maak.”
“Nee, ons sal dit nie maak nie. Vat my net terug.” Toe hy sy kop skud,
pleit sy by hom. “Asseblief. Ek hoort nie hier by jou nie. Kry iemand
anders.”
“Bedoel jy iemand wat beter is as jy?”
Haar gesig is wasbleek, haar pyn diep en rou. “Ja.”
Michael steek sy hand uit om dit op haar skouer te sit, maar sy skram
weg van hom. Hy weet nou hoekom, en dit sny deur hom tot in sy binneste
dat sy dink sy is so vuil dat hy nie eens aan haar moet raak nie.
“Dink jy ék is so heilig?” sê hy hees. Net oomblikke gelede het hy sy
liefde én God self ontken en wou selfs sy eie vrou doodmaak. Wat is die
verskil of jy iemand met jou hande of in jou gedagtes vermoor? Sy
menslike natuur het gedagtes van vergelding gekoester en dit selfs begeer.
Hy sak op sy knieë neer en vat haar aan die skouers. “Ek moes die hele
pad Pair-a-Dice toe gehardloop het,” sê hy hartseer. “Ek moes nie vir Paul
gewag het om stert tussen die bene terug te kom nie.”
Sy lig haar kop op en kyk hom reguit in die oë. Sy wil dit vir eens en vir
altyd vinnig oorkry. “Ek het hom seks gegee net om vir die rit terug te
betaal.”
Die pyn van daardie woorde tref hom diep, maar hy gee nie moed op met
haar nie. Michael lig haar ken op. “Kyk na my, Amanda. Ek sal jou nooit
terugvat nie. Nooit nie. Ons hoort bymekaar.”
“Jy is ’n dwaas, Michael Hosea. ’n Arme, blinde dwaas.” Sy bewe erg.
Michael staan op om vir haar ’n droë kombers te gaan haal. Toe hy omdraai,
is haar oë op hom gerig, en sy lyk angsbevange. “Wat is dit?” vra hy
fronsend. “Dink jy ek gaan jou seermaak?”
Sy knyp haar oë styf toe. “Ek het nie dit wat jy wil hê nie. Ek kan jou nie
liefhê nie. Selfs al kon ek, sou ek nie.”
Hy buk af, haal die klam kombers van haar skouers af en gooi die droë
kombers oor haar. “Hoekom nie?”
“Omdat ek die eerste agt jaar van my lewe moes sien hoe my ma betaal
omdat sy ’n man liefgehad het.”
Hy lig haar ken op. “Die verkeerde man,” sê hy ferm. “Ek is nie die
verkeerde man nie, Amanda.” Hy staan regop en soek in sy sak. Hy hurk
voor haar en haal haar hand onder die kombers uit. Hy sit sy ma se trouring
terug aan haar vinger. “Net om dit amptelik te hou.” Hy vryf haar wang sag
en glimlag.
Sy laat haar kop hang en trek haar hand terug onder die kombers in. Sy
bal haar vuiste teen haar borste en is bewus van elke krap en kneusplek wat
sy haarself toegedien het. Maar dis niks in vergelyking met die gevoel wat
in haar is nie.
Die vonke is besig om vuur te word.
Michael vat ’n handdoek en vryf haar hare droog. Toe hy klaar is, trek hy
haar nader en sus haar in sy arms. “Vlees van my vlees,” fluister hy teen
haar hare. “Bloed van my bloed.”
Angel maak haar oë styf toe. Sy begeerte vir haar sal met die tyd
verminder. Hy sal ophou om haar lief te hê nes haar pa se liefde vir haar ma
verwelk het. En as sy haarself toelaat om Michael so lief te hê soos Mamma
Alex Stafford liefgehad het, sal hy haar hart in stukke breek.
Ek wil my nie op ’n deurmekaar bed aan die slaap huil en my lewe
omdrink nie.
Michael voel hoe sy bewe. “Ek kan jou nie wegstuur sonder om myself
in twee te skeur nie,” sê hy. “Jy is reeds deel van my.” Hy vee sy lippe oor
haar slaap. “Ons kan van voor af begin. Ons kan dit wat gebeur het,
agterlaat.”
“Hoe kan ons? Wat gebeur het, het gebeur. Dis alles in my, in klip
uitgekerf,” sê Angel.
“Dan sal ons dit uitgrawe en begrawe.”
Sy lag hartseer en humorloos. “Jy sal mý moet begrawe.”
Hy begin beter voel. “Goed,” sê hy. “Ons sal jou doop.” Nie net met
water nie, maar met die Gees, as sy dit ooit sal toelaat. Hy hou haar vas en
soen haar op haar hare. Dis ironies hoe naby hy nou aan haar voel; nader as
ooit tevore. Hy vee haar hare uit haar gesig. “Amanda, ek het lank gelede
geleer dat ons oor min dinge in die lewe beheer het. Dit behoort nie aan ons
nie. Dit is nie in ons hande nie. Soos om gebore te word of op agt as ’n
prostituut verkoop te word. Al wat ons kan verander, is hoe ons dink en hoe
ons lewe.”
Sy sug swaar. “En jy het nou besluit om my vir ’n tydjie by jou te hou.”
“Nie vir ’n tydjie nie. Vir altyd. En ek hoop jy sal besluit om te bly.” Hy
liefkoos haar vel saggies. “Wat wie ook al aan jou gesê of gedoen het, dit
hang nou van jóú af om ’n besluit te neem. Jy kan besluit om my te
vertrou.”
Sy kyk onseker na hom. “Is dit so maklik?”
“Ja, dit is so maklik. Een dag op ’n slag.”
Sy kyk vir ’n oomblik na hom en knik haar kop. Die lewe was te
ondraaglik op die ander manier om nie Michael s’n ’n kans te gee nie.
Hy vryf haar wang met sy duim en soen haar op die mond. Haar lippe
raak sag onder syne, en sy klou aan die voorkant van sy hemp. Toe hy sy
lippe van hare wegneem, rus sy met haar kop teen sy bors. Hy kan voel hoe
sy heeltemal teen hom ontspan.
Michael maak sy oë toe. Here, vergewe my. U het gesê ek moet na haar
toe gaan, maar my trots het in my pad gestaan. Ek het U nie geglo toe U vir
my sê sy het my nodig nie. U het gesê ek moet haar liefhê, en ek het gedink
dit sal maklik wees. Help my. Maak my hart en verstand oop sodat ek haar
so lief kan hê soos wat U my liefhet.
Die vuur knetter saggies en ’n bestendige warmte begin in Michael
opbou terwyl hy sy jong vrou in sy arms hou. Met ’n diep sug hou hy op om
aan haar te dink as Angel – die prostituut wat hy liefhet en wat hom verraai
het – en sien hy haar in plaas daarvan as die naamlose, gebroke kind wat
steeds verlore is.
Sewentien

Julle is tog self ons brief, geskryf op ons harte,


bekend aan en gelees deur alle mense.
2 Korintiërs 3:2

Vergifnis is ’n vreemde woord. Genade ondenkbaar. Angel wil vergoed vir


dit wat sy verkeerd gedoen het, en sy probeer dit met harde werk doen.
Mamma is nóóit vergewe nie. Hoe kan Angel dan deur ’n enkele woord
vergewe word?
Om Michael te vergoed vir sy pyn werk sy kliphard. Sodra sy klaar is
met haar eie werk, soek sy hom en vra wat sy nog kan doen. Wanneer hy
ploeg, loop sy agter hom aan en tel klippe op en pak hulle op die klipmuur
tussen die landerye. Wanneer hy bome saag, kap sy die takke met ’n byl af,
pak dit opmekaar en bind dit in bondels vas en pak hulle in die skuur om uit
te droog vir vuurmaakhout. Wanneer hy hout kap, pak sy dit op ’n hoop. Sy
vat selfs die graaf en help hom om stompe uit te grawe.
Hy vra haar nooit om iets te doen nie, so sy soek na dinge wat sy vir hom
kan doen.
Teen die aand is sy heeltemal gedaan, maar kan steeds nie ledig rondsit
nie. Ledigheid laat haar skuldig voel. In plaas daarvan dat dit hom plesier
gee, sien sy dat hy hom elke dag al hoe meer aan haar onttrek. Hy is stil, op
sy hoede, verdiep in sy gedagtes. Is hy reeds spyt dat hy haar teruggebring
het?
Een aand sukkel sy met haar moegheid terwyl hy lees. Sy stem is diep en
ryk, en sy sukkel om haar oë oop te hou. Hy maak die boek toe en sit dit op
die rak.
“Jy werk te hard.”
Sy druk haarself regop en kyk na die naaldwerk in haar hande. Haar
hande bewe. “Ek is nog net nie gewoond aan dié tipe werk nie.”
“Jy het genoeg om te doen. Dis nie nodig dat jy boonop die helfte van
my werk ook doen nie. Jy is ’n wandelende lyk.”
“Ek veronderstel ek is nie juis goeie geselskap nie.”
Michael sit sy hand op haar skouer en kan voel hoe sy ineenkrimp van
pyn. “Jou hele lyf pyn van gister se klippe ronddra, en vanoggend het jy mis
uit die stal uitgedra.”
“Ek het dit vir die tuin nodig gehad.”
“Jy kan net vir my vra, ek sal dit vir jou doen!”
“Jy het gesê die tuin is mý verantwoordelikheid.”
Dit help nie om met haar te praat nie. Sy is vasbeslote om boete te doen.
“Ek gaan ’n entjie stap. Gaan kruip jy solank in.”
Hy stap teen die heuwel uit en gaan sit met sy arms op sy knieë. “So, wat
doen ek nou?” Niks is soos dit vantevore was nie. Dis asof hulle langs
mekaar leef sonder om ooit aan mekaar te raak of met mekaar te praat. Sy
het haarself wyd oopgesny en haar binneste teenoor hom uitgestort daardie
aand toe hy haar huis toe gebring het. Nou is sy besig om dood te bloei en
wil nie die genesing toelaat om plaas te vind nie. Sy probeer sy goedkeuring
kry deur soos ’n slaaf te werk terwyl hy net na haar liefde smag.
Hy kam sy vingers deur sy hare en hou sy kop vas. So, wat doen ek nou,
Here? Wat doen ek nou? Versorg my lam.
“Hoe?” vra Michael aan die hemelruim.
Hy stap saggies by die hut in en sien sy sit en slaap in die stoel. Hy tel
haar sag op en sit haar in die bed. Sy lyk so jonk en weerloos. Hoe ver is sy
verwyder van die kind wat op agt verkrag is? Nie naastenby ver genoeg nie.
Geen wonder dat seks in haar oë nog nooit iets met liefde te doen gehad het
nie. Hoe kon dit? Hy besef dat hy nie eens die helfte weet van wat sy moes
deurmaak nie. Hy weet dat God al een is wat ’n gebroke siel kan genees, en
sy wil met Hom niks te doen hê nie.
Hoe leer ek ’n verwonde kind om op U te vertrou as die enigste pa wat sy
geken het, haar gehaat het en haar dood wou hê? Hoe leer ek haar dat die
hele wêreld nie boos is nie wanneer die priester sy rug op haar ma gekeer
het? Here, sy is as seksslaaf verkoop aan ’n man wat soos
Satan self klink. Hoe oortuig ek haar dat daar goeie mense in die wêreld is
wanneer almal wat sy nog ooit geken het, haar gebruik en haar daaroor
veroordeel het?
Michael tel ’n stukkie van haar blonde hare op en vryf dit tussen sy
vingers. Hy het nog nie met haar liefde gemaak vandat hy haar teruggebring
het nie. Hy wóú. Sy liggaam smag na haar. Maar dan het hy haar lewelose
stem onthou toe sy gesê het: “Duke is mal oor jong meisietjies,” en sy
begeerte het gekwyn.
Wat het sy gedink al daardie kere wat hulle saam was? Was ek net soos
al die ander wat my eie plesier soek ten koste van haar?
Sy het nog altyd so sterk gelyk. En sy was. Sterk genoeg om ondenkbare
mishandeling te verduur en dit te oorleef. Sterk genoeg om haar by enigiets
aan te pas. Sterk genoeg om haarself tussen mure toe te sluit wat sy gedink
het sterk genoeg sal wees om haar te beskerm. Watter keuse het sy toe
gehad? Hoe kan sy enigsins verstaan wat hy haar nou aanbied?
Sy was net ’n kind, Here. Hoe kon U dit toelaat? Jesus, ek verstaan nie.
Hoekom? Is U nie veronderstel om die swakkes en onskuldiges te beskerm
nie? Hoekom het U haar nie beskerm nie? Hoekom het U haar nie gehelp
nie? Hoekom?
Hoe is Angel anders as Hosea se vrou, Gomer, wat deur haar eie pa aan
die profeet verkoop is? ’n Kind van prostitusie. ’n Egbreker. Is Gomer ooit
deur haar man se liefde verlos? God het Israel ontelbare kere verlos. God
het die wêreld verlos. Maar wat van Gomer, Here? Wat van Angel? Wat van
my vrou?
Versorg my lam.
U sê dit voortdurend, maar ek weet nie hoe nie. Ek weet nie wat U
bedoel nie. Ek is nie ’n profeet nie, Here. Ek is ’n eenvoudige boer. Ek is nie
opgewasse vir die taak wat U vir my beplan het nie. My liefde is nie genoeg
nie. Sy is steeds daar in die put, besig om te sterf. Ek reik uit na haar, maar
sy wil nie my hand vat nie. Om my liefde te verdien, sal sy haarself
doodwerk terwyl dit reeds hare is.
Vertrou op My met jou hele hart; moenie op jou eie insigte staatmaak
nie.
Ek probeer, Jesus. Ek probeer.
Michael gaan sit radeloos op die kant van die bed. Tessie se romp gly af
en beland in ’n bondeltjie op die vloer. Hy tel dit op en kyk na die dun
materiaal. Hy frons en gooi dit terug op die bed. Hy tel die verbleikte bloes
op en kyk daarna. Hy vryf dit tussen sy vingers. Die eerste keer toe hy na
Angel se kamer toe is, het sy klere van kant en satyn aangehad. Nou klee hy
haar in toiings. Nie eens haar eie nie, maar dié van sy oorlede suster.
Nie een keer het Amanda vir ander klere gevra nie, en hy was te
vasgevang in sy eie hartseer gedagtes en werk om daaraan te dink. Wel, dit
gaan verander. Hulle is nie so ver van Sacramento af dat hulle nie vir
Joseph kan gaan besoek nie. Met sy goeie handelaarsvernuf sal hy ’n groot
voorraad hê om in die toekomstige toeloop van gesinne se behoeftes te
voorsien.

Michael gaan vra vir Paul om na sy vee om te sien terwyl hy en Amanda


weg is. Paul verbleek toe hy haar naam hoor. “Het jy haar teruggebring?”
“Ja, ek het haar huis toe gebring.”
Paul raak stil, sy gesig styf, toe Michael hom daaraan herinner dat sy sy
vrou is. Paul stem in om na alles om te sien.
“Ek sal met Joseph regmaak terwyl ons in Sacramento is.”
“Dankie, maar ek sal my eie reëlings hanteer.”
Michael huiwer ’n oomblik en knik dan. Hy kan voel hoe die afstand
tussen hulle groter word. Paul en sy ondraaglike, hardnekkige trots. Paul en
sy skuldgevoelens.
Michael laai sakke aartappels, bokse uie en kratte winterappels op sy wa,
terwyl Amanda in die skuur se deur staan en haar tjalie styf om haar
skouers vastrek. Sy vra geen vrae nie.
“Paul sal die vee versorg,” sê Michael toe hy die seildoek oor die groente
trek.
“Ek kan dit hanteer, dit was nie nodig om hom te vra nie.”
“Jy gaan saam met my.” Dit verbaas haar. Hy glimlag. “Bak ’n paar
ekstra broodjies vanaand. Ons kan ’n paar blikkies boontjies inpak en
vroegoggend op pad wees.”
Teen sonop begin hulle ry. Amanda sê nie juis iets op pad nie. Hulle stop
vir middagete en ry weer verder. Teen skemeraand span Michael uit en
maak vir hulle ’n kamp honderd tree van die pad af. Dis koud en die
aandlug is helder. Amanda tel hout op terwyl Michael ’n breë gat grawe en
’n afdak daaroor sit. Ná aandete skep hy warm kole in die gat. Hy gooi ’n
laag sand bo-oor, dan dennenaalde en ’n seil voor hy die komberse bo-oor
sit. Angel sak dankbaar op die bed neer. Haar liggaam pyn van die
skommelende wa.
’n Prêriewolf huil en sy kruip nader aan Michael. Hy sit sy arm om haar
en sy kruip teen hom vas. Hulle pas soos ’n legkaart inmekaar. Hy draai na
haar toe en soen haar, sy vingers in haar hare. Ná ’n rukkie draai hy op sy
rug en lê en kyk na die sterre.
Angel skuif effens weg van hom af. “Jy wil my nie meer hê nie, nè?”
Hy kyk nie na haar terwyl sy praat nie. “Ek wil jou té graag hê. Ek kan
net nie ophou dink aan hoe dit vir jou as kind moes gewees het nie.”
“Ek moes jou nooit daarvan vertel het nie.”
Hy draai sy kop na haar. “Hoekom nie? Sodat ek kon aanhou om my eie
plesier te soek en nooit begryp wat dit van jou verg nie?”
“Dit doen niks aan my nie, Michael. Nie meer nie.”
“Hoekom moes ek jou dan dwing om my naam te sê?”
Sy kan hom nie daarop antwoord nie.
Michael draai sy kop na haar en vryf liefdevol oor haar gesig. “Ek wil
jou liefde hê, Amanda. Ek wil hê dit moet vir jou net so lekker wees soos
vir my as ek aan jou raak. Ek wil jou soveel plesier gee soos wat jy my
gee.”
“Jy wil altyd te veel hê.”
“Ek dink nie so nie. Ek dink net dit gaan tyd vat. Ons moet mekaar net
beter leer ken. Dit gaan vertroue van ons verg.”
Angel kyk op na die sterbesaaide hemelruim. “Ek het prostitute geken
wat verlief geraak het. Dit het nooit gewerk nie.”
“Hoekom nie?”
“Omdat hulle net so obsessief soos Mamma geraak het en net so hartseer
was.” Angel is bly dat sy nie oor die vermoë beskik om verlief te raak nie.
Sy het een keer, maar dit was net ’n illusie. Selfs Johnny was uiteindelik net
’n manier om te ontsnap.
“Jy is nie meer ’n prostituut nie, Amanda. Jy is my vrou.” Michael
glimlag treurig en speel met ’n stringetjie blonde hare. “Jy kan my so liefhê
soos jy wil en veilig voel.”
Om verlief te raak, beteken dat jy beheer oor jou emosies verloor en jou
wilskrag en jou lewe. Jy verloor jouself. En Angel kan dit nie waag nie, nie
eens met hierdie man nie.
“Wat voel jy wanneer ek aan jou raak?” vra hy en vryf met ’n vingerpunt
oor haar wang.
Sy kyk na hom. “Wat wil jy hê moet ek voel?”
“Vergeet wat ek wil hê. Wat gaan binne-in jou aan?”
Sy weet hy gaan wag tot sy antwoord, en sy weet hy sal weet as sy jok.
“Ek dink nie ek voel enigiets nie.”
Hy frons en hou aan om aan haar gesig te vat. Hy is dol daaroor om aan
haar sagte, gladde vel te raak. “Wanneer ek aan jou raak, word my hele
liggaam lewendig. Ek voel die hitte dwarsdeur my. Ek kan nie eens begin
beskryf hoe wonderlik dit voel wanneer ons liefde maak nie.”
Sy kyk weer weg. Móét hy daaroor praat?
“Ons moet net ’n manier uitwerk sodat jy dit net soveel soos ek kan
geniet,” sê hy en lê weer op sy rug.
“Maak dit soveel saak? Hoekom maak dit enigsins saak of ek iets voel of
nie?”
“Dit maak vir mý saak. Die plesier is iets wat gedeel moet word.”
Michael sit sy arm om haar. “Kom hier, laat ek jou net vashou.”
Sy draai om en sit haar kop op sy skouer en ontspan. Sy sit haar arm oor
sy breë bors. Hy is so warm, so solied. “Ek weet nie hoekom dit jou pla
nie,” sê sy. Dit het nog nooit vir enigiemand anders saak gemaak wat sy
dink of voel nie, solank sy net doen wat daar van haar verwag word.
“Dit pla my omdat ek jou liefhet.”
Miskien verstaan hy net nie die lewensfeite nie. Miskien is hy onder die
een of ander wanindruk. “Vroue is nie regtig veronderstel om seks te geniet
nie, Michael. Dis alles net toneelspel.”
“Het iemand jou dit vertel?”
“’n Paar mense.”
“’n Man of ’n vrou?”
“Albei.”
“Wel, ek weet dis nie hoe die Here dit bedoel het nie.”
Sy lag spottend. “God? Jy is so naïef. Seks is die groot erfsonde. Hy het
Adam en Eva uit die paradys gegooi daaroor.”
So, sy weet tog iets van die Bybel. Waarskynlik by haar ma gehoor. En
haar begrip van die teologie is verdraai. “Seks het niks daarmee te doen dat
hulle uitgegooi is nie. Eva se sonde was dat sy probeer het om God te wees.
Dis hoekom sy die appel wou hê. Sodat sy alles kon weet en soos die Here
kon wees. Sy is bedrieg. Adam was swak en het haar gevolg in plaas van
om God se opdrag te gehoorsaam.”
Angel skuif effens weg en kyk weer op. Sy wens sy het nie oor die
onderwerp begin praat nie. “Wat jy ook al sê. Jy is die kundige.”
Hy glimlag. “Ek het die Woord bestudeer voor ons die eerste keer
saamgeslaap het.”
Sy kyk verras op na hom. “Het jou Bybel jou gesê wat om te doen?” vra
sy.
Hy lag. “Wát om te doen, was nie die probleem nie. Dit was die hóé wat
my bekommer het. Hooglied het my vertel dat ’n man en vrou se passie
wedersyds moet wees.” Sy glimlag verdwyn en hy lyk bekommerd. “’n
Gedeelde seën.”
Angel maak haar uit sy arms los en kyk op na die sterre. Dit maak haar
ongemaklik as hy oor God begin praat. Die groot EK IS wat daarbo oor
haar troon en haar dophou. Mamma het gesê God kan alles sien, selfs
wanneer die lamp uitgeblaas en jy saam met iemand in die bed is. Sy het
gesê God weet selfs wat jy dink. Die groot “spioen in die lug” wat elkeen
van haar gedagtes afluister.
Angel sidder. Die verskriklike donkerte van die nag maak haar bang.
Elke geluid klink harder en onheilspellend. Daar is nie regtig iemand
daarbo nie. Sy dink nie so nie. Dit was alles in Mamma se kop. En in
Michael s’n.
Of is dit?
“Jy bewe. Kry jy koud?”
“Ek is net nie daaraan gewoond om buite te slaap nie.”
Michael trek haar nader en wys Orion se gordel, die Wa en Pegasus vir
haar. Angel luister na die diep klanke van sy stem. Hy is heeltemal op sy
gemak met die donkerte en die naggeluide, en ná ’n rukkie, in sy arms, is sy
ook. Lank nadat hy al slaap, lê sy en kyk na die prentjies wat hy vir haar in
die hemelruim geteken het. Maar dis aan God wat sy nie durf waag om te
dink nie.

Die volgende oggend net ná sonsopkoms is hulle weer op pad. Toe hulle
afkom uit die voorheuwels, is die gras heldergroen van die herfsreën. Reuse
eikebome is oral om hulle. ’n Koets kom teen die bult op met die perde op
volle spoed. Michael leun beskermend oor na Angel toe dit verbyjaag en
modder opskop.
Toe hulle die buitewyke van Sacramento bereik, kan Angel nie glo wat
sy sien nie. ’n Jaar gelede het sy saam met Duchess, Mai Ling en Lucky
deur ’n wemelende tentdorpie gereis. Nou is dit ’n groeiende stad met ’n
permanente gevoel. Die strate is bedrywig met waens en mans wat
rondloop. Party mans lyk vooruitstrewend in hul pakke en ander lyk weer
asof hulle so pas van die goudvelde af hier aangekom het, nog met hul
sakke en grawe op geboë rûe. Daar is selfs ’n paar vroue in linnewolrokke
en wolskouermantels. ’n Paar van hulle het kinders by hulle.
Michael ry in ’n breë straat af en Angel sien ’n deftige hotel, twee
eetplekke, ’n halfdosyn kroeë, ’n barbier met mans wat toustaan buite, en ’n
eiendomsagentskap. In die volgende blok is ’n konstruksiemaatskappy en ’n
mansklerewinkel met ’n uitstalling van denimbroeke, swaar oorjasse en
wyerandhoede. Links van Angel is ’n mynerswinkel, ’n teater en ’n kantoor
waar die mans die waarde en kwaliteit van hulle goud kan laat bepaal. Daar
is ook ’n tweeverdiepinggebou wat dwarspale en hakiesdraad, spykers en
hoefysters adverteer. Daar is nog mynvoorradewinkels en ’n saadwinkel,
met ’n wawiel- en vatpakhuis aan weerskante. Meer as ’n dosyn mans staan
tou op die sypaadjie voor ’n apteek wat pleisters adverteer.
Nog ’n koets ry verby en skop meer modder op.
“Paul het gesê Joseph se winkel is onder naby die rivier,” sê Michael en
draai in ’n ander straat af. “Dit maak dit makliker vir hom om sy goedere
van die skepe af te kry wat van San Francisco af kom.”
Michael sien hoe Angel die mans se aandag trek terwyl hulle deur die
stad ry. Sy is ’n seldsame juweel in ’n modderige stad. Hulle gaan staan en
gaap haar aan. Party dink selfs daaraan om hul hoede af te haal ten spyte
van die reëntjie wat begin het. Angel sit regop langs hom met haar kop
omhoog, heeltemal onbewus van die reaksie wat sy veroorsaak. Michael
leun oor na agter en kry ’n kombers. “Draai jou in hierdie kombers toe. Dit
sal jou droog en warm hou.” Sy ontdooi genoeg om skrams na hom te kyk,
maar hy kan aan haar gesigsuitdrukking sien hoe ongemaklik sy voel toe sy
die kombers om haar skouers gooi.
Angel sien skeepsmaste ’n entjie voor hulle. Michael draai in ’n straat op
wat langs die rivier afloop. Hochschild se winkel, wat langs ’n groot kroeg
is, is twee keer so groot soos sy winkeltjie in Pair-a-Dice. Die bord bokant
die deur spog dat jy alles onder die son daar kan kry. Michael ry tot voor die
deur met die wa en sit die rem aan. Hy klouter af, loop om en tel Angel van
die hoë sitplek af en dra haar oor die modder tot op die plankpad.
Twee jong mans kom uit die winkel. Hulle hou op praat toe hulle Angel
sien. Hulle ruk hul hoede af en gaap haar aan asof hulle deur die weerlig
getref is. Nie een is bewus van Michael terwyl hy die modder van sy
stewels afskop nie. Hy kyk na die twee, glimlag en vat haar arm. “As julle
here ons sal verskoon.” Hulle stamel verskonings uit en gee pad uit die
deuropening.
Angel sien ’n koolstoof agter in die winkel en sê vir Michael sy gaan
haarself warm maak terwyl hy sy besigheid doen. Sy sien Joseph halfpad
teen ’n leer op. Hy is besig om blikkieskos van ’n hoë rak af te haal en na sy
assistent onder te gooi wat dit in ’n boks pak vir ’n wagtende klant. Sy sien
hoe die twee jong mans weer die winkel binnekom terwyl Michael tussen
verskeie tafels vol gereedskap, huisware, jasse en stewels deur loop op pad
na die toonbank toe.
“Watter soort kruidenier is jy? Nie ’n aartappel in hierdie plek te sien
nie,” sê Michael.
Joseph kyk verskrik af en glimlag dan breed. “Michael!” hy klim rats
van die leer af en steek sy hand uit. Hy gee sy assistent opdrag om die
bestelling af te handel en trek Michael eenkant toe. Hy kyk een keer in
Angel se rigting en kyk dan vinnig weer, beslis verbaas. Michael draai om
en kyk glimlaggend na haar. Hy knipoog vir haar en sê iets vir Joseph.
Sy kyk weg en gaan staan so naby moontlik aan die stoof. Een van die
jong mans kom staan langs haar. Sy ignoreer hom, maar sy kan voel hoe hy
na haar staar. Die ander een staan ook ’n bietjie nader. Sy trek haar tjalie
stywer om haar en gee hulle al twee ’n koue kyk in die hoop dat hulle die
skimp sal vang en haar met rus sal laat. Hulle lyk maer in hul gelapte jasse.
“Ek is Percy,” sê die een. Hy het gladde wange net soos die ander een,
maar sy vel is donker gebrand van die son. “Ek is so pas terug van die
Tuolumne. Jammer dat ek my so aan jou vergaap, juffrou, maar ek baie
lanklaas ’n dame gesien.” Hy knik in sy vriend se rigting. “Dis my vriend
Ferguson.”
Angel kyk na Ferguson, en hy bloos. Sy vryf haar arm om dit warmer te
maak en wens hulle wil weggaan. Sy gee nie om wie hulle is nie, waar hulle
vandaan kom of wat hulle doen nie. Haar stilte is veronderstel om hulle af
te skrik, maar Percy sien dit as aanmoediging. Hy begin praat oor sy huis in
Pennsilvanië, sy twee susters, drie jonger broers en ma en pa wat nog daar
bly.
“Ek skryf en vertel vir hulle hoe goed die grond hier is,” se hy. “Hulle
oorweeg dit om uit te kom en Ferguson se familie saam te bring.”
Michael is op pad na hulle toe, sy gesig onpeilbaar. Angel is benoud dat
hy dalk dink sy is besig om besigheid te doen. Hy sit sy arm besitlik onder
haar arm, maar glimlag. Percy stel homself en Ferguson weer voor. “Ek
hoop nie jy gee om dat ons met jou vrou gesels nie, meneer.”
“Nie in die minste nie, maar ek het gedink ek kan julle werk aanbied om
my wa te help aflaai.” Hulle aanvaar die aanbod gretig, en Angel is verlig
om hulle te sien wegloop. Sy kyk op na Michael om sy gemoed te probeer
peil. “Hulle is onskadelik en eensaam,” sê hy. “As hulle jou soos ’n stuk
vleis bekyk het, sou ek hulle dalk wou opfoeter. Maar hulle het nie, nie
waar nie?”
“Nee.” Sy lag effens geamuseerd en kyk na hom. “Die een sê hy het
lanklaas ’n dame gesien.”
“Wel, jy is ’n getroude dame.” Hy knik in die rigting van ’n paar tafels.
“Joseph het ’n paar stukke materiaal waarna ek wil hê jy moet kyk. Kies
waarvan jy hou.” Hy lei haar tussen tafels vol myngereedskap deur en gaan
staan by ’n tafel hoog opgestapel met rolle materiaal. “Genoeg vir drie
rokke.” Hy gaan uit om die mans te help aflaai.
Sy probeer dink waarvan Michael sal hou en kies donkergrys materiaal
en bruin linnewol. Hy kom terug en lyk nie juis tevrede met haar keuse nie.
“Net omdat Tessie swart en bruin gedra het, beteken nie jý moet nie.” Hy
pak van die rolle op ’n ander tafel en trek ’n rol ligblou linnewol onder uit.
“Dit sal jou beter pas.”
“Dis duurder.”
“Ons kan dit bekostig.” Hy trek nog ’n rol ligte rooibruin en ’n ligte geel
Skotse geruite materiaal wat daarby pas uit. Volgende kies hy ’n woudgroen
en ’n geblomde katoen. Joseph bring nog twee rolle geblomde katoen. “Ek
het so pas hierdie ingekry. Daar is nog op pad. Ek koop voorraad aan soos
wat ek kan. Die mans begin nou hul vroue en kinders bring.” Hy knik en
glimlag vir haar. “Hallo, Angel. Dis lekker om jou weer te sien. Ek het ’n
boks knope, ’n rol wit doeksif en twee rolle rooi flennie ook as jy belangstel
om daarna te kyk.”
“Ons sal graag,” sê Michael. “Sy het wolkouse, stewels, handskoene en
’n goeie jas nodig.” Joseph loop weg om alles bymekaar te kry. Michael tel
’n rol wit-en-blou geruite katoen op. “Wat dink jy hiervan vir gordyne?”
“Dit sal mooi wees,” sê sy en kyk hoe hy dit by die ander rolle materiaal
sit. Joseph kom terug met knope en gee dit vir haar om te kies. “Hoe lank
sal dit jou vat om vir ons ’n stoof te kry?” vra Michael.
“Ek verwag nou enige dag ’n bestelling. Sê net hoe groot die stoof moet
wees, dan hou ek een vir jou.”
Michael gee vir hom die afmetings, en Angel sit haar hand op sy arm.
“Michael, dis te groot,” fluister sy. “Ons het mos in elk geval die vuurherd.”
“’n Stoof werk beter en brand nie so baie hout op nie. Dit sal die hut ook
deur die nag warm hou.”
“Maar hoeveel kos dit?”
“Moenie met hom stry nie, Angel. Met die prys wat hy vir sy aartappels
en wortels vra, kan hy ’n stoof bekostig.”
“Solank jy nie jou stowe teen so ’n wins verkoop soos jou groente nie,”
antwoord sy gevat terug.
Die mans lag. “Miskien moet ek liewer my vrou laat onderhandel,” sê
Michael. Toe hy sê hy wil ’n stel borde ook hê, loop Angel weg en gaan
staan weer by die stoof. As hy elke pennie op sy naam wil spandeer, het dit
niks met haar te doen nie.
Joseph nooi hulle vir aandete en dring daarop aan dat hulle die nag by
hom oorbly. Dis die minste wat hy kan doen nadat Michael al sy geld daar
spandeer het. “Daar is nie ’n enkele hotelkamer beskikbaar in die hele plek
nie met dié dat die mans van die berge af kom vir die winter,” sê Joseph en
wys vir hulle die pad boontoe. “In elk geval, dis hóé lank sedert ons twee
laas lekker gesels het.” Hy klap Michael op die rug.
Die woondeel bo is netjies gemeubileer. “Ek het alles spotgoedkoop
gekoop. ’n Kêrel van die Ooste het hier aangekom met tonne Chippendale-
en weelderige sofas. Hy het gedink hy gaan die nuwe miljoenêrs se huise
uitrus. Hy het boonop genoeg muskietnet en panamahoede gehad om die
bevolking langs die landengte ’n dekade te hou.” Hy verwelkom hulle in ’n
netjiese sitkamer wat oor ’n rivier uitkyk. ’n Mexikaanse kok bedien ’n
smaaklike maal van geroosterde beesvleis en aartappels op elegante
porseleinware. Joseph skink vir hulle heerlike ingevoerde tee. Tot die
messe, vurke en lepels is van silwer.
Joseph doen die meeste van die praatwerk. “Ek dink ek het min of meer
my familie omgepraat om uit New York pad te gee en weswaarts te kom.
My ma sê sy kom net as ek vir my ’n vrou kry.”
Michael grinnik oor die tafel vir hom. “Het jy vir haar gesê sy moet vir
jou een saambring?”
“Dit was nie nodig nie. Sy het klaar een uitgesoek wat gereed is om saam
te kom.”
Ná ete skink Joseph koffie. Die twee mans gesels oor politiek en
godsdiens. Hulle stem oor niks saam nie, maar gesels nogtans gesellig. Sy is
vaak. Sy gee nie om dat Kalifornië ’n staat geword het of dat
mynmaatskappye die goudvelde oorneem of dat Joseph volhou dat Jesus ’n
profeet was en nie die Messias op wie se wederkoms hy wag nie. Sy gee nie
om of die rivier styg as dit reën nie. Sy gee nie om of ’n graaf driehonderd
dollar kos en ’n nuwe ploeg net sewentig nie.
“Ons het vir Angel aan die slaap gepraat,” merk Joseph op en gooi nog
’n stuk hout op die vuur. “Die tweede slaapkamer is net by daardie deur
uit.”
Joseph kyk hoe Michael sy vrou liefdevol optel en haar kamer toe dra.
Hy swaai die laaste bietjie koffie in sy koppie rond en drink dit klaar. Hy
het Angel dopgehou vandat hy haar by die stoof sien staan het. Sy is een
van daardie rare skoonhede wat ’n man se asem wegslaan maak nie saak
hoeveel keer jy haar al gesien het nie.
Toe Michael terugkom en gaan sit, glimlag Joseph. “Ek het nooit jou
gesig vergeet toe jy haar die eerste keer gesien het nie. Ek het gedog jy is
van jou sinne beroof toe ek hoor jy het met haar getrou.” Goeie mans is al
hoeveel keer verwoes deur hul obsessies met gevalle vroue, en hy was
bekommerd oor Michael. Joseph het nog nooit ’n meer onpaar paartjie
gesien nie. Die een heilig en die ander ’n sondaar. “Jy lyk asof jy nog net
dieselfde is.”
Michael lag en tel sy koppie op. “Het jy gedink ek gaan verander?”
“Ek het gedink sy gaan jou hart verslind.”
Michael se glimlag verander, en die pyn skemer deur. “Sy het,” sê hy en
lig sy koppie.
“Sy het verander,” sê Joseph. Sy het nie die gloed van ’n vrou wat verlief
is nie. Daar is geen sprankel in haar oog of blos op haar wange nie. Maar
iets omtrent haar is anders. “Ek kan nie presies sê wat dit is nie. Maar sy lyk
nie so hard soos ek haar onthou nie.”
“Sy was nooit hard nie. Dit was net voorgee.”
Joseph stry nie, maar hy onthou die beeldskone prostituut wat elke
Maandag, Woensdag en Vrydag in Main Street gestap het, maar alte goed.
Hy het, net soos al die ander, uitgegaan om na haar te kyk, verstom deur
haar bleek, perfekte skoonheid. Maar hard, dié is sy. So hard soos graniet.
Michael sien haar net deur die oë van ’n man wat haar baie dieper liefhet as
wat ’n vrou soos sy verdien. Maar, aan die ander kant, miskien is dit
Michael se soort liefde wat haar verander het. Die Vader weet, Angel het
beslis nog nooit ’n man soos Michael teëgekom nie. Nie in háár beroep nie.
Hy moet vir haar iets anders wees. Joseph lag in die stilligheid.
Michael is vir hóm ook iets nuuts. Hy is een van daardie min mense wat
sy geloof uitleef. Nie nou en dan nie, maar élke uur van elke dag, selfs al
gaan dinge nie soos dit moet nie. So saggeaard soos wat hy is, so liefdevol
soos sy hart is, is daar niks swaks aan Michael Hosea nie. Hy is die beslisste
man wat Joseph nog ooit ontmoet het. ’n Man soos Noag. ’n Man soos die
skaapwagter koning Dawid. ’n Man so reg na God se hart.
Joseph bid dat Angel nie daardie hart uit hom gaan ruk en hom vir die
res van die mensdom gaan verwoes nie.
Agtien

Doen vir ander alles wat julle


graag wil hê hulle vir julle sal doen.
Jesus, Matteus 7:12

M ichael en Angel val die volgende oggend vroeg in die pad met hul wa
gepak met alles wat hulle gekoop het. Michael stop by die saadwinkel en
koop wat hy nodig het vir sy lentetuin. Op pad deur die stad stop hy weer
by ’n klein geboutjie. Hy stap om die wa en tel haar af. Tot hulle by die
deur kom en mense hoor sing, besef Angel dat hy van plan is om die
kerkdiens by te woon. Sy trek haar hand uit syne los en skud haar kop.
“Gaan jy in. Ek sal buite vir jou wag.”
Michael glimlag. “Probeer dit net. Ter wille van my.” Hy vat weer haar
hand. Toe hulle instap, klop haar hart so wild dat sy dink sy gaan verstik.
Baie van die mense kyk op en kyk na haar. Sy kan voel hoe haar gesig
warm word soos wat meer mense sien dat hulle laat is. Michael kry vir hulle
’n sitplek.
Angel klem haar hande in haar skoot saam en hou haar kop afgebuig.
Wat máák sy in ’n kerk? ’n Vrou verder in die ry af leun vorentoe om na
haar te kyk. Angel kyk reg voor haar. Nog iemand in die ry voor hulle kyk
oor haar skouer. Die plek is vol vroue – eenvoudige, hardwerkende vroue
soos dié wat hulle rug op Mamma gedraai het. Hulle sal dieselfde met haar
doen as hulle moet weet wat sy is.
’n Donkerkopvrou met ’n bruin leerhoed op bekyk haar aandagtig. Angel
se mond raak droog. Weet hulle al klaar? Het sy ’n merk op haar voorkop?
Die prediker kyk reguit na haar en preek oor die sonde en veroordeling.
Die sweet slaan oor haar hele lyf uit, en sy voel yskoud. Sy gaan naar word.
Almal staan op en begin sing. Sy het Michael nog nooit voorheen hoor
sing nie. Hy het ’n diep, ryk stem en ken die woorde sonder om na die
gesangeboek te kyk wat die man langs hom vir hom aanbied. Hy hoort hier.
Hy glo al hierdie dinge. Elke woord hiervan. Sy kyk weer vorentoe en reg
in die prediker se donker oë. Hy wéét, net soos wat Mamma se priester
geweet het.
Sy moet hier wegkom! Sy weet die oomblik as hulle klaar gesing het,
gaan die prediker na haar wys en vra wat sy in die kerk soek. Vreesbevange
druk sy verby almal in die ry. “Kan ek verbykom, asseblief?” smeek sy,
haastig om buite te kom. Een man grinnik na haar toe sy vinnig na die
agterdeur toe loop. Sy hyg na asem. Sy leun teen die wa en baklei teen die
naarheid.
“Voel jy nie lekker nie?” vra Michael.
Sy het nie verwag dat hy agter haar sal aankom nie. “Alles is oukei,” jok
sy.
“Sal jy net by my sit?”
Sy draai om en kyk na hom. “Nee.”
“Jy hoef nie deel te neem aan die diens nie.”
“Die enigste manier hoe jy my weer in daardie plek sal kry, is om my te
sleep.”
Michael bekyk haar gespanne gesig. Sy sit haar arms om haar lyf en
gluur hom aan.
“Amanda, ek was maande laas in die kerk. Ek het die gemeenskap van
gelowiges nodig,” sê hy.
“Ek het nie gesê jy moet uitkom nie.”
“Is jy oukei?”
“Ja,” sê sy en steek haar hand uit na die wa se sitplek. Michael tel haar
op. Sy aanraking laat haar beter voel. Sy is spyt oor haar uitbarsting en wil
verduidelik, maar toe sy omdraai, is hy reeds by die kerk in. Sy voel beroof.
Hulle sing weer, hard genoeg dat sy dit buite kan hoor. “Onward,
Christian soldiers, marching as to war ... ” Dit is ’n oorlog. ’n Oorlog teen
God en Michael en die hele wêreld. Partykeer wens sy sy hoef nie meer te
baklei nie. Sy wens sy was terug in die vallei. Sy wens dit was weer soos in
die begin, net sy en Michael. Sy wens Paul het in die berge gebly. Miskien
sou dinge dán uitgewerk het.
Nie vir lank nie. Die een of ander tyd kom meng die wêreld weer in.
Jy hoort net nie hier nie, Angel. Jy sal nooit nie.
Toe die diens uiteindelik verby is, kom baie ander mense voor Michael
uit. Almal kyk reguit na haar waar sy op die wa vir hom sit en wag. ’n Paar
vroue staan en gesels in ’n groepie. Praat hulle van haar? Sy hou die deur
dop om te sien wanneer Michael uitkom. Toe hy in die deur verskyn, stap
hy saam met die prediker. Hulle praat vir ’n paar minute en skud hand.
Michael kom by die trap af, en die man in die donker pak kyk na haar.
Haar hart begin weer woes klop. Sy kan voel hoe die sweet op haar vel
pêrel toe Michael na haar toe aanstap. Hy klim op, vat die leisels en trek
weg sonder om iets te sê.
“Dit het nie soos ’n regte kerk gelyk nie,” sê sy toe hy teen die bult afry
na die rivierpad toe. “Daar was nie eens ’n priester nie.”
“Die Here is nie verbind tot een kerkverband nie.”
“My ma was Katoliek. Ek het nie gesê ek is nie.”
“Waarom is jy dan so bang om in ’n kerk te wees?”
“Ek was nie bang nie. Dit het my naar gemaak. Al daardie skynheiliges.”
“Jy was doodbang.” Hy vat haar hand. “Jou hande is steeds nat gesweet.”
Sy probeer haar hand uit syne trek, maar hy hou dit stywer vas. “As jy so
oortuig is dat daar geen God is nie, waarvoor is jy dan bang?”
“Ek wil niks te doen hê met ’n groot oog in die lug wat wag vir die kans
om my soos ’n gogga dood te trap nie!”
“God veroordeel nie. Hy vergewe.”
Sy pluk haar hand los. “Soos Hy my ma vergewe het?”
Hy kyk na haar met so ’n stille selfversekerdheid dat dit haar gek maak.
“Miskien het sy haarself nooit vergewe nie.”
Sy woorde tref haar vol in die gesig. Angel kyk reguit voor haar uit. Wat
help dit tog om met Michael te redeneer? Hy verstaan niks. Dis asof die
arme dwaas nog nooit in hierdie wêreld geleef het nie.
Hy besluit om vol te hou. “Dink jy dit kon miskien iets daarmee te doen
gehad het?”
“Wat my ma ook al geglo het, dit beteken nie ek hoort in ’n kerk nie. Net
so min as wat sy daar gehoort het.”
“As Ragab, Rut, Batseba en Maria daar tuisgehoort het, dan dink ek daar
is ’n plekkie vir jou ook.”
“Ek ken nie een van daardie vroue nie.”
“Ragab was ’n prostituut. Rut het op ’n openbare dorsvloer by die voete
van ’n man geslaap met wie sy nie getroud was nie. Batseba was ’n
egbreker. Toe sy uitvind sy is swanger, het haar minnaar beplan om haar
man te vermoor. En Maria het swanger geraak by Iemand anders as die man
aan wie sy verloof was.”
Angel staar hom verstom aan. “Ek het nie geweet jy maak ’n gewoonte
daarvan om jou met vinnige vroue op te hou nie.”
Michael grinnik. “Dié vroue word in die geslagregister van Christus
genoem. In die begin van die boek Matteus.”
“O,” sê sy saggies en gee hom ’n seergemaakte kyk. “Jy dink jy kan my
lekker in ’n hoek dryf, nè? Wel, sê vir my iets. As al daardie snert waar is,
hoekom het die priester nie met my ma gepraat nie? Dit klink asof sy baie
goed by sulke verhewe geselskap sou inpas.”
“Ek weet nie, Amanda. Priesters is ook maar net mense. Hulle is nie God
nie. Hulle het hul eie persoonlike vooroordele en foute net soos ons almal.”
Hy klap die leisels liggies op die perde se rûe. “Ek is jammer oor jou ma,
maar ek is bekommerd oor jou.”
“Hoekom? Is jy bang ek sal reguit hel toe gaan as jy nie my siel red
nie?”
Sy spot nou met hom. “Ek dink jy het al ’n goeie voorsmaak daarvan
gehad.” Hy klap weer die leisels. “Ek is nie van plan om vir jou te preek
nie, maar ek is ook nie van plan om dit waarin ek glo, op te gee nie. Nie om
jou gemaklik te laat voel nie. Nie vir enigiets nie.”
Haar vingers verstewig om die kant. “Ek het nie gevra dat jy dit moet
doen nie.”
“Nie direk nie, maar daar word ’n sekere mate van druk op ’n man
geplaas wanneer sy vrou buite op ’n wa sit en wag.”
“En wat van as ’n man sy vrou by die kerk insleep?”
Hy kyk skrams na haar. “Jy het seker ’n punt beet. Ek is jammer.”
Sy kyk voor haar uit en byt op haar lip. Sy blaas haar asem ruk-ruk uit en
sê: “Ek kon nie binne bly nie, Michael. Ek kón net nie.”
“Miskien nie hierdie keer nie.”
“Nooit nie.”
“Hoekom nie?”
“Hoekom moet ek saam met dieselfde kinders sit wat my aaklige name
genoem het? Hulle is almal dieselfde. Maak nie saak of dit New York se
dokke is of ’n modderige bergomgewing in Kalifornië nie.”
Sy gee ’n doodse laggie. “Daar was ’n seuntjie wie se pa dikwels na
Mamma toe gekom het. Hy het my en Mamma gereeld allerhande aaklige
name genoem. Toe vertel ek hom waar sy pa Woensdagmiddae kuier. Hy
het my natuurlik nie geglo nie, en Mamma het gesê ek het ’n baie wrede
ding aan hom gedoen. Ek kon nie sien hoe die waarheid dinge erger kon
maak as wat dit was nie, maar ’n paar dae later – ek vermoed uit pure
nuuskierigheid – het hy sy pa agtervolg en self gesien dis waar. Ek het
gedink dit is ’n goeie ding, nou weet hy en hy sal my en Mamma uitlos.
Maar nee. Daarna het hy my geháát. Hy en sy gawe klein maatjies het aan
die einde van ’n stegie gewag, en wanneer ek vir Mamma mark toe moes
gaan, het hulle vuilgoed op my gegooi. En elke Sondagoggend het ek hulle
gesien, skoon geskrop en uitgevat by hul mammas en pappas.” Sy kyk op
na Michael. “Die priester het met húlle gepraat. Nee, Michael. Ek sal nie na
’n kerk toe gaan nie. Nooit nie.”
Michael vat weer haar hand. “God het niks daarmee te doen gehad nie.”
Haar oë voel vreemd warm en krapperig. “Hy het dit ook nie gekeer nie,
nie waar nie? Waar is die genade waarvan jy altyd lees? Ek het nooit gesien
dat my ma enige genade ontvang nie.” Hierna is Michael vir ’n lang ruk
doodstil.
“Het enigiemand al ooit iets moois vir jou gesê?”
Haar mond vertrek in ’n halwe glimlaggie. “Baie mans het gesê ek is
mooi. Hulle het gesê hulle wag net vir my om groot te word.” Haar ken
begin bewe, en sy kyk weg.
Haar hand is yskoud in syne. Hoe sy ook al daarteen baklei, hy kan haar
pyn aanvoel. “Wat sien jy wanneer jy in die spieël kyk, Amanda?”
Sy sê vir ’n lang ruk niks. Toe sy antwoord, praat sy so sag dat hy amper
nie kan hoor nie. “My ma.”
Hulle hou by ’n stroom stil. Terwyl Michael die perde uitspan, gooi Angel
die kombers oop en maak die mandjie oop. Joseph se kok het vir hulle
brood, kaas, ’n bottel appelwyn en droëvrugte ingepak. Toe Michael klaar
geëet het, staan hy op met sy arm op ’n tak wat oorhang. Dit lyk nie asof hy
haastig is om die perde in te span en weer te ry nie.
Angel kyk na hom. Sy blou wolhemp span styf om sy skouers, en sy
middellyf is skraal en gespierd. Sy onthou hoe beïndruk Torie met hom was
en begin dit insien. Sy hou daarvan om na hom te kyk. Hy is sterk en mooi
sonder dat hy ’n bedreiging inhou. Hy kyk na haar, maar sy kyk weg en
maak asof sy besig is om die piekniekgoed terug in die mandjie te pak.
Michael druk sy hande in sy broeksakke en leun terug teen die reuse
boomstomp. “Ek is ook al aaklige name genoem, Amanda. Meestal deur my
eie pa.”
Sy kyk weer op na hom. “Jou pá?”
Hy kyk uit oor die rivier. “My familie het die grootste plantasie in die
omgewing gehad. Die grond was my oupa s’n. Ons het slawe gehad. Dit het
my nie baie gepla toe ek ’n klein seuntjie was nie. Dit was net soos wat
dinge daardie tyd gedoen is. My ma het my vertel dat hulle ons mense is en
dat ons vir hulle moet sorg. Toe ek tien was, het ons ’n slegte jaar gehad, en
my pa het van die slawe verkoop. Toe hulle weggevat is, het een van ons
huisslawe verdwyn. Ek kan nie eens haar naam onthou nie. My pa het na
haar gaan soek. Toe hy terugkom, het hy twee liggame oor ’n perd
vasgemaak gehad: hare en een van die slawe wat hy verkoop het. Hy het die
liggame voor die slawehuis afgegooi en hulle vasgebind sodat die slawe
hulle moes sien elke keer wanneer hulle lande toe gaan. Dit was aaklig om
te sien. Hy het die honde op hulle gesit.”
Hy lê met sy kop teen die yslike ou eikeboom. “Ek het hom gevra
hoekom hy dit gedoen het. Hy het gesê dis om ’n voorbeeld van hulle te
maak.”
Sy het hom nog nooit so bleek gesien nie, en ’n nuwe emosie wel in haar
op. Sy wil na hom toe gaan en haar arms om hom sit. “Het jou ma ook soos
jou pa gevoel?”
“My ma was baie hartseer, maar sy het nooit ’n woord teen my pa gesê
nie. Ek het vir hom gesê die eerste ding wat ek ná sy dood sal doen, is om
die slawe vry te stel. Dit was my eerste pak slae. Hy het gesê as ek dan so
besorg oor hulle is, kan ek vir ’n rukkie by hulle gaan bly.”
“En het jy toe?”
“Vir ’n maand lank. Toe het hy my beveel om terug te kom huis toe.
Teen daardie tyd het my hele lewe verander. Ou Esra het my na die Here
gelei. Tot daardie tyd was God bloot ’n Sondagoggendritueel wat my ma in
die sitkamer uitgevoer het. Esra het my gewys hoe wérklik God is. My pa
sou hom verkoop het as hy nie so oud was nie. In plaas daarvan het hy hom
laat gaan. Dit was ’n erger lot. Die ou man het geen heenkome gehad nie, so
hy het in die moeras gaan woon. Ek het so gereeld as wat ek kon na hom
toe gegaan en vir hom gevat wat ek kon.”
“En jou pa?”
“Hy het ander maniere probeer om my van plan te laat verander.” Sy
mond trek skeef. “Hy wou hê ek moet die volle voorregte van eienaarskap
ervaar.” Hy kyk na haar. “’n Pragtige jong slawemeisie van my eie wat ek
kon gebruik net soos ek wou. Ek het gesê sy moet gaan, maar sy wou nie.
My pa het haar opdrag gegee om te bly. Toe het ek maar weggegaan.” Hy
lag saggies en skud sy kop. “Ek is nie heeltemal eerlik nie. Ek het eintlik
gevlug. Ek was vyftien, en sy was ’n groter versoeking as wat ek kon
weerstaan.”
Michael kom nader en sak op sy hurke voor haar. “Amanda, my pa was
nie nét sleg nie. Ek wil nie hê jy moet dit van hom dink nie. Hy het die
grond liefgehad, en hy het goed na sy mense omgesien. Behalwe vir daardie
een keer, het hy sy slawe ordentlik behandel. Hy het my ma en my broers en
susters liefgehad. En hy het my liefgehad. Hy wou net hê alles moet op sý
manier gedoen word. En daar was van die begin af iets anders omtrent my
... Ek het net nie in die boksie gepas nie. Ek het geweet dat ek eendag my
eie paadjie sal moet inslaan, maar dit het my ’n lang ruk gevat voor ek die
moed bymekaar kon skraap om almal wat ek liefhet agter te laat, veral
omdat ek nie geweet het waarheen ek kan gaan nie.”
Sy kyk hom in die oë. “Dink jy ooit daaraan om terug te gaan?”
“Nee.” Daar is geen twyfel in sy oë nie.
“Jy moes hom gehaat het.”
Hy kyk ernstig na haar. “Nee, ek het hom liefgehad, en ek is dankbaar
dat hy my pa was.”
“Dankbaar? Hy het jou soos ’n slaaf behandel, jou erfporsie, jou familie,
alles van jou weggevat. En jy is dankbaar?”
“As dit nie alles gebeur het nie, het ek dalk nooit die Here leer ken nie.
En uiteindelik het my pa dalk meer rede gehad om mý te haat,” sê Michael.
“Toe ek weggaan, het Paul en Tessie saam met my gekom. Tessie was my
pa se oogappel. Sy was sy spesiale kind. En nou is sy dood.”
Angel sien die trane in sy oë. Hy probeer dit nie eens wegsteek nie.
“Sy sou van jou gehou het,” sê hy, steek sy hand uit en raak aan haar
wang. “Sy kon mense se binnekant raaksien.” Sonder om te dink, sit Angel
haar hand oor syne, diep geroer deur sy hartseer. Sy glimlag laat haar hart
bokspring. “O, geliefde,” sê hy. “Jou mure begin val.”
Sy vat haar hand weg. “Josua wat sy ramshoring blaas.”
Hy lag. “Ek het jou lief,” sê hy. “Ek het jou verskriklik lief.” Hy neem
haar in sy arms en lê saam met haar op die gras. Hy rol tot bo-op haar en
soen haar eers liggies, dan met meer passie. Sy voel hoe iets in haar wakker
gemaak word, ’n sagte, warm gevoel op haar maag. Sy voel nie bedreig óf
gebruik nie. Toe hy effens wegskram, sien sy die uitdrukking in sy oë.
“Ek vergeet partykeer wat dit is waarvoor ek wag,” sê hy skor. Hy staan
op en trek haar saam met hom op. “Kom, ek sal die perde inspan.”
Angel is verbaas, maar sy vou die kombers op en sit die mandjie terug
onder die sitplek. Sy leun met haar arms op die kant van die wa en kyk na
Michael terwyl hy die perde terugbring. Daar is krag in sy bewegings.
Terwyl hy die perde inspan, kan sy nie help om sy sterk skouers en hande
raak te sien nie. Hy staan regop en draai na haar. Hy tel haar op die hoë
sitplek en klim langs haar op. Toe hy die leisels optel, glimlag hy vir haar,
en sonder om ’n oomblik te huiwer, glimlag sy terug.
Hulle is nog op pad toe dit begin reën. Michael hou stil om die seil oor te
sit terwyl sy haar in die kombers toevou. Toe hy weer langs haar sit, draai
hy ’n tweede kombers om hulle albei. Sy voel heerlik warm langs hom.
Vyf myl verder sien hulle ’n gebreekte tentwa. ’n Verslonsde man en
vrou probeer dit hoog genoeg optel om ’n reggemaakte wiel aan te sit. Nie
ver van hulle af nie, onder die skuiling van ’n akkerboom, sit ’n
donkerkopmeisie en vier klein kindertjies.
Michael trek van die pad af. “Gaan haal die kinders en laat hulle agterop
die wa sit,” sê hy vir Angel terwyl hy afklim. Sy gaan haal hulle. Die oudste
meisie lyk net ’n paar jonger as sy. Haar donker hare is teen ’n bleek gesig
vasgepleister. Sy het groot bruin oë en is pragtig toe sy glimlag.
“Julle sal droër wees as julle agterop ons wa kom sit,” sê Angel. “Ons
het nog ’n kombers.”
“Dankie, mevrou,” sê die meisie en aanvaar dadelik die uitnodiging. Sy
jaag die kinders aan na die wa. Angel klim verskrik saam met hulle agterop
die wa. Sy gee vir die meisie ’n kombers aan, wat sy om haar skouers gooi.
Sy trek die vier kleintjies nader en neem hulle soos ’n moederhen onder
haar vlerk.
Sy glimlag vir Angel. “Ons is die Altmans. Ek is Miriam. Dis Jacob ... ”
Sy kyk na die grootste seuntjie wie se oë en hare net soos hare lyk. “Hy is
tien. En Andrew ... ”
“Ek is agt!” sê hy somber.
Miriam glimlag weer. “Dis Leah,” sê sy, trek die groter meisietjie nader
en soen die kleinste enetjie, “en Ruth.”
Angel kyk na die koue, nat groepie wat saamgekloek onder een kombers
sit. “Hosea,” sê sy selfbewus. “Ek is ... mevrou Hosea.”
“Dank die Vader julle het op ons afgekom. Pappa het verskriklik met
daardie wiel gesukkel, en Mamma is só uitgeput.” Sy haal die kombers van
haarself af en gooi dit oor die vier kleintjies. “Sal jy na die kinders kyk,
mevrou Hosea? Mamma is al vir die laaste driehonderd myl siek. Sy
moenie daar buite in die reën wees nie.”
Voor Angel iets kan sê, spring sy van die wa af. Angel kyk na die
kinders, en hulle bekyk haar met groot, nuuskierige oë. ’n Rukkie later kom
Miriam terug met haar ma. Sy is ’n vermoeide donkerkopvrou met
hangskouers en donker kringe om haar oë. Die kinders drom beskermend
om haar saam.
“Mamma,” sê Miriam met haar arm om die vrou, “dis mevrou Hosea.
Dis my ma.”
Die vrou glimlag warm en knik. “Elizabeth,” sê sy met ’n glimlag. “God
seën jou, mevrou Hosea.” Die trane wel in haar moeë oë op, maar sy huil
nie. “Ek weet nie wat ons sou doen as jy en jou man nie hier aangekom het
nie.” Sy sit haar arms om haar vier klein kindertjies terwyl Miriam uitloer
om te sien of die mans hulp nodig het. “Alles gaan regkom. Pappa en
meneer Hosea is besig om die wa reg te maak. Ons sal nou-nou weer op pad
wees.”
“Moet ons regtig Oregon toe gaan?” vra Leah met ’n neulstemmetjie.
Pyn skiet oor die vrou se gesig. “Moenie nou daaraan dink nie, my
hartjie. Laat ons een dag op ’n slag aanvat.”
Angel grawe in die mandjie. “Is julle honger? Ons het brood en ’n bietjie
kaas.”
“Kaas!” sê Leah en haar gesiggie helder op, die lang pad na Oregon vir
eers vergete. “ Ja, asseblief.”
Elizabeth kan die trane nie langer keer nie. Sy begin huil. Miriam vryf
haar rug en praat sag met haar. Angel is verbouereerd en weet nie wat om te
sê of te doen nie. Sy kyk nie na die huilende vrou nie en sny skywe kaas vir
die kleiner kinders. Elizabeth hoes weer en hou op huil. “Ek is só jammer,”
fluister sy. “Ek weet nie wat my makeer nie.”
“Mamma is moeg,” sê Miriam. “Dis die koors,” sê sy vir Angel. “Sy het
geen krag sedert sy die koors het nie.”
Angel hou ’n stuk kaas en brood na haar toe uit. Elizabeth raak liefdevol
aan haar hand voor sy dit vat. Klein Ruth spring van haar ma se skoot af en
kom staan voor haar. Angel voel ontstig en dan verras toe die kind haar
hand uitsteek en aan die goue vlegsel raak wat oor haar skouer gegly het en
tot in haar middel hang. “Engel, Mamma?” Angel voel hoe haar gesig warm
word.
Elizabeth glimlag deur haar trane. Haar sagte laggie is vol plesier. “Ja,
hartjie. ’n Genadige engel.”
Angel kan nie na hulle kyk nie. Wat sal Elizabeth Altman sê as sy die
waarheid moet weet? Sy staan op en gaan na die agterkant van die wa om
uit te kyk. Michael het die Altmans se wa opgelig, en die mans is besig om
die wiel aan te sit. Sy wil uit die wa klim, maar dit reën nou kliphard.
Michael sal haar net terugstuur. Elke spier in haar liggaam is gespanne toe
sy terugkyk na waar Elizabeth met haar bewonderende kinders om haar sit.
Miriam vat haar hand en sy skrik. “Hulle sal dit nou-nou reg hê,” sê sy.
Haar oë flikker van verbasing en skaamte toe Angel haar hand vinnig
wegruk.
Meneer Altman kom na die wa, die reën stroom van sy hoed af.
“Is alles reg, John?” vra Elizabeth.
“Dit sal vir ’n tydjie hou.” Hy lig sy hoed se rand vir Angel toe Elizabeth
hulle aan mekaar voorstel. “Ons is jou en jou man baie dank verskuldig,
mevrou. Ek was omtrent heeltemal gedaan toe jou man kom hand bysit
het.” Hy kyk weer na sy vrou. “Meneer Hosea het ons genooi om by sy plek
te oorwinter. Ek het ja gesê. Ons sal in die lente weer Oregon toe gaan.”
“O,” sê Elizabeth, en die verligting is duidelik op haar gesig te sien.
Angel se mond val oop. By Michael oorwinter? Nege mense in ’n hut
van vyftien by vyftien voet? Elizabeth raak aan haar en sy skrik. Sy sit
totaal verstom terwyl die vrou haar bedank voordat haar man haar van die
wa aftel. Die kleintjies klim ook af, en dan Miriam, wat haar aan die skouer
vat en ’n vriendelike, opgewonde glimlag gee. Angel byt op haar tande en
sit op ’n hopie in haar kombers agterop die wa. Sy wonder wat Michael
dink hy met al hierdie mense gaan maak. Hy klim op sy sitplek. Hy is
sopnat, en Angel gee vir hom ’n kombers aan toe hulle weer begin ry.
“Hulle kan die hut gebruik,” sê hy.
“Dit hut! En waar moet ons slaap?”
“In die skuur. Ons sal heel gerieflik en warm wees daar.”
“Hoekom slaap húlle nie in die skuur nie? Jý het die hut gebou.” Sy hou
niks van die idee om op enige ander plek te slaap as in daardie heerlike bed
naby die vuur nie.
“Hulle het nege maande laas in ’n huis geslaap en daardie vrou is siek.”
Hy knik sy kop. “Ek het ’n bietjie gedink. Daar is ’n goeie stuk grond net
langs Paul s’n. Miskien kan ek die Altmans ompraat om te bly. Dit sal goed
wees om nog ’n familie in die vallei te hê.” Hy loer glimlaggend na haar.
“Dit sal vir jou lekker wees met ’n paar vriendinne naby jou.”
Vriendinne? “En wat dink jy het ons gemeen?”
“Hoekom wag ons nie en sien nie?”
Hulle oornag langs ’n granietrif wat vir hulle beskutting bied teen die
reën. Michael en John span die perde uit en slaan ’n tent op, terwyl Angel,
Elizabeth en Miriam kamp opslaan. Die kinders maak genoeg hout
bymekaar vir die nag en bring van die hout vir Miriam waar sy en die ander
in die tent sit. Sy maak ’n klein flappie in die dak oop. “Ek het dit by die
Indiane geleer,” sê sy terwyl sy ’n vuur in ’n wasskottel binne-in die tent
pak. Snaaks genoeg trek die rook op en by die flappie uit.
Elizabeth lyk so moeg dat Angel daarop aandring dat sy gaan lê. Michael
bring van hul voorrade in, en maak vir hulle ’n ete. Elizabeth is steeds
wakker en hou haar stilletjies dop. Angel kyk bekommerd na haar en
wonder wat sy dink.
“Ek voel so nutteloos,” sê Elizabet bewend, en Miriam buk af om haar
gesig saggies te vryf.
“Nooit, Mamma. Ons kom reg. Rus Mamma nou.” Sy lag ondeund.
“Sodra Mamma beter is, kan Mamma weer alles alleen doen.” Haar ma
glimlag oor die vriendelike tergery. “Ek sal swaarder stukke hout gaan
haal,” sê Miriam en stap buitentoe. Sy kom terug met ’n groot stomp en pak
dit saam met die kleiner brandhoutjies op. “Dit reën darem ’n bietjie
minder.”
Elizabeth stoot haarself regop. “Waar is die seuns?”
“By Pappa. Leah en Ruth sal net hier bly. Moet Mamma oor niks
bekommer nie. Lê nou weer, Mamma.” Sy kyk na Angel. “Sy is altyd
bekommerd oor die Indiane,” fluister sy. “’n Klein seuntjie het van die
waens afgedwaal omtrent honderd myl van Fort Laramie af. Daar was geen
teken van hom nie. Mamma is van daardie tyd af doodbenoud dat een van
ons ontvoer sal word.” Sy kyk vlugtig om na haar ma waar sy op die
strooibed lê. “Sy sal beter voel noudat sy kan rus.”
Miriam maak haar hande by die vuur warm en glimlag vir Angel. “Wat
dit ook al is wat jy kook, dit ruik baie lekker.” Angel hou aan roer sonder
om iets te sê. “Hoe lank bly jy al in Kalifornië?”
“’n Jaar.”
“O, dan het jy nie met Michael getrou voordat jy hierheen gekom het nie.
Hy sê hy het in ’48 hier aangekom. Het jy oor land gekom?”
“Nee. Per skip.”
“Is jou familie in die vallei wat Michael aan my pa beskryf het?”
Angel het gewéét die vrae gaan kom en dat leuens haar maag net nóg
meer op ’n knop gaan laat trek. Hoekom dit nie oor en verby kry sodat die
meisie haar kan uitlos nie? As hulle almal die waarheid weet, sal hulle
miskien iewers anders gaan oorwinter. Daardie vrou sal tog beslis nie in
dieselfde bed wil slaap waarin ’n prostituut geslaap het nie. “Ek het alleen
Kalifornië toe gekom. Ek het Michael in ’n bordeel in Pair-a-Dice
ontmoet.”
Miriam lag. Maar toe sy sien Angel bedoel wat sy gesê het, raak sy stil.
“Jy is ernstig, nie waar nie?”
“Ja.” Elizabeth kyk na haar met ’n onleesbare uitdrukking op haar gesig.
Angel kyk af en hou aan roer.
Miriam sê vir ’n lang tyd niks, en Elizabeth maak weer haar oë toe. “Dit
was nie nodig dat jy dit vir my moes vertel nie,” sê Miriam uiteindelik.
“Hoekom het jy nie stilgebly nie?”
“Sodat julle nie enige onaangename verrassings op pad moet kry nie,” sê
Angel bitter, haar keel dik.
“Nee,” sê Miriam. “Ek het weer my neus in dinge gesteek wat niks met
my uit te waai het nie. Dis hoekom Mamma sê dis een van my swak punte.
Ek wil altyd alles van ander mense se sake weet. Ek is jammer.”
Angel hou aan roer, ontsteld deur die meisie se verskoning.
“Ek sal graag met jou wil vriende wees,” sê Miriam.
Angel kyk verras op. “Hoekom sal jy met my wil vriende wees?”
Miriam lyk verbaas. “Omdat ek van jou hou.”
Angel staar haar verbaas aan. Sy kyk skrams na Elizabeth. Die vrou hou
hulle met ’n moeë glimlag dop. Angel bloos, kyk na die meisie en sê
saggies: “Jy weet nie veel van my af behalwe wat ek jou nou net vertel het
nie.” Sy wens nou sy het eerder niks gesê nie.
“Ek weet jy is eerlik,” sê Miriam met ’n hartseer laggie. “Skrikwekkend
eerlik,” voeg sy op ’n ernstiger noot by. ’n Peinsende blik verskyn in haar
oë terwyl sy Angel bekyk.
Die seuns kom in, en saam met hulle ’n stroom koue lug. Die meisies
word wakker en Ruth begin huil. Elizabeth sit regop en hou haar styf vas en
sê vir die seuns om sagter te praat. John kom in en maak hulle met een
woord stil. Angel sien Michael net agter hom. Toe hy vir haar glimlag, kan
sy voel hoe die verligting deur haar spoel. Sy bekommer haar dadelik oor
wat hy sal sê wanneer hy uitvind sy het die waarheid vir hulle vertel.
Die mans trek hul nat jasse uit en gaan sit by die vuur terwyl sy boontjies
in die bakkies skep wat Miriam vir hulle uitdeel. Toe almal hul kos het, buig
John sy hoof en sy familie volg sy voorbeeld. “Here, dankie dat U ons
vandag gered en vir Michael en Amanda Hosea na ons toe gestuur het.
Waak oor ons verlore geliefdes, David en Moeder. Gee asseblief vir
Elizabeth nuwe krag. Hou ons gesond en sterk vir die reis wat voorlê.
Amen.”
John vra vrae oor grond, gewasse en die Kaliforniese mark terwyl Jacob
en Andrew vra of hulle nog ’n skeppie boontjies en broodjies kan kry.
Angel wonder wanneer Michael gaan gereed wees om terug te gaan na hul
wa toe. Sy kan voel hoe Miriam haar dophou. Sy wil nie weet watter vrae
die meisie nou het noudat sy ’n bietjie tyd gehad het om oor alles te dink
nie.
“Die reën het opgehou, Pappa,” sê Andrew.
“Moet ons nie nou na ons eie wa toe gaan nie?” fluister Angel vir
Michael.
“Bly hier by ons,” sê John. “Hier is genoeg plek. Met die vuur hier is dit
beslis warmer as wat dit op jul wa sal wees.”
Michael aanvaar die uitnodiging, en Angel se hart sak tot in haar skoene
toe hy uitstap om hul komberse te gaan haal. Sy verskoon haarself vinnig en
gaan agter hom aan. “Michael,” sê sy en soek na die regte woorde om hom
te probeer oortuig dat hulle in die wa moet slaap en nie in die tent by die
Altmans nie. Hy steek sy arms uit, trek haar nader en gee haar ’n soen. Toe
draai hy haar rug op die tent en fluister in haar oor: “Die een of ander tyd
moet jy leer dat daar mense in die wêreld is wat jou nie wil gebruik nie. Toe
nou, skraap jou moed bymekaar, gaan terug tent toe en leer ken ’n paar van
hulle.”
Sy trek haar tjalie styf om haar en gaan weer by die tent in. Miriam
glimlag vir haar. Angel gaan sit selfbewus langs die vuur. Sy kyk na
niemand terwyl sy vir Michael wag om terug te kom nie. Die twee seuns
smeek hul pa om vir hulle uit Robinson Crusoe voor te lees. John haal ’n
verweerde leerbundel uit ’n sak en begin lees terwyl Miriam die beddegoed
regsit. Klein Ruth, nog met haar duim in haar mond, sleep haar kombers
van waar dit neergesit is en kom sit dit langs Angel neer. “Ek wil hier
slaap.”
Miriam lag. “Wel, dan beter jy vir meneer Hosea vra, Ruthie. Hy wil
dalk ook daar slaap.”
“Hy kan aan haar ander kant slaap,” sê Ruthie, nie van plan om plekke te
ruil nie.
Miriam kom nader met twee komberse en gee die een vir Angel. Sy buk
af en fluister: “Sien jy? Sy hou ook van jou.”
Angel se maag ruk, en sy kyk om haar rond na hulle. Michael kom in
met nog komberse. “Daar is ’n storm op pad. As ons gelukkig is, sal dit teen
die oggend oor wees.”
Terwyl die ander slaap, lê Angel wawyd wakker langs Michael. Die
wind huil, en die reën stort op die tent neer. Die klank van die reën en die
reuk van die nat seil herinner Angel aan haar eerste weke in Pair-a-Dice.
Waar is Duchess? En Meggie en Rebecca? Wat het van hulle geword? Sy
probeer om nie te dink aan hoe Lucky in die brand dood is nie. Sy onthou
die hele tyd hoe Lucky gesê het: “Moet my nie vergeet nie, Angel. Moet my
nie vergeet nie.”
Angel kan nie een van hulle vergeet nie.
Toe die reën ophou, luister Angel na die asemhaling van die slapendes
om haar. Sy draai stadig op haar sy en kyk na hulle. John Altman lê langs sy
maer vrou met sy arm beskermend om haar lyf. Die seuns slaap naby hulle.
Een lê uitgestrek op sy rug, die ander op sy sy opgekrul met die kombers
bo-oor sy kop. Miriam en Leah lê styf teen mekaar, met Miriam se arm om
haar suster gevou.
Angel se oë kom tot rus op Miriam se slapende gesig. Hierdie meisie is
iets nuuts.
Angel het nog nooit baie goeie meisies geken nie. Dié op die dokke is
deur hul ma’s gewaarsku om weg te bly van haar. Sally het eenkeer gesê
goeie meisies is oninteressant en krities en dis hoekom, wanneer hulle
grootword en trou, hul mans bordele besoek. Miriam is nie oninteressant of
krities nie. Sy het die hele aand vriendelik met haar pa gespot terwyl sy haar
siek ma versorg het. Dis duidelik dat haar broers en susters dol is oor haar.
Net Jacob was rebels toe sy hom gevra het om iets te doen, maar een kyk
van sy pa het hom reggesien. Toe dit tyd was vir die kinders om te gaan
slaap, was dit Miriam wat hulle toegemaak en saggies saam met hulle gebid
het terwyl die mans gesels.
“Ek sal graag met jou wil vriende wees.”
Angel maak haar oë toe. Haar kop pyn. Waaroor sal sy en Miriam kan
gesels? Sy het geen idee nie, maar dit lyk asof dit wel gaan gebeur. Die
mans het klaar ’n gemaklike verstandhouding opgebou. Albei het ’n liefde
vir die grond. John Altman praat van Oregon asof dit ’n begeerlike vrou is,
en Michael praat met dieselfde geesdrif van die vallei. “Pappa,” het Miriam
kamma vies gesê, “Pappa was oortuig Kalifornië is die paradys totdat ons
uit die Sierras gekom het.”
Hy het sy kop geskud. “Daar is meer mense hier as in Ohio. Die hele
streek wemel van fortuinsoekers.”
“Al daardie goeie seuns uit goeie huise,” het Miriam gesê en ’n kuiltjie
het in haar wang gewys. “Miskien selfs ’n paar van Ohio.”
“Wat wild geraak het,” het John Altman kwaai opgemerk.
Miriam het hom in die ribbes gepomp. “As Pappa nie so baie van ons
gehad het om na om te sien nie, sou Pappa ook iewers in ’n stroom goud
gesoek het. Ek het die glinstering van gierigheid in Pappa se oë gesien toe
daardie man Pappa vertel het van sy goeie vonds.” Sy het Michael en Angel
ook by die gesprek betrek. “Die man besit nou ’n groot winkel met goed
wat tot teen die dak opgestapel is. Hy sê hy het in Kalifornië aangekom met
basies net sy skopgraaf en die klere aan sy lyf.”
“Een kans uit ’n miljoen,” het John gegrom.
“O, maar dink net, Pappa,” het Miriam dramaties voortgegaan met haar
hand op haar hart en ’n vonkel in haar oë. “Pappa en die seuns kan goud
was terwyl ek en Mamma ’n klein kafeetjie in die kamp beman waar ons al
die arme, dierbare, verdrukte, aantreklike jong mans bedien.” Michael het
gelag en John het sy dogter se vlegsel getrek.
Die Altmans fassineer Angel. Hulle hou almal van mekaar. Dis duidelik
dat John Altman in beheer is en geen oneerbiedigheid of rebelsheid sal duld
nie. Maar dis ook duidelik dat sy vrou en kinders hom nie vrees nie. Selfs
Jacob se kortstondige rebelsheid is goed hanteer. “As jy nie luister nie, gaan
daar met streng dissipline opgetree word,” het sy pa gesê. “Ek sal die
dissipline verskaf en jy die agterstewe.” Die seun het ingegee, en John het
sy hare liefdevol deurmekaar gevryf.
Wat as hulle wel besluit om in die vallei te bly? Angel vryf haar
kloppende slape. Wat het sy met hulle gemeen? Veral ’n jong grootoog
maagd? Toe sy haar vorige beroep en hoe sy en Michael ontmoet het,
uitgeblaker het, het sy verwag dat die meisie geskok sou wees en haar sou
uitlos. Die heel laaste ding wat sy verwag het, was daardie blik vol vraende
besorgheid en die aanbod van vriendskap.
Angel voel iets langs haar roer en maak haar oë oop ten spyte van haar
kloppende kop. Klein Ruthie kruip in haar slaap teen haar aan op soek na
warmte. Haar duim het uit haar mond geglip. Angel raak aan die gladde
pienk wangetjie – en skielik swem Duke se woedende gesig voor haar oë.
Sy voel weer die klap deur haar gesig. “Ek het gesê jy moet voorsorg tref!”
Sy kan voel hoe hy haar aan die hare beetkry en haar van die bed af regop
ruk sodat sy gesig teenaan hare is. “Die eerste keer was maklik,” het hy
deur saamgeklemde lippe gesê. “Hierdie keer gaan ek seker maak dat jy
nooit weer swanger raak nie.”
Toe die dokter kom, het sy geskop en baklei, maar verniet. Duke en nog
’n man het haar op die bed vasgemaak. “Doen dit,” het Duke die dokter
beveel en bygestaan om seker te maak hy doen dit wel. Toe sy begin skree,
het hulle ’n riem in haar mond gesit. Duke was nog steeds daar toe alles
verby is. Flou van die pyn en swak van die bloedverlies het sy geweier om
na hom te kyk.
“Jy sal binne ’n paar dae weer reg wees,” het hy gesê, maar sy het
gewéét sy sal nooit weer reg wees nie. Sy het hom die aakligste woorde
denkbaar toegesnou, maar hy het net geglimlag. “Dis hoe ek my Angel ken.
Geen trane nie. Net haat. Dit hou my warm, my skat. Weet jy dit nou nog
nie?” Hy het haar hard gesoen. “Ek sien jou weer wanneer jy beter voel.”
Hy het haar liggies op die wang getik en geloop.
Die donker herinnering pynig Angel terwyl sy na klein Ruth Altman
staar. Sy wil met alles in haar by die tent uitkom, maar is bang sy maak die
ander wakker as sy opstaan. Sy staar na die seildak en probeer om aan iets
anders te dink. Dit begin weer reën, en saam met die reën kom al haar ou
spoke.
“Kan jy nie slaap nie?” fluister Michael. Sy skud haar kop. “Draai op jou
sy.” Sy doen dit, en hy trek haar styf teen hom aan en vou sy lyf om hare.
Die kind verskuif en kruip dieper in die kombers in en druk haar lyfie teen
Angel se maag vas. “Jy het ’n maatjie,” fluister Michael. Angel sit haar arm
om Ruth en maak haar oë toe. Michael sit sy arm om hulle albei. “Miskien
sal ons eendag enetjie net soos sy hê,” sê hy teen haar oor.
Angel staar mismoedig na die vuur.
Negentien

Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.


Jesus, Matteus 19:19

Michael help die Altmans om hul gerieflik tuis te maak in die hut en tel sy
eie trommel op sy skouer. Angel stap saam met hom skuur toe sonder om
eens te probeer stry. Sy kan sien hy gaan by sy besluit bly. Wat op aarde
gaan hy uit hierdie situasie kry? Hoekom sal ’n mens soveel moeite vir
wildvreemdelinge doen?
Dit reën aanhoudend. Ná die eerste paar nagte begin Angel die geluide
van die uil in die dakbalke en die ligte geritsel van die muise in die hooi
gerusstellend vind. Michael hou haar warm. Partykeer verken hy haar lyf en
wek vreemde sensasies in haar op wat haar verwar. Wanneer sy eie begeerte
te groot raak, hou hy op en praat oor sy verlede en veral die ou slaaf vir wie
hy steeds lief is. In daardie stil, veilige oomblikke begin Angel, voor sy
weet waar sy is, hom vertel wat Sally haar geleer het.
Met sy kop op sy hand gestut, speel Michael met haar hare. “Dink jy sy
was oor alles reg, Amanda?”
“Seker nie volgens jóú reëls nie.”
“Volgens wie se reëls wil jy lewe?”
Sy dink voor sy antwoord. “My eie.”
Buite die grense van die skuur en Michael se beskermende arms word
Angel vriendelik deur Miriam lastig geval. Miriam ondermyn Angel se
vasberadenheid om afsydig te bly om elke hoek en draai. Miriam laat haar
lag. Sy is so jonk en vol onskuldige lawwigheid. Angel kan steeds nie
verstaan hoekom die meisie haar vriendin wil wees nie. Sy weet sy behoort
haar te keer, maar Miriam steur haar nie aan haar pogings om afsydig te
wees nie en hou aan om haar te terg en te vermaak.
Aangesien sy as kind nie ’n gesinslewe geken het nie, weet Angel nie
wat van haar verwag word wanneer sy en Michael saans saam met die
Altmans in die hut kuier nie. Sy sit stil en bekyk alles. Sy is vasgevang in
die respekvolle kameraadskap tussen John en Elizabeth Altman en hul vyf
kinders. John is ’n ernstige man wat min glimlag, maar dis duidelik dat hy
mal is oor sy kinders – en dat hy ’n baie spesiale sagte plek vir sy oudste
dogter het, ten spyte daarvan dat hulle gedurig stry.
Andrew met sy donker oë lyk baie soos sy pa en het ook dieselfde
gewoontetjies. Jacob is geselserig en bak graag poetse. Leah is ernstig en
skaam. Klein Ruth, openhartig en slim, is die hele gesin se oogappel. Om
die een of ander rede wat Angel glad nie kan verstaan nie, is die kind versot
op haar. Miskien is dit haar blonde hare wat klein Ruth so versot op haar
maak. Wat dit ook al is, elke keer wat sy en Michael inkom om by die gesin
te kuier, kom sit klein Ruth by haar voete.
Dit amuseer vir Miriam. “Hulle sê honde en kinders kan altyd aanvoel
wanneer iemand ’n sagte hart het. Dis nie iets waarmee ons kan stry nie, of
hoe?”
Vir ’n volle week nadat hulle ingetrek het, is Elizabeth nog te swak om
op te staan. Angel kook en hanteer die huishoudelike pligte, en Miriam
versorg haar ma en die kinders. Michael en John spit stompe uit in die veld.
Wanneer hulle vir aandete huis toe kom, sit John by sy vrou en hou haar
hand vas. Hy praat saggies met haar terwyl die kinders allerhande speletjies
speel.
Om John só te sien, herinner Angel aan al daardie weke wat Michael
haar versorg het nadat Magowan haar amper vermoor het. Sy onthou sy
liefdevolle versorging en verpleging. Hy het haar lelikste beledigings met
baie geduld verdra. Hy is in sy element by hierdie mense. Sý is die een wat
nie inpas nie.
Angel kan nie help om vergelykings te tref nie. Haar pa het haar al voor
haar geboorte so gehaat dat hy haar saam met vuilgoed wou laat weggooi.
Haar ma was so obsessief oor hom dat sy amper vergeet het sy het ’n kind.
Haar lewe saam met prostitute het Angel gewoond gemaak aan vroue wat
gedurig oor die vorm van hul liggame en veroudering bekommerd was. Sy
is gewoond aan vroue wat ’n groot ophef van hul hare en klere maak en net
so gemaklik oor seks praat as oor die weer.
Elizabeth en Miriam is vir haar nuut en fassinerend. Hulle is dol oor
mekaar. Hulle gebruik nie een lelike woord nie, is skoon en netjies sonder
om behep te wees met hul voorkoms. Hulle kan oor alles onder die son
praat, alles behálwe seks. Hoewel Elizabeth te swak is om te werk,
organiseer en reël sy Miriam en die kinders se dae. Op haar aandrang het
Andrew ’n hok gemaak om visse in die spruit te vang. Leah dra water aan.
Jacob trek onkruid uit in die groentetuin. Selfs klein Ruth help. Sy dek tafel
en pluk veldblomme. Miriam was, stryk en stop klere terwyl sy die
kleintjies oppas. Angel voel nutteloos.
Die oomblik toe Elizabeth op die been is, neem sy die leiding. Sy pak
haar Nederlandse bakoond en panne uit en neem die kookwerk oor. Die
Altmans het hul eie voorrade in Sacramento aangevul, en sy kook heerlike
etes van gebraaide gepekelde vark met sous, gebakte boontjies versoet met
melasse, mieliebrood en gekookde konyn met kluitjies. Sy maak
mieliebroodjies in ’n braaipannetjie terwyl sy twee eende op die spit braai.
Die meeste van die tyd maak sy suurdeegbroodjies vir ontbyt. As ’n
spesiale bederf bak sy appeltert.
Een aand toe sy die kos op die tafel sit, sug sy. “Ons sal eendag weer ’n
koei kry. Dan kan ons weer botter en melk hê.”
“Ons het ’n koei gehad toe ons by die huis weg is,” vertel Miriam vir
Angel, “maar die Indiane by Fort Laramie het net so baie van haar gehou.”
“Ek sal Pappa se horlosie verruil vir ’n lepel pruimkonfyt,” sê Jacob. Sy
ma lag en mik ’n speelse hou in sy rigting.
Ná aandete is dit die Altmans se gewoonte om huisgodsdiens te hou.
John vra gereeld vir Michael om uit die Bybel te lees. Die kinders is slim en
vol vrae. As God Adam en Eva gemaak het, hoekom het hy hulle dan laat
sonde doen? Wou God regtig hê hulle moet káál in Eden rondloop? Selfs in
die winter? As net Adam en Eva daar was, met wie het hulle kinders
getrou?
John sit met ’n glinstering in sy oë agteroor en rook sy pyp terwyl
Elizabeth die nimmereindigende vrae probeer beantwoord. Michael deel
ook sy siening van die saak. Hy vertel stories eerder as om vir hulle voor te
lees. “Jy sal ’n uitstekende predikant wees,” sê John. Angel wil protesteer,
maar besef dan hy bedoel dit as ’n kompliment.
Angel neem nooit deel aan die besprekings nie. Selfs wanneer Miriam
haar vra wat sy dink, haal sy net haar skouers op of gooi die vraag terug na
haar. Een aand kom klein Ruth sommer reguit na haar. “Glo jy nie in God
nie?”
Onseker hoe om te reageer, sê Angel: “My ma was ’n Katoliek.”
Andrew se mond val oop. “Broer Bartolomeus sê hulle aanbid afgode.”
Elizabeth bloos bloedrooi en John hoes. Andrew vra om verskoning.
“Dis nie nodig nie,” sê Angel. “Sover ek kan onthou, het my ma nie
afgode aanbid nie. Sy het wel baie gebid.” Nie dat dit haar enigsins gehelp
het nie.
“Waarvoor het sy gebid?” vra Ruth onstuitbaar.
“Verlossing.” Vasbeslote om nie deel van ’n geloofsbespreking te word
nie, tel Angel die materiaal op wat Michael vir haar nuwe klere gekoop het.
Daar is steeds ’n stilte in die hut wat Angel se vel laat prikkel.
“Wat beteken ve’lossing?” wil Ruth weet.
“Ek sal dit later verduidelik,” maak Elizabeth haar stil. “Maar nou moet
julle kinders eers ’n bietjie skoolwerk doen.” Sy staan op en gaan haal die
kinders se skoolboeke. Ná ’n rukkie kyk Angel op en sien Michael se
liefdevolle blik op haar. Haar hart fladder vreemd. Sy smag na die koel, stil
duisternis van die skuur waar niemand haar kan raaksien nie; selfs nie eens
hierdie man wat vir haar hopeloos te veel begin saak maak nie.
Sy kyk opnuut weer na die stuk lap op haar skoot. Hoe begin ’n mens?
Sy het nog nooit haar eie klere gemaak nie en het geen idee wat om te doen
nie. Sy kan nie ophou dink aan hoeveel geld Michael spandeer het nie en is
bang om te begin knip ingeval sy dit verwoes.
“Jy lyk mismoedig.” Miriam grinnik. “Hou jy nie van naaldwerk nie?”
Angel kan voel hoe haar wange rooi word. Sy voel verneder deur haar
eie onkunde en gebrek aan ondervinding. Natuurlik sal Elizabeth en Miriam
presies weet wat om te doen. Enige ordentlike meisie kan tog ’n bloes en
romp maak.
Miriam lyk skielik ongemaklik. Dis asof sy besef sy het die aandag op
iets gevestig wat sy eerder moes gelos het. Sy glimlag versigtig vir Angel.
“Ek is self nie mal daaroor nie. Mamma is die naaldwerkster in ons gesin.”
“Ek sal jou graag help,” bied Elizabeth uit vrye wil aan.
“Jy het al klaar jou hande vol,” sê Angel hees.
Miriam se gesig verhelder. “O, laat Mamma dit vir jou doen, Amanda.
Sy is mal oor naaldwerk en het nie die afgelope jaar veel gehad om mee te
werk nie.” Sonder om op ’n antwoord te wag, vat sy die materiaal by
Amanda en gee dit vir haar ma aan.
Elizabeth lag en lyk baie bly. “Gee jy om, Amanda?”
“Seker nie,” sê Angel. Sy skrik verbaas toe Ruthie op haar skoot klim en
gaan sit.
Miriam lag ondeund. “Sy byt net haar broers.”
Angel raak aan die donker, syerige hare en is bekoor. Klein Ruth is sag
en snoesig, met pienk wangetjies en helderbruin oë. Angel se hart is in rou
gedompel. Hoe sou háár kind gelyk het? Sy verjaag die aaklige herinnering
aan Duke en die dokter uit haar gedagtes en geniet Ruth se liefdevolle
teenwoordigheid. Die kind is ’n regte klein babbelbek. Angel luister en knik
haar kop. Sy kyk skrams op en vas in Michael se liefdevolle blik. Hy wil
graag kinders hê, dink sy en die gedagte laat haar maag ruk. Wat as hy moet
weet sy kan nie kinders hê nie? Sal sy liefde vir haar dan doodgaan? Sy kan
hom nie langer in die oë kyk nie.
“Pappa, wil Pappa nie vir ons viool speel nie?” vra Miriam. “Pappa het
so lanklaas gespeel.”
“Asseblief, Pappa,” smeek Jacob en Leah.
“Dis in die trommel weggepak,” sê hy met donker oë. Angel dink dis die
einde van die bespreking, maar Miriam hou aan.
“Nee, dit is nie. Ek het dit vanoggend uitgepak.” John gee sy dogter ’n
waarskuwende kyk, maar sy glimlag net. Sy gaan kniel langs hom en sit
haar hand op sy knie. “Asseblief, Pappa.” Haar stem is baie sagkens. “‘Elke
ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd.’ Onthou
Pappa? ‘’n Tyd om te huil, ’n tyd om te lag; ’n tyd om te treur, ’n tyd om
van blydskap te dans.’”
Elizabeth verstil waar sy by die tafel staan met die materiaal daarop
oopgevou. Toe John na haar kyk, is sy oë donker van die pyn. Haar eie is
vol trane. “Dis al lank verby, John. Ek is seker Amanda en Michael sal jou
graag wil hoor.”
Miriam knik vir Leah, wat die instrument en strykstok gaan haal en dit
na haar pa uithou. Ná ’n hele rukkie vat hy dit en sit dit op sy skoot neer.
“Ek het dit vanmiddag ingestel toe Pappa in die veld was,” erken Miriam
terwyl hy sy vingers oor die snare laat gly. Toe tel hy dit op, sit dit onder sy
ken en begin speel. Met die eerste note van die melodie vul Miriam se oë
met trane en sy begin sing met ’n hoë, suiwer stem. Toe hy klaar gespeel
het, sit hy die viool weer op sy skoot neer.
“Dit was pragtig,” sê hy, duidelik aangeraak. Hy vat aan sy dogter se
hare. “Vir David, h’m?”
“Ja, Pappa.”
Elizabeth lig haar kop op en die trane rol oor haar wange. “Ons seun,”
verduidelik sy vir Michael en Angel. “Hy was maar veertien toe ... ” Haar
stem breek en sy kyk weg.
“Hy was ’n alt,” sê Miriam. “Hy het ’n ongelooflike stem gehad. Hy het
opgewekte liedjies verkies, maar ‘Amazing Grace’ was sy gunsteling
gesang. Hy was só vol lewe en avontuurlustig.”
“Hy het naby Scotssbluff gesterf,” kry Elizabeth dit uit. “Sy perd het
hom afgegooi terwyl hy ’n buffel gejaag het. Hy het op sy kop geval.”
Vir ’n lang ruk is almal stil. “Ouma is by die Humboldtmoeras oorlede,”
sê Jacob uiteindelik en verbreek die stilte.
Elizabeth gaan stadig sit. “Ons was die enigste familie wat sy oorgehad
het. Toe ons besluit om weswaarts te trek, het sy saam met ons gekom. Sy
was nooit baie gesond nie.”
“Sy was nie spyt nie, Liza,” sê John.
“Ek weet, John.”
Angel wonder of Elizabeth spyt is. Miskien wou sy nooit getrek het nie.
Miskien was alles John se idee. Angel kyk van die een na die ander en
wonder of John dieselfde dink. Maar toe Elizabeth haar ewewig herwin het
en oor die hut na haar man kyk, is daar geen wrokkigheid in haar oë nie.
John lig weer die viool op en speel nog ’n gesang. Dié keer sing Michael
saam. Sy ryk, diep stem vul die hut, en die kinders hang aan sy lippe.
“Nou toe nou!” sê Elizabeth en glimlag tevrede. “Die Here het jou
omtrent geseën, meneer Hosea.”
Toe John en sy seuns alles gesing het wat hulle ken, vertel Michael hulle
van Esra en die slawe wat in die katoenlande gesing het. Hy sing een liedjie
wat hy kan onthou. Dit is droewig en diep. “Swing low, sweet chariot,
comin’ for to carry me home ... ” Michael se stem is soos ’n dolk in Angel
se hart.
Angel is gespanne toe sy en Michael uiteindelik terug is in die skuur. Die
wat-asse maal in haar kop. Wat as Mamma met ’n man soos John Altman
getrou het? Wat as sy self in so ’n gesin grootgeword het? Wat as sy heel en
rein na Michael toe gekom het?
Maar dit het nie so gebeur nie, en wensdenkery gaan haar niks help nie.
“Jy sou goed gevaar het in die Silver Dollar Saloon,” sê sy om die
atmosfeer ’n bietjie ligter te maak. “Die sanger wat hulle daar gehad het,
was nie naastenby so goed soos jy nie. Hy het party van jou wysies gebruik,
maar die woorde was heeltemal anders.”
“Waar dink jy het die kerk in die eerste plek aan sy musiek gekom?” lag
Michael. “Die predikante het bekende wysies nodig gehad om die gemeente
aan die sing te kry.” Hy sit sy arms agter sy kop. “Ek sou dalk ’n paar
mense kon bekeer.”
Sy weet hy terg haar, en sy wil nie nóg meer vir hom voel nie. Hy laat al
reeds haar hart pyn. Sy kyk na hom en haar senuwees voel rou geskaaf. “Ek
kan vir jou stuitige woorde sing.” Terwyl sy uittrek en onder die komberse
inklim, kan sy sy stilte aanvoel terwyl hy dink. Haar hart klop so woes dat
sy wonder of hy dit kan hoor. “En moenie vir my joune probeer leer nie,” sê
sy. “Ek gaan nie vir God lofliedere sing vir enigiets nie.”
Hy draai nie weg van haar soos wat sy gehoop het nie. Hy trek haar in sy
sterk arms nader en soen haar tot sy skaars kan asem kry. “In elk geval nie
nou al nie,” sê hy. Sy hande blaas die vonk in haar aan tot dit ’n vlam is,
maar hy blus dit nie. Hy gee haar die ruimte en vryheid wat sy dink sy wil
hê en laat dit brand.

Binne ’n paar dae het Elizabeth ’n geel rok en rooibruin romp van Skotse
ruitstof gereed vir Angel om aan te pas. Angel huiwer om haar klere uit te
trek, verleë oor die toestand van Tessie se verslonsde onderklere. “Dit moet
’n bietjie ingevat word hier, Mamma,” sê Miriam en trek ’n duim by die rok
in.
“Ja, en ek dink ’n bietjie voller agter,” sê Elizabeth en pof die materiaal
agter by die romp op.
Dit pla Angel dat hulle soveel moeite vir haar doen. Hoe minder hulle
doen, hoe minder skuld sy hulle. “Ek gaan in die tuin werk in hierdie klere.”
“Selfs dán hoef jy nie soos ’n slonskous te lyk nie,” sê Miriam.
“Ek wil nie ’n laspos vir julle wees nie.” Die rok is pragtig net soos dit
is. Dit hoef nie perfek te pas nie.
“’n Laspos?” sê Elizabeth. “Nonsens. Ek het myself maande laas so
geniet! Jy kan die rok nou maar uittrek. Wees versigtig vir die spelde.”
Angel trek die rok uit en gryp vinnig Tessie se ou klere, maar sy sien hoe
Elizabeth bejammerend na die verweerde kamisool en broek loer. As sy
haar klere van die Palace hier gehad het, sou sy die dames kon beïndruk.
Hulle het waarskynlik nog nooit Franse onderklere van kant en satyn gesien
nie, of syjaponne van China nie. Duke het haar net die heel beste klere laat
dra. Selfs Duchess, so suinig soos wat sy was, sou nooit daaraan dink om
haar so onaansienlik aan te trek nie. Maar nee, sy moet voor hulle verskyn
in onderklere wat gemaak is van ou meelsakke.
Sy wil verduidelik dat dit nie haar klere is nie, dat dit aan Michael se
suster behoort het, maar dit sal net meer vrae uitlok wat sy nie krag het om
te beantwoord nie. Dit sal nóg erger wees as dit sleg op Michael moet
reflekteer. Sy wil nie hê hulle moet sleg dink van hom nie. Sy weet nie
hoekom dit vir haar soveel saak maak nie, maar dit is hoe dit is. Sy trek
haar vinnig aan, mompel ’n dankie uit en vlug na die tuin.
Waar is Michael? Sy wens hy is naby. Sy voel veiliger as hy naby is. Sy
voel nie so alleen en uit haar plek wanneer hy in sig is nie. Hy en John het
vanoggend stompe in die veld uitgegrawe, maar hulle is nou nêrens te sien
nie. Die perde is nie in die kamp nie. Miskien het Michael en John gaan jag.
Die jonge Leah is besig om mynerslaai onder die eike uit te haal, en
Andrew en Jacob vang vis. Angel buk en begin onkruid uittrek en probeer
om aan niks anders te dink nie. “Kan ek hier kom speel?” vra klein Ruth
van waar sy op die hek staan. “Mamma was klere en sê ek is net in die
pad.”
Angel lag. “Kom in, skattebol.”
Ruth sit in die paadjie waar sy besig is om te werk en praat onophoudelik
terwyl sy die onkruid uittrek wat Angel vir haar gewys het. “Ek hou nie van
wortels nie. Ek hou van groenboontjies.”
“Dis waar jy is,” sê Miriam en swaai die hek oop. “Ek het vir Mamma
gesê ek weet waar om jou te kry,” sê sy en swaai haar vinger voor haar
babasussie se neus. Sy buig vooroor en tik Ruth onder die ken. “Jy weet
mos jy moenie van haar af weggaan sonder om te sê waarheen jy gaan nie.”
“Ek is by Mandy.”
“Mandy?” sê sy en staan regop. Haar oë vonkel in Angel se rigting.
“Wel, Mandy is besig om te werk.”
Angel haal ’n klein worteltjie uit die mandjie. “Sy help my.”
Miriam stuur vir Ruth om vir haar ma te gaan sê waar sy is en kniel
langs Angel om haar te help. “Dit pas beter by jou,” sê sy en dun
boontjieplante uit.
“Wat pas beter by my?” vra Angel met twyfel.
“Mandy,” sê Miriam. “Amanda klink net nie vir my heeltemal reg nie.”
“My naam was Angel.”
“Regtig?” Miriam lig haar wenkbroue dramaties. Sy skud haar kop en
haar oë glinster. “Angel pas ook nie by jou nie.”
“Sal ‘Haai jy’ beter wees?”
Miriam gooi ’n stuk grond na haar. “Ek dink ek gaan jou juffrou Ysberg
noem,” besluit sy. “Terloops,” voeg sy by en gooi ’n paar stukkies onkruid
in die emmer. “Jy hoef nie so skaam te wees oor jou onderklere nie.” Sy lag
toe Angel verskrik reageer. “Jy moet mýne sien!”

’n Paar dae later gee Elizabeth vir Angel iets wat in ’n kussingsloop
toegedraai is en sê sy moet dit nie voor enigiemand oopmaak nie. Angel
kyk vraend na haar, maar sy bloos net en gaan vinnig terug na die hut.
Angel brand van nuuskierigheid en gaan maak haar pakkie in die skuur oop.
Binne-in die sloop is ’n pragtige kamisool en broek. Die snit en
borduurwerk is absoluut pragtig.
Angel hou die mooi klere op haar skoot vas en voel hoe haar wange
warm word. Hoekom het Elizabeth dit gedoen? Kry sy haar jammer?
Niemand het nog ooit vir haar iets gegee sonder om iets terug te verwag nie.
Wat wil Elizabeth hê? Alles wat sy het, behoort aan Michael. Sy behoort nie
eens meer aan haarself nie. Sy druk die goed terug in die kussingsloop en
gaan buitentoe. Miriam is besig om water van die spruit af aan te dra en
Angel keer haar voor.
“Gee hierdie goed vir jou ma terug en sê vir haar ek het dit nie nodig
nie.”
Miriam sit die emmers neer. “Mamma was bang jy sal beledig voel.”
“Ek is nie. Ek het dit net nie nodig nie.”
“Jy is kwaad.”
“Vat net hierdie goed terug, Miriam. Ek wil dit nie hê nie.” Angel steek
dit weer na haar toe uit.
“Mamma het dit spesiaal vir jou gemaak.”
“Sodat sy vir my kan jammer voel? Wel, sê vir haar baie dankie; sy kan
dit self dra.”
Miriam voel beledig. “Hoekom wil jy altyd die ergste van ons dink?
Mamma se enigste bedoeling was om jou gelukkig te maak. Sy probeer net
dankie sê dat jy vir ons ’n dak oor ons koppe gegee het ná maande lank op
daardie ou wa!”
“Sy hoef my nie te bedank nie. As sy iemand wil bedank, sê sy moet vir
Michael dankie sê. Dit was sý idee.” Sy is dadelik spyt oor haar
ongevoelige woorde toe die meisie se oë vol trane skiet.
“Wel, ek veronderstel dan kan hý die kamisool en broek dra, nè?”
Miriam gryp die emmers; die trane rol nou oor haar bleek wange. “Jy wil
ons nie liefhê nie, nè? Jy het doodeenvoudig besluit om ons nie lief te hê
nie!”
Angel voel jammer oor die pyn op Miriam se gesig. “Hoekom hou jy dit
nie vir jouself nie?” vra sy sag.
Miriam versag nie. “As jy my ma wil seermaak, doen dit dan self,
Amanda Hosea. Ek gaan dit nie namens jou doen nie. Gaan sê jy maar self
vir haar jy wil nie die present hê wat sy spesiaal vir jou gemaak het omdat
sy jou soos ’n eie kind liefhet nie. En dis presies wat jy is, nie waar nie? ’n
Idiotiese kind wat nie iets kosbaars herken as dit reg voor jou is nie!” haar
stem breek en sy stap haastig weg.
Angel vlug terug skuur toe.
Met die kamisool en broek in haar hande gaan sit sy met haar rug teen
die muur. Sy het nie gedink ’n paar skerp opmerkings van ’n naïewe meisie
kan só diep seermaak nie. Sy gooi die goed van haar af weg en druk haar
vuiste teen haar oë.
Miriam kom saggies in en tel dit op. Angel wag dat sy daarmee by die
deur uitloop, maar in plaas daarvan gaan sy sit.
“Ek is jammer ek het so kwaai met jou gepraat,” sê sy gedemp. “Ek is
heeltemal te uitgesproke.”
“Jy sê net wat jy dink.”
“Ja, dit doen ek definitief. Amanda, aanvaar asseblief Mamma se
geskenk. Sy sal só seergemaak voel. Sy het vir baie dae hieraan gewerk, en
dit het haar die hele oggend gevat om die moed bymekaar te skraap om dit
vir jou te gee. Sy het gesê elke jong bruid moet iets spesiaals hê. As jy dit
nou teruggee, sal sy wéét sy het jou in die gesig gevat.”
Angel trek haar knieë styf teen haar bors op. Sy voel in ’n hoek gedryf
deur Miriam se gepleit. “Ek sou daardie dag by julle almal verbygery het.”
Sy trek innerlik ’n gesig en kyk Miriam vas in die oë. “Jy het dit geweet,
nie waar nie?”
Miriam gee ’n halwe glimlag. “Jy gee nie regtig om noudat ons hier is
nie, of hoe? Ek dink jy het in die begin net nie geweet hoe om ons te
hanteer nie. Maar dis nie meer so nie, nè? Klein Ruth het dadelik deur jou
gesien. Anders as wat jy glo, hou sy nie van almal wat sy ontmoet nie. Nie
soos sy van jou hou nie. Ek het jou ook lief, of jy nou daarvan hou of nie.”
Angel klem haar lippe opmekaar en sê niks.
Miriam vat die onderklere en vou dit op haar skoot. “Wat sê jy?”
“Dis pragtige goed. Jy moet dit hou.”
“Ek het reeds ’n klompie weggepak in my bruidskis. Totdat ek ’n nuwe
bruid is, is ek doodtevrede met meelsakkies.”
Angel kan sien hierdie meisie het ook ’n wil van staal.
“Jy weet nie hoe jy dit met ons het nie, nè?” sê Miriam. “Jy gee my
partykeer sulke snaakse kyke. Was jou lewe regtig soveel anders as myne?”
“Meer as wat jy ooit sal kan dink,” sê Angel ingedagte.
“Mamma sê altyd dis goed om dinge uit te praat.”
Angel lig ’n wenkbrou. “Ek sal dit nie oorweeg om my lewe met ’n kind
te bespreek nie.”
“Ek is sestien. Nie soveel jonger as jy nie.”
“In mý beroep het ouderdom niks met jare te doen nie.”
“Dis nie meer jou beroep nie, of hoe? Jy is nou met Michael getroud.
Daardie deel van jou lewe is verby.”
Angel kyk weg. “Dis nooit verby nie, Miriam.”
“Nie wanneer jy dit soos bagasie met jou saamdra nie.”
Angel gee haar ’n verstomde kyk. Sy lag hartseer. “Jy en Michael het
baie gemeen.” Hy het eenkeer presies dieselfde gesê. Nie een van hulle kan
verstaan nie. ’n Mens kan nie net wegstap en sê slegte dinge het nooit
gebeur nie. Dit het, en dit het diep, rou, oop wonde gelaat. Selfs wanneer
die wonde genees, is daar littekens. “Stap net weg en vergeet daarvan,” spot
sy. “Dis nooit so maklik nie.”
Miriam speel met ’n strooihalmpie en verander die onderwerp. “Ek kan
dink dat dit moeilik sal wees, maar dink jy nie dit sal die moeite werd wees
nie?”
“Dit haal ’n mens altyd in.”
“Miskien het jy net nog nie genoeg vertroue in Michael nie.”
Angel is nie lus om oor Michael te praat nie, veral nie met ’n hubare
jong meisie soos dié een wat ’n baie meer gepaste maat vir Michael sal
wees as wat sy ooit kan wees nie.
“Ek het nou die oggend gaan stap en nog ’n hut gesien,” sê Miriam.
“Weet jy wie daar bly?”
“Michael se swaer, Paul. Sy vrou is dood op pad hierheen.”
Miriam se donker oë skitter van nuuskierigheid. “Hoekom kom kuier hy
dan nooit by Michael nie? Het hulle baklei?”
“Nee, hy is net nie baie vriendelik nie.”
“Is hy ouer of jonger as Michael?”
“Jonger.”
Sy glimlag ondeund. “Hoeveel jonger?”
Angel haal haar skouer op. “In sy vroeë twintigerjare sou ek sê.” Sy kan
sien hoe Miriam se kop werk, en sy hou glad nie hiervan nie. Miriam
herinner haar aan Rebecca, die prostituut wat so ingenome was met
Michael.
“Is hy aantreklik?” hou Miriam vol.
“Ek neem aan vir ’n maagdelike jong vrou sal enigeen sonder vratte en
uitstaantande aantreklik wees.”
Miriam lag. “Wel, ek is sestien. Die meeste meisies van my ouderdom is
al getroud, en ek het nie eens ’n kêrel op die horison nie. Ek wil natuurlik
weet wie beskikbaar is. Ek sal vir my ’n bruidegom moet kry sodat ek al die
pragtige onderklere kan dra wat Mamma vir my gemaak het en wat in my
bruidskis lê en wag.”
Die gedagte aan hierdie gawe meisie saam met Paul ontstig Angel
verskriklik. “Mooi goed beteken nie veel nie, Miriam. Regtig nie. Wag vir
iemand soos Michael.” Sy kan nie glo sy het dit gesê nie.
“Daar is net één Michael, Amanda, en jy het hom gevang. Watter tipe ou
is Paul?”
“Die teenoorgestelde van Michael.”
“So, beteken dit hy is ... lelik, swak, bot en oneerbiedig?”
“Dis nie snaaks nie, Miriam.”
“Jy is nog erger as Mamma. Sy wil my absoluut niks van mans vertel
nie.”
“Daar is nie veel om te vertel nie. Hulle almal eet, gaan toilet toe, het
seks en gaan dood,” sê Angel sonder om te dink.
“Jy is regtig bitter, nie waar nie?”
Angel ril innerlik. Hierdie meisie kan onmoontlik verstaan. Nie sonder
dat sy Duke ervaar het nie. Sy moes liewer haar gedagtes vir haarself gehou
het eerder as om dit met haar te deel. Wat kan sy sê? “Ek is op agt deur ’n
volwasse man verkrag. Toe hy moeg was vir my, het hy my in Sally se goeie
hande gelaat, wat my geleer het om dinge te doen wat ’n goeie meisie in
haar wildste drome nie aan sal dink nie.”
Hierdie meisie se onskuld moet behoue bly, sy moet ’n jong man
ontmoet en as ’n maagd met hom trou, sy kinders hê en net so ’n gesin hê
soos die een waaruit sy kom. Sy moenie besoedel word nie.
“Moenie vir my enigiets oor mans vra nie, Miriam. Jy sal nie hou van
wat ek jou vertel nie.”
“Ek hoop ’n man sal eendag net so na my kyk soos wat Michael na jou
kyk,” sê Miriam.
Angel sê nie vir haar dat mans al so na haar kyk vandat sy kan onthou
nie. Dit beteken minder as niks.
“Pappa sê ek het ’n sterk man nodig wat my onder sy duim kan hou,” sê
Miriam. “Maar ek wil ’n man hê wat my ook nodig het. Ek wil iemand hê
wat sag kan wees, maar tog sterk.”
Angel bekyk Miriam waar sy oor haar romantiese held sit en droom.
Dinge kon baie anders gewees het as Michael eers vir Miriam ontmoet
het. Hy sou nie anders kon as om op haar verlief te raak nie. Sy is opgewek,
onbesmet en godvresend. Miriam het geen geraamtes in haar kas nie.
Geen duiwel op haar rug nie.
Miriam staan op en skud die strooi van haar romp af. “Ek beter ophou
droom en Mamma gaan help met die wasgoed.” Sy buk af en sit die
onderklere op Angel se skoot. “Hoekom pas jy dit nie aan voor jy finaal
besluit nie?”
“Ek wil regtig nie jou ma seermaak nie, Miriam.”
Die meisie se oë skiet vol trane. “Ek het nie gedink jy kan nie.” Sy loop
terug.
Angel lê met haar kop agteroor. Duke het van die heel begin af vir haar
’n kas vol valletjiesrokke en wit kantvoorskootrokke gekoop en haar laaie
vol satynlinte en strikke gemaak. Die meeste van haar klere was in Parys
gemaak.
“Wees dankbaar,” het Sally gesê terwyl sy haar bad en onberispelik
aantrek vir Duke se kuiertjie. “Probeer onthou dat jy op die dokke sou
doodgegaan het van die honger as dit nie vir Duke was nie. Sê vir hom
dankie en bedoel dit. Gee voor dat jy gelukkig is, net om hom te plesier. As
jy te moeilik raak, sal Duke ’n ander jong meisietjie kry wat gehoorsaam is,
en wat dink jy sal dan van jou word?”
Die waarskuwing laat haar nou nog sidder. Op agt het Angel gedink
Duke sal Fergus beveel om haar met sy dun, swart koord te verwurg en haar
in die steeg te gooi waar die rotte haar sou opvreet. Daarom het sy probeer
om dankbaar te wees, maar kon dit nooit regkry nie. Sy het Duke gevrees
en verag. Eers later het haar geweldige afhanklikheid van sy genadegawes
haar laat glo dat sy hom liefhet. Dit het haar lank gevat om die waarheid te
besef.
Duke spook nog steeds by haar. Hy besit nog steeds haar siel.
Nee, dis nie waar nie. Ek is in Kalifornië. Hy is vierduisend myl ver en
kan my nie kry nie. Sy is saam met Michael en die Altmans en sy kan
besluit om haar lewe in ’n nuwe rigting te stuur. Of kan sy nie?
Sy kyk na die nuwe klere op haar skoot. Elizabeth wil niks van haar hê
nie. Anders as Duke, gee sy ’n geskenk sonder om iets terug te verwag.
Duke se woorde koggel haar diep binne-in. “Almal wil iets hê, Angel.
Niemand gee vir jou enigiets sonder om iets terug te verwag nie.”
Sy maak haar oë toe en sien Elizabeth se dierbare, peinsende gesig. “Ek
glo jou nie meer nie, Duke.”
Is dit so?
In opstand teen die weerklank van sy stem staan sy vinnig op en trek
haar klere uit. Sy trek die nuwe kamisool en broek aan. Dit pas perfek. Sy
omhels haarself daarin. Sy gaan haar aantrek en Elizabeth behoorlik
bedank. Sy gaan voorgee dat sy rein en onbesmet is en nie toelaat dat die
nagmerrie van die afgelope tien jaar dit vir haar bederf nie.
Nie dié keer nie. Nie as sy iets daaraan kan doen nie.
Twintig

Van alle minderwaardige hartstogte


is vrees die haatlikste.
Shakespeare

Michael is bekommerd oor Angel se toenemende gehegtheid aan die


Altman-gesin. Die lente kom vinnig nader en John praat steeds van Oregon
asof dit die hemel is. Sodra die weer beter is, sal John gereed wees om weg
te gaan. Michael wéét hy kan nie op die vroue in John se lewe staatmaak
om hom te keer nie. Goeie grond is die enigste manier om hom van plan te
laat verander.
Die jonge Miriam verafgod Angel soos ’n ouer suster, en klein Ruth volg
haar soos ’n skaduwee. Elizabeth dink haar jongste se gehegtheid aan Angel
is dierbaar, maar Michael sien gevaar daarin. Amanda stel elke dag haar
hart meer en meer oop. Wat gaan van haar word wanneer die Altmans hulle
goed pak en weggaan?
Hy staan regop waar hy besig is om ’n stomp uit te grawe en kyk terug in
die rigting van die hut. Amanda loop van die spruit af met twee emmers
water. Elizabeth het ’n vuur aan die gang met ’n groot waspot wat daaroor
hang, en Miriam is besig om die mandjie wasgoed te sorteer. Klein Ruth
huppel langs Amanda en gesels vrolik.
Wat sy nodig het, is haar eie kind, Here.
“Die twee is regtig erg oor mekaar, nie waar nie?” sê John waar hy op
die piksteel rus en Ruthie en Amanda dophou.
“Beslis.”
“Is daar iets waaroor jy bekommerd is, Michael?”
Hy trap die graaf met sy voet vas en gooi die grond eenkant toe. “As jy
noordwaarts trek met jou gesin, gaan jy my vrou se hart breek.”
“Om van Liza s’n nie te praat nie. Sy het jou vrou aangeneem, as jy dit
nog nie raakgesien het nie.”
“Daar is goeie grond hier.”
“Nie so goed soos in Oregon nie.”
“Jy gaan nie dit wat jy soek in Oregon of op enige ander plek kry nie.”
Daardie aand praat Michael met Amanda daaroor dat hy daaraan dink
om ’n gedeelte van hulle grond aan die Altmans te verkoop. “Ek wou dit
eers met jou bespreek voor ek dit aan hom noem.”
“Dit sal nie juis ’n verskil maak nie, nè? Hy het weer die hele aand oor
Oregon gepraat. Hy kan nie wag om weg te gaan nie.”
“Hy het nog nie die westekant van die vallei gesien nie,” sê Michael.
“Dit kan hom dalk twee keer laat dink.”
Angel sit regop en haar hart pyn met die gedagte aan Miriam en Ruth
wat wegry Oregon toe. “Wat help dit tog? As ’n man eers ’n besluit geneem
het, kan niks dit verander nie.”
“John is op soek na goeie plaasgrond.”
“John soek na die pot goud aan die einde van die reënboog!”
“Dan gee ons dit vir hom.” Michael sit regop agter haar en trek haar teen
hom vas. “Hy wil net die beste vir sy gesin hê. Die westekant is die beste
wat ons het.”
“Hy praat oor niks anders as Oregon nie. Elizabeth wil nie gaan nie en
Miriam ook nie.”
“Hy dink die Willamette-vallei is Eden.”
Angel maak haar uit sy arms los en staan op. “Dan moes hy in die eerste
plek soontoe deurgedruk het in plaas daarvan om hier te stop.” Sy vou haar
arms styf om haar lyf en leun teen die muur. Sy kyk na die hut. Dis donker.
Die lantern is doodgeblaas. Die Altmans slaap almal. “Ek wens hulle het
nooit hierheen gekom nie. Ek wens ek het hulle nooit ontmoet nie.”
“Hulle is nog nie weg nie.”
Sy kyk na hom en haar gesig is wit in die maanlig. “Is Oregon regtig so
wonderlik? Is dit Eden, soos wat hy glo?”
“Ek weet nie, Tirsa. Ek was nog nooit daar nie.”
Tirsa. Sy begeerte vir haar is in daardie naam. Angel voel hoe ’n
bruisende warmte oor haar maag versprei toe hy dit sê. Tirsa. Sy probeer
om nie te dink aan wat dit beteken nie, maar sy hoor die strooi ritsel toe hy
opstaan, en haar hart bokspring. Sy kyk op na hom toe hy nader kom en kan
skaars asemhaal. Toe hy aan haar vat, voel sy hoe die warmte deur haar
liggaam vloei en dit maak haar vreesbevange. Wat is hierdie mag wat hy
oor haar het?
“Moenie moed opgee nie,” sê hy en voel hoe sy verstyf toe hy haar in sy
arms neem. Hy wil vir haar sê hulle kan hul eie kind hê, daar is genoeg tyd
daarvoor. En nou is nie die tyd nie. Nog nie. “John kan dalk van besluit
verander as hy sien wat ons hom kan bied.”
Sy het nie gedink John sal eers bereid wees om te gaan kyk nie, maar hy
stem in. Die volgende oggend net ná dagbreek ry die twee mans daar weg.
Angel sien hoe Miriam oor die werf hardloop met haar tjalie los om haar
skouers gegooi. Sy swaai die skuur se deur oop en klim halfpad teen die
leer op terwyl sy na haar roep. “Mandy, ek wil ook die westekant van die
vallei sien. Michael het gesê dis net ’n paar myl weg.”
Angel klim teen die leer af. “Dit gaan geen verskil maak nie.”
“Jy is net so erg soos Mamma. Ons is nog nie opgepak en op pad nie.”
Miriam praat byna die hele ent pad en dink allerhande planne uit om haar
pa se uittog te keer. Angel weet, al ken sy hulle nog net ’n maand, dat as
John Altman sê “Kom ons gaan” Elizabeth en Miriam so sal maak.
“Daar is Pappa en Michael,” sê Miriam. “Maar wie is die man by hulle?”
“Paul,” sê Angel en verhard haarself. Sy het hom nog nie weer gesien ná
daardie vreeslike rit terug Pair-a-Dice toe nie, en sy het geen begeerte om
hom nou te sien nie. Maar sy kan nie nou ’n verskoning uitdink om om te
draai nie.
Miriam is so nuuskierig dat sy glad nie raaksien hoe ontsteld Angel is
nie. Die drie mans sien hulle. Michael waai. Angel byt op haar tande. Sy het
geen ander keuse as om nader te gaan nie. Sy wonder watter vorm Paul se
aanval hierdie keer sal aanneem.
Michael loop na haar toe. Sy dwing haarself om te glimlag en hou haar
ken omhoog. “Miriam wou kom kyk.”
Hy soen haar wang. “Ek is bly sy het jou saamgesleep.”
Die mans het in die grond gespit, en Miriam tel van die grond op. Sy
krummel dit in haar hand en ruik daaraan. Haar oë blink toe sy na haar pa
kyk. “Dis ryk genoeg om te eet.”
“Jy sal nie sommer beter grond kry nie.”
“Nie eens in Oregon nie, Pappa?”
“Nie eens in Oregon nie.”
Met ’n opgewonde gil spring Miriam met ’n vaart in haar pa se arms. Sy
lag en huil deurmekaar. “Wag tot Mamma dit hoor!”
“Jou ma mag niks hiervan weet nie. Nie tot ons vir haar ’n hut gebou het
nie. Belowe?”
Miriam vee die trane af. “Een woord oor Oregon en ek sal met die hele
sak patats vorendag kom,” sê sy.
Angel kyk skrams na Paul. Sy blik gaan oor haar. Syne is vol stille,
wrewelrige haat. Sy trek haar tjalie stywer om haar. Sy het baie van sy
bloed getap daardie dag op die pad. Sy het die mes so diep moontlik
ingesteek. Hy kyk weer na haar; hierdie keer langer. ’n Gekweste dier,
verwilderd en gevaarlik.
“Paul is aantreklik,” sê Miriam toe hulle terugstap. “Sulke donker,
broeiende oë.”
Angel sê nie ’n woord nie. Net voor hy weggery het, het hy sy hoed vir
haar gelig. Niemand behalwe sy het dit raakgesien nie. Hulle het ook nie die
uitdrukking in sy oë gesien nie – ’n uitdrukking wat haar tot die hel
verdoem.

Die volgende oggend spring die mans aan die werk. Paul ontmoet hulle met
sy byl en dissel. Michael kry vier groot klippe vir die fondament. Hulle
begin om bome af te kap.
Op die derde dag agtervolg Jacob vir Miriam toe sy die middagete
wegbring en só vind hy die geheim uit. Hulle laat hom plegtig belowe om
stil te bly en laat hom help met die werk. Teen die tyd dat Michael en John
met hom teruggaan huis toe, is hy te moeg om te praat.
“Wat doen julle met die kind?” vra Elizabeth. “Hy kan skaars lank
genoeg wakker bly om sy bredie te eet.”
“Dis harde werk om lande skoon te maak.”
Angel werk saam met Elizabeth. Sy wil Paul vermy, maar belangriker as
dit wil sy tyd saam met Elizabeth en Ruthie deurbring. Elizabeth kan dit
aanvoel en vra haar om ’n ogie oor die kinders te hou terwyl sy bak. Angel
leer aan-aan, wegkruipertjie, blindemol en paddaspronge. Sy staan op die
spruit se oewer en spring van klip tot klip saam met Ruthie en Andrew. Sy
dink net aan hoe bitter min tyd sy saam met hulle oorhet.
“Die kinders loop soos kuikens al agter haar aan,” sê Elizabeth vir John.
“Sy is vir hulle soos ’n ouer suster.”
Miriam roep Angel eenkant toe. “Die mure is klaar.” Later: “Die dak is
op.” Angel luister na elke verslag met ’n swaar gevoel in haar hart. “Paul
het genoeg dakspane gemaak om die dak te bedek.” En dan weer: “Michael
en Paul is besig met die vuurherd.” Oor ’n paar dae sal die huis klaar wees
en die Altmans weg. Twee myl begin al vir Angel soos tweeduisend voel.
Paul sal hul naaste buurman wees. Hoe lank gaan dit vat voor hy hulle
teen haar begin vergiftig?
Die weer begin verbeter en dit raak lekker warm. “Daar is vir ons geen
rede om langer van die Hoseas se gasvryheid gebruik te maak nie,” sê John.
“Dis tyd dat ons ons eie plek kry.” Hy gee vir Elizabeth opdrag om te begin
pak.
Bleek en met saamgeperste lippe begin Elizabeth pak.
“Ek het haar nog nooit so kwaad gesien nie,” sê Miriam. “Sy het nog nie
’n woord met Pappa gepraat vandat hy gesê het ons is op pad nie. Nou is dit
net befoeterde hardkoppigheid wat hom keer om haar te vertel.”
Angel help Miriam om die wa te laai. Andrew maak die watervat vol wat
aan die kant hang, en Jacob help John om die perde in te span. Toe
Elizabeth haar kom omhels, kan Angel nie ’n woord uitkry nie.
“Ek sal jou verskriklik mis, Amanda,” fluister Elizabeth hartseer. Sy vryf
haar wang soos een van haar eie kinders. “Kyk mooi na daardie man van
jou. Daar is nie baie mans soos hy nie.”
“Ja, mevrou,” sê Angel.
Miriam gee haar ’n stywe druk en fluister: “Jy is ’n wonderlike aktrise.
Jy lyk asof jy ons regtig vir altyd groet.” Klein Ruth is ontroosbaar en klou
aan Angel vas tot sy dink haar hart gaan breek. Hoekom ry hulle nie net en
kry klaar nie? Miriam vat vir Ruth, fluister iets in haar oor om haar stil te
maak en tel haar agterop die wa saam met Leah. Ruth kyk na Angel en haar
gesiggie blom. Al die kinders weet nou van die geheim.
“Laat ek jou ophelp, Liza,” sê John.
Sy kyk nie na hom nie. “Dankie, maar ek dink ek sal vir ’n entjie stap.”
Die oomblik toe hulle vertrek het, gaan saal Michael sy perd op. Angel
staan op die werf en kyk hoe die wa wegry. Sy mis hulle al klaar en kan
voel hoe die afstand rek soos ’n kloof wat sy nie kan oorsteek nie. Sy
onthou hoe haar ma haar saam met Cleo see toe gestuur het. Sy gaan in die
huis in en pak ’n mandjie met soetkoekies en winterappels. Niks gaan ooit
weer dieselfde wees nie.
Paul is by die nuwe hut toe hulle twee daar opdaag. Hy is besig om ’n
wildsblad op die spit te braai. Angel hang die gordyne wat Elizabeth vir
Michael se huis gemaak het op terwyl die mans gesels. Michael gaan
buitentoe om te sien of hy die Altmans kan sien aankom. Angel voel Paul se
koue blik op haar rug.
“Ek is seker dat hulle niks van jou weet nie, of hoe, Angel?”
Sy draai om en kyk na hom. Hy sal nie die waarheid glo as sy hom vertel
nie. “Ek hou baie van hulle, Paul, en sal nie graag wil sien dat hulle seerkry
nie.”
Hy snork minagtend. “Jy bedoel jy hoop ek hou jou vieslike verlede ’n
geheim.”
Sy kan sien dit gaan haar niks help om haar op hom te beroep nie. “Ek
bedoel jy sal doen wat jy dink jy moet doen,” sê sy stuurs. Hoe lank gaan
dit hom vat voordat hulle haar sal sien vir wie sy regtig is? Hulle sal kort
voor lank agterkom dat hy haar nie kan verdra nie en hulle sal wonder en
vra hoekom. Wat kan sy hulle vertel? “Hy het daarop aangedring dat ek
hom vir ’n geleentheid betaal, en ek het dit met die enigste ‘geld’ wat ek
het, betaal”?
Hoekom het sy ooit toegelaat dat sy by hierdie mense betrokke raak?
Hoekom het sy haarself toegelaat om van hulle te hou? Sy het van die begin
af geweet dis ’n fout.
“Die liefde maak ’n mens swak,” het Sally gesê.
“Was jy al ooit verlief?” het Angel gevra.
“Een keer.”
“Wie was dit?”
“Dis Duke.” Sy het bitter gelag. “Maar ek was nog altyd te oud vir hom.”
’n Ysige stem onderbreek haar gedagtes. “Jy is bang, nè?” Paul se
glimlag is yskoud. Angel loop buitentoe. Sy kan nie in die huis asem kry
nie. Die pyn het al klaar begin. Dis dieselfde pyn wat sy die dag gevoel het
toe sy haar pa hoor sê het hy wens sy is nooit gebore nie; dieselfde pyn as
toe Mamma dood is; dieselfde as toe sy gehoor het Lucky is dood. Sy het
selfs pyn gevoel toe Duke haar die eerste keer aan ’n ander man gegee het.
Almal aan wie sy geheg raak, verlaat haar. Die een of ander tyd gaan
hulle weg. Of gaan dood. Of verloor belangstelling. Kry iemand lief, en dis
’n waarborg. Mamma, Sally, Lucky. En nou Miriam, Ruth en Elizabeth.
Hoe kon ek vergeet het hoe dit voel?
Omdat Michael jou laat dink het jy kan hoop hê, en hoop is dodelik.
Sally het haar vertel dat ’n mens soos ’n klip moet wees omdat mense
aan jou gaan beitel en skaaf en dat daardie klip groot genoeg moet wees dat
hulle nie by jou hart kan kom nie.
Angel sien Michael waar hy in die son staan. Hy is sterk en baie
aantreklik. Sy voel ’n steekpyn in haar hart. Van almal het hy die meeste
klip weggebeitel, en die een of ander tyd sal hy uit haar lewe stap en ’n gat
agterlaat waar haar hart was.
Hy kom na haar toe, en toe hy die uitdrukking in haar oë sien, verdonker
sy oë. “Het Paul iets gesê wat jou seergemaak het?”
“Nee,” sê sy skerp. “Nee, hy het niks gesê nie.”
“Iets het jou ontstel.”
Ek is besig om op jou verlief te raak. O, God, ek wil nie, maar dis besig
om te gebeur. Jy is besig om die lug te raak wat ek inasem. Ek gaan
Elizabeth en Miriam en Ruth verloor. Hoe lank voor ek jou ook verloor? Sy
kyk weg. “Niks het my ontstel nie. Ek is net bekommerd oor wat Elizabeth
van die gekonkel gaan sê.”
Sy hoef nie lank te wag nie. Die wa kom oor die bult en al nader.
Elizabeth staar verstom voor haar uit en kyk van die huis na John, wat van
die wa afspring met ’n groot glimlag op sy gesig. Elizabeth bars in trane uit
en gooi haarself in John se arms terwyl sy hom vertel wat ’n bedrieër hy is
en dat sy mal is oor hom. “Mamma moet Pappa om verskoning vra,” lag
Miriam. “Mamma was die hele pad vandat ons by die Hoseas weg is, naar
met Pappa.” John vat sy vrou aan die hand en hulle stap weg om na hulle
grond te gaan kyk.
Miriam begin dadelik werk in die huis, maar dis nie lank nie of sy gaan
staan en kyk na Angel. “Jy en Paul kom nie juis oor die weg nie, of hoe?”
“Nie juis nie,” sê Angel. Ruth trek aan haar romp en Angel tel haar op
haar heup.
“O nee, dit sal nie werk nie.” Miriam droog haar hande af en sit Ruth op
die grond neer. “Mandy moet my help om ’n koek te bak en sy het al twee
hande daarvoor nodig. En moenie jou lip vir my uitstoot nie, jong
dametjie.” Sy draai haar om en klap die dogtertjie liggies op die boude.
“Michael is net hier buite. Vra hom om jou te abba.” Sy pak die mengbakke
uit en kyk na Angel. “Nou goed, vertel my wat gaan aan.”
“Wat?”
“Jy weet wat. Jy en Paul. Was hy op jou verlief voor jy met Michael
getroud is?”
Angel lag spottend. “Nie juis nie.”
Miriam frons. “Hy het dit nie goedgekeur nie.”
“Nog steeds nie,” sê Angel. “Hy het geldige redes daarvoor.”
“Noem een.”
“Jy hoef nie alles te weet nie, Miriam. Jy weet al reeds meer as wat goed
is vir jou.”
“Sal hy my vertel as ek hom vra?” daag sy haar uit.
Die pyn flits oor Angel se gesig. “Waarskynlik.”
Miriam vee ’n sliert hare uit haar oë en laat ’n meelstreep oor haar wang.
“Dan sal ek nie vra nie.”
Angel is dol oor haar. Die een oomblik is sy ’n kind soos Ruth, vol
opgewondenheid en kattekwaad, en die volgende ’n vrou wat haar eie kop
volg. “Moenie te sleg van hom dink nie,” sê sy. “Hy plaas maar net Michael
se belange eerste.” Sy gee die sif ’n laaste tikkie en sit dit eenkant. “Ek het
eenkeer ’n meisie geken wat ’n homp ametis present gekry het. Dit was
pragtig. Helderpers kristalle. Die man het vir haar gesê dit kom van ’n
versteende eier wat hy oopgebreek het en dat ’n deel van die buitenste dop
nog daarom was. Grys, lelik en glad.” Sy kyk na Miriam. “Dis soos ek is,
Miriam. Net andersom. Al die skoonheid is hier.” Sy raak aan haar vlegsel
en pragtige gesig. “Binne-in is dit donker en lelik. Paul het dít raakgesien.”
Daar kom trane in Miriam se oë. “Dan het hy nie diep genoeg gekyk
nie.”
“Jy is baie dierbaar, maar baie naïef.”
“Ek is albei en nie een van die twee nie. Ek dink nie jy ken my halfpad
so goed soos wat jy dink nie.”
“Ons ken mekaar so goed soos wat ons ooit sal.”
Dit word so warm en ’n pragtige dag dat Miriam komberse oopgooi vir
’n piekniek. Angel sien Paul en Michael gesels. Haar maag trek op ’n knop
as sy dink aan al die vieslike dinge wat Paul met groot smaak vir Michael
kan vertel oor haar walglike gedrag op die pad. Die groteskheid daarvan
maak haar naar. Hoe sien Paul regtig dit wat tussen hulle gebeur het? Net as
’n besigheidstransaksie? ’n Losbandige daad sonder enige gevoelens? Geen
wonder dat hy net swart smerigheid in haar sien nie; die melaatsheid van
haar siel. Sy het hom niks anders gewys nie.
Sy hou Michael ongemerk dop en brand dat hy na haar moet kyk om
haar te verseker dat alles reg is, maar hy is heeltemal betrokke by wat Paul
te sê het.
Sy probeer haar hart kalmeer. Michael het haar in ’n slegter posisie
gesien as wat Paul ooit kan droom en het haar nogtans teruggeneem. Selfs
nadat sy hom verlaat en verraai het, het hy vir haar baklei. Sy sal hom nooit
verstaan nie. Sy het gedink mans soos hy is swak, maar Michael is nie. Hy
is stil en gelykmatig, rotsvas. Hoe kan hy nog met enigiets anders as afsku
in sy oë na haar kyk ná alles wat sy gedoen het? Hoe kan hy haar liefhê?
Miskien het die realiteit van wie Angel is, hom nog nie getref nie. Sodra
hy dit besef, sal hy op dieselfde manier as Paul na haar kyk. Wat hy nou
sien, word versluier deur sy fantasie oor ’n vrou wat verlos kan word.
Maar dis alles ’n leuen. Ek vertolk net ’n ander rol. Eendag sal die
dromer wakker word, en die lewe sal weer in sy ou patroon verval.
Terwyl sy en Miriam werk en gesels, maak sy asof niks fout is nie. Die
donker innerlike stilte groei, bekend en swaar, en lê soos ’n rots in haar
binneste. Sy vul die krake in haar mure en staal haarself teen die komende
aanval. Maar elke keer dat sy na Michael kyk, raak sy swakker.
Die verlede haal haar altyd in, maak nie saak hoe vinnig sy hardloop nie.
Soms voel dit vir haar asof sy op ’n oop pad is en die perdehoewe agter
haar kan hoor klap asof ’n wa reguit op haar afstorm, maar sy kan nie
betyds wegkom nie. In haar geestesoog kan sy sien hoe dit na haar toe
aangejaag kom, en op die wa sit Duke, Sally, Lucky, Duchess en Magowan.
En op die hoë drywersitplek sit Alex Stafford en Mamma.
En hulle gaan haar almal onderstebo ry.
Elizabeth en John kom terug van hul wandeling. Angel sien hoe John
liefdevol aan sy vrou raak en hoe Elizabeth bloos. Angel het daardie selfde
blik al op ander mans se gesigte gesien, maar hulle het nie presies só in haar
oë geglimlag nie. Met haar was dit net besigheid.
Die huis is oorvol en sy gaan sit in die veld vol mosterdblomme. Sy wil
haar kop skoon kry. Sy wil die vrees wegjaag. Klein Ruthie kom na haar
toe. Die mosterdplante is hoër as sy en sy dink dis ’n groot avontuur om
paadjies in die goue woud te maak. Angel kyk hoe sy blomme laat val en ’n
wit skoenlapper jaag. Haar hart voel gespanne en klein.
Vanaand sal sy en Michael hier weggaan, en hulle vriendskap sal tot ’n
einde kom. Sy sal klein Ruthie nooit weer sien nie. Of vir Miriam. Of vir
Elizabeth. Of die ander. Sy trek haar knieë styf teen haar bors op. Sy wens
Ruthie wil terugkom en vra dat sy haar moet vashou. Sy wil haar dierbare
gesiggie soen. Maar die kind sal nie verstaan nie, en sy kan nie verduidelik
nie.
Ruth kom wel terug, haar oë blink van kinderlike opwinding. Sy plons
langs Angel neer. “Het jy gesien, Mandy? Die eerste skoenlapper.”
“Ja, skat.” Sy raak aan haar sagte donker haartjies.
Ruth kyk met groot, glinsterende oë op na haar. “Het jy geweet hulle
kom van wurms af? Miriam het my vertel.”
Sy glimlag. “Is dit so?”
“Party is harig en mooi, maar hulle proe nie lekker nie,” sê Ruth. “Ek het
een geëet toe ek klein was. Dit was baie sleg.”
Angel lag en tel Ruth op haar skoot. Sy kielie Ruth se magie. “Wel, dan
sal jy seker nie weer een eet nie, of hoe, klein muisie?”
Ruth giggel en spring weer op om nog mosterdblomme te pluk. Sy trek
een plant met wortels en al uit. “Noudat ons ’n hut het, gaan jy en Michael
by ons kom bly?”
“Nee, my skat.”
Rut kyk verstom na haar. “Hoekom nie? Wil jy nie?”
“Omdat ons nou almal ons eie huis het.”
Ruth kom staan reg voor haar. “Wat is fout, Mandy? Voel jy nie lekker
nie?”
Angel raak aan haar babasagte haartjies. “Ek voel oukei.”
“Wel, sal jy dan vir my ’n liedjie sing? Ek het jou nog nooit hoor sing
nie.”
“Ek kan nie. Ek weet nie hoe nie.”
“Pappa sê enigiemand kan sing.”
“Dit moet van binne af kom, en ek het niks binne-in oor nie.”
“Regtig?” sê Ruth verbaas. “Hoe het dit gebeur?”
“Dit het alles net uitgeloop.”
Ruth frons en bekyk Angel krities op en af. “Jy lyk vir my heeltemal
reg.”
“Dinge lyk partykeer anders as wat dit is.”
Steeds verbaas kom sit Ruth op haar skoot. “Dan sal ek maar vir jou
sing.” Die woorde en wysies is almal deurmekaar, maar vir Angel maak dit
nie saak nie. Sy is tevrede met Ruth op haar skoot en die geur van
mosterdblomme sterk om haar. Sy laat haar kop op Ruth s’n rus en hou haar
styf vas. Sy sien Miriam nie raak voordat sy praat nie.
“Mamma soek na jou, poplap.”
Angel tel Ruth van haar skoot af en gee haar ’n ligte klappie om haar te
laat gaan.
“Hoekom kuier jy nie saam met ons nie?” vra Miriam en gaan sit langs
haar.
“Hoekom sê jy dit?”
“Jy doen dit elke keer. Vra ’n vraag eerder as om een te antwoord. Dis
baie frustrerend, Amanda.”
Angel staan op en vryf die stof van haar romp af.
Miriam staan ook op. “Jy wil my nie antwoord of in die oë kyk nie, en
nou hardloop jy weg.”
Angel kyk haar reguit in die oë. “Nonsens.”
“Wat dink jy gaan gebeur? Dink jy net omdat ons nou ons eie plek het, is
die vriendskap verby?”
“Ons sal almal baie besig wees met ons eie lewe.”
“Nie só besig nie.” Miriam steek haar hand uit om Angel s’n te vat, maar
Angel stap weg en maak of sy dit nie raaksien nie.
“Jy weet, soms kan jy jouself seerder maak deur te probeer keer dat jy
seerkry!” roep Miriam agter haar aan.
Angel lag. “Woorde van ’n slimkop.”
“Jy is onmoontlik, Amanda Hosea!”
“Angel,” mompel sy onderlangs. “My naam is Angel.”
Almal kom by die komberse bymekaar toe Elizabeth, Miriam en Angel
die kos uitbring. Angel krap die kos op haar bord rond sodat die ander moet
dink sy geniet dit, maar haar keel trek toe elke keer dat sy ’n klein happie
vat.
Paul kyk haar koud aan. Sy probeer haar bes om nie toe te laat dat dit
haar ontstel nie. Dis sy eie swakheid wat maak dat hy haar so haat.
Sy onthou ’n hele paar jong mans wat vir haar dienste betaal het en hul
skynheiligheid besef het wanneer hulle hul broeke en stewels aantrek en
regmaak om by die deur uit te stap. Skielik sou dit tot hulle deurdring wat
hulle gedoen het. Nie aan haar nie. Dit het hulle nie gepla nie. Maar aan
hulleself.
“Het jy nie iets vergeet nie?” sou sy vra in ’n poging om die mes so diep
moontlik in hul harte te steek. Hulle behoort te weet. Eers die rooi kolle op
hul bleek wange, dan die donker afsku in hul oë.
Wel, sy het die lem reguit en sekuur in Paul gesteek, maar sy weet nou
dat sy die een is wat deurboor is. Dit sou beter gewees het as sy daardie dag
die hele pad Pair-a-Dice toe gestap het. Miskien sou Michael haar dan
betyds ingehaal het. Miskien sou Paul haar nie so gehaat het nie. Miskien
sou sy nie soveel berou gehad het nie.
Haar hele lewe was een groot berou, reg van die begin af. “Sy moes nooit
gebore geword het nie, Mae.”
Michael vat haar hand in syne en sy skrik. “Waaraan dink jy?” vra hy
sag.
“Niks nie.” Sy aanraking laat die hitte deur haar hardloop. Ontsteld trek
sy haar hand weg. Hy frons effens. “Iets pla jou.”
Sy trek haar skouers op en kyk weg.
Hy bekyk haar aandagtig. “Paul gaan niks sê of doen om jou seer te
maak nie.”
“Dit maak nie saak as hy wil nie.”
“As hy jou seermaak, maak hy my seer.”
Sy stemtoon eis haar volle aandag. Haar bedoeling was om vir Paul seer
te maak, maar in plaas daarvan het sy vir Michael seergemaak. Nie een keer
daardie dag het sy gedink aan wat dit aan hom sal doen nie. Sy het net aan
haarself en haar woede, haar verwagtings en hooploosheid gedink. Miskien
kan sy daarvoor probeer opmaak. “Dit het niks met Paul te doen nie,”
verseker sy hom. “Dis net dat die waarheid altyd uitkom.”
“Ek reken daarop.”

Michael hou Amanda die hele dag mooi dop. Sy kruip al dieper in haar dop.
Sy werk saam met Elizabeth en Miriam, maar sê nie veel nie. Sy is
ingedagte, in volle afsondering, besig om haar mure weer op te rig. Toe
Ruthie haar hand vat, sien hy die pyn in Amanda se oë en wéét wat sy
verwag. Hy kan nie belowe dit sal nie gebeur nie. Mense raak soms te
betrokke by hul elkedagse probleme om iemand anders se pyn raak te sien.
Die jong Miriam sien dit wel raak. “Sy is hier, maar sy is ook nie. Sy
weier om my naby aan haar te laat kom, Michael. Wat is vandag fout met
haar? Sy is weer net soos toe ons by julle aangekom het.”
“Sy is bang sy gaan seerkry.”
“Sy maak nou haarself seer.”
“Ek weet.” Hy is nie van plan om haar verlede te onthul of sy vrou se
probleme te bespreek nie.
“Paul hou nie van haar nie. Dis deel daarvan. Sy is nie meer ’n prostituut
nie, maar sy verwag almal moet haar as een sien en so behandel.”
’n Geweldige woede oorval hom. “Het Paul dit vir jou vertel?”
Sy skud haar kop. “Sy het my die eerste nag vertel, en hard genoeg sodat
Mamma kon hoor.” Die trane wel in haar oë op. “Wat gaan ons omtrent haar
doen, Michael? Die manier waarop sy Ruthie vashou, breek my hart.”
Michael weet Miriam sal baie moet doen om John en Elizabeth te help
om hierdie plek aan die gang te kry. Hy kan haar nie vra om Amanda
gereeld te besoek sodat sy kan sien die gehegtheid was werklik en nie net ’n
kwessie van gerief nie. En die meisie sien Paul al klaar as ’n Griekse god
wat van Olimpus af kom ten spyte van sy foute. Hy weet ook dat Paul die
meisie aantreklik vind. Dis duidelik uit die berekende manier waarop hy
haar met opset vermy. Wat ook al gebeur, Miriam se lojaliteit gaan voor ’n
groot toets te staan kom.

John haal sy viool uit. Hierdie keer is dit geen rustige, hartseer gesange nie,
maar vrolike volksliedjies. Michael gryp Angel en swaai haar in die rondte.
Om in sy arms te wees, laat haar kop draai.
Angel se hart klop vervaard. Sy kan voel hoe sy bloos en waag dit nie
om na hom te kyk nie. Jacob dans met sy ma, terwyl Miriam en klein Ruth
om die oopte dans. John lig sy voet en stoot Andrew in sy suster Leah se
rigting. Paul hou almal dop van waar hy lui teen die huis se muur leun. Hy
lyk so eensaam dat Angel hom jammer kry.
“Dis die eerste keer dat ek met jou dans,” sê Michael.
“Ja,” sê sy uitasem. “Jy dans baie goed.”
“En dit verbaas jou.” Hy lag. “Ek kan ’n hele paar dinge baie goed
doen.” Hy trek haar stywer teen hom vas, en haar pols klop nog vinniger.
Jacob kom buig voor Angel, en Michael los haar met ’n grinnik. Sy kyk
oor die werf en hulle dans. Een kyk na Miriam en dis duidelik dat sy met
iemand anders as haar babasussie en jonger boers wil dans. Maar Michael
het met Elizabeth, Leah en Ruth gedans, net nie met Miriam nie. ’n
Onaangename sensasie kriewel op die krop van Angel se maag. Hoekom
vermy Michael vir Miriam? Is hy bang om te naby aan haar te kom? Toe hy
terugkom om haar van Jacob op te eis, trek sy haar hand weg. “Jy het nog
nie met Miriam gedans nie. Hoekom wil jy nie met haar dans nie?”
Hy frons liggies, gryp haar hand stewig vas en trek haar in sy arms.
“Paul sal dit hanteer.”
“Hy het nog met niemand gedans nie.”
“En hy sal ook nie dink dis nodig as ek dit doen nie. Ek is seker hy dink
aan Tessie. Hy het haar by ’n danspartytjie ontmoet. Hy sal gou besef jong
Miriam het ’n dansmaat nodig.”
Paul dans wel met Miriam, maar hy is styf en stuurs en praat omtrent nie
’n woord met haar nie. Miriam is duidelik verbaas. Die oomblik toe die
dans verby is, sê hy nag en gaan soek sy perd.
“Ons moet ook begin huiswaarts keer,” sê Michael.
Miriam omhels Angel en fluister. “Ek sal oor ’n paar dae oorkom om te
kom kuier. Miskien kan jy my dan vertel wat daardie man so pla.”
Angel lig Ruth op en hou haar styf vas terwyl sy haar sagte
babawangetjie en nekkie soen. “Totsiens, my skat. Soet wees.”
Michael lig Angel in die saal en swaai op agter haar. Sy arm hou haar
styf vas toe hulle in die maanlig huis toe ry. Nie een van hulle praat die hele
pad huis toe nie. Angel is pynlik bewus van sy liggaam teen hare en voel
verward oor die emosies wat dit in haar wakker maak. Sy wens sy kon
eerder stap.
Toe sy hul huisie deur die bome sien, is sy verlig. Michael spring af en
steek sy hande na haar uit. Sy leun na hom toe en plaas haar hande op sy
sterk skouers. Haar liggaam skuur liggies teen syne toe hy haar aftel, en sy
voel hoe die lewe deur haar are bruis: wild, verfrissend en onbekend.
“Dankie,” sê sy styf.
“Dis ’n plesier.” Hy grinnik en haar mond raak droog. Toe hy nie sy
hande van haar middel afhaal nie, klop haar hart al vinniger. “Jy was die
hele dag baie stil,” sê hy peinsend.
“Ek het niks om te sê nie.”
“Wat pla jou?” vra hy en stoot die dik vlegsel weg van haar skouer af.
“Niks nie.”
“Ons is nou weer alleen. Is dit dalk wat jou pla?” Hy tel haar ken op en
soen haar. Angel voel hoe sy diep binne-in smelt en haar knieë knak.
Michael lig sy kop op en raak liefdevol aan haar gesig. “Ek is nou-nou by
die huis.”
Sy druk haar hand teen haar bewende maag en kyk hoe hy die perd
weglei. Wat gaan aan met haar? Sy gaan in en begin vuur maak. Toe die
vuur aan die gang is, kyk sy rond om te sien wat anders sy kan doen om
haar gedagtes weg van Michael af te kry, maar alles is netjies. Elizabeth het
selfs die matras met vars strooi opgestop. Kruie hang van ’n dakbalk af en
vul die hut met hul soet, vars geur. Op die tafel staan ’n potjie
mosterdblomme, ongetwyfeld Ruth se handewerk.
Michael dra hul goed op sy skouers van die skuur af aan. “Nogal stil hier
rond sonder die Altmans, of wat praat ek alles?”
“Ja.”
“Jy sal Miriam en Ruth die meeste mis.” Hy sit die trommel terug in die
hoek. Sy buk voor die vuur. Hy sit sy hand op haar heupe en sy staan regop.
“Hulle is lief vir jou.”
Haar oë knip. “Kan ons liewer oor iets anders praat, asseblief?” vra sy en
beweeg weg van hom af.
Hy vat haar aan haar skouers. “Nee. Kom ons praat oor wat in jou
gedagtes aangaan.”
“Daar gaan niks in my gedagtes aan nie.” Hy wag, beslis nie tevrede nie,
en sy asem hygend in. “Ek het gewéét ek moenie geheg raak aan hulle nie.”
Sy stoot sy hande weg en trek haar tjalie styf om haar.
“Dink jy hulle het jou minder lief noudat hulle in hul eie plek bly?”
Sy gluur hom verdedigend aan. “Partykeer wens ek jy wil my net uitlos,
Michael. My net terugstuur na waar ek vandaan kom. Dit sal soveel
makliker wees.”
“Omdat jy nou vóél?”
“Ek het voorheen gevóél, en ek het daaroor gekom!”
“Jy is mal oor Miriam en daardie dogtertjie.”
“Nou wat daarvan?” Sy sal daaroor ook kom.
“Wat gaan jy doen as Ruth hier aankom met nog ’n potjie
mosterdblomme? Haar wegjaag?” vra hy kwaai. “Sy het ook gevoelens. En
Miriam ook.” Hy kan aan haar gesigsuitdrukking sien dat sy nie dink hulle
sal ooit weer kom nie. Hy neem haar in sy arms en hou haar daar selfs toe
hy voel hoe sy wegskram. “Ek het onophoudelik gebid dat jy moet leer
liefhê, en nou het jy. Behalwe dat jy op hulle verlief geraak het in plaas van
op my.” Hy lag saggies terwyl hy met homself spot. “Daar was tye dat ek
gewens het ek het hulle nooit hierheen gebring nie. Ek is jaloers.”
Haar wange gloei, en sy kan haar hart nie tot bedaring bring nie, maak
nie saak hoe hard sy probeer nie. As hy moet weet hoeveel mag hy oor haar
het, wat sal hy daarmee doen? “Ek wil nie op jou verlief raak nie,” sê sy en
stoot hom weg.
“Hoekom nie?”
“Want jy sal dit uiteindelik teen my gebruik.” Sy kan sien sy het hom
kwaad gemaak.
“Hoe?”
“Ek weet nie. Die waarheid is dat jy dalk nie eens sal besef jy doen dit
nie.”
“Van wie se waarheid praat ons hier? Duke s’n? Die waarheid bevry ’n
mens. Was jy ooit vry by hom? Selfs vir ’n minuut? Hy het jou kop vol
leuens gemaak.”
“En wat van my pa?”
“Jou pa was selfsugtig en wreed. Dit beteken nie alle mans in die wêreld
is soos hy nie.”
“Alle mans wat ek nog ooit geken het, is.”
“Sluit dit my in? En wat van John Altman? Wat van Joseph Hochschild
en duisende ander?”
Haar gesig vertrek van pyn.
Hy sien hoe sy gepynig word en versag. “Jy is net ’n voëltjie wat sy lewe
lank in ’n hok was. Nou skielik is al die mure weg en jy is vry om te maak
wat jy wil. Jy is só bang dat jy enige manier soek om terug in daardie hok te
kom.” Hy kan die emosies oor haar bleek gesig sien flits. “Wat jy ook al
nou wil glo, Amanda, dis nie veiliger daar nie. Selfs al sou jy nou probeer
teruggaan, dink ek nie jy sal weer op daardie manier kan oorleef nie.”
Hy is reg. Sy weet hy is. Sy kon dit nie meer verduur nog voordat
Michael haar kom haal het nie. Maar aan die ander kant, om hier te wees,
bied geen versekering nie.
Wat as sy nie kan vlieg nie?
Een en twintig

Soos ’n wildsbok smag na water,


so smag ek na U, o God.
Psalm 42:2

Die grond ontwaak met die koms van die lente. Die heuwels is vol pers,
geel, rooi en wit blomme. Angel voel iets vreemds in haar ook roer. Sy voel
dit vir die eerste keer toe sy na Michael kyk terwyl hy die grond in die
groentetuin omspit. Die beweging van sy spiere onder sy hemp stuur ’n
warm gevoel deur haar. Hy hoef net na haar te kyk, en haar mond word
kurkdroog.
Snags lê hulle langs mekaar en raak skaars aan mekaar. Die atmosfeer is
gespanne en stil. Sy kan die afstand voel wat hy tussen hulle gesit het en eer
dit. “Dit raak al moeiliker,” sê hy kripties, en sy vra nie wat hy daarmee
bedoel nie.
Haar alleenheid word ook meer. Dit het met Michael te doen, en die pyn
raak net erger, nie beter nie. Soms wanneer hy saans klaar gelees het en
opkyk, kan sy skaars asem kry as sy die uitdrukking in sy oë sien. Haar hart
raak wild aan die klop en sy kyk weg, bang dat hy die diep verlange in haar
sal raaksien. Haar hele lyf basuin dit uit. Dit sing binne-in haar soos ’n
harde koor en maak haar kop vol met gedagtes van hom. Sy kan skaars
praat wanneer hy haar ’n eenvoudige vraag vra.
Duke sou gelag het. “Die liefde is ’n strik, Angel. Bly maar eerder by
plesier. Dit vra nie enige groot verbintenisse nie.”
Sy begin wonder of Michael nie haar antwoord op alles is nie. Hoe meer
sy daaraan dink, hoe banger word sy. Wanneer hy snags in sy slaap na haar
toe omdraai en sy sterk liggaam aan haar raak, onthou sy hoe hy altyd met
haar liefde gemaak het – met vreugdevolle oorgawe terwyl hy haar liggaam
ontdek soos die grond wat hy besit. Toe het sy niks gevoel nie. Nou laat die
ligste aanraking haar kop draai. Sý drome is besig om háár drome te word.
Michael laat emosies elke dag ’n bietjie meer wys, maar sy is in vrees
gevries. Hoekom kan hulle dinge nie los soos wat dit was nie? Haar laat bly
soos sy nóú is: in haarself gekeer. Dinge laat bly soos wat dit tot nou toe
was. Maar Michael gee nie moed op nie en gaan meedoënloos liefdevol aan
om haar te druk, en sy hou uit vrees alles terug wat sy het, want al wat sy
kan sien, is ’n groot onbekende.
Ek kan hom nie liefhê nie. O, asseblief, ek kan nie!
Sy kan nie meer as haar ma wees nie, en Mae kon dit nie regkry om Alex
Stafford se liefde te behou nie. Al haar liefde was nie eens genoeg om te
keer dat hy soos die wind uit haar lewe gery het nie. Angel sien nou nog sy
donker gestalte, met die mantel in die lug, soos hy in die pad af galop en uit
haar ma se lewe uit. Sy wonder of hy ooit self vir haar ma kom sê het om
haar goed te pak en te maak dat sy wegkom. Of het hy dit aan daardie jong
dienskneg van hom oorgelaat om sy vuilwerk vir hom te doen? Sy weet nie.
Mamma het nooit gesê nie, en sy het nooit gevra nie. Alex Stafford was
heilige grond waaroor Angel nooit sou waag om te loop nie. Net Mamma
het ooit sy naam genoem, en net wanneer sy dronk en terneergedruk was.
En dit was altyd soos sout in ’n rou wond. “Hoekom het Alex my gelos?”
het Mamma gehuil. “Hoekom? Ek verstaan dit nie. Hoekom?”
Mamma se hartseer was so groot, maar haar skuldgevoelens was nog
erger. Sy het nooit oor dit gekom wat sy moes opgee om liefde te hê nie. Sy
het nooit oor hóm gekom nie.
Maar ek het hom in eie munt terugbetaal, Mamma. Kan Mamma hoor
daar waar Mamma is? Ek het hom vernietig net soos hy Mamma vernietig
het. O, die uitdrukking op sy gesig.
Angel bedek haar eie gesig.
Mamma was so pragtig en perfek. Mamma was so toegewyd. Het
Mamma se bidkrale ooit gehelp? Het hoop? Die liefde het vir Mamma net
pyn besorg. En dit is besig om dieselfde aan my te doen.
Angel het gesweer sy sal nooit iemand liefhê nie, en nou is dit tog besig
om te gebeur. Die roeringe in haar groei teen haar wil en beur deur die
duisternis van haar verstand na die oppervlak. Soos ’n saailing wat die lig
van die lenteson soek, is dit besig om te groei. Miriam, klein Ruth,
Elizabeth. En nou Michael. Elke keer wat sy na hom kyk, steek hy ’n mes
in haar hart. Sy wil die nuwe gevoelens vernietig, maar dit kom nog steeds
en is stadig besig om hul pad boontoe te vind.
Duke was reg. Dit is bedrieglik. Dit is ’n lokval. Dit groei soos ’n klimop
en forseer ’n pad in die kleinste krakies van haar verdedigingsmeganismes
en uiteindelik sal dit haar verwoes. As sy dit toelaat. As sy dit nie nou
doodmaak nie.
Daar is nog een manier waarop jy hieruit kan kom, gee die donker
stem raad. Vertel hom van die ergste ding wat jy nog ooit gedoen het.
Vertel hom van jou pa. Dit sal hom vergiftig. Dit sal ’n einde maak aan
die pyn wat in jou groei.
Sy besluit om alles aan hom te bely. Sodra Michael alles weet, sal dit
verby wees. Die waarheid sal so ’n groot wig tussen hulle indryf dat sy vir
altyd veilig sal wees.
Michael is besig om hout te kap toe sy hom kry. Hy het sy hemp
uitgetrek, en sy hou hom stil dop terwyl hy werk. Sy breë rug is al bruin
gebrand en spiere beweeg onder die goue vel. Hy is krag en skoonheid en
majesteit waar hy die byl met ’n wye boog swaai en dit hard op die stomp
neerslaan, wat netjies in twee verdeel. Die twee helftes val met ’n slag van
die blok af. Hy buk af om nog ’n stomp op die blok te sit, en sien haar raak.
“Môre,” sê hy glimlaggend. Haar maag fladder. Hy lyk bly en verbaas
om te sien dat sy hom dophou.
Hoekom doen ek dit?
Omdat jou lewe een groot leuen is. As hy alles moet weet, sal hy jou
verafsku en uitskop.
Daar is geen rede waarom hy moet weet nie.
Sal jy dit verkies dat iemand anders hom vertel? Dit sal baie erger
wees.
“Ek moet met jou praat,” sê sy flou. Al wat sy kan hoor, is die gebons
van haar hart in haar ore en daardie stem wat haar aanhits.
Michael frons effens. Sy is gespanne en vroetel met ’n naat in haar romp.
“Ek luister.”
Angel voel warm en koud oor haar hele lyf. Sy moet dit doen.
Ja. Doen dit, Angel.
Sy móét dit doen. Haar hande is klam. Michael haal sy sakdoek uit sy
sak en vee die sweet van sy gesig af. Hy kyk na haar, en haar hart voel
swaar.
Ek kan dit nie doen nie.
Ja, jy kan.
Ek wil nie.
Dwaas! Wil jy dieselfde pad as jou ma loop?
Michael kyk aandagtig na haar. Sy lyk bleek en klein druppeltjies sweet
slaan op haar voorkop uit. “Wat is fout? Is jy siek?”
Vertel hom en kry dit agter die rug, Angel! Dis tog wat jy wil hê dat
hy jou nou laat gaan terwyl jy dit nog kan verduur. As jy wag, sal dit
net seerder maak. Hy sal jou hart uitsny en dit vir aandete opkerf.
“Ek het jou nog nie die ergste vertel van dit wat ek al gedoen het nie.”
Sy skouers verstyf. “Dis nie nodig om alles te bely nie. Nie aan my nie.”
“Jy moet weet. Jy is my man.”
“Jou verlede is jou eie besigheid.”
“Dink jy nie jy behoort te weet watter soort meisie saam met jou bly
nie?”
“Hoekom val jy aan, Amanda?”
“Ek val nie aan nie. Ek is net éérlik.”
“Jy probeer my weer wegstoot. Hard wegstoot.”
“Jy behoort te weet dat ... ”
“Ek wil nie weet nie!”
“ ... ek met my eie pa seks gehad het.”
Michael snak na sy asem asof sy hom in die maag geskop het. Vir ’n
lang oomblik staar hy na haar en ’n spier spring in sy wang. “Ek dog jy het
gesê hy het uit jou lewe verdwyn toe jy omtrent drie was.”
“Hy het. Hy het later weer toe ek sestien was sy verskyning gemaak.”
Michael is naar. God. God! Is daar ’n sonde wat hierdie vrou nog nie
gedoen het nie?
Nee.
En U vra dat ek haar moet liefhê?
Soos Ek jou nog altyd liefgehad het.
Hoekom het sy dit gedoen? Hoekom kan sy nie net sommige laste vir
haarself hou nie? “Laat dit jou beter voel om dit in my gesig te gooi?”
“Nie baie nie,” sê sy afsydig. Sy draai om en begin huis toe stap, sy voel
behoorlik naar. Wel, dis afgehandel. Klaar. Sy wil wegkruip. Haar treë raak
langer. Sy sal ’n paar goedjies pak en gereed maak om te gaan.
Michael bewe van woede. Die sprokie is verby. Die storm het hulle
getref.
Soos Ek jou nog altyd liefgehad het, Michael. Sewentig maal sewe.
’n Kreet kom uit sy mond en Michael laat sink die byl diep in die blok
in. Hy staan vir ’n lang ruk en haal swaar asem. Toe gryp hy sy hemp en
trek dit aan terwyl hy met lang treë huis toe stap. Hy klap die deur oop en
sien hoe sy goed uit die laaikas haal wat hy vir haar gemaak het nadat die
Altmans weg is.
“Moenie nou ophou nie, Amanda. Vertel my alles wat jy gedoen het. Kry
dit van jou rug af. Gooi dit op my. Laat ek die aaklige besonderhede hoor.”
Michael, geliefde.
Nee! Op hierdie oomblik luister ek nie na U nie! Ek wil nou vir eens en
vir altyd weet waar ek met haar staan!
Sy hou nie op waarmee sy besig is nie. Hy gryp haar arm en swaai haar
om. “Daar is nog, nie waar nie, Angel?”
Die naam is ’n klap in haar gesig. “Was dit nie genoeg nie?” sê sy in ’n
klein stemmetjie. “Of wil jy nog hoor?”
Hy sien die emosies wat sy so hard probeer wegsteek, maar selfs dit laat
hom nie bedaar nie. “Kom ons kry nou al die vieslike vuil wasgoed vir eens
en vir altyd oor en verby.”
Sy maak haar ergerlik uit sy greep los en aanvaar die uitdaging. “Goed.
As dit is wat jy wil hê! Daar was ’n kort tydjie wat ek gedink het ek is
verlief op Duke. Ongelooflik, nè? Dit het gelyk of my hele lewe van hom
afhang. Ek het hom alles vertel. Alles wat seermaak. Alles wat saak maak.
Ek het gedink hy kan alles regmaak.”
“En hy het sy kennis teen jou gebruik.”
“Goeie raaiskoot. Ek het nooit vir ’n oomblik gedink aan Duke se lewe
buite die herehuis of aan watter tipe mense sy vriende was nie. Nie tot hy
een huis toe gebring het wat hy wou hê ek moes ontmoet nie. ‘Wees gaaf
met hom, Angel. Hy is een van my oudste en kosbaarste vriende.’ En daar
stap Alex Stafford binne. Toe ek na Duke kyk, kon ek sien hoe hy vir albei
van ons lag. Walglik, nè? Duke het gewéét hoe ek Stafford haat oor dit wat
hy aan my ma gedoen het. Hy wou net sien wat ek daaraan gaan doen.”
“Het jou pa geweet wie jy is?”
Angel gee ’n hartseer laggie. “My pa het net daar gestaan en my
aangekyk asof ek ’n spook is. En weet jy wat het hy gesê? Ek herinner hom
aan iemand wat hy vroeër geken het.”
“En toe?”
“Hy het gebly. Die hele nag.”
“Het jy vir ’n oomblik gedink ... ”
“Ek het gewéét wat ek doen, en ek het dit steeds gedoen! Verstaan jy nog
nie? Ek het my verlekker. Ek kon nie wag vir die oomblik dat ek hom vertel
wie ek is nie.” Sy kan nie langer vir hom kyk nie. Sy bewe onbedaarlik.
“Toe ek hom uiteindelik vertel, het ek hom ook vertel wat met Mamma
gebeur het.”
Michael se woede verdwyn. Sy bly so lank stil dat hy aan haar vat. “Wat
het hy gesê?”
Sy staan weg van hom af en sluk bedroef. Haar oë is groot en vol seer.
“Níks. Hy het niks gesê nie. Nie toe nie. Hy het net vir ’n lang ruk na my
gekyk. Toe het hy op die rand van die bed gaan sit en begin huil. Hy het
gehuil. Hy het soos ’n stukkende ou man gelyk. ‘Hoekom?’ het hy gevra.
‘Hoekom?’” Haar oë voel warm en kriewelrig. “En ek het vir hom gesê dis
presies wat Mamma altyd vir my gevra het. Hy het my gevra om hom te
vergewe, en ek het gesê hy kan hel toe vlieg.” Sy hou op met bewe en sy
voel koud van binne; dood. Toe sy na Michael opkyk, staan hy net doodstil
daar en kyk na haar en wag om nog te hoor.
“Weet jy wat nog?” sê sy emosieloos. “Hy het homself drie dae later
geskiet. Duke het gesê dis omdat hy vir almal geld geskuld het, selfs vir die
duiwel. Maar ek weet hoekom hy dit gedoen het.” Sy is skaam en maak
haar oë toe. “Ek wéét.”
“Ek is jammer,” sê Michael. Hoeveel nagmerries het sy nog diep in haar
opgesluit?
Sy kyk op na hom. “Dis die tweede keer dat jy jammer sê vir iets wat
niks met jou te doen het nie. Hoe kan jy nog na my kyk?”
“Net soos ek na myself kan kyk.”
Sy skud haar kop en trek haar tjalie styf om haar. “Nog iets,” sê sy. “Dit
gaan ’n verskil maak.” Michael staan soos ’n soldaat gereed vir die
slagveld. “Ek kan nie kinders hê nie. Ek het twee keer swanger geraak.
Albei kere het Duke die dokter laat kom om die baba te verwyder. Die
tweede keer het hy gesê die dokter moet seker maak dat ek nooit weer
swanger raak nie. Nooit, Michael. Verstaan jy?” Sy sien dat hy verstaan.
Hy staan verstom. Hy word eers warm en toe koud. Haar woorde was
soos ’n dolk in sy hart.
Sy sit haar hand oor haar gesig, want sy kan dit nie verduur om na sy
gesig te kyk nie.
“Enigiets anders?” vra hy sag.
“Nee,” sê sy en haar mond bewe. “Ek dink dis al.”
Vir ’n hele ruk beweeg Michael nie. Dan tel hy die rokke op wat sy
uitgehaal het. Hy druk dit terug in die laai en klap dit toe. Toe stap hy by die
deur uit.
Hy bly so lank weg dat sy na hom gaan soek om te vra wat hy wil hê sy
moet doen. Hy is nie op die landerye of in die skuur nie. Hy is ook nie by
die spruit nie. Sy wonder of hy na die Altmans toe is. Miskien het hy na
Paul toe oorgery om hom te gaan sê hy was reg oor haar; méér as reg.
Die perde is in die kamp.
Sy bly aan haar pa dink en word baie bang.
Sy probeer mooi dink en dink skielik aan die enigste ander plek
waarheen hy kon gaan. Sy trek ’n jas aan en haal ’n swaar kombers van die
bed af en stap aan na die heuwel waarheen hy haar gevat het om die
sonsopkoms te sien. Michael is daar. Hy sit met sy kop in sy hande en kyk
nie op toe sy by hom kom nie. Sy sit die kombers om sy skouers. “Wil jy hê
ek moet gaan? Ek ken nou die pad.” Daar kom selfs van tyd tot tyd koetse
verby. “Ek kan self die pad kry.”
“Nee,” sê hy hees.
Sy kyk na die sonsondergang. “Kry jy ooit die gevoel dat God besig is
om jou ’n aaklige grap met jou te maak?”
“Nee.”
“Hoekom, as jy Hom dan so liefhet, doen Hy so iets aan jou?”
“Ek vra Hom al baie lank.”
“En het Hy gesê hoekom?”
“Ek weet reeds.” Hy vat haar hand en trek haar af om langs hom te sit.
“Om my sterk te maak.”
“Jy is klaar sterk genoeg, Michael. Jy het dit nie nodig nie. Jy het mý nie
nodig nie.”
“Ek is nie sterk genoeg vir dit wat nog gaan kom nie.”
Sy is te bang om te vra wat hy bedoel. Toe sy ril, sit hy sy arm om haar.
“Hy het ons nie ’n hart vol vrees gegee nie,” sê hy. “Hy sal my wys hoe en
wanneer die tyd reg is.”
“Hoe kan jy so seker daarvan wees?”
“Omdat Hy nog altyd het.”
“Ek wens ek kon glo.” Die krieke en paddas lawaai plesierig rondom
hulle. Hoe kon sy ooit gedink het dis stil hier? “Ek kan soms nog my ma
hoor huil,” sê sy. “Snags, wanneer die boomtakke teen die ruite skuur, kan
ek hoor hoe haar bottel teen ’n glas klink en ek kan haar byna op daardie
deurmekaar bed sien sit en staar na niks. Reënerige dae was vir my die
lekkerste.”
“Hoekom?”
“Die mans het nie so gereeld gekom wanneer die weer sleg was nie.
Hulle het liewer iewers heen gegaan waar dit warm en beskut is en hulle hul
geld kon opdrink, soos Rab.” Sy vertel hom hoe sy blikkies in die stegie
bymekaargemaak het, hulle blink geskuur het en dan uitgepak het om die
druppels van die lekkende plafon op te vang. “My eie orkes.”
’n Briesie begin waai. Michael vee ’n moedswillige sliert hare uit haar
gesig en druk dit agter haar oor in. Sy is stil, leeg getap; hy is peinsend.
“Kom,” sê hy en staan op. Hy trek haar op en hou haar hand vas terwyl
hulle huis toe stap. Toe hulle by die hut instap, krap hy deur die laai vol
gereedskap. “Ek sal oor ’n rukkie terug wees. Ek wil net gou iets in die
skuur gaan doen.”
Sy begin aandete gereedmaak. Sy moet haarself besig hou sodat sy nie
tyd het om te dink nie. Michael is besig om spykers in die kant van die hut
se dak te hamer. Is hy besig om die plek om haar af te breek? Sy stap na die
deur toe terwyl sy haar hande afdroog en loer buitentoe. Hy is besig om
stukkies metaal, gereedskap, spykers en ’n ou hoefyster op te hang.
Hy klim van die leer af en trek sy hand oor die ry items. “Jou eie orkes,”
sê hy en glimlag vir haar. Sy kyk stomverbaas hoe hy die leer terugdra na
die skuur toe.
Sy gaan terug in die huis in en gaan sit omdat sy nie langer kan staan nie.
Sy het sy drome verwoes, en wat doen hy? Hy maak vir haar windklokkies.
Toe hy terugkom, skep sy vir hom aandete in. Ek het jou lief, Michael
Hosea. Ek het jou só lief dat ek kan doodgaan daarvan.
Die ligte windjie roer die windklokkies, en die aangename geluid vul die
hele hut. Sy kry ’n flou dankie uit. Dit lyk nie asof hy meer verwag nie. Toe
hy klaar geëet het, skep sy warm water uit die groot ysterpot oor die vuur
om die skottelgoed te was.
Michael vat haar pols en draai haar om na hom. “Los die skottelgoed.”
Toe hy haar hare begin losmaak, kan sy skaars asemhaal.
Sy bewe en voel skaam. Waar is haar kalmte, haar selfbeheersing? Hy is
besig om dit met sy sagtheid te vernietig.
Hy kam sy vingers deur haar hare en lig haar kop op. Hy kan die vrees in
haar oë sien. “Ek belowe om jou lief te hê en jou te koester, jou te eer en te
ondersteun in siekte en gesondheid, voorspoed en in teëspoed, in die slegte
wat ons dae kan verduister en in die goeie wat vir ons ’n lig op ons pad kan
wees. Tirsa, geliefde, ek belowe om in alle dinge aan jou getrou te bly tot
die dood toe. En selfs daarna, as dit God se wil is.”
Sy staar hom verbysterd aan, diep getref. “En wat het ek wat ek jou kan
belowe?”
Sy oë blink met tere humor. “Om gehoorsaam te wees?” Hy laat sak sy
mond op hare.
Toe hy haar soen, is Angel verlore in ’n wildernis van nuwe gevoelens.
Só het dit nog nooit gevoel nie; warm en wonderlik, opwindend en rég. Nie
een van die ou reëls is meer geldig nie. Sy vergeet alles wat sy ooit van
ander meesters geleer het. Sy is ’n droë stuk aarde wat die lentereën gulsig
indrink, ’n blom wat oopgaan in die son. Michael wéét en liefkoos haar met
lieftallige woorde wat oor haar vloei soos die soet balsem van Gilead wat
haar wonde genees. En sy vlieg, en Michael saam met haar, die hemelruim
in.
Toe hulle weer terug is op die aarde, glimlag Michael vir haar. “Jy huil.”
“Regtig?” Sy raak aan haar wang en voel ’n enkele traan.
“Moenie so na my kyk nie,” sê hy en soen haar. “Dis ’n goeie teken.”
Maar toe Michael die volgende oggend wakker word, is Angel weg.
Onderdanigheid
Twee en twintig

Moenie dink iets is onmoontlik net


omdat dit vir jou moeilik lyk nie.
Marcus Aurelius

Die geklingel van potte en panne aan die kant van Sam Teal se wa laat dink
Angel aan die windklokkies wat Michael vir haar opgehang het. Sy maak
haar oë toe en kan Michael se gesig voor haar sien. Geliefde. O, geliefde. Sy
kan haarself nie toelaat om aan hom te dink nie. Sy moet net vergeet. Dis
beter om te dink aan wat die liefde vir Mamma in die sak gebring het en om
haar kop reg te kry.
Die ou smous langs haar praat onophoudelik vandat hy haar teen
sonsopkoms langs die pad opgelaai het. Sy is dankbaar vir die spervuur. Hy
het niks van sy voorraad verkoop op sy reis na die berge nie. Sy kos is min
en die rumatiek pyn iets verskrikliks. Die beste ding wat die afgelope
maand met Sam Teal gebeur het, is toe hy ’n pragtige klein dingetjie soos sy
op ’n boomstomp langs die pad sien sit het. Sam is skoon en kaal geskeer
maar moeg en ineengekrimp. Die meeste van sy hare is nie meer daar nie.
Net soos sy vooruitsigte. Maar hy het goedhartige oë onder sy woeste grys
wenkbroue. So lank as wat sy na hom luister, hoef sy ten minste nie te dink
nie.
“Vir wie hardloop jy weg, juffrou?”
Sy druk ’n sliert los blonde hare uit haar gesig en dwing haarself om
ontwykend te glimlag. “Wat laat jou dink ek hardloop vir iemand weg?”
“Die manier waarop jy heeltyd oor jou skouer kyk. Jy het omtrent
benoud gelyk toe ek by jou aangekom het. Ek het gereken jy loop seker
maar van jou man af weg.”
“Hoe het jy geweet ek is getroud?”
“Jy dra ’n trouring.”
Sy maak haar hand vinnig toe en bloos. Sy het vergeet om die ring af te
haal. Sy draai dit om haar vinger en wonder hoe sy dit by Michael gaan
terugkry.
“Het hy jou mishandel?”
Michael sou nie eens daaraan dink nie. “Nee,” sê sy afsydig.
Hy gee haar ’n nuuskierige kyk. “Hy moes iets gedoen het om jou te laat
wegloop.”
Sy kyk weg. Wat kan sy sê? “Hy het gemaak dat ek op hom verlief
raak?”
As sy vir hierdie man moet vertel dat Michael haar nog nooit anders as
met die grootste goedhartigheid en dierbaarheid behandel het nie, sal hy
vrae begin vra. “Ek wil nie daaroor praat nie, meneer Teal.” Sy draai die
ring om en om haar vinger en wil begin huil.
“Sam. Noem my Sam, juffrou.”
“My naam is Angel.”
“Haal net die ring af en gooi dit weg as dit jou sal laat beter voel,” sê hy.
Sy sal dit nooit doen nie. Die ring het aan Michael se ma behoort. “Ek
kan dit nie afkry nie,” jok sy. Sy sal ’n manier moet kry om dit na hom toe
terug te stuur.
“Is jy op pad Sacramento toe?”
Sacramento is net so goed soos enige ander plek om ’n nuwe begin te
maak. “Ja.”
“Goed. Dis waarheen ek op pad is. Ek gaan nog by ’n paar mynkampe
langs die pad stop om te kyk of ek nie van my goed kan smous nie.” Hy
moedig die moeë perde aan. “Jy lyk baie moeg, juffrou. Waarom klim jy nie
agter in die wa en probeer slaap nie? Die bed vou van die kant af oop,” sê
hy. “Trek net daardie knip.”
Sy is heeltemal uitgeput en bedank hom vir die aanbod. Sy vou die bed
oop en krul daarop op, maar die slaap oorval haar nie. Die wa rol en hop
voort, en haar gedagtes tol. Sy dink heeltyd aan Michael. Hy sal nie kan
verstaan waarom sy weggeloop het nie, en hy sal kwaad wees. Sy is só
deurmekaar. Iets binne haar sê vir haar sy moet teruggaan en met Michael
gaan praat, hom vertel hoe sy voel. Sy weet ook dis gek om dit te doen. Het
Mamma nie haar emosies op Alex Stafford uitgestort nie? Het sy nie haar
liefde oor en oor aan hom verklaar nie? Al wat die liefde aan haar gedoen
het, was om haar trots te vernietig en haar te verneder.
Sy kan nie ophou dink aan laas nag nie. Om by Michael te wees, het haar
vol laat voel, nie leeg nie. Dit het rég gevoel in Michael se arms; ’n gevoel
dat dit presies is waar sy hoort.
Jou ma het net so oor Alex Stafford gevoel en kyk maar wat was die
uiteinde daarvan.
Sy kreun sag en krul stywer op.
As Sam Teal nie op daardie stadium verbygekom het nie, sou sy dalk
ingegee het en sou sy teruggedraai het. En sy sou aan Michael vasgeklou
het net soos wat haar ma aan haar pa vasgeklou het. Die een of ander tyd
sou Michael moeg geword het vir haar, net soos wat Alex Stafford vir haar
ma moeg geword het.
Sy het gedink afstand sal die pyn makliker maak, maar dit raak net al hoe
erger. Haar verstand en haar liggaam, alles in haar, smag na hom.
Hoekom het ek hom ooit ontmoet? Hoekom het hy ooit Pair-a-Dice toe
gekom? Hoekom moes hy in die straat gewees het toe ek daardie dag
verbygestap het? Hoekom het hy teruggekom na die bordeel toe nadat ek
hom van my af weggedryf het?
Sy kan nou nog sy oë sien, vol passie en teerheid. “Ek het jou lief,” het
hy gesê. “Wanneer gaan jy besef ek is aan jou verbind?”
“Hy het gesê hy het my lief,” het Mamma gehuil. “Hy het gesê hy sal my
altyd liefhê.”
Angel kan die trane voel kom en baklei daarteen. Goed. Sy het op
Michael verlief geraak en ’n traan gestort, maar sy was slim genoeg om
weg te gaan voordat dinge te erg begin word. Hierdie keer reis sy met meer
as net die klere aan haar lyf. Sy sal dit alles agter die rug kry. Sy sal
ooswaarts, weswaarts, noord of suid gaan. Net waarheen sy wil.
“Ek sal dit regkry,” fluister sy. “Ek sal dit op my eie regkry.”
Deur wat te doen? ’n Stem spot met haar.
“Iets. Ek sal iets vind om te doen.”
Natuurlik sal jy, Angel. Jy sal dít doen wat jy die beste doen.
“Ek sal ’n ander manier kry om ’n lewe te maak. Ek gaan dit nié weer
doen nie.”
Ja, jy sal. Wat anders kan jy doen? Was dit regtig só erg? Jy het kos
gehad en ’n dak oor jou kop, pragtige klere, bewondering ...
Die donker stem hou ritme met die vaste klop van die moeë perde se
hoewe op die stofpad. Toe sy uiteindelik aan die slaap raak, droom sy weer
van Duke. Hy doen alles wat hy altyd gedoen het en Michael is nie daar om
hom te keer nie.
Sam Teal maak haar wakker. Hy deel sy kos met haar en sê hulle is
amper by ’n kamp. “Ek gaan weer ’n keer probeer. As ek nie ’n paar van
hierdie goed verkoop nie, gaan ek bankrot wees sodra ek in Sacramento
kom. Al hierdie goed is aan my oorgedra. Ek kry nie ’n pennie as ek niks
verkoop nie. Miskien sal die Goeie Here dié keer aan my kant wees.”
Hy vat haar leë blikbord by haar en sy kyk hoe hy na die spruit toe stap
en dit daar was. Die Goeie Here het niks vir hierdie arme ou man gedoen
nie. Niks meer as wat hy al vir haar gedoen het nie. Sam Teal kry sy
goedjies bymekaar en pak dit terug op die wa. Hy staan langs die wa en
help haar soos ’n dame op.
“Jy moet binne-in wegkruip,” gee hy raad. “Party van hierdie jong mans
kan lelik opgewonde raak wanneer hulle ’n dame sien.” Hy glimlag skalks
en verskonend. “En ek is te oud om vir jou op te kom.”
Sy raak aan sy hand en klim agterin.
Hulle kom in die kamp aan en sy luister hoe Sam met sy ware smous.
Van die mans beledig hom en dryf die spot met sy wa en perde. Hulle maak
aaklige opmerkings oor sy goed. En nóg erger opmerkings oor hom. Maar
Sam is vasbeslote. Nog beledigings word na hom toe geslinger, maar hy
hou aan en sweer by die gehalte van die goed wat hy verkoop. Die mans
geniet dit om ’n bespotting van die ou man te maak. Sy kan aan Sam Teal se
stem hoor dat sy laaste hoop begin verdwyn. Sy weet hoe dit voel. Sy weet
hoe seer die siel kan kry.
“Niemand het meer as een pan hier nodig nie,” skree iemand. Nog een sê
Sam is ’n dwaas. Angel frons. Hy kan dalk dwaas wees, maar hy verdien dit
nie. Hy probeer maar net sy bes om ’n eerlike bestaan te maak.
Angel trek die gordyn weg en kom uit. Haar verskyning laat dadelik ’n
stilte oor die skare kom. “Wat doen jy?” fluister Sam. Hy lyk vreesbevange.
“Gaan terug binnetoe, juffrou. Dié kêrels is onbeskof.”
“Ek weet,” sê sy. “Gee daardie pan hier, Sam.”
“Jy kan hulle nie almal met daardie pan verwilder nie.”
“Gee vir my die pan.”
“Wat gaan jy daarmee doen?”
“Dit verkoop,” sê sy. Sy vat die pan by hom. “Gaan sit, Sam.”
Heel verbaas maak hy soos sy sê. Sy loop om hom en hou die pan in die
lug. Sy laat haar hand daaroor gly asof dit ’n vreeslike waardevolle item is.
“Menere, Sam ken sy handelsware, maar van kook weet hy nie baie nie.”
Sy glimlag effens en sien hoe hulle begin grinnik.
Party lag asof sy ’n lelike grap vertel. Sy praat oor hoender en kluitjies,
gebraaide pekelvark en sous, roereier en spek. Toe hulle monde omtrent
begin water, begin bespreek sy die noodsaaklikheid van ’n gehaltepan as ’n
mens ’n goeie ete wil voorsit. Sy praat van die goeie gietyster, die
verspreiding van hitte, hoe maklik die pan hanteer. Sam het alles reeds vir
hulle gesê, maar dié keer luister die mans aandagtig.
“Behalwe vir al die wonderlike geregte wat julle in hierdie pan kan
optower, het dit ook ander gebruike. Wanneer julle koeëls op is en julle jul
goed moet beskerm, het julle ’n wapen.” Sy swaai die pan kamma na ’n
man wat te naby aan haar kom. Die mans lag. Sy lag ook en moedig hulle
aan. “So, wat sê julle, menere? Het ek ’n koper?”
“Ja!” Van die mans begin vorentoe druk om nader aan haar te kom. Hulle
sal ’n ingeduikte blikkie by haar koop. ’n Geveg breek in die middel los.
Terwyl dit aan die gang is, vra sy vir Sam hoeveel hy vir die pan vra. Hy
noem ’n beskeie bedraggie. “O, ek dink ons kan beslis baie beter doen as
dít,” sê sy en wag tot die twee bakleiers uitmekaar gehaal is voor sy haar
prys noem. Iemand protesteer kliphard, wat die ander laat twyfel.
Angel glimlag en trek haar skouers op. Haar hele houding sê dit maak
glád nie aan haar saak of hulle iets koop of nie. Sy hang die pan terug aan
die kant van die wa en gaan sit. “Kom ons ry, Sam. Jy was verkeerd omtrent
hierdie mans. Hulle kan nie kwaliteit waardeer wanneer hulle dit sien nie.”
Sy mond hang oop. Verskeie mans protesteer. Sy kyk om na hulle. “Julle
sê ons pryse is te hoog. Ek sien regtig nie die nut daarvan om julle in iets te
probeer inpraat wat jul eie intelligensie vir julle behoort te sê noodsaaklik is
nie. Sam?” Sy gee die leisels vir hom aan. ’n Myner hou die perde se harnas
vas en sê sy moet ’n bietjie wag, hy wil ’n pan koop voordat sy vertrek.
Angel kom hom grasieus tegemoet en verkoop elke pan op die wa.
Die skare begin nie uitmekaar gaan voordat Sam die leisels optel en in
die pad afry uit die dorp uit nie. Hy grinnik en giggel van oor tot oor. “Jy
het ’n talent hiervoor, juffrou.”
“Wel, ek het iets,” sê sy droog. Dit gaan nie juis oor wát ’n mens sê nie,
maar hóé jy dit sê en die kyk in jou oë wanneer jy praat. Om ’n braaipan te
verkoop, is niks anders as om haarself te verkoop nie. En sy weet beslis hoe
om dit te doen.
Sy kook hul aandete terwyl Sam Teal sy goud tel. Sy gee vir hom sy kos
en gaan sit om te eet. Toe sy haar bord eenkant toe skuif, gooi hy iets na
haar toe. Sy vang dit, effens verward. “Wat is dit?” vra sy en kyk na die
leersakkie.
“Jou deel van dit wat ons vandag verdien het.”
Sy kyk verbaas op. “Maar dis jóú panne.”
“En hulle sou steeds aan my wa gehang het as jy nie iets daaraan gedoen
het nie. Jy het ’n kapitaalaandeel nodig. Nou het jy dit.” Hy vat ’n ekstra
kombers en gaan slaap onder die wa.
Toe dit begin lig word, is hulle weer op pad Sacramento toe. Teen die
middag van die tweede dag kom hulle daar aan. Daar is ’n resies aan die
gang, en Sam kry dit net betyds reg om sy wa uit die pad te kry toe drie
ruiters verbyjaag. Ná hulle vul die strate op met waens en mans. Angel kan
sien dat geboue oral begin verskyn. Die klank van hamers en bewegende
houtwaens hang in die lug.
“Eers was daar die brand,” sê Sam toe hy die wa in die verkeer trek.
“Toe die vloed. Die meeste van die geboue onder by die rivier is tot niet.”
Hy klap die leisels. “Het jy familie hier?” vra hy.
“Vriende,” antwoord Angel vaag en maak asof sy belangstel in die
geroesemoes.
“Kan ek jou op ’n spesifieke plek aflaai?” vra Sam, duidelik bekommerd
oor haar.
“Nee, enige plek sal goed wees. Ek sal my pad kry. Sam, moenie oor my
bekommerd wees nie. Ek kan na myself omsien.”
Sam hou voor ’n groot ysterwarewinkel stil. “Dis tot waar ek gaan.” Hy
help haar om af te klim en skud haar hand. “Ek bedank jou vir jou
geselskap, juffrou, en vir jou hulp by daardie laaste kamp. Ek dink my dae
op die pad is verby. Dis tyd dat ek agter ’n toonbank inklim. Miskien moet
ek ’n winkel oopmaak en vir my ’n paar oulike verkoopsdames kry.”
Angel wens hom alle sukses toe en maak dat sy vinnig wegkom. Sy loop
op die plankpad af en systap mans wat hulle hoede vir haar lig. Sy kyk vir
niemand nie. Haar kop is besig om uit te werk wat sy gaan doen noudat sy
in Sacramento is. Sy stap by ’n kroeg verby en die harde musiek laat haar
terugdink aan die Silver Dollar en die Palace. Dit voel soos ’n leeftyd
gelede, maar die herinnering bring dit nader as waarmee sy gemaklik voel.
Uiteindelik is sy naby die rivier. Die ironie daarvan laat haar bitter
glimlag. Het Mamma nie uiteindelik op die dokke beland nie? En hier is sy,
aangetrek deur die pier met die skepe wat inkom. Sy hou die mense dop wat
teen die loopplank afkom en kyk hoe die kratte afgelaai word.
Sy stap verder en sien hoe geboue al langs die straat opskiet om dié te
vervang wat in die vloed verwoes is. ’n Paar geboue is nog oop en doen
soos gewoonlik besigheid. Een is ’n groot kroeg. Angel weet as sy deur
daardie swaaideure stap, sal sy binne ’n uur in een van daardie boonste
kamers werk.
Sy drentel doelloos in die straat af. Wat gaan sy doen? Die goud wat Sam
Teal vir haar gegee het, is genoeg om haar ’n week of twee te hou. Maar
wat dan? Sy moet ’n manier kry om te kan oorleef, en die gedagte aan
prostitusie is ondraaglik.
Ek kan dit nie meer doen nie. Nie ná Michael nie.
Michael is net ’n man soos enige ander man.
Nee, nie naastenby soos die ander nie.
’n Lang man met donker hare kom by ’n winkel uit en haar hart
bokspring. Dis nie Michael nie, maar iemand anders met dieselfde velkleur
en liggaamsbou. Hy lag saam met ’n ander klompie mans terwyl hulle oor
die straat loop.
Sy moet net ophou om aan Michael te dink. Die eerste ding wat sy moet
doen, is om ’n blyplek te kry, maar alles wat sy sien, lyk te rof of te duur.
Haar gedagtes verraai haar aanhoudend en keer heeltyd terug na Michael.
Wat doen hy op hierdie oomblik? Is hy besig om na haar te soek, of het hy
moed opgegee en terug land toe gegaan om te gaan werk? Sy stap verby
nog ’n bordeel.
Komaan, Angel. Gaan in. Hulle sal vir jou sorg. Jy sal jou eie kamer
en kos hê.
Haar hande sweet. Dis laatmiddag en dit begin koud word. Hoe lank
dwaal sy al rond? Sy beweeg terug toe ’n man by die deur uitkom. Hy kyk
verbaas na haar. “Jammer, mevrou,” sê hy en lig sy hoed. Hy is onvas op sy
voete. “Jy behoort nie buite ’n plek soos hierdie rond te staan nie.”
“My man is hierbinne,” sê sy die eerste ding wat in haar kop kom net om
van hom ontslae te raak.
“Jou man?” Hy bekyk haar op en af en skud sy kop. “Wat maak hy
daarbinne met iemand soos jý by die huis? Wat is sy naam?”
“Sy naam? O, Charles.” Die oomblik toe die man deur die swaaideure
verdwyn en teen die trap op begin roep na Charles wat nie bestaan nie,
maak sy dat sy wegkom. Sy loop oor die straat en stap vinnig in ’n systraat
op. Waar sy ook al loop, staar die mans na haar. Sy sien ’n nuut geverfde
bord Hochschild se Algemene Handelaar en loop reguit daarop af soos op
’n baken in die donker.
’n Mollige, ouerige vrou met ’n besem kom by die deur uit en begin die
trappe en plankpad vee. Sy werk fluks sonder ’n glimlag op haar gesig, vee
die vuilgoed in die straat en kap die besem teen die planke skoon. Sy kyk
vlugtig op toe Angel die plankpad betree. “Mans,” mompel sy met ’n halwe
glimlag. “Kan nie eens ’n stewelskraper gebruik voordat hulle hul modder
in die winkel in trap nie.” Haar oë kom tot stilstand op die vasgebinde
bondel in Angel se hand. Angel knik verleë en stap by die winkel in. Sy
soek na Joseph, maar sy sien hom nêrens nie.
“Kan ek jou help om iets te kry?” vra die vrou wat nou net binnekant die
deur staan met die besem soos ’n geweer op rus.
“Reissakke” sê Angel. “’n Kleinerige een.”
“Net hier,” sê die vrou en lei haar na ’n rak teen die muur. “Hierdie een
is mooi.” Sy haal een af en gee dit vir Angel aan. ’n Frisgeboude
donkerkopvrou kom agter die gordyn uit en gaan sit ’n boks op die
toonbank neer. Sy vee die sweet van haar voorkop af. “Joseph!” roep sy
agtertoe. “Kan jy asseblief vir my daardie krat vorentoe bring? Dis vir my
te swaar om op te tel.”
Angel wens sy het nie hiernatoe gekom nie. Hoekom het sy nie daaraan
gedink voor sy hier ingestorm het nie? Joseph hou baie van Michael. Wat
sal hy daarvan sê dat sy weggeloop het op dié manier? Sy kan nie van hom
verwag om haar te help nie. En wie is hierdie vroue by hom? Het hy nie iets
gesê van sy ma wat gaan kom en vir hom ’n vrou saambring nie?
“Hou jy daarvan?” vra die vrou.
“Wat?” stotter Angel. Sy moet maak dat sy hier wegkom.
“Die reissak,” sê die vrou, nou nuuskierig.
“Ek het van plan verander.” Sy gee dit terug. Joseph kom met die krat
agter die gordyn uit en sien haar onmiddellik raak. Hy glimlag breed en sy
sien hoe hy vinnig rondkyk om te sien waar Michael is. Angel draai vinnig
om en begin na die deur toe stap, maar stamp teen die ouer vrou. “Ek is
jammer,” stotter sy en help die vrou om haar balans te herwin terwyl sy
verbyskuur.
“Angel! Waarheen gaan jy? Wag!”
Angel wag nie. Joseph gooi die krat neer, swaai hom oor die toonbank en
haal haar in. “Wag ’n bietjie,” sê hy en kry haar aan die skouer beet. “Wat
gaan aan?”
“Niks,” sê sy warm in die gesig. “Ek het na ’n reissak kom kyk.”
“Jy kan met liefde kyk. Waar’s Michael?”
Sy sluk swaar. “By die huis.”
Joseph frons. “Wat het gebeur?”
Sy lig haar ken. “Niks het gebeur nie.”
Sy ma kom staan by hulle. Sy het steeds die besem in haar hand. “Wie is
die jong vrou, Joseph?” Sy bekyk Angel met nuwe en afkeurende
belangstelling.
“’n Vriend se vrou,” sê hy sonder om sy oë van Angel weg te neem. Sy
wens hy wil ophou om haar so ondersoekend aan te kyk. Sy hand is ferm op
haar elmboog. “Kom sit hier oorkant en vertel vir my wat aangaan.” Hy
handel die bekendstellings vinnig af. “My vrou, Meribah, en my ma,
Rebeccah.”
“Wil jy ’n koppie koffie drink?” vra Meribah, en Joseph sê ja, dit sal
lekker wees. Hy beduie vir sy ma hy wil alleen wees en sy hou aan vee,
maar hou hulle ongemerk dop.
“Ek moes nie hiernatoe gekom het nie,” sê Angel.
“Weet Michael waar jy is?”
“Natuurlik weet hy,” vertel sy ’n leuen.
“So,” sê hy en in daardie een woord lê verskeie betekenisse opgesluit.
Hy gaan sit op ’n balie, maar hou steeds haar arm vas. “Jy het hom gelos,
nè?”
Sy wikkel haar arm los en staan op uit selfverdediging. “Dit het nie
uitgewerk nie.”
“Nie?” Hy sê vir ’n lang ruk niks. “Dit is seker nie heeltemal onverwags
nie, maar dis ’n jammerte.”
Haar uitdagendheid word minder. “Het jy enige idee wat ’n
gerehabiliteerde straatvrou in hierdie dorp vir ’n bestaan kan doen?” vra sy
onverskillig en glimlag haar ou, geoefende glimlag. Hy frons, en sy wonder
of hy bang is dat sy vir hom geld gaan vra. “Vergeet daarvan,” sê sy vinnig.
“’n Flou grappie.” Sy staan op. “Ek moet gaan.”
Hy sit weer sy hand op haar arm. “Sit, Meribah is op pad met die
skinkbord.” Sy vrou gee vir haar ’n koppie koffie aan. Angel se hande bewe
toe sy dit vat. Sy probeer haarself kalmeer en kan voel hoe Joseph haar
bestudeer. Meribah vra of sy ’n stukkie koek wil hê. Angel sê nee dankie.
Joseph se ma het klaar gevee en kom sluit by hulle aan. Angel wens sy het
nooit haar voete in dié plek gesit nie. Onder die sensuur van drie paar oë
voel sy hoe haar selfvertroue afneem. Hulle praat oor die vloed en hoe hulle
die winkel moes herbou en nuwe voorraad moes aankoop. Hoewel hulle nie
persoonlike vrae vra nie, kan sy hul ondersoekende kyke aanvoel.
’n Klant kom in en Meribah gaan help hom. Nog een kom in, en
Rebeccah verskoon haarself toe sy sien Joseph is nie van plan om hom te
gaan help nie.
“Het jy slaapplek?”
“Nog nie,” sê Angel. Sy lig haar ken. “Maar dit behoort nie te moeilik te
wees nie.”
“Jy bly net hier,” sê hy. Sy lyk gedaan.
“Wat sal jou ma en vrou daarvan sê?” vra sy, onbewus van die klein-
dogtertjie-wat-verdwaal-het-uitdrukking in haar oë.
“Hulle sal meer wonder as ek jou laat gaan sonder dat jy ’n blyplek het.
Ons kan jou nie luukse huisvesting aanbied nie, maar kan vir jou ’n skoon
bed en behoorlike kos gee. Hoe klink dit?”
Sy byt op haar lip en kyk na die twee vroue.
Hy klap sy hande op sy bobene en staan op. “Hulle sal nie omgee nie.”
En selfs al sou hulle, sal hy sorg dat hulle hul bedenkinge vir hulleself hou.
Dis laat genoeg dat hy die winkel ’n bietjie vroeër as gewoonlik kan sluit.
Angel sit by hulle aan by die boonste eetkamer se tafel. Sy krap haar kos
op haar bord rond en maak asof sy eet, maar sy het geen eetlus nie. Meribah
en Rebeccah vra nie direkte vrae nie, maar sy kan voel hulle brand van
nuuskierigheid. Toe Meribah die tafel afdek, staan Angel op om ’n handjie
by te sit. Net toe sy by die deur uit is, begin Joseph en sy ma saggies maar
kwaai praat. Hulle bly stil toe sy terugkom om die res van die borde af te
dek. Sy stop vir ’n rukkie terwyl sy die borde opmekaarsit.
“Ek hoef nie langer as vannag te bly nie,” sê sy. “As dit moeilikheid
tussen julle gaan maak, sal ek môre-oggend vroeg weg wees.”
“Jy sal bly so lank as wat Joseph sê jy moet bly,” sê Rebeccah in ’n
stemtoon wat dit duidelik maak dat sy geen teëpratery sal duld nie. “Hy
gaan jou bed onder langs die houtstoof sit. Jy sal lekker warm wees daar.”
Joseph kry haar bed gereed. Hy kom terug boontoe en sê vir Meribah hy
gaan vir ’n rukkie uit en sal oor ’n paar uur terug wees. Meribah lyk
verbaas, maar sy bevraagteken hom nie. “Hy gaan nooit saans uit nie,” sê sy
toe hy die deur agter hom toemaak. Sy begin met haar borduurwerk.
“Besigheid,” sê Rebeccah wat vinnig sit en brei.
Angel sit by die twee vroue in die sitkamer. Die enigste geluide is die
getik van die horlosie en die geluid van Rebeccah se breipenne.
“As julle nie omgee nie, gaan ek maar slaap,” sê Angel uiteindelik.
Rebeccah knik instemmend. Angel maak die deur agter haar toe en wag ’n
rukkie. Die twee vroue begin in alle erns gesels. Heel waarskynlik oor haar.
Sy loop met die trap af en gaan lê in die donker op die bed. Sy slaap sleg en
droom van Duke.
Teen die oggend kom Rebeccah ondertoe. Angel word wakker en trek
vinnig aan. “Dit lyk nie of jy goed geslaap het nie,” sê Rebeccah terwyl sy
kyk hoe Angel haar goed bymekaarkry.
“Alles was reg. Dankie dat ek gisteraand hier kon bly.” Sy vou die
komberse op, slaan die bed af en bêre dit in die ruimte tussen die rakke. Sy
kan voel hoe Rebeccah se donker oë haar dophou.
“Joseph sê jy soek werk,” sê Rebeccah. “Ons het baie werk vir jou hier.”
Angel staan verras regop en kyk na haar. “Vra jy my om vir julle te
werk?”
Rebeccah rek haar uit. “Tensy jy iets beters in gedagte gehad het.”
“O nee. Glad nie,” sê Angel vinnig. “Wat wil jy hê moet ek doen?”
Rebeccah gee dadelik vir haar ’n lysie.
Angel was vensters en vee die winkel uit. Sy pak blikkieskos uit en vou
rooi flenniehemde op. Sodra mans haar nader, hanteer Rebeccah en
Meribah dit en beantwoord hul vrae en wys vir hulle wat beskikbaar is.
Rebeccah vra haar om bokse van die pakkamer af in te dra en die rakke
agter die toonbank vol te pak. Angel werk hard, rus vir middagete, en gaan
weer aan tot Joseph ná sononder die deur toemaak en sluit.
Tydens aandete gee Rebeccah vir haar ’n koevert. “Jou betaling,” sê sy
net. Angel knip haar oë en voel hoe haar keel toetrek. Sy kyk na Joseph en
Meribah en dan weer na Rebeccah. Rebeccah knik vir haar seun. “Sy is ’n
goeie werker.” Angel laat haar kop sak en kan nie ’n woord uitkry nie.
Rebeccah sit ’n bak aartappels voor haar neer. “Eet. Jy kort ’n bietjie vleis
aan jou bene.”
Later daardie aand sit Angel op haar bed by ’n lantern en tel haar geld. In
die Palace het sy in ’n halfuur meer verdien, maar sy het nog nooit so skoon
en trots gevoel nie.
Die volgende dag vra Rebeccah haar om boontjies in vyfpondsakke af te
weeg en hulle dan toe te bind en op mekaar te stapel. Toe sy daarmee klaar
is, stryk Angel die rolle materiaal glad en laat hulle regop staan in plaas
daarvan om dit bo-op mekaar te pak.
Meribah kom kyk en sê die uitstalling lyk baie mooi en dit sal nou baie
makliker wees om die rolle te hanteer. “Joseph het so pas ’n besending
badkuipe ingekry. Kan jy my help om dit in te bring? Ons kan dit in die
agterste hoek opmekaar pak.” Elke dag gee Rebeccah vir haar take om te
doen, en elke aand wanneer die deur gesluit en die TOE-bordjie opgehang
is, betaal sy haar.
“Kyk wat het nou net hier aangekom,” sê Joseph en tik op ’n krat.
Angel sit haar besem neer en druk ’n paar slierte hare onder die serp om
haar kop in. “Wat is dit?”
“Michael se stoof.”
Haar hart klop in haar keel by die aanhoor van sy naam. “Ek moet klaar
vee,” sê sy. Joseph hou haar vir ’n lang ruk dop en gaan dan voort met sy
eie werk.
Tydens aandete is Angel stil. Die oomblik toe die tafel afgedek en die
skottelgoed skoon is, maak sy verskoning. ’n Rukkie later kom Meribah
ondertoe. “Joseph en Rebeccah is besig met die boeke,” sê sy. Sy huiwer.
“Jy het amper niks geëet nie. Voel jy oukei?”
“Ek is piekfyn.” Angel kan nie vir Michael uit haar gedagtes kry nie.
Solank sy werk en aan die gang is, kan sy die verlange onderdruk. Sy kyk
na die groot krat teen die muur. Joseph sal ’n boodskap stuur en dan sal
Michael sy stoof kom haal.
Ek moet weg wees voor hy hier kom.
Meribah sit op ’n boks en maak haar hande by die houtstoof warm. “Jy
dink daaraan om weg te gaan, nie waar nie?”
Angel kyk op. “Ja.”
“Is jy nie gelukkig met die werk nie?”
“Dis nie die werk nie. Dis ... ” Wat kan sy sê? Sy sug en knik in die krat
se rigting. “Michael se stoof. Hy sal dit binnekort kom haal.”
“En jy wil hom nie sien nie?”
“Ek kan nie.”
“Was dit só erg?”
Dit was só wonderlik. Té wonderlik om te hou. “Dis net beter as ek hom
nie sien nie.”
“Waarheen sal jy gaan?”
Sy trek haar skouers op. “San Francisco. Ek weet nie. Dit maak nie
eintlik saak nie.”
Meribah vou haar hande op haar skoot. “Joseph dink baie van jou man.”
Angel knik en kyk weg. “Ek weet.” Sy naam alleen wek soveel
gevoelens in haar. Sy het gedink die verlange sal verdwyn. Sy is nou al drie
weke van hom af weg en smag nou meer na hom as die nag toe sy weg is.
“Ek was voorheen getroud,” sê Meribah. “Met ’n baie moeilike man. My
ma is dood toe ek baie jonk was, en my pa wou toesien dat ek versorg is
voordat hy nie meer daar is nie. Hy het vir my ’n man gekies wat gelyk het
asof hy vooruitstrewend en goedhartig is. My man was ongelukkig nie een
van die twee nie. Ek het gebid dat God my van hom moet bevry. En Hy
het.” Sy bly ’n rukkie stil. “Toe het ek geleer hoe swaar die lewe ’n vrou op
haar eie kan behandel.”
“Ek is my lewe lank al alleen,” sê Angel eenvoudig.
“As jou man net die helfte van die man is wat Joseph dink hy is, behoort
jy terug te gaan en dinge met hom uit te sorteer.”
Angel retireer. “Moenie met ‘behoort’ by my aankom nie,” sê sy op haar
perdjie. “Jy weet níks van my lewe af of waar ek al oral was nie.” Meribah
is vir ’n lang ruk doodstil, en Angel is spyt sy was so onbeskof.
“Jy is reg,” sê Meribah uiteindelik. “Ek ken nie al die omstandighede
nie. Ek weet maar net die bietjie wat Joseph my vertel het.”
“Wat het hy jou vertel?” vra Angel en kan die brose klank in haar stem
hoor, maar kan dit nie wegkry nie.
Meribah voel bekommerd en kyk hartseer na haar. “Dat jou man jou uit
’n bordeel kom haal het. Hy het op jou verlief geraak die eerste keer wat hy
jou gesien het en het jou waarskynlik steeds lief.”
Haar woorde stuur ’n groot pyn deur Angel. “Liefde hou nie vir altyd
nie.” Sy is nie bewus van hoeveel haar bleek gesig wys nie.
Meriba se gesig versag. “Partykeer hou dit wel. As dit die regte soort
liefde is.”
Nadat Meribah weer boontoe is, lê Angel in die donker en dink aan dit
wat sy gesê het.
Mamma het hard gewerk om Alex Stafford se liefde aan die gang te hou.
Sy het alles probeer om hom te plesier en sy passie aan die gang te hou.
Angel wonder nou of dit nie juis daardie einste pogings is wat hom
uiteindelik weggedryf het nie. Mamma was so uitgehonger vir sy liefde.
Haar hele lewe het gedraai om Alex Stafford se besoeke aan die kothuisie.
Haar geluk het nét van hom afgehang. Dit was ’n obsessie.
Hoe is wat sy vir Michael voel enigsins anders? Sy kan nie ophou om
aan hom te dink nie. Haar hart smag daarna om net by hom te wees, om sy
stem te hoor, om te sien hoe sy oë ophelder wanneer hy na haar kyk. Haar
liggaam hunker na hom, na sy warmte en sy aanraking. Haar emosies is
deurmekaar.
Die volgende oggend sê sy vir Joseph dat sy nie langer gaan bly nie. “Jy
kan nie gaan nie,” sê hy, duidelik baie kwaad vir haar. “Meribah het
gisteraand haar rug seergemaak. Sê vir haar, Meribah.” Meribah lyk
verward. “Jy kan dit maar erken,” sê hy vir haar. Sy maak haar hand oop.
“Sien jy?” sê Joseph. “En ek het ’n besending in die agterplaas. Ek kan dit
nie alleen op die tafel gepak kry nie.”
“Goed, Joseph,” gee Angel in, “maar sodra dit afgehandel is, moet ek
weggaan.”
Sy spring dadelik aan die werk, haastig om klaar te maak en weg te kom.
Joseph hou aan sê sy moet dit rustig vat; hy’t nie nóg ’n vrou met ’n seer
rug nodig nie. Toe hulle vir middagete stop, eet hy so stadig dat dit Angel
tot raserny dryf. Sy staan op om weer te begin werk, maar hy sê sy moet sit
en haar koffie klaar drink. As hy so graag sy goed uitgepak wil kry, hoekom
mors hy so baie tyd? En dit lyk nie asof daar enigiets met Meribah se rug
fout is toe sy opstaan en die swaar bord van die tafel afdra nie.
Toe hulle uiteindelik weer begin werk, sê hy hy het van plan verander en
wil nie meer die lanterns hê waar hy hulle gesit het nie. Hy vra of sy hom
kan help om hulle na die ander kant van die winkel te dra. Die goed op die
tafel waar hy nou die lanterns wil hê, moet eers geskuif word. Sy maak soos
hy sê en raak al hoe meer gespanne soos die dag verloop.
Maak dat jy wegkom, Angel. Nou.
Maar sy bly en werk saam met Joseph om klaar te maak wat hulle begin
het, al verander hy elke halfuur van plan. Wat is vandag fout met hom?
Joseph sit sy hand op haar skouer. “Dis genoeg vir vandag. Hoekom sluit
jy nie die winkel vir ons nie?”
“Is dit nie ’n bietjie vroeg nie?”
“Dis laat genoeg,” sê hy en glimlag. Hy beduie vir Meribah en sy ma om
te kom, en hulle verdwyn saam met hom agter die gordyn in. Angel frons
en draai om.
Michael staan in die oop deur.
Drie en twintig

My beminde, alles aan jou is mooi.


Daar is geen fout aan jou nie.
Hooglied 4:7

Angel versteen van die skok toe Michael na haar toe loop. Hy is vaal van
die stof, sy gesig vol diep lyne en grimmig. “Joseph het laat weet jy’s hier.”
Haar hart klop wild. “Hoekom het jy gekom?”
“Om jou huis toe te vat.”
Sy probeer van hom af wegkom. “Ek wil nie teruggaan nie,” sê sy. Sy
probeer ferm en traak-my-nie-agtig klink, maar klink presies na die
teenoorgestelde soos wat haar stem bewe.
Hy kom al nader. Sy stamp teen ’n tafel vol stewels en ’n hele paar val
op die vloer. “Ek het gewéét jy sal nie teruggaan Pair-a-Dice toe nie,” sê hy.
Sy vat aan die tafel agter haar as ondersteuning. “Wat het jou so seker
van jou saak gemaak?” vra sy. Hy antwoord nie. Sy kan nie die uitdrukking
in sy oë peil nie. Toe hy sy hand na haar uitsteek, hou sy haar asem op. Hy
raak huiwerig aan haar wang, en sy klem haar lippe styf opmekaar sodat dit
moet ophou bewe.
“Ek het net geweet, Amanda.”
Sy kry dit nie langer reg om haar emosies onder beheer te hou nie en
daarom probeer sy paniekerig verby hom beur. “Jy weet nie eens hoekom
ek jou gelos het nie.”
Michael kry haar beet en draai haar om. “O ja, ek weet!” Hy neem haar
in sy arms. “Dís hoekom jy weg is.”
Hy sit sy mond oor hare. Toe sy probeer wegskram, sit hy sy hand agter
haar kop. Sy stoei teen die warmte wat in haar opwel.
Toe sy uiteindelik kalmeer, laat gly Michael die serp van haar hare af. Hy
trek die lint los, kam sy vingers deur haar hare en laat haar kop agteroor
sak. Sy kan voel hoe wild sy hart onder haar palms klop.
“Dis hoekom, nè?” sê hy skor. Sy probeer skaam wegkyk, maar hy laat
haar nie toe nie. “Is dit nie so nie?”
“Ek wil nie so voel nie,” fluister sy saggies.
Iemand maak sy keel skoon. “Is die winkel nog oop?”
Michael draai om, en sy hande gly teen haar arms af. Hy druk haar hande
saggies voor hy haar laat los. “Nee, dit is nie. Jammer.” Hy stap nader en
help die voornemende koper hoflik by die deur uit. Hy maak dit goed agter
hom toe, sit die slot op en draai die teken in die venster om.
Toe Michael omdraai, sien hy Amanda agter in die winkel. Sy leun
vooroor om iets naby die houtstoof op te tel. Hy stap soontoe en sien sy het
’n reissak en is besig om haar paar goed bymekaar te kry. Sy mondhoeke
trek skeef. “Ons sal môre huis toe gaan.”
Sy weier om na hom te kyk. “Gaan jý huis toe. Ek gaan San Francisco
toe,” sê sy.
Hy kners op sy tande en probeer sy bes om geduldig te bly. Haar gesig is
spierwit en gespanne. Hy probeer om aan haar te raak, maar sy beweeg rats
uit sy pad uit sodat daar ’n balie tussen hulle is. Sy druk haar klere haastig
in die sak. “Jy’s verlief op my,” sê hy. “Dink jy jy kan daarvoor
weghardloop?”
Angel versteen. Sy staan met haar kop onderstebo en haar hande om die
sak gebal. Sy bewe onbedaarlik; sy uitwerking op haar is verskriklik. Sy
begin weer haar klere in die sak prop. Hoe gouer sy van hom af wegkom,
hoe beter. Sy probeer haar gevoelens saam met haar klere in die sak druk.
“Ek het jou gesê ek sal myself nooit toelaat om op iemand verlief te raak
nie, en ek het dit bedoel!”
“Maar wonder bo wonder het jy, nie waar nie?” sê hy, so vasbeslote en
beslis soos gewoonlik.
“Gaan weg, Michael.”
“Nee.”
“Los my net alleen!” Sy rol die laaste romp op en prop dit saam met die
res van haar goed in. Sy knip die sak toe en kyk op na hom. “Wil jy weet
hoe die liefde my laat voel? Dit voel asof jy my hart uitruk.”
Sy oë blits. “Dit het so begin voel toe jy wég is. Nie toe jy bý my was
nie.” Sy probeer verby hom loop, maar hy staan in die pad. “Ek het gesien
hoe jy na my begin kyk, Amanda. Ek het gevoel hoe jy daardie laaste nag
gereageer het. Ek het dit deur my hele liggaam gevoel.”
“En dit het jou ’n soort mag gegee, nie waar nie? Nie waar nie?” sê
Amanda.
“Ja!” erken hy ru en gryp haar aan die arm toe sy na die agterdeur toe wil
gaan. “Maar dis nie ’n mag wat ek teen jou gaan gebruik nie.”
“Jy’s reg,” sê sy en probeer losruk. “Ek gaan jou nie die geleentheid gee
nie!”
Hy ruk die sak uit haar hand en smyt dit kliphard teen die muur. “Ek is
nie jou pa nie! Ek is nie Duke nie! Ek is nie die een of ander vent wat betaal
vir ’n halfuur in jou bed nie!” Sy houvas verstewig op haar arms. “Ek is jou
man! Ek neem jou gevoelens baie ernstig op. Ek het jou lief. Jy’s my vrou!”
Angel byt op haar lip en dwing die trane terug.
Michael versag. Hy vou sy hande om haar gesig sodat sy nie kan wegkyk
nie en sien haar hartverskeurende stryd teen haar emosies. Emosie was nog
altyd haar vyand. Sy kan haarself nie toelaat om iets te voel as sy wil
oorleef nie. Hy verstaan dit, maar moet haar net laat sien dat dit nie meer ’n
vyand is nie.
“Amanda, daardie dag toe ek jou gesien het, het ek geweet jy hoort by
my.”
“Het jy ’n idee hoeveel keer mans dit al vir my gesê het?” vra sy om
hom te probeer verdryf.
Hy gaan ongehinderd aan asof haar woorde hom nie getref het nie. “Ek
het jou met liefde sien groei en verander. Jy’s nooit dieselfde nie. Ek is mal
oor die manier waarop jy nuwe dinge probeer doen, jou lus om te leer. Ek is
mal oor hoe jy werk, hoe jy daardie uitdrukking op jou gesig kry as jy iets
regkry wat jy nog nooit voorheen gedoen het nie. Ek is mal daaroor om te
sien hoe jy saam met Ruth in die veld huppel, hoe jy saam met Miriam lag
en aan Elizabeth se lippe hang. Ek is mal oor die prentjie om saam met jou
oud te word en elke oggend vir die res van my lewe langs jou wakker te
word.”
“Moenie,” fluister sy hartseer.
“Ek het nog nie eens begin nie.” Hy skud haar liggies. “Amanda, ek is
mal daaroor om jou plesier te gee. Ek is mal daaroor om te voel hoe jy
smelt. Ek is mal daaroor om te hoor hoe jy my naam sê.”
Sy bloos, en hy soen haar. “Die liefde was skoon, geliefde. Dit gooi jou
nie teen die grond nie. Dit blameer nie ander nie.” Hy soen haar weer en
wens hy het die regte woorde om te sê wat hy voel. Woorde sal nooit
genoeg wees om vir haar te wys wat hy bedoel nie. “My liefde is nie ’n
wapen nie. Dit is ’n reddingstou. Steek jou hand uit en gryp dit vas en moet
dit nie laat los nie.”
Toe hy haar weer in sy arms toemaak, sit sy haar nie teë nie. Toe sy haar
arms om hom sit, sug hy en die spanning van die afgelope paar weke begin
uit hom vloei. “Dit voel goed, nie waar nie? En reg.”
“Ek kon nie ophou om aan jou te dink nie,” sê sy droewig, nestel haar
stywer teen hom aan en asem die soet reuk van sy liggaam in. Sy het hierdie
gevoel van veiligheid gemis wat sy net ervaar wanneer sy by hom is. Hy is
so vasberade om haar te besit. Wel, hoekom kan sy nie vir hom sy sin gee
nie? Is dit nie wat sy wil hê nie? Om aan hom te behoort nie? Om vir altyd
by hom te bly nie? Is dit nie waarna sy elke oomblik gesmag het vandat sy
hom gelos het nie?
“Jy laat my hoop, Michael. Ek weet nie of dit goed of sleg is nie.”
“Dis goed,” sê hy, hou haar styf vas en is baie bly oor haar bekentenis.
Dit is ’n begin.

Toe dit lig word, vertrek hulle. Angel ry agter Michael met haar hande
veilig in sy gordel ingehaak. Hy sê nie veel meer as om te vra hoe sy in
Sacramento gekom het nie. Sy vertel hom in detail van ou Sam Teal en hoe
die ongeluk hom omtrent gery het. Hy lag toe sy hom vertel van die panne
wat sy by die mynkamp verkoop het. Sy lag saam. “Ek het nie gedink ek sal
enigiets goed kan doen nie.”
“Ek sal sorg dat jy met Joseph besigheid doen wanneer ons weer met ’n
vrag groente inkom.”
“Joseph is ’n heel ander saak. Ek sal hom nie so maklik om die bos kan
lei nie.”
“Hy hou van jou, weet jy.”
“Is dit so?” Sy put ’n vreemde genot daaruit. “Ek het gedink hy laat my
maar net bly as ’n guns aan jou.”
“Deels. Hy sê hy het geweet God het sy hand op jou toe jy daardie dag
by die deur instap.”
Angel antwoord nie. Sy dink nie God het sy hand op énigiets wat met
haar te doen het nie. Hy het lankal sy hande in onskuld van haar gewas. Sy
sit haar arms om Michael se middel en lê met haar kop teen sy sterk, breë
rug. Sy is bitter na aan trane. Sy bewe en baklei teen ’n vae vrees wat aan
haar vreet. Michael kan dit aanvoel, maar wag tot hulle stop om te rus om
daaroor te praat. Hy klim van die perd af en help haar om af te klim. Hy lig
haar ken en kyk vraend in haar oë. “Wat is dit, Amanda?”
“Dit was maar net geluk dat ek juis op daardie oomblik op Joseph
afgekom het, Michael.”
Hy weet dit was veel méér as dit, maar om dit vir haar te sê, sal haar nie
anders oortuig nie.
Angel wil liewer nie dink aan wat kón gebeur het as sy nie by die
winkelier uitgekom het nie. Sy is so swak. Dis ’n haatlike ding omtrent
haarself om te aanvaar. Een dag op haar eie, en sy sou weer by ’n bordeel
ingestap het. Een dag. Miskien nie eens so lank nie. “Jy het my weer
gered,” sê sy en gee voor om lighartig te wees. Verleë oor haar
weerloosheid, kyk sy weg.
Michael draai haar gesig terug na hom. O, sy oë. So vol hoop. So vol
liefde. “Ek is net ’n instrument, geliefde. Nie jou Verlosser nie.”
Toe hy haar in sy arms wil neem, gaan sy uit vrye wil. Hulle bly daar tot
skemer en ry die res van die pad in die maanlig huis toe.

Michael werk in alle erns in die landerye en doen die laaste voorbereidings
voor hy moet begin plant. Angel help klippe wegdra en kluite stukkend
maak in die koringlande. Toe die dag aanbreek om te plant, laai Michael vir
Angel en die saad agter op die wa. Hy sê vir haar hoe om die koring te saai
en ry heen en weer oor die grond. Sy strooi die saad, maar twyfel of enigiets
sal opkom.
Om die mielies te plant, is harder werk. Michael vang vis en sny dit in
groot stukke om saam met die pitte te begrawe. Dit vat van sonsopkoms tot
sononder om die land beplant te kry, maar sy voel tevrede toe sy oor die ryk
grond uitkyk. Die volgende oggend sien sy ’n swerm voëls in die
koringland. Sy laat val die wateremmer en hardloop na die land om die
voëls weg te jaag.
Michael lag en rus met sy arms op die kampdraad wat hy besig is om reg
te maak en bekyk alles. “Wat maak jy?”
“Michael, daardie aaklige voëls! Wat gaan ons doen? Hulle eet al die
saadjies wat ons geplant het.” Sy gooi ’n kluit na nog ’n voël. Hy fladder
weg en gaan sit in ’n boom daar naby.
“Los hulle uit. Hulle sal nie meer vat as hul deel nie.”
Sy marsjeer terug. “Hulle deel? Hoekom moet hulle iets kry?”
“As regverdige vergoeding. Hulle beskerm die lande.” Hy wys met sy
vinger. “Die swaeltjies, windswaels en valke bewaak die lug deur die
insekte te eet wat dit andersins sou oorneem. Die houtkappers en kleiner
voëltjies eet die maaiers en kewers wat andersins ons bome sou verwoes.
Die sangvoëls en bontrokkies eet insekte wat die blare aanval. Korhoenders
en prêriehoenders eet die sprinkane wat ons oeste sou vernietig.”
“Wat is daardie klomp wat daar oorkant wegpik?”
Hy lag. “Swartvoëls.”
“Hulle is nie juis goed vir enigiets nie, nè?”
“Hulle beskerm die grondoppervlak met behulp van kraaie, lysters en
lewerikies. Snippe en houtsnippe eet die goggas wat onder die oppervlak
woon.” Hy trek haar vlegsel liggies. “Los die voëls, Amanda, of anders
gaan ons al ons gewasse verloor. Buitendien het ek ander dinge vir jou om
te doen.” Hy spring oor die draad en tel haar flink in sy arms op.
“Michael, wat as dit nie reën nie?”
“Dit sal.”
“Hoe weet jy dit sal?”
Hy sit haar op haar voete neer. “Jy bekommer jou oor dinge wat nie
binne jou beheer is nie. Vat dinge net een dag op ’n slag.”
Dit reën inderdaad in die komende weke en maak die grond liggies nat.
“Michael, kom kyk!” Groen spruite kom op, en Angel loop op en af deur
die mielierye met onblusbare opgewondenheid. Die plantjies is so klein en
tenger. Een warm dag kan hulle laat verwelk, maar Michael is nie
bekommerd nie. Hy maak die kampdraad heel, bou die lentehuisie klaar en
gaan jag. Hy skiet ’n bok en wys haar hoe om dit te bewerk. Hulle hang die
vleis in die rookkamer.
Partykeer, wanneer Angel dit die minste verwag, kom haal Michael haar
terwyl sy met haar dagtake besig is. “Kom ons gaan soek ’n plekkie in die
son,” sal hy fluister en sy arms om haar vou. “Kom saam met my en wees
my geliefde.”
Een dag lê hulle in die hooisolder toe Angel vir Miriam hoor roep. “O!”
sê sy doodbenoud. Michael lag, gryp haar om die middel en gooi haar
speels terug op die hooi. “Waar gaan jy heen?”
“Wat gaan sy dink? Die twee van ons hierbo helder oordag?”
“Miskien sal sy dink ons stapel hooi op.”
“Miriam is ’n baie slim meisie.”
Hy grinnik.
“Wel, miskien sal sy dan weggaan.”
“Nee, sy sal nie.” Sy spring op en pluk hooi uit haar hare.
“Sê vir haar ek het gaan jag en jy het ’n middagslapie gevat,” sê hy, staan
op en soen haar in die nek. Sy bloos en druk hom weg.
Miriam kom by die skuur in en sien Angel teen die leer afklim. “O, dís
waar jy is.”
“Ek het ’n middagslapie gevat,” sê Angel senuagtig en vryf toutjies hare
uit haar gesig.
Miriam se oë glinster. “Ek sien jul lande is ook beplant.”
Angel maak keel skoon. “Ja.”
“En alles groei mooi.”
“Sal ons na die hut toe gaan? Ek sal vir ons koffie maak.”
“Dit klink lekker,” sê Miriam en bars uit van die lag. “Michael, Pappa
nooi jou en Mandy vir aandete. Ons gaan ons eerste plantseisoen vier.”
Michael lag bulderend van die solder af. “Sê vir hom ons kom graag.”
Miriam vat Angel se hand toe hulle by die skuur uitloop. “Mamma gloei
altyd behoorlik wanneer sy terugkom van ’n lang wandeling saam met
Pappa,” sê sy. “Net soos jy nou.”
Angel bloos. “Jy behoort nie so openlik daaroor te praat nie.”
Miriam hou Angel terug tot sy stilstaan en gee haar ’n stywe drukkie.
“Ek het jou só baie gemis!” Angel druk haar terug, en haar keel trek toe.
“Ek het jou ook gemis.”
Miriam staan terug, haar oë vol trane. “Wel! Dit was nou nie so swaar
om te erken nie, nè?” Sy lyk baie in haar noppies.
Die Altmans se eie plantery is klaar en Miriam sê sy het nou meer tyd vir
haarself. Dit gaan goed met die kinders. Hulle het Paul al ’n hele paar keer
gesien. Hy het hulle gehelp om hul nuwe put te grawe.
“Kom ons vat ons koffie buitentoe en gaan sit onder die appelboom,” sê
Miriam. Michael is besig om hout te kap. Angel roep om te vra of hy wil
koffie hê, maar hy skree nee dankie terug.
“Mamma is swanger,” sê Miriam toe hulle hulle gemaklik maak in die
skaduwee. “Sy blom altyd wanneer daar ’n baba op pad is.”
“Hoe hanteer jou pa die nuus?” vra Angel en dink aan haar eie pa.
“O, hy is vreeslik ingenome,” sê Miriam. Sy glimlag ondeund. “Werk jy
en Michael aan ’n gesin?”
’n Pyn skiet deur Angel. Sy trek haar skouers op en kyk weg.
Miriam vat Angel se hand. “Hoekom het jy weggegaan? Ons was almal
só bekommerd.”
“Ek kan nie verduidelik nie,” sê Angel.
“Kan nie of wíl nie? Weet jy ooit self wat die rede is?”
“Gedeeltelik.” Sy verduidelik nie verder nie. Hoe kan sy verwag dat
hierdie naïewe meisie moet verstaan? Sy is so eerlik, so vry. Angel wens sy
kan soos sy wees.
“Ons het nie vir Ruthie gesê nie,” sê Miriam. “Ons het net gesê jy en
Michael is baie besig en ons kan vir ’n tydjie nie kom kuier nie.”
“Dankie,” sê Angel. Sy kyk na Michael terwyl hy die kaggelhout bo-op
mekaar pak, en haar hart pýn.
Miriam glimlag. “Jy is baie verlief op hom, nie waar nie?”
“Verskriklik. Ek is heeltemal versot op hom. Soms hoef hy net na my te
kyk ... ” Sy bly stil toe sy besef dat sy besig is om haar privaatste gedagtes
hardop uit te spreek.
Miriam kyk na haar. “Is dit nie hoe dit móét wees nie?”
“Ek weet nie. Is dit?”
“Ek hoop so,” sê Miriam droomverlore. “O, ek hoop regtig so.”
Met die volgende kuiertjie bring Miriam vir klein Ruth saam. Angel los
haar tuinwerk toe sy die kind teen die blombesaaide hang sien afhardloop.
Sy stof die grond van haar hande af, kom by die hekkie uit en hardloop die
kind ’n entjie tegemoet.
“Mandy! Mandy!” skree Ruth uitbundig. Angel tel haar in haar arms op
en gee vir haar ’n drukkie.
“Hallo, skat,” sê sy hees en soen die kind op albei wangetjies en haar
neusie. “Was jy ’n soet dogtertjie vandat ek jou laas gesien het?”
“Ja!” sê Ruth met haar armpies so styf om Angel se nek dat dit voel asof
sy haar nooit weer gaan los nie. “Hoekom het jy weggeloop? Jy was só lank
weg. Paul sê jy loop áltyd weg en Michael moet jou elke keer gaan soek en
terugbring huis toe. Hy sê Michael is ’n domkop, want jy hou baie meer van
jou ou lewe as om ’n boervrou te wees. Wat is jou ou lewe, Mandy? Ek wil
nie hê jy moet teruggaan soontoe nie. Ek wil hê jy moet hier bly.”
Angel sit haar baie stadig op die grond neer. Haar maag het op ’n knop
getrek die oomblik toe Ruth begin babbel het oor dit wat sy beslis toevallig
moes gehoor het. Ons het nie vir Ruthie gesê nie. Sy kan Miriam nie in die
oë kyk toe sy by hulle aankom nie.
“Wat is fout?” vra Miriam. Toe Angel niks sê nie, kyk sy na haar klein
sussie. “Wat het jy gesê?”
Angel vryf Ruth se donker koppie saggies. “Ek is mal daaroor om ’n
boervrou te wees,” sê sy sag, “en ek wil nie na my ou lewe toe teruggaan
nie.”
Miriam se mond val oop en haar gesig word donkerrooi.
Ruth knik en gryp haar om die bene. Angel kyk Miriam koud aan.
“Wat het sy vir jou gesê?” vra Miriam.
“Net wat sy gehoor het.”
“Ruthie, presies wat het jy gehoor?”
“Jy en Paul,” sê sy verberg in Angel se romp.
“Maak nie saak nie,” sê Angel. “Los haar net uit, Miriam.”
“Ek sal nie! Jy het afgeluister, nie waar nie?” sê Miriam hand in die sy
terwyl sy haar sussie aangluur.
Ruthie loer na haar. “Mamma het my gestuur.” Haar onderlippie begin
uitstoot. “Sy wou hê ek moes jou gaan haal.”
“Wanneer was dit?”
“Toe Paul daar was. Sy het gesê jy bly te lank weg en sy wil hê jy moet
terugkom huis toe.”
Miriam bloos bloedrooi. “En?”
“Hy het gepraat en jy was baie kwaad. Ek weet, want jy was bloedrooi in
die gesig soos nou. Jy het gesê hy moet sy stories saam met hom huis toe
vat, en hy het gesê ... ”
Angel sit ’n bewende hand teen haar kop, haar gesig wasbleek.
“Los dit nou maar,” sê Miriam vinnig en maak haar sussie stil. Sy kyk op
en haar oë is vol trane. “Amanda ... ”
Angel trek haar skouers op, sy bewe.
Miriam trek Ruthie eenkant toe en gee haar ’n ligte klappie op die
boudjies. “Gaan sê vir Michael hallo, Ruthie.”
Ruth kou haar onderlippie en die trane wel in haar ogies op. “Is jy kwaad
vir my?”
Sy buk af. “Ek vergewe jou, weg is jy.” Sy soen haar sussie. “Ons sal
later hieroor praat, poplap. Gaan kuier ’n bietjie by Michael.” Toe Ruth by
Michael kom, tel hy haar op en sit haar bo-op die heining.
“Ek is jammer.” Miriam is ontsteld. “Sê iets, Amanda. Moenie so lyk
nie.”
Wat is daar om te sê? “Wil jy koffie hê?”
“Nee, ek wil nie koffie hê nie.” Angel begin om na die hut toe te stap en
Miriam val langs haar in. “Ek het nie van jou geskinder nie. Ek belowe.”
“En Paul ook nie,” sê Angel. “Hy het jou net vertel hoe hy dinge sien.”
“Hoe kan jy vir hom opkom?”
“Ek het Michael al meer as een keer seergemaak, en Paul weet dit.”
“Dit beteken nie jy gaan hom weer seermaak nie.”
“Dit beteken ook nie ek sal nié.”
Miriam en Ruthie kuier vir die res van die middag, en die hele tyd sukkel
Angel om dit uit haar gedagtes te kry. Kan sy verander? Is sy anders net
omdat Michael haar liefhet? Of is dit net die stilte voor die eintlike storm?
Michael weet iets is fout. Vir ’n maand lank was hulle die gelukkigste
paartjie op aarde, en nou voel hy hoe sy weer begin onttrek. Hy is bang.
Here, moenie dat sy haar weer van my afsluit nie. Help my om haar te
behou.
“Kom hier,” sê hy en gooi ’n kombers voor die vuurherd. Sy kom sonder
om teë te stribbel, maar daar is iets donkers en geheimsinnigs in haar oë.
Wat pynig haar so?
Angel leun terug teen Michael se breë, gespierde borskas. Sy is mal oor
sy hande op haar.
“Wat’s fout?” vra hy en vroetel met sy neus in haar nek. “Iets pla jou al
die hele aand. Het Miriam of Ruth iets gesê wat jou ontstel het?”
“Nie met opset nie.” Sy wil hom nie van Paul vertel nie. Sy wil nie vir
hom sê hoe woorde haar seermaak nie. Sy het nog altyd die mag van
woorde ontken, maar elke liewe lelike een het deur haar gesny. “Dis net dat
ek so gelukkig is,” sê sy en haar stem bewe. “Ek kan nie help om te voel dat
ek dit nie verdien nie.”
“En dink jy ék verdien dit?”
“Wat het jy al ooit in jou lewe gedoen waaroor jy hoef skaam te wees,
Michael? Nie ’n enkele ding nie.”
“Ek het moord gepleeg.” Hy voel hoe die skok deur haar liggaam trek.
Sy sit regop en kyk met groot oë na hom.
“Jý?”
“Honderde kere. Toe ek jou die eerste keer kom haal het en sien wat
Magowan aan jou gedoen het. En Duke. Ek het hom al honderde kere op
honderde verskillende maniere vermoor, elke keer wreder as die vorige
keer.”
Sy ontspan toe sy verstaan wat hy bedoel. “Om iets in jou kop verkeerd
te doen, is nie dieselfde as om dit régtig te doen nie.”
“Nie? Wat is dan nou eintlik die verskil? Dieselfde begeerte is daar en
teer op homself en op my.” Hy trek aan haar vlegsel. “Kan jy nie sien nie?
Nie een van ons verdien wat ons nou het nie. Dit het niks daarmee te doen
of ons dit verdien of nie. Elke seëning kom van die Vader af, nie as
beloning vir iets goeds wat ons gedoen het nie, maar as ’n geskenk.”
Michael sien hoe haar oë flikker toe hy God noem. Hy voel haar
groeiende weerstand aan. God, die vloekwoord. God, die wese wat geen
betekenis in haar lewe het anders as vergelding vir sondes wat gepleeg is
nie; party sondes nie eens haar eie nie. Sy glo God is toornig en dat Hy haar
sal aanhou straf omdat sy ’n lewe gelei het waarin sy deur ’n siek dronklap
gedwing is wat nie besef het wat hy doen nie. God is genadeloos en geniet
dit om pyn uit te deel.
Hoe kan hy haar laat insien dat God die enigste ontvlugting uit ’n lewe in
die hel is terwyl die enigste pa wat sy ooit geken het, haar uit haar ma se
baarmoeder wou laat ruk en wegsmyt?
“Wys my hierdie Vader van jou, Michael,” sê sy en kan nie die skrilheid
uit haar stem hou nie.
“Ek probeer,” sê Michael sag.
“Waar? Ek sien Hom nie. Miskien as Hy voor my staan, sal ek dalk kan
glo Hy bestaan.” En sy sal Hom in die gesig spoeg vir alles wat met haar en
haar ma gebeur het.
“Hy is binne my. Ek wys Hom elke uur van elke dag vir jou op die
enigste manier wat ek ken.” En behaal beslis nie groot sukses daarmee nie.
Sy kan sien dat sy hom seergemaak het en versag. Hy is só opreg. En hy
het haar só lief. Sy het hom ook lief, al het sy so hard daarteen gestry. Hy
het haar vir hom laat lief word deur net Michael te wees. Maar dit het
absoluut niks met God te make nie. Of het dit?
“Liefde is nie genoeg nie,” sê sy en vat aan sy geliefde gesig. “As dit
was, sou ek genoeg gewees het vir my ma, maar ek was nie. Ek sal ook nie
vir jou genoeg wees nie.”
“Nee, jy sal nie. En ek sal nie vir jou genoeg wees nie, Amanda. Ek wil
nie die middelpunt van jou lewe wees nie. Ek wil deel daarvan wees. Ek wil
jou man wees, nie jou god nie. Mense kan nie altyd daar wees wanneer jy
hulle nodig het nie, hoe graag hulle ook al wil. En dit sluit my in.”
“En God is?” vra sy vermakerig. “God was nóóit daar toe ek Hom nodig
gehad het nie.” Sy maak haar los uit sy omhelsing, staan op en stap na die
bed se kant toe. Hy kyk hoe sy haar hare losmaak. Sy kyk na hom en raak
doodstil. “Ek is bly jy hou van blondines,” sê sy gematig.
Sy gaan hom nie so maklik afsit nie. “Jou voorkoms hét dalk ’n bietjie
daarmee te doen dat ek jou die eerste keer raakgesien het,” erken hy en
staan op. Hy gooi die kombers oor die stoel.
“Net ’n bietjie?” vra sy spottend. Tot Michael in haar lewe gekom het,
het sy haarself gesien as voer vir ’n man se drange.
“’n Bietjie,” herhaal hy ferm. Sy kyk op en hy gee haar ’n ernstige kyk
wat sy gemoed weerspreek. “Om die waarheid te sê, dit was jou gematigde
humeur, jou bereidheid om jou by my lewenswyse aan te pas, jou gedurige
begeerte om my te behaag ... ” Hy stap oor die vertrek terwyl hy praat en
gaan sit by haar op die bed toe sy begin lag.
Haar verdedigingsmeganismes verkrummel teen sy glimlag. “So,” sê sy,
“jy’s net nóg ’n ou wat nie kan nee sê vir ’n uitdaging nie.” Haar glimlag
vervaag die oomblik toe die woorde van haar lippe rol. Hoekom moet alles
wat sy sê, haar met haar verlede brandmerk? Sy kyk weer weg en gaan aan
om haar vlegsel los te maak. Sy hand rus gemaklik op haar bobeen. Selfs
daardie ligte aanraking laat haar van binne smelt. “Wat voel jy noudat ek
soos sagte klei in jou hande is, Michael?”
“Vreugde,” sê hy. “Net vreugde.” Hy sien hoe haar hart in haar keel klop
en soen haar daar. Hy hoor hoe sy haar asem skerp intrek en voel hoe die
hitte vinnig deur sy liggaam versprei as reaksie daarop. Hy begeer haar. Hy
sal haar altyd begeer. En, loof die Here, sy begeer hom ook. Hy kan dit voel
elke keer wat hy aan haar raak.
“Geliefde,” fluister hy en voel hoe ’n groot teerheid hom oorval toe hy
die onsekerheid in haar blou oë sien, “as enigiemand geweet het hoe of
hoekom mense op mekaar verlief raak, sal hulle dit bottel en aan een van
daardie reisende medisyne-waens verkoop. Dit het niks te doen met hoe jy
lyk nie. Dis nie eers omdat jy nou vir my so wonderlik ruik en smaak nie.
Jy wéét dit is nie,” sê hy en soen haar.
“Dis deel daarvan,” sê sy en sug.
“Die Here weet, dis waar, maar dis iets veel meer as dit. Iets onsigbaars.
Jy het na my geroep daardie dag toe jy verbygestap het, en ek kon nie
anders as om te antwoord nie.”
“Jy het al voorheen so gesê.”
“En jy glo my steeds nie?”
“O, Michael. Die lewe het dinge aan my gedoen. Ek is so vol ... ”
Sy bly stil, sluk hard en druk haar lippe styf opmekaar. Sy kyk verby hom.
Sy kan hom nie in die oë kyk nie.
“So vol wat?” Hy streel haar hare weg van haar slape.
“Skaamte,” kry sy dit hees uit. Haar oë brand, en sy sukkel weer om haar
emosies te onderdruk. Sy kan haar nie aan trane oorgee nie, nie eens een
nie, maar sy wil hê hy moet weet hoe sy voel. “Ek weet nie wat ek verkeerd
gedoen het nie. Ek het nooit geweet nie, maar vandat ek kan onthou, het ek
geweet dat ek nóóit goed genoeg sal wees om ’n ordentlike lewe te verdien
nie.” En dat haar teenwoordigheid ander mense se ordentlikheid aantas. Sal
dit uiteindelik Michael s’n ook verteer? Sy kan dit nie verduur om te dink
dat dit met hom moet gebeur nie.
“So, hoe verduidelik jy dit?”
Sy steek haar hand uit en raak aan sy gesig. “Ek weet nie. Ek kan nie. Ek
weet net dit sal nooit hou nie.”
Michael se oë skiet vol trane. Sy breek sy hart. Sy het nog altyd. “Ek het
nog nooit my rug op jou gedraai nie. Dit was nog altyd andersom.”
“Ek weet, maar selfs as ek jou álles gee wat ek het, sal dit nie genoeg
wees nie. Ek het nie genoeg vir ’n man soos jy nie.”
Hy vat haar hand en druk dit styf teen sy hart. “Vat dan dit wat jy
kortkom van my. Laat dit wat ek het, die verskil maak.”
Haar hart is so vol dat dit seermaak. “Jy is só pragtig,” fluister sy
bewend. Hoe kan sy, van alle vroue, so liefgehê word deur ’n man soos dié?
O, God, as jy luister, hoekom het jy dit aan hom gedoen?
Vir jou, geliefde.
’n Siddering gaan deur haar lyf en sy voel hoe die hare op haar kop orent
staan.
Nie vir my nie. Nooit vir my nie. Sy sluit haar kop behoorlik teen die stil,
sagte stem.
“Wat is dit?” vra Michael toe hy sien hoe skielik sy bleek word.
Hy is aantreklik, maar dis iets anders wat haar na hom aantrek. Miskien
is dit soos hy sê. Iets onsigbaars. Daar is iets in hom wat haar soos ’n mot
na ’n oop vlam toe aantrek, maar dis nie ’n vlam wat skroei of vernietig nie.
Dit steek iets diep in haar aan die brand sodat sy voel sy is besig om deel
van hom te word. Hy gee betekenis aan haar lewe. Dis nie meer ’n kwessie
van oorlewing nie. Dis iets anders wat sy nog nie eens kan definieer of
verstaan nie, en tog bly dit haar nader trek.
En wat van Paul, Angel?
’n Frons flikker oor haar voorkop. Michael lê langs haar en lig haar ken
na hom toe. “Sê vir my.”
Sy kan dit nie kleinkry hoe sensitief hy is vir elke gedagte van haar nie,
maar kan sy dit verduidelik sonder om die wig tussen hom en sy vriend nog
dieper in te dryf? Paul is nie verkeerd oor haar nie. Hy sien haar soos die res
van die wêreld haar sien: as ’n vrou wat haar liggaam vir geld verkoop het
en niks meer nie.
Sy skud haar kop. Michael soen haar asof hy haar daarmee sy hoop wil
gee. “Ek wens ek kon dinge anders maak,” sê sy hartseer toe hy sy kop lig
om haar oë te deursoek. “Ek wens ek het rein en heel na jou toe gekom.”
“Sodat ek jou liewer kon hê as nou?” vra hy met ’n glimlaggie.
Sodat ek jou werd kan wees. Sy trek sy kop af en soen hom.
“Sodat ek jou kan plesier.”
“Jy gee my plesier net soos jy is.”
Wat sy die graagste wil doen, is om hom op alle gebiede te plesier.
Onthou alles wat ek jou geleer het, Angel, kom Duke se stem
ongenooid. Gebruik dit en gebruik hom.
Michael glimlag vir haar, en die donker stem verloor sy mag. “Geen
skanse nie,” sê Michael. “Niks tussen ons nie.”
Angel gee haarself volkome. Sy dink aan niks anders as net Michael nie.
’n Man se liggaam was nog altyd vir haar aaklig. Michael is pragtig en sy
aanbid hom.
Michael is so gelukkig met haar. “Jy’s soos die aarde ... die Sierras, die
vrugbare vallei en die see.” Hy trek haar regop sodat hulle kruisbeen op die
bed teenoor mekaar sit. Sy besef nie wat hy doen tot hy haar hande vat en
sy kop laat sak nie. Hy bid hardop en sê dankie vir die plesier wat hulle
mekaar gee.
Angel se hart klop wild. Wat gaan sy God hiervan dink? Toe Michael
klaar gebid het, glimlag hy vir haar en die gloed in sy oë laat haar vrees
bedaar.
“Geen weerligstrale nie, geliefde,” sê hy met begrip. “Alle goeie dinge
kom van die Vader af. Selfs dít.” Hy lê agteroor, trek haar nader aan hom en
hou haar styf vas totdat hulle al twee aan die slaap raak.
Vier en twintig

Ek sê vir julle, as julle nie die skrifkenners


en die Fariseërs oortref in hoe julle God se wil uitleef nie,
sal julle beslis nie toegelaat word in sy koninkryk nie.
Jesus, Matteus 5:20

Paul sit snoesig voor sy vuurherd; ’n beker op sy skoot en sy troufoto in sy


hand. Tessie is nou al twee jaar oorlede, en hy wil haar herinnering lewend
hou. Hy wil nie vergeet hoe sy gelyk het nie. Maar die afgelope tyd, totdat
hy die foto vasgehou het, kon hy net onthou dat sy donker was en Michael
se glimlag gehad het. Hy probeer onthou hoe haar vel gevoel en haar stem
geklink het, maar dis alles besig om te vervaag. Alles behalwe die kosbare
herinnering aan dit wat hulle so vlugtig gedeel het. Die leë, pynlike
eensaamheid wat sy agtergelaat het, is al wat dieselfde bly. Hy sit die foto
eenkant neer en vat ’n groot sluk whiskey. Hy lê met sy kop teen die stoel
se rugleuning en maak sy oë vermoeid toe. Hy het Michael nog nie weer
gesien ná daardie dag toe hy hom kom vra het om na Angel te help soek
nie. Hy kan daardie dag nie vergeet nie en ook nie sy eie berou nie.
“Het sy wéér weggeloop?”
“Ja. Ek móét haar net vind.”
“Laat haar gaan. Jy is beter daaraan toe sonder ’n vrou soos sy.”
Michael se oë het vuur geskiet. “Wanneer gaan jy jou oë opmaak?”
“Wanneer gaan jý?” het Paul teruggekap. “As sy vir jou lief was, dink jy
nie sy sou dan gebly het nie? Jy sou nie van haar ontslae kon raak nie.
Michael, wanneer gaan jy sien wat sy is?” Toe Michael sy perd laat
omdraai, het hy ontplof. “Gaan soek na haar in ’n bordeel. Is dit nie waar jy
haar in die eerste plek gekry het nie?”
Hy het gevloek en voortgegaan om sy grond om te spit, maar sedert dit
gebeur het, kon hy nie ontslae raak van die braak gevoel in sy hart nie. Nie
eens toe Michael teruggekom het nie.
Dit was duidelik dat hy geen spoor van Angel kon kry nie. Hy was
jammer vir Michael. Hy was nie jammer dat hy haar nie gekry het nie. Hy
was jammer dat Michael gebroke was omdat hy haar verloor het. Sy is dit
nie werd dat iemand oor haar treur nie.
“Sy hét my lief, Paul. Sy het. Jy verstaan haar net nie.”
Paul het dit daar gelos. Hy wou niks meer van Angel weet as wat hy
reeds weet nie. Een dag in haar teenwoordigheid was genoeg om sy siel vir
ewig te versuur.
Michael het ’n rukkie gebly en hulle het oor gewasse en die grond
gepraat, maar dit was nie soos voor Angel deel van hulle lewens geword het
nie. Dit het nie saak gemaak dat sy weg was of nie. Sy was nog steeds
tussen hulle. “Jy maak vordering,” het Michael gesê voor hy weer weg is.
“Daardie veld lyk goed.”
“Die werk sal vinniger gaan met ’n perd. Dis jammer ek het myne op pad
hierheen verloor.”
“Vat hierdie een.” Hy het die saal afgehaal terwyl Paul hom verbaas
dophou. “Sodra jy geoes het, sal jy genoeg geld hê om ’n ander een te
koop.” Skaam vir homself het Paul gesukkel om verby die knop in sy keel
te praat. Michael het die saal oor sy skouer gegooi.
“Jy sou tog dieselfde vir my doen, nie waar nie, Paul?” Hy het begin
aanstap huis toe.
’n Paar dae laer het Paul ’n wildsblad na die Altmans gevat en gehoor
dat Michael op pad is Sacramento toe om vir Angel te gaan haal. Joseph het
laat weet dat sy in ’n winkel werk. ’n Waarskynlike storie. Hy sou al sy geld
verwed dat sy haarself aan oorwinterende myners verkoop. Ses onse goud
vir vyftien minute. Miskien meer as dit om in te haal vir die tyd wat sy by
Michael verloor het.
“Jy lyk nie juis baie bly oor die nuus nie,” het Miriam gesê en hom fyn
bekyk.
“Ek is oortuig Michael is bly,” het hy gesê en sy perd gaan haal. “Hy is
’n dwaas,” het hy onderlangs gebrom.
Miriam het saam met hom geloop. “Hy het haar baie lief.”
“Is dít wat jy dit noem?”
“Wat sal jý dit noem?”
Hy het skrams omgekyk na haar toe terwyl hy die leisels oor die perd se
kop gooi, maar nie geantwoord nie.
“Hoekom hou jy nie van Amanda nie?” het Miriam gevra.
Paul het amper sy mond verbygepraat dat haar naam nie Amanda is nie.
Dit is Angel. En dat sy allesbehalwe dít is, maar hy het op sy tong gebyt.
“Ek het my redes,” het hy gesê. Die saal het gekraak toe hy opklim.
“Jy was verlief op haar, nè?” het sy prontuit gesê.
Paul het skril gelag en die leisels stewiger vasgevat. “Het sy dit vir jou
vertel?”
“Nee. Ek het geraai.”
“Jy raai verkeerd, klein Miriam.” Hy het sy perd omgedraai voor sy nog
vrae kon vra.
Sy het ’n tree in sy rigting gegee en agterna geroep: “Moenie vir my
klein Miriam sê nie. Ek is sestien jaar oud.”
Asof hy dit nie weet nie. Hy het sy hoed spottend gelig. “Goeiedag,
juffrou,” het hy dralend gesê en weggery.
Sy het die volgende oggend oorgekom om hom vir ete te nooi.
“Wildsvleis,” het sy gesê, “en Mamma is besig om appeltert te bak.” Sy het
’n mooi geel rok aangehad wat gemaak het dat hy die skraal kurwes van
haar jong liggaam raakgesien het. Sy het gesien waarheen sy oë dwaal en
het gebloos. Miriam se donker oë het ’n fluweelagtige gloed in hulle gehad.
“Wel?” het sy gesê.
“Wel wat?” het hy ongemaklik gevra.
Sy het effens geglimlag. “Wil jy vanmiddag kom?”
Haar glimlag was verleidelik. Dit het hom ontstel en hy was kortaf met
haar. “Nee,” het hy gesê en in die rigting van die ongeploegde stuk land
geknik. “Ek sal tot donker moet werk.” Hy het die perd aangehits en die
ploeg in die grond gedruk en gehoop dat sy die skimp sal vang en gaan. As
hy geweet het sy gaan oorkom, sou hy ’n hemp aangetrek het. Nou is hy
kaal bolyf met ’n stowwerige nekdoek om sy voorkop gebind om die sweet
uit sy oë te hou. ’n Mooi gesig vir ’n onskuldige jong meisie.
Paul kan nie ophou dink dat as Miriam Altman ’n paar maande vroeër
opgedaag het, Michael nie in die gemors sou wees waarin hy nou is nie.
Miriam is net reg vir Michael. As daardie prostituut weer wegloop, wat sy
beslis gaan doen, sal Michael dit dalk ook insien. Hierdie meisie sal as ’n
maagd in sy huweliksbed klim en tot die dood aan hom getrou bly. Sy is nie
die soort wat vir ’n man hartseer sal bring nie. Sy sal hom die kinders gee
wat hy so graag wil hê en hom gelukkig maak.
“Jy moet tog een of ander tyd eet,” het Miriam gesê en saam met hom
geloop.
Hy het nie vir haar gekyk nie. Dis beter so.
“Mamma en Pappa wil jou graag bedank.”
“Hulle het gister al dankie gesê. Sê vir hulle dis ’n plesier.”
“Hou jy nie van kinders nie?”
“Kinders?” vra hy verward. “Ek hou van kinders. Wat het dit met
enigiets uit te waai?”
“Ek het maar net gewonder of jy nie by ons wil kom eet nie omdat daar
so baie van ons is.”
Sy loop met haar hande gemaklik agter haar rug gevou. Sy blik gly oor
haar liggaam en sy mond raak kurkdroog.
“Watter tipe mens was jou vrou, Paul?”
Die vraag vang hom onkant. “Dierbaar. Sy was dierbaar.”
“Was sy lank?”
“Omtrent so lank soos jy.” Tessie was kleiner en sy het ligbruin hare
gehad in plaas van welige donker hare. En haar oë. Hy kan nie onthou
watter kleur Tessie se oë was toe hy in Miriam se sagte bruin oë kyk nie.
“Was sy mooi?”
Hy kyk na Miriam en sy hart klop wild.
“Jou vrou,” sê sy. “Was sy mooi?”
Hy probeer Tessie se gesig onthou en kry dit nie reg nie. Nie met Miriam
wat so na kom kyk nie. Haar skaam fassinasie met sy liggaam maak hom
paniekbevange. “Sy was baie mooi,” sê hy en trek die leisels hard in om die
perd te laat stilstaan. “Ek dink jy moet nou gaan. Jou ma wonder seker al
waar jy so lank draai.”
Miriam se gesig raak rooi. “Ek’s jammer,” stotter sy. “Ek het nie bedoel
om jou te pla nie. Miskien sal jy ’n ander keer by ons kom eet.” Hy sien die
skielike trane toe sy omdraai en vinnig wegstap. Hy reik byna uit na haar,
maar keer homself net betyds. Hy klem sy hand vas en sien hoe sy wegstap.
Daar is ’n pyn op die krop van sy maag. Hy wou nie lelik wees nie, maar as
hy om verskoning vra, besluit sy dalk om te bly en sy was reeds ’n groot
genoeg versoeking.
Paul het nooit gedink sy sal weer terugkom nie.
Hy is besig om hom by die put te was toe hy haar oor die veld sien
aanstap. Sy hart slaan bollemakiesie. Dié keer is haar jonger suster Leah by
haar. Hy trek sy hemp aan en maak die knope vas terwyl hy wag dat hulle
daar kom en vir hom sê wat hulle wil hê.
“Mamma het my gestuur,” sê Miriam verskonend. Sy kyk hom nie in die
oë nie. Sy hou ’n mandjie na hom uit.
“Dankie,” sê hy ru en vat dit. Sy hand raak liggies aan hare, en sy kyk
op. “Sy moes nie die moeite gedoen het nie,” sê hy.
“O, dit was Miriam se idee,” sê Leah en stel haar suster verder in die
verleentheid.
“Sjuut, Leah,” sê Miriam en bloos. Sy vat haar suster se hand. “Ons moet
gaan. Geniet jou aandete, Paul.”
Paul kan dit nie verhelp om te sien hoe haar heupe effentjies swaai toe
hulle wegstap nie. Ek het geen reg om so te voel oor ’n meisie soos sy nie.
“Sê vir jou ma ek sal die mandjie terugbring.”
“Moenie haastig wees nie,” roep Miriam terug. “Ek sal dit môre kom
haal.”
Dis presies wat hy nié wil hê nie. Hy sal teen sonsopkoms oorry en die
mandjie voor hul deur los. Hy sit dit neer en trek nog ’n emmer koue water
op. Hy spat ’n paar druppels oor sy gesig en koel homself af. Dis ’n slegte
teken as dit is hoe hy voel as hy net na ’n mooi sestienjarige meisietjie kyk.
Miskien moet hy na die naaste kamp ry en by die plaaslike bordeel ’n draai
gaan maak. Die blote gedagte daaraan maak hom naar.
Hy vat Miriam se mandjie huis toe. Die herd is yskoud. Hy steek ’n vuur
aan en eet. Hy voel weer dieselfde leegheid as toe Tessie dood is. Daardie
eerste maande sonder haar was verskriklik, maar die stryd om die Sierras te
oorleef, het sy gedagtes afgelei. Toe hy en Michael in die vallei aankom, het
hy alles in die bou van sy huis gesit. Toe het die droefheid hom behoorlik
getref. Die vreeslike pyn van sy verlies was vir hom te veel. Hy kon nie na
die veldblomme kyk sonder om te dink aan hoe mal Tessie daaroor sou
wees nie. Hul eie stuk grond in Kalifornië was ’n droom wat hulle gedeel
het. Sonder haar was dit leeg en doelloos.
Toe die goudstormloop begin, was hy gereed om te gaan. In die begin het
hy hom uitgeleef in die opwinding van die werk in die spruite en die kans
om ryk te word. Die opwinding het vinnig verflou. Sommer gou was dit
eenvoudige werk van sonop tot sononder. Hy het net genoeg verdien vir kos
en ’n dag op die dorp om dronk te word en ’n bordeel te besoek. Selfs
terwyl hy sy plesier gesoek het, kon hy nie die gevoel afskud dat sy lewe
doelloos is nie – en dan die skaamte daarvan. Hy het geweet wat hy koop, is
vals. Hy het geweet omdat hy met Tess die regte tipe verhouding gehad net.
Angel se woorde spoel weer oor hom. Hard en koud. “Ek weet wat ek is,
maar jy noem jouself sy bróér.”
Toe hy die soeke na goud laat vaar en na sy grond teruggekom het, het
hy gevoel hy het die laagtepunt bereik. Hy was verkeerd. Hy het gesweer hy
sal vir Michael vergoed. Hy sal Miriam Altman uitlos sodat daar ’n
ordentlike meisie op hom wag wanneer Angel hom wéér agterlaat.
Hy gaan lê, maar hy raak nie aan die slaap nie. Hy kan Miriam nie uit sy
kop kry nie. Hy maak sy oë toe en sien haar donker, laggende oë. Hy gee
die stryd gewonne en gooi nog ’n stomp op die vuur en haal sy troufoto van
die rak af. Hy staar weer na Tessie se gesig. Dit is nog steeds vir hom
kosbaar, maar dit maak nie meer diep emosies in hom wakker nie, nie soos
’n jaar gelede nie.
’n Jaar gelede het hy gedink die pyn sal nooit weggaan nie. Maar aan die
ander kant, ’n jaar gelede het hy gedink hy sal nooit weer verlief raak nie.

“Amanda!” skree Miriam en kom teen die hang afgehardloop. “Kom gou!
Dis Ruth!”
Angel hardloop haar tegemoet. “Wat gaan aan?”
“Sy sit bo in ’n boom, en ek kan haar nie afkry nie. Kom help my!”
Angel lig haar romp op en hardloop agter Miriam aan teen die bult uit.
Sy is uitasem toe hulle by die ou akkerboom kom. Met haar hart wat in haar
keel klop, kyk Angel op na die kind wat twintig voet bo die grond op ’n dik
tak sit. “Genade! Hoe het jy daar gekom, jou klein muis?”
Ruth waai vir haar.
“Ruthie!” skree Angel benoud. “Hou vas! Moenie beweeg nie! Ons sal
jou afkry.”
“Ek het probeer opklim, maar ek kon nie,” sê Miriam. “Probeer jy.”
“Ek? Ek het in my lewe nog nooit in ’n boom geklim nie!”
“Mandy, gaan jy my afhelp?” roep Ruthie.
“Jy beter jou litte roer,” sê Miriam en moedig haar aan. “Ons het nie baie
tyd nie.” Sy buk en hou haar hande bak.
Angel se romp is in die pad. “Wag ’n bietjie. Ek kan dit nie so doen nie.”
Sy buk vooroor, vat die agterste soom en trek dit tussen haar bene deur en
druk dit in haar gordel. Met Miriam se hulp klim sy tot op die eerste tak.
“Moenie bang wees nie, Ruthie! Sit net tjoepstil.”
“Ek sal nie,” sê Ruthie en swaai haar beentjies heen en weer. Dit lyk asof
sy dit baie geniet.
“Wat maak ek?” mompel Angel onderlangs terwyl sy hoër klim. Sy
verbeel haar sy kan iemand hoor lag.
“Moenie afkyk nie,” roep Miriam. “Jy vorder baie mooi.”
Angel is nie seker of Miriam met haar of met Ruthie praat terwyl sy teen
die takke deur boontoe sukkel nie. Toe sy binne ’n paar voet van haar af
kom, sien sy dat Ruth ’n tou om haar middel het wat haar stewig aan die
stam vasbind. Daar is nie ’n manier waarop sy kon afval nie. En nóg erger:
die klein aapstert glimlag breed. “Is dit nie pret nie, Mandy?”
“Het jy al ooit jou hut van hier af gesien?” vra Miriam net onder haar.
Angel se gesig is rooi van woede. “Jy het my doodbenoud gemaak! Wat
dink jy doen jy?”
Miriam klim verby haar en gaan sit wydsbeen op ’n groot tak. “Jy het
self gesê jy het nog nooit in ’n boom geklim nie.” Sy lag ondeund. “Dit was
’n slag tyd dat jy probeer.”
“Het jy haar alleen opgetrek? Sy kon seergekry het.”
“Ons het gehelp,” sê Jacob, wat van ’n hoër tak af ondertoe klim.
Andrew is net bo hom en Leah loer agter die stam uit. Hulle lyk almal so
ingenome met hulself dat sy van haar woede vergeet en uitbars van die lag.
’n Boom vol babbelkouse. Sy trek haarself op en gaan sit wydsbeen op ’n
dik tak.
“Jy het regtig goed gedoen vir jou eerste keer,” sê Andrew, wat op ’n
dunnerige tak loop.
Angel frons kamma kwaai vir hom. “Moet jy nie jou pa help werk nie?”
“Hy het my die dag af gegee. Hy wou Mamma vir ’n wandeling neem.”
Miriam lag. “Ek het vir hulle gesê óns sal liewer ’n entjie gaan stap.”
Sy praat sagter sodat net Angel kan hoor. “Een van die nadele van ’n
eenvertrekhut is die gebrek aan privaatheid.” Sy leun met haar kop teen die
stam. “Wanneer ek trou, gaan ek en my man vir die kinders ’n kamer op die
solder bou, en ons gaan ’n snoesige kamer langs die kombuis hê.
“Daar is Michael!” beduie klein Ruthie. Die kinders roep en fluit toe hy
omdraai en teen die bult opkyk. Hy kom met lang treë na hulle toe
aangestap. Toe hy by die boom kom, kyk hy op met sy hande op sy heupe.
“En wat gaan hier aan?” Hy sien Angel hoog bo in die boom en lag. “Jy
ook?”
“Hulle het my om die bos gelei,” sê sy met groot waardigheid.
Miriam knipoog vir hom en skree ondertoe. “Jy sal haar hier moet kom
haal. Sy kan nie afklim nie!”
Angel lag toe Michael sy stewels uittrek en begin klim. Toe hy net onder
haar is, kry hy haar aan die kuit beet. “Sal ek Ruthie se tou om jou vasbind
en jou laat afsak?” met die wete dat sy volkome in staat is om self af te
klim.
“Dit sal ’n wonderlike swaaiboom maak,” sê Leah en klim af tot langs
hom. “Sien jy daardie groot, dik tak? ’n Mens kan die tou aan hom
vasmaak.”
“Dis nou ’n goeie idee,” sê Michael. Hy laat sak Ruth tot onder en stuur
Andrew na die skuur om tou te gaan haal. Hy klim terug boontoe en knoop
die los punte om ’n stewige tak vas en laat die lus hang vir ’n swaai. “Ek sal
later ’n sitplek kom aansit,” sê hy en klim af.
Die kinders redekawel opgewonde oor wie se beurt dit eerste gaan wees,
maar Michael kry Angel beet en sit haar in die swaai. “Hou vas,” sê hy voor
sy hom kan keer en stoot haar hoog die lug in. Die opwindende bruising
deur haar are laat haar lag. Michael stoot haar nog ’n keer en begin dan
terugstap na die lande om te gaan werk.
Toe almal, ook Miriam, ’n beurt op die swaai gehad het, vat Angel die
kinders huis toe en maak vir hulle iets te ete. Die seuns gaan uit om te kyk
waarmee Michael besig is, en Leah en Ruthie gaan pluk veldblomme op die
heuwel.
Miriam leun teen die deurkosyn en kyk na haar broers wat regop op die
kampheining sit en kyk hoe Michael met die perd werk. “Michael weet hoe
om die lewe te geniet. Hy sit nie die hele tyd en broei nie.”
Angel kom staan by haar. Die manier waarop Miriam Michael dophou,
ontstig haar. ’n Ongemaklike gevoel laat haar maag draai.
Miriam glimlag. “Ek dink net aan hoe wonderlik dit moet wees om
iemand lief te hê en hy het jou ook lief. Ek is seker wanneer Michael jou
wil hê, doen hy iets aan die saak.” Sy bloos en staan regop in die deur.
“Mamma sal flou val as sy my só moet hoor praat.”
Angel kyk na Michael. Die jaloesie verdwyn en ’n liefdevolle besorgheid
vul haar. Sy kyk ingedagte na Miriam. Sy het die meisie lief soos ’n suster.
“Jy wil trou, nè?”
“Ja, maar ek wil nie sommer met enigiemand trou nie,” sê Miriam. “Ek
wil iemand hê wat uitsonderlik is. Ek wil hê ’n man moet my op dieselfde
manier liefhê as wat Michael jou het. Ek wil ’n man hê wat vir my sal
baklei. Ek wil ’n man hê wat nie sal toelaat dat ek van hom af wegloop
nie.”
Angel sien die trane in Miriam se oë en vat haar hand. “Het jy Michael
lief?”
“Natuurlik het ek hom lief. Hoe dan anders? Hy is enig in sy soort, nie
waar nie?” Miriam leun met haar kop teen die kosyn en maak haar oë toe.
“Ander mans moet meer soos hy wees, maar hulle is nie.” Sy glimlag. “Ek
sal nooit daardie aand vergeet toe ek en Mamma ‘Amazing Grace’ gesing
en oor David gepraat het nie. Michael het trane in sy oë gehad en was nie
skaam daaroor nie. Hy het nie omgegee wie sien hoeveel hy omgee nie.” Sy
vee die trane van haar wange af. “Michael is die enigste man wat ek ken
wat nie bang is om dinge te vóél nie. Hy begrawe homself nie lewend nie.”
Angel kyk weer na hom. “Dis ’n jammerte dat ek hom eerste ontmoet
het,” sê sy.
Miriam lag. “Wel, as jy die gietvorm in die hande kan kry, sal jy nog een
soos hy maak?” Sy omhels Angel. “Ek het julle al twee só lief.” Sy staan ’n
bietjie weg. “En nou het ek jou verleë gemaak.” Sy byt op haar lip en lyk
onseker. “Mamma dink ek moet my gevoelens vir myself hou eerder as om
dit gedurig uit te basuin, maar ek kan nie. Dis nou maar hoe ek is.” Sy soen
Angel op die wang. “Ek beter die wilde Indiane bymekaarmaak en begin
aanstap.” Sy gaan uit in die sonskyn en roep haar broers en susters.
Angel vou haar arms oor haar bors, gaan leun teen die kosyn waar
Miriam gestaan het en kyk hoe die klomp wegstap. Sy bekommer haar
heelmiddag daaroor en probeer daardie aand met Michael oor die situasie
praat. “Dink jy ons kan vir Miriam ’n man kry?”
“Miriam? Is sy nie ’n bietjie jonk nie?”
“Oud genoeg om verlief te wees. Kan ons nie teruggaan Sacramento toe
en vir haar ’n man gaan soek nie?”
“Wie?” vra hy en speel met haar hare.
“Iemand vir Miriam.”
“Wat van Paul?”
“Paul?” Angel kyk ontsteld na hom. “Miriam hoort nie by iemand soos
hý nie. Sy hoort by iemand soos jý.”
“Ek is nie beskikbaar nie. Onthou jy?” Hy trek haar nader. “Laat dit aan
die Here oor.”
“Laat dit aan die Here oor,” mompel sy. “Jy wil altyd dinge aan die Here
oorlaat.”
Hy kan sien sy gaan dit nie daar los nie. “Die Here het reeds iemand in
gedagte vir Miriam. Ek is daarvan oortuig. Vergeet dit nou.”
Sy vertel hom amper dat Miriam op hóm verlief is, maar bedink haar
betyds. Daar is geen groter versoeking vir ’n man as ’n jong meisietjie wat
op hom verlief is nie. “Ek wil net hê sy moet gelukkig en rustig wees.”
Michael troos haar. “Sy sal wees, Tirsa. ’n Meisie soos Miriam sal nie
lank sonder ’n man bly nie.”
’n Meisie soos Miriam. “As jy my nie gekry het nie, sou jy ... ”
“Maar ek het, nie waar nie?”
“Ja, jy het.” Sy steek haar hand uit en raak aan sy gesig. “Was jy al ooit
spyt?”
“’n Paar keer,” sê hy ernstig omdat hy weet sy verwag die waarheid. Hy
vat haar hand en draai die trouring om haar vinger. Hy kyk af na haar. “Jy
het my al ’n paar aaklige oomblikke besorg.” Sy glimlag is teer. “Maar dis
nou alles iets van die verlede.” Hy soen haar hand en sit dit teen sy wang.
“Tirsa, ek weet wie ek is, en ek weet Wie in beheer van my lewe is. Ek en
jy was nie ’n ongeluk nie.”
Angel trek sy kop af en soen hom. Sy is mal oor sy reaksie. Sy is mal oor
hoe sy voel wanneer hy oorneem. “Ek dink nie ek sal ooit genoeg van jou
kry nie, Michael Hosea. Nie so lank as wat ek leef nie.”
“En ek ook nie van jou nie.”

Die Altmans hou ’n samekoms om die lenteplantseisoen te vier. Toe Angel


en Michael daar aankom, hardloop die kinders hulle tegemoet om hulle te
groet. Elizabeth waai vir hulle deur die oop deur.
“Kom kyk ons nuwe put,” sê Leah en trek Michael aan die hand.
Miriam is besig om ’n emmer water op te trek. Sy sit dit neer. “Is dit nie
wonderlik nie?” sê sy trots. “Paul het ons ’n paar weke gelede gehelp om dit
te grawe. Ek het dit gemis om nie ’n put te hê waarin ek kan sing nie.
Luister.” Sy buk vooroor en sing af in die dieptes. Die pragtige klanke
verbreed en styg na bo. “Rock of Ages”.
Angel rus met haar voorarms op die klip en luister. Michael glimlag vir
haar, buk oor die kant en begin saam met Miriam sing. Angel het nog nooit
iets mooiers gehoor as die manier waarop hul stemme saamsmelt nie.
“O, klink dit nie fantasties nie!” lag Miriam. “Kom ons sing nog een. As
jy jou kop diep genoeg insteek, is die klank reg rondom jou. Sing saam met
ons, Amanda, dan sal dit nóg mooier wees.” Sy wil nie nee vir ’n antwoord
vat nie. “Moenie vir my sê jy kan nie. Jy kán. As jy nie die woorde ken nie,
maak net jou mond oop en sing ah. Kom ons sing weer ‘Rock of Ages’. Jy
het dit al genoeg gehoor om ’n paar woorde te ken.” Angel begin huiwerig
saamsing. Voor hulle klaar is, hang die ander kinders ook oor die put en
sing saam. As Michael Ruth nie aan haar rokkie beetgekry het nie, het sy
kop eerste in die put ingeval. “Nou ‘Oh, Suzanna’,” sê Andrew. Daarna sing
hulle nog reisliedjies met snaakse versies. Laggend staan hulle op.
Miriam se gesiguitdrukking verander meteens en sy gryp Angel se hand
vas. “Paul is hier.” Angel se hart sink. Sy kyk op en sien hom oor die veld
aangestap kom. “Hy was so styf toe ek hom genooi het, ek het nie gedink
hy sal kom nie,” sê Miriam. Angel het nog nooit ’n norser man gesien nie.
“Ek moet maar gaan hallo sê, anders loop hy dalk voor hy nog ordentlik
hier is,” sê Miriam.

Paul sien hoe Miriam na hom toe aankom en verhard homself. Sy het weer
die geel rok aan. Toe sy glimlag, spring ’n spier in sy wang.
“Ek is só bly jy het gekom, Paul.” Sy glimlag en waai haarself met haar
hand koel. “Dis warm, nè? Kom, drink ’n bietjie appelwyn.”
Te ontsteld oor wat hy voel wanneer hy na Miriam kyk, kyk Paul om
hom rond. Angel kyk na hom. Hy grynslag vir haar en verwag dat sy net so
snedig sal terugglimlag. Sy doen dit nie. Hy haat haar so verskriklik dat hy
dit kan proe.
“Wanneer het jy klaar geplant?” vra Miriam en dwing sy aandag terug na
haar.
“Gistermiddag.” Hulle kom by die ander aan. Michael groet hom met ’n
stewige handdruk wat spreek van volgehoue toegeneentheid. Hy slaan sy
arm om Angel, trek haar styf teen hom vas en wag.
Angel se blou oë flikker toe sy na hom opkyk. “Hallo, Paul,” sê sy.
Paul wil haar eers ignoreer, maar weet hy kan dit nie doen sonder om
Michael in die gesig te vat nie. “Amanda,” sê hy en knik. Haar gesig wys
absoluut geen emosie nie. Dit verbaas hom nie. Wat sal sy van gevoelens af
weet?
Miriam het teruggekom met ’n blikkoppie en kyk stip na die gegroetery.
Sy gee vir hom die appelwyn en vat Angel se hand. “Mandy, sal jy my
asseblief help om die wenke vir die skattejag weg te steek?” Paul kyk hulle
agterna soos wat hulle hand aan hand wegloop.
“Miriam is mooi, nè?” sê Michael en glimlag effens. “Daardie donker
oë.”
Paul drink sy appelwyn in gespanne stilte. Hy het nie verwag Michael sal
dit so gou raaksien nie.

Die kinders hardloop weg om Miriam se leidrade te soek wat hulle na die
skat – ’n mandjie bessietertjies – sal lei. Elizabeth, Miriam en Angel slaan
die planktafel op die werf op. Angel het wildsvleis, gebakte boontjies en
soetwortels gebring. Elizabeth het twee vet fisante gerooster wat met
gegeurde brood gevul is.
Miriam bring twee winterappelterte na die tafel.
Angel is so bewus van die onderstroming van Paul se haat vir haar dat sy
sukkel om deel van die vreugde te wees. Sy het dit die hele middag
reggekry om uit sy pad te bly, maar nou sit sy regoor hom aan die tafel.
John bid, en toe sy opkyk, kyk sy direk in Paul se oë vas. Sy verstaan die
boodskap in sy oë duidelik. Jý? Bid? Wat ’n grap!
Sy is skynheilig. Sy buig haar kop soos al die ander en gee voor om te
bid terwyl dit vir haar niks beteken nie. En sy wil ook nie hê dit moet nie.
Sy doen dit omdat dit Michael sal seermaak as sy langs hom sit met haar
kop regop terwyl die tafelgebed gedoen word. En dit sal die Altmans in die
verleentheid bring. Ruthie sal beslis begin vrae vra. Sy kyk nie weg van
Paul se koue blik nie.
Kan jy nie verstaan nie?
Dit lyk asof hy haar selfs méér verag. Sy berus haar by die feit dat hy
haar nooit sal verstaan nie, waarskynlik nooit eens sal probeer nie, en vat ’n
snytjie fisant en stuur die bak aan.
“Wil jy hê ek moet met Paul praat?” vra Michael later toe John viool
speel en hy met haar dans.
“Nee,” sê sy, bang om die oorsaak te wees van ’n nóg groter kloof tussen
die twee mans. Sy het reeds genoeg probleme veroorsaak.
“Hy is ’n ordentlike man, Amanda. Hy het my deur dik en dun
bygestaan. Hy is net op die oomblik ’n bietjie verward.”
Sy weet Paul is nie verward nie. Hy is vol regverdige woede en
vyandigheid. As gevolg van haar. Hy verduur pyn. As gevolg van haar.
Hoekom het sy nie daardie dag verder as haar eie wraak gedink nie? Kon sy
nie maar sy beledigings gesluk het nie? Sy het tog geweet hy is net jaloers.
Sy het geweet hy dink nie sy is goed genoeg om Michael se vrou te wees
nie. Sy het ’n hele klomp goed omtrent Paul geweet toe sy hom die eerste
keer gesien het.
“Wees geduldig met hom,” sê Michael.
Soos Michael met haar geduldig was. Sy sal haar trots sluk as dit moet.
Vir Michael se onthalwe sal sy dit verduur wat Paul ook al na haar kant toe
slinger.
Michael dans met Miriam en Angel gaan skink vir haar ’n koppie
appelwyn. Paul kom staan langs haar en sy donker oë glinster. Hy knik na
Michael wat Miriam in die rondte draai. Hulle albei lag. “Hulle is ’n mooi
paartjie, nie waar nie?”
Angel kyk na Miriam en voel die steekpyn in haar. Dis waar. “Hulle hou
baie van mekaar,” sê sy en skink nog ’n koppie appelwyn. Sy hou dit na
hom uit.
Hy glimlag spottend af na haar en vat dit. Hy kyk weer na Michael en
Miriam. “As sy maar net ’n paar maande vroeër opgedaag het, sou dinge
báie anders gewees het.”
“Michael sê dit sou geen verskil gemaak het nie.”
“Natuurlik sal hy dit sê.”
Die mes sny diep. Angel sê niks.
Paul se mondhoeke krul sardonies. “Ek hoor jy het in ’n winkel gewerk.
Wat het jy verkoop?”
“Iets van alles.”
“Net soos altyd, nè?”
Angel steek haar pyn weg en praat rustig. “Paul, ek is nie van plan om
Michael weer seer te maak nie. Ek sweer.”
“Maar jy sál, nie waar nie? Dis in jou aard. Jy sal hom droog suig en dan
die leë dop weggooi. O ja, jy sal vir ’n rukkie rondhang, net om voor te gee.
En sodra dinge nie na jou sin verloop nie, sal jy weer jou tasse pak en
verdwyn.”
Angel knip haar oë en kyk weg. Sy kan skaars asemhaal so benoud is
haar bors. “Ek sal nie.”
“Nie? Nou hoekom kon jy nie wag om terug te gaan Pair-a-Dice toe nie?
Hoekom het jy weggeloop Sacramento toe?”
“Hierdie keer is ek vir goed terug.”
“Vir ’n jaar of twee. Tot jy moeg is om boervrou te speel.” Hy drink sy
appelwyn en sit die koppie neer. Hy kyk met ’n frons na Michael en
Miriam. “Jy weet, Angel, ek het Michael baie lanklaas só sien glimlag.” Hy
stap weg en gaan staan by John.
Angel klou haar koppie appelwyn in albei hande vas. Sy kyk op en sien
hoe die twee mense wat sy die liefste in die wêreld het saam dans en
wonder of Paul nie dalk reg is oor alles nie.
Vyf en twintig

Na die aardbewing was daar ’n vuur, maar die


HERE was nie in die vuur nie. Na die vuur
was daar die geluid van ’n sagte gesuis.
1 Konings 19:12

Paul doen moeite om Angel se selfvertroue uit te daag elke keer dat hulle
mekaar sien. Angel is vasbeslote om enigiets te verdra wat hy ook al na
haar kant toe slinger. Elke keer dat hy ’n kwetsende aanmerking of
beledigende voorspelling maak oor waar sy oor tien jaar sal wees, sê sy vir
haarself sy sal nie terugslaan nie. Om terug te baklei, sal net vir Michael
seermaak. Dit sal niks verander aan wat Paul van haar dink nie. Wat môre
ook al gebeur, vandag het sy vir Michael.
Angel weier om haar teen Paul te verdedig. Wat sal dit help? Sy is hoflik.
Sy bly stil. Sy staan haar man selfs wanneer sy wil weghardloop en in ’n
donker hoekie in ’n bondeltjie wil gaan opkrul.
Ek is nie meer ’n prostituut nie. Ek is nie!
Maar die manier waarop Paul na haar kyk, laat haar onthou en voel dat
sy steeds is, maak nie saak wat sy doen nie. Een jaar kan nie tien uitvee nie,
en Paul bring die jare saam met Duke, die jare van angs en alleenheid en
oorlewing terug. En juis daarom dryf Paul se aanval haar net dieper in
Michael se arms in. Hoe harder Paul probeer om haar weg te jaag, hoe
stywer klou sy vas aan dit wat sy het. Michael het gesê sy moet haar nie oor
môre bekommer nie en sy maak ’n punt daarvan om die béste van elke
oomblik saam met hom te maak. Hy het gesê sy moenie bang wees nie, en
solank hy aan haar sy is, is sy nie.
Michael het haar nóú lief, en dis al wat vir haar saak maak. Hy gee sin
aan haar lewe en maak dit vol met nuwe en wonderlike dinge. Hoewel die
lewe van sonop tot sononder harde werk is, maak hy dit op die een of ander
manier opwindend. Hy stel haar bekend aan dinge wat sy nooit voorheen
raakgesien het nie. En ’n stil stem in haar kop sê oor en oor: Kom uit,
geliefde.
Kom uit wat?
Sy kan nie genoeg van Michael kry nie. Hy oorheers haar kop en hart.
Hy is haar lewe. Hy maak haar voor sonsopkoms met soene wakker en
hulle lê in die donker en luister na die krieke en brulpaddas en die
windklokkies. Haar liggaam bewe as hy aan haar raak en sing as hy haar
syne maak. Elke oomblik van elke dag saam met hom is vir haar kosbaar.
Die lente bring ’n wildheid van kleure. Helder spatsels goue papawers en
pers lupine vlek die groen rante en ongeploegde weilande. Michael praat
oor koning Salomo en hoe hy, selfs met al sy rykdom, hom nie kon aantrek
soos God die rante met eenvoudige veldblomme vul nie. “Ek gaan nie
daardie stuk grond omploeg nie,” sê Michael vir haar. “Ek gaan dit net so
los.” Michael sien God in alles. Hy sien Hom in die wind en die reën en die
grond. Hy sien Hom in die plante wat groei. Hy sien God in die natuur en
die diere wat hul grond bewoon. Hy sien Hom in die vlamme van hulle
aandvuur.
Angel sien net vir Michael en aanbid hom.
Wanneer hy saans voor die vuur hardop lees, verdrink sy haar in die diep
weerklank van sy stem. Die woorde spoel oor haar soos ’n warm, swaar
golf en sleur haar mee na ’n veraf see. Jonatan wat teen ’n steil rots uitklim
om die Filistyne se roete te bepaal. Dawid, ’n skaapwagter, wat ’n reus
genaamd Goliat doodmaak. Jesus wat die dooies opwek. Lasarus, kom uit!
Kom uit!
Michael kan selfs onsin na poësie laat klink.
Sy vat die Bybel en sit dit terug op die kaggelrak. “Wees lief vir my,” sê
sy en vat sy hand. En Michael kan niks anders doen nie.

Elizabeth kom kuier met die kinders. “Paul het ons vertel van ’n dorpie
skaars tien myl hiervandaan. Dis nie baie groot nie en het nie veel nie, maar
hulle is weg om voorrade te gaan haal.”
Angel sien die klein ronding van Elizabeth se maag raak. Sy bedien
koffie en koekies en gaan dan sit om te gesels. Ruthie wil op haar skoot sit,
en sy tel haar op. “Wanneer gaan jy ’n baba kry?” vra Ruth. Angel se wange
word bloedrooi, en Elizabeth trek haar asem geskok in.
“Ruth Anne Altman, ek wil jou nóóit weer so iets hoor vra nie,” sê haar
ma, tel haar van Angel se skoot af en sit haar ferm op haar voete neer.
“Hoekom nie?” Ruth is glád nie ongemaklik nie en kan daarom
hoegenaamd nie verstaan waarom Angel en haar ma dan is nie.
“Omdat dit baie persoonlike dinge is, jong dame.”
Ruth kyk op na Angel, haar oë groot en verbaas. “Jy bedoel jy wil nie ’n
baba hê nie?”
Miriam onderdruk ’n laggie en vat haar sussie se hand. “Ek dink ons
moet ’n bietjie op die swaai gaan speel,” sê sy.
Elizabeth gaan sit weer en waai haar warm gesig koel. “Daardie kind
blaker net alles uit wat sy dink,” sê sy en maak verskoning.
Angel oorweeg of sy vir haar moet sê sy kan nie kinders hê nie en besluit
dan om dit nie te doen nie.
“Ek het jou hulp kom vra,” sê Elizabeth. “Die baba kom in Desember, en
ek het gewonder of jy my vroedvrou sal wees.”
Angel is stomverbaas. “Ek? Maar Elizabeth, ek het geen kennis hoe om
iemand te help om ’n baba in die lewe te bring nie.”
“Ek weet wat gedoen moet word. Miriam wil help, maar ek dink nie ’n
jong, ontvanklike meisie soos sy behoort ’n geboorte te sien nie. Dit kan
haar vir altyd afskrik.”
Angel sit ’n rukkie doodstil. “Ek kan nie sien hoe ek jou kan help nie.”
“Ek is al daardeur. Ek sal jou presies voorsê wat om te doen. By die huis
het ek ’n vroedvrou gehad, maar hier is dit net John, en dit sal nie werk
nie.” Sy glimlag effens. “Hy kan ’n koei en ’n perd help kalf en vul, maar is
van geen nut wanneer dit by die geboorte van sy eie kinders kom. Hy raak
heeltemal gek die oomblik wat ek enige pyn begin voel en wel, ek kan tog
nie sonder enige ongemak deur die hele besigheid gaan nie. Hy het flou
geword toe Miriam gebore is.”
“Het hy?” Sy kan net nie die standvastige John oor enigiets sien flou val
nie.
“Hy het net daar langs die bed op die vloer geval, en daar lê ek,
hulpeloos soos ’n skilpad op sy rug en moet self voortploeter met my eie
taak.” Sy lag saggies. “Hy het eers bygekom toe alles verby was.”
“Sal dit báie moeilik wees?” vra Angel, reeds bekommerd. Sy kan een
meisie onthou wat dit reggekry het om haar swangerskap geheim te hou
totdat dit te laat was om ’n aborsie te kry. “Is daar nie ’n dokter op die dorp
nie?”
“Miskien is daar een. Maar teen die tyd dat hy by ons uitkom, sal dit
alles verby wees. Ruth het net vier uur gevat om gebore te word. Hierdie
een kan selfs vinniger gebore word.”
Angel stem terughoudend in om te help wanneer die tyd aanbreek. “As
jy absoluut seker is jy wil hê dit moet ek wees.”
“Ek is,” sê Elizabeth en gee vir haar ’n drukkie. Sy lyk baie verlig.
Nadat die Altmans weg is, gaan Angel uit na Michael toe. Sy leun oor
die heining en kyk hoe hy ’n perd beslaan. “Elizabeth wil hê ek moet help
met haar baba se geboorte.” Sy kyk hoe die lyne op sy bruin wange verdiep
toe hy glimlag.
“Miriam het gesê sy gaan jou vra. Sy was ’n bietjie omgekrap dat sý nie
die een gaan wees wat haar nuwe klein boetie of sussie die wêreld binne
help nie.”
“Elizabeth is bang Miriam sal afgeskrik word,” sê sy. “Ek, aan die ander
kant, kan mos deur niks geskok word nie.”
Michael hoor die snedigheid in haar stem wat weke laas daar was. Hy
kyk vinnig na haar. Is dit omdat hy van Miriam gepraat het? Of is sy net
benoud oor hierdie ekstra verantwoordelikheid?
“As daar probleme is, ek het darem ook al in my lewe ’n paar vulletjies
ontknoop.”
“Sy sê John het flou geval.”
Michael lag terwyl hy die laaste spyker inslaan en die punt afsny.
“Dis nie snaaks nie, Michael. Wat as iets verkeerd loop? Daar was ’n
meisie in die bordeel in New York wat haar swangerskap lank genoeg
geheim gehou het sodat Duke haar nie meer kon dwing om ’n aborsie te hê
nie. Sally het hom omgepraat om haar te laat bly, maar toe dit tyd was, het
sy verskriklik geskree. Ek kon haar deur die mure hoor. Dit was ’n
Sondagmiddag en die plek was besig en ... ” Sy kyk na Michael se gesig toe
hy regop kom en bly stil. Ag, waarom moes sy dit alles nou weer oopkrap?
“En wat?”
“Vergeet dit,” sê sy en draai om.
Hy kom na die heining toe. “Jou verlede is deel van jou. En ek het jou
lief. Onthou? Nou wat het met die meisie en haar baba gebeur?”
Haar keel trek styf toe en sy kan skaars iets uitkry. “Sally het ’n lap in
haar mond gedruk sodat sy niemand sou steur nie. Dit het verskriklik lank
gevat. Die hele nag deur tot die volgende dag. Sy was dae daarna nog siek,
en die baba ... ”
Sally het die ander meisies weggehou, maar Angel toegelaat om in die
kamer te kom en haar te help om die ma en die baba te versorg. Die jong
prostituut was so wit soos die dood en doodstil terwyl die baba langs haar
onbedaarlik gehuil het en in ’n
pienk doek toegedraai was. Angel wou die baba optel, maar Sally het haar
haastig weggestoot. “Moenie aan haar raak nie!” het sy gefluister. Angel
kon dit nie verstaan nie tot Sally die doek afgehaal het.
“Wat het van die kind geword?” vra Michael en stoot ’n los sliert goue
hare uit haar bleek gesig.
“Dit was ’n dogtertjie. Sy het net ’n week lank gelewe,” sê sy droewig.
Sy sê nie vir hom dat die baba se hele lyfie vol sere was en dat sy naamloos
gesterf het nie. Die ma het kort daarna verdwyn. Toe sy vir Sally vra wat
van haar geword het, het Sally gesê: “Dis nie vir jou om te bevraagteken
wat Duke doen nie.” En Angel het geweet die meisie is dood, kos vir die
rotte in die een of ander donker, vuil stegie. Net soos Rab. Net soos sy as sy
nie doen wat van haar verwag word nie. Sy ril.
“Elizabeth het al vyf kinders gehad, Amanda,” herinner Michael haar.
“Ja,” sê sy, “en hulle was almal gesond.”
Michael sien hoe die kleur stadig weer terugkom na haar wange. Hy
wonder waaraan sy gedink het, maar vra nie. As sy daaroor wil praat, sal sy.
Indien nie, sal hy haar stilte respekteer. Maar sy het gerusstelling nodig. Hy
kan dit aanvoel. “Wanneer dit vir ’n baba tyd is om te kom, is daar niks wat
jy kan doen om dit te keer nie.”
Sy glimlag vir hom. “Ek neem aan jy weet alles hiervan ook?”
“Nie uit persoonlike ervaring nie,” sê hy. “Tess het een keer ’n baba op
die waens help vang. Sy het gesê sy hoef nie iets te gedoen het behalwe om
te keer dat die baba op die wa se vloer val nie. Hulle is effens glad wanneer
hulle uitkom. Wanneer Elizabeth se tyd kom, sal ek saamkom en John se
hand kom vashou.”
Angel lag, nou minder gespanne. Solank Michael by haar is, sal alles reg
wees.
“Voor ek vergeet,” sê Michael en haal ’n pakkie uit sy broeksak.
“Miriam het gevra ek moet dit vir jou gee.”
Angel het gesien Miriam het lank op die heining geleun en met Michael
gesels. “Wat is dit?” vra sy en kyk vinnig na die netjiese handskrif wat sy
nie kan lees nie. Duke het nie gedink dis nodig om haar te leer nie.
“Saadjies vir ’n somerblomtuin.”

Soos wat die lente se warmte in somerhitte oorgaan, kom Angel agter dat sy
haar ma se slag met ’n plant het. Die blombedding wat sy om die huis
gemaak het, word ’n pragtige skouspel van kleur. Elke dag maak sy die
kruik vol pienk floksies, geel nieskruid, rooi weeblaar, pers
pronkridderspore en wit stokrose. Blou vlas en vroeë madeliefies versier die
kaggelrak. Maar selfs meer as die vreugde wat die blomme vir haar bring, is
die trots wat sy voel wanneer sy na die mielieland kyk.
Sy kan skaars glo dat die klein, verrimpelde pitte wat Michael vir haar
gegee het om te plant langer as hy geword het. Sy stap deur die rye, raak
aan die toringhoë plante en sien die ontwikkelende mieliekoppe. Het sy
regtig gehelp om dit te laat gebeur?
“Amanda! Waar is jy?” roep Michael.
Sy lag en staan op haar tone. “Hier,” roep sy terug en hardloop verder in
die ry af om weg te kruip.
“Goed,” sê hy laggend. “Waar is jy nou?”
Sy fluit vir hom vanuit haar wegkruipplek. Sy en Ruth het gister tussen
die mielies wegkruipertjie gespeel, en sy is vandag in ’n speelse bui en
gereed om Michael te terg.
“Wat gee jy my as ek jou kry?”
“Wat het jy in gedagte?”
“O, ’n bietjie van dit en dat.” Hy steek sy arm deur ’n ry en kry haar
amper aan haar romp beet. Al laggende glip sy weer weg. By die einde van
die ry haal hy haar in, maar sy ontglip hom weer en verdwyn tussen die
groenigheid in. Sy koes in ’n ry weg en pootjie hom toe hy verbyhardloop.
Sy skater van die lag en hardloop in die teenoorgestelde rigting weg.
“Ek gaan nooit daardie heining reggemaak kry nie,” sê hy en hardloop
agter haar aan. Hy het haar net gevang toe iemand na hulle roep. Michael
lag. “Dis Miriam wat wil weet of Mandy kan kom speel.”
Miriam lyk ontsteld toe sy by hulle kom; haar oë is rooi gehuil.
“Wat het gebeur?” vra Angel verskrik. “Is dit jou ma?”
“Mamma is piekfyn. Almal is gesond,” sê Miriam en gee ’n flou glimlag.
“Michael, ek moet met jou oor iets praat. Asseblief. Dit is belangrik.”
“Natuurlik.”
Miriam vat Angel se hand en druk dit. “Dankie,” sê sy. “Ek sal hom nie
lank besig hou nie.”
Angel weet sy moet nou gaan. “Kom huis toe wanneer julle klaar is. Ek
gaan koffie maak.”
Sy kyk deur die venster hoe Michael en Miriam op die werf staan en
praat. Miriam huil. Michael sit sy hand op haar skouer en Miriam beweeg in
sy arms in. Angel se maag ruk toe sy sien hoe hy haar vashou. ’n Dowwe
pyn versprei oor haar bors toe sy sien hoe hy die meisie se rug vryf en iets
in haar oor sê. Miriam staan ’n bietjie weg en skud haar kop. Hy lig haar
ken en sê nog iets vir haar. Sy praat lank en Michael luister. Toe sy klaar is,
sê hy vinnig iets. Sy sit haar arms om sy nek en soen hom op die wang. Toe
gaan sy terug huis toe. Michael kyk haar vir ’n lang ruk agterna. Hy vryf die
agterkant van sy nek en skud sy kop. Toe stap hy na die heining toe waar hy
vroeër besig was.
Toe hy vir middagete huis toe kom, wag Angel dat hy moet vertel wat
fout is met Miriam, maar hy swyg. In plaas daarvan praat hy oor hoe hy by
die kamp vorder en wat hy vanmiddag gaan doen. As Miriam hom iets
vertrouliks vertel het, weet sy hy sal nie haar vertroue skend nie.
Toe hy aan die einde van die dag inkom, lyk hy ingedagte. Hy hou haar
dop terwyl sy die skottelgoed was. “Jy is baie stil,” sê hy en kom staan agter
haar met sy hande om haar middel terwyl sy warm water oor die
skottelgoed gooi. Hy stoot haar vlegsel eenkant toe en soen haar nek.
“Waaroor bekommer jy jou? Elizabeth?”
“Miriam.” Sy voel hoe sy hande verslap. Sy draai om en kyk op na hom.
“En oor jou.” Hy knip sy oë en sê niks, en sy druk by hom verby. Hy kry
haar beet en swaai haar met mening om sodat sy na hom kyk.
“Dis nie nodig om jaloers te wees nie, alhoewel ek moet erken ek sou op
my tande gekners het as Paul hier aankom en vra om privaat met jou te
praat.”
“Daar is nie eintlik ’n manier dat dit sal gebeur nie, of hoe?”
“Nee, jy’s reg.” Hy wens hy het Paul nie hierby ingesleep nie. “Die punt
is, ek het jóú lief.”
“En jy word glad nie in die versoeking gebring deur ’n jong meisie wat
die grond aanbid waarop jy loop nie?”
“Nee,” sê hy en ontken nie Miriam se toegeneentheid nie. “Maar ek is vir
haar meer soos ’n ouer broer as enigiets anders.”
Angel voel kinderagtig. Sy is bitter lief vir Miriam, maar om hulle só
saam te sien, het seergemaak. Sy kyk weer op in Michael se oë en kan nie
daaraan twyfel dat hy haar liefhet nie. Hy maak haar swak met sy liefde. Sy
ontspan en glimlag hartseer vir hom. “Is alles oukei? Wat is fout met haar?”
“Sy is ongelukkig. Sy weet wat sy wil hê. ’n Man en kinders van haar
eie, maar sy is nie seker hoe om dit te kry nie. So sy wou ’n man se mening
hoor.”
“Wel, ek is bly sy het nie na Paul toe gegaan nie,” sê sy voor sy haarself
kan keer. Sy gaan was weer skottelgoed. Paul sal ’n liewe, onskuldige
meisietjie soos Miriam uitmekaarskeur met sy gespot.
Michael is stil.
Sy kyk vinnig om na hom en weet sy moes nie iets teen sy vriend gesê
het nie. “Ek is jammer. Dis net dat ... ” Sy trek haar skouers op.
“Sy het ’n man nodig.”
“Ja,” stem sy saam, “maar hy sal iemand baie, baie spesiaals moet
wees.”
Sy mondhoeke vertrek. “Jy het haar lief, nie waar nie?”
“Sy is die naaste aan ’n suster wat ek ooit sal hê. Dalk is dit hoekom dit
so seergemaak het toe ek sien hoe julle mekaar vashou.”
“Ek hou haar nie vas soos ek jou vashou nie. Wil jy sien wat die verskil
is?”
Uitasem en laggend druk sy hom weg. “Jy is nou heel verspot. Gaan lees
sodat ek my werk kan afhandel.”
Hy haal die Bybel van die rak af en gaan sit voor die vuur met die boek
op sy skoot. Hy buig sy kop, en Angel weet dat hy bid. Dit is sy gewoonte
en sy spot hom nie meer daaroor nie. Daardie groot, swart boek val
uitmekaar, maar hy kyk daarna asof dit iets is wat in goud gebind is, vol
kosbare juwele binne-in. Hy lees dit nooit sonder om eers te bid nie. Hy het
eenkeer vir haar gesê hy lees nie voordat sy kop oop genoeg is om te kan
ontvang nie. Sy weet nie waarvan hy praat nie. Partykeer is sy woorde
onverstaanbaar vir haar. Maar dan sal hy weer iets wonderliks sê wat haar
met warmte en nuwe lig vul. Sy is die swartste nag, en hy die sterrelig wat
daardeur skyn en daarmee ’n ontvouende patroon in haar lewe skep.
Sy maak haar takies klaar en gaan sit langs hom. Hy is steeds stil. Sy lê
terug met haar kop, luister na die knetterende vuur en wag. Toe hy
uiteindelik begin lees, is sy vaak en tevrede. Sy ryk, warm stem is soos
donker toffie, maar wat hy lees verras haar. Dis ’n storie oor ’n bruid en ’n
bruidegom en hul passie vir mekaar. Hy lees vir ’n lang ruk.
Michael sit die Bybel terug op die rak en gooi nog ’n stuk hout op die
vuur. Dit sal deur die nag brand en die hut warm hou.
“Waarom sal ’n maagdelike bruid haar as ’n prostituut voordoen aan haar
man?” vra Angel verbaas.
Michael kyk skrams na haar. Hy het gedink sy slaap al. “Sy het nie.”
“Ja, sy het. Sy het vir hom gedans en hy het na haar liggaam gekyk. Van
die voete af op. In die begin het hy in haar oë gekyk.”
Hy is verbaas dat sy so mooi geluister het. “Hy het haar liggaam geniet,
soos sy wou hê hy moes, en sy het gedans om hom te prikkel en te behaag.”
“En sê jou God dis in orde om ’n man te verlei?”
“Dis in orde om jou eie man te verlei.”
Haar gesigsuitdrukking raak somber. Sy het nie sommer enige man
bedoel nie, maar is baie bewus van hoe goed sy geleer is om te verlei. “Wat
as hulle dink dis uitlokking net oor hoe jy lyk?”
Michael stoot die stomp dieper in met sy stewel. “Mans gaan jou altyd
aanstaar, Amanda. Jy is beeldskoon. Daar is niks wat jy daaraan kan doen
nie.” Selfs John Altman het in die begin na haar gestaar. En Paul. Michael
wonder soms wat deur Paul se kop gaan wanneer hy haar sien. Kry hy
terugflitse van wat tussen hulle gebeur het op pad Pair-a-Dice toe? Hy
verjaag die ontstellende gedagtes uit sy kop. Om daarby vas te haak, bring
twyfel wat hom pynig.
“Pla dit jou?” vra sy.
“Wat?”
“Wanneer mans my aanstaar.”
“Soms,” erken hy. “Wanneer hulle na jou kyk asof jy ’n ding is en nie ’n
mens met gevoelens nie.” Sy mondhoeke span droewig. “Of ’n vrou wat op
haar man verlief is.”
Sy draai haar trouring om haar vinger. “Hulle kyk nooit na my hande nie,
Michael.”
“Miskien moet ons die ring in jou neus sit.”
Sy kyk op en sien sy tergende glimlag. “Ja, of ’n groot een om my nek.
Miskien sal dít hulle weghou.”
Lank daarna, terwyl Michael langs haar lê en slaap, luister Angel na die
nagwindjie wat deur die windklokkies net buite die venster roer. Die
melodieë wat heeltyd verander, is so kalmerend.
Die nuwe hooi ruik soet onder haar, nóg soeter omdat dit ook weens haar
arbeid te danke is dat dit daar is. Sy en Michael het die hooi saam geoes.
Wat ’n harde werk! Sy het gefassineerd gekyk hoe Michael die groot sens in
wye, gladde hale swaai en die goue gras afsny. Sy het dit op hope gehark en
hulle het dit agterop die wa gelaai om in die skuur te gaan berg. Die diere
sal hooi hê deur die koue wintermaande wat kom.
Alles wat Michael doen, het ’n doel. Sy dink aan haar eie lewe en hoe
doelloos en mistroostig dit voor hom was. Sy is afhanklik van hom dat sy
vandag leef. En Michael is afhanklik van die grond, die reën, die son se
hitte. En sy God.
Veral sy God.
Ek sou teen dié tyd al dood gewees het as Michael my nie kom haal het
nie. Ek sou in ’n vlak, ongemerkte graf lê en vrot het.
Sy is vol dankbaarheid en vervul met ’n pynlike nederigheid dat hierdie
man haar liefhet. Hoekom, uit al die vroue in die wêreld, het hy haar
gekies? Sy verdien dit die minste. Dis ondenkbaar.
Maar ek is bly, so bly, dat dit so is. En ek sal nooit weer enigiets doen om
hom te laat spyt kry nie. O God, ek sweer ...
’n Soet geur vul die donker hut. ’n Geur wat nie beskryf kan word nie.
Sy vul haar longe daarmee, dis so wonderlik en duiselingwekkend. Wat is
dit? Waar kom dit vandaan? Haar kop draai van al die woorde en sinne wat
Michael oor die afgelope weke, en selfs voor dit, vir haar gelees het. Dit is
woorde wat sy gedink het sy nie hoor nie, maar wat op die een of ander
manier hul pad na die diepste deel van haar gevind het, iewers diep binne-in
haar, ’n plek wat sy nie kon toesluit nie.
En toe vul ’n stil, sagte stem die vertrek.
Ek is.
Angel sit vinnig regop, haar oë verskrik oop. Sy kyk om haar in die hut
rond, maar daar is niemand anders as Michael nie, en hy lê vas aan die slaap
langs haar. Wie het gepraat? Sy voel hoe die angs deur haar gaan en sy
sidder daarvan. Toe, skielik, is dit weg, en sy is weer kalm. Haar vel tintel
vreemd.
“Daar is niks,” fluister sy. “Niks.” Sy wag op ’n antwoord en beweeg
nie.
Maar geen antwoord kom nie. Geen stem vul die stilte nie.
Angel gaan lê stadig en kruip so styf moontlik teen Michael aan.
Ses en twintig

Gee smart woorde:


die droefheid wat nie praat nie.
Shakespeare

September breek aan en die mielies is gereed om geoes te word. Michael


trek die wa tussen die rye en los dit daar. Hy en Angel breek die koppe van
die mielies af en gooi dit teen die klapbord sodat dit in die wa se bak val.
Sommer gou is die mieliekrip vol.
Die Altmans kom help met graagte om die mielies te oes. Dis ’n goeie
verskoning om saam te kom en ’n bietjie pret te hê. Hulle sing almal saam,
vertel stories en lag terwyl hulle werk. Angel se hande word vol blase en sy
sny hulle stukkend teen die blare, maar sy was nog nooit in haar lewe só
gelukkig nie. Die hoop goue koppe groei om haar, en sy voel ongelooflik
trots om deel te wees daarvan. Daar is meer as genoeg vir saad vir volgende
jaar, hul eie voorraad mieliemeel is aangevul, en daar is genoeg om aan die
mark te gaan verkoop.
Toe die mieliesnyery klaar is, gaan sit Elizabeth in die skaduwee en
drink die kruietee wat Angel vir haar bring. Sy word al mooi rond en haar
wange het ’n gesonde blos. Angel het haar nog nooit so gesond of lewendig
sien lyk nie.
“Wil jy voel hoe die baba skop?” vra sy en vat Angel se hand. Sy sit dit
op haar geswolle maag. “Daar’s hy. Het jy dit gevoel, Amanda?” Angel lag
verbaas. “John wil nog ’n seun hê,” sê Elizabeth.
Angel raak hartseer terwyl hulle gesels. Elizabeth gee haar hand ’n
drukkie. “Jou beurt sal kom. Jy is nog jonk.”
Angel antwoord nie.
Michael en Miriam stap teen die heuwel uit om te gaan kyk of alles nog
piekfyn is met klein Ruth wat op die swaai speel. Elizabeth kyk na hulle
met ’n ligte frons. “Sy haal Michael aan soos die evangelie. Ek het só
gehoop sy sal op Paul verlief raak.”
“Paul?” Angel kyk verras na haar.
“Hy is jonk en sterk en baie aantreklik. Hy werk hard op sy grond en sal
nog baie in die lewe bereik. Ek het Miriam gevra wat sy van hom dink,
maar al wat sy wou sê, is dat hy haar vertel het sy vrou was baie mooi en hy
verlang na haar. Hy sien haar skaars raak wanneer hy oorkom om John te
help.” Sy sug. “Ek neem aan hy is nog in rou. Te veel om ’n mooi jong
meisie raak te sien wat net die regte ouderdom vir hom is. En Miriam is ... ”
Sy bly stil toe sy besef wat sy besig is om te sê.
“Verlief op Michael,” sê Angel.
Elizabeth bloos. “Sy het nog nooit so gesê nie.”
“Sy hoef dit nie te sê nie.”
Elizabeth wonder watter groot skade sy gedoen het met haar dwalende
gedagtes en tong. Partykeer praat sy met net so min wysheid en taktvolheid
as haar kinders. Hoekom het sy nie haar bekommernis vir haarself gehou
nie? Dis té maklik om met Amanda te praat. “Ek het gewonder,” erken sy
toe sy besef sy kan nie nou die onderwerp probeer wegpraat nie. Sy het
veral vandag gewonder toe sy Miriam saam met Michael sien wegstap en
kon sien hoe sy aan sy lippe hang. Is Michael bewus van haar gevoelens?
Hoe kan hy nié wees nie? Miriam kon nog nooit enigiets wegsteek nie.
Elizabeth gee Angel se hand ’n drukkie. “As dit so is, sal Miriam nóóit
iets aan daardie gevoelens doen nie. Sy is mal oor jou, en sy is ’n goeie
kind. Sy is nie ’n dwaas nie, Amanda.”
“Natuurlik nie.” Angel sien hoe Michael teen die heuwel afkom saam
met haar vriendin en kan nie help om te dink wat ’n mooi paartjie hulle
maak nie. Beide het donker hare en is pragtig geskape. Hulle het so baie
gemeen. Hulle glo albei in dieselfde God. Hulle is lief vir die grond. Hulle
gryp die lewe aan met geesdrif en vreugde. Hulle gee hul liefde
onvoorwaardelik.
Sy sien hoe Miriam by Michael inhaak en in gemaklike kameraadskap na
hom opkyk en glimlag. Jaloesie laat ’n steekpyn deur Angel se hart skiet,
maar dis gou verby en sy word oorval deur ’n gevoel van droefheid. Sy hou
Miriam se gesig fyn dop toe hulle nader kom.
Elizabeth is ontsteld toe sy sien hoe Angel haar dogter dophou. “Ek is so
’n dwaas,” sê sy ongelukkig, oortuig daarvan dat sy haar dogter se
vriendskap met Angel geruïneer het. “Ek moes niks gesê het nie.”
“Ek is bly jy het.”
Elizabeth gryp haar hand styf vas. “Amanda, Michael het jou verskriklik
lief.”
“Ek weet,” sê Angel en glimlag afgetrokke. Wat sal dit hom ooit in die
sak bring?
“En Miriam ook.”
Angel kan sien hoe ongelukkig Elizabeth is en sit haar hand oor hare.
“Ek weet dit ook, Elizabeth. Moet jou nie verknies nie.” Behalwe vir
Michael en klein Ruth het sy Miriam liewer as enigiemand anders in die
wêreld. Nie dat sy Elizabeth nie ook liefhet nie. Wat sy voel, is te groot om
te deel.
Elizabeth se oë is vol trane. “En nou het ek jou vertroue in haar
geskend.”
“Glad nie.” Angel weet, vreemd genoeg, dat haar versekering opreg is.
Sy is seker van Michael se liefde vir haar. Maar wat van Miriam? En selfs
erger, wat van Michael se drome?
Angel probeer die aaklige gedagtes uit haar kop kry. Michael het gewéét
waarmee hy hom opsaal. Hy het self so gesê. So dis nie my skuld as hy nie
alles kry wat hy wil hê nie. Soos kinders.
Angel kyk na Elizabeth se maag en draai dan haar kop weg, en gee voor
dat die droefheid binne haar nie bestaan nie.

Die volgende dag gaan maak Michael by Paul ’n draai en bly amper
heeldag weg. Angel wonder waaroor hy met Paul gaan praat het en wat
Paul vir hom te sê het. Sy is in die tuin besig toe Michael terugkom. Sy loop
hom nie tegemoet nie. Hy spring van sy perd af en stap doelgerig in haar
rigting. Hy druk met sy een hand op die stutpaal, spring oor die hekkie en
kom na haar toe. Hy sit sy arms om haar en soen haar met oorgawe. Toe sy
uiteindelik na haar asem snak, verslap hy sy greep en grinnik.
“Laat dít jou beter voel?”
Sy lag en druk hom styf vas. Die verligting en vreugde verjaag al die
angs van die lang dag sonder hom. Dis ongelooflik hoe ’n mens se gedagtes
jou kan pynig.
Sy gaan in die huis in om aandete te maak, terwyl hy na sy perd gaan
omsien. Toe hy inkom, glimlag sy. “Is alles oukei by Paul?”
“Nee,” sê hy grimmig met sy hande diep in sy broeksakke waar hy teen
die kaggelrak leun en haar dophou. “Iets vreet aan hom, en hy wil nie
daaroor praat nie. Ons gaan môre met ’n vrag groente inry dorp toe.”
Haar hart sink by die gedagte aan nóg ’n hele dag sonder hom, maar sy
sê niks.
“Ek sal vroegoggend die vee versorg, dan kan jy die dag by die Altmans
kuier,” sê hy. “Elizabeth gaan appelsous maak.”
Angel draai om en kyk na hom. “Het jy vir Miriam gesien?”
“Ja.” Sy gesigsuitdrukking is onpeilbaar. “Wat ’n gemors,” sê hy basies
vir homself.
Sy vra niks verder nie.
Paul is vroeg daar. Michael is net besig om sy koffie klaar te drink. Toe
hy opstaan, druk hy Paul ferm terug in sy stoel. “Wag hier. Drink ’n koppie
koffie terwyl ek gou die vee gaan versorg. Die wa is reeds gelaai. Ek sal
roep as ek reg is om in te span. Dan ry ons by jou plek om, laai gou jou
kratte en dan kan ons laat waai.”
Paul se gesig is strak en hy kyk koud na Angel toe Michael by die deur
uit is. “Was dit jou plan dat ons ’n tydjie alleen moet hê?”
“Nee. Ek neem aan Michael hoop dat ons ons verskille kan uitsorteer.”
Paul drink sy koffie in stilte. Sy skouers is snaarstyf.
Sy kyk na hom. “Het jy al iets geëet vanoggend? Daar is ... ”
“Nee dankie,” sê hy kortaf. Hy kyk sardonies op na haar. “Ek het gedink
jy sou al lankal gemaak het dat jy wegkom.”
Dis duidelik dat dit hom baie gelukkig sou maak. “Wil jy nog koffie hê?”
“So beleef. So ordentlik. ’n Mens sal dink jy’s uitgeknip om ’n boervrou
te wees.”
“Ek is ’n boer se vrou, Paul,” sê sy kalm.
“Nee, jy is ’n briljante aktrise. Jy doen wat van jou verwag word. Maar
diep binne-in is jy nie naastenby ’n boervrou nie.” Sy kneukels raak wit om
die beker. “Dink jy nie Michael is bewus van die verskil elke keer wat hy
met Miriam Altman praat nie?”
Sy wys nie hoe seer sy woorde maak nie. “Hy het my lief.”
“Hy is lief vir jou, ja,” sê hy en laat sy oë tergend oor haar liggaam gly.
“Maar jy weet waaroor dít gaan.”
Hoe kan Michael hierdie man soos ’n broer liefhê? Sy probeer haar bes
om iets in hom te sien, enige teken van goedheid en menslikheid, maar al
wat sy kan sien, is sy koue haat. “Gaan jy my altyd haat oor dit wat jy
gedoen het, Paul? Gaan jy nooit vergeet nie?”
Paul sit die beker neer en stoot sy stoel agteruit. Sy gesig is rooi van
woede, en sy oë spoeg vuur. “Blameer jy mý vir wat gebeur het? Het ek jou
van daai wa af gesleep? Het ek jou verkrag? Jy sal enigiets doen om te
maak asof dit my fout was, nie waar nie?” Hy storm by die deur uit.
Angel beweeg nie. Sy moes liewer haar mond gehou het. Sy weet sy kan
haarself nie verdedig nie.
Michael kom haastig in om haar totsiens te soen. “Ek sal op pad terug by
die Altmans aankom en jou oplaai.”

Ruth hardloop Angel tegemoet toe sy oor die weiveld aangestap kom. “Paul
het gesê ons kan al sy appels pluk!” sê sy toe Angel haar op haar heup tel.
“Mamma gaan appelsous maak. Ek is mal oor appelsous. En jy?”
Miriam staan in die deur en lyk pragtig in ’n blou rok van geruite katoen
en ’n wit voorskoot. Sy glimlag. “Ons is almal in die werk gesteek,” sê sy
en gee vir Angel ’n drukkie.
Hulle vat ’n stootkarretjie en stap die myl na die appelboom toe. Terwyl
hulle die vrugte pluk, wys Miriam vir Angel alles wat Paul al op sy grond
vermag het. “Hy kan ’n goeie pampoenoes verwag, en het ’n baie goeie
mielie-oes gehad. Ons het hom nou die dag met die mielies gehelp.”
Hulle gaan terug na die Altmans se hut en is die res van die oggend besig
om appels te skil, die stronke uit te haal en in stukke te sny om te kook.
Elizabeth gooi speserye by soos sy roer, en die soet reuk vul die hut. Terwyl
die kastrol prut, pak sy ’n piekniekmandjie en stuur hulle veld toe. “Die
seuns is klaar by jou pa, en ek sal die hele plek vir myself hê om ’n slapie te
vat,” sê sy toe Miriam vra of sy oukei sal wees op haar eie.
Ruth en Leah gaan saam met Miriam en Angel. Die twee jonger meisies
loop in die koel water van die stroom, terwyl Angel op die oewer sit en met
haar tone in die sand wikkel. Miriam lê op haar rug met haar arms wyd
uitmekaar en drink die son se hitte in. “Ek mis partykeer ons huis,” sê sy.
Sy praat oor die plaas en hul bure en die oor-en-weer-kuiery. Sy praat oor
die lang reis weswaarts. Sy onthou die een snaakse staaltjie na die ander, en
Angel lag saam met haar. Miriam laat ’n moordende trek van tweeduisend
myl soos ’n plesierrit klink.
“Vertel my van die boot,” sê Miriam, rol om op haar maag en stut haar
kop op haar hande. “Was daar baie vroue aan boord?”
“Twee ander behalwe ek. My kajuit was nie veel groter as ’n agterhuisie
nie, en dit was so koud ek het soveel klere moontlik aangetrek en selfs dit
het nie gehelp nie. Toe ons om Hoorn is, was dit die naaste wat ek al aan die
hel gekom het. Ek het gedink ek gaan dood so seesiek was ek.”
“Wat het jy gedoen toe jy in San Francisco aankom?”
“Gevries en amper gesterf van die honger.” Sy vou haar arms om haar
knieë en kyk na die twee meisietjies in die stroom. “Toe het ek weer begin
werk.” Sy sug. “Miriam, ek het nie baie snaakse stories om te vertel nie, en
dié wat ek wel het, is nie vir jou bedoel nie.”
Miriam sit kiertsregop. “Ek is nie meer ’n kind nie, hoor. Jy kan my maar
vertel van hoe dit was.”
“Walglik.”
“Nou hoekom het jy dan nie weggeloop nie?”
Is daar ’n ligte verkwaliking in daardie woorde? Kan sy vir Miriam
vertel hoe dit voel om agt jaar oud te wees en in ’n kamer toegesluit te wees
en te weet net twee mense het die sleutel: ’n koppelaarster wat vir jou kos
bring en die kamerpot omruil, en Duke? Kan sy haar vertel van die
gruwelike gevolge toe sy saam met Johnny probeer wegloop het? “Ek het
probeer, Miriam,” sê sy net en los dit daar.
“Maar die mans wou jou hê. Hulle het verlief geraak op jou. Ek sal wát
wil gee om net één keer straataf te stap en te sien hoe die koppe draai
wanneer ek verbystap.”
“Nee, jy wil dit nie hê nie.”
Miriam se oë is vol trane. “Ek wil net één keer hê ’n man moet na my
smag.”
“Regtig? Wat as dit ’n vreemdeling is en hy het nou net iemand betaal en
nou moet jy doen wat hy ook al wil hê, maak nie saak hoe vernederend dit
is nie? Wat daarvan as hy afskuwelik is? Wat as hy ’n maand laas gebad
het? Wat as hy daarvan hou om rof te wees? Sal jy nog steeds dink dis
romanties?” Sy het nie bedoel om so kras te wees nie. Sy bewe.
Miriam se gesig is asvaal geskrik. “Is dit hoe dit was?”
“Nog erger,” sê Angel. “Ek wens ek het nooit ’n ander man voor Michael
geken nie.”
Miriam vat haar hand en vra nie nog vrae nie.
Michael kom teen skemer daar aan. Miriam is eerste by die deur uit om
hom te verwelkom. “Ek het gedink Paul kom saam met jou terug.”
Michael spring af. “Hy het besluit om ’n dag of twee op die dorp te bly.”
“Tipies man,” sê Miriam, maar haar vrolikheid is dadelik weg.
Elizabeth dring daarop aan dat hy en Angel vir aandete bly. Miriam sit
aan die ander kant langs Michael en sê tydens die ete byna niks. Sy raak
skaars aan haar kos. Angel sien hoe Michael sy hand op hare sit en iets in
haar oor fluister. Miriam se oë skiet vol trane. Sy verskoon haarself vinnig
en staan op van die tafel af.
“Wat is deesdae fout met haar?” vra John uit die veld geslaan.
“Los haar tog maar, John.” Elizabeth kyk van Angel na Michael en stuur
die skottel groenpampoen aan.
Michael is diep ingedagte toe hulle huis toe ry. Hy vat Angel se hand en
hou dit styf vas. “Wat ek nie nou sal gee vir ’n bietjie wysheid nie,” sê hy.
“Wat het Paul vanoggend vir jou gesê?”
“Hy was verbaas dat ek nog hier is,” sê sy en glimlag sodat hy nie kan
sien hoe seer dit haar gemaak het nie.
Sy kan Michael nie flous nie. “Ek het vir jou iets van die dorp af
gebring.” Toe hulle by die huis kom, haal hy iets van die wa af en gee dit
vir haar. Sy weet eers nie wat dit is nie, net doringrige stokke toegedraai in
sakke. “Roosbome. Die man het my belowe dit is rooi, maar ons sal maar
self sien in die lente. Ek sal dit heel eerste môre-oggend plant. Sê net waar
jy hulle wil hê.”
Angel onthou die geur van rose in ’n sonnige sitkamer. “Een reg onder
die venster,” sê sy, “en die ander een by die voordeur.”
Toe sy skielik ’n beeld sien van haar ma in ’n nagrok waar sy in die
maanverligte tuin kniel, stoot sy dit vinnig weg.

Thanksgiving kom vinnig nader, en Elizabeth is so groot dat Angel dink sy


gaan bars. Sy en Miriam neem die voorbereidings vir die
vakansiefeesvierings oor en Elizabeth kyk en gee raad. Toe die dag
uiteindelik daar is, is die tafel gelaai met gestopte fisante, geroomde wortels
en ertjies, aartappels en soet neute. John het ’n koei gekoop, en bekers melk
staan op albei punte van die tafel. Angel het maande laas ’n glas melk
gehad en dit laat haar mond meer water as al die ander kos wat sy help
gaarmaak het.
“Paul is dorp toe om te gaan vier,” sê Miriam toonloos. “Hy het nou die
dag gesê hy dink daaraan om terug te gaan na die strome sodra die lente
begin.”
“Daar is ’n stroom net daar naby sy huis,” sê Leah.
Jacob gee sy suster ’n skerp kyk. “Nie een met goud in nie, jou
domkop.”
“Dis genoeg, Jacob,” vermaan Elizabeth hom en sit ’n rabarberpastei op
die tafel. Miriam sit pampoen op die ander punt. Toe almal klaar geëet het,
verdwyn die kinders vinnig voordat hulle ingespan kan word vir
kombuisdiens. John en Michael gaan buitentoe sodat John sy pyp kan rook.
Die reuk maak Elizabeth in haar toestand naar. Miriam gaan haal water by
die put.
Elizabeth gaan sit swaar op ’n stoel met haar hand op haar groot maag.
“Ek is seker hierdie kind is reeds besig om sy voorletters teen die muur uit
te krap.”
“Hoe lank nog?” vra Angel. Sy is besig om oorskietkos uit die borde te
krap en dit in die waskom op die tafel te pak.
“Te lank.” Elizabeth glimlag. “Dit vat John én Miriam om my soggens
uit die bed te kry.”
Angel gooi ’n ketel warm water oor die vuil skottelgoed. Sy kyk vlugtig
na Elizabeth en sien die arme vrou is gedaan en half aan die slaap. Sy droog
haar hande af, gaan na haar toe en vat haar aan die hand. “Elizabeth, jy
moet eerder gaan lê en ’n bietjie rus.” Sy help haar op en gooi ’n kombers
oor haar toe sy op die bed in die tweede slaapkamer lê. Sy slaap byna
dadelik.
Angel staan ’n lang ruk langs die bed. Elizabeth lê opgekrul op haar sy
met haar knieë opgetrek en haar hand beskermend op haar ongebore kind.
’n Omhelsing. Angel kyk af na haar eie plat maag en sit haar hande daaroor.
Haar oë brand, en sy byt op haar lip. Sy laat val haar hande langs haar sye,
draai om en sien Miriam in die deur staan.
Miriam glimlag hartseer. “Ek het ook al gewonder hoe dit moet voel. Dis
tog waarvoor ’n vrou gemaak is, nie waar nie? Ons goddelike voorreg: om
nuwe lewe in die wêreld te bring en dit te koester.” Sy glimlag vir Angel.
“Soms kan ek skaars wag.”
Angel sien die trane wat Miriam probeer wegsteek. Watter nut het
hierdie goddelike voorreg tog vir ’n maagdelike meisie?
Of ’n onvrugbare vrou?
Sewe en twintig

’n Mens kan hoeveel planne maak, maar op


die ou einde gebeur wat die HERE besluit het.
Spreuke 19:21

Voordat Michael gaan jag, bring hy ’n klomp swaar sakke droë mielies in
sodat Angel die pitte van die stronke kan afhaal. Sy sit voor ’n knetterende
vuur en vryf die stronke teen mekaar tot ’n paar rye uitval en die res van die
pitte maklik afgehaal kan word. ’n Paar pitte val in haar skoot. Sy sit die
kaal stronk eenkant en tel ’n mieliepit op. Sy rol die harde pit tussen haar
vingers.
Jy moet sterf om weer gebore te word.
Sy lig haar kop op en luister met aandag. Haar hart klop wild, maar die
enigste geluide om haar is die klokkies wat in die wind beweeg. Sy kyk af
na die uitgedroogde pit in haar handpalm. Dit lyk net soos dié wat sy in die
lente geplant het en waaruit ’n groen woud opgekom het. Sy gooi die pit by
die res in die mandjie en vee die oorblywende pitte van haar skoot af.
Miskien is sy dalk tog ’n bietjie mal. Sy hoor nie meer so gereeld die ou
stemme nie, maar nou is daar hierdie nuwe een, sag en rustig, wat glad nie
sin maak nie. Uit die dood spruit lewe? Onmoontlik. Maar daar by haar voet
staan die mandjie mielies. Sy frons liggies. Sy leun vooroor en trek haar
hand deur die mielies. Sy hou twee hande vol vas. Wat kan dit tog beteken?
“Amanda!” Miriam bars by die hut in. “Mamma se tyd het aangebreek!”
Angel gooi haar tjalie om haar skouers en begin na die deur loop, maar
Miriam keer haar laggend. “Jy wil seker nie terugkom na ’n afgebrande huis
toe nie?” Angel gryp ’n sak droë mielies en trek dit ver weg van die vuur af.
Sy sit die saadmielies vinnig op die tafel en sleep die ander sak tot naby die
bed. Hulle hardloop die grootste deel van die pad. “O,” sê Miriam. “Ek het
nooit daaraan gedink om vir Michael te sê ... ”
“Hy sal weet,” sê Angel en stap vinnig om haar asem terug te kry voor
sy weer haar romp optrek en begin hardloop.
Hygend na asem bars Angel by die Altmans se hut in met Miriam reg
agter haar. Elizabeth sit kalm voor die vuur besig om ’n hemp te stop. Die
kinders kyk op van hulle werk. Hulle sit rustig om die tafel besig met hulle
lesse.
Net John is onrustig en vlieg op uit sy stoel. “Dank Vader!” sê hy, haal
Angel se tjalie vinnig van haar skouers af en gooi dit in die rigting van die
muurhaak. Hy praat sagter. “Haar sametrekkings volg vinnig opmekaar,
maar ek kan haar nie oorreed om te gaan lê nie. Sy sê sy het stopwerk om te
doen!”
“Ek is amper klaar, John,” sê Elizabeth. Sy sit die hemp eenkant en tel
nog een op. Sy raak skielik doodstil en haar gesig vertrek soos sy
konsentreer. Angel hou haar dop vir enige teken van erge pyn en verwag
enige tyd ’n bloedstollende gil. Elizabeth maak haar oë vir ’n lang ruk toe,
sug sag en gaan voort met haar werk. Die kinders is heeltemal onbewus van
alles tot John kreun.
“Lizzie, gaan bed toe!”
“Wanneer ek klaar is, John.”
“Nóú!” Hy is so driftig dat Angel skrik. Sy het John Altman nog nooit só
met enige lid van sy gesin hoor praat nie.
Elizabeth lig haar kop waardig. “Los my, John. Gaan gee die perde voer
of gaan kap hout. Gaan maak die stal skoon. Gaan skiet iets vir aandete.
Maar moet my nie nou lastig val nie.” Sy sê dit alles in so ’n kalm stem dat
Angel amper uitbars van die lag. John gooi sy hande in die lug en storm by
die deur uit terwyl hy onderlangs iets oor vroue brom. “Sluit die deur,
Andrew.”
“Mamma?”
“Hy sal dadelik weer inkom as jy dit nie doen nie,” sê Elizabeth met ’n
geamuseerde glimlag. Die kinders lag en gaan aan met hul werk. Miriam is
gespanne en openlik bekommerd.
Nog ’n paar sametrekkings kom, en Elizabeth stop verwoed. Sy knoop
die gare en byt dit af. Terwyl sy die hemp opvou, kom daar nog ’n
sametrekking en Miriam word al hoe valer in die gesig. Sy kyk
paniekbevange na Angel, maar Angel is vas van plan om te wag tot
Elizabeth haar hulp nodig het. As sy daar in die stoel wil bly sit en die baba
net daar wil hê, is dit haar keuse.
Toe die sametrekking langer begin aanhou, buk Angel af en sit haar hand
stewig op Elizabeth se knie. “Hoe kan ek jou help?” vra sy met meer kalmte
as wat sy voel.
Elizabeth sê niks. Haar kneukels is wit op die stoel se arm. Uiteindelik
asem sy rukkerig uit en vat Angel se hand. “Help my kamer toe,” sê sy sag.
“Miriam, sorg jy asseblief vir jou pa en die kinders.”
“Ja, Mamma.”
“En ons gaan baie warm water nodig kry. Jacob kan dit gaan haal. En
lappe. Leah, dit is in die trommel. Ons gaan ook die tol met bindgaring in
die kabinet nodig hê. Ruth, kan jy dit vir Mamma kry, my engel?”
“Ja, Mamma.” Die kinders spat in alle rigtings om haar bevele te
gehoorsaam.
Angel maak die deur sag agter hulle toe. Elizabeth gaan sit versigtig op
die bed se voetenent en begin haar rok losknoop. Angel help haar om dit uit
te trek. Onder dit het sy net ’n dun onderrok aan.
“Die baba is op pad,” sê sy. “My water het vanoggend gebreek toe ek na
die kleinhuisie toe is.” Sy lag sag. “Ek was vir een skrikwekkende oomblik
bang die kind gaan net daar in die gat uitval.” Sy vat Angel se hand.
“Moenie so bekommerd lyk nie. Alles is piekfyn.” Sy trek haar asem skielik
in en gryp Angel se hand stywer vas. Die sweet begin pêrel op haar
voorkop. “Dit was ’n goeie een,” sê sy uiteindelik.
Miriam kom die kamer binne met ’n beker vol water en ’n klomp lappe.
“Pappa bring nou-nou nog water. Twee emmers behalwe Jacob s’n. Ons het
die pot oor die vuur.”
Elizabeth se oë blink. “Jou pa dink seker ’n warm bad sal alles
regmaak.” Sy soen Miriam op die wang. “Dankie, my skat. Ek reken op jou
om alles bymekaar te hou. Leah het met haar somme gesukkel, en Jacob
moet sy letters oefen.”
Die sametrekkings kom nou vinniger en hou langer aan. Elizabeth maak
nie ’n geluid nie, maar Angel kan sien sy verduur verskriklike ongemak. Sy
is bleek en sweet baie erg. Angel droog ’n koue lap uit en vee haar gesig af.
Miriam loer ’n uur later in. “Michael is hier.”
Angel slaak ’n sug van verligting en Elizabeth glimlag. “Jy hanteer dit
baie goed, Amanda.” Angel bloos en lag.
Elizabeth sê baie min in die volgende uur, en Angel respekteer haar
stilte. Sy vryf haar liggies en hou haar hand vas wanneer die pyn kom.
Wanneer Elizabeth ontspan, droog sy ’n waslap uit en vryf sy haar voorkop
daarmee af.
“Dit sal nie meer lank wees nie,” sê Elizabeth ná nog ’n sametrekking
wat direk in die vorige een invloei. Hierdie keer kreun sy hard, en haar hand
is spierwit om die kopstuk geklem. “O, ek het nie gedink dit sal só lank vat
nie.”
“Sê wat ek moet doen!” sê Angel, maar Elizabeth het geen asem om iets
uit te kry nie. Sy hyg, maar trek haar asem weer skerp in en trek haar bene
op. Sy kreun harder, haar gesig vertrek in pyn en sy word bloedrooi.
Angel het nie tyd om aan ordentlikheid te dink nie. Sy trek die kombers
weg.
“O, Elizabeth! Die baba is besig om te kom, vriendin! Ek kan die kop
sien!” Angel ondersteun die baba terwyl Elizabeth een laaste druk gee.
Angel val op haar knieë met die pasgebore baba huilend in haar arms.
“Dis ’n seuntjie, Elizabeth, ’n seuntjie! En hy is perfek. Tien vingers,
tien tone ... ” Sy staan op en bewe van blydskap en verwondering.
Elizabeth huil van vreugde toe Angel haar seun op haar bors neersit. ’n
Paar oomblikke later, met die laaste sametrekkings, ontspan sy heeltemal,
geheel en al gedaan. “Bind die naelstring met die garing af voordat jy dit
deurknip,” sê Elizabeth doodmoeg en glimlag. “Hy het goeie longe.”
“Ja, beslis.” Angel was die baba versigtig voor sy hom in ’n sagte
kombers toedraai en hom vir sy ma gee. Hy begin dadelik drink, en
Elizabeth glimlag tevrede. Angel gooi warm water in ’n pan en was
Elizabeth baie versigtig. Sy probeer hard om haar nie seer te maak nie,
hoewel sy haar ongetwyfeld seermaak, maar Elizabeth kla glad nie. Sy buk
af en soen Elizabeth op die wang. “Dankie,” fluister sy, maar Elizabeth is
klaar aan die slaap.
Angel gaan sag by die deur uit. Almal staan in die ander kamer en wag.
“Jy het ’n pragtige nuwe seun, John. Baie geluk.”
“Prys die Here.” Hy gaan sit in sy stoel. “Wat is sy naam?”
Angel lag, al die opgeboude spanning nou agter die rug. “Wel, ek weet
nie, John. Ek dink jý is veronderstel om te sê.”
Almal lag. John ook, maar hy bloos beetrooi. Hy skud sy kop en stap by
die kamer in. Miriam en die kinders loop soos muise agterna.
Michael glimlag vir haar op ’n manier wat haar hartklop laat versnel.
“Jou oë glinster,” sê hy.
Sy is so vol emosies dat sy niks kan uitkry nie. Sy gesigsuitdrukking is
so liefdevol, so vol belofte. Sy het hom so lief dat dit amper te veel is vir
haar. Toe hy na haar toe kom, lig sy haar kop sodat hy haar sag kan soen.
“O, Michael,” sê sy en sit haar arms om sy lyf.
“Eendag,” sê hy en raak dan koud toe hy besef watter flater hy nou
begaan het. Hy hou haar stywer vas.
Angel weet wat hy dink. Hulle kan nooit ’n kind hê nie. Hy staan ’n
bietjie weg, maar sy kan nie na hom kyk nie. Nie eens toe hy sy hande om
haar gesig vou nie. “Amanda, ek is só jammer,” sê hy sag. “Ek het nie
bedoel om ... ”
“Moenie jammer sê nie, Michael.”
Hoekom het hy nie gedink voor hy iets gesê het nie? “Ek sal vir hulle
gaan sê ons gaan nou huis toe.” Hy los haar lank genoeg om die Altmans
geluk te wens. Die baba is pragtig.
Elizabet vat sy hand. “Amanda was ongelooflik. Sê vir haar dit sal vir
my ’n eer wees om haar te ondersteun wanneer haar tyd aanbreek.”
“Ek sal vir haar sê,” sê hy afgetrokke, met die wete dat hy dit nie sal kan
doen nie.
Hulle stap stil huis toe. Hy kyk hoe sy die vuur pak.
“Elizabeth sê jy was ongelooflik.”
“Sý was wonderlik,” sê Angel. “Sy sou sonder enige hulp reggekom
het.” Sy kyk op na hom met ’n hartseer glimlag. “Dit is waaroor vrouwees
gaan, nie waar nie? Miriam sê om kinders te hê, is ’n goddelike voorreg.”
Sy kyk weg. “John se saad is in vrugbare grond geplant.”
“Amanda,” sê hy en sit sy hand onder haar arm om haar te keer.
“Moet niks sê nie, Michael, asseblief ... ”
Sy stribbel nie teë toe hy haar in sy arms toevou nie. Hy hou haar styf
vas met sy hande agter haar kop. Hy wil die seer beter maak, maar weet nie
hoe nie. “Dis amper Kersfees.”
“Ek het heeltemal vergeet tot vanaand by die Altmans.” Elizabeth en
Miriam het reeds hul huis met dennebolle en rooi linte versier. Leah en
Ruthie het ’n kerstoneel met mielieblaarpoppe gemaak. Angel het nie
daaraan gedink om enigiets te doen nie. Duke het altyd gesê Kersfees is net
soos elke ander dag en ’n mens slaap agt ure daarvan om.
Mamma het in daardie vroeë jare iets spesiaals van Kersfees gemaak.
Selfs toe hulle op die dokke gebly en baie min kos en geen geld gehad het
nie, het sy dit as ’n heilige dag geëer. Geen mans is op Kersfees in die
gehuggie toegelaat nie. Mamma het haar vertel hoe Kersfees was toe sy
klein was. Angel het nie daarvan gehou wanneer sy daaroor praat nie, want
dit het Mamma altyd laat huil.
“Kersfees,” sê Angel en staan weg van Michael af.
Hy sien haar pyn en voel verantwoordelik daarvoor. “Amanda ... ”
Sy kyk op na hom, maar kan nie sy gesig in die donker sien nie.
“Michael, wat kan ek vir jou vir Kersfees gee? Wat gee ek vir jou as die
enigste ding wat jy regtig wil hê ’n kind is?” Haar bors beweeg vinnig op en
af soos sy teen die emosies stry wat haar wil oorweldig. “Ek wens ... Ek
wens ... ”
“Moenie,” sê hy stukkend.
Sy klem haar vuis. “Ek wens Duke het nie my lewe geruïneer nie! Ek
wens niemand anders het ooit aan my geraak nie! Ek wens ek was soos
Miriam!”
“Ek het jóú lief.” Toe sy wegdraai, pluk hy haar terug en trek haar in sy
arms. “Ek het jóú lief.” Hy soen haar en voel hoe sy in hom insmelt en
desperaat aan hom vasklou.
“Michael, ek wens ek was heel. Ek wens ek was heel vir jou.”
God, waarom? John en Elizabeth het ses kinders. Sal ek dan nooit een by
my vrou verwek nie? Hoekom het U dit toegelaat?
“Dit maak nie saak nie,” sê hy oor en oor. “Dit maak nie saak nie.”
Maar hulle albei weet dit maak wél saak.
Agt en twintig

Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges
meer te dink as van jouself.
Filippense 2:3

Paul woon die Altmans se Kersfeesbyeenkoms by. Angel se hart sak in haar
skoene toe sy hom sien en wonder watter pyle hy hierdie keer in haar
rigting gaan mik. Sy bly uit sy pad, vasbeslote dat níks hierdie Kersfees sal
bederf nie. Sy het nog nooit ’n regte Kersfees gehad nie, en hierdie gesin
wou haar insluit. Al noem Paul haar in haar gesig ’n prostituut, sal sy dit
sluk en niks sê nie. Sy weet in elk geval hy sal dit nie hard genoeg sê sodat
die ander dit kan hoor nie.
Sy is verras dat hy haar ook uitlos. Hy lyk net so vas van plan om uit
haar pad te bly. Hy het vir die kinders geskenke saamgebring, klein bruin
sakkies vol lekkers van die nuwe algemene handelaar. Hulle is baie bly,
behalwe Miriam wat vuur spoeg toe hy vir haar ook ’n sakkie gee. “Dankie,
óóm Paul,” sê sy bitsig en soen hom op die wang. ’n Spiertjie spring in sy
kakebeen toe sy omdraai.
Angel wag tot ná die groot ete wat sy en Miriam gemaak het voor sy
haar en Michael se geskenke uitdeel. Sy het twee dae lank aan die lappoppe
vir Leah en Ruth gewerk, en hou haar asem op toe hulle dit oopmaak. Hul
vreugdesgille laat haar lag. Die seuns is net so opgewonde oor die ketties
wat Michael vir hulle gemaak het. Hulle gaan sit dadelik ’n teiken buitekant
op.
Miriam maak haar pakkie sorgvuldig oop en hou die krans van droë
blomme op wat Angel gemaak het. Sy voel met haar vingers oor die
satynlinte wat agter afhang. “Dit is só mooi, Amanda,” sê sy met trane wat
in haar oë verskyn.
Angel glimlag. “Ek het heeltyd aan jou gedink wat teen die heuwel deur
al daardie veldblomme afhardloop. Dit het net reg gevoel.”
Miriam maak vinnig haar hare los en skud haar kop sodat dit dik en
krullerig om haar gesig en skouers en teen haar rug af val. Sy sit die krans
op haar kop. “Hoe lyk dit?”
“Wild en pragtig,” sê Michael.
Paul staan op en loop by die deur uit.
Miriam se glimlag word effens kleiner. “Hy is so ’n swaap,” sê sy
onderlangs en skud haar kop.
“Miriam!” sê Elizabeth verbaas met die baba teen haar bors. “Dit is ’n
lelike ding om te sê.”
Miriam lyk glad nie jammer nie terwyl sy by die deur uitgluur na Paul
toe. Sy haal die krans af en sit dit op haar skoot. “Ek is dol daaroor en gaan
dit op my troudag dra in plaas van ’n sluier.”
Toe dit begin donker word, kom die gesin om die vuurherd saam en sing
Kersliedere. John gee vir Michael die Bybel aan sonder om te sê wat hy
graag gelees wil hê. Michael blaai dadelik na die Kersverhaal toe. Angel
luister met haar arms om haar opgetrekte knieë gevou. Ruth druk saggies en
slaperig aan haar. Angel glimlag en tel haar op haar skoot. Ruth kriewel
rond tot sy gemaklik met haar kop teen Angel se bors sit. Angel vryf oor
haar hare. As ek ’n kind wat nie myne is nie só lief kan hê, hoeveel meer sal
ek nie my eie kind kon liefhê nie?
Michael se stem is ryk en diep. Almal sit doodstil na hom en kyk. Angel
onthou hoe haar ma die storie vertel het van baba Jesus wat in ’n stal gebore
is en die skaapwagters en drie konings wat aan Hom ere kom bring het. Uit
Michael se mond klink dit verskriklik mooi. Maar sy kan nogtans geen
blydskap daarin vind nie. Nie soos die ander om haar nie. Watter tipe pa sal
sy eie kind laat gebore word met die doel om hom aan ’n kruis te laat
vasspyker?
Die donker stem kom onverwags. Jy wéét watter soort pa, Angel. Jy
het presies so ’n pa gehad.
Haar ruggraat kriewel. Sy kyk weg van Michael en sien John in die
skadu’s langs Elizabeth staan. Sy hand is op haar skouer. Alle pa’s is nie
soos Alex Stafford nie. Party is soos John Altman. Sy kyk weer na Michael.
Hy sal ook ’n fantastiese pa wees. Sterk, liefdevol en vergewensgesind as
dit nodig sou wees. Hy het vir haar die storie van die verlore seun gelees nie
lank nadat hy haar teruggebring het van Pair-a-Dice af nie. As sy kind sou
wegdwaal, sou hy hom ook met ope arms terugverwelkom. Hy sal nie soos
die een wees wat haar ma weggejaag het nie.
Michael lees klaar en maak die Bybel toe. Toe hy opkyk, kyk hy haar
reguit in die oë. Sy glimlag. Hy glimlag ook vir haar, maar daar is ’n vraag
in sy oë.
“Miriam,” sê John sag. Sy gaan na haar pa toe, en hy sê vir haar iets.
Elizabeth gee die baba vir haar. Miriam dra hom terug en sit hom in
Michael se arms neer. Die baba steek sy handjie uit, en Michael streel die
klein handpalmpie liggies met sy vinger. Hy glimlag toe die baba sy vinger
vashou. “So, John, het jy en Elizabeth al op ’n naam vir hom besluit?”
“Ons het. Benjamin Michael. Na jou vernoem.”
Michael lyk verbaas en toe diep geraak. Sy oë glinster van ongestorte
trane. Miriam sit haar hande op sy skouers en buk af en soen hom op die
wang. “Ons hoop hy sal die naam waardig wees.”
Angel se hart ruk toe sy na Michael met die baba kyk en Miriam wat
steeds met haar hand op sy skouer staan. Hulle lyk asof hulle by mekaar
hoort.
Buite vanuit die donker dink Paul presies dieselfde ding.

Die roosbome wat Michael vir Angel gebring het, begin vroeg blom. Sy
raak aan die rooi knoppies en dink aan haar ma. Sy is eintlik so baie soos
Mae. Sy is goed met blomme, en om mooi te lyk en vir ’n man plesier te
gee. Maar behalwe daarvoor, watter nut het sy?
Michael behoort kinders te hê. Hy wíl kinders hê.
Sy weet op Kersaand wat sy moet doen, maar dis ondraaglik om selfs net
daaraan te dink om hom te verlaat, om sonder hom te leef. Sy wil hier bly
en vergeet van die blik in sy oë toe hy Benjamin vasgehou het. Sy wil aan
hom vasklou en haarself koester in die geluk wat sy by hom kry.
Dis daardie selfde selfsug wat haar laat besef dat sy hom nie verdien nie.
Michael het vir haar alles gegee. Sy was leeg, en hy het haar gevul met
sy liefde. Sy het hom verraai, en hy het haar teruggevat en vergewe. Hy het
sy trots opgeoffer om haar lief te hê. Hoe kan sy sy behoeftes ignoreer ná
dit alles? Hoe kan sy met haarself saamleef met die wete dat sy sy grootste
hartsbegeerte geïgnoreer het? Wat van Michael? Wat is die beste vir hóm?
Die donker stem praat gereeld. Bly! Dink jy nie jy verdien ’n bietjie
geluk ná al die jare se swaarkry nie? Hy sê hy het jou lief, so laat hy dit
dan bewys!
Sy kan nie verder luister nie. Sy sluit haar gedagtes af en dink eerder aan
Michael. En sy dink aan Miriam, haar hartsuster. Sy dink aan die kinders
wat Michael en Miriam saam kan hê: donker, pragtig, sterk en liefdevol.
Wat kan voortleef in die geslagte ná hulle. Sy herinner haar daaraan dat niks
uit haar kan kom nie. As sy bly, sal Michael getrou bly tot die dood toe, en
dit sal die einde van hom wees.
Sy kan dit nie laat gebeur nie.
Toe Michael sê hy gaan saam met Paul dorp toe, besluit sy. John het
genoem dat die dorp so uitgebrei het dat ’n koets nou twee maal per dag
verbykom. Dit ry op die grootpad omtrent twee myl van die hut, net agter
die heuwels. Sy het steeds die goud wat sy by Sam Teal en Joseph
Hochschild verdien het. Michael het daarop aangedring dat sy dit vir haar
moet hou. Dis genoeg om haar in San Francisco te kry en ’n rukkie lank te
onderhou. Verder as dit wil sy nie nou al dink nie.
Ek móét dink aan wat die beste is vir Michael.
Toe Michael uit die veld uit terugkom, het sy ’n besonderse wildsete vir
hom gereed. Dit hut is gevul met blomme op die tafel, die kaggelrak, die
bed. Michael kyk verbaas om hom. “Wat is die geleentheid?”
“Ons vier die lewe,” sê sy en soen hom. Sy kan nie genoeg na hom kyk
nie en maak elke hoek van sy gesig en liggaam in haar geheue vas. Sy is
desperaat om hom te behou en het hom nimmereindig lief. Sal hy ooit weet
hóé lief sy hom het? Sy kan hom nie sê nie. As sy dít doen, sal hy haar kom
soek. Hy sal haar weer terugbring. Dis beter dat hy dink sy is vleeslik en
gemeen. Maar sy sal hierdie laaste aand hê om aan terug te dink. Hy sal
deel van haar wees, maak nie saak waar sy is en of hy dit ooit weet nie. Sy
sal die soete herinneringe saam na haar graf toe neem.
“Michael, vat my weer na daardie heuwel toe. Vat my na die plek toe
waar jy vir my die sonsopkoms gewys het.”
Hy sien die honger in haar oë. “Dis koel vanaand.”
“Dit is nie te koud nie.”
Hy kan haar niks weier nie, maar daar is ’n vreemde ongemaklikheid op
die krop van sy maag. Daar is iets verkeerd. Hy vat die komberse van die
bed af en stap vooruit. Dalk sal sy vir hom vertel wat in haar kop aangaan.
Miskien sal sy uiteindelik oopmaak teenoor hom.
Maar haar gemoedstemming verander, van nadenkend tot uitbundig. Sy
hardloop voor hom uit tot bo-op die heuwel en swaai in die rondte met haar
arms wyd oopgesprei. Oral om haar sing die krieke en die ligte briesie roer
die grasse. “Is dit nie beeldskoon nie? Die eindeloosheid van dit alles. Ek is
heeltemal onbelangrik.”
“Nie vir my nie.”
“Ja,” sê sy en draai om na hom. “Selfs vir jou.” Hy frons, en sy draai
weer om. “Jy mag naas My geen ander gode hê nie,” skree sy oor die
vlaktes. “Niemand behalwe U nie, my Heer.” Sy draai om en kyk na hom.
Niemand behalwe jy nie, Michael Hosea.
Hy frons. “Spot jy met my, geliefde?”
“Nooit,” sê sy en bedoel dit.
Sy maak haar hare los. Dit val oor haar skouers en rug en is wit in die
maanlig. “Onthou jy hoe jy vir my gelees het van die Sunammitiese bruid
wat vir haar man gedans het?”
Hy kan skaars asemhaal terwyl hy haar in die maanlig bekyk. Elke
beweging trek sy aandag na haar en maak hom van haar bewus. Hy probeer
haar vasvat, maar sy dans weg, haar arms uitgestrek in ’n uitnodiging. Haar
hare dans om haar, en die wind dra haar hees, verleidelike stem na hom.
“Ek sal énigiets vir jou doen, Michael. Enigiets.”
En skielik tref dit hom waarmee sy besig is. Sy is besig om totsiens te sê,
net soos die vorige keer. Sy is besig om sy verstand met fisieke plesier te
verdoof.
Toe sy weer naby hom kom, vat hy haar vas. “Hoekom doen jy dit?”
“Vir jou,” sê sy, trek sy kop af en soen hom.
Hy grawe sy vingers in haar hare in en sit sy mond stewig op hare. Hy
wil haar verslind. Haar hande is soos vlamme op sy lyf.
God, ek sal haar nie weer laat gaan nie. Ek kan nie!
Sy beweeg teen hom, en hy kan aan niks anders dink as net aan haar nie,
en dis nie genoeg nie.
God, hoekom doen U dit wéér aan my? Gee U net sodat U weer kan
neem? Help my!
“Michael, Michael,” fluister sy, en hy kan die sout van sy eie trane op
haar wange proe.
“Jy het my nodig.” Hy kan haar gesig in die maanlig sien. “Jy het mý
nodig. Sê dit, Tirsa. Sê dit.”
Laat haar gaan, geliefde.
God, nee! Moenie dit van my vra nie!
Gee haar vir My.
Nee!
Hulle klou aan mekaar vas en soek vertroosting in soete vergetelheid.
Maar soete vergetelheid hou nie vir altyd nie.
Michael hou haar baie styf vas toe alles verby is. Hy probeer aan alles
vashou, maar hulle is weer twee aparte wesens. Hy het nie die krag om
hulle vir altyd saam te bind nie.
Sy bewe verskriklik. Hy weet nie of dit van die koue of uitgebrande
passie is nie. Hy vra nie. Hy trek die kombers styf om hulle en kan steeds
haar besluit soos ’n rou wond aanvoel.
Dit raak kouer, en hulle moet teruggaan. Hulle trek in stilte aan, albei
gepynig, en albei maak asof dit nie so is nie. Sy kom weer na hom toe en sit
haar arms om sy middel en druk haar teen hom vas soos ’n kind wat getroos
wil word.
Hy maak sy oë toe teen die vrees wat op die krop van sy maag sit. Ek het
haar lief, Here. Ek kán haar nie laat gaan nie.
Michael, geliefde. Wil jy hê sy moet vir altyd aan haar kruis hang?
Michael sug sidderend. Toe sy haar gesig na hom oplig, sien hy iets wat
hom wil laat huil. Sy het hom lief. Sy het hom régtig lief. En tog is daar iets
anders in haar maanverligte gesig. ’n Blywende hartseer wat hy nie kan
wegvat nie, ’n leegheid wat hy nooit sal kan vol maak nie. Hy onthou haar
woorde die nag toe Benjamin gebore is. “Ek wens ek was heel!” Hy kan
haar nie heelmaak nie.
Hy tel haar op en sus haar in sy arms. Sy sit haar arm om sy nek en soen
hom. Hy maak sy oë toe. Here, as ek haar nou laat gaan, sal U haar ooit
weer vir my teruggee?
Hy kry geen antwoord nie.
Here, asseblief!
Die wind beweeg saggies, maar daar is net stilte.

Die volgende oggend stap Angel saam met Michael na die skuur toe en kyk
hoe hy sy perd opsaal. “Wanneer dink jy sal jy terug wees?”
Hy kyk geheimsinnig na haar. “So gou as wat ek kan.” Hy lei die perd by
die stal uit en sit sy arm om haar skouers. Sy glimlag op na hom. Hy gaan
staan, neem haar in sy arms en soen haar. Sy soen hom terug en maak die
meeste van haar heel laaste kans. Toe Michael se vingers pynlik in haar
skouers ingrawe, is sy verbaas. “Ek het jou lief,” sê hy ru. “Ek sal jou áltyd
liefhê.”
Sy verwonder haar oor sy driftigheid en vat liefdevol aan sy gesig. “Kyk
mooi na jouself.”
Hy glimlag nie. “Jy moet ook.” Hy klim op sy perd en ry weg. Sy wag
totdat hy oor die heuwel verdwyn voordat sy weer by die hut ingaan.
Sy gaan nie vertrek voordat alles in orde is nie. Sy maak die bed op, was
die skottelgoed en pak dit weg, en skud die mat voor die kaggel uit. Die
blomme is nog vars. Sy pak genoeg stompe op die vuur sodat dit steeds sal
brand wanneer Michael terugkom.
Sy skrik toe iemand aan die deur klop. Dis Miriam. “Wat maak jy hier?”
vra Angel verras.
Miriam is verbaas. “Het jy nie verwag ek sal kom nie?”
“Nee.”
“Wel, dis snaaks. Michael het op pad na Paul toe by ons gestop en gesê
vandag is ’n goeie dag vir ’n kuiertjie.”
Angel swaai om en loop na haar reissak wat oop op die bed lê. Sy druk
een van Michael se hemde in, vou ’n rok op en pak dit bo-op in. Miriam
bekyk haar. “Michael het nie gesê jy gaan iewers heen nie.”
“Hy weet nie ek gaan weg nie.” Sy knip die sak toe en tel dit op. “Ek
gaan hom verlaat, Miriam.”
“Wát?” sê Miriam en staar haar aan asof sy horings op haar kop gekry
het. “Wéér?”
“Ek verlaat hom hierdie keer vir altyd.”
“Maar hoekom?”
“Omdat ek moet.” Angel kyk vir oulaas deur die hut. Sy was gelukkig
hier, maar dit beteken nie sy moet bly nie. Sy stap sag na die deur.
Miriam kom agter haar aan. “Wag!” Sy hou by terwyl Angel in die
rigting van die heuwels begin loop. “Amanda, ek verstaan nie.”
“Jy hoef nie. Gaan net huis toe, Miriam. Sê vir almal namens my
totsiens.”
“Maar waarheen gaan jy?”
“Wes, oos, dit maak nie saak nie. Ek het nog nie besluit nie.”
“Nou waarom is jy dan so haastig? Bly hier en praat dinge met Michael
uit. Wat hy ook al gedoen het om te maak dat jy hom verlaat ... ”
Angel kan nie toelaat dat haar vriendin dink dis Michael se skuld nie.
“Miriam, Michael het nog nooit in sy lewe iets verkeerds gedoen nie.”
“Nou hoekom doen jy dit dan?”
“Ek wil nie daaroor praat nie.” Angel hou aan loop en wens Miriam wil
moed opgee en haar alleen laat.
“Jy het hom lief. Ek wéét jy het. As jy sonder enige rede weggaan, wat
gaan hy dink?”
Angel weet wat hy sal dink. Hy sal dink sy is terug na haar ou lewe toe.
Miskien sal dit beter wees as hy dit glo. Dit sal hom keer om na haar te kom
soek. Net sy hoef te weet dat sy nóóit weer prostitusie sal beoefen nie. Al
moet sy ook doodgaan van die honger.
Miriam baklei en smeek die hele tyd tot by die pad en hou net op toe sy
heeltemal uitasem is. Angel stap vinnig aan en kyk of sy al die koets kan
sien. Dis net ná twaalf. Dit behoort nou enige oomblik hier te wees. Sy kan
dit nie verduur om nog baie langer te wag nie. Hoekom het Michael juis
vandag vir Miriam gesê om te kom kuier?
“Ek het gedink Michael is so perfek,” sê Miriam hartseer, “maar hy kan
nie wees as jy hom net so los nie.”
“Hy is álles wat jy dink en selfs meer, Miriam. Ek sweer op my lewe hy
het niks gedoen om my seer te maak nie. Hy het my van die begin af nog
net liefgehad, selfs toe ek hom nie voor my oë kon verdra nie.”
Miriam se oë swem in trane. “Hoe kan jy hom dan los?”
“Omdat ek nie by hom hoort nie. Ek het nog nooit.” Sy sien Miriam gaan
selfs nog meer sê en sit haar hand op die meisie se arm om haar te keer.
“Asseblief, Miriam, ek kan nie kinders hê nie. Weet jy wat dit vir ’n man
soos hý beteken? Hy wil kinders hê. Hy verdien dit. Ek is baie lank gelede
onvrugbaar gemaak.” Sy worstel met haar pyn. “Ek sméék jou, Miriam.
Moet dit nie nog moeiliker maak as wat dit is nie. Ek gaan omdat dit vir
Michael se beswil is. Probeer om dit verstaan,” sê sy stukkend. “Miriam, ek
móét dink aan wat die beste vir hóm is.”
Die koets kom uiteindelik aangery. Angel stap vinnig in die pad in en
waai vir die drywer om stil te hou. Terwyl hy die leisels intrek, glip sy die
trouring van haar vinger af en hou dit uit na Miriam. “Gee dit asseblief vir
hom. Dit was sy ma s’n.”
Die trane stroom oor Miriam se wange. Sy skud haar kop en weier om
die ring te vat. Angel vat haar hand, sit die ring daarin en vou haar vingers
daarom toe. Sy draai vinnig om en gee haar reissak vir die drywer aan. Hy
begin dit saam met die ander bagasie vasbind.
Angel kyk na haar vriendin se bleek, verdwaasde gesig. “Jy het hom lief,
nie waar nie, Miriam?”
“Ja, ek het hom lief. Jy weet ek het.” Sy staan nader. “Wat jy doen, is
verkeerd. Verkéérd, Amanda.”
Angel hou haar styf vas. “Help my om sterk te wees.” Sy hou haar nog
’n bietjie vas. “Jy is baie kosbaar vir my.” Sy laat haar gaan en klim vinnig
op die koets.
“Moenie gaan nie!” huil Miriam en sit haar hande op die vensterraam.
Die koets begin beweeg.
Angel kyk af na haar en veg teen die pyn. “Jy het gesê jy het hom lief,
Miriam. Wees dan lief vir hom. En gee vir hom die kinders wat ek hom nie
kan gee nie.”
Miriam laat los die koets in skok. Haar gesig word bloedrooi en dan
spierwit. “Nee. O, nee!” Sy begin agter die koets aan hardloop, maar dit
begin versnel en ry nie weer stadiger nie. “Wag! Amanda, Amanda.”
Maar dis reeds te laat. Sy stik in die stof, en teen die tyd dat sy weer kan
hardloop, is die koets te ver in die pad af om in te haal. Sy staan in die
middel van die pad, kyk na die trouring in haar hand en bars in trane uit.

Toe Paul en Michael laat die middag na Paul se hut toe ry, is die heel laaste
ding wat hy verwag het om te sien dat Miriam by sy deur sal uitkom. Sy
hart mis ’n slag toe hy haar sien en klop dan onbeheersd in sy borskas toe
sy na hom toe aanhardloop. Wat gaan Michael daarvan dink dat sy hier is?
Maar sy hardloop nie na hom toe nie, maar na Michael toe. Paul se maag
voel swaar. Michael klim van sy perd af.
“Amanda is weg!” sê Miriam, haar gesig is bleek en vol traanspore. Sy is
stowwerig en praat onsamehangend. “Ek wag al die hele dag hier, Michael.
Ek het geweet jy sal eers by Paul se hut omkom. Jy móét haar gaan soek. Sy
het die oggendkoets gevat. Jy móét haar terugbring!”
Paul bly sit op sy perd. So, Angel is weer weg. Ná al haar beloftes het sy
Michael tog maar weer verlaat. Net soos wat hy verwag het. Hy is
veronderstel om verheug te wees. Toe Michael sy hand op Miriam se skouer
sit, skiet ’n warm en heeltemal onverwagte jaloesie deur hom.
Michael is bleek en gespanne. “Ek gaan haar nie soek nie.”
“Het jy en Amanda albei mal geword?” gil Miriam en haar donker oë is
weer vol trane. “Jy verstaan nie ... ” Hoe kan sy hom vertel? O, God, wat
moet sy doen? Sy kan voel hoe Paul hulle dophou en kan nie vir Michael
alles vertel wat Amanda vertroulik vir haar gesê het nie.
“Jy móét haar gaan soek. Nóú! As jy nie nou gaan nie, kry jy haar dalk
nooit weer nie.”
“Ek gaan haar nie soek nie. Nie hierdie keer nie.”
“Nie hierdie keer nie?”
“Hy bedoel hy het haar al verskeie kere gaan haal en dit het vir hom niks
goeds gebring nie,” sê Paul. “Sy het níks verander van die dag dat hy haar
ontmoet het nie.”
Miriam draai na hom. Haar gesig is briesend. “Bly jy hier uit! Gaan
kruip in jou hut weg! Gaan begrawe jou kop in die sand soos wat jy altyd
maak!”
Paul bly stil, geskok deur haar uitbarsting.
Miriam draai weer na Michael en kry hom voor aan sy hemp beet.
“Michael, asseblief, gaan agter haar aan voor dit te laat is.”
Hy vat haar hande in syne. “Ek kan nie. Miriam, as sy wil terugkom, sal
sy. As sy nie terugkom nie, dan ... kom sy nie terug nie.”
Miriam sit haar hande oor haar gesig en huil.
Michael kyk op na Paul en sien dat hy glad nie ’n poging gaan aanwend
om die meisie te troos nie. Hy sug diep en sit sy arms om Miriam. Haar hele
liggaam ruk soos sy snik.
Paul kyk af na hulle en voel ’n pynsteek in sy middel. Dis wat hy wou
hê, nie waar nie? Dis wat hy beplan het. Het hy nie gewag vir daardie heks
om haar uit die voete te maak sodat Michael na Miriam kan gaan en die
vrou kan kry wat hy verdien nie? Hoekom voel hy dan nou eensaamer as
ooit tevore?
Wat dit ook al is wat hy gedink het hy wil hê, hy kan nie na hulle kyk
waar hulle mekaar nou vashou nie. Dit maak té seer. Hy draai sy perd om en
los hulle alleen.
Nege en twintig

Ek het gekyk, en werklikwaar, daar staan ’n


bleekgrys perd voor my! Sy ruiter se naam was
die Dood, en die doderyk het vlak agter hom gevolg.
Openbaring 6:8

San Francisco is nie meer ’n ou klein dorpie langs ’n baai nie, maar ’n stad
wat oor die windverwaaide heuwels uitstrek. Happy Valley is nie meer ’n
tentdorp nie, maar ’n hele gemeenskap van huise. Baie van die skepe wat
land toe gesleep en in winkels, kroeë en losieshuise omskep is, het
afgebrand. Dit is vervang deur baksteengeboue. Daar is planksypaadjies
langs die modderige strate.
Die veerman staan met sy gesig na die wind. “Elke keer wat die stad
brand, herbou hulle dit net beter as die vorige keer,” vertel hy haar terwyl
hulle die baai oorsteek. Hy waarsku haar teen die brak water by vlak putte
en sê sy sal beter blyplek weg van die dokke hoër op teen die bult kry.
Angel is te moeg om te ver te loop en beland in ’n klein hotelletjie langs die
water.
Die reuk van die see en gemors laat haar terugdink aan die dokgehuggie
van haar kinderjare. Dit voel soos honderd jaar gelede. Sy eet aandete in die
klein eetkamer en moet die openlike kyke van ’n dosyn jong mans verdra.
Sy eet die bredie om die hol kol in haar maag te vul, maar aan die een in
haar hart kan sy niks doen nie.
Ek het die regte ding gedoen om van Michael af weg te gaan. Ek wéét ek
het.
Sy gaan terug na haar kamertjie en probeer op die smal bedjie slaap. Die
kamer is koud, en sy kan net nie warm word nie. Sy krul haar in ’n
bondeltjie onder die kombers op en dink verlangend terug aan Michael se
hitte langs haar. Sy kan nie ophou om aan hom te dink nie. Is dit net drie
dae gelede dat sy vir hom in die maanlig gedans het? Wat dink hy nou van
haar? Haat hy haar? Vervloek hy haar?
Sy sou beter voel as sy net kon huil, maar sy het geen trane nie. Sy sit
haar arms styf om haar. Sy maak haar oë toe en probeer Michael se gesig
voor haar sien, maar die beeld is nie genoeg nie. Sy kan nie aan hom vat
nie. Sy kan nie sy arms om haar voel nie.
Sy staan op, grawe deur haar reissak om sy hemp te kry. Sy gaan lê weer
op die bed en druk haar gesig in die wolmateriaal wat Michael gedra het en
asem sy liggaamsreuk in.
“O, Mamma,” fluister sy in die donker, “die pyn laat ’n mens regtig voel
asof jy wil doodgaan.”
Maar ’n stil, klein stemmetjie in haar kop sê oor en oor: Lewe. Gaan net
aan. Moenie opgee nie.
Wat gaan sy doen? Sy het ’n bietjie goud oor, maar dit sal nie lank hou
nie. Die koetsrit, verblyf en die veerboot was duurder as wat sy verwag het.
Die tarief van hierdie smerige hotel is hopeloos te hoog. Die goud wat sy
oorhet, sal seker nog net twee of drie dae op die langste hou. Daarna sal sy
iets moet doen om aan die lewe te bly.
Sy raak uiteindelik aan die slaap. Die nag is gevul met skrikwekkende
drome. Sy skrik ’n paar keer bewend wakker. Dis asof die een of ander bose
mag naby is en wag om toe te slaan.
Die volgende oggend pak Angel haar skamele besittings en vertrek. Sy
drentel ure lank deur die strate van San Francisco. Portsmouthplein het
dramaties verander. Die gehuggie waarin sy gebly het, is nie meer daar nie.
So ook al die ander, sowel as die tente wat soos ’n plaag om die plein
versprei was. Oral is nou stalletjies, wat die plein die gevoel van ’n groot
basaar gee. Sy loer deur goed van oor die wêreld heen.
Daar is verskeie bordele, een met die elegante atmosfeer van New
Orleans. Aan die buiterand van die plein is florerende losieshuise, kroeë en
casino’s. Die Parker House, Dennison’s Exchange, die Crescent City en die
Empire het verrys uit die rommel wat Angel kan onthou. Op die
suidwestelike hoek van Clay Street is Brown’s City Hotel.
Sy loop verby dokters en tandartse se spreekkamers, prokureurs- en
besigheidskantore, landmeters- en ingenieurskantore. Sy sien ’n hele klomp
nuwe banke en ’n groot makelaarsfirma. Daar is selfs ’n openbare skool met
kinders wat aan-aan speel op die terrein. Angel staan en hou hulle ’n rukkie
dop en dink aan Ruth en Leah en die seuns. Sy mis hulle só baie.
In Clay Street staan ’n klomp mans in ’n ry voor die poskantoor en wag
op nuus oor pos. Op die hoek van Washington en Grant is ’n nuwe Chinese
wassery. Werkers is besig om klere in groot wasbakke te skrop terwyl ander
skoon linne in mandjies opstapel. Dié mandjies balanseer hulle op
bamboespale en begin hardloop om hulle aflewerings te doen.
Teen die middag is Angel rasend honger en heeltemal uitgeput. En sy het
nog geen idee wat sy gaan doen om ’n bestaan te maak nie. Al waaraan sy
kan dink, is om terug te gaan na dít wat sy ken. Elke keer wat sy by ’n
bordeel verbystap, weet sy dat sy by daardie deur kan instap en verseker
kan wees van kos en verblyf. Sy sal gemaklik wees. Al wat sy hoef te doen,
is om weer haar liggaam te verkoop – en vir Michael te verraai.
Hy sal nooit weet nie, Angel.
“Ék sal weet.” ’n Man wat verbystap, kyk haar verstom aan. Word sy
nou ’n mal vrou wat met haarself praat?
’n Myner keer haar voor en vra haar om met hom te trou. Sy ruk haar
arm los en sê hy moet haar uitlos. Hy sê hy het ’n hut in die berge en het ’n
vrou nodig. Sy sê hy moet iewers anders gaan soek en skarrel vinnig weg.
Die stormloop van mense maak haar al hoe meer op haar senuwees.
Waar gaan almal heen? Hoe maak hulle ’n bestaan? Haar kop klop. Miskien
is dit van honger. Miskien is dit die bekommernis oor wat sy gaan doen
wanneer haar goud op is. Miskien is dit die wete dat sy swak is en weer ’n
prostituut sal word om liggaam en siel aanmekaar te hou.
Wat gaan ek doen? God, ek weet nie wat om te doen nie!
Gaan by daardie kafee in en gaan rus.
Angel kyk in die straat af en sien ’n klein kafeetjie. Sy sug, stap soontoe
en gaan by die deur in. Sy gaan sit by ’n tafel in die agterste hoek en sit haar
reissak agter haar voete. Sy vryf haar slape en wonder waar sy die nag gaan
deurbring.
Iemand slaan op die tafel net ’n entjie van haar af en sy wip soos sy
skrik. ’n Gespierde man met ’n baard skree: “Wat vat so lank? Ek wag al
amper ’n uur. Waar is die steak wat ek bestel het?”
’n Klein rooikopmannetjie hardloop uit die agterste vertrek uit en
probeer die ontstoke klant met ’n gedempte verduideliking kalmeer, maar
dit maak die man nóg kwater. Rooi in die gesig, gryp hy die kleiner man en
tel hom aan sy keel op. “Voel nie lekker nie, ha! Dronk is seker wat jy
bedoel!” Hy stamp die klein mannetjie met ’n slag in ’n ander tafel vas en
storm by die deur uit. Hy slaan die deur so hard agter hom toe dat die
vensters bewe.
Die klein mannetjie verdwyn weer in die agterkamer, seker om weg te
kom van al die ander klante wat nog wag om bedien te word. ’n Hele paar
staan op en loop uit. Angel is nie seker of sy hulle moet volg of nie. Sy is
stokflou en sonder enige vooruitsigte en om hier te sit, is net so goed soos
op enige ander plek. Sy wil in elk geval vir ’n rukkie wegkom van die
geroesemoes daarbuite. Om ’n maaltyd oor te slaan, sal haar nie doodmaak
nie.
Nog drie mans gee moed op en stap uit. Angel en vier ander is al wat
agterbly. Die klein mannetjie kom weer uit. Sy glimlag is styf en
geforseerd. “Ons het skons en boontjies.” Die vier oorblywende mans gaan
uit die kafee brommend dat hulle genoeg van daardie tipe kos vir ’n leeftyd
geëet het.
Die klein mannetjie se skouers hang moedeloos. Onbewus van Angel in
die hoek, praat hy in die lug. “Wel, daar is dit nou, Here. Nou het ek my
besigheid verloor.” Hy stap na die voordeur, draai die teken om en gaan
staan met sy kop teen die muur.
Angel kry hom jammer. Sy weet hoe dit voel wanneer geluk sy rug vir
jou draai. “Moet ek gaan?” vra sy sag. Hy draai om en bloos beetrooi.
“Ek het nie geweet jy is hier nie. Wil jy ’n skon en boontjies hê?”
“Asseblief.”
Hy verdwyn vir ’n oomblik. Toe hy terugkom, sit hy ’n bord voor haar
neer en verdwyn weer. Die skon is kliphard en die boontjies gebrand. Sy
frons en kyk op na hom. “Koffie?” vra hy en gooi dit in ’n beker. Dis so
sterk dat Angel haar gesig trek.
“Jy het ’n nuwe kok nodig, meneer,” sê sy met ’n droë glimlag, sit die
beker neer en stoot die bord kos eenkant toe.
“Is jy op soek na werk?”
Haar oë rek groot. “Ék?”
Hy sien hoe verbaas sy is en kyk goed na haar. “Seker nie.”
Sy voel hoe haar gesig warm word. Is haar verlede só duidelik sigbaar?
Is dit op haar voorkop geskryf vir die hele wêreld om te sien? Het die jaar
wat sy vir Michael ken glad nie ’n verskil gemaak nie?
Sy sit regop. “Ek soek eintlik werk.” Sy lag kortaf. “En hoewel ek nie
naastenby die beste kok in die wêreld is nie, dink ek darem ek kan beter
doen as dít.” Sy gril toe sy na die stywe massa vetterige boontjies op haar
bord kyk.
“In daardie geval is jy aangestel!” Hy sit die koffiepot hard neer en steek
sy hand uit voor sy ’n woord kan sê. “My naam is Virgil Harper, juffrou.”
Sy probeer dit nog inneem dat sy ’n werk het en dat dit in haar skoot
geval het soos ’n ryp pruim uit die hemel. Hoe het dit gebeur? Die een
oomblik is sy angsbevange oor wat sy gaan doen om aan die lewe te bly en
die volgende oomblik word sy in diens geneem deur ’n kapokhaantjie.
“Wag net eers,” sê sy en hou haar hand op. “Ek moet eers verblyf kry.
Miskien bly ek nie eens in San Francisco nie.”
“Jy hoef nie verder te soek nie, juffrou. Jy kan die kok se kamer kry
sodra hy weg is, en hy is besig om sy goed te pak. Jou kamer is langs myne
bo-op die kombuis. Lekker snoesig. Goeie bed, klerekas.”
Haar oë vernou. Sy moes gewéét het daar is ’n vangplek iewers.
“Daar’s ’n ordentlike slot aan die deur,” sê hy. “Jy kan daarna gaan kyk
voor jy besluit. Kan jy pasteie maak? Ons kry baie navrae vir pasteie.”
Sy kan skaars asem skep so vinnig gaan hy aan. “Hoeveel gaan hierdie
kamer my uit die sak jaag?”
“Niks,” sê hy, opreg verbaas. “Dit is deel van die werk. Nou wat van die
pasteie? Kan jy bak of nie?”
“Ja, ek kan brood en pasteie bak,” sê sy. Elizabeth en Miriam het haar
alles geleer wat hulle kon. “As jy vir my meel, appels, bessies ... ”
Harper gooi sy kop agteroor en sy hande in die lug. “Liewe Jesus, ek het
U lief!” Hy swaai in die rondte en stamp met sy voete op die grond. “Ek het
U lief! Ek het U lief!”
Angel gaap hom aan terwyl hy soos ’n sprinkaan rondspring en wonder
of die arme man al sy varkies verloor het. Hy sien hoe sy na hom kyk en
lag. “Ek is al die hele week op my knieë en wonder wat ek moet doen. Weet
jy wat daardie dronkie gedoen het? Hy het homself in die sop geledig en dit
die hele Maandag bedien. Hy het my eers die aand daarvan gesê. Ek was
seker ek gaan teen die volgende oggend aan ’n paal opgehang wees. Hy het
net gelag en gesê hy wou die sop ’n bietjie geur. Ek sal jou liewer nie sê wat
hy vanoggend gedoen het nie.”
Sy kyk af na die bord voor haar. “Het hy enigiets aan die boontjies
gedoen?” vra sy.
“Niks waarvan ek weet nie.”
“Hoekom voel ek nie oortuig nie?”
“Kom kombuis toe, dan wys ek jou wat ek in voorraad het en jy kan
besluit wat jy daarmee kan doen. Wat noem ek jou, juffrou? Ek het nie eens
daaraan gedink om te vra nie.”
“Hosea,” sê sy. “Mevrou Hosea.”

Michael slaan die byl diep in die stomp in. Dit gaan dwarsdeur en steek in
die kapblok vas. Hy gee dit ’n harde trek en ruk die lem los. Hy sit nog ’n
stomp op en verdeel dit met een hou. Hy doen dieselfde oor en oor tot die
stukke rondom die kapblok ophoop. Hy skop dit weg en sit nog ’n stuk hout
op. Hy swaai weer die byl, harder as voorheen, en die byl gaan met een hou
dwarsdeur en spring hierdie keer terug van die blok af. Dit mis sy been net-
net.
Michael laat val die byl bewend en sak op sy knieë. Die sweet drup in sy
oë. Hy vee dit met die agterkant van sy arms af. Hy hoor iets en skreef sy oë
teen die son in. John sit op sy perd en bekyk hom. Michael het hom nie
hoor kom nie. “Hoe lank is jy al hier?” vra hy uitasem.
“’n Paar minute.”
Michael probeer opstaan, maar kan nie. Die oomblik toe hy sy
waansinnige kappery gelos het, het al sy krag uit hom gegaan. Hy val terug
en lê teen die kapblok. Hy kyk vlugtig op en glimlag wrang vir John. “Ek
het jou nie hoor kom nie. Wat bring jou hierheen?”
John leun met sy arms op die saalboom. “Jy het genoeg hout hier vir
twee winters.”
“Bring ’n wa en vat wat jy wil hê.”
Die saal kraak toe John afklim. Hy kom hurk voor Michael. “Hoekom
gaan jy nie agter haar aan nie?”
Michael trek ’n bewerige hand deur sy hare. “Vergeet dit, John.” Hy is
nie lus vir gesels nie.
“Sluk jou trots en klim op jou perd en gaan soek haar. Ek sal jou plek
oppas.”
“Dit het niks met trots te doen nie.”
“Nou wat keer jou dan?”
Michael lê terug met sy kop en asem diep in. “Gesonde verstand.”
John frons. “Dan is dit soos Paul sê.”
Michael kyk na hom. “Wat sê Paul?”
“Nie veel nie,” keer John. “Michael, vroue is emosioneel. Hulle doen
partykeer dom dinge ... ”
“Sy het dit oordink. Dit was nie op die ingewing van die oomblik nie.”
“Hoe weet jy dit?”
Michael trek sy hand deur sy hare. Hoeveel keer het hy nie al aan alles
gedink wat sy daardie laaste aand gesê en gedoen het nie? Hy kan nou nog
haar skraal liggaam in die maanlig sien, met haar ligte hare wat om haar
dans. Hy maak sy oë toe. “Ek weet net.”
“Miriam blameer haarself vir al hierdie dinge. Sy wil nie vir ons sê
hoekom sy dit dink nie, maar sy is vas oortuig daarvan.”
“Dit het niks met haar te doen nie. Sê jy dit vir haar van my af.”
“Ek het. Sy het Paul sover probeer kry om na Amanda te gaan soek en
haar terug te bring.”
Michael kan hom goed indink hoe dáárdie gesprek verloop het. Ten
minste was Paul sensitief genoeg om nie die laaste paar weke hier aan te
kom en hom te verlekker nie. “Paul het nog nooit van Angel gehou nie.”
“Angel?” vra John verward.
“Mara, Amanda, Tirsa ... ” Michael se stem breek. Hy hou sy kop vas.
“Jesus,” sê hy hees. “Jesus.” Angel. Sy het hom nooit eens genoeg vertrou
om vir hom te sê wat haar regte naam is nie. Of het hy sonder om dit te
besef die hele tyd aan haar as Angel gedink? Is dit hoekom sy hom weer
gelos het?
O, God, is dit hoekom U wou hê ek moet haar laat gaan?
John Altman voel magteloos terwyl hy die jonger man se hartseer
aanskou. Hy kan hom nie ’n lewe sonder Elizabeth voorstel nie. Hy het
gesien hoe lief Michael Amanda het, en Miriam is vas oortuig Amanda het
hom ook lief. Hy sit sy hand op Michael se skouer. “Miskien sal sy self
terugkom.” Sy woorde klink hol. Michael kyk nie eens op nie. “Wat kan ek
doen om jou hierdeur te help?”
“Niks,” sê Michael. Hoeveel keer het Angel nie presies dieselfde gesê
nie? Niks. Het sy gevoel of haar binnegoed uitgeruk word? Was die pyn só
erg dat net die noem daarvan dit erger gemaak het? Hoeveel keer het hy nie
haar wonde oopgeruk soos wat John nou maak nie? Probeer help en net
meer bloed laat vloei nie?
“Ek sal môre weer ’n draai kom maak,” sê John.
In plaas daarvan kom Miriam na hom toe.
Sy sit saam met hom onder die wilgerboom en sê niks. Hy kan hoor hoe
haar kop werk en die vraag in die lug bly hang. Hoekom doen jy nie iets
nie? Maar sy vra dit nie. Sy grawe in haar sak en hou iets na hom toe uit. Sy
maag ruk toe hy sy ma se trouring in haar hand sien lê.
“Vat dit,” sê sy.
Hy vat dit. “Waar het jy dit gekry?” vra hy hees.
Miriam se oë word vol trane. “Sy het dit vir my gegee voor sy in die
koets geklim het. Ek het vergeet om dit die eerste dag vir jou te gee. En
daarna was ek ... te verleë.”
Hy maak sy vuis toe om die ring. “Dankie.” Hy vra haar niks nie.
“Het jy van plan verander, Michael? Gaan jy haar probeer soek?”
Hy kyk haar reguit aan. “Nee, Miriam, en moet my nie weer vra nie.”
Miriam bly nie lank daarna nie. Sy het alles wat sy kon sê daardie dag
toe Amanda weg is, gesê en sy kon hom nie toe oortuig nie.
Michael weet wat al die moontlike redes vir Amanda se weglopery is.
Maar behalwe daarvoor, bo sy verstand, weet hy dat God se wil besig is om
te geskied. “Hoekom op hierdie manier?” roep hy hartseer uit. “Hoekom het
U gesê ek moet haar liefhê as U haar weer van my af wou wegneem?”
Hy is kwaad vir God en rou oor sy vrou. Hy hou op om sy Bybel te lees.
Hy hou op bid. Hy keer na homself om antwoorde te soek. Hy kry niks nie.
En hy droom donker, deurmekaar drome met magte wat op hom toeslaan.
Vir weke en maande praat die stil, sagte stem nie meer met hom nie. God
is stil en kruip weg, sy doel ’n geheimenis. Die lewe raak soos ’n dor
woestyn dat Michael dit nie meer kan verduur nie, en hy skree omhoog.
“Waarom het U my verlaat?”
Geliefde, ek is altyd by jou, tot die einde van dae.
Michael verslap sy genadelose werkspas en soek troos in God se Woord.
Ek verstaan niks meer nie, Here. Om haar te verloor, is soos om die helfte
van myself te verloor. Sy het my liefgehad. Ek wéét sy het. Hoekom het U
haar van my af weggejaag?
Die antwoord kom stadig met die verwisseling van seisoene.
Jy mag naas my geen ander gode hê nie.
Dit kan nie wees nie.
Michael se woede ontvlam. “Wanneer het ek ooit iemand anders as U
aanbid?” Hy gaan briesend voort. “Ek volg U al my lewe lank. Ek het nog
nooit iemand voor U gestel nie.” Hy huil met gebalde vuiste. “Ek het haar
lief, maar ek het haar nooit my god gemaak nie.”
In die kalmte wat op sy tierende woorde volg, hoor Michael – en kry hy
uiteindelik begrip.
Jy het haar god geword.

Angel staan in die middel van die straat wat in naglug omvou is en kyk hoe
Harper se kafee afbrand. Alles waarvoor sy die afgelope ses maande
gewerk het, brand ook. Al wat sy oorhet, is die dun katoenrok was sy aanhet
met die gevlekte voorskoot bo-oor.
Daar was geen waarskuwing nie. Virgil het by die kombuis ingestorm en
geskree dat daar ’n brand is. Sy het nie tyd gehad om vrae te vra nie; hy het
haar net summier buitentoe gesleep. ’n Paar deure van hulle af was twee
geboue aan die brand. Toe kom daar ’n windjie op en dryf die vuur deur die
oorblywende geboue in die blok.
Mense hardloop verward rond. Party is paniekbevange, ander gil
opdragte uit, ander staan saam en gee vinnig emmers water aan om die
brand te probeer beheer, maar dis alles tevergeefs. As en rook vul die lug en
die vlamme lek hoër; helderoranje teen die donker naglug.
Angel kyk magteloos hoe die kafee in ’n ontploffing van vuur en
vlamme ineenstort. Virgil huil hartverskeurend. Hul besigheid was op dreef.
Hoewel hul spyskaart beperk was, was dit wat hulle wel aangebied het,
uitstekend, en die nuus het vinnig versprei.
Angel gaan sit op ’n balie wat iemand uit ’n gebou gerol het. Die mans
het alles wat hulle kon uit hul geboue gesleep of gedra. Die straat is vol
meubels en sakke. Hoekom het sy nie daaraan gedink om dit ook te doen
nie? Sy het nie eens daaraan gedink om boontoe te hardloop en haar goed in
te pak nie. Sy kon al haar besittings in haar reissak gegooi het en steeds
betyds uitgekom het.
Toe die brand aan die einde van die straat kom, hou dit op. Die wind
gaan lê, en daarmee saam die opwinding. Oral staan mense wanhopig en
kyk na die vlamme wat alles verswelg wat nog van hulle drome oor is.
Virgil sit op die grond met sy hande in sy hare. Terneergedruktheid val soos
’n koue, nat kombers oor Angel. Wat gaan sy nou doen? Sy kyk om haar
heen en sien dat daar ander in dieselfde situasie as sy is. Wat sou Michael
gedoen het as hy hier was? Sy weet hy sou nooit opgegee het nie, en hy sou
iets vir hierdie mense gedoen het. Maar wat kan sy doen? Een vrou, wat self
hulp nodig het. Al wat sy weet, is dat sy nie net kan rondstaan en kyk hoe
Virgil in die straat sit en huil nie.
Sy gaan sit langs hom op die grond. “Wanneer die vuur uitgewoed is,
kan ons gaan rondkrap en kyk wat ons kan red.”
“Wat sal dit help? Ek het nie genoeg geld om die plek te herbou nie,”
snik hy.
Sy sit haar arm om sy skouers. “Die grond is tog iets werd. Dalk kan jy
’n lening daarmee kry en van voor af begin.”
Hulle slaap teen ’n hoop sakke onder geleende komberse. Teen dagbreek
begin krap hulle deur die as en rommel. Angel stik van die roet, maar kry
gietysterpotte en -panne. Die stoof is ook nog in ’n bruikbare toestand. Die
kombuisgereedskap is gesmelt, maar baie van die skottels is nog heel. As ’n
mens dit net ’n bietjie skuur, sal dit weer bruikbaar wees.
Met haar gesig vol as en haar keel rou van dit wat sy inasem, vat Angel
’n ruskans. Sy is honger en moeg. Elke spier in haar liggaam pyn, maar ten
minste voel Virgil ’n bietjie beter, al het hy nog nie vir hulle blyplek nie.
Die hotelle in die omgewing is reeds vol betalende gaste en sal seker nie
bereid wees om hul voorportaal af te staan aan dié wat nie kan betaal nie.
Net die gedagte om in die straat te slaap met die koue seemis wat oorwaai,
is erg genoeg, maar sy reken dinge kon seker erger gewees het. Iemand het
vir hulle nog ’n paar komberse gegee.
Hulle werk hard om die verkoolde hout te verwyder. Angel maak
glasskerwe van gebreekte vensters in ’n emmer bymekaar en gooi dit op ’n
hoop wat later weggery sal word. Virgil is bleek van moegheid. “Ons sal
seker maar net hier moet kampeer totdat ek genoeg geld het om die plek te
herbou. Die priester het slaapplek by die kerk as jy daar wil gaan bly. Party
van die ander gaan soontoe.”
“Nee, dankie,” sê sy. Sy sal liewer in die modder slaap voor sy by ’n
kerk vir hulp sal vra.
Virgil knik na ’n paar mans wat buite ’n gebou oorkant die straat in ’n ry
staan. “Vader Patrick het ’n sopkombuis daar oorkant begin. Gaan kry vir
jou iets om te eet.”
“Ek is nie honger nie,” jok sy. Sy gaan nie vir ’n priester enigiets vra nie.
Maar sy het dringend ’n beker water nodig. ’n Paar balies is uitgesit vir
drinkwater. Sy smag daarna om haar gesig te was, maar die enigste ander
water is in ’n trog. Sy sug en besef dat dit tien teen een skoner is as wat sy
is. Sy buk oor die trog, maak haar hande bak en was haar gesig. Die water
voel verfrissend.
“Hallo, Angel. Het jou lanklaas gesien.”
Dit voel of haar hart gaan staan. Dit is seker haar verbeelding. Sy lig
haar kop stadig op, haar hart dawer teen haar borskas; haar gesig is
waternat.
Voor haar staan Duke; sy mond vertrek in ’n dodelike glimlag.
Dertig

Wanneer ek loop in ’n baie donker kloof,


sal ek nie bang wees nie, want U is naby my.
Psalm 23:4

Duke se blik gaan oor Angel se vuil rok, en sy mond krul in ’n siniese
glimlag. “Ek het jou al mooier sien lyk as dít.”
Sy vries toe sy na hom kyk. Toe hy nader loop en aan haar raak, voel sy
asof sy gaan flou val.
“Dit lyk my dit maak nie saak hoe ver jy weghardloop nie, jy kan maar
net nie van my af wegkom nie, of wat sê ek?” Hy kyk af oor haar. “Jy het
omtrent ’n beeldskone vrou geword onder al daardie roet.” Hy kyk rond na
die verkoolde geboue. “Het jy in een van hierdie miserabele klein krotte
gewerk?”
Toe hy weer na haar kyk, het Angel haar stem terug. “Ek was die kok by
Harper’s Cafe.” Haar maag bewe.
“’n Kok? Jý?” Hy skater. “O, dis baie snaaks, my skat. Wat was jou
spesialiteit?” Terwyl hy praat, kyk hy na die mans wat in die afgebrande
geboue werskaf. “Ek was bekommerd oor jou. Ek was bang jy het weer
saam met so ’n ellendeling soos Johnny opgeëindig.” Sy oë rus op Virgil
waar hy tussen die rommel rondkrap. “En in plaas daarvan het jy by ’n klein
knaagdier beland.”
Sy herken daardie donker blik en weet dit hou niks goeds vir Virgil in
nie, en hy was nét goed vir haar. Haar hande sweet, maar sy moet net sy
aandag aflei van die klein mannetjie wat haar Samaritaan was. “Jy het tog
seker nie al die pad Kalifornië toe gekom net om na my te kom soek nie?
Jy, met soveel belangrike ysters in die vuur.”
“Kyk ’n bietjie rond, my skat. Daar is ’n fortuin om hier te maak.” Sy
glimlag is uittartend. “Ek het my deel kom haal.”
Virgil sien hulle en kom nadergestap. Die kyk in haar oë slaag nie daarin
om hom te waarsku nie. Net mooi die teenoorgestelde, hy loop al hoe
vinniger. Hy bekyk Duke op en af en kyk bekommerd na Angel. “Is alles
reg, mevrou? Val hierdie man jou lastig?”
Wat dink die arme dwaas kan hy aan die saak doen? “Ek is piekfyn,
Virgil.”
Duke glimlag koud vir hom. “Gaan jy ons nie aan mekaar voorstel nie,
my skat?”
Sy doen dit. Dis duidelik dat Virgil al voorheen daardie naam gehoor het
en hy lyk verbaas. “Jy kén hierdie man?”
“Ek en Angel is ou en dierbare vriende.”
Virgil kyk na haar en sy voel sy moet nog iets byvoeg ter verduideliking.
Maar daar is min wat sy kan sê. “Ons het mekaar in New York geken. Baie
lank gelede.”
“Nie só lank gelede nie,” sê Duke in ’n besitlike stemtoon.
“Besit jy nie daardie plek oorkant die plein nie?” vra Virgil. “Die grote?”
“Inderdaad,” sê Duke uit die hoogte en met leedvermaak. “Kom jy
dikwels na my tafels?”
“Ek kan dit nie bekostig nie,” sê Virgil droog.
“Sal ons gaan, Angel?” sê Duke en sy hand verstewig onder haar
elmboog.
“Gaan?” Virgil kyk na haar. “Waarheen gaan?”
“Ek dink nie dit het enigiets met jou te doen nie,” sê Duke waarskuwend
vir hom.
Virgil rek homself tot sy volle vyf voet. “Dit het as sy nie saam met jou
wil gaan nie.”
Duke lag.
Angel is verbaas en ontroer dat Virgil bereid is om op te kom vir haar,
selfs teen ’n man soos Duke wat hom maklik kan vernietig.
“Ek ... ” Sy voel hoe Duke se vingers in haar arm sny en is bang vir dit
wat hy aan Virgil sal doen as sy net huiwer om saam met hom te gaan. “Ek
is jammer, Virgil.” Die arme klein mannetjie lyk so verward en seergemaak.
Hy kyk na haar, en sy voel dat sy hom ook verraai het deur nie van die
begin oop kaarte met hom te speel nie. Het sy régtig gedink sy kan ’n ander
lewe lei? Wat het sy gedink?
“Jy sal ’n nuwe kok moet kry,” sê Duke. “Sy gaan terug na waar sy
hoort.”
“Is jy seker, mevrou?”
Duke se donker oë brand van ergernis dat hierdie klein kafee-eienaartjie
dink hy kan hom keer. “Miskien moet ek maar dieselfde met hom doen as
wat ek met Johnny gemaak het,” sê hy en kyk vinnig af na Angel, sy oë
donker van ongeduld.
“Johnny wie?” vra Virgil. Hy lyk onverstoord en gereed vir ’n uitdaging.
Hy het meer as genoeg durf wat vergoed vir sy gebrek aan fisiese grootte.
Die enigste ding wat hy ontbreek, is gesonde verstand.
“Moenie,” smeek Angel. “Asseblief, Duke. Ek sal saam met jou gaan.”
“Jy het so hoflik geword, my skat.” Nou die ene liefdadigheid, glimlag
hy vir Virgil. “Behoort hierdie grond aan jou?”
“Ja,” sê Virgil versigtig.
“Wil jy dit verkoop?”
“Nie oor my dooie liggaam nie.”
Duke lag. “Nie? Wel, as jy geld nodig het om te herbou, kom daar by my
langs dan kan ons ooreenkom op iets. As jy sukkel om ’n ander kok in
Angel se plek te kry, kan ek jou dalk daarmee ook help.” Hy lyk
geamuseerd.
“Dankie,” sê Virgil, maar Angel kan sien hy is nie van plan om Duke se
aanbod te oorweeg nie. “Mevrou Hosea, is jy seker?”
“Mevrou Hosea?” sê Duke sag en lig sy een wenkbrou op toe hy na haar
afkyk. Haar hart sit in haar keel.
“Ja, Virgil, ek is seker,” sê sy.
Duke vat haar weg en lag asof dit ’n baie snaakse grap is.
Angel probeer dink wat sy kan doen, maar die stewige hand onder haar
arm verlam haar brein. Michael, o, Michael! Hy het hul pad oopbaklei uit
die kroeg in Pair-a-Dice, maar hierdie keer is hy nie hier om vir haar te
baklei nie. Sy is alleen, en Duke hou haar so styf vas dat sy weet hy is nie
van plan om haar weer te laat ontsnap nie.
“So, jy is getroud, my skat? Was dit lekker vir so lank as wat dit gehou
het? Of net voorgee?” Hy begelei haar in ’n groot dobbelhuis in. Angel is
skaars bewus van wat om haar aangaan terwyl hulle tussen die tafels
deurstap. Dis weelderig, maar Duke het nog altyd alles oordadig gedoen.
Die mans groet Duke rumoerig en staar haar openlik aan in bespiegeling.
Sy loop met haar kop regop en kyk reguit voor haar uit. Hulle gaan by die
trap op en loop in ’n gang met pragtige panele af. Die vrees oorweldig
Angel toe sy ’n ander gang drieduisend myl hiervandaan onthou en wat aan
die einde daarvan vir haar gewag het. Duke maak die deur oop en druk haar
voor hom in.
’n Pragtige donkerkop lê vas aan die slaap op ’n deurmekaar koperbed.
Duke stap na die bed en gee haar ’n harde klap. Sy skrik wakker met ’n gil
van pyn. “Uit is jy.” Die jong prostituut klim van die bed af, gryp haar
japon en vlug by die deur uit. Duke glimlag vir Angel. “Dit sal jou kamer
wees.”
Sy kan nie net boedel oorgee nie. “Het ek ’n keuse?”
“Nog net so minagtend,” sê hy met ’n dralende stem en loop stadig na
haar toe. Hy gryp haar gesig stewig vas en kyk af in haar oë. Sy probeer
haar vrees verbloem deur hom aan te gluur, maar sy flous hom nie. Hy kan
natuurlik sien dis net voorgee en glimlag. “Jy’s tuis, my skat. Net waar jy
hoort. Jy kan gelukkig wees.” Sy hand gly af en vou saggies om haar keel.
“Jy lyk so in beheer, maar jou hart klop soos ’n verskrikte hasie s’n.”
Hy steek ’n sigaar aan en kyk deur die rook na haar. “Jy is so bleek, my
skat. Dink jy ek gaan jou seermaak?” Hy gee haar ’n vaderlike soen op die
voorkop en spot met haar soos hy altyd gemaak het wanneer sy hom durf
teëgaan het. “Kom ons praat later.” Hy tik haar liggies op die wang asof sy
’n kind is en loop by die kamer uit.

Michael skrik in koue sweet wakker. Angel het hom geroep. Hy het haar in
die middel van ’n brand sien staan en sy het sy naam oor en oor geroep.
Hoe hard hy ook al probeer, hy kon nie by haar uitkom nie, maar hy kon ’n
donker figuur deur die vlamme na haar toe sien loop.
Hy vryf sy bewende vingers deur sy klam hare. Die sweet loop teen sy
kaal bors af en hy bewe onbedaarlik. “Dit was net ’n droom.”
Hy het so ’n slegte voorgevoel dat dit hom naar maak. Hy bid. Daarna
staan hy op en gaan buitentoe. Dis amper oggend. Dinge sal beter lyk as dit
eers lig is. Teen dagbreek wil die gevoel dat iets verkeerd is maar net nie
wyk nie, en hy bid weer vurig. Hy is vol vrees vir sy vrou se onthalwe.
Waar is sy? Hoe oorleef sy? Is sy honger? Het sy ’n dak oor haar kop?
Hoe oorleef sy op haar eie?
Hoekom kom sy nie terug na hom toe nie?
Iets onheilspellends hang die hele dag in die lug. Dit voel asof ’n
pikswart duisternis sy siel omvou, en hy weet sonder twyfel dat dit iets met
Amanda te doen het. Hy bid onophoudelik vir haar.
Hy weet sy hande is afgekap. Daar is niks wat hy kan doen as sy in die
moeilikheid is nie. Hy weet nie waar sy is of watter tipe hulp sy benodig
nie, maar hy kan nie ophou om heeltyd aan haar te dink nie. Hy het haar
nog net so lief. Hy vertrou op God om hom te beskerm en te lei. Hoekom
kan hy nie die Here vertrou om dieselfde vir háár te doen nie?
Omdat hy weet sy glo nie.

Angel probeer die deur oopmaak, maar dis gesluit. Sy gaan na die venster
en trek die elegante kantgordyne oop om na buite te kyk. Ook hier is geen
uitkomkans nie. Duke hou daarvan om sy eiendom te beskerm.
Sy stap op en af en haar hande sweet as sy dink aan wat hy aan haar kan
doen. Sy is nie geflous nie. Onder sy oënskynlik uiterlike vriendelikheid is
hy briesend. Om haar alleen te laat, tel in sy guns. Hy weet sy maak
haarself gek met gedagtes aan wat hy moontlik alles kan doen. “Nie hierdie
keer nie,” fluister sy vir haarself. “Nie weer nie.”
Sy kyk om haar rond en besluit sy kan die bed opmaak en die kamer
opruim. Sy kan iets doen om haar gedagtes van die onvermydelike af te lei.
Toe sy klaar is met die klein takies, gaan sit sy by die venter en kyk hoe die
mense onder rondmaal. Vrees oorrompel haar weer. Sy knyp haar oë styf
toe en stoei daarmee. “Michael, Michael, wys vir my wat om te doen.” Sy
kan hom in haar gedagtes in die veld sien werk. Sy kan sien hoe hy regop
staan, die skoffel in sy hand, met ’n glimlag op sy gesig. Sy kan hom voor
die vuur sien sit met die Bybel op sy skoot. “Vertrou op die Here,” sê hy.
“Vertrou op die Here.”
Die deur gaan oop, en sy dwing haarself om kalm te bly sit toe Duke
binnekom. Hy word gevolg deur ’n fris man. Sy maak asof dit haar glad nie
pla toe die man die ander meisie se goed uit die groot klerekas haal en by
die kamer uitdra nie. Duke bekyk haar stil. Sy kyk op na hom en glimlag
effens. Jy sal my nie laat kruip nie, jou duiwel. Jy sal nie weer my denke
besoedel nie. Ek sal aan Michael dink. Ek sal net aanhou om aan Michael
te dink.
’n Chinese bediende kom in om die ou beddegoed af te haal en nuwe
lakens oor te trek.
Angel sit kalm in die hoërugstoel. Haar hande rus liggies op die
leunings, en haar hart klop wild. Duke het nog nie beweeg of enigiets gesê
nie, maar sy ken daardie uitdrukking en die vrees maak ’n hol kol op haar
maag. Watter vergelding het hy in gedagte?
“Bring die wasbalie op,” deel hy die opdrag uit, en die Chinees buig.
“Maak seker sy het baie warm water.” Die Chinees buig weer en stap
agteruit by die deur uit. Duke se oë vernou terwyl hy haar gesig ’n lang ruk
aandagtig dophou. “Ek sal iemand stuur om jou te help.” Hy draai om en
loop uit.
Verbaas sug sy van verligting. Haar houding het hom ontstig. Sy kon
hom nooit vantevore flous nie. Maar, aan die ander kant, dis byna drie jaar
sedert sy hom laas gesien het. Miskien het hy haar streke vergeet.
En dalk sal dit dinge net vererger. ’n Jong meisie kom in om haar te help
ontklee. Sy kan nie ouer as dertien wees nie. Angel weet sy is nie Duke se
minnares nie, hoewel sy ongetwyfeld die een of ander tyd kon gewees het.
Sy is mooi genoeg daarvoor. Maar Angel weet solank ’n meisie Duke s’n is,
is haar gesig skoon, sy dra pastelkleure, vlegsels en linte in haar hare.
Hierdie meisie se wange en lippe is rooi en haar hare val in ’n krullebos oor
haar dun skouers. Sy lyk soos iemand wat deur hel is.
Sy glimlag simpatiek vir die jong meisie. “Wat is jou naam?”
“Cherry,” sê die meisie en gooi Angel se katoenrok en onderklere by die
deur.
“Ek wil daardie goed terughê wanneer dit gewas is.”
“Duke het gesê dit moet weggegooi word.”
“En ’n mens moet Duke altyd gehoorsaam.” Sy wil nie die meisie in die
moeilikheid bring nie. “Het hy jou saam met hom Kalifornië toe gebring?”
“Vir my en drie ander meisies,” sê sy en voel of die water reg is. “Dis nie
te warm nie. Jy kan nou bad.”
Angel trek haar verslete onderklere uit. Soos wat sy in die warm water
insak, sug sy. Wat ook al gebeur, sy sal skoon wees wanneer die tyd
aanbreek. Ten minste aan die buitekant. “Hoe lank is jy al hier?”
“Agt maande,” antwoord die meisie.
Angel frons. Sy het nooit besef dat sy heeltyd net ’n paar blokke van
Duke af gebly het nie. Miskien is dit haar lot in die lewe om by hom te
wees.
“Jy is baie mooi,” sê Cherry.
Angel kyk hartseer na die meisie. “Jy ook.” So ’n bleek, pragtige meisie
met vreesbevange blou oë. Sy is vervul met deernis.
“Wil jy hê ek moet jou hare vir jou was?” vra Cherry.
“Wat ek wil hê, is om ’n manier te kry om hier uit te kom.” Cherry
versteen verbaas, en Angel glimlag spottend vir haarself. “Maar dis
onmoontlik, nie waar nie?” Sy vat die spons en die koekie laventelseep by
die meisie en sê niks verder nie.
Sonder om te klop, kom Duke binne. Cherry skrik en haar gesig word
wasbleek. Angel sit haar hand op die meisie s’n en voel hoe koud sy is. ’n
Klomp satynjaponne hang oor Duke se arm en hy sit dit met groot fanfare
op die bed se voetenent neer. “Los ons alleen, Cherry.” Die meisie skarrel
uit die kamer uit.
Angel is kwaad, maar sy staal haarself en gaan aan om te bad asof hy nie
daar is nie. Hy kyk skaamteloos na haar. Ongemaklik onder sy donker blik,
staan sy op en draai ’n groot handdoek om haar lyf. Hy gee vir haar ’n
kleiner handdoek aan vir haar hare. Sy draai dit soos ’n tulband om haar
kop. Hy hou ’n blou satynkamerjapon vir haar oop. Sy trek dit aan en bind
dit styf vas. Hy sit sy hand op haar skouer en draai haar na hom toe.
“Jy’s nie meer my klein Angel nie, nè?”
“Ek kon nie vir altyd ’n kind bly nie,” sê sy en gril onder sy aanraking.
“Wat ’n jammerte.” Hy hou ’n stoel na haar toe uit. Sy haal stadig asem
en dwing haarself om kalm te bly toe sy gaan sit.
“Jy is seker dood van die honger,” sê hy en trek die klokkie se tou. Die
Chinese bediende kom binne met ’n skinkbord. Die oomblik toe hy die
skinkbord op die tafel voor haar neersit, wys Duke met sy hand dat hy moet
maak dat hy wegkom. Hy haal self die silwerdeksels af en glimlag. “Al jou
gunstelinge, my skat.”
Dis ’n feesmaal: ’n Dik halfgaar biefstuk, geroomde aartappels en
gemengde groente wat drup van die botter. Daar is selfs ’n dik sny
sjokoladekoek. Sy het nog nie weer ’n maaltyd soos hierdie geëet vandat sy
uit die New Yorkse bordeel weg is nie. Haar mond water en haar maag trek
saam.
Duke tel ’n silwerbeker op, skink ’n kristalglas vol melk en gee dit vir
haar aan. “Jy het mos nog altyd meer daarvan as van sjampanje gehou, nie
waar nie?”
Sy vat die glas by hom. “Wil jy die kalf vet maak voordat jy hom slag,
Duke?” vra sy.
“Die goue kalf? Sal dit nou nie dwaas van my wees om dit te doen nie?”
Sy het voor die brand laas geëet en hardkoppig die priester se goedheid
geweier. Hy sou haar sy sop laat eet en haar dan haar sondes laat bely voor
hy vir haar sê dat sy nie meer gered kan word nie. Sy is nou al dood van die
honger.
“Ek sal later by jou aansluit,” sê Duke en verras haar weer. Sy het
verwag dat hy sal bly. Net toe hy by die deur uit is, begin sy eet. Sy het drie
jaar laas sulke lekker kos geproe. Duke het nog altyd heerlike kos voorgesit.
Sy skink vir haar nog ’n glas melk.
Eers toe haar maag knuppeldik geëet is, besef sy wat sy gedoen het, en
sy laat sak haar kop in skaamte.
O, Michael, ek is swak. Ek is só swak! Ek was reg om jou te verlaat. Kyk
na my! Ek vereet myself aan Duke se kos. Ek verkoop my siel vir ’n biefstuk
en ’n sny sjokoladekoek terwyl ek gesweer het ek sal eerder sterf van die
honger voor ek weer na my ou weë terugkeer. Ek weet nie hoe om goed te
wees nie! Ek kon dit net doen toe ek by jou was.
“Jy lyk radeloos, my skat. Wat is dit? Iets wat jy geëet het?” Duke se
stem laat haar wip. Sy het hom nie eers hoor inkom nie. “Of bekommer jy
jou oor hoe ek jou gaan straf?”
Sy stoot die leë bord weg, haar gesig rooi van skaamte. Sy voel naar oor
dit wat sy gedoen het. “Ek gee nie om wat jy doen nie,” sê sy met ’n doodse
stem. Sy staan op en draai haar rug op hom. Sy stoot die kantgordyne weg
en kyk af op die bedrywige straat. Waar is al die goeie morele krag wat ek
gehad het terwyl ek by jou was, Michael? Dit het weer verdwyn. Ek is weer
Angel. Binne enkele ure en een skinkbord kos!
Sy maak haar oë toe. God, as U daar is, slaan my dood. Maak my dood
sodat ek nie heeltemal ingee nie. Ek het nie die krag om hierdie duiwel te
bestry nie. Ek het absoluut geen krag nie.
“Ek was bekommerd oor jou,” flikflooi Duke. Sy voel sy hande op haar
skouers. Sy duime knie haar stywe spiere. “Ek dra net jou beste belange op
die hart.”
“Net soos altyd,” sê sy droog.
“Moes jy ooit met die laer klasse omgaan, my skat? Jy het net die beste
gehad. Hoeveel sestien jaar oue meisies kan daarmee spog dat ’n senator en
appèlhofregter hulle gereeld besoek het? Of ’n skeepsmagnaat? Charles was
heeltemal platgeslaan toe jy verdwyn het. Hy het sy eie kontakte gehuur om
jou te probeer kry. Dis hý wat my vertel het jy is op ’n skip na Kalifornië.”
“Dierbare ou Charles,” sê sy en onthou die bedorwe jong man. Sy skud
Duke se hande van haar af en kyk na hom. “Wat sou jy gedoen het as ek vir
jou gesê het ek het genoeg gehad?”
Sy mond roer effens. “Vertel my van hierdie Hosea-man.”
Haar spiere trek saam. “Hoekom wil jy van hom hoor?”
“Net nuuskierigheid, my skat.”
As sy oor Michael praat, gee dit haar miskien die krag om dit wat voorlê,
te weerstaan. “Hy’s ’n boer.”
“’n Boer?” sê Duke verbaas en weer geamuseerd. “En het jy leer ploeg,
Angel? Kan jy ’n koei melk en ’n ordentlike soom insit? Het jy dit geniet
om grond onder jou vingernaels te hê?” Hy vat haar hand en draai haar
handpalm boontoe. Sy sit stil. “Eelte,” sê hy gewalg en los haar hand.
“Ja, eelte,” sê sy met trots. “Selfs toe onder die stof en sopnat gesweet,
was ek skoner saam met hom as wat ek óóit saam met jou was.”
Hy klap haar, en sy val agtertoe. Sy ruk haar reg en sien iets in sy gesig
wat haar minder bangmaak. Sy is nie seker wat dit is nie, maar hy lyk nie so
in beheer van homself of die situasie nie.
“Vertel my alles, my skat.”
Sy doen dit.
“Het jy hom liefgehad?”
“Ek het hom steeds lief. Ek sal hom altyd liefhê. Hy is ál goeie ding wat
nog ooit met my gebeur het, en ek sal daaraan vasklou tot ek doodgaan.”
Sy gesig verdonker. “Is jy haastig dat dit moet gebeur?”
“Doen wat jy moet, Duke. Doen wat jy wil. Het jy nie nog altyd nie?” Sy
draai weer weg van hom af en verwag dat hy haar gaan omruk en slaan,
maar hy doen dit nie. Sy gaan sit op die kant van die bed en kyk vraend op
na hom.
“So, waar is hierdie toonbeeld van manlikheid nou?” vra Duke.
“Op sy plaas.” Tien teen een het hy hom reeds tot Miriam gewend.
“Jy het hom verlaat.”
“Ja, ek het hom verlaat.”
Hy glimlag tevrede. “Verveeld?”
“Nee, een van Michael se drome was om kinders te hê, en soos ek en jy
goed weet, kan ek dit nie vir hom gee nie.” Sy kan nie die bitterheid uit haar
stem hou nie; sy probeer nie eens nie.
“So, jy het my nog nie daarvoor vergewe nie?”
“Ek het vir Michael gesê ek kan nie kinders hê nie en ook wat die rede
daarvoor is. Hy het gesê dit maak nie saak nie.”
“Nie?”
“Nee, maar dit het vir mý saak gemaak. Ek wou hê hy moet alles hê wat
hy verdien en wat sy hart begeer.”
Duke se gesig verhard met elke woord wat sy sê. Sy ignoreer die
waarskuwing. Sy dink net aan Michael. “Dis nie die eerste keer dat ek hom
verlaat het nie. Ek het met hom getrou toe ek geen ander uitkoms gehad het
nie, en ek het hom verlaat met die eerste kans wat ek gekry het. Ek wou
niks met hom te doen gehad het nie. Ek wou teruggaan en die geld gaan
haal wat my toekom. Teen die tyd dat ek daar gekom het, was die bordeel
weg. Dit het afgebrand en die eienares was weg. So, ek het by ’n kroegbaas
beland en vir hom begin werk. Daar het ek ’n goeie smakie gekry van die
laer klasse van wie jy met soveel minagting praat. En weet jy wat Michael
gedoen het toe hy uitvind waar ek is? Hy’t my daar kom uithaal. Hy’t ons
pad buitentoe oopbaklei. En hy het my saam met hom huis toe gevat. Hy
het my vergewe.”
Sy lag afgetrokke. “Maar ek het aanhou wegloop. Hy het my
ongelooflike dinge laat voel. Dit was asof hy my hele lewe omgekeer het.
Hy het my altyd liefgehad, maak nie saak wat hy van my verlede uitgevind
het nie. Maak nie saak wat ek gedoen het nie. Maak nie saak hóé seer ek
hom gemaak het nie. Hy het net nooit moed opgegee met my nie.”
Duke vat haar ken vas. “Net soos wat ék nie het nie.” Sy oë brand soos
kole. “Of het jy vergeet dat jy van mý af ook weggeloop het? Baie kere, en
ek het jou élke keer huis toe gebring en vergewe.”
Sy pluk haar ken weg en gluur hom kwaad aan. “My vergewe? Jy het my
besit. Jy sien my as jou besitting. Iets wat aan die hoogste bieër verkoop
kan word. Iets wat gebruik kan word. Michael het my liefgehad. Jy het
altyd gedink jy besit my siel. Michael het my gewys dat niémand daardie
mag het nie.”
“Nie?” Hy vat liggies aan die wang wat hy geklap het. “Voel jy nie
heeltemal tuis hier nie, Angel? Het jy nie die heerlike kos, die mooi klere,
die pragtige dekor, die áándag gemis nie?”
Sy skuif ongemaklik rond en sien hoe hy glimlag. “Ek ken jou,” sê hy.
“Al stry jy hoe baie, jy is dol daaroor om sy teen jou vel te voel. Jy hou
daarvan om ’n persoonlike bediende te hê wat alles vir jou doen.” Hy tel die
leë beker van die tafel af op. “Jy is dol oor melk.” Hy lag vir haar.
Angel se gesig is bloedrooi. Sy gesig is gevul met boosaardige vreugde
terwyl hy aangaan. “Ek het altyd gekyk hoe jy met die mans speel wat na
jou toe gekom het. Klei in jou hande. Hulle was versot op jou.”
“En dit het jou mag oor hulle gegee.”
“Ja, dit het,” erken hy gemoedelik. “Verskriklike mag.” Hy lig haar ken
ru op. “Ek het jou gemis. Ek het die mag gemis wat jy my gegee het omdat
die mans wat ek na jou toe gebring het, onder jou betowering gekom het, en
wanneer dit gebeur het, het hulle aan my behoort.”
“Jy dink te veel van my.”
“Niemand kon ooit naby aan jou kom nie.”
“Michael het.” Sy sien hoe die woede in sy donker oë flits. Vreemd
genoeg, is sy nie bang nie. Daar is ’n kalmte in haar. Net om aan Michael te
dink, gee vir haar moed, maar sy weet dit is nie ’n moed wat staande kan
bly nie. Nie wanneer Duke eers begin nie. Hy is nie soos Magowan nie. Hy
sal nie sy selfbeheersing verloor nie, en hy sal haar nooit doodmaak nie.
Duke staan op. “Ek sal jou nou uitlos, my skat. Rus ’n bietjie. Ek sal
later weer met jou kom gesels. Ons moet besigheid praat. Jy moet darem
per slot van rekening jou kos verdien.”
Toe hy afbuk om haar te soen, draai sy haar kop weg. Sy harde vingers
klem soos ’n skroef op haar wange vas en hy druk haar kop op. Hy soen
haar hard. Sy voel geen hartstog in hom nie; sy sien dit ook nie toe hy haar
klaar gesoen het nie. Hy het genoeg daarvan gehad toe sy net ’n bietjie ouer
as Cherry was.
Duke staan vir ’n oomblik by die deur. “Terloops, Angel. As jou Michael
jou kom haal, sal ek hom doodmaak net soos ek vir Johnny doodgemaak
het.” Hy glimlag effens. “En ek gaan jou laat toekyk terwyl ek dit doen.”
Haar moed vervaag. Hy sien dit en glimlag weer.
Angel hoor hoe die sleutel in die slot draai en val op die bed neer.
Die volgende dag en die dag daarna sien sy glad nie vir Duke nie. Cherry
bring haar kos, en ’n wag maak seker dat die deur gesluit is wanneer sy
weer gaan.
Angel weet presies wat Duke besig is om te doen, maar dit help haar niks
nie.
Haar nagmerries begin weer.
Sy hardloop die nag in. Swaar voetstappe weergalm agter haar in die
stegie. Voor haar lê die dokke en skeepsmaste vul die horison. Sy hardloop
van die een na die ander en smeek hulle om haar aan boord te neem.
“Jammer, juffrou. Ons is vol,” sê die matrose die een ná die ander.
Sy hardloop by die laaste pier af en sien ’n vullisbootjie ver onder haar.
Die toue is losgemaak. Sy kyk om en sien vir Duke. Hy roep na haar en sy
donker stem trek haar na hom toe.
Die rotte kruip oor die gemors in die bootjie onder haar en vreet aan
verrotte vleis en groente. Die walglike reuk maak haar naar, maar sy spring
in elk geval en kom hard te lande. Haar hande verdwyn in ’n glibberige
massa terwyl die rotte skree en in alle rigtings wegskarrel. Sy word byna
flou van die walglike reuk, maar hou styf vas toe die bootjie begin beweeg.
Net toe Duke aan die einde kom, trek die bootjie weg van die dok.
“Jy kán nie wegkom nie. Jy kan nie wegkom nie, Angel.”
Toe is hy weg, en sy is in die middel van ’n woeste see. Die branders
breek om haar en spat oor die rand van die boot. Sy probeer na ’n veiliger
skuilplek opkruip, maar daar is nie een nie. Sy trek haarself hoër op om van
die koue seesproei af weg te kom. Toe sy bo kom, sien sy vir Rab op sy rug
lê. Die swart koord is steeds om sy nek, en die rotte is besig om aan sy
dooie vleis te kou. Sy gil van vrees en gly weer teen die vullishoop af. Sy
gaan sit in ’n bondeltjie in die verste hoekie van die bootjie om van hom af
weg te kom.
Bibberend van die koue, plaas sy haar hande oor haar kop. “Ek wens ek
was dood. Ek wens ek was dood ... ”
“Skat, waar is dit?”
Angel kyk op en sien haar ma voor haar staan. Sy glinster in wit. “Waar
is dit, skat? Waar’s my bidkrale?”
Angel skarrel oor die hoop en soek fanaties. “Ek sal dit kry, Mamma! Ek
sal dit kry!” Sy sien iets blinks en steek haar hand uit. “Hier is dit! O, dis
hier, Mamma.” Die bootjie rol skielik en die een kant lig uit die water op,
die vullis val in die see uit. Angel gil en probeer haar ma se bidkrale vallend
vasvat. Haar vingerpunte raak net-net aan die kruis en krale voordat dit
weggly en oor die rand in die kolkende see verdwyn. Angel voel hoe sy ook
wegglip. Instinktief gryp sy na iets om aan vas te hou, maar niks is solied
genoeg om haar te beskerm nie. Alles val oorboord. Sy val in die koue
water, vrot afval oral om haar. Sy skop en veg om kop bo water te kry, en
toe sy bo kom, is die see kalm. Sy sien ’n kuslyn en begin soontoe swem.
Toe sy daar aankom, kan sy skaars staan so swaar is haar liggaam van al die
gemors wat aan haar vasklou. Sy strompel op die strand uit en val
uitgemergel neer. Haar vel is vol vieslike sere en walglike uitgroeisels, soos
die baba van die jong prostituut.
Toe sy opkyk, sien sy vir Michael in ’n veld staan. Die ligte windjie laat
die koring om hom soos ’n goue see lyk. Die lug is soet en skoon. Miriam
stap na hom toe met ’n baba in haar arms, maar hy steur hom nie aan haar
nie. “Amanda?” roep hy en hardloop na haar toe.
“Nee, Michael, gaan terug! Moenie naby my kom nie!” Sy wéét as hy
aan haar raak, sal hy net so vuil word soos sy. “Bly weg! Bly weg!”
Maar hy luister nie. Hy kom steeds nader.
Sy is te swak om weg te hardloop. Sy kyk af na haarself en sien hoe haar
vleis verrot en van haar lyf afval. Michael stap doelgerig na haar toe. Hy is
so naby dat sy sy oë kan sien. “God, laat my doodgaan. Laat ek vir hóm
sterf.”
Nee, hoor sy ’n sagte stem.
Sy kyk op en sien vir Michael voor haar staan. ’n Klein vlammetjie
brand waar sy hart was. Nee, geliefde. Sy mond beweeg nie, en die stem
wat praat behoort nie aan hom nie. Die vlam word groter en helderder en
versprei totdat sy hele liggaam daarvan gloei. Toe word die lig los van
Michael en kom die laaste paar voet na haar toe. Dis ’n man, glorieryk en
wonderbaar, en hy straal lig in alle rigtings uit.
“Wie is jy?” fluister sy vreesbevange. “Wie is jy?”
Jahweh, El Shaddai, Jehovah-mekoddishkem, El Elyon, El Olam,
Elohim ...
Nog name vloei die een na die ander van sy tong en vloei saam soos
musiek, dit bruis deur haar bloed en vul haar hele wese. Sy sidder van angs
en kan nie beweeg nie. Hy steek sy hand uit en raak aan haar. Sy voel hoe
die hitte haar omvou en die vrees soos mis voor die son verdwyn. Sy kyk af
na haarself en sien sy is skoon en het ’n wit kleed aan.
“Dan is ek dood.”
Sodat jy kan lewe.
Sy knip haar oë, kyk weer op en sien die man van die lig is vol van haar
vuilheid. “Nee!” huil sy. “O, God, ek is jammer. Ek is só jammer. Ek sal dit
terugvat. Ek sal énigiets doen ... ” Toe sy haar hand uitsteek, verdwyn die
vuilheid en hy staan weer volmaak voor haar.
Ek is die weg, Sarah. Volg My.
Toe sy nadergaan en haar hand na hom uitsteek, is daar ’n donderslag en
Angel skrik in die donker wakker.
Sy lê stil en kyk boontoe. Haar hart klop wild en onbedaarlik. Sy maak
haar oë styf toe en probeer teruggaan na haar droom toe. Sy wil sien hoe dit
eindig, maar sy kan dit nie vasvang nie. Sy kan dit nou skaars onthou. Dit
ontwyk haar.
Dan hoor sy die geluid wat haar wakker gemaak het. Dit kom van die
kamer langsaan en is so bekend dat dit haar hart in stukke skeur.
Duke praat in ’n lae verleidelike stemtoon.
En ’n kind huil.
Een en dertig

Maar nou, Jakob, sê die HERE wat jou geskep het,


Hy wat jou gevorm het, Israel: “Moenie bang wees nie,
want Ek het jou verlos. Ek het jou by jou
naam geroep. Jy behoort aan My.”
Jesaja 43:1

Paul wéét hy moet teruggaan berge toe. Hy kan nie nog ’n week op sy
grond bly nie. Hy kan nie só naby aan Miriam bly en nie gek word nie. Hy
sal liewer die ontnugtering en geswoeg van goudwassery verduur as om
haar oor die veld na Michael se hut toe te sien stap.
Maar hy het geld nodig om voorrade te koop.
Hy sluk sy trots en gaan na Michael toe om sy grond te probeer verkoop.
“Ek vra nie baie nie. Net genoeg om my aan die gang te kry. Dit is goeie
grond. Dit moet in elk geval joune wees, Michael. Jy het dit vir my
uitgehou toe ek verlede keer weg is.”
“Ek kan nie nog grond bekostig nie,” sê Michael en bedank die aanbod.
“Wag tot jou lentegewasse reg is om geoes te word. Vat dan dit wat jy
daarvoor kry en gaan as jy moet. Die land sal vir jou wag wanneer jy
terugkom.”
“Michael, ek kom nie weer terug nie. Nie dié keer nie.”
Michael sit sy hand op Paul se arm. “Hoekom pynig jy jouself so?
Hoekom maak jy dinge vir jouself so moeilik?”
Paul se woede ontvlam. “Hoekom wag jy vir ’n prostituut wat nooit gaan
terugkom nie?” Hy loop eerder voor hy nog iets sê wat hy later gaan berou.
Hy het nou geen ander keuse as om na John Altman toe te gaan nie.
John nooi hom in die hut in. Elizabeth is besig om die baba te sus, en
Miriam staan gebukkend oor die vuur en roer ’n bredie. Toe hy haar sien,
begin sy polsslag versnel. Sy kom regop en glimlag vir hom, en hy voel lam
in die knieë.
“Kom sit, Paul,” sê John en tik hom op die rug. “Ons het jou lanklaas
gesien.”
Paul se oë hou aan om in Miriam se rigting te dwaal. Hy verloor die
draad van dit wat John besig is om te sê. Hy kyk hoe Miriam koekiedeeg
uitrol, dit sny en die stukke in die gietysterpan sit.
Eers toe John stilbly, kyk hy weer na hom. Elizabeth glimlag vir hom.
John ook. Hy kan voel hoe sy gesig warm word.
“Ek het jou my grond kom aanbied, John.” Uit die hoek van sy oog sien
hy hoe Miriam regop kom en na hom kyk. ’n Spier spring in sy wang. “Ek
het besluit om terug te gaan berge toe,” sê hy ferm.
John lig sy wenkbroue.
Elizabeth frons. “Dis nogal skielik, Paul?”
“Nee.” Hy kan voel hoe Miriam hom nou woedend aangluur met haar
hande op haar heupe.
“Het jy gedink oor die saak?” vra John. “Jy het baie harde werk in
daardie grond gesit.”
“Ek het daaraan gedink. Ek is seker maar net nie aangelê om ’n boer te
wees nie.” Miriam draai haar rug op hulle en slaan ’n deksel kliphard op die
pan neer. Elizabeth en John wip soos hulle skrik en kyk verras na haar. “Ek
vra nie baie daarvoor nie,” sê Paul en probeer haar ignoreer. Hy sê hoeveel
hy in gedagte het en skok hulle nóg meer.
“Dis baie meer werd as dit,” sê John. Hy vryf sy ken, die aanbod pla
hom. “Waarom doen jy dit?”
Miriam swaai om. “Omdat hy ’n idioot is!”
“Miriam!” sê Elizabeth verstom.
“Ek is jammer, Mamma. Hy’s ’n idioot, ’n stommerik, ’n swaap, ’n
pampoen!” sê sy.
“Dis genoeg!” sê John en staan op, sy gesig word rooi van woede. “Paul
is ’n gas in ons huis!”
Miriam kyk na Paul en haar oë spoeg vuur terwyl die trane oor haar
bleek wange rol. “Ek is jammer, Pappa. Ek het nie my plek geken nie.
Verskoon my.” Sy loop vinnig deur die vertrek, gryp haar tjalie en maak die
deur oop. Sy kyk om na Paul. “Gaan voort. Hardloop weg na jou berge en
jou goudwassery.” Sy klap die deur agter haar toe.
Paul sê nie ’n woord nie. Hy wil agter haar aan gaan en verduidelik,
maar wat kan hy vir haar sê? Dat hy hopeloos op haar verlief is en dat dit
hom gek maak? Dat Michael van Angel sal vergeet en dat sy wys sal wees
om te wag?
John gaan weer sit. “Ek vra om verskoning,” sê hy. “Ek weet nie wat in
haar gevaar het nie.”
“Ek is doodseker sy het dit nie bedoel nie, Paul,” sê Elizabeth.
Dit sal beter wees as sy het. “Wat sê jy, John? Stel jy belang in my
grond, of moet ek by die dorpsmense gaan uitvind of iemand daar
belangstel?” Hoe gouer hy hier wegkom, hoe beter.
John frons en kyk na sy vrou. “Laat ek ’n bietjie daaroor nadink. Ek sal
jou teen die einde van die week laat weet.”
Nog drie dae. Kan hy nog vir drie dae uithou? “Dankie.” Paul staan op.
“Moenie so skaars wees nie,” sê John en sit sy hand op Paul se skouer
toe hulle deur toe stap. “En wat ook al gebeur, jy is altyd welkom by ons.”
Hy loop saam met hom uit. “Wat dit ook al is wat vir Miriam pla, sy sal
daaroor kom.”
Paul sien haar oor die veld stap op pad na Michael se plek. “Ek is seker
sy sal.” Hy glimlag droewig. “Ons praat weer oor ’n paar dae, John.” Hy sit
sy hoed op en begin aanstap huis toe.

“Wat dink jy van dié situasie?” vra John vir Elizabeth toe hy weer in die
huis is.
“John, vandat Amanda weg is, weet ek nie meer wát om te dink nie.”
Hulle wag vir Miriam om huis toe te kom en hoop dat sy hulle
uiteindelik in haar vertroue sal neem soos wat sy nog altyd gedoen het. Dis
ná donker toe sy by die deur inkom. “Ons was bekommerd,” berispe
Elizabeth haar. Hulle het nie gedink sy sal só lank wegbly nie.
“Waar was jy?” vra John streng.
“Ek was na Michael toe. Toe het ek gaan stap. Toe het ek gaan sit. En toe
het ek gebid.” Miriam sak vooroor en begin huil. John en Elizabeth kyk
verras na mekaar. Hulle weet hulle dogter het ’n klein hartjie, maar sy het
nie gewoonlik sulke emosionele uitbarstings nie.
“Wat is dit, my skat?” vra Elizabeth en sit haar arm om haar. “Wat is
fout?” vra sy weer.
“O, Mamma, ek het hom só lief dat dit eintlik seermaak.”
Elizabeth kyk na haar man. “Maar hy is getroud. Jy weet dit mos.”
Miriam spring op, rooi in die gesig. “Paul, Mamma! Nie Michael nie.”
“Paul!” sê Elizabeth, verskriklik verlig. “Maar ons dog die hele tyd ... ”
“Dit was nog áltyd Paul, en ek weet hy het my ook lief. Hy is net te
hardkoppig om dit te erken, selfs aan homself.” Sy kyk na haar pa. “Ek kan
hom nie laat gaan nie, Pappa. As Pappa sy grond koop, sal ek Pappa nooit
kan vergewe nie.”
“As ek dit nie koop nie, sal iemand anders dit koop.” Hy probeer sin
maak uit wat aangaan. “As hy jou liefhet, hoekom sal hy sy grond verkoop
sodat hy kan weggaan?”
“Ek dink dit kan om dieselfde redes wees as waarom Amanda vir
Michael verlaat het.”
“Jy het ons nooit vertel wat sy vir jou gesê het nie,” herinner Elizabeth
haar.
Miriam bloos. “Ek kan nie.” Sy val in die stoel neer en sit haar hande oor
haar gesig. “Ek kan net nie.”
Elizabeth gaan kniel langs haar en probeer haar troos.
“Hoe beplan jy om vir Paul te keer as hy wil gaan?” vra haar pa. “Hy het
reeds sy keuse gemaak, Miriam, en dis nou maar soos dit is.”
Miriam kyk op. “Ek kan hom van plan laat verander.”
John bekyk sy dogter se vasberade gesig en frons. “Wat presies het jy in
gedagte?”
Miriam byt op haar lip en kyk van haar ma na haar pa. “Iets uit die
Bybel.” Sy vee haar trane af en sit regop.
“Watter deel van die Bybel?” vra haar pa kwaai.
“Ek weet dit gaan moeilik wees, Pappa, maar Pappa sal my net moet
vertrou,” sê Miriam.

“Hoe oud is sy, Duke?”


Sy mondhoeke trek spottend. “Jaloers, Angel?”
Sy wil hom doodmaak. “Agt? Nege? Sy kan nie veel ouer as dit wees
nie, anders sal sy nie jou belangstelling prikkel nie.”
Sy gesigsuitdrukking lyk gevaarlik. “Jy moet maar jou nare klein
tongetjie beheer, my skat.” Hy hou ’n stoel vir haar uit. “Sit. Ons het ’n paar
dingetjies om te bespreek.”
Angel het ’n stylvolle pienk rok van satyn en kant aan. Al pas die rok
haar skraal liggaam perfek, háát Angel dit. Sy haat dit dat elke kurwe van
haar lyf aan Duke se vieslike oë blootgestel is.
Hy is besig om die handelsware te bekyk en te besluit hoe om dit die
beste ten toon te stel. “Pienk pas nie meer by jou nie,” sê hy, en dit
verbyster haar dat hulle so eenders kan dink. “Rooi sal beter wees. Of ’n
diep saffierblou. Selfs smaraggroen. Jy sal soos ’n godin lyk in daardie
kleure.” Hy vat aan haar kaal skouer voor hy op sy eie stoel gaan sit.
Sy kyk oor die klein tafeltjie na hom en probeer hard dat haar gesig niks
moet verklap nie.
Hy bekyk haar met ’n stywe glimlag. “Jy het verander, Angel. Jy was
altyd hardkoppig en afsydig. Dit was deel van jou aantrekkingskrag. Maar
nou is jy onverskillig ook. Dis nie baie slim in jou posisie nie.”
“Dalk gee ek glad nie meer om wat met my gebeur nie.”
“Wil jy hê ek moet jou verkeerd bewys? Ek kán, jy weet. Sommer
maklik.” Hy tik sy vingerpunte teen mekaar. Sy staar na sy aristokratiese
hande. Hande sonder eelte, bleek en gemanikuur. Pragtig gevormde hande
wat tot ondenkbare wreedheid in staat is.
Sy onthou Michael se hande. Groot en sterk en beslis gewoond aan harde
werk. Vol eelte en grof. Sy hande het so hard gelyk en was eintlik so sag. Sy
aanraking het haar liggaam genees en haar hart oopgemaak.
Duke se oë trek op dun skrefies. “Waarom glimlag jy so?”
“Omdat niks wat jy aan my doen, eintlik saak maak nie.”
“Het jou Michael dit vir jou vertel? Jy was ongetwyfeld te lank van my
af weg.”
Al daardie walglike nagmerries, die geheime en skuld wat sy moes dra.
Michael het eenkeer gesê sy sal van al haar ou bagasie ontslae moet raak.
Dis wat Duke is: ou bagasie. “O, nee, Duke. Jy het die hele pad saam met
my geloop. Waar ek ook al gegaan het, was jy by.” Sy sien sy selfvoldane
glimlag en gaan voort: “Wat ’n mors van kosbare tyd.”
Sy mond word versteen. “My skat, ek gaan vir jou ’n keuse gee. Jy kan
die meisies bestuur óf een van hulle word.”
“Jy bedoel Sally se skoene vol staan? Wat op aarde het van haar geword?
Ek het haar nooit weer gesien nadat jy my na die boonste deel van die stad
verskuif het nie.”
“Sy is nog steeds in New York en vaar baie goed by die ou
bruinsteenhuis. Sy is nog net so mooi. Te wulps na my smaak, natuurlik.”
“Arme Sally, sy het jou al jare lank lief. Of het jy nooit geweet nie? Ek
glo jy het. Dit kon jou net nie pla nie. Sy is te oud vir jou, nè, Duke? Te veel
van ’n vrou.”
Duke staan uit sy stoel op. Hy pluk haar aan die hare en ruk haar kop
agtertoe. Sy gesig is ’n haarbreedte van hare af. “Wat het van jou geword,
my skat?” vra hy in ’n misleidende sagte stem. “Wat sal dit kos om my
klein Angel terug te bring?”
Haar kopvel brand, en haar hart klop in haar keel. Hy kan haar nek binne
oomblikke breek as hy sou wou. Sy wens eintlik hy wil. Dit sal ten minste
’n einde aan alles bring. Sy donker oë verander toe hy in hare kyk.
Hy frons ’n bietjie en verslap sy greep. “As jy dood is, gaan jy vir my
niks werd wees nie.” Kan hy regtig haar gedagtes só goed lees? Hy los haar
met ’n harde pluk en staan weg. Hy stap oor die lengte van die kamer en
kyk dan versigtig om na haar. “Moet my nie te ver dryf nie, Angel. So erg
soos ek oor jou is, onthou net jy is nie onmisbaar nie.”
Angel dink aan die kind. “Wie is nou in beheer van die sleutels?” Sy vryf
haar rok plat sodat hy nie moet sien hoe vreesbevange sy is of waarom sy
dit vra nie. Hy is verras. Sy verkies dit beslis bo sy sadisme.
“Ek is.” Hy sit sy hand in sy broeksak en trek ’n bos sleutels uit.
“Ek dink ek sal Sally se posisie verkies.” As sy net kan uitvind watter
sleutel op die kind se deur pas, kan sy haar dalk help om uit hierdie hel te
ontvlug.
Duke glimlag en sy oë lag vir haar. Hy gooi die sleutels op die tafel voor
haar. “Die wynkelder, spens, linnekaste en kostuumkamer.” Hy maak sy
kraag oop en trek ’n goue ketting uit. Daar hang ’n sleutel aan. “Dís die
sleutel wat jy soek.”
Hy glimlag steeds, stap nader en sit sy hande swaar op haar skouers. “Dit
lyk my jy moet tog ’n les geleer word,” sê hy vleierig. “Ek gaan jou
vanaand bekendstel. Jy sal ’n blou uitrusting dra en jou pragtige hare laat
loshang. Jy sal ’n sensasie wees. Al my meisies is mooi, maar jy is iets baie
seldsaams en besonders. Elke man in die plek sal jou begeer.”
Angel word kouer en kouer terwyl hy praat. Sy wil van die stoel af
opspring, maar weet selfs al doen sy dit, sal sy niks regkry nie. Dis slimmer
om stil te sit en te wag.
“Jy kan van volgende week af die sleutels beheer, my skat, maar vir
hierdie een ou wekie sal jy sélf na ons klante se behoeftes omsien. Ek het ’n
hele paar in gedagte wat vir my nuttig sal wees.” Hy glimlag. “Ek het jou in
elk geval hopeloos te eksklusief gehou. Dis tyd dat jy ’n bietjie wakker
skrik en sien hoe lekker jy tot nou gelewe het.”
Toe hy wegstaan, kyk sy op in sy gesig en sien hy bedoel elke woord wat
hy sê.

Paul word wakker en sien hoe Miriam in die kole krap en nog hout op sy
vuur sit. Die kombers gly van sy kaal bors af toe hy vervaard regop sit en
haar aanstaar. Hy droom. Hy móét droom. Hy vryf die slaap uit sy oë, kyk
rond en sien haar tjalie oor sy stoel en ’n tas op die tafel.
Sy draai om na hom toe en glimlag. “Goeiemôre. Dis al amper lig.”
Sy bestaan regtig. Paniek oorval hom. “Wat maak jy hier?”
“Ek trek by jou in.” Hy gaap haar aan asof sy heeltemal gek geword het.
Sy kom sit op die kant van sy bed. Hy trek die kombers oor sy kaal bors.
Miriam bekyk vir Paul, en sy kan nie help om te lag vir die absurditeit
van die situasie nie. Dis sy eie skuld. As hy nie so hardkoppig was nie ...
“Dis glád nie snaaks nie,” kners hy deur sy tande.
“Nee, dit is nie,” gee sy toe. “Ek het jou lief, en ek gaan nie toelaat dat jy
berge toe gaan en jou lewe gaan verwoes nie.” Hy lyk so verward dat sy
hom sommer nog liewer kry. Sy hare staan soos ’n klein seuntjie s’n in alle
rigtings. Sy steek haar hand uit om dit plat te kam, maar hy ruk sy kop weg.
Sy oë lyk verwilderd.
“Gaan huis toe, Miriam,” smeek hy desperaat. Hy moet haar hier
wegkry! Het sy enigsins ’n idee wat dit aan hom doen om haar te hoor sê
dat sy hom liefhet? As sy nie nóú gaan nie, dink hy nie hy sal haar kan
weerstaan nie. Maar sy beweeg nie. Sy sit hom net met ’n geduldige
glimlag en dophou. Sy ore suis en hy bulder: “Ek het gesê gaan huis toe!”
“Nee,” sê sy rustig, “en ek gaan ook nie jou klere vir jou aangee nie.”
Sy mond hang oop.
Sy vou haar hande op haar skoot en glimlag vir hom. Die kyk in haar oë
maak hom oraloor warm. Hy kan skaars asemhaal. Dit is gek! “Watter
speletjie speel jy, Miriam Altman? Wat gaan jou pa hiervan sê?”
“Hy weet reeds.”
“O, God,” bid hy hardop en wonder wanneer John met sy haelgeweer by
die deur gaan instorm.
“Pappa het probeer om my van plan te laat verander en uiteindelik moed
opgegee. Anders was ek al vroeër hier.” Haar glimlag is ondeund. “Onthou
jy die boek Rut, Paul? In die Bybel? Onthou jy wat sy gedoen het? Wel,
Boas, hier is ek, by jou voete. Wat gaan jy daaraan doen?” Sy sit haar hand
op sy bobeen en hy spring ’n voet in die lug in.
“Moenie aan my raak nie!” sê hy, en die sweet pêrel op sy voorkop. “Ek
sê jou nou, ek wil jou onmiddellik hier uithê.”
“Nee, jy wil nie.”
“Hoe weet jy wat ek wil hê?” Hy probeer streng klink.
“Ek weet elke keer wat jy na my kyk. Jy begeer my.”
“Moet dit nie doen nie, asseblief,” smeek hy.
“Paul,” sê sy baie liefdevol, “ek het Michael baie lief. Hy is vir my soos
’n ouer broer, maar ek is nie verlief op hom nie en sal ook nooit wees nie.
Ek is verlief op jóú.”
“Jy hoort nie by my nie,” sê hy gefolter.
“Moenie simpel wees nie,” sê sy asof sy met ’n weerspannige kind praat.
“Natúúrlik hoort ek by jou.”
“Miriam ... ”
Sy sit haar hand op sy kaal skouer, en hy trek sy asem skerp in toe sy aan
hom vat.
“Ek wou nog altyd aan jou vat,” sê sy. Haar stem is sag en hees.
“Daardie dag op die land toe jy besig was om te ploeg ... ”
Hy sluk swaar en gryp haar hand vas.
Hulle oë ontmoet. “En ek wou nog altyd hê jy moet aan my raak.”
“Miriam,” sê hy skor, “ek is nie heilig nie.”
“Ek weet dit. Dink jy ék is?” Haar oë blink van die trane. “Dis nie vir my
maklik nie, maar ek is ’n vrou, Paul, nie ’n kind nie. En ek wéét wat ek wil
hê. Ek wil jou hê. As my man. Vir altyd.”
Hy bewe. “Moet dit nie aan my doen nie.” Hy sien hoe ’n traan teen haar
wang afloop en kan homself nie keer nie. Hy steek sy hand uit om dit af te
vee. Sy sit haar hand oor syne en druk dit teen haar wang vas. Maar net vir
’n rukkie. Haar vel is so sag; haar hare soos sy. Sy duim gly af en hy voel
hoe haar hart in haar keel klop. “Miriam, o, Miriam, wat probeer jy aan my
doen?”
“Niks wat jy nie al vir ’n baie lang tyd wil hê nie, erken dit.” Haar arms
gly om sy nek en sy soen hom. Toe sy haar mond van syne oplig, kan hy op
geen manier ophou nie. Hy sit sy hande om haar gesig en soen haar – eers
liggies en toe met al die opgekropte liefde wat hy al vir soveel maande voel.
Hy soen haar soos die uitgehongerde man wat hy is. Haar oorgawe aan
hom laat sy sinne duisel. Sy is ferm en glad en warm, en sy proe hemels.
“Ek is lief vir jou,” fluister hy, amper te bang om die woorde hardop uit te
spreek. “Ek wou absoluut gek word. Ek kon dit nie verduur nie. Ek móés
net van jou af wegkom.”
“Ek weet,” sê sy bewend met haar hande in sy hare. Sy begin huil. “Ek
het jou so lief. O, Paul, só lief ... ”
Hy trek terug en kyk af na haar gesig en sien die blos op haar wange. Hy
sien hoe vol liefde haar oë is, en sy hart wil uit sy nate bars. Sy is syne. Sy
behoort aan hom! Hy kan dit amper nie glo nie.
Sy sien die gloeiende blik in sy oë en steek haar hand uit om aan sy
wang te raak. Haar gesig is sag van teerheid. “Ek wil hê ons moet reg begin.
Trou éérs met my, Paul. Word my man. Ek wil alles met jou deel sonder
enige skadu’s wat oor ons hang. Sonder enige berou. As jy nou met my
liefde maak, sal jy môre skaam wees. Jy weet jy sal. Jy sal nie my pa en ma
in die oë kan kyk nie. Jy sal voel jy het my uitgebuit.” Sy glimlag bewerig.
“Al is dit net mooi andersom.”
“Ek het gedink ek kan van jou af wegvlug,” sê hy en weet hy sou haar
vir die res van sy lewe met hom saamgedra het; ’n foltering waarvan hy
nooit sou kon ontsnap nie. “Ek neem aan ons sal Sacramento toe moet ry en
gaan kyk of ons ’n predikant in die hande kan kry.”
“Nee, ons hoef nie.”
Hy kyk verras na haar.
Sy bloos en glimlag skaam, meer soos die Miriam wat hy ken en nie die
vrypostige jong vrou wat in die nag in sy huis ingesluip het nie.
“Pappa het gesê hy sal ons self trou. Hy was besig om deur die trommel
te soek toe ek daar weg is. Op soek na sy gebedeboek. Ek dink hy was
nogal haastig.”
Hy kan homself nie keer nie en soen haar weer. “Ek het geen kans teen
jou gehad nie, nie waar nie?” sê hy en lag sag.
“Nee, jy het nie.” Sy glimlag tevrede. “Michael het die hele tyd gesê jy
sal nog bykom. Ek het net só moeg geraak om te wag.”

Van waar sy aan die linkerkant van die verhoog agter die gordyn staan, kan
Angel die mans hoor wat die casino vul. Die plek is ’n sirkus, en Duke gaan
haar die middelpunt van belangstelling maak.
Hy het reeds vir hulle ’n vertoning van dansende meisies, oëverblinders
en akrobate aangebied. Angel kan nie eens dink waar hy aan hierdie mense
kom nie, maar Duke het sy maniere om dinge te doen. Miskien het hy sy
hand gewaai en hulle uit die vuur en rook opgetower.
Sy trap rusteloos rond, en die hand onder haar arm verstewig. Vandat
Duke haar na haar kamer geneem het, was sy nog nie sonder ’n wag nie.
Daar is geen wegkomkans nie, en sy voel naar van vrees.
Angel maak haar oë toe en baklei teen die naarheid. Miskien moet sy nie.
Miskien moet sy in die middel van die verhoog gaan staan en opgooi. Dít
sal die feestelikheid demp wat Duke onder die skare aanhits. Sy bars amper
uit van die lag, maar sy weet as sy begin lag, gaan sy histeries word.
Sy kan hoor hoe hy sy gehoor opsweep. Hy het ’n redenaarstem. Dit het
hom baie gehelp in die politiek – en ook daarna toe hy besluit het dis meer
betalend om agter die skerms te werk. Hy moedig die wagtende mans aan.
Sy kan amper hul wellus ruik. Oor ’n paar minute sal sy dit sien. Honderde
pare oë wat haar aanstaar, haar klere uittrek en in hul verbeelding enigiets
met haar doen. En Duke sal sorg dat hulle verbeeldingsvlugte waar word.
Teen ’n prys. Enigiets teen die regte prys.
“Vir een ou klein wekie sal jy na hulle omsien.”
Angel maak haar oë toe. God, as U daar is, laat my doodgaan!
Asseblief! Stuur ’n weerligstraal en vee my van die aarde af. Stuur my die
vergetelheid in. Stuur vuur. Verander my in ’n soutpilaar. Op enige manier
wat U goeddink. Doen dit net. Asseblief, God, help my. Help my!
“Stadig nou, juffrou,” sê die man en glimlag koud vir haar.
O, God. O, Jesus, help my, asseblief.
“Hy het hulle amper gereed vir jou.”
Toe, net toe sy dink haar hart gaan staan van die vrees, hoor sy dit.
Sarah, geliefde.
Dis dieselfde sagte stem wat sy in Michael se hut gehoor het. Die een
wat sy in die droom gehoor het.
Wees kalm, want Ek is hier.
Sy kyk rond, maar dis net haar wag en die kunstenaars wat daar is. Haar
hart klop wild en sy kry hoendervleis net soos daardie vreemde nag in die
hut.
“Waar? Waar?” fluister sy paniekbevange.
Die wag kyk vraend na haar. “Wat is fout?”
“Het jy iemand hoor praat?”
“Met al daardie geraas daar binne?” lag hy.
Sy bewe verskriklik. “Is jy seker?”
Hy vat haar arm stywer vas en gee haar ’n harde pluk. “Jy beter jou
regruk. Om te maak of jy mal is, gaan jou niks help nie. Duke is byna
gereed vir jou om uit te kom. Luister na daardie mans. Hulle klink soos
honger leeus, nie waar nie?”
Angel wil vasskop, maar wat sal dit haar help? Sy maak weer haar oë
styf toe en probeer vergeet van die rumoerige skare wat voor die verhoog
sit. Sy probeer konsentreer op die skrikwekkende, stil stem in haar kop wat
haar op ’n naam genoem het wat sy nog net een keer in ’n droom gehoor het
ná haar ma se dood.
Wat wil U hê moet ek doen? Sê vir my. O, God, sê vir my.
My wil.
Wanhoop vul haar. Sy weet nie wat dit is nie.
“Daar is jou teken,” sê haar wag. “Gaan jy alleen opstap?”
Selfs al kon sy wegkom, waarheen sal sy gaan? Sy maak haar oë oop en
skielik hou sy op bewe. Sy weet nie hoekom nie, maar sy voel kalm.
Bonatuurlik kalm. Sy gee die wag ’n baasspelerige kyk. “As jy my arm
los,” sê sy. Hy knip sy oë verbaas en los haar arm. Sy stap vorentoe, en hy
hou die gordyn oop sodat sy kan uitstap.
Die oomblik toe sy verskyn, raak die plek mal. Mans gee wolwefluite en
maak geluide. Sy hou haar kop regop, kyk reguit voor haar en stap na die
middel van die verhoog waar Duke met ’n bose en genotvolle glimlag vir
haar wag. Hy leun oor na haar met sy mond na genoeg aan haar oor sodat sy
hom bo die geraas kan hoor. “Voel jy die mag, Angel? Jy kan dit met my
deel. Ons kan hulle op hul knieë dwing!” Toe los hy haar alleen in die
middel van die verhoog.
Die geraas is oorverdowend. Is hulle almal mal? Sy wil weghardloop en
gaan wegkruip. Sy wil doodgaan.
Kyk na hulle.
Sy dwing haarself om haar ou arrogansie en minagting te wys soos haar
blik oor die vol vertrek gly.
Kyk hulle in die oë, Sarah.
Sy doen dit. Eers die mans naaste aan die verhoog en toe verder. Hulle is
jonk. Daar is ’n leë, spookagtige uitdrukking in hul oë. Sy herken dit.
Ontnugtering en stukkende drome, uitdaging. Het sy nie dieselfde
eensaamheid en wanhoop gevoel wat sy nou oral om haar sien nie? Sy kyk
na die mans wat naby die dobbeltafels staan en na haar opkyk. Sy kyk na
die mans wat by die kroegtoonbank van mahoniehout staan met glase
whiskey in die hand. Verbeel sy haar of bedaar die geraas effens?
“Sing vir ons iets!” skree ’n man van agter. Ander moedig haar ook
luidrugtig aan. Sy kan aan niks anders dink as een liedjie, heeltemal
onvanpas en glad nie geskik vir ’n plek soos dié nie. “Sing, Angel!” Die
geraas begin weer soos ’n golf, en die klavierspeler begin ’n walglike
deuntjie speel wat al die mans herken. Party begin kliphard saamsing en lag
hard.
Sing, geliefde.
Sy maak haar oë toe om die mans uit te sluit en begin sing. Sy sing nie
die liedjie wat gespeel word nie, maar ’n ander een. ’n Liedjie van lank
gelede. Terwyl sy sing, staan sy weer by die put saam met Michael en
Miriam wat oor die kant leun en in die put af sing. Die harmonie en musiek
styg op en vou om haar. Sy verbeel haar Michael en Miriam staan
weerskante van haar. Sy kan byna Miriam se warm lag hoor. “Harder,
Amanda. Waarvoor is jy bang? Jy kan sing. Natuurlik kan jy sing.”
En toe weergalm Michael se stem: “Harder, Tirsa, sing asof jy dit glo.”
Maar ek glo nie. Ek is bang om te glo. Sy hou skielik op sing en maak
haar oë oop. Haar kop is meteens dolleeg. Die lied se woorde is weg. Dit
het verdwyn.
Die plek is doodstil. Al die mans se oë is op haar gerig waar sy alleen op
die leë verhoog staan. Sy kan voel hoe die trane agter haar ooglede brand.
O, God laat my glo!
Iemand begin vir haar sing en gaan aan met die woorde waar sy opgehou
het. Sy stem is ryk en diep, dit klink so baie soos Michael s’n dat haar hart
bokspring. Sy soek deur die skare na hom en sien hom naby die
kroegtoonbank; ’n lang gryskopman in ’n donker pak.
So vinnig soos wat dit verdwyn het, kom die woorde terug na haar en sy
sing saam met hom. Hy stap stadig deur die skare wat voor hom padgee. Hy
kom tot stilstand onder die verhoog en kyk glimlaggend op na haar. Sy
glimlag terug. Sy kyk weer na die mans. Almal is nou stil en verstom. Party
kan haar nie in die oë kyk nie van skaamte.
“Waarom is julle hier?” roep sy uit. Die trane lê so vlak sy is bang sy
gaan daarin stik. “Waarom is julle nie by die huis by jul vroue en kinders, of
jul ma’s en susters nie? Besef julle nie watter plek hierdie is nie? Weet julle
nie waar julle is nie?”
Die gordyne gaan oop agter haar en die dansers kom vinnig uit. Die
klavierspeler begin weer speel en die jong vroue begin kliphard om haar
sing en skop hul kaal bene hoog in die lug. Party van die mans begin hulle
aanmoedig en klap hande. Ander staan net daar. Stil en skaam.
Angel loop stadig van die verhoog af. Sy sien hoe Duke op haar wag. Hy
het ’n uitdrukking in sy oë wat sy nog nooit vantevore gesien het nie. Die
sweet tap van sy voorkop af, en sy gesig is spierwit van woede. Hy gryp
haar arm hardhandig en pluk haar in die skadu’s in. “Wat het jou so ’n
onnosele ding laat doen?”
“Ek dink dit was God,” sê sy verbaas. Iets juig binne haar – en sy voel
die teenwoordigheid van ’n mag so geweldig dat sy sidder. Sy kyk op na
Duke en is nie meer bang vir hom nie.
“God?” Hy spoeg die woord uit. Sy oë blits. “Ek gaan jou doodmaak.
Ek moes jou lankal vermoor het.”
“Jy is bang, nie waar nie? Ek kan dit ruik. Jy is bang vir iets wat jy nie
eens kan sien nie. En weet jy hoekom? Omdat dit wat Michael het baie
magtiger is wat jy ooit was of sal wees.”
Hy tel sy hand op om haar te slaan, maar ’n man praat sag agter hom.
“Raak aan daardie jong vrou, en ek sal sorg dat jy hang.”
Duke swaai om. Die man wat saam met haar gesing het, staan ’n entjie
weg. Hy is ’n bietjie korter as Duke en heelwat maerder, maar daar is iets
omtrent hom wat krag en outoriteit uitstraal. Sy kyk op na Duke om te sien
of hy dit ook kan aanvoel en sien hy kan beslis. Haar hart begin woes klop.
“Is jy gereed om te gaan, juffrou?” vra die vreemdeling.
“Ja,” sê sy. “Ja, ek is.” Sy vra nie waarheen hy gaan of wat sy plan is nie.
Dis genoeg dat sy ’n wegkomkans het en sy gryp dit aan. Sy verwag dat
Duke die man sal dreig oor sy inmenging, maar hy staan botstil en bleek,
met sy kake styf opmekaar gepers. Wie ís hierdie man?
Sy sal later uitvind. Sy begin na hom toe loop, maar gaan staan dan. Sy
kan nog nie gaan nie. Sy draai na Duke toe. “Gee vir my die sleutel, Duke.”
Die twee mans kyk na haar; die een vraend, die ander een woedend. En nog
iets. Vreesbevange. “Die sleutel,” sê sy weer en hou haar hand uit.
Toe Duke dit nie vir haar gee nie, pluk sy sy hemp oop en ruk die ketting
van sy nek af. Hy kyk haar geskok aan. Die sweet stroom teen sy slape af.
Sy kyk hom vas in die oë. “Jy kan haar nie kry nie.” Sy hou die sleutel in
haar regtervuis reg onder sy neus. “Brand in die hel, Duke.” Sy kyk na die
man wat doodstil die situasie staan en dophou. “Wag asseblief vir my.”
“Ek gaan nêrens sonder jou nie, juffrou,” sê hy doodrustig.
Sy gaan vinnig na die kamer langs hare en sluit dit oop. Die kind wat op
die bed lê, skrik onmiddellik wakker en sit regop. Haar blou ogies is groot
van angs. Sy skram weg. Haar pienk rokkie is om haar knieë saamgekoek.
Sy het ligblonde hare wat met pienk satynlinte vasgemaak is.
Angel byt op haar lip. Dis asof sy in ’n spieël kyk en haarself tien jaar
gelede sien. Maar sy kan nie net daar staan en in haar pyn verdrink nie. Sy
moet die kind hier wegkry. Nóú. Sy gaan vinnig vorentoe. “Dis alles reg,
my skat. Ek is Angel, en jy gaan saam met my.” Sy hou haar hand uit.
“Kom nou.” Sy leun vooroor en vat die kind se hand. “Ons het nie baie tyd
nie.”
Toe hulle in die gang uitstap, sien Angel vir Cherry ’n ent weg staan.
Haar mond is oop van verbasing, en Angel kan die hoop in haar oë sien.
“Kom saam met ons,” sê Angel. “Jy hoef nie hier te bly nie, maar dan moet
jy nou kom.”
“Duke ... ”
“Kom nóú, of jy gaan die res van jou lewe in ’n plek soos dié deurbring.
Of selfs iets ergers.”
“Laat ek gou my goed kry ... ”
“Vergeet dit. Los dit. Moenie eens terugkyk nie.” Sy hardloop in die
gang af. Cherry staan vir ’n oomblik besluiteloos en hardloop dan agter haar
aan. Hulle gaan saam by die trap af, en die vreemdeling wag onder vir
hulle. Duke is nêrens te sien nie. Die man kyk na die twee kinders by haar,
en sy gesig vertrek van woede.
“Ek gaan nie sonder hulle nie,” sê sy.
“Natuurlik nie.”
Sy knik in die rigting van die verhoogdeur. “Ons kan daar uitgaan.”
“Nee.” Sy oë is genadeloos. “Ons gaan oor die verhoog en by die
voordeur uit.”
“Wát?” vra Angel. Is hy mal? “Ons kan nie!”
“Ons gaan. Kom, laat ons wegkom.” Hy is briesend. “Ons gaan die
mense presies wys watter duiwel hierdie man is.” Die meisietjie begin huil
en klou aan Angel se blou satynromp vas. Cherry bly ook naby haar. “Kom,
laat ek die kind dra,” sê die man, maar toe hy naderkom, kruip die kind
beangs agter haar weg.
“Sy sal nie dat jy aan haar vat nie,” sê Angel. Sy buk af en gee die kind
’n drukkie. “Hou styf vas, my skat. Ek gaan jou dra.” Sy kyk op na die
vreemdeling en sê beslis. “Ons sal nie dat enigiemand jou seermaak nie.
Duke gaan ons nie keer nie.” Die meisietjie sit haar bene om Angel se
middel toe Angel regop staan. Haar dun armpies klou om Angel se nek en
sy pleit by die man. “’n Ander pad sal veiliger wees.”
“Hierdie is die beste pad.” Hy hou die gordyn oop.
“Daar is dosyne mans wat ons sal keer.”
“Daar is nie ’n man in hierdie plek wat aan my sal raak nie.”
“Wie dink jy is jy? God?”
“Nee, juffrou. Net Jonathan Axle. Maar ek besit een van die grootste
banke in San Francisco. Kan ons nou gaan?”
Hy gee haar nie eintlik ’n keuse nie. Angel hou die bewende kind stywer
vas. “Maak jou oë toe, liefie. Ons sal jou hier uitkry.” Of sterf terwyl ons
probeer.
Cherry bly naby haar toe Jonathan Axle hulle op die verhoog uitlei. Die
musiek hou rukkerig op, en die dansende meisies kom verbaas tot halt.
Angel kyk om haar rond en sien die geskokte uitdrukkings op die mans se
gesigte. Duke is nêrens te sien nie. Haar wag ook nie.
“Kom ons gaan,” sê Axle kalm. Sy hand is ferm maar sag onder haar
arm. Sy klim by die trappe af tot in die middel van die vertrek. Die mans
maak ’n pad voor haar oop.
Baie van die klante staar na Cherry wat soos ’n losbandige vrou
aangetrek en gegrimeer is, al is dit baie duidelik dat sy maar net ’n kind is.
Die mans staan terug sodat sy kan verbystap. Dit voel asof die kind se
gekerm die hele vertrek vul.
Die mans begin praat in lae, geskokte stemme. Angel hoor van die
opmerkings soos sy verbystap. “Waarvoor sal hy ’n kleintjie soos sý in ’n
plek soos dié hê?”
Angel gaan staan en kyk na hom. “Waarvoor dink jy?” sê sy sag en
weemoedig. Die man se mond val geskok oop toe hy besef waarop sy
sinspeel.
Die stemme raak al harder agter haar, en sy kan die geweld daarin hoor.
Die mans wil bloed sien, maar nie háár bloed nie. Sy gaan in die naglug uit
en blaas haar asem uit. Sy het nie eens geweet dat sy haar asem opgehou het
nie.
“Dié kant toe,” sê Axle. “Ek is jammer, maar ek het nie ’n voertuig nie.
Dit is ’n paar blokke ver. Sal jy oukei wees?”
Angel knik en verskuif die kind se gewig. Sy volg hom ’n hele ruk in
stilte voor sy vra: “Waarheen vat jy ons?”
“Na my huis toe.”
Haar oë vernou. “Waarvoor?”
“Sodat my vrou en dogter julle kan versorg terwyl ek dink aan wat aan
daardie plek gedoen kan word. Dit behoort afgebrand te word en daardie
duiwel daarmee saam.”
Sy voel jammer omdat sy hom wantrou het, maar sy weet niks van die
man af behalwe dat hy simpatie met hulle het nie. Net omdat hy ’n bankier
is, beteken nie hy het noodwendig goeie bedoelings nie. Sy het al voorheen
bankiers geken.
Die kind raak met elke tree al hoe swaarder. Haar spiere pyn, maar sy
hou aan loop. Cherry kyk kort-kort benoud om. “Dink jy hy sal ons kom
soek?”
“Nee,” verseker Angel haar en praat met Axle. “Hoekom het jy my
gehelp? Ek is tog ’n vreemdeling vir jou.”
“Oor die liedjie, wat jy gesing het. Die Here kon dit nie vir my
duideliker gemaak het dat ek jou daar moet wegkry nie.”
Sy kyk verbaas na hom. Vir ’n tydjie sê sy niks, maar sy kan nie ophou
om daaraan te dink nie. “Meneer Axle, ek moet eerlik met jou wees.”
“Oor wat?”
“Ek glo nie in God nie.” Sy voel ’n vreeslike pyn toe sy dit sê.
Is jy seker?
Die vraag kom diep uit haar binneste, en sy frons. Sy het tot God geroep
in haar angs, en hier is sy nou. En dan is daar daardie stem ... Was dit haar
verbeelding? Axle se volgende woorde weergalm haar verwarring.
“Nie? Jy het baie oortuigend geklink daarbinne.”
“Ek was verskriklik bang, en dit was die enigste lied wat ek kon onthou.”
Hy glimlag. “Dit moet tog iets beteken.”
“Ek glo nie in die een of ander klein, verrimpelde ou man met ’n lang,
wit baard wat op sy troon sit en oor my uitkyk nie.”
Hy lag. “Ek ook nie. Ek glo in Iemand véél groter as dit. En laat ek jou
nog iets vertel.” Sy glimlag is sag. “Net omdat jy nie in die Here glo nie,
beteken nie dat sy mag nie vir jou werk nie.”
Sy knip haar oë. Haar keel trek toe, en sy voel skaam. Sy het alles
moontlik probeer om van Duke af weg te kom en kon dit nooit regkry nie.
En nou, vanaand, het een eenvoudige lied wat Michael haar geleer het dit
reggekry. Hoe? Dit maak glad nie sin nie. Daardie stem het gesê: “Mý wil”,
maar al wat sy eintlik gedoen het, was die enigste ding waaraan sy kon
dink. En hierdie man het uit die bloute te voorskyn gekom.
Woorde wat Michael gelees het, spoel terug na haar. “Selfs al gaan ek
deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my.”
Duke was bang vir haar. Sy is oortuig daarvan.
Nie vir jou nie, Sarah. Vir My.
Die hoendervleis slaan op haar ligte vel uit toe haar hart wyd oopgaan.
O, God, ek het U soveel keer ontken. Hoe kan U my nou red?
Hoewel jy My ontken, het Ek jou vir ewig lief.
Wat het vanaand gebeur? Ek weet self nie. Hoe het ons weggekom? O,
Jesus, ek verstaan nie. Ek verstaan nie hoe U dit gedoen het nie.
Dit begin saggies reën en die swaar seemis vou om hulle. Cherry stap al
hoe nader aan Angel. “Ek kry koud,” fluister sy.
“Is dit nog baie ver, meneer Axle?” Haar stem bewe, maar nie van die
koue nie.
“Net teen die bult uit.”
Sy sien ’n groot huis bo hulle verskyn. Hy is beslis ryk. Dit reën nou
hard, en die vooruitsig van ’n skuilplek dryf haar voort. Daar brand lanterns
in die vensters. Sy dink sy sien ’n vrou deur ’n gordyn kyk. Jonathan Axle
maak die hek oop. Die deur gaan oop, en ’n lang, skraal vrou met haar hare
styf vasgebind staan voor hulle. Angel kan nie die vrou se gesig uitmaak
nie, maar haar hart is swaar. Wat gaan hierdie dame daarvan dink dat haar
man met drie prostitute by die huis aankom, al is twee van hulle bitter jonk?
“Kom in voor julle doodgaan van die koue,” beveel die vrou. Sy is
duidelik vies. Angel gaan staan doodstil, onseker wat om te doen. “Kom in,
kom in,” sê die vrou en wink haar nader.
Jonathan sit sy hand onder Angel se arm. “Moenie vir haar bang wees
nie,” sê hy geamuseerd. “Haar blaf is erger as haar byt.”
Angel staal haarself toe sy vorentoe in die paadjie opstap. Miskien sal
die dame hulle laat droog word voor sy hulle wegjaag.
Sy stap by die deur in met Cherry reg agter haar en kyk vinnig rond voor
sy na die vrou kyk, wat verbasend jonk en aantreklik is ten spyte van die
outydse bolla en stemmige rok. “Daar is ’n lekker vuur daarbinne,” sê sy en
lei hulle na ’n groot vertrek met eenvoudige maar gerieflike meubels. “Sit,
asseblief.”
Angel kan nie wag nie. Sy kyk op na die jong vrou en sien sy kyk na
haar met openlike nuuskierigheid. Sy kyk hulle almal goed deur. “Alles is
reg,” fluister Angel in die bewende kind se oor en vryf haar hare
vertroostend. Maar is dit?
Die kind ontspan in haar arms en sit regop genoeg om rond te kyk.
Cherry sit langs haar op die bank, regop en haar gesig wasbleek en baie
benoud. Die jong vrou kyk na Jonathan Axle vir ’n verduideliking. As sy
geskok is oor wat hulle onmiskenbaar is, wys sy dit nie. “Pappa, wat gaan
aan?”
“My dogter, Susanna,” sê Jonathan Axle. Die jong vrou knik verward
met ’n halwe glimlag. “Ek is bevrees ek ken nie jul name nie,” vra hy om
verskoning.
“My naam is Angel. Dit is Cherry, en ... ” Sy bly stil toe sy skielik besef
sy weet nie eens wat die kleintjie se naam is nie. “Liefie,” sê sy sag en lig
die kleintjie se ken op. “Wat is jou naam?” Die kind se bolippie bewe en sy
fluister iets voor sy weer haar kop teen Angel se skouer vasdruk. “Faith,” sê
Angel. “Haar naam is Faith.”
“’n Paar komberse sal lekker wees, Susanna. Kan jy vir ons ’n paar gaan
haal terwyl ek na jou ma gaan soek?”
“Mamma is in die kombuis besig om Pappa se aandete warm te maak,”
sê sy met ’n glimlag en stap vinnig by die deur uit.
“Verskoon my vir ’n rukkie,” sê Jonathan en los hulle alleen.
Cherry se skouers hang, en sy begin huil die oomblik toe hy by die deur
uit is. “Ek is bang. Duke gaan my doodmaak.”
“Duke gaan nooit weer aan jou raak nie.” Angel vat haar hand. “Ons is
almal bang,” sê sy sag, “maar ek dink ons kan hierdie mense vertrou.”
Hulle moet net. Hulle het geen ander keuse nie.
Jonathan kom terug met ’n kleingeboude vroutjie met helderblou oë.
Haar naam is Priscilla. Angel kan die ooreenkoms tussen ma en dogter sien.
Priscilla neem vinnig beheer. “Ons moet heel eerste julle meisies uit daardie
nat klere kry,” sê sy en vat hulle boontoe. “Dan moet julle afkom kombuis
toe om iets saam met my en Jonathan te kom eet.”
Sy maak ’n deur regs in die gang oop en wys vir hulle ’n groot kamer.
“Julle twee jonger meisies kan hierdie kamer deel,” sê sy. “En Angel kan by
Susanna in die kamer slaap. Dis net oorkant die gang.”
Angel wonder wat Susanna daarvan sal sê.
Priscilla bring vir hulle droë klere, en Angel is selfs meer verbaas. Het sy
kaste vol klere van alle groottes, of het sy ander dogters wat hulle nog nie
gesien het nie? Die rokke is stemmig, van funksionele wol en gemaklik.
Angel vou die rokke wat sy, Cherry en Faith aangehad het op en sit dit in ’n
emmer naby die kaggel. Susanna vat hulle af kombuis toe waar Priscilla vir
hulle dik beesvleis-en-groentesop met brood gee. Jonathan eet saam met
hulle. Angel wys die warm koffie van die hand sodat sy eerder ’n glas vars
melk kan drink. Dit is duidelik dat Faith baie vaak is. Die oogskadu sit
gesmeer onder Cherry se oë. Sy is nog bleek, maar nie meer so verskrik nie.
Priscilla sit haar hande sag op Cherry se skouers en druk haar wang teen
die meisie se sagte wang. “Kom, my kind. Jy is gereed vir die bed.” Sy hou
haar hand na Faith uit en snaaks genoeg vat die meisie dit. Angel voel hoe
’n groot las van haar skouers afval.
Susanna dek die tafel af. “Hoekom gaan sit julle nie solank in die
sitkamer nie, Pappa? Moet net nie enigiets belangriks bespreek voordat ek
daar is nie.”
“Reg, my skat,” sê Jonathan kamma onderdanig. Hy knipoog vir Angel
toe hy opstaan. “Ons moet maar maak soos sy sê.”
Angel gaan sit naby die kaggelvuur. Sy is gespanne en bekommerd. Wat
gaan môre van hulle word? Jonathan stap na ’n klein tafeltjie in die hoek.
Sy sien hoe hy ’n drankie skink. Hy kyk vinnig om na haar. “Wil jy ’n glas
appelwyn hê?”
“Nee, dankie.”
Hy glimlag en sit die kraffie neer. Hy gaan sit op ’n gemaklike stoel
oorkant haar. “Julle is veilig hier.”
“Ek weet, maar vir hoe lank?” sê sy en is self verbaas oor haar
openhartigheid.
“Niemand gaan julle op straat uitsit nie, Angel. Julle kan by ons bly so
lank as wat julle wil.”
Haar mond gaan oop. Haar oë brand, en sy byt op haar lip, maar sy kan
niks uitkry nie. Hy glimlag. “Julle is baie welkom,” sê hy. Sy lê met haar
kop terug teen die rugleuning en probeer haar emosies onder beheer kry.
“Ek wonder wat hy gaan doen,” sê-vra sy eintlik vir haarself.
Jonathan het nie nodig om te vra waarvan sy praat nie. “As hy nog in
daardie gebou was nadat ons daar uit is, sal hy teen hierdie tyd aan ’n paal
hang. Ek dink ongelukkig nie hy is só dom nie.”
“Nee, Duke is allesbehalwe dom.” Sy sug diep. “Jy is baie goed vir ons.
Dankie.”
“‘Want toe Ek honger was, het julle vir My kos gegee; toe Ek dors was,
het julle vir My iets gegee om te drink; toe Ek ’n hawelose vreemdeling
was, het julle My in julle huise ontvang; toe Ek niks gehad het om aan te
trek nie, het julle My klere gegee; toe Ek siek was, het julle na My
omgesien; toe Ek in die tronk was, het julle My opgesoek,’” haal hy aan.
“Ken jy dit?”
Michael het daardie woorde eenkeer vir haar gelees net nadat hy die
Altmans genooi het om by hulle te kom oorwinter en sy wou weet waarom
hy dit gedoen het. Haar herinneringe aan hom is so helder, sy kan nie praat
nie.
Jonathan Axle kan verskriklike lyding in die jong vrou se oë sien en sal
enigiets doen om dit te verlig. Sy lyk absoluut onbewus van die omvang
van haar heldhaftige optrede; die moed wat dit gekos het. “Julle is welkom
om dit wat ons het, met ons te deel.” Uiteindelik behoort niks regtig aan
hom nie. Hy is maar net die rentmeester.
Hulle praat tot laat in die nag. Sy vertel vir hom meer as wat sy nog ooit
vir enige ander mens vertel het, selfs vir Michael. Miskien is dit omdat
Jonathan Axle nog net ’n goedhartige wildvreemdeling is dat sy so
gemaklik voel om met hom te praat. Op ’n manier voel hy glad nie soos ’n
vreemdeling nie.
Angel lê weer moeg met haar kop terug teen die leuning. “Meneer Axle,
waarheen gaan ek volgende?”
“Dit hang van jou af.” Jonathan glimlag. “En die Here.”
Priscilla word wakker toe Jonathan by die kamer inkom. Hy trek uit,
klim onder die kombers in en trek haar nader. Haar liggaam is warm en sag,
en sy sit haar hand op sy bors.
“Jonathan, ek moet regtig net vra. Wat het jy in so ’n plek gesoek?”
Hy lag sag en soen haar op die voorkop. “Ek weet regtig nie, my lief.”
“Maar jy drink of dobbel nie,” sê sy. “Wat het jou besiel?”
“Dit was ’n snaakse dag, Priss. Iets het van die middag af aan my
gevreet. Ek kon net nie agterkom wat dit is nie.”
“Is alles in orde by die bank?”
“Dinge is heeltemal in orde. Ek het net ’n behoefte gevoel om te gaan
stap. Dis hoekom ek laat weet het dat ek gaan laat wees. Ek het by daardie
plek verbygestap en gehoor hoe daardie duiwel ’n toespraak maak. Die plek
het krioel van die mense, so ek het besluit om te gaan hoor wat hy te sê
het.”
“Maar hoekom? Jy verafsku hom.”
“Ek weet nie hoekom nie. Ek het ’n gevoel gekry dat ek moet. Hy was
besig om Angel bekend te stel. Dit was obseen. Dit was nie eintlik wát hy
gesê het nie. Dit was die manier; die insinuasie. Ek kan dit nie beskryf nie.
Ek het gevoel of ek in ’n heidense tempel staan en hy die priester was wat
’n nuwe tempelprostituut bekendstel.”
“Hoekom het jy nie geloop nie?”
“Ek het die oorweeg, maar elke keer dat ek wou, het iets vir my gesê ek
moet bly. Toe kom Angel op die verhoog uit.”
“Sy is beeldskoon,” sê Priscilla sag.
“Dis nie haar skoonheid wat my getref het nie, my lief. Sy was só jonk,
en sy het met soveel waardigheid op daardie verhoog gestap. Jy kan jou dit
nie voorstel nie, Priss. Daardie mans was soos honde direk uit die hel wat
vir haar geblaf het. En toe sing sy. Eers so sag dat niemand haar kon hoor
nie. Die geraas het toe bedaar tot die hele plek doodstil was behalwe vir
haar stem.”
Hy voel hoe sy keel toetrek en die trane agter sy ooglede brand. “Sy het
‘Rock of Ages’ gesing.”
Twee en dertig

God werk op wonderbaarlike maniere


om sy wonderwerke te verrig.
William Cowper

Paul is doodstil tydens aandete. Hy het skaars aan sy bredie geraak, en sy


koppie koffie is besig om yskoud te word. Sy hoef nie eens te vra wat fout
is nie. “Jy was by Michael.”
“Ja,” sê hy ingedagte. Hy stoot sy bord weg, en ’n diep frons verdonker
sy gesig. “Ek verstaan hom nie meer nie. Ek verstaan hom glád nie.”
Miriam hoop dat hy meer sal sê, dat hy hierdie keer sal verduidelik. Hy
is kwaad en gefrustreerd, maar daar is iets diepers wat aan hom kou. Iets
onsigbaars; iets verlammends. ’n Kanker van die gees.
Paul praat deur saamgeperste kake. “Wanneer gaan hy moed opgee? Dit
maak my gek om hom op sy knieë te sien oor daardie vrou.” Hy blaas sy
asem hard uit. “Miriam, dit voel of ek hom te lyf kan gaan.” Hy klem sy
hand in ’n vuis. “Ek wou hom skud. Hy was besig om te bid toe ek daar
aankom. Op sy knieë in die skuur, besig om vir háár te bid.”
Sy kan nie sy verbittering verstaan nie. “Maar waarom sal hy dit nie
doen nie, Paul? Sy is sy vrou, en hy het haar steeds lief.”
Sy gesig is kliphard. “Sy vrou? Kan jy nie sien wat sy aan hom gedoen
het nie?”
“Sy het vir my gesê sy gaan weg omdat sy glo dis die beste vir hom.”
Hy stoot sy stoel skielik agteruit. “Glo jy dit? Jy het haar nooit geken
nie. Nie regtig nie. Sy is so koud soos staal, Miriam. Sy was ’n prostituut
van Pair-a-Dice. Sy het nooit enige gevoelens vir Michael gehad nie,
behalwe gevoelens van gerief. Nie in die begin nie, en nie aan die einde nie.
Sy het nie ’n hart nie. Jy kan tog nie so dwaas wees om iets anders te glo
nie!”
Miriam se oë vul met trane. Sy het al baie haar pa sien kwaad word,
maar hy het dit nooit uitgehaal op die mense wat hom liefhet nie. Sy kan nie
stilbly nie. “Jý is die een wat haar nooit geken het nie, Paul. Jy het nooit
eens probeer nie ... ”
“Moet haar nie verdedig voor my nie! Ek hét haar geken,” sê hy kwaad.
“Ek het haar baie béter geken as jy en Michael. Julle kon albei net sien wat
sy wou hê julle moet sien. Ek kon sien wat sy régtig is.”
Miriam lig haar kop op. Sy gaan nie stilsit terwyl hy haar vriendin
beswadder nie. “Jy het Amanda as ’n walglike skepsel gesien wat geen
hoflikheid van jou af werd was nie.”
Hy is nou woedend. “Wys jy my tereg omdat ek nie toegelaat het dat sy
my bekoor soos sy julle bekoor het nie? In my eie huis?”
Miriam se mond val oop. Hy kon netsowel ’n swaard in haar hart gesteek
het. “So, nou is dit net jou huis, al is ons getroud?” sê sy in ’n benoude
stemtoon. “Ek is net ’n gas totdat jy besluit om my uit te skop. Die Here
behoede my as ek ’n voet verkeerd sit of as ek moet wys dat ek feilbaar is.”
Paul is spyt oor sy woorde voor sy weer begin praat. “Miriam, ek het nie
... ”
Sy begin nou self kwaad word. “Ek neem aan ek het geen reg op my eie
gedagtes en oortuigings as dit nie met joune ooreenstem nie. Is dit hoe dit
is, Paul?” Sy staan op en wys na die deur. “As ek wil sê wat ek dink, moet
ek dit buite gaan doen. Of selfs beter. Ek moet seker maak ek is aan die
ander kant van jou grensdraad?”
Skuldgevoelens doof sy spyt uit. Haar woorde praat sy gewete aan, en hy
begin weer om homself te verdedig. “Jy weet dis nie wat ek bedoel het nie!”
Sy begin huil, en hy kalmeer. “Miriam, moenie,” sug hy.
“Ek weet nie meer wát jy bedoel nie, Paul. Die bitterheid vreet jou op. Jy
dra jou haat soos ’n plakkaat en waai dit heeltyd rond. Jy weier om te sê wat
Amanda aan jou gedoen het om te maak dat jy haar so haat. Dit laat my
wonder of jy nie ook deel daaraan het nie!” Paul kan voel hoe sy gesig
begin gloei en sy humeur daarmee saam. Hy begin homself verdedig, maar
Miriam is nog nie klaar nie. “As dit nie vir Amanda was nie, sou ek nie na
jou toe gekom het soos ek het nie.”
“Waarvan praat jy?”
Sy praat nou sagter. “Ek sou nooit die moed gehad het om dit te doen
nie.” Sy kan sien hy begryp nie, en sy kan nie verduidelik nie. Haar keel is
dik van die pyn en sy wil net met haar kop in haar hande gaan sit. Selfs al
kon sy hom vertel, sal hy in elk geval nie luister nie. Hy is doof vir enigiets
goeds wat oor Amanda gesê kan word.
Haar gesig is verkreukel soos ’n kind s’n wat seergekry het. Hy kan voel
hoe sy ingewande op ’n knop trek van die pyn. “Ek het jou lief,” sê hy skor.
“Miriam, ek het jou lief.”
“Jy tree nie op asof jy my liefhet nie.”
“Angel het tussen my en Michael gekom. Moenie dat sy tussen ons ook
kom nie.”
“Jy het haar daar gesit!”
“Nee, ek het nie,” sê hy driftig. “Kan jy nie sien wat sy doen nie?” Hy
wil haar smeek om te luister. Hy kan nie verduur om na die uitdrukking op
haar gesig te kyk nie. “Sy het Michael gebréék,” sê hy en sy stem breek.
“Michael is nou sterker as ooit tevore.”
“Is dit waarom hy op sy knieë is?”
“Hy baklei vir haar op die enigste manier wat hy kan.”
“Miriam, sy het haar kloue in hom geslaan en hom toe aan stukke
geruk.”
“Is jy regtig só blind? Michael is die een wat deur al háár verdediging
gebreek het. Sy het hom liéf!”
“Sou sy nie gebly het as dit waar was nie? Niks sou haar kon wegjaag
nie. Maar sy het nié gebly nie, nie waar nie? Sy het hom net so gelos.” Hy
klap sy vingers. “En nou probeer jy my vertel sy het ’n hart.”
Miriam gaan sit wanhopig en kyk op na haar man se verbitterde gesig.
Het sy régtig gedink sy kan hom op haar eie red? Hoe verwaand van haar!
Hy is nou verder van haar verwyder as wat hy sou wees as hy berge toe
gegaan het en gaan goud soek het. Al waarvan sy seker is, is dit wat sy voel.
“Ek het haar ook lief, Paul. Net so lief soos wat ek enige van my eie susters
liefhet. Ongeag wat jy van haar dink, ek kén haar en ek gaan elke dag vir
die res van my lewe bid dat sy moet terugkom.”
Paul klap die deur hard toe toe hy uitstorm.
Angel lê in die bed en staar na die plafon. Sy wéét sy het die regte ding
gedoen, maar soms is haar verlange na Michael so erg dat dit ’n fisieke pyn
word. Is hy gesond? Is hy gelukkig? Hy het darem al teen hierdie tyd moed
opgegee met haar. Hy het sekerlik al besef dat hulle nooit bedoel was om
bymekaar te wees nie. Sy weet hy sal haar nooit vergewe nie, maar hy kan
met sy lewe aangaan. Hy sal vir Miriam hê. Hy sal kinders kan hê.
Sy wéét sy kan nie te lank daaroor dink nie. Sy sal in selfbejammering
verdrink. Dis verby, afgehandel, agter haar. Sy moet aanbeweeg. Sy maak
haar oë toe en stoot die pyn weg. Sy staan op en trek haar aan terwyl sy
dink aan die fantastiese dinge wat gebeur het.
Cherry bly by ’n paartjie wat ’n bakkery besit. Sy is gelukkig en pas
goed aan by haar nuwe lewe. Klein Faith is deur ’n Baptiste gesin
aangeneem en woon nou in Monterey saam met haar nuwe broers en
susters. Sy is ook besig om te leer lees en skryf, want daar het briewe
gekom.
So lekker as wat Angel by die Axles bly, weet sy dat sy nie vir altyd by
hulle kan bly nie. Hulle was al klaar hopeloos te goed vir haar en het vir
haar blyplek, beskerming en vriendskap gegee. Hulle het selfs vir haar
nuwe klere gekoop. Sy kon self kies en daarom het sy op duifgrys en bruin
wol in eenvoudige snitte besluit.
Susanna is die een wat daarop aandring om haar te leer lees en skryf.
Angel is maar skrikkerig om alles te leer wat Susanna vir haar gee, maar
haar nuwe vriendin dring daarop aan. “Jy is slim. En dit sal vanself kom.
Moenie so vinnig so baie van jouself verwag nie.” Die lesse is moeilik, en
Angel wonder of haar pogings die moeite werd is.
Sy oorweeg dit om weer by Virgil te gaan werk, maar besluit daarteen.
Op ’n vreemde manier wéét sy dis nie wat sy veronderstel is om te doen
nie. Maar wat ís sy veronderstel om te doen?
Susanna vat haar saam wanneer sy die gesin se inkopies gaan doen.
Hulle drentel deur die markte en koop vleis, groente, brood en songedroogte
produkte. Angel leer hoe om oor pryse te onderhandel. Dis nie veel anders
as om panne aan myners te verkoop nie. Sy weet hoe om te bluf. Sy weet
hoe om te maak of sy nie eintlik belangstel nie. En meeste van die tyd kry
sy en Susanna dit wat hulle wil hê teen die goedkoopste prys.
“Hulle gee net een kyk in jou blou oë en dan wil hulle omtrent hul ware
gratis weggee. Hulle trap oor mekaar om jou te help.” Susanna lag. “En
waar het jy al in jou lewe van ’n huweliksaanbod by die mark gehoor?”
“Dit was nie ’n huweliksaanbod nie, Susanna. Dit was ’n onwelvoeglike
voorstel. Daar is ’n groot verskil.”
“Wel, moenie so nors lyk nie. Jy het nee gesê, en nogal baie hoflik ook,
moet ek byvoeg.”
Miskien as sy sakke vir klere dra, sal mans haar nie meer raaksien nie.
Selfs in duifgrys draai die mans se koppe wanneer sy verbystap. Min van
hulle is lastig, en sy het ’n sterk vermoede dis omdat sy in Susanna Axle se
geselskap is eerder as haar splinternuwe reinheid. Die Axles is bekende en
gerespekteerde mense in die gemeenskap. Angel wonder wat sal gebeur
wanneer sy nie meer onder hulle beskerming is nie. Sal sy weer swak word
sodra sy die geringste teëspoed beleef? Dít is ’n gedagte wat haar haar trots
laat sluk en die Axles se welwillendheid laat aanvaar.
Sy begin selfs saam met hulle kerk toe gaan. Sy voel veilig en beskerm
met Jonathan en Priscilla aan haar een sy en Susanna aan die ander sy. Sy
drink die woorde van saligheid en verlossing in hoewel sy voel sy het
absoluut geen reg daarop nie. Sy is so honger en dors. Sy hunker soos ’n
wildsbok na die lewenswater. Terwyl sy luister, onthou sy die droom wat sy
in Duke se bordeel op Portsmouthplein gehad het.
O, God, dit was U wat met my gepraat het, nie waar nie? Dit was U. En
daardie nag in die hut toe ek daardie fantastiese geur geruik het en gedink
het iemand het met my gepraat, was dit U.
Alles wat Michael gedoen het en vir haar gesê het, maak skielik vir haar
sin. Hy het Christus uitgeleef sodat sy kon verstaan.
Ag, Here, hoekom was ek so blind? Hoekom kon ek nie hoor nie?
Hoekom moes ek soveel pyn verduur voor ek kon sien dat U die hele tyd
daar was en na my uitgereik het?
Elke Sondag ná die diens nooi die predikant enigiemand uit wat Christus
as hul Verlosser en Here wil ontvang. Elke keer wanneer hy hulle die
geleentheid gee om vorentoe te kom, voel Angel hoe haar senuwees op hol
gaan.
Die stil, rustige stem nooi haar liefdevol uit.
Kom na My, geliefde. Staan op en kom na My toe.
’n Warm gevoel spoel oor haar. Dít is die liefde waarvoor sy al haar lewe
lank wag. Tog kan sy nie beweeg nie. Ag, Michael, as jy maar net vandag
langs my was. As jy maar net hier was om saam met my vorentoe te stap,
sou ek dalk die moed gehad het.
Elke Sondag maak sy haar oë toe en probeer sy die moed kry om te
antwoord op die uitnodiging. En Sondag ná Sondag kry sy dit nie reg nie.
Sy sit bewend en weet dat sy nie waardig is om God se kind te wees ná alles
wat sy teen Hom gesê het nie.
Op die vierde Sondag leun Susanna oor na haar en fluister: “Ek kan sien
jy wil vorentoe gaan. Jy wil al weke lank.”
Haar oë brand en haar keel trek toe, maar Angel knik en laat haar kop
sak. Haar lippe is styf opmekaar gedruk. Sy is bang. Só bang dat haar hele
liggaam bewe. Watter reg het sy om voor God te staan en sy genade te
ontvang? Watter reg?
“Ek sal saam met jou vorentoe gaan,” sê Susanna en vat haar hand styf
vas.
Dis die langste pad in Angel se hele lewe toe hulle in die paadjie afstap
en voor die predikant gaan staan wat aan die einde wag. Hy glimlag en sy
oë blink. Sy dink aan Michael en voel skielik vreesbevange. Ag, Michael,
ek wens jy was hier saam met my. Ek wens jy was hier om dit te sien. Sal jy
ooit weet dat jy die vuurhoutjie getrek en lig in my donkerte gebring het?
Haar hart loop oor van dankbaarheid. O, God, hy het U so lief.
Sy huil nie. Sy het jare se oefening gehad om haar emosies te bedwing,
en sy is nie van plan om nou, voor al hierdie mense, voor haar emosies te
swig nie, nie eens met Susanna Axle langs haar nie. Sy kan die hele
gemeente se oë op haar voel. Hulle hou elke beweging van haar dop en
luister om te hoor of haar stem gaan vashaak. Sy moenie ’n gek van haarself
maak nie.
“Glo jy dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God?” vra die
predikant vir haar.
“Ek glo dit,” sê sy met plegtige waardigheid en maak haar oë vir ’n klein
rukkie toe. O, God, vergewe my my ongeloof. Maak my geloof groter as ’n
mosterdsaad, Jesus. Laat dit groei. Asseblief.
“En gee jy nou voor hierdie getuies jou lewe aan Jesus? Indien wel, sal
jy ja sê?”
Dis woorde wat by ’n huweliksbevestiging pas. ’n Droewige glimlag
kom lê op haar lippe. Vir Michael het sy “Waarom nie?” in plaas van “Ja”
gesê. Sy het aan die einde van haar kragte gekom en het gevoel sy het geen
ander keuse nie. Sy voel dit nou. Sy het aan die einde van al haar
worstelings gekom, aan die einde van haar oorlewingstryd op haar eie. Sy
het God nodig. Sy smag na sy teenwoordigheid. Hy het haar van haar ou
lewe verlos toe sy geen geloof gehad het nie. En noudat sy weet Hy is
regtig hier, hou Hy sy hand na haar toe uit en maak haar ’n aanbod.
Ag, Michael, dis wat jy vir my wou gehad het, nè? Dit is wat jy bedoel
het toe jy gesê het ek sal eendag ’n keuse moet maak.
“Angel?” sê die predikant verward. Niemand beweeg nie, almal kyk na
haar met ingehoue asem.
“Ja,” antwoord sy en glimlag breed. “Beslis, ja.”
Hy lag. Hy draai haar om na die gemeente en sê: “Dit is Angel. ’n Nuwe
suster in Christus. Verwelkom haar.”
En hulle verwelkom haar.
Dinge kan egter nie dieselfde bly nie. Sy voel dit diep binne haar siel. Sy
is nie veronderstel om in hierdie veilige kokon te bly waar die Axles haar
beskerm nie. Sy sal een of ander tyd van hulle af moet weggaan en kyk of
sy op haar eie voete kan staan.
Maar eers moet sy besluit wat om met haar lewe te doen.

Hulle pak die inkopies in die kombuis weg, en Angel gaan bo na haar
kamer toe. Sy trek haar donker skouermantel uit en hang dit by die deur op.
Priscilla het vir haar die kamer gegee wat Cherry en Faith gedeel het. Dis
ruim, gerieflik gemeubileer en het ’n kaggel in die hoek. Iemand het die
vuur aangesteek. Angel stoot die kantgordyn weg en kyk by die venster uit.
Die mis is besig om in te kom en maak wolkies wat by die venster
verbykom. Sy kan die kaai en ’n klomp verlate skepe in die hawe sien. Die
skepe word een vir een afgebreek en gesink om as opvullingsmateriaal te
dien.
Sy dink terug aan ’n ander dag toe sy by die boonste venster gestaan en
kyk het hoe Michael uit Pair-a-Dice wegry. Sy onthou sy stem toe sy ná
Magowan se mishandeling bygekom het. Sy onthou hoe Michael lag en
haar deur die mielieland jaag. Sy onthou sy sagtheid, sy geregverdigde
woede, sy deernisvolle begrip, sy krag. Sy onthou sy onvoorwaardelike
liefde. En sy weet wat hy sou wou hê sy moet doen om die antwoorde te kry
wat sy nodig het. Bid. Sy kan amper sy gesig sien wanneer hy dit sê Bid.
Sy maak haar oë toe en sug moeg. “Ek weet ek het geen reg om enigiets
van U te vra nie, Here, maar Michael het gesê ek moet. So, nou doen ek dit.
Jesus, as U luister, sal U my asseblief sê wat ek nou verder moet doen? Ek
weet nie wat om te doen nie. Ek kan nie vir altyd hier bly en van hierdie
vriendelike mense se welwillendheid gebruik maak nie. Dit is nie reg nie.
Ek moet werk vir my kos. Wat wil U hê moet ek met die res van my lewe
doen, Jesus? Ek moet iets doen of ek sal gek word. Ek vra, Jesus, ek pleit.
Wat wil U hê moet ek doen? Amen.”
Vir meer as ’n uur sit sy en wag.
Daar val geen lig uit die hemel nie. Geen stem nie. Niks nie.
’n Paar dae later kom Susanna ná aandete na haar kamer.
“Jy is al die hele week so stil, Angel. Wat pla jou? Is jy bekommerd oor
jou toekoms?”
Dit verras Angel nie dat Susanna weet wat fout is nie. Dit lyk asof sy
vooraf weet wat mense dink en voel. “Ek moet iets doen,” sê sy eerlik. “Ek
kan nie hier bly en vir die res van my lewe van jou en jou gesin afhanklik
wees nie.”
“Jy sal nie.”
“Dit is al ses maande, Susanna, en ek weet nog net so min wat ek gaan
doen soos die nag toe ek hier aangekom het.”
“Het jy al daaroor gebid?”
Angel bloos bloedrooi.
Susanna se oë skitter. Sy lag. “Genade, jy hoef darem nie te lyk of ek jou
op ’n onverstandige oomblik op heterdaad betrap het nie.”
“Jy hoef nie so in jou noppies te lyk nie,” sê Angel droog. “God het my
nie geantwoord nie.”
Susanna trek haar skouers op. “Nog nie. God antwoord altyd, op sý tyd,
nie op joune nie. Wanneer die tyd reg is, sal jy weet wat om te doen.”
“Ek wens ek kon soos jy glo.”
“Jy kan daarvoor vra,” grinnik Susanna.
Angel voel ’n steekpyn in haar hart. “Jy laat my so baie aan Miriam
dink.”
“Ek sal dit as ’n kompliment beskou.” Susanna se gesig versag. “Maak
nie saak hoe jy dit sien nie, dit was nie altyd vir my so maklik om te glo
nie.” Sy staan op. “Kom, ek wil vir jou iets wys.” Sy hou haar hand uit.
Hulle gaan na Susanna se slaapkamer waar hulle al baie gesels het.
Susanna los Angel se hand, kniel op die vloer en buk onder die bedsprei in.
Sy haal ’n boks onder die bed uit en sit dit bo-op die bed neer. “Ek moet op
my knieë gaan om daarby uit te kom,” sê sy en stof haar hande af toe sy
opstaan. “Ek sal ’n slag daar onder moet afstof.” Sy druk ’n los krul terug in
die bolla en gaan sit. “Sit,” sê sy en tik met haar hand op die bed. Angel
gaan sit by haar en kyk nuuskierig na die houer tussen hulle.
Susanna sit die houer op haar skoot. “Dis my God-boks,” sê sy.
“Wanneer ek met ’n probleem stoei, skryf ek dit neer, vou dit op en druk dit
deur die gleuf. Sodra dit in die boks is, is dit God se probleem en nie meer
myne nie.”
Angel lag. Susanna kyk haar doodernstig aan, en Angel se glimlag
verdwyn. “Jy is seker nie ernstig nie.”
“Nee, ek is heeltemal ernstig.” Sy sit haar hand op die boks. “Ek weet dit
klink laf, maar dit wérk. Ek is iemand wat dinge self wil regmaak, Angel. ’n
Kommerkous. Ek kon dinge nog nooit net los nie. Ek wil God speel, as jy
verstaan wat ek bedoel.” Sy lag spottend vir haarself. “Elke keer wanneer
ek dit doen, gaan daar iets verkeerd.” Sy tik op die boks. “Daarom het ek
dit.”
“’n Bruin hoedeboks,” sê Angel droogweg.
“Ja, ’n doodgewone hoedeboks. Maar dit help my om te onthou om my
vertroue in God te stel en nie in myself nie. Dis ’n bonus wanneer ek sien
hoe my gebede beantwoord word.” Haar mondhoeke spring. “Ek kan sien jy
dink ek het nie al my varkies op hok nie. Moet ek jou wys?” Sy haal die
deksel af. Binne-in is dosyne papiertjies, netjies opgevou. Sy steek haar
hand in en haal een uit. Sy maak dit oop.
“‘Cherry het ’n huis nodig,’” lees sy. Die nota het ’n datum op. “Ek hou
daarvan om te sien hoe lank God vat om te antwoord.” Sy lag vir haarself.
“Ek sal nie hierdie briefie terug in die boks sit nie aangesien die gebed
reeds verhoor is.” Sy vou dit op en sit dit langs haar op die beddegoed. Sy
haal nog ’n briefie uit.
“God, gee vir my geduld met Pappa. As hy nog één hubare man huis toe
bring, gaan ek in ’n klooster bly. En U weet ek sal ’n baie slegte non wees.”
Angel lag saam met haar. “Ek beter dié een in die boks los.” Sy haal nog
een uit. Sy is vir ’n oomblik stil voor sy dit lees. “Laat Faith se nagmerries
asseblief ophou. Beskerm haar teen die bose.” Sy vou dit op en sit dit terug
in die boks. “Sien jy wat ek bedoel?”
“Ek dink so,” sê Angel. “Wat as God nee sê?”
“Dan het Hy iets anders vir jou beplan. Iets beters as wat ek of jy self
kan bedink.” Sy frons en kyk af na die vol boks. “Angel, dis nie altyd so
maklik om te aanvaar nie.” Sy maak haar oë toe en blaas haar asem stadig
uit. “Ek het op ’n stadium alles netjies vir myself beplan gehad. Die
oomblik toe ek Steven ontmoet het, het ek presies geweet wat ek wil hê en
wat ek gaan doen. Hy was baie aantreklik en lewenslustig. Hy het vir ’n
predikant studeer, en hy was só vurig en begeesterd.” Sy glimlag. “Ons was
van plan om weswaarts te reis en die Woord onder die Indiane te versprei.”
Sy skud haar kop en haar oë is vol seer.
“Het hy jou gelos?”
“Op ’n manier. Hy is vermoor. Dit was só sinneloos. Hy het altyd na die
swakste dele van die stad gegaan om met die mans in die kroeë te gaan
gesels. Hy het gesê hulle het God meer nodig as ander wat gelukkiger as
hulle is. Hy wou nie ’n rykmanspredikant wees nie. Een nag is ’n man
aangeval in ’n stegie, en Steven het die geveg probeer beëindig. Hy is met
’n mes doodgesteek.” Haar gesig vertrek van pyn, en sy byt op haar lip.
“Ek is jammer, Susanna,” sê Angel en ervaar haar vriendin se hartseer
asof dit haar eie is.
Susanna gryp haar hand vas. Haar oë vul met trane en dit rol oor haar
bleek wange. “Ek het God blameer. Ek was só kwaad. Hoekom Steven?
Hoekom iemand wat só ’n goeie hart het, wat soveel gehad het om te bied?
Ek was selfs vir Steven kwaad. Hoekom was hy so dom om na daardie
krotplekke te gaan? Hoekom het hy sy tyd op daardie mense gemors? Hulle
het hulle eie keuses gemaak, nie waar nie?” Sy sug. “Alles was só ’n
warboel. My emosies was in opstand. Ek het geen troos gevind in die wete
dat Steven by die Here was nie. Ek wou hom by mý hê.” Sy bly vir ’n lang
ruk stil. “Ek wil hom steeds by my hê.”
Angel druk haar hand. Sy weet hoe dit voel om met alles in jou na
iemand te verlang en te wéét hy gaan vir ewig buite jou bereik wees.
Susanna kyk na haar. “Jy sê jy is nie seker wat jy nou moet doen nie.
Wel, ons is in dieselfde bootjie.” Sy glimlag weer. “Maar dit sal kom,
Angel. Ek weet dit sal kom.”
Die deksel glip van die bed af, en sy los Angel se hand om dit op te tel.
Toe sy vooroor leun, val ’n klomp briefies uit die boks. Angel gaan saam
met haar op haar knieë om die papiertjies op te tel en dit terug in die boks te
sit. So baie papiertjies, so baie gebede.
Susanna tel een op en kyk vinnig daarna. Sy sit terug op haar hurke en
glimlag. Haar wange begin weer kleur kry, en haar oë verhelder. Sy glimlag
en hou dit in haar hand terwyl Angel al die ander terug in die boks sit en die
deksel opsit. Susanna skuif die boks terug onder die bed in.
“Soms antwoord Hy baie vinnig.” Sy glimlag steeds en hou die briefie na
Angel uit. “Lees dit.”
Angel vat dit en lees met moeite die netjies geskrewe woorde. “‘God,
asseblief, ASSEBLIEF, ek het ’n vriendin nodig met wie ek kan praat.’”
Die datum bo-aan is die dag voordat Angel saam met Jonathan by die
huis aangekom het.

Michael laai sy wa vol sakke koring en begin ry in die rigting van


Sacramento. Daar is ’n meul op pad waar hy die graan kan laat maal en in
sakke laat gooi vir die mark. Dit was ’n goeie oes. Hy sal genoeg geld maak
om ’n paar beeste en ’n paar varkies te koop. Teen volgende jaar sal hy spek
en ham kan rook en beesvleis verkoop.
Hy bring die nag langs die stroompie deur waar hy en Angel eenkeer
stilgehou het. Terwyl hy in die maanlig sit, kyk hy na die poel en is sy
gedagtes vol van herinneringe aan haar. Hy kan amper haar soet geur in die
nagwindjie ruik. Sy liggaam tintel en word warm. Hy onthou haar
huiwerige glimlag en beangste kyk elke keer dat hy deur haar sterk skanse
gebreek het. Partykeer was dit net ’n woord of ’n kyk wat dit onverwags
gedoen het. Op daardie oomblikke het hy onbeskryflike vreugde ervaar asof
hy, en nie God nie, die onmoontlike reggekry het. Michael laat sak sy kop
en huil.
Ja, hy het geleer dat hy magteloos is. Hy het geleer dat ’n man kan
oorleef nadat ’n vrou sy hart gebreek het. Hy het geleer dat hy sonder haar
kan aangaan. Maar, o, God, ek sal haar mis tot ek die dag sterf. Hy voel
voortdurend hierdie pyn in hom en wonder of dit goed gaan met haar, of sy
haarself oppas, of sy veilig is. Om hom te herinner dat God ook oor haar die
wag hou, help nie. Angel se eie woorde kom spook elke keer by hom.
“O, ek ken vir God. Doen net iets verkeerd en hy sal jou soos ’n gogga
vermorsel.”
Glo sy dit steeds? Was sy eie geloof en oortuiging dan só swak dat sy dit
nie kon sien nie? Het sy niks geleer uit die wreedheid wat sy moes verduur
en haar eie magteloosheid daarteen nie? Dink sy steeds dat sy haar eie lewe
beheer?
Soos die pynigende gedagtes in sy gedagtes opbou, reik hy uit en klou hy
vas aan een eenvoudige teksvers. “Vertrou op die HERE met alles wat jy het.
Moenie staatmaak op jou eie insigte nie.”
Hy sê dit oor en oor vir homself totdat sy gemoed rustig word en sy
liggaam ontspan.
Toe bid Michael vir Angel. Hy bid nie dat sy na hom toe moet terugkeer
nie, maar dat sy self vir God sal vind.
Toe hy die volgende oggend begin ry, belowe hy homself dat hy nie na
sy vrou gaan soek wanneer hy in Sacramento aankom nie, maak nie saak
hóé groot die versoeking is nie.
En hy sal nooit sy voete in San Francisco sit nie.

“Angel! Angel!”
Angel se hele liggaam ruk toe iemand haar naam roep. Hoekom het sy
die behoefte gevoel om na die plein toe te kom? Sy moes liewer huis toe
gegaan het die oomblik toe sy klaar by Virgil gekuier het. Hy het van nog ’n
kok ontslae geraak en haar probeer oorreed om weer vir hom te kom werk.
Sy wens amper sy het eerder nie gaan kuier en verwagtings by hom geskep
nie.
Voor sy haar kom kry, het sy weer deur die strate gedrentel. Verby ’n
teater en ’n kroeg. Haar ou uithangplekke. Sy het nie geweet hoekom sy
daar was nie. Sy wou net ’n entjie gaan stap om dinge te oordink en planne
te probeer maak, en iets het haar hierheen gedwing. Dis baie ontmoedigend.
En nou druk iemand uit haar verlede deur die skare en kom agter haar
aan. Sy is sommer lus om weg te hardloop en nie terug te kyk nie.
“Angel, wag!”
Sy kners op haar tande, gaan staan en draai om. Sy herken dadelik die
jong vrou wat na haar toe aanstap. Die weersiens laat haar onmiddellik
kiertsregop staan en sy sit haar masker van veragting en kalmte op. “Hallo,
Torie,” sê sy en lig haar ken ’n bietjie.
Torie bekyk haar van bo na onder. “Ek kon nie glo dis jy nie. Jy lyk so
ánders.” Sy lyk onseker. “Is jy nog met daardie boer getroud?”
Angel voel die pyn voor sy dit kan onderdruk. “Nee, nie meer nie.”
“Dis nou ’n jammerte. Hy was regtig iets spesiaals. Daar was iets
omtrent hom ... ” sy trek haar skouers op. “Wel, dis maar seker hoe die lewe
is.”
Sy kyk na Angel se bruin rok en tjalie en byt haar onderlip. “Ek neem
aan jy is nie meer in die besigheid nie?”
“Nee, al vir meer as twee jaar nie.”
“Het jy gehoor wat met Lucky gebeur het?”
Angel knik. Dierbare, dierbare Lucky.
“Mai Ling was ook in die brand.”
“Ek weet.” Sy wil die gesprek vinnig afhandel en teruggaan na die huis
op die bult. Sy wil nie herinner word aan die verlede nie. Sy wil nie na
Torie kyk en sien hoe oud sy geword het nie. Sy wil nie die mismoedigheid
in haar oë herken nie.
“Wel, ten minste het Magowan gekry wat hom toekom,” sê Torie. Sy
staar na Angel se netjiese kraag.
“Meg is besig om dood te gaan van die pokke,” praat sy verder.
“Duchess het haar dadelik uitgeskop toe sy uitgevind het. Ek het haar af en
toe in ’n deur sien slaap met ’n bottel jenewer in die hand.” Sy trek een
skouer op. “Nou wel nie onlangs nie.”
“Is jy steeds by Duchess?”
Torie lag. “Niks verander ooit nie. Ten minste vir party van ons.” ’n
Siniese glimlag huiwer om haar lippe. “Dis nie regtig só sleg nie. Sy het so
pas ’n nuwe plek gebou, en sy het ’n goeie kok. Ek doen heel goed vir
myself. Ek het selfs ’n bietjie geld gespaar vir my toekoms.”
Angel se bors voel loodswaar. Is Torie besig om te maak asof sy
gelukkig is terwyl sy binne-in besig is om dood te bloei? Torie praat verder,
maar Angel hoor omtrent niks wat sy sê nie. Sy bly sien dinge in Torie se oë
wat sy nooit vantevore herken het nie. En dit kom alles terug na haar. Alles
wat sy ervaar het vandat sy agt jaar oud was. Die pyn en alleenheid ... en dis
daar reg voor haar in Torie se oë ook.
“Wel, ek het jou lank genoeg opgehou met my praatjies oor die ou dae,”
sê Torie en glimlag droewig. “Ek moet maar teruggaan werk toe. Nog net
een vandag, dan kan ek ontspan.”
Sy begin wegstap, en Angel voel die vreemdste sensasie deur haar
binneste kom. ’n Warm gevoel vul haar, gevolg deur ’n vreemde opwelling
van energie en sekerheid. Sy steek haar hand vinnig uit en keer Torie. “Kom
eet saam met my,” sê sy. Sy is so opgewonde dat sy bewe.
“Ek?” Torie is net so verbaas soos Angel.
“Ja, jy!” sê Angel met ’n glimlag. Sy voel sy wil bars van die idees wat
haar begin binneskiet. Sy wéét! Sy weet wat God wil hê sy moet doen. Sy
weet présies wat Hy wil hê. “Ek weet van ’n klein kafeetjie net hier om die
draai.” Sy steek haar arm deur Torie s’n en trek haar saam. “Die eienaar se
naam is Virgil. Jy sal van hom hou en ek weet hy gaan baie bly wees om jou
te ontmoet.”
Torie is te uit die veld geslaan om te weier.

“Het sy gesê waarheen sy gaan?” vra Jonathan vir sy ontstelde dogter.


“Nee, Pappa. Pappa weet hoe rusteloos sy die afgelope paar weke was.
Vanoggend het sy gesê sy gaan ’n entjie stap. Sy wou alleen gaan stap om te
dink. En ek het haar nog nie weer gesien nie. Ek dink daar moes iets met
haar gebeur het.”
“Jy weet dit beslis nie,” sê Priscilla. “Jy laat jou emosies met jou op hol
gaan. Angel weet hoe om na haarself te kyk.”
“Jou ma is reg,” stem Jonathan saam, maar hy kan nie help om ook te
wonder nie. As Angel nie binne die volgende uur by die huis is nie, sal hy
na haar gaan soek.
Susanna loop op en af, maar staan lank genoeg stil om by die venster uit
te kyk. “Dit word donker. A, daar is sy! Sy kom teen die bult op.” Sy swaai
om, en haar oë blits. “Sy het geglimlag en gewaai!” Sy pluk die
kantgordyne toe en loop doelgerig na die voorportaal. “Ek gaan haar mooi
vertel wat ek van haar dink om ons so siek van bekommernis te maak!”
Angel bars by die huis in en omhels Susanna voor sy ’n woord van
teregwysing kan sê. “O, Susanna, jy sal dit nie glo nie! Jy sal net nie!”
Angel lag. “Ek trek dit terug. Jy sál dit glo.” Sy skud haar tjalie uit, hang dit
op en gooi haar hoed vrolik bo-op.
Jonathan kan onmiddellik sien sy is anders. Haar gesig gloei, en haar
glimlag is een van blydskap. “Ek weet wat God wil hê ek met my lewe
moet doen,” sê sy en gaan sit op die punt van die rusbank. Sy vat haar knieë
vas en lyk asof sy gaan bars van opgewondenheid. Hy kyk hoe sy dogter
stadig naby haar gaan sit. Sy lyk asof sy weet sy gaan haar beste vriendin
verloor. Wel, dalk gebeur dit.
“Ek gaan jou hulp nodig hê,” sê Angel vir Jonathan. “Ek sal jou nooit
kan vergoed vir alles wat jy reeds vir my gedoen het nie, maar ek gaan jou
vir nóg meer vra.” Sy skud haar kop. “Ek hardloop nou vooruit. Ek moet
julle eers vertel wat vandag gebeur het.”
Sy vertel hulle hoe sy Torie ontmoet het en van hulle ete. Sy vertel hulle
van die jong prostituut se wanhoop en moedeloosheid en hoe sy jare lank
self so gevoel het.
“Sy kon ’n werk by Virgil gekry het as sy kon kook. Soos dit is, was hy
gaaf genoeg om te sê sy kan aanbly as ek oor die volgende paar weke saam
met haar sal werk tot sy weet hoe om op haar eie reg te kom. Sy sal vinnig
leer en gou op haar eie kan aangaan.”
“Ek volg jou nou nie mooi nie,” sê Jonathan. Die meisie is so
opgewonde dat sy skoon deurmekaar praat.
“Torie het gesê as sy enigsins die kans kry om uit die bordeel weg te
vlug, sal sy dit met albei hande aangryp. Virgil het gevra of sy kan kook en
sy het nee gesê. En net daar in Virgil se kafee het dit my getref. Waarom
nie?”
“Waarom nie wát nie?” vra Susanna vies. “Jy maak nie sin nie.”
“Waarom nie vir haar die kans gee om weg te kom nie,” sê Angel. “Leer
haar hoe om te kook. Leer haar hoe om naaldwerk te doen. Leer haar om
hoede te maak. Leer haar enigiets wat haar sal bemagtig om op ’n ander
manier geld te verdien. Jonathan, ek wil ’n huis koop waarheen iemand
soos Torie kan kom en veilig voel en leer om geld te verdien sónder om
haar liggaam daarvoor te verkoop.”
Jonathan dink ernstig daaroor na. “Ek het ’n paar vriende wat dalk sal
kan help. Hoeveel geld dink jy is nodig om dit aan die gang te kry?”
“Daar is ’n huis ’n paar blokke van die dokke af.” Sy sê vir hom hoeveel
dit kos.
Hy lig sy wenkbroue. Dis ’n reuse bedrag geld. Hy kyk vinnig na
Priscilla, maar sy help hom glad nie. Hy kyk weer na Angel en weet hy kan
nie weier en daardie hoopvolle, doelgerigte kyk uit haar oë wegvee nie.
“Ons sal môre daaraan begin werk.”
Sy buk met blink oë en soen hom op die wang. “Dankie, dierbare
vriend,” sê sy.
“Pappa het ander vriende wat die huis sal help ondersteun,” sê Susanna.
Jonathan kyk na sy dogter en sien die verandering in haar
gesiguitdrukking. Hy het nie daardie sprankel gesien sedert Steven dood is
nie. Sy bors trek toe. O, God. Die skielike besef maak seer. Ek gaan haar
tog ná alles verloor, nie aan ’n wilde jong fanatikus wat haar die wildernis
wil insleep om heidense Indiane te bekeer nie, maar aan Angel en ander
soos sy!
Al wat hy wil hê, is dat sy dogter moet trou en kinders kry. Hy wil hê sy
moet hier naby in ’n huis bly sodat sy dikwels kan kom kuier. Hy wil hê sy
moet meer soos Priscilla en minder soos hy wees.
Hy kyk hoe Susanna op en af stap en soos ’n borrelende fontein idees
begin opnoem. Angel lag en voeg haar eie idees die een ná die ander by.
Hulle is albei so pragtig dat dit moeilik is om na hulle te kyk. ’n Lig in die
duisternis.
Jonathan maak sy oë toe. O, God, dis nie heeltemal hoe ek dit wou gehad
het nie.
Maar aan die ander kant, wat van enige werklike, blywende waarde is
ooit?
Drie en dertig

Toe ek nog klein was,


het ek gepraat soos ’n kind,
gedink soos ’n kind, geredeneer soos ’n kind.
Maar noudat ek volwasse is, het ek die
dinge van ’n kind ontgroei.
1 Korintiërs 13:11

Paul ry Sacramento toe om na Angel te gaan soek. Hy sal daardie heks moet
kry en terugbring, as hy sy huwelik wil red. Michael gaan duidelik nie na
haar gaan soek nie, en Miriam sal nie tot rus kom voordat sy nie terug is
nie. Paul kon nie langer toekyk hoe Miriam oor Angel treur nie. Hy kan
hom nie eens voorstel hoe sy ná al hierdie tyd nog iets goeds in Angel kan
sien nie, maar Miriam kry dit reg. Miskien is dít waarom hy so lief is vir
haar. Het sy dan nie iets goeds in hóm ook gesien nie?
Op hierdie oomblik sal hy énigiets vir haar doen, selfs weggaan van hul
huis af en na Angel gaan soek as dit haar net sal laat kalmeer en na haar
gesondheid laat omsien.
Hy neem aan Angel sal haar beroep in die naaste florerende gemeenskap
gaan beoefen. Hy gaan soek heel eerste by al die bordele. Met haar
seldsame skoonheid behoort dit nie moeilik te wees om haar te kry nie. Hy
kom agter dat “Angel” ’n baie algemene naam onder prostitute is. Hy kry
baie van hulle, maar nie vir haar nie.
Ná ’n week gaan Paul weg uit Sacramento en mik hy weswaarts na San
Francisco. Dalk was Sacramento nie groot genoeg vir Angel nie. Net
ingeval hy verkeerd is, stop hy op elke dorpie langs die pad en vra na haar.
Daar is geen spoor van haar nie.
Toe Paul uiteindelik in San Francisco aankom, is hy oortuig dat sy
soektog vrugteloos is. Sy is al te lank weg uit die vallei. Dis al meer as drie
jaar. Sy het tien teen een nou al op ’n boot na New York of China geklim.
Hy weet nie of hy bly moet wees dat hy haar nie kan opspoor nie en of hy
moet voortgaan om te soek totdat hy enige inligting oor haar kry nie.
Miriam was só seker; sy het daarop aangedring.
“Sy is steeds in Kalifornië. Ek wéét dit.”
Iewers moes iemand tog van haar gehoor het. Hoe kan ’n meisie soos
Angel net soos mis voor die son verdwyn?
Die hele ding pla hom baie. Wat as hy haar wel kry? Wat gaan hy sê?
“Ons wil hê jy moet terugkom na die vallei toe?” Sy sal wéét hy lieg. Hy
wil nie hê sy moet terugkom nie. Hy wil haar nóóit weer voor sy oë sien
nie. Hy kan ook nie dink dat Michael haar sal wil terughê ná al hierdie tyd
nie. Drie jaar. God weet wat sy die hele tyd gedoen het en met wie.
Maar Michael wil hê sy moet terugkom. Dis die probleem. Michael het
Angel steeds lief. Hy sal haar vir altyd liefhê. Dis nie hardkoppigheid en
trots wat hom hierdie keer verhinder het om na haar te gaan soek nie. Hy sê
dis haar keuse. Sy moet uit eie vrye keuse terugkom. Wel, sy sal nie.
Michael moes dit ná ’n jaar besef het. Twee jaar moes dit beslis bevestig
het. Ná nog ’n jaar verby is, het selfs Miriam moed opgegee dat Angel uit
haar eie sal terugkom. Sy het gesê iemand sal na haar moet gaan soek.
“Ek wil hê jy moet gaan, Paul,” het Miriam gesê. “Dit moet jý wees.”
Hy het Angel meer as ooit gehaat.
Nou is hy in San Francisco. ’n Digte mis lê oor die stad, en Paul soek
halfhartig. As hy vir Angel kry, gaan dit meer probleme veroorsaak as
wanneer hy haar nié kry nie. Moet hy haar aan die hare terugsleep na die
vallei toe soos Michael gemaak het toe sy die eerste keer weggeloop het?
Wat sal dit help? Sy sal net weer wegloop. En weer en weer. Kan Miriam
dit nie verstaan nie? Eenmaal ’n prostituut, altyd ’n prostituut. Dit lyk asof
’n dierbare en naïewe meisie soos sy vrou net nie die waarheid kan insien
nie. Of ’n vlekkelose man soos Michael. Paul het hulle albei só lief, en hy
kan regtig nie sien hoe dit enige van die twee gaan baat as hy Angel kry nie.
Hoekom was Miriam so aanhoudend dat hý die een is wat haar moet
gaan soek en terugbring? Sy wou nie uitbrei nie. Sy het gesê hy sal self
sien. Hy het eers geweier, en sy was woedend vir hom. Hy was verstom dat
sy vrou wat gewoonlik so redelik is so driftig kan wees. Haar woorde het
hom soos ’n swaard in repies gesny. Toe het sy gehuil en gesê sy kan nie
langer so aangaan nie. Sy het hom uiteindelik gesmeek om na Angel te gaan
soek, en hy kon dit nie langer verduur nie en het ingestem.
Nou is hy hier, honderde myle van die huis af, en hy verlang so na
Miriam dat dit hom fisiek pyn laat verduur. Hy wonder waarom op aarde hy
ingestem het. Dis baie beter dat Angel verlore is as dat sy gevind word.
Sy aandag is afgetrek deur sy eie hardvogtige haatdraendheid; daarom
drentel hy doelloos deur die strate en kyk rond sonder om regtig aandag te
skenk aan wat hy sien. ’n Jong vrou in grys trek sy aandag. Sy staan oorkant
die straat na ’n winkelvenster en kyk en laat dink hom aan Tessie. Hy het
maande laas aan haar gedink, en hy voel weer die ou hartseer. Dit vervul
hom met pyn. Die meisie leun vorentoe, en die agterste soom van haar romp
lig hoog genoeg om verslete, swart skoene te wys net soos dié wat Tessie
gedra het.
Miriam, wat soek ek hier? Ek wil by jou by die huis wees. Ek het jou
nodig. Waarom het jy my enigsins op hierdie waansinnige soektog gestuur?
Die meisie staan weer regop en maak haar hoed vas. Sy draai om en wag
vir ’n wa om verby te gaan voor sy oor die straat loop. Paul sien haar gesig
vlugtig raak, en sy hart mis ’n slag.
Angel!
Aanvanklik kan hy nie glo dat dit werklik sy is nie. Dit móét sy
verbeelding wees wat haar gesig op iemand anders se lyf sit ná soveel weke
se soek. Sy loop haastig oor die straat en stap vinnig weg van hom af. Hy
stoot sy hoed reg en kyk haar agterna. Hy wonder of hy reg gekyk het. Hy
is byna seker hy het ’n fout gemaak. Dit kan nie sy wees nie, nie in dáárdie
klere nie ... maar hy volg haar in elk geval net om seker te maak.
Die jong vrou stap flink met haar kop regop. Die mans sien haar almal
raak so ver as wat sy gaan. Party lig hul hoede wanneer sy verbystap. Ander
fluit en maak onvanpaste voorstelle. Sy stap glad nie stadiger nie en praat
met niemand nie. Sy is baie duidelik iewers heen op pad. Toe sy die hartjie
van die stad bereik, stap sy by ’n deftige bank op ’n besige hoek in.
Paul wag ’n halfuur buite in die koue mis voordat sy weer uitkom. Dit ís
Angel. Hy is oortuig daarvan. By haar is ’n netjies geklede man, heelwat
ouer en welvarender as Michael. Paul kners op sy tande. Hy kyk hoe die
twee ’n paar minute staan en gesels, en toe soen die man haar op die wang.
Hoë klante, dink Paul sinies. Al het sy sulke kuis klere aan, is sy nog net
so skaamteloos soos altyd. Geen ordentlike vrou sal toelaat dat ’n man haar
op straat soen nie. Nie eens op die wang nie.
Miriam se woorde bly spook by hom. “Jy het haar nog altyd veroordeel.
En so verkeerd.”
Paul kry ’n stywe trek om sy mond. Miriam was nie hier om te sien wat
gebeur het nie. Sy weet niks van vroue soos Angel af nie. Hy kon haar nog
nooit oortuig nie. Sy het nooit regtig geglo dat daar ’n meisie soos Angel
bestaan het en wat sy in ’n bordeel in Pair-a-Dice gedoen het nie. “Jy praat
nie eens van dieselfde mens nie,” het sy gesê. Maar hy het gewéét wie en
wat Angel is, al kon Michael en Miriam dit nie raaksien nie.
Wat op hierdie aarde het hulle ooit in daardie nikswerd vrou gesien dat
hulle haar met sulke vaste, onveranderlike toewyding kan liefhê? Hy sal dit
nooit kan begryp nie.
Hy gaan agter Angel aan na ’n eenvoudige tweeverdiepinghuis nie ver
van Portsmouthplein af nie. Daar is ’n bordjie op die voordeur. Hy moet oor
die straat loop om dit te kan lees. Magdalena Huis. Daar is dit nou. Oop en
bloot vir enige mens om te sien. Hy het dit nog altyd geweet. Wat gaan hy
nou doen? Selfs al vertel hy dit vir Miriam, sal sy hom nooit glo nie. En as
hy haar gaan probeer oortuig, gaan hy haar net seermaak.
Paul stap vir ’n lang ruk moedeloos en woedend rond. Dis Angel se
skuld dat hy nou in hierdie penarie is! Vandat hy haar vir die eerste keer
gesien het, was sy vernietigend. Heel eerste het sy tussen hom en sy geld
gekom. Hy het eenkeer goud weggesmyt in ’n nuttelose poging om ’n
halfuur saam met haar deur te bring in die Palace. Toe het sy tussen hom en
Michael gekom. En nou kom sy tussen hom en sy vrou!
Hy bly die nag in ’n goedkoop hotel. Hy bestel aandete in die eetkamer,
maar hy is nie honger nie. Toe hy in die bed is, kan hy nie slaap nie. Hy sien
heeltyd Miriam se gesig voor hom. “Paul, jy het nog nooit eens probéér om
haar te verstaan nie. En jy verstaan ook nie nou nie. Ek wonder soms of jy
ooit sal!”
Ek verstaan maar net te goed, en ek wil die heks vir eens en vir altyd uit
my lewe hê! Ek wens sy was dood, begrawe en vergete.
Paul slaap rusteloos en word lank voor die oggend wakker, vasbeslote
om terug te gaan na die vallei toe. Hy sal vir Miriam ’n leuen vertel. Daar is
geen ander manier waarop hy haar die pyn kan spaar nie. Hy sal vir haar sê
dat hy oral gesoek het, maar nie vir Angel kon opspoor nie. Of hy kan vir
haar sê dat Angel aan koors of pokke dood is. Nee wag, dalk nie pokke nie.
Witseerkeel. Longontsteking. Enigiets behalwe pokke. Of hy kan sê sy is
weg Ooskus toe en die skip het gesink. Dit sal heel geloofwaardig wees.
Maar hy kan haar nooit vertel dat hy haar by ’n bordeel ’n paar blokke van
die dokke af sien ingaan het nie.
Hy voel siek dat hy enigsins moet jok en pak sy goed in. Dit maak hom
briesend dat hy soveel weke sonder sy vrou se liefdevolle teenwoordigheid
moes deurbring oor Angel. Hy sal aan iets dink voor hy by die huis kom om
Miriam te oortuig dat dit ’n verlore saak is. Hy móét net.
Toe hy op pad is na die veerboot wat hom oor die baai moet neem, begin
die twyfel aan hom knaag. Miriam sal wil weet wat die skip se naam was.
Sy sal wil weet met wie hy almal gepraat het. Sy sal honderde klein
besonderhede wil weet wat hy sal moet versin. Een groot leuen kan hy
hanteer, maar nie ’n klomp kleintjies nie.
Hy staan in die swaar mis, en ’n koue begin diep binne hom kriewel. Dit
sal nie werk nie. Dit maak nie saak watter storie hy uitdink nie. Miriam sal
wéét. Sy weet altyd. Net soos Michael geweet het wat op pad tussen hom en
Angel gebeur het sonder dat daar ooit iets daaroor gesê is.
Hy gaan woedend terug na die tweeverdiepinghuis. Hy sien geen rede
waarom hy hoef te klop nie en stap direk in. Voor hom is ’n klein portaal,
skamel gemeubileer met twee banke en ’n hoederak. Daar is nie ’n enkele
hoed op die rak nie. Daar is nie eens iemand om hom te vra wat hy soek nie,
laat staan nog wie.
Hy hoor vroue praat. Hy haal sy hoed af, stap by ’n groot sitkamer in en
gaan staan. Die sitkamer is stampvol vroue, die meeste van hulle is nog
jonk en almal kyk direk na hom. Hy voel hoe sy gesig begin gloei.
Hy besef ’n hele paar dinge op een slag. Die meisies sit almal in regop
houtstoele. Behalwe vir hom, is daar is nie een enkele man in die vertrek
nie, en die plek lyk meer soos ’n klaskamer as na die sitkamer van ’n
bordeel. Hulle het almal dieselfde stemmige grys rokke aan wat Angel
gister aangehad het. Angel is nie by hulle nie.
’n Lang vrou wat voor die ander staan, glimlag vir hom. Haar bruin oë
blink geamuseerd. “Meneer, het jy verdwaal? Het jy gekom om van jou
verkeerde weë af te sien?” Die jonger vroue skater.
“Ek ... ek vra om verskoning, juffrou,” stotter hy verward en verleë.
Watter plek is dit dié?
“Hy dink dis ’n hotel,” sê een van die meisies en kyk na die sak op sy
rug. Die ander lag.
“O, ek is seker hy dink dis iets hééltemal anders, of hoe skat?” sê nog
een en bekyk hom van bo na onder.
Iemand lag. “Hy bloos! Ek het nog nie weer sedert 1849 ’n man sien
bloos nie.”
“Asseblief, dames,” sê die lang vrou en maak hulle stil. Sy sit die stuk
bordkryt neer. Sy vee die wit stof van haar maer vingers af en stap na hom
toe. “Ek is Susanna.” Sy steek haar hand uit en hy skud dit sonder om te
dink. Haar vingers is koel, haar handdruk stewig. “Waarmee kan ek jou
help?”
“Ek is op soek na iemand. Angel. Haar naam is Angel. Ten minste dis
wat sy destyds genoem is. Ek het gedink ek het haar gistermiddag hier sien
inkom.”
“Paul?”
Hy draai om en sien haar in die deur staan. Sy lyk verras en verslae.
“Kom asseblief saam met my,” sê sy. Hy volg haar in die gang af en by ’n
klein kantoortjie in. Sy gaan sit agter ’n groot eikehoutlessenaar. Die
lessenaar lê vol papiere en boeke. Op een hoek is ’n eenvoudige bruin
hoedeboks met ’n gleuf in. “Sit, asseblief,” sê sy.
Hy gaan sit en kyk om hom rond na die eenvoudige, netjiese omgewing.
Hy kan dit glad nie begryp nie. Hoekom sal die hoof van ’n bordeel ’n
kantoor hê wat eerder by ’n non pas? Watter tipe klasse word in die ander
kamer aangebied? Rekenkunde probleme was op die bord geskryf, maar
noudat hy weer na Angel kyk, dink hy nie daaraan om te vra nie. Die ou
vyandigheid is met mening terug.
As dit nie vir háár was nie, kon hy nou saam met Miriam by die huis
gewees het.
Angel kyk na hom met dieselfde moedigheid, maar sy is tog anders. Hy
kyk koud na haar en probeer peil wat dit is. Sy is nog net so mooi, so
onbeskryflik mooi ... maar dit was sy altyd; beeldskoon, yskoud en
kliphard.
Hy frons. Dis wat dit is. Die hardheid. Dis weg. Daar is nou iets sags aan
haar. Dis in haar blou oë, haar skalkse glimlag, haar rustige houding.
Sy is kalm.
Die gedagte verbaas hom, en hy skud dit af. Nee, nie kalm nie. Sy voel
net niks nie. Sy het nog nooit. Hy onthou daardie dag langs die pad. Hy kan
dit nie uitwis nie. Hy wil iets sê, maar kan nie aan enige woord dink nie. Hy
is kwaad, hatig, terneergedruk, maar hy bly hom herinner dat hy nie om sy
eie onthalwe hier is nie. Hy is hier vir Miriam. Hoe gouer hy sê wat hy
moet, hoe gouer kan Angel weier om terug te kom en kan hy met ’n skoon
gewete huis toe gaan.
Angel praat eerste.
“Jy lyk goed, Paul.”
Hy kry die snaakse gevoel dat sy hom op sy gemak probeer stel. Waarom
sal sy dit wil doen? “Ja, jy ook,” sê hy en klink styf hoflik. Dis waar. Sy lyk
selfs goed in grys. Beter as ooit. Sy is een van daardie vroue wat in haar
sestigerjare nog pragtig sal wees. ’n Duiwel in vermomming.
“Dit was nogal ’n skok om jou te sien,” sê sy.
“Ja, ek is seker dit was.”
Haar oë gaan soekend oor sy gesig. “Wat kom maak jy hier by die
Magdalena Huis?”
Laat haar sweet. “Wie se huis is dit?”
“Myne.” Sy brei nie uit nie. Sy wag vir hom om iets te sê.
“Ek het jou gister op straat gesien en jou hierheen gevolg.”
“Waarom het jy nie ingekom nie?”
“Ek wou nie iets onderbreek nie,” sê hy. “Staan jy steeds as ‘Angel’
bekend?” Hy kry dit nie reg om die snedigheid uit sy stem te hou nie, en hy
kan nie die uitdrukking in haar oë peil nie. Dis asof elke woord wat hy sê
haar diep seermaak. Waarom sal dit? Niks het haar ooit voorheen
seergemaak nie. Dis net nog ’n front wat sy voorhou.
“Ek staan steeds bekend as ‘Angel’,” se sy. “Dit het van pas gevoel.”
Weer daardie reguit manier. Op die man af, maar tog sagter as wat hy
haar ooit kan onthou. “Jy lyk anders,” sê hy en kyk vlugtig om hom rond.
“Ek het verwag dat jy ’n hoër lewenstyl as dít sal handhaaf.”
“Jy bedoel laer.” Sy lyk geamuseerd, nie op die verdediging nie.
Hy kry ’n siniese trek op sy gesig. “Niks verander ooit nie, of hoe?”
Angel kyk hom vraend aan. Hy is op ’n sekere manier reg. Ten minste
wat sy haat vir haar betref. Nie dat hy nie genoeg rede het nie. Maar dit
maak nogtans seer. “Nee, dit lyk nie so nie,” sê sy sag. “Dis te verstane.” Sy
het soveel om te verantwoord. Sy kyk weg. Sy kan nie ophou om aan
Michael te dink nie. Sy is bang om oor hom uit te vra, veral vir hierdie man
wat hom so liefhet en haar met gelyke intensiteit verafsku. Wat maak hy
hier?
Paul weet nie wat om te sê nie. Hy voel aan dat hy haar gekrenk het. Sy
sug en kyk weer na hom, en hy wonder of sy so kalm is as wat sy voorgee
en of enigiets haar regtig raak. Dis een van die dinge omtrent haar wat hy
verag. Nie een pyl wat hy nog ooit na haar geskiet het, het haar al getref nie.
“Gaan jy soms terug na die vallei toe?” vra sy.
Die vraag betrap hom onkant. “Ek bly daar.”
“O,” sê sy verras.
“Ek is toe nooit daar weg nie.”
Sy reageer nie op die beskuldigende stemtoon nie. “Miriam het gesê jy
dink daaraan om weer jou geluk te gaan soek by die goudvelde.”
“Uit desperaatheid,” sê hy. “Miriam het my van plan laat verander.”
Angel se gesig versag. “Ja, ek is seker sy sou. Miriam is alewig besig om
iewers ’n siel te red. Hoe gaan dit met haar?”
“Sy verwag hierdie somer ’n baba.” Hy sien hoe die kleur uit Angel se
gesig loop en stadig weer terugvloei.
“Dank die Here.”
Dank die Here?
Sy glimlag, maar dis ’n hartseer glimlag. Hy het haar nog nooit so sien
glimlag nie. Hy wens hy kon weet wat sy dink.
“Paul, dis fantastiese nuus. Michael is seker in die wolke.”
“Michael?” Hy lag saggies, verward. “Wel, ek neem aan hy is.”
Hy voel gedwing om by te las: “Hy het die afgelope paar jaar baie goed
vir homself gedoen. Hy het nog grond gekoop en verlede lente ’n klein
kudde vee. Hy het die afgelope herfs ’n groter skuur gebou.” Sy hoef nie te
weet dat sy die helfte van sy hart saam met haar gevat het toe sy weg is nie.
Michael glo steeds in God, en God sal vir hom ’n goeie vrou voorsien.
Hy het nie verwag dat Angel oor hierdie nuus sal glimlag nie, maar hy is
verkeerd. Sy lyk glad nie verbaas nie. Sy lyk verlig en bly. “Michael sal
altyd goed doen.”
Die hartelose heks. Is dit al wat sy kan sê? Weet sy dan nie hoe lief
Michael haar het nie? Hoe dit hom byna vernietig het toe sy hom verlaat het
nie?
“En jy, Paul? Het jy al sake met hom uitgesorteer?”
Hy haat haar dat sy hom herinner aan wat gebeur het. Hy haat haar so
baie dat sy mond na staal proe. “Die oomblik wat jy weg was, was dinge
weer normaal,” sê hy, met die wete dat hy jok. Michael het nog nooit ’n
wrok teen hom gekoester nie. Hý was die een wat dit nie kon los nie. Niks
is dieselfde nie. Sy is steeds ’n muur tussen hulle.
“Ek is bly,” sê sy, en dit lyk asof sy regtig is. “Hy het jou nog altyd
liefgehad, weet jy. Hy het nooit opgehou nie.” Sy sien die uitdrukking op sy
gesig en verander die onderwerp. “Jy kan hom help om ’n ekstra kamer aan
te bou. Hy sal dit nou nodig hê.”
“’n Ekstra kamer? Waarvoor?”
“Met die koms van die baba,” sê sy. “Hy en Miriam sal tog uiteindelik ’n
groter huis nodig hê. Daar sal later meer kinders wees. Michael het altyd
gesê hy wil hope kinders hê. Nou kan hy hulle hê.”
Paul kan nie asem kry nie. Hy voel yskoud en naar.
Angel frons. “Wat’s fout?”
Hy sien die waarheid en die gevoel op die krop van sy maag is niks in
vergelyking met die groot stuk pyn wat op sy bors rus nie. O, God. O, God!
Is dít hoekom sy hom verlaat het?
Hy kan Miriam se teenwoordigheid aanvoel en haar woorde hoor. “Jy het
haar nooit verstaan nie, Paul. Jy het nooit eens probéér nie.” Miriam met
haar traangevulde oë. “As jy miskien net één keer probeer het, kon dinge
anders gewees het. Amanda wou my nooit in haar hart toelaat nie. Nie
volkome nie. Ek dink nie sy het ooit enigiemand laat agterkom hoeveel pyn
sy verduur nie, nie eens vir Michael nie. Miskien kon jy haar probeer help
het!” Miriam wat ferm staan voor sy veragting. “Ek het Angel nooit geken
nie. Ek ken net vir Amanda, en as dit nie vir haar was nie, sou ek nooit die
moed gehad het om na jou toe te kom nie.” Dit was Miriam se woorde oor
die dag toe sy na sy hut toe gekom het “Ek moet doen wat die beste vir jou
is.”
Angel kyk hom vraend aan. “Wat is fout, Paul? Wat is dit? Daar’s niks
verkeerd met Miriam nie, of wat?”
“Miriam is mý vrou, nie Michael s’n nie.”
Sy deins verbysterd terug. “Jóúne?”
“Ja, myne.”
“Ek verstaan nie,” sê sy stotterend. “Hoe kan sy jóú vrou wees?”
Hy kan nie antwoord nie. Hy weet wat sy bedoel. Hoeveel keer het hy
nie self gedink hy is nie goed genoeg vir haar nie. Sy is net reg vir Michael.
Hy het dit deurentyd gedink terwyl hy op haar verlief geraak het. Hy was
heeltemal oortuig daarvan tot daardie dag toe sy in die hut na hom toe
gekom het. “Angel, Michael wag steeds vir jou om huis toe te kom.”
Haar gesig word doodsbleek. “Dis al meer as drie jaar. Hy kan nie nou
nog wag nie.”
“Hy wag steeds.”
Paul se woorde tref haar tussen die oë. O, God. Sy maak haar oë vir ’n
oomblik toe. Sy staan op en draai om. Sy trek die kantgordyne oop en kyk
by die venster uit. Dit reën buite. Die pyn in haar bors is so verskriklik
groot dat sy nie kan asemhaal nie. Haar oë is aan die brand.
Paul sien hoe haar hand die gordyn vasklou tot haar kneukels wit is. “Ek
dink ek verstaan,” sê hy sag. “Jy het gedink as jy weggaan, sal hy na
Miriam toe gaan. Uiteindelik sal hy op haar verlief raak en van jou vergeet.
Is dit nie waar nie?” Het hy nie self verwag dat dit sal gebeur nie? Het die
moontlikheid hom nie waansinnig gemaak nie?
“Hy sou.”
Sy hoef nie eens te sê: “As jy nie ingemeng het nie.” Paul het eenkeer vir
Miriam gesê hy dink nie Angel het die vermoë om pyn of liefde te voel nie.
Daardie woorde kom nou terug om hom te koggel. Hoe kon hy so verkeerd
omtrent haar gewees het? Toe sy omdraai en na hom kyk, skaam hy hom
morsdood vir homself.
“Miriam is perfek vir hom,” sê Angel. “Sy’s die tipe vrou wat hy nodig
het. Sy is rein en intelligent en sag. Sy het ’n ongelooflike kapasiteit om lief
te hê.”
Hierdie keer hoor hy soveel meer as woorde. “Dis alles baie waar, maar
Michael het jóú lief.”
“Hy wil kinders hê, en Miriam sou dit vir hom kon gee. Hulle verstaan
mekaar.”
“Omdat hulle vriende is.”
Haar oë blits. “Hulle kon méér as vriende gewees het.”
“Miskien,” gee hy toe en besef hoe selfsugtig hy eintlik was. “As ek jou
moed gehad het en weggegaan het. Maar ek het nie. Ek kon nie.” Tot op
hierdie oomblik het hy gedink dis omdat hy Miriam té liefgehad het, maar
hy sien nou glashelder dat hy homself liewer gehad het. Angel het ’n hoër
uitdrukking van die liefde verstaan: opoffering.
Hy leun vooroor en sit sy kop in sy hande. Hy weet nou hoekom Miriam
daarop aangedring het dat hy die een is wat Angel moet kry. “Ek was
verkeerd,” kreun hy. “Ek was die hele tyd verkeerd oor jou.” Sy sig word
wasig. Hy kyk weer op. “Ek het jou gehaat. Ek het jou so gehaat dat ek ... ”
Hy hou op met praat, dis vir hom onmoontlik om verder iets te sê.
Angel gaan sit weer agter die lessenaar. Sy lyk hartseer. “Jy was oor ’n
hele paar dinge reg omtrent my.”
Haar woorde bevestig net wat hy nou weet. Hy lag halfhartig. “Nie
naastenby nie. En ek weet waarom. Daardie dag langs die pad. Ek het
gewéét jy’s reg. Jy was reg. Ék het hom verraai.”
Haar oë skiet vol trane. “Ek kon nee gesê het.”
“Het jy dit toe geweet?”
Sy bly ’n oomblik lank stil. “’n Deel van my moes geweet het. Miskien
wou ek net nie weet nie. Miskien was dit om jou seer te maak. Dit was só
lank gelede. Ek wou nooit weer daaraan dink nie. Maar elke keer dat ek jou
gesien het, was dit daar. Ek kon nie daarvan wegvlug nie.”
Sy onthou die donkerte waarin sy gelewe het. Sy onthou al daardie
maande toe Paul weggebly het en hoe seer dit vir Michael gemaak het. Sy
kan haar net voorstel hoeveel pyn Paul daardeur moes verduur, en sy
skaamte. En die skuldgevoelens oor alles. Het sy nie haar eie
skuldgevoelens gehad om te hanteer nie?
Dit was háár skuld. Sy het dit toegelaat. Om watter rede ook al. Wat
maak dit nou saak? Sy kan niemand anders buiten haarself blameer nie. Dit
was haar keuse. Sy het glad nie aan die gevolge gedink nie. Die uiteinde
was soos ’n klippie wat op gladde water gegooi word. Die plons, en dan die
sirkels wat al wyer word. Dit vat lank voor die water weer heeltemal glad
is. En die klip is altyd daar; koud en hard in die stil poel. Michael. Paul. Sy
self. Gebroke siele wat desperaat is om weer aanmekaargesit te word.
Die seerkry en kloof tussen Michael en Paul het net groter geword. Nie
omdat Michael nie kon vergewe nie, maar omdat Paul homself nie kon
vergewe nie. Is dit nie presies hoe sy vir die grootste deel van haar lewe
gevoel het nie? Dat alles wat al ooit met haar gebeur het, op die een of
ander manier haar eie skuld was? Dat dit selfs háár skuld is dat sy gebore
is? Sy het die laaste paar jaar geleer dat sy nie al mens is wat so voel nie. Sy
hoor dit elke dag van ander vroue wat dieselfde mishandeling as sy moes
verduur. Dit is baie makliker om ander te vergewe vir dit wat hulle aan haar
gedoen het, as om haarself te vergewe. Sy het nou nog oomblikke wanneer
sy daarmee worstel.
Haar mond bewe. “Paul, ek is só jammer vir die pyn wat ek jou gebring
het. Ek is régtig jammer.”
Hy sit vir ’n lang ruk doodstil. Hy kan nie praat nie. Hy dink aan al die
veragting wat sy moes verduur. Van sy kant af. En nou vra sy om
verskoning. Hy het haar ondergang beplan en homself in die proses
verwoes. Van daardie tyd af is hy verteer deur haat; verblind daardeur. Ek
was ondraaglik en eiegeregtig en wreed. Die besef is bitter en pynlik, maar
terselfdertyd ’n verligting. Dit is ’n vreemde soort vryheid om voor ’n
spieël te staan en homself duidelik te sien. Vir die eerste keer in sy lewe.
Wat sou van hom geword het as dit nie vir Miriam was nie? Sy liefde vir
haar het hom sagter gemaak. Sy het iets in hom raakgesien wat hy nooit
gedink het enigiemand anders as Tessie kon sien nie. En sy het iets in Angel
gesien wat hy nie kon sien nie. Hy het daaroor gewonder, maar het
hardkoppig vasgeklou aan dit wat hy geglo het. Michael se vrou was vir
hom altyd Angel, die peperduur prostituut van Pair-a-Dice – en hy het haar
altyd só behandel.
Noudat hy daaraan terugdink, kan hy nie een keer onthou dat sy haarself
verdedig het nie. Hoekom nie? Hy weet wat die antwoord op daardie vraag
ook is. Sy het nou net aan hom toegegee toe sy gesê het hy was reg oor
haar. Dit was nie minagting of hoogmoed wat haar stilgemaak het nie, dit
was skaamte. Sy het alles geglo wat hy van haar gesê het. Sy het geglo sy is
besmet en onwaardig, net goed om gebruik te word.
En ek het gehelp om haar daarvan te oortuig. Ek het die rol vervul wat
Michael geweier het om te vertolk.
Die selfverwyt verswelg hom. Dit maak seer om na haar te kyk. Dit
maak selfs nóg seerder om deur die waarheid in die gesig gestaar te word –
dat hy grootliks verantwoordelik is vir Michael se pyn ook. As hy net een
keer uitgereik het soos Miriam gesê het, kon dinge dalk anders verloop het,
maar hy was te trots, te seker van sy saak.
“Ék is jammer,” sê hy. “So verskriklik jammer. Kan jy my vergewe?”
Sy wonder of hy weet dat die trane oor sy wange stroom, en sy voel
skielik ’n onverklaarbare warmte vir hierdie man. Michael se broer, háár
broer. “Ek het jou lankal vergewe, Paul. Ek het die vallei en Michael uit my
eie keuse verlaat. Moenie die skuld daarvoor op jou neem nie.”
Sy leun vooroor met haar hande stewig op die lessenaar en kladblok.
“Kom ons sit dit nou agter ons. Asseblief. Vertel my alles wat gebeur het
vandat ek weg is.” Sy glimlag en spot hom goedig. “Veral hoe ’n man soos
jý daarin geslaag het om ’n meisie soos Miriam se hart te verower?”
Vir die eerste keer in maande lag hy. “God alleen weet,” sê hy en skud sy
kop. Hy sug swaar en ontspan. “Sy het my lief. Sy sê toe sy my die eerste
keer ontmoet het, het sy geweet sy gaan eendag met my trou.”
Net om van Miriam te praat, bring die warm gevoel terug. “Ek het haar
dopgehou en oneindig begeer en dan al wat ’n rede is, gevind hoekom ek
nie eens goed genoeg is om haar roksoom te soen nie. Toe kom sy een
oggend teen dagbreek na my hut. Sy het gesê sy gaan by my intrek. Sy het
voortgegaan om my te vertel hoe nodig ek haar het. Ek het nie die krag
gehad om haar huis toe te stuur nie.”
Angel lag sag. “Ek kan my nie indink dat Miriam so voor op die wa kan
wees nie.”
“Sy sê sy het by jou geleer wat dit is om moed te hê.” Hy het nie toe
geweet wat sy bedoel nie. Nou weet hy. Angel het Michael lief genoeg
gehad om weg te gaan van hom af toe sy gedink het dis vir sy beswil.
Miriam het om dieselfde rede na hom gekom. As sy nie het nie, sou hy
teruggegaan het na die goudvelde en dronkpartytjies en bordeelbesoeke. Hy
sou waarskynlik daar doodgegaan het met sy gesig in die modder.
“Miriam het my gestuur om jou te kom soek. Amanda, ek wil jou
saamvat huis toe.” Hy bedoel dit.
Amanda. Haar keel trek toe en sy glimlag. Nog ’n las is van haar skouers
af en sy is dankbaar, maar dis nie só maklik of eenvoudig nie. Sy kan nie
toelaat dat dit is nie. “Ek kan nie teruggaan nie, Paul. Nooit nie.”
“Waarom nie?”
Hoeveel moet hy weet om te verstaan om haar bondgenoot te word?
“Daar’s baie van my wat jy nog nie weet nie.”
“Nou vertel my dan.”
Sy kou aan haar lip. Hoeveel is genoeg? “Toe ek agt jaar oud was, is ek
as prostituut verkoop,” sê sy stadig en staar voor haar uit na niks. “Totdat ek
met Michael getroud is, het ek geen ander lewe geken nie.” Sy kyk weer na
hom. “En ek het hom nooit verstaan nie, nie soos hy gehoop het ek moet
nie. Ek kan nie verander wat ek was nie. Ek kan die dinge wat gebeur het,
nie ongedaan maak nie.”
Paul leun vooroor. “Jy’s die een wat nog nie verstaan nie, Amanda. Daar
is iets wat ek tot nou toe nie kon verstaan nie omdat ek te hardkoppig en
jaloers en trots was. Michael het jóú gekies. Met jou hele verlede, al jou
swakhede, alles. Hy het van die begin af geweet waar jy vandaan kom en
dit het absoluut geen verskil aan hom gemaak nie. Daar was baie vroue wat
enigiets sou gee om met hom te trou. Dierbare, verstandige, maagdelike
meisies uit Godvresende huise. Hy het nooit op een van hulle verlief geraak
nie. Hy het jou een kyk gegee en gewéét. Van die begin af. Jý. Niemand
anders nie. Hy het my dit alles vertel, maar ek het gedink dit gaan net oor
seks. Nou weet ek dit het nie. Dit was iets anders.”
“’n Gekke ongeluk ... ”
“Ek dink dis omdat hy geweet het hoe nodig jy hom het.”
Sy skud haar kop. Sy wil dit nie hoor nie, maar Paul is vasberade.
“Amanda, hy het jou met sy eie sweet en bloed bevry, en jy weet dit.
Moenie nou vir my sê jy kan nie na hom toe teruggaan nie.”
Dit maak te seer omdat sy hom nog liefhet en nodig het. Partykeer dink
sy sy sal doodgaan as sy nie sy stem hoor nie. Sy sal haar oë toemaak en sy
gesig voor haar sien en hoe hy stap en hoe hy vir haar glimlag. Hy het haar
geleer hoe om te speel en te sing en vrolik te wees, dinge wat sy nooit
voorheen geken het nie. En die soetheid van daardie herinneringe is pynlik;
die skeiding onuithoudbaar.
Soms was die pyn só verskriklik dat sy probeer het om glad nie aan hom
te dink nie. Maar die smagting na hom is voortdurend daar, die
nimmereindige, pynlike honger. Hy alleen het homself oopgestel om deur
Christus in haar lewe gebruik te word. Deur hom kon Christus haar vul tot
sy oorgestroom het. Michael het altyd gesê dis God, nou weet sy dis waar.
En die wete dat hy die brug tussen haar en haar Verlosser was, laat haar
net nóg meer na Michael verlang.
Sy kan haarself nie toelaat om aan al hierdie dinge te dink nie. Sy moet
dink aan wat goed is vir hom, nie aan wat sy vir haarself wil hê nie. Sy het
nou ’n doel en bevrediging in haar lewe. Nagmerries en selfvertwyfeling
het nie meer die oorhand oor haar nie. Ten minste nie tot nou nie. En sy
moet vir Paul die volle waarheid vertel sodat hy kan verstaan.
“Ek kan nie sy kinders hê nie, Paul. Nooit nie. Toe ek baie jonk was, is
iets aan my gedoen om seker te maak.” Sy moet stilbly en vinnig wegkyk
voor sy kan aangaan. “Michael wil kinders hê. Jy weet dit. Dis sy droom.”
Sy kyk weer na hom. “Kan jy nóú verstaan waarom ek nie kan teruggaan
nie? Ek weet hy sal my weer terugvat. Ek weet ek sal steeds sy vrou wees.
Maar dit sal nie regverdig wees nie, of hoe? Nie teenoor ’n man soos hý
nie.”
Sy sukkel om haar trane, wat deesdae so dikwels vlak lê, te beheer. Sy
sal nie ingee nie. Sy kan nie. As sy begin, gaan sy huil totdat niks van haar
oorbly nie.
Paul weet nie wat om te sê nie.
“Asseblief,” sê sy. “Wanneer jy teruggaan, moenie vir Miriam sê jy het
my gesien nie. Sê enigiets. Vertel haar ek is landuit. Sê ek is dood.”
Hy krimp ineen toe hy hoor hoe sy eie gedagtes by hom kom spook.
“Asseblief, Paul. As jy vir haar sê, sal sy ongetwyfeld vir Michael sê, en
hy sal voel hy moet my weer kom haal. Moenie dat hy uitvind waar ek is
nie.”
“Jy hoef nie daarvoor te vrees nie. Hy het vir Miriam gesê hy gaan jou
nie dié keer terugsleep nie. Hy sê dis jóú keuse, dat jy uit jou eie moet
terugkom of anders sal jy nooit regtig besef dat jy werklik vry is nie.” Hy
wil haar nou meer as enigiets oortuig dat sy saam met hom moet huis toe
kom. “Het jy ooit vir hom gesê jy kan nie kinders hê nie?”
“Ja,” sê sy sag.
“Wat het hy gesê?”
Sy skud haar kop en los dit daar. “Jy ken vir Michael.”
Hy ken hom inderdaad. Hy staan op en plaas sy hande op die lessenaar.
“Hy het met jou getrou, Amanda. In voorspoed en teëspoed en vir solank
julle albei lewe, en dís hoe lank hy vir jou sal wag, en selfs langer, soos ek
vir Michael ken. As jy maar weet hoe seer hy het ... ”
“Moenie.”
“Jy kén hom. Het hy al ooit voorheen met jou moed opgegee? Hy sal ook
nie nou ophou om vir jou te wag nie. Hy sal nóóit moed opgee nie.”
Sy skud haar kop. Sy is bleek en ontstig. “Ek kán nie teruggaan nie.”
Paul kom orent. Hy weet nie of hy haar iets gegee het om aan te dink en
of hy haar net nóg meer pyn besorg het nie. “Ek het gesê wat ek kon. Nou
hang dit van jóú af, Amanda. Moet net nie te lank vat om te besluit nie. Ek
mis my vrou.” Hy skryf die naam en adres neer van die hotel waar hy
oornag het. “Ek wil graag teen nege-uur môre-oggend in die pad val. Laat
weet my wat jy besluit.”
Hy tel sy sak op en gooi dit oor sy skouer. “Watter soort plek is dié in elk
geval? ’n Losieshuis?”
Sy kyk op na hom, vir die oomblik is haar probleem op die agtergrond.
“Op ’n manier. Dis ’n huis vir gevalle vroue. Vroue soos ek wat hul lewe
wil verander. Ons was baie gelukkig. Verskeie ryk inwoners het ons
finansieel gehelp.”
Die man by die bank, dink Paul. God, vergewe my. Wat ’n dwaas was ek
nie. “Het jy dit begin?”
“Nie op my eie nie. Ek het baie hulp gehad.”
“Wat leer julle hulle daarbinne?” Hy knik in die rigting van die groot
vertrek in die gang af.
“Lees, skryf en syfers, kookkuns, naaldwerk, hoe om ’n klein besigheid
te bestuur. Sodra hulle gereed is, kry ons vir hulle werk. Ons het met die
hulp van verskillende kerke ’n manier gekry om dit reg te kry.”
Vader Patrick was al ’n paar keer by haar. Party Katolieke priesters is
baie soos Michael. Toegewy aan God, nederig, geduldig en liefdevol.
Sy aarsel. “Magdalena is een van die dinge waaraan ek moet dink, Paul.
Hulle het my hier nodig.”
“Dit maak nie saak hoe ’n goeie doel dit is nie, dis op hierdie oomblik
net ’n verskoning. Laat iemand anders die leisels oorneem. Daardie lang
dame met die laggende oë lyk asof sy dinge kan bestuur.” Hy stap na die
deur. “Jou eerste verpligting is teenoor Michael.” Hy het nou alles gesê wat
hy moontlik kon. “Ek sal môre op die laatste tot twaalfuur die middag wag.
Dan gaan ek huis toe.”
Nadat hy weg is, sit Angel vir ’n lang ruk en dink. Die son sak, maar sy
steek nie die lamp aan nie. Sy onthou hoe sy op ’n heuwel ’n myl van die
plaashuis af sit en hoe Michael sê: “Dís die lewe wat ek jou wil gee.” En hy
het.
Hoe kan hy besef wat hy vir haar gedoen het? Hoe kan hy selfs raai dat
haar lewe nuut is omdat hy haar gewys het hoe om te lewe?
Paul het gedink sy het teruggekeer na haar ou werk. Wat as Michael dit
ook glo? Sy kan dit nie verdra dat hy dit moet dink nie. Dit sal alles wat hy
ooit vir haar gedoen het, betekenisloos maak. En dit het álles beteken.
God, was ek verkeerd? Moet ek teruggaan? Hoe kan ek hom ná al
hierdie tyd weer in die oë kyk? Hoe kan ek hom sien en wéér weggaan? Wat
wil U hê moet ek doen? Ek weet wat ek wil doen. O, God, ek weet. Maar
wat wil U hê moet ek doen?
Sy hou haarself vas en wieg heen en weer. Sy byt op haar lippe en baklei
teen die hartseer. Hoe kan ek hom nié bedank nie? Het ek ooit regtig
verduidelik wat hy vir my gedoen het? Wat het ek al ooit aan hom
teruggegee behalwe hartseer? Maar sy het nou gawes wat sy hom kan bied.
Sy het opgestaan teen Duke. Sy het die pad geloop wat Michael haar geleer
het. As gevolg daarvan het mense haar vertrou en haar finansieel
ondersteun om die Magdalena Huis te begin. Sy doen iets goeds met haar
lewe, en dis alles as gevolg van hom, as gevolg van dit wat sy in hom
gesien het. “Soek en jy sal vind,” het hy vir haar gelees. En sy het. Dalk sal
dit vir hom vrede bring as sy ’n manier kan vind om hom te vertel.
Sarah, geliefde.
God, ek vra vir niks meer as dit nie. Sy maak haar oë styf toe. Ek sal U
nie vir meer vra nie.
Die klasse is lankal klaar toe sy uit die kantoor stap. Die meisies het
klaar aandete geëet en is in hul kamers vir die aand. Angel gaan met die
trap op. Sy sien lig onder Susanna se deur en klop.
“Kom binne.”
Angel gaan in.
“Wat het gebeur?” vra Susanna. Sy staan van die bed af op en kom na
haar toe. Sy vat haar hande in hare. “Jy lyk so bleek. Ons het jou by aandete
gemis. Wie was daardie man?”
“’n Vriend. Susanna, ek wil hê jy moet die bestuur van Magdalena by my
oorneem.”
“Ék?” vra sy verbaas. Sy lyk minder seker van haarself as wat Angel
haar nog ooit sien lyk het. Sy los haar hande en staan ’n paar tree terug. “Jy
kan dit nie regtig bedoel nie. Ek kán nie!”
“Ek bedoel dit en, ja, jy kan.” Susanna is méér as bevoeg om dinge glad
te laat loop. Sy besef dit nog net nie. Sy sal deur die vuur stap en selfs
sterker as nou anderkant uitkom. Angel is meteens baie seker daarvan.
“Maar hoekom? Waar gaan jy heen?”
“Huis toe,” sê Angel. “Ek gaan huis toe.”
Vier en dertig

Kom, laat ons teruggaan na die HERE toe!


Hy het ons verskeur; Hy sal ons weer genees.
Hy het ons geslaan; Hy sal ons wonde weer verbind.
Hosea 6:1

“Paul!” Miriam hardloop by die hut uit en gooi haar arms om sy nek. Sy
huil van blydskap. “O, ek het jou só baie gemis!” Sy soen elke stukkie van
sy gesig wat sy kan bykom. Hy lag en soen haar op die mond en voel hoe
die stukkies binne hom weer bymekaar begin kom. Hy is tuis! Al die
spanning van die afgelope weke, die skuldgevoelens van die maande voor
dit, verdamp. Sy druk haarself stywer teen hom vas, en ander emosies
stroom deur sy liggaam. Dit maak hom lighoofdig om Miriam weer in sy
arms te hê.
Toe hy haar los, is sy uitasem en het ’n blos op haar wange. Sy het vir
hom nog nooit so beeldskoon gelyk nie. Hy bekyk haar goed en sien dat
haar swanger magie al opmerklik is. “Liewe aarde, maar jy’t groot geword,”
sê hy en vryf liefdevol oor haar maag.
Sy lag en plaas haar hand bo-oor syne. “Het jy haar opgespoor?”
“In San Francisco.” Sy hart word nog ligter toe hy die kyk in Miriam se
oë sien.
Sy glimlag liefdevol op na hom. “Ek kan sien dinge het uitgewerk.” Sy
lyk verlig en baie in haar skik. Haar woede teenoor hom is nou heeltemal
vergete. “Waar is sy?” vra sy en kyk verby hom.
“Sy wou ’n rukkie langs die pad bly sit. Ek dink sy berei haarself vir ’n
moeilike tyd voor. Sy het die laaste twee dae op pad amper niks gesê nie. Sy
het verander, Miriam.”
Sy kyk soekend in sy oë en glimlag. “Jy ook, my liefste. Jy het vrede
gemaak met jouself, nie waar nie?”
“Ek het hulp gehad op pad.”
Miriam sien Amanda uiteindelik raak. Sy los Paul net daar en hardloop
met uitgestrekte arms in die pad af om haar te ontmoet. Die twee vroue
omhels mekaar opreg, en Paul glimlag. Miriam los Angel en begin
opgewonde gesels, die trane rol oor haar wange. Angel lyk bleek en
gespanne; geensins op haar gemak nie. Sy kyk vinnig na Michael se grond,
en Paul verstaan hoekom. Amanda is bang om Michael ná so ’n lang tyd
weer te sien.
Here, laat dinge tussen hulle uitwerk. Asseblief. Ek sal dit as ’n
persoonlike guns beskou.
“Ek sal water bring, dan kan jy lekker bad,” sê Miriam en haak haar arm
by Amanda in toe hulle na Paul toe aanstap. “Ek het vanoggend brood
gebak, en daar is sop op die vuur. Jy moet dood wees van die honger ná die
reis.”
“Ek kan nie langer hier bly nie, Miriam.”
Miriam gaan staan stil. “Jy kan nie? Maar waarom nie?”
“Ek moet na Michael toe gaan.”
“Natuurlik moet jy, maar jy kan eers ’n paar minute rus en bad. Ons kan
daaroor praat.”
“Ek kan nie,” sê Angel. “As ek langer wag, is ek bang ek sal glád nie kan
gaan nie.” Haar glimlag is flouerig.
Miriam kyk ondersoekend na haar gesig. Sy kyk vlugtig na Paul en dan
weer na Amanda. Sy gee haar ’n stywe drukkie. “Ons sal saam met jou
stap.” Sy kyk smekend na Paul.
“Natuurlik sal ons,” stem hy gemoedelik in, en Angel knik. Noudat die
oomblik aangebreek het, is hulle almal bang vir dit wat voorlê. Presies
hoeveel geduld het Michael? Nóg erger, gaan hy kwaad wees dat hulle sake
in eie hande geneem het? Of het hulle die hele tyd in elk geval net God se
wil gedoen?
Toe Michael se opstal sigbaar word, gaan staan Angel. “Ek moet alleen
verder gaan,” sê sy vir hulle. “Dankie dat julle so ver saam met my gekom
het.”
Miriam lyk gereed om te stry. Sy kyk na Paul om te sien of hy met haar
saamstem, maar hy skud sy kop. Amanda is reg.
Angel soen Miriam op die wang en gee haar ’n drukkie. “Dankie dat jy
Paul gestuur het,” fluister sy.
Hulle kyk hoe sy alleen wegstap.
Paul sit sy arm om Miriam se skouers en hou Amanda dop. Hy onthou
hoe Angel altyd gestap het: kop omhoog met ’n reguit rug. Arrogansie, het
hy gedink, maar dit was trots wat haar so lank laat oorleef het, en trots wat
haar vir so lank eenkant gehou het. Nou het sy ’n kalm grasie, ’n pragtige
nederigheid.
“Sy is bang,” sê hy stil.
“Sy was nog altyd bang,” sê Miriam en leun teen hom aan. “Dink jy ons
het die regte ding gedoen, Paul? Miskien moes ons haar uit haar eie laat
terugkom het.”
Dis die eerste keer dat hy hoor Miriam is onseker. “Sy sou nie. Sy het
reeds besluit. Sy het gedink jý is met hom getroud.”
“Omdat sy gesê het ek moet. Sy het gesê sy wil hê ek moet sy kinders
kry.” Sy kyk op na hom, haar oë swem in trane. “Maar ek wou net joune
hê.”
“O, my lief.” Hy hou haar styf vas. “Ons moet net onthou watter tipe
man Michael is.”
“Ja.” Sy sit haar arms om hom. “Dit is nou in hulle hande, nie waar nie?”
Paul draai haar gesig na hom en soen haar met al die verlange wat hy al
die weke wat hulle weg van mekaar was, gevoel het. “Ek weet nie wat ek
sonder jou sal doen nie.”
Sy trek sy kop af en soen hom terug. Dié slag is dit ’n minnaarsoen.
“Kom ons gaan huis toe.”

Angel kan Michael in die lande sien werk. Sy is so oorweldig deur botsende
emosies dat sy dit skaars kan verduur. Selfvertwyfeling, selfhaat,
worstelende trots en vrees. Alles dinge wat haar so lank gelede laat
weghardloop het en party wat haar daarvan weerhou het om enigsins voor
nou na hom terug te kom. Sy kan nie toelaat dat dit haar weer verhinder nie.
O, God, gee my krag. Asseblief. Loop saam met my. Help my. Ek weet nie
of ek hierdeur kan kom nie.
Ek het jou nie ’n hart vol vrees gegee nie.
Sy weet presies die oomblik toe Michael haar raaksien. Hy kyk vlugtig
op toe sy die weiland oorsteek. Hy staan doodstil en kyk na haar in die
verte.
Ek moenie huil nie. Ek moenie.
Sy hou aan om in sy rigting te stap. Hy beweeg nie. Die twyfel begin
weer, maar sy baklei daarteen. Sy wil ontslae raak van al die struikelblokke
wat haar van hom weggehou het al daardie maande van miskenning en
vrees en onsekerheid. Sy wil die aaklige herinneringe aan haar kinderjare en
die skuldgevoelens wat sy op haarself geneem het vir dinge waarteen sy
magteloos was, van haar afgooi.
As dinge maar anders was. Sy wil só bitter graag rein wees vir hom, om
vir hom nuut te wees. Sy wil hom tevrede stel. Sy sal die res van haar lewe
opoffer om daarin te slaag, as hy haar net sal toelaat. Sy wil haar verlede
van haar afgooi. O, as sy net weer Eva kon wees, ’n nuwe skepsel in die
paradys. Voor die sondeval.
Met bewende hande raak sy ontslae van die kleding van die wêreld. Sy
laat val haar tjalie en trek haar wolbaadjie uit. Sy maak die klein knopies
van die bloes los. Sy skud dit af en laat dit val soos wat sy loop. Sy maak
haar romp los en laat dit oor haar heupe gly tot dit op die grond val. Sy klim
uit die romp uit.
Sonder huiwering stap sy na hom toe.
Sy het nooit alles gesê wat sy moes gesê het nie. Hy weet nie wat hy vir
haar gedoen het nie. Hy was soos die see, soms stormagtig met branders
wat teen ’n rotswand slaan, ander kere was hy soos die egalige, glyende
golwe. Maar hy was altyd soos die gety wat haar strand skoon was en haar
kuslyn hervorm.
Here, dit maak nie saak wat hy doen of sê nie, ek moet hom bedank. Hy
was altyd u goeie en getroue dienskneg, en ek het hom nooit bedank nie. Nie
genoeg nie. O, God, nooit, nooit genoeg nie.
Sy trek die kamisool en onderstuk, die korsetbedekking en korset en die
lang damesbroek uit. Met elke kledingstuk wat sy uittrek en laat val, raak sy
ontslae van woede, vrees, haar blindheid vir die baie vreugdes in haar lewe,
haar eie desperate trots. Sy het nou net een doel voor oë: om vir Michael te
wys dat sy hom liefhet, en sy skil die lae trots een vir een af tot sy deur haar
eie naaktheid verootmoedig is. Heel laaste trek sy haar dun leerskoene uit
en maak haar hare los.
Soos wat sy naderkom, kan sy grys langs sy slape en die nuwe lyne op sy
geliefde gesig sien. Alles wat sy voel, loop oor toe sy hom in die oë kyk. Sy
het nog altyd haar eie pyn en eensaamheid geken; haar eie nood. Nou sien
sy syne raak.
O, wat het sy gedoen deur haar liefde te onderdruk en haar rug op hom te
draai? Sy het God gespeel en gedoen wat sý gedink het die beste is vir hom.
Maar al wat sy gedoen het, was om vir hom pyn te bring. Sy het gedink hy
is te sterk om seer te kry, te wys om te wag. Hoeveel het haar marteling
hom nie gekos nie?
Al haar versigtig gekose woorde verdwyn meteens. So baie woorde om
’n eenvoudige, opregte ding te sê: Ek het jou lief, en ek is jammer. Sy kan
nie eens praat nie. Die trane wat haar hele lewe lank in haar vasgevries was,
begin vloei, en die laaste bastion verkrummel voor die vloed.
Angel val op haar knieë voor Michael en huil. Warm trane val op sy
stewels. Sy vee die trane met haar hare af. Sy buk stukkend vooroor en sit
haar hande op sy voete. “O, Michael, Michael, ek is jammer ... ”
O, God, vergewe my.
Sy voel sy hand op haar kop. “My lief,” sê hy. Hy vat aan haar en trek
haar regop. Sy kan hom nie in die gesig kyk nie en probeer haar eie
wegsteek. Michael trek sy hemp uit en sit dit om haar skouers. Hy lig haar
ken, en sy kan nie anders as om hom in die oë te kyk nie. Sy oë is net so nat
soos hare, maar daar skyn ’n lig in. “Ek het gehoop jy sal eendag huis toe
kom,” sê hy en glimlag.
“Daar is só baie wat ek moet sê. Só baie om jou te vertel.”
Hy kam sy vingers deur haar golwende hare en lig haar kop op. “Ons het
die res van ons lewens.”
Op daardie oomblik wéét sy dat sy getwyfel het of hy haar weer sal
vergewe, maar hy het reeds. Selfs al bring sy haar hele lewe saam met hom
deur, sal sy nooit sy dieptes ken nie. O, Here, dankie, dankie! Sy val in sy
arms, slaan haar hande om sy sterk rug en druk haarself so styf moontlik
teen hom vas. Haar dankbaarheid is so oorweldigend dat sy dit skaars kan
verduur. Hy is warmte en lig en lewe. Sy wil vlees van sy vlees, bloed van
sy bloed wees. Vir altyd. Sy maak haar oë toe, asem sy soet reuk in en voel
dat sy uiteindelik weer tuis is.
Sy het gedink dat sy verlos is deur sy liefde vir haar, en op ’n manier is
dit so. Dit het haar skoon gewas, nooit beskuldig nie. Maar dit was net die
begin. Dit was die feit dat sy hom óók liefgehad het wat haar uit die
duisternis opgetel het. Wat meer kan ek hom gee? Ek sal hom énigiets gee.
“Amanda,” sê Michael en hou haar met soveel teerheid vas.
“Tirsa ... ”
Sarah, kom die stil, sagte stem, en sy wéét wat die één geskenk is wat sy
het om te gee. Haarself. Angel maak haar los uit Michael se arms en kyk op
na hom. “Sarah, Michael. My naam is Sarah. Ek weet nie wat die res
daarvan is nie. Net dit. Sarah.”
Michael knip sy oë. Sy hele liggaam oorspoel van vreugde. Die naam
pas só goed by haar. ’n Swerwer in ’n vreemde land; ’n onvrugbare vrou vol
vertwyfeling. Tog het Sara van ouds ’n simbool van vertroue in God
geword en uiteindelik die moeder van ’n nasie. Sara. ’n Seën. Sara. ’n
Onvrugbare vrou wat ’n seun in die wêreld gebring het. Sy beeldskone,
gekoesterde vrou sal eendag vir hom ’n kind gee.
Dis ’n belofte, nie waar nie, Here? Michael voel die warmte en
versekering daarvan in elke sel van sy liggaam.
Hy hou sy hand uit. “Hallo, Sarah.” Sy lyk so dierbaar en verward toe sy
haar hand in syne sit. Hy skud dit en grinnik. “Dis baie aangenaam om jou
te ontmoet. Uiteindelik.”
Sy lag. “Jy is so ’n lawwe, lawwe man, Michael.”
Michael lag saam met haar en neem haar in sy arms om haar te soen. Hy
voel haar arms om hom toe sy hom ook soen. Hierdie keer is sy tuis vir
goed. Selfs nie eens die dood sal hulle skei nie.
Toe hulle asem skep, tol Michael haar in die rondte en tel haar
vreugdevol hoog in die lug op. Sy gooi haar kop agteroor en maak haar
arms oop om die lug te omhels. Trane van dankbaarheid stroom oor haar
wange.
Michael het eenkeer vir haar gelees hoe God ’n man en vrou uit die
paradys gejaag het. Maar ten spyte van al hul menslike foute en
mislukkings, het God hulle weer die pad na die paradys gewys.
Jy moet die Here jou God liefhê, en wees lief vir mekaar. Julle moet
mekaar liefhê soos Hy julle liefhet. Ongeag wat julle teëkom, moet julle
mekaar met krag en doelgerigtheid en hartstog liefhê. Moenie verswak nie.
Staan vas teen die duisternis en wees lief vir mekaar. Dis die pad terug na
Eden. Dis die pad terug na die lewe.
Epiloog

In die nag vloei die trane,


maar in die oggend is daar vreugde.
Psalm 30:6

Sarah en Michael het baie gelukkige jare saam gehad. Op hul sewende
huweliksherdenking is hul gebede beantwoord met die geboorte van ’n
seun, Stephen. Ná Stephen was daar Luke, Lydia en Esther. Miriam en Paul
het ook gelukkig gebly en het drie seuns gehad: Mark, David en Nathan.
Albei gesinne was voorspoedig en het lewenslange vriende gebly. Saam
het hulle ’n kerk en ’n skool vir die gemeenskap gebou en nog baie setlaars
in hulle vallei verwelkom.
Susanna Axle het tot met haar dood in 1892 by die Magdalena Huis
aangebly. Met haar hulp het dosyne jong meisies wat eens in prostitusie
vasgevang was, die drumpel oorgesteek na ’n beter lewe. ’n Hele paar het
met goeie mans getrou en belangrike burgers geword.
Hoewel Sarah se familie ryk en beroemd geword het – en uiteindelik
dokters, ambassadeurs en sendelinge opgelewer het – het sy een week elke
jaar na die Magdalena Huis teruggekeer. So lank as wat sy kon, het sy deur
die Barbaryse kus en af na die dokke gestap om met jong prostitute te praat
en hulle te probeer oortuig om hul lewens te verander. As iemand gevra het
waarom sy dit doen, was haar antwoord: “Ek wil nooit vergeet waar ek
vandaan kom en wat God alles vir my gedoen het nie.” Sy het dikwels van
die dokke af na die Magdalena Huis teruggekeer met ’n Angel aan haar
hand.
Ná ’n huwelik van agt en sestig jaar is Michael ter ruste gelê. Sarah het
hom binne ’n maand gevolg. Dit was hul wens dat slegs eenvoudige
houtkruise hul grafte aandui. ’n Paar dae ná Sarah se begrafnis is ’n
grafskrif egter op haar kruis uitgekrap.
Hoewel sy laag geval het,
het God haar opgehef
tot ’n engel.
Van die outeur
Langer as twee dekades gelede, met ’n huwelik wat verbrokkel, ’n chaotiese
lewe, vasgevang deur skuldgevoelens, skaamte en woede, het ek die
uitnodiging aanvaar van twee van my bure – ’n klein seuntjie aan die een
kant en ’n vrou aan die ander kant – en kerk weer ’n “probeerslag” gegee.
Ek het Jesus ontmoet deur die verwelkoming en vriendelikheid van
kerklede en die ryk Bybellering dorstig ingedrink. My man, Rick, het
ingestem om ons huis beskikbaar te stel vir Bybelstudie en soos wat leraar
Hahn begin het om die Woord aan ons en almal wat daar saam was, te leer,
het lewens begin verander.
Die boek Hosea het die laaste mure om my hart afgebreek en ek het
gevoel hoe God se liefde instroom. Hoewel ek ’n professionele skrywer is,
het ek vir ’n geruime tyd met “skrywersblok” gesukkel. Ek kon nogtans
God se begeerte aanvoel dat ek weer moet skryf – nog ’n liefdesverhaal,
maar hierdie keer een wat op Hom fokus en ’n verhaal wat die diepte en
krag van sy liefde aan elkeen van ons wys. Die volgende jaar was die mees
intense jaar van skryf wat ek nog ooit ervaar het. Redeeming Love was die
eindproduk.
Ek het Jesus se teenwoordigheid ervaar deur die proses om die Hosea-
storie te skryf teen die agtergrond van die Kalifornië-goudstormloop, en ek
het van die begin af geweet dat hierdie boek sy boek is en altyd sal wees.
My gebed bly dieselfde: Mag die storie van Michael en Angel deur alle
mure breek wat jou hart omring en mag jy die liefde ervaar wat Jesus vir
jou het.
Redeeming Love is ’n fiksieverhaal, maar die liefde van God is werklik
en beskikbaar en lewensveranderend.
Jesus wag met uitgestrekte arms.

~ Francine Rivers
Besprekingsvrae

Verwerp
Hy was verag en verwerp deur mense, iemand wat leed en pyn geken het. Hy was soos iemand vir
wie mense die gesig wegdraai, verag en ons het hom nie geag nie.
Jesaja 53:3

Bespreking

1. Hoe is Sarah/Angel verwerp en verraai? Wat was haar vroegste


ervaring van God/die kerk?
2. Watter ondervinding het Michael gehad van verwerping en verraad?
Bespreek die verskil tussen Michael en Angel se voorbeelde van hoe
hulle hul lewensomstandighede hanteer het.
3. Watter ander karakters het ook gely onder verwerping en verraad en
hoe het hulle dit hanteer?
4. Met watter karakter identifiseer jy die meeste? Hoekom?
5. Vertel van ’n tyd toe jy verwerp en verraai is. Na wie het jy gegaan vir
hulp en hoekom?

Ontdekking

My bene was vir U sigbaar toe ek stilletjies gevorm is in die dieptes van die moederskoot. U het my
gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar
was. Kosbaar is u gedagtes vir my, o God!
Psalm 139:15-17

1. Waar was God toe jy gebore is? Hoe voel jy daaroor? Wat leer jy nog
van God uit hierdie verse?
2. Hoe hou hierdie verse verband met Angel? Hoe hou dit verband met
jou eie lewe?

Besluite
Ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is
volgens sy doel vir hulle lewe.
Romeine 8:28

1. Het God haar geroep toe Angel verwerping en verraad moes verduur?
Watter goeie dinge het Hy in haar lewe laat plaasvind?
2. Het God jou geroep toe jy verwerping en verraad moes verduur?
Watter goeie dinge het Hy in jou lewe gedoen in verband met daardie
omstandighede?

Onderwerping
Sonder beplanning loop planne skeef. Sukses is afhanklik van baie raadgewers.
Spreuke 15:22

Alles wat hy doen, kan vir die mens reg lyk. Die HERE weet egter waarom hy dit alles doen.
Spreuke 16:2

Bespreking

1. Watter gedeelte wys volgens jou die beste dat Angel besluit het om op
niemand behalwe haarself staat te maak nie? Watter gebeurtenis het
daartoe gelei dat sy só opgetree het? Hoekom dink jy het sy haar nooit
tot God gewend nie?
2. Kyk na die verskille tussen Michael en Angel se hantering van gesag.
3. Beskryf Miriam se verhouding met God. Waarom verskil haar
ingesteldheid en oortuigings só baie van Angel s’n?
4. Op wie maak jy staat en hoekom?

Ontdekking

Die armes wat roep, sal hy verlos, ook die verdrukte sonder helper. Hy het medelye met swakkes en
behoeftiges, en red die lewe van behoeftiges. Uit onderdrukking en geweld sal hy hulle red, want
hulle lewens is kosbaar vir hom.
Psalm 72:12-14

1. Wat leer jy uit hierdie verse van God se karakter?


2. Wat moet ons doen om God se hulp te ontvang? Wat keer jou?
3. Bespreek die karakters in die lig van hierdie verse.

Besluite

Ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is
volgens sy doel vir hulle lewe.
Romeine 8:28

1. Op watter maniere het God vir Angel geroep terwyl sy net op haarself
staatgemaak het? Watter goeie dinge was Hy besig om te doen?
2. Op watter maniere roep God jou, ongeag op wie jy vertrou? Hoe het
Hy deur daardie proses vir jou goeie dinge gedoen?

Gered
As ellende op my toesak, sal U my bewaar van die woede van my vyande. U steek u hand uit en red
my deur u krag. HERE, U sal u doel met my bereik, want u troue liefde, HERE, ken geen einde nie.
Moenie die werke van u hande laat vaar nie.
Psalm 138:7-8

Bespreking

1. Wie het vir Michael gehelp om van sy verlede te ontsnap? Op watter


maniere is hy gered?
2. Angel het herhaaldelik probeer vlug van haar omstandighede. Beskryf
haar verskeie planne.
3. Weeg die slaaf Esra wat vir Michael gehelp het op teen die
slawehandelaar Duke.
4. Beskryf Michael se reddingspoging om Angel uit Magowan se kloue
te red.
5. Waarom dink jy het Angel terugkeer na haar ou weë?
6. Van wie en wat probeer jy wegvlug en waarom?
7. Wat veroorsaak dat jy terugval in ou gewoontes?

Ontdekking
Want “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word”. Maar hoe sal hulle Hom
aanroep as hulle nie in Hom glo nie? En hoe sal hulle in Hom glo as hulle nog nooit van Hom
gehoor het nie? En hoe sal hulle van Hom hoor sonder dat daar iemand is wat die boodskap bring?
Romeine 10:13-14

1. Hoe sal jy hierdie verse op Angel toepas? As jy na hierdie verse kyk,


waarom het sy haar nooit tot God gewend nie? Wie was
verantwoordelik daarvoor?
2. Wat verhinder jou om jou tot God te wend? Wat kan jy nou daaraan
doen?

Besluite

Ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is
volgens sy doel vir hulle lewe.
Romeine 8:28

1. Maak ’n lys van al die maniere waarop God vir Angel geroep het in
dié tydstip van haar lewe.
2. Kan jy die goeie dinge sien wat God in haar lewe laat gebeur het?
Maak ’n lys daarvan.
3. Wat van jou eie lewe? Hoe het God jou gered? Hoe het Hy jou geroep
en alles ten goede laat saamwerk vir jou?

Verlos
Hy het sy lewe vir ons gegee om ons los te koop van alles wat voor God verkeerd is, en om ons te
reinig van alle sonde sodat ons sy volk kan wees wat net aan Hom behoort, entoesiasties om die
goeie te doen.
Titus 2:14

Bespreking

1. Angel is verskeie kere gekoop en verkoop. Wat was anders toe


Michael haar verlos het? Bespreek die rol van vertroue (of gebrek
daaraan) in Angel?
2. Toe Michael en Angel die Altman-gesin gehelp het, wat het sy van
Michael, haarself en van God geleer?
3. Bespreek die verandering wat in Angel plaasgevind het nadat sy die
tweede keer deur Michael gered is. Wat dink jy het dit veroorsaak?
4. Watter tipe vertrouenskwessies het jy? Wie het God in jou lewe
geplaas as positiewe voorbeelde?

Ontdekking

Dit is mos dié genade wat julle verlos het deurdat julle tot geloof gekom het. En julle verlossing kom
nie uit julleself nie, maar is ’n gawe van God. Dit is nie die gevolg van julle dade nie. Niemand kan
daaroor grootpraat nie, want ons is God se handewerk. Hy het ons in ons eenheidsband met Christus
Jesus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe.
Efesiërs 2:8-10

1. Maak ’n lys van alles wat jy uit hierdie verse oor verlossing leer.
2. Wat is God se deel? Wat is jou deel?
3. Pas hierdie teksgedeelte op Angel se lewe toe.
4. Hoe gee God jou ’n nuwe begin?

Besluite

Ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is
volgens sy doel vir hulle lewe.
Romeine 8:28

1. Hoe sien jy op hierdie stadium God se roeping in Angel se lewe? Wat


ontdek sy spesifiek in haar eie?
2. Maak ’n lys van sommige van die goeie dinge wat in haar lewe gebeur.
3. Watter spesifieke ontdekkings het jy vir jouself gemaak aangaande
God se roeping?
4. Maak ’n lys van die goeie dinge wat in jou lewe gebeur.

Versoen
Nou wil ek julle baie ernstig vra, broers en susters: As julle dink aan alles wat God in sy groot
barmhartigheid vir julle gedoen het, gee dan julleself aan Hom as ’n lewende en heilige offer. Dit is
dié soort offer waarvan Hy hou, en wat julle diens aan God werklik sinvol maak. Moenie julle leefstyl
aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle
denkpatrone vernuwe.
Romeine 12:1-2
Bespreking

1. Wat het daartoe gelei dat Angel wéér weggeloop het?


2. Hoe verskil dit van die vorige kere?
3. Hoekom was dit belangrik dat Paul die een moes wees wat vir Angel
moes gaan soek?
4. Wat het hy van homself geleer? Hoekom het dit hom gehelp?
5. Wat het Angel uit hierdie ervaring geleer?
6. Wat het Michael uit hierdie moeilike tyd geleer?
7. Is daar iemand wat met jou versoen moet word? Of het jy dalk nodig
om die versoening te bewerkstellig soos wat Paul moes doen?
Verduidelik.

Ontdekking

Die belangrikste van alles is dat julle mekaar onselfsugtig moet liefhê. Sulke liefde maak baie sondes
toe.
1 Petrus 4:8

Word daarom klein onder die kragtige hand van God; op sý tyd sal Hy julle groot maak. Gee al julle
bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om.
1 Petrus 5:6-7

1. Wat bedek sonde? Tot watter mate?


2. Wat doen God vir dié wat hulle voor Hom verootmoedig? Hoekom?
3. Hoe sal jy hierdie verse op die karakters van toepassing maak? Op
watter karakters en hoekom?
4. Hoe verhinder trots jou om vrede en vergifnis te ervaar?

Besluite

Ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is
volgens sy doel vir hulle lewe.
Romeine 8:28

1. Hoe beïnvloed God se roeping nou Angel se lewe?


2. Beskryf die goeie wat nou uit haar lewe voortspruit.
3. Het God se roeping sy volle effek op jou lewe? Hoekom of hoekom
nie?
4. Watter goeie dinge deel jy met ander?

Herstel
In sy genade het God julle geroep om in Christus deel te hê aan sy ewige heerlikheid. Nadat julle ’n
kort tydjie swaargekry het, sal Hy julle self weer herstel; Hy sal julle moedig, sterk en standvastig
maak.
1 Petrus 5:10

Bespreking

1. Watter stappe het Angel geneem om haar gees te herstel?


2. Wat was die blywende effek ná Angel se selfondersoek?
3. Watter stappe het Angel geneem om haar huwelik te herstel? Hoe het
Michael gereageer?
4. Op watter manier het God vir Michael en Sarah beloon?
5. Wat het jy geleer van die liefde van ’n man vir ’n vrou?
6. Wat het jy geleer van God se liefde vir die mensdom, insluitend
jouself?

Ontdekking

Christus sal deur die geloof in julle harte woon, en julle sal in God se liefde gewortel en gegrondves
wees. Mag julle in staat wees om saam met al God se mense te begryp hoe breed en lank en hoe hoog
en diep sy liefde is. Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef. Mag julle
heeltemal met die volheid van God vervul word. Hy moet geprys word – Hy wat mag het om deur die
krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra.
Efesiërs 3:17-20

1. Hoe sal jy God se liefde uit hierdie verse beskryf?


2. Hoe het Sarah en Michael ontdek dat dit waar is in hulle lewens?
3. Wat wil God vir jou doen? Wat vra Hy van jou?

Besluite
Ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is
volgens sy doel vir hulle lewe.
Romeine 8:28

1. Hoe sou jy God se roeping opsom in Angel/Sarah se lewe? Beskryf die


vordering wat in haar lewe gemaak is wat goed was uit God se hand.
2. Dink nou aan jou eie vordering. Hoe sal jy God se roeping in jou eie
lewe opsom?
3. Watter vordering het jy gemaak wat jy kan toeskryf aan God wat die
goeie in jou laat saamwerk?

Mag God voortgaan om goeie dinge in jou lewe te laat saamwerk namate jy
voortgaan om te antwoord op sy roepstem.

You might also like