Download as pdf or txt
Download as pdf or txt
You are on page 1of 13

Dinge wat my laat gril…

’n Vlermuis wat vlieg is glad nie so erg soos ’n spinnekop, rot of as iemand in jou oor
fluister nie. Ja, almal sê mos dat meisies meer as seuns gril en seuns nie eers
omgee oor spinnekope nie. Meisies is mos net dramaties maar my broer, wat
sestien is, is bang vir ’n klein spinnekoppie. Ek lag nie, want ’n spinnekop laat my
hart baie vinniger klop.
Ek het ’n paar probleme met ’n spinnekop. Eerstens lyk sy liggaam snaaks, die
manier hoe die beentjies beweeg, maak my naar. Die diertjies hardloop blitsvinnig
in jou kombuis rond, maar hulle doen dit sonder dat jy dit besef. Hulle kan enige
oomblik op die brood gaan sit en eiers lê.
Ek haat enige diertjie of insek wat kieme versprei, byvoorbeeld die spinnekop, maar
daar is een ding wat ek glad nie kan hanteer nie en dit is as iemand in my oor
fluister. Die idee daaraan maak my sommer ongemaklik! My “lieflike” broer geniet
dit natuurlik om my hiermee te pla. Ek raak dan sommer vinnig smoorkwaad, maar
bring ’n groot spinnekop naby hom en hy tjank soos ’n pasgebore babatjie!
Daar is dus twee goed waarmee jy my nooit moet probeer skrikmaak of laat gril nie,
anders lei dit na ’n blik Doom, ’n dooie spinnekop, asook ’n gebreekte tand…
Marli du Plessis
Graad 8 – Afrikaans Huistaal

Dáárdie dag sal ek nooit vergeet nie


Noudat ek daaraan dink, is een van my gunsteling-herinneringe die dag toe ons in
die poele gaan baljaar het. Dit was ’n lieflike, sonskyndag en ons was by my tannie
in Worcester. Ons gaan kuier elke jaar vir hulle, maar my niggies en nefie het
daardie dag besluit hulle wil vir my en my broer op ’n uitstappie neem.
Ons het die pad wat uit die dorp lei, gevat en lekker kossies saamgeneem. Toe ons
uiteindelik stop, moes ons begin loop en loop en nog ’n bietjie loop. Dit was alles
die moeite werd, want die poele was pragtig!
Jy kon tot op die rotse staan en dan die bodem van die poel sien. Ons het hope
pret daar gehad en dis ook toe ek my niggie se kêrel ontmoet het. Hulle het hierdie
jaar verloof geraak.
Ons het van die rotse af ingespring, geswem en my nefie het ’n koeldrankblikkie
ontdek wat hy twee maande terug in dieselfde poel laat val het. Ons het ook soos
dassies in die son, op die rotse, gelê en bak terwyl ons lekkernye geëet het.
Dis ’n dag wat ek nooit sal vergeet nie, al was die water yskoud en die staptog lank,
sal ek altyd terugdink aan daardie dag en al die pret wat ons in die poele van
Worcester gehad het.
Kirsten-Mari Swanevelder
Graad 8 – Afrikaans Huistaal
Dinge wat my laat gril…
Spinnekoppe en paddas laat my gil en gril. Wie op dees aarde wil hulle naby hulle
hê? Van hulle is giftig, soos ’n knopiespinnekop of ’n helder padda en van hulle is
skadeloos, soos ’n langbeenspinnekop of ’n brulpadda. Dit pla my nie veel nie,
maar hoe hulle lyk, is ’n perd van ’n ander kleur…
Kwaak. Stilte. Kwaak. Dis die geluid wat paddas maak. Hulle glibberige, nat lyfies
blink in die maanlig terwyl hulle klein swart ogies vir jou staar. Hoe kan mense dink
dat hierdie reptiele oulik is? Asof dít nie genoeg is nie, het hulle nog lang tonge wat
onskuldige goggas blitsvinnig vang en verslind.
Nou is dit tyd vir die grillerigste gedierte onder die son … Die spinnekop met sy
harige lyf en agt lang bene. Sy agt klein ogies gluur jou aan terwyl hy van sy
spinnerak afhang. Jy sal hom oral kry. Om die huis, in die kombuis en beslis in die
tuin. Hy verskyn in jou kamer terwyl jy slaap, skarrel rond teen die muur.
Wetenskaplikes sê dat jy ongeveer agt in jou slaap eet! Hopelik is dit nie ’n giftige
een nie!
Paddas en spinnekoppe laat my gril. Paddas en spinnekoppe laat my gil. Die
wêreld sal, vir my, ’n beter plek sonder hulle wees.
Audrey van Tonder
Graad 8 – Afrikaans Huistaal

Vier Seisoene Kinders


Op die stoep sit hulle. My brunet, die oudste, met haar bruingebrande arm om die
skraal, maar sterk skouer van haar jongste sus. Aarbei-blonde hare krul in ’n kroon
rondom die baba van die gesin se gesig. So pragtig en rein.
My voshaarmeisiekind dans soos ’n warrelende herfsblaar oor die grasperk. Stil op
die trap sit my onbekroonde skoonheidskoningin. Hare so spierwit en sag soos
spinnerakke van sy wat sag teen haar ligte wange hang.
My vier-seisoene-kinders.
Lize was eerste. Gebore op ’n sweet-tap-middag. ’n Regte strandloper van die
begin af. Op die strand in haar baaikostuum is sy in haar element. Sy is altyd die
eerste een uit die kar as ons by die strandhuis stop. Reguit nael sy oor die
sandtapyt.
My Somerskind.
Einde van April het ons vir Millie verwelkom. Met vlamrooi hare laat sy die koppe
draai. Toegewikkel in ’n serp verken sy die woud agter die huis. Sy kom vertel elke
jaar van die krakende herfsblaartapyt wat net vir haar verjaarsdag uitrol.
My herfskind.
Op ’n yskoue wintersnag, waar ’n mens eintlik voor ’n gloeiende kaggel wil lê,
ontmoet ons vir Ellie. So bleek soos die maanbeligte wintersaand, maar met die
sagte aard van ’n sneeuhaas en die stil skoonheid van ’n nonnetjiesuil. Elke jaar sal
jy haar spore in die sneeutapyt vind. Haar wit wonderwêreld.
My winterskind.
Met die bloeisels wat bot het Emma gekom. Sy is ons vars luggie, ons nuwe lewe.
Sy bring vir ons hoop en verwelkom die mooi in ons huis. Sy drink tee saam met
feëkoninginne en baljaar op die grastapyt.
My Lentekind.
Elkeen verskillend, maar tog só mooi en kosbaar. Elke jaar steel my vier-seisoene-
kinders my hart weer opnuut.
Tanél Kruger
Graad 9 – Afrikaans Huistaal

Eendag as ek groot is
Ek is grys, ek is ’n grys mens. My ore hang soos verlepte blare, bespikkeld met
sproete van te veel son en my oë… dof grys, sonder glans, sonder drome. Ek is
groot, van tweede kanse is daar nie ter sprake nie, maar binne wink my
kinderstemmetjie – eendag as ek groot is.
Ek is ses, “eendag as ek groot is, gaan ek ’n prinses wees.” dink ek. My ouer sussie
is sestien, wanneer ek groot is, nes sy, gaan ek ook my hare blond kleur, en ek
gaan grimering dra en ek gaan ook op Ryan se motorfiets mag ry, nes sussie!
Aiiii…. sug ek, “kan ek nie vinniger groot raak nie?”
Ek is sestien, “eendag as ek groot is … sal ek nooit só onregverdig soos my ma
optree nie!” brom ek, soos ek my deur met ’n klap toeswaai. My ma is ses-en-
veertig, kan sy nie onthou hoe dit voel om jonk te wees nie? Ek het drome en
passies om nog uit te lewe, ek brand nog om uit te gaan en herinneringe te maak.
Ek wil nooit oud raak soos my ma nie, waar’s haar liefde vir die lewe? “As ek ’n ma
is, sal ek net ja sê, my kinders sal nooit só vasgevang voel nie.” Ek kan nie wag tot
ek groot is nie, om te gaan studeer, liefde te vind, maar ek sal nooit oud raak nie…”
Ek is ses-en-veertig. “eendag as ek groot is ... nee, stop dit, Almien!” word my sin
onderbreek deur my eie stem wat reageer op my tiener se gekerm. Vader! kan sy
nie nou maar net klaarmaak met skool en uit my hare uitkom nie, my grys hare is
alles haar skuld. Ek sweer ek was nooit soó gewees nie, so vol probleme en
sarkasme … moenie dat ek daaroor begin praat nie. My ma… is gelukkig, afgetree,
alleen, wat kan beter wees? “Eendag as ek groot is ….”
Ek is sestig, ek is grys, my vel hang soos verlepte blare en die skoene wat ek moes
vul, is nou al só gedra en verweer dat my tone uitsteek. Ek is nou groot, geen meer
drome nie en wanneer laas het ek die woorde “eendag as ek groot is …” gesê,
seker twintig jaar gelede. Dis eintlik snaaks hoe ’n mens op hierdie ouderdom eintlik
vir niks lewe nie, behalwe jou kinders en kleinkinders …
Ek kan maar net hoop ek het “my” jonger “my” trots gemaak, dit hang seker af van
watter een, nê? Die tiener “my” sou sê: “Staan op Tannie, waar is die lewe binne-in
jou?” As ek net geweet het hoe styf my heupe nou sal wees, het ek meer gedans
toe ek jonger was. ’n Mens sien altyd so daarna uit om ouer te wees, “eendag as ek
groot is, nê…” maar niemand dink ooit, vra ooit wat jy na die tyd gaan maak nie …
dit is mos nou eendag… ek is groot – en nou?
Nou is ek maar net grys, en ek kan maar net verlang na eendag toe ek jonk was…
Jenna Greeff
Graad 10 – Afrikaans Huistaal

Ek word ’n superheld
Blitsvinnig. Doodslim. Perdfris. Lank, blas en aantreklik. Dit is die woorde wat uit
al my aanhangers se monde vloei.
Ek is die beroemdste tiener in my skool. Alhoewel ek tuis geskool word, is dit nog
steeds ’n prestasie. My nederigheid is ’n voorbeeld vir almal om te volg. En my
ego? Kleiner as die kleinste stofwolkie op al my goudgeel trofees.
Terwyl ek myself in die stort prys, kan ek nie ophou dink oor die Superheld-eksamen
wat voorlê nie. Dit is die dag waar ek amptelik ’n ster gaan word. Ek wonder watter
naam ek sal kry. Miskien Vlêrmuisman omdat ek so baie in die aande kuier.
Miskien Spinnekopman omdat ek met ’n bos borshare gebore is. Miskien Superman
omdat ek ’n pynappel met die skil eet en myself met sandgrowwe-skuurpapier was.
Die verskillende moontlikhede maal soos ’n tuimeldroër deur my kop en teen die tyd
wat ek uitklim, is ek al bloedrooi en ek voel hoe my vel soos ’n tjoppie op die vuur
brand.
Ek trek my aan en loop na die kombuis. Ek eet my daaglikse ontbyt wat uit ses
volstruiseiers, twee spekvet varke en drie glase aalwyn en soutsuur bestaan. Ek
borsel my tande met ’n doringtak en die verbrande as van die vorige aand se rowwe
kuier. Dit is tyd om my eksamen te gaan skryf en ek loop met die postuur van ’n
bloedjong koning na die eetkamer. Die eksaminator en my ma wag reeds vir my.
Die stokou eksaminator verduidelik die reëls aan my, maar ek luister skaars. Die
stres en angs het my vasgevang, nes ’n boerboel wat ’n speelding in die hande kry.
Dit hou nie lank nie omdat ek ’n man van min woorde en nog minder stres is. Ek
takel die vraestel en veroorsaak byna ’n soniese ontploffing omdat ek teen die
spoed van lig skryf.
Nadat ek geskryf het, sien die eksaminator my vraestel na. Ek voel hoe die sweet
my aftap. Ek sweet natuurlik omdat dit vuurwarm is en glad nie omdat ek stres nie.
Hy kyk op en sê dat ek deur is en dat ek van nou af bekend sal staan as …
Egoman?
Marius Neethling
Graad 10 – Afrikaans Huistaal

’n Vlaag van herinneringe op ’n houtbankie


Dit is ’n oënskynlike, sorgvrye skemer: die somersonnetjie streel gerusstellend oor
my arms, die park in my tuisdorp is gevul met skaterlaggies en ’n alomteenwoordige
vrede. Ek wandel by die grondpaadjie af tot en met die houtbankie. Ek sit, salig, en
uiter ’n behaaglike sug…
Reg voor my is daar ’n tenger sproetdogtertjie wat vreedsaam in ’n sandput speel.
Ek vind ’n vreemde aanklank by haar. Wat my met haar vereenselwig, weet ek nie,
maar tog bly ek in verwondering staar. Iets in die verte trek skielik haar aandag. Dit
is ’n dreunende manstem wat roep: “Danielle, kom onmiddellik híér! Dit is jou ma se
naweek en ek moet jou daar aflaai!”
Die meisie kyk op en staar deurdringend na my. Daar is ’n pynlike weerloosheid in
haar aardse bruin oë. My gewonde hart krimp ineen. Haar blik wek ’n stormvloed
van hartseer herinneringe op – herinneringe wat lank terug diep weggesteek was.
Onverwags, net toe die meisie hangskouertjies wegstap, stort die somerweer ineen
en ’n stormwind jaag die parkiegangers verskrik weg.
Die warrelwinde wat oral om my is, saai verwoesting. Die wilgerboom wat
vantevore sierlik regop gestaan het, buig nou verbouereerd vooroor en suis soos die
roesemoes van blare heen en weer waai. Ek onthou hoe hulle warrelstemme
voortdurend heen en weer geskree het, hoe dit ’n beeldskone dag kon verwoes. Die
beeld van ’n klein kinderlyfie wat bewend op sy hurke val en vir homself “sjjj, sjjj”,
fluister, sal altyd in my geheue ingeprent wees. Van hoe ek myself omhels het en
vorentoe en agtertoe gewieg het, asof in ’n beswyming. Die wilgerblare se gesjjj
roep my terug uit my pynlike nabetragting.
Ek dwing my lyf om op te staan, maar my bene is loodswaar, soos my gemoed. My
deurmekaar gedagtes roep onderdrukte herinneringe op. Herinneringe van hoe ’n
vlaag geluidlose woorde soos stormwinde deur my onskuldige kindergedagtes
gedruis het. Herinneringe van antwoordlose vrae wat deur my kop skryn: Is dit my
skuld? Wat het ek verkeerd gedoen? Gedagtes van hoe hopeloos dit is om nie jou
hartspyn te kan verwoord nie - wanneer jou pleidooie op dowe ore val.
Die stormwind wat my vaskeer, vererger. Met ’n eienaardige slag, word die
kappende deur van die houtparkhuisie gevoelloos deur die rukwind weggeslinger.
Ek onthou hoe my pa se verdoemende woorde oor my getuimel het. Ek onthou hoe
my tuiste voor my oë ineengestort het: my veilige vesting vernietig deur
stormwinde…
Die hartstorms van onverwerkte verse en gedagtes van my kindergemoed wel in my
op. Is dit reg vir ’n onskuldige kindjie se hart om gebreek te word, want die twee
volwassenes kon nie die wond heel nie? Is dit reg vir die hulpelose seun om die
onnatuurlike en hartsverskeurende besluit te moet neem: mamma of pappa?
Hoekom moet die kind stoksielalleen die pyn van ouerlike verwoesting, magteloos,
na die stormwinde, heg?
Soos die parkienag my omsingel, begin die stormwind stelselmatig bedaar. ’n
Oorverdowende stilte omhels my. En dit is in dié stilte wat ek tot die besef kom:
alhoewel die storm onheilspellend stil is, bly daar steeds ’n stukkie donker op jou
hart, ’n ongeneeslike letsel op jou siel.
In ’n grootmenshart is daar altyd ’n bietjie kinderhart … gebroke of heel … wie se
besluit is dit nou eintlik?
Reynhardt Buys
Graad 11 – Afrikaans Huistaal

Mý groener, natter, vrugbaarder hawe


Die warm vlamme van die braaivleisvuur lek-lek aan my wange op ’n bitsige manier.
Tog voel ek geborge, tevrede, maar ook eenkant en dissonant soos kole eenkant
gestoot deur nuwe, swaar hout op die vuur. Nuwe hout bring nuwe vuur en nuwe
vlamme, maar dis die ou kole wat die vleis gaarmaak en solank daar ander kole is,
bly hul vir langer lewe.
Ek is die ou kooltjie wat eenkant uitgespat het of uitgeskop is. Ver weg van die
braaivleisvuurkommando wat moet seker maak die vleis word gaar.
Ek vertrek môre. Ek sprei my vlerke soos die groot metaalvoël waarmee ek die lug
sal bestyg. Ek gaan na die plek waarvandaan swaeltjies elke jaar vlug op soek na
beter weivelde, warm en suiwerder lug om in te asem en vryer, sonder die vrees van
die dood, te kan rondvlieg. Dit waarna hulle toe vlieg, verlaat ek om na my
suiwerder, veiliger en vryer hawe te soek.
Ek verruil “My Land” vir “My Toekoms”.
My land is die plek waar my ouma en oupa soggens twee myl op die koue,
rypbedekte plaaspad kaalvoet skool toe gestap het. Vars beesmis was hul voete se
beste pêl en kamerraad. Dit was die lekkerste gevoel as jou tone binne-in die vars,
warm beesmis ingly. “Dit het tydelike verligting gebring,” het Ouma gesê,” maar
heeldag se stinktone. Steeds was dit die moeite werd, my kind”
Ons oumas en oupas was vasgebind met kruisbande, volkspele en lappe van die
kleure van oranje, wit en blou en die lewensmoto: “Ek sal lewe, ek sal sterwe vir jou,
Suid-Afrika.” Dit was die lewe, die toekoms, die alles.
“Waarom ‘sterwe’ vir my land? Ek wil net lewe!”
Môre verruil ek my land vir ’n groener, natter en vrugbaarder weiveld. Meer
musiekwaardering, minder onderbroke kadense. Meer kaggelvure, minder brand
van geboue. Meer vriende, minder familie. ’n Plagale kadens. Ons generasie word
vasgebind in voorheen verbode drome, toekomsplanne en die wêreld wat een groot
speelplek is.
Ons is vry om soos swaeltjies te trek en tydelik te verhuis na warmer plekke met
meer sonlig en kos totdat die son weer in ons land begin skyn en die rookwolk van
verbrande huise, skole en universiteite gaan lê het.
Cara Venter
Graad 11 – Afrikaans Huistaal

’n Oomblik in die verlede


Net een oomblik. Net een oomblik tussen my en haar. Net een sandkorrel in die
uurglas van haar lewe. ’n Enkele oomblik van haar tyd op daardie reënerige
Donderdagaand. My hele wese verklaar in een oomblik en een vraag. My hart
smeek om die horlosie terug te draai na daardie een oomblik.
Met niks meer as die klere aan my lyf en ’n ou opgestopte haas met net een
kraalogie, is ek soos ’n gebreekte speelding van die een kinderhuis na die volgende
oorgegee . My tas was lig, maar my hart was swaar van die onbeantwoorde vrae
wat ek met my saamgedra het. Die kinderhuise was net geboue oorvol met kinders,
ooms en tannies met aangeplakte glimlagte. Dit was ’n dak oor my kop, maar nie ’n
tuiste vir my siel nie. My siel is steeds vasgevang op die trappe van kerkstraat
nommer 27, die kinderhuis waar my ma my, een reënerige Donderdagaand, as
baba, gelos het.
Ek speel die toneel van daardie aand oor en oor in my kop soos ’n deuntjie wat
vasklou aan jou geheue. Ek probeer haar oë voor my sien, of daar liefde agter hulle
geskuil het, of daar trane in die hoek van haar oog, soos poele water na reën,
gevorm het. En of sy sorgeloos haar rug op my gedraai het en die donker van die
onbekende ingevaar het. Hierdie gedagtes deursirkel my wêreld soos aasvoëls op
soek na die laaste bietjie hoop wat in my hart oor is. ’n Hoop dat sy my wel
liefgehad het.
Ek smeek die horlosie om genade te hê, om terug te draai na daardie oomblik sodat
ek die antwoorde kan kry waarna ek my hele lewe lank al smag. Maar tyd is ’n
gevoellose man wat net sy oë op die toekoms hou. My trane en obsessie met die
verlede maak geen verskil aan sy aanhoudende tik-tik-tik na vore nie.
Want daar is geen keer aan ’n horlosie nie en daar is geen hoop op verandering aan
die verlede nie.
My ma is my DNA, sy is die rede vir my sproete en die amandelbruin van my oë,
maar sy is nie die sleutel na my toekoms nie. Sy is niks meer as ’n sprokiesverhaal
van ’n beter lewe nie. My uithouvermoë met elke nuwe kinderhuis waar ek van voor
af ’n vreemdeling was – dit is wie ek is. Dit is die rede hoekom ek die toekoms stip
in die oë kan staar en dit sonder vrees kan aandurf.
Een oomblik saam met haar gaan nie my wese verklaar nie. Sy is maar net ’n
sandkorrel in die uurglas van my lewe. ’n Sandkorrel wat deel vorm van my verlede.
Met my oë gerig op die vele oomblikke wat vir my in my toekoms wag, verwelkom ek
die vorentoe tik-tik-tik van die horlosie.
Belinda Taljaard
Graad 12 – Afrikaans Huistaal

My Alles
Kliek, kliek, kliek … Dreun my metronoom sy melankoliese gebed. Tieng. Die klank
delf tot in my hart. Die skok dwing my polsslag om op die ritme van die gebed te
dans. Hier offer ek my álles.
Ek maak my oë toe en luister hoe die dreun in die duisternis verdwyn en die klanke
buite my lokaal verhelder. ’n Pianis se vingers hardloop oor die klawerbord soos
wat hulle gejaag word deur die ondier; sukses. Aan my linkerkant is ’n fluit besig
met tegniese oefeninge. Die note sweef soos ’n akrobaat, maar een fout was
genoeg gewees om die sirkustente te laat inplof.
Binne-in my vierkantige sel maak ek my oë oop en sien die manuskripte voor my lê.
Dag in en dag uit is my fokus op die blaaie vasgepen. Ek tel my instrument op en
voel die gewig van die saksofoon op my skouers. Hou net aan werk soos ’n os wat
’n ossewa moet sleep. As ’n instrumentalis deel ek die pyn en lyding met mense om
my. ’n Konstante geveg om bo uit te kom. Sukses te behaal.
Ek haal diep asem in en voel hoe die stof op my longe vergader. Angs en vrees is
my vriende. Tyd, - my vyand. Die dae raak korter soos ek die sperdatum van die
optrede benader.
Met my uitasem, voel ek hoe die klankgolwe die spanning uit my spiere en gedagtes
spoel. My greep op die instrument se kleppe verslap. Nou kan ek my álles gee. My
emosies word deur die note na ’n storie verwerk, ’n liefdesverhaal. Daar word heen
en weer, deur roep en antwoord motiewe, lieftallige frases tussen die geliefdes
gejuig. Die gesprek word al hoe vinniger todat die twee saam is en op ’n vrolike
wals begin dans.
In die laaste partituur word daar die tema van ’n troue by ’n kerk deur lang
klokklanke aangedui wat dan vinniger klingel. Die troue sluit met ’n kanon af waar
beide families hulle seënings oor die paartjie bid.
Net soos ’n atleet wat na sy oefening moet afkoel, begin ek met my afsluitings-
ritueel. Ek speel ’n langhoof terwyl die dreun van die metronoom my gedagtes weer
vul. Kliek, kliek, kliek, tieng. Die volgende noot wink nader. Ek voel ’n
brandsensasie op my lippe, koperpennies is die smaak wat my tong proe. Die pyn
word al hoe dringender op my senuwees sodat ek nie verder meer kan speel nie.
Ek kyk op my horlosie en sien dat vier ure verby gewaai het. Ek sien my riet, gevlek
soos ’n rooitapyt. Vir sukses.
Hier gee ek my álles, my tyd, emosies, fokus en vlees. Vir musiek. Vir sukses.
Matthew Perry
Graad 12 – Afrikaans Huistaal

Wat sou ek sonder my ma gedoen het?


My ma is my heldin. Van kleins af, het sy my beskerm en bewaar. Sy maak altyd
seker dat ek veilig is en sal haar eie lewe opoffer om my lewe te red. Sy’s ’n leeu as
enige mens my wil seermaak.
Sy werk baie hard en is ’n inspirasie van aanhou tot jy wen. Partykeer werk sy tot
vyfuur in die oggend, net om al haar studente se take te merk. My ma is nooit lui nie
en gee altyd haar beste.
Ek kan nie my gevoelens van haar wegsteek nie. Sy weet wanneer ek deur ’n
moeilike tyd gaan. Al vleg sy my hare, gee my ’n drukkie, masseer my skouers of
maak vir my ’n koppie tee, weet sy presies hoe om by beter te laat voel. Sy bid ook
elke dag vir my.
Al baklei ons partykeer, het sy my nog steeds lief. Sy het my nog nooit in die steek
gelaat nie en haar liefde is besonders.
Sy het my geleer hoe om te kook en hoe om te brei. Te danke aan haar, kan ek nou
kappies maak en aandete voorberei.
Al is my ma nie ’n perfekte mens nie, en maak sy foute, is sy nog steeds die
voorbeeld van ’n ma wat ek eendag wil wees. Wat sou ek sonder my ma gedoen
het?

Abigail Goliath
Graad 9 – Afrikaans Eerste Addisionele Taal

Moederaarde
Die mens is so bevoorreg om elke oggend op te staan, by jou venster uit te kyk en
om die sonsopkoms te sien, in die aand buite te staan, na die hemel op te kyk en al
die skitterende sterre te sien. Dit is net ’n paar ongelooflike dinge wat ons elke dag
ervaar, maar hoe hanteer ons die wêreld?
Ons vernietig die arme aarde – ons enigste huis. Die mens besoedel die aarde se
lug en water. Hul gaan na woude toe en kap die bome af om fabrieke te bou, of om
die hout van die bome te gebruik om vir mense huise te bou. As ons die woude wil
red, moet ons ophou om al die bome af te kap. Ons moet ook vir elke boom wat
afgekap word, twee nuwe bome plant.
Nog ’n tragedie wat ons in ons wêreld veroorsaak, is die besoedeling in die see.
Mense gooi net hul plastiekrommel weg en dan word dit deur die wind in die see
gewaai. Die stuk plastiek gaan sit dan in ’n seedier se maag vas en die arme dier
vrek. In die see is daar plastiekeilande wat in die water rondlê waarin diere vassit.
Om te help met die probleem, kan ons in plaas van plastiekstrooitjies papier of
glasstrooitjies gebruik. Ons kan ook mense op bote uitstuur om die plastiek te
verwyder.
Ons moet ons Moeder Aarde oppas omdat sy al is wat ons het. Daar is geen
Planeet B waarheen ons kan gaan nie.
Jana Botha
Graad 10 – Afrikaans Eerste Addisionele Taal

Onderwysers is definitief superhelde


Ek dink onderwysers is van die belangrikste mense in die wêreld. Sonder hulle sou
daar geen professionele mense soos dokters wees nie. Vir elke suksesvolle
persoon, is daar ’n klomp onderwysers wat daardie persoon die geleentheid gegee
het om suksesvol te word.
Ek dink almal moet dankbaar vir al die onderwysers in die wêreld wees, want
persoonlik weet ek nie hoe hulle dit doen nie. Hulle raak vroeg in die oggend
wakker om hulle dag te beplan en as hulle dan by die skool is, moet hulle met ’n
groep kinders werk wat nie rêrig by die skool wil wees nie en hulle aandag op die
skoolwerk probeer hou, wat soms baie moeilik is. Dan is daar natuurlik een of twee
kinders in elke klas wat stout is en die onderwyser moet die situasie op ’n kalm
manier hanteer wat nie altyd die maklikste ding is nie. Partykeer weet ek nie hoe
hou die onderwysers hulself kalm nie.
Na die skooldag is die onderwysers se werk nog lank nie klaar nie en ek dink baie
mense vergeet van hierdie deel van hulle werk. Na skool moet die meeste van die
onderwysers vir ’n uur of twee sport gaan afrig, dan gaan hulle huis toe waar hulle
tot laat in die aand moet sit en toetse merk en die volgende oggend is dit weer
dieselfde ding.
’n Superheld is iemand wat ander mense se behoeftes voor hulle s’n sit en dit is
presies wat ’n onderwyser doen.
Luke de Groot
Graad 11 – Afrikaans Eerste Addisionele Taal
Voor ek my oë kan knip
My ore het meer bewus van die voetstappe agter my geword. Elke trap was harder
as die een daarvoor. Hy was amper reg agter my…
Onbewustelik het ek vinniger begin loop, maar hy het ook. My oë het op die
sypaadjie gefokus. Hulle het elke kraak opgemerk. Elkeen was met reënwater
gevul. Ek het opgekyk en kon my voordeur in die verte sien. “Amper daar …”, het
ek vir myself gefluister, maar iets was nie reg nie – dit was grafstil. Daar was ’n
slang in die gras. Ewe skielik het my hart opgehou klop. ’n Yskoue hand het my
aan my skouer gegryp. Die vuil naels was kort en skreeupers. Met ’n magtige krag
het hy my lam lyf omgedraai en, vir die eerste keer, het ek hom gesien.
Sy vetterige, skeloranje hare was aan sy kop vasgeplak. Sy kwaadwillige oë het in
myne gestaar. Hy was besig om my lyftaal te bestudeer… Ek het probeer om my
kalmte te behou, maar my bene het soos riete gebewe. “Staan stil, of ek skiet!” het
hy geskree. Hy kon my senuweeagtigheid sien. My bene wou nie ophou bewe nie.
Sy linkerwenkbrou het opgetrek; daarna het hy onheilspellend gegrynslag. Hy het
vinnig na die geweer in sy hand gekyk. Voor ek kon dink, was daar ’n
oorverdowende geluid – hy het geskiet.
Die lig het begin vervaag. My liggaam het plat op die grond gelê. Ek kon die
warmte van my bitterrooi bloed op my bors voel en het gesien hoe dit ’n poeletjie
rondom my gevorm het. Al wat ek kon hoor, was sy bose lag, totdat die donkerte
my omring het.
Jess Kilfoil
Graad 11 – Afrikaans Eerste Addisionele Taal

Gideon se lewenslesse vir ’n beter Suid-Afrika


Ras. Hierdie drie-letterwoord het ’n bepalende rol in die geskiedenis van ons land
gespeel. In my lewe het hierdie drie letters ook ’n definerende rol gespeel. Vanaf
my kinderjare het ek gesukkel om my plek in die wêreld te vind. Met ’n swart ma en
wit pa, wie was ek eintlik?
Vir baie jare kon niemand vir my sê nie. Ek was te donker om wit te wees, maar ook
te wit om swart of kleurling te wees. Ek word geïdentifiseer as ’n gemengde-ras
Suid-Afrikaner, maar dít het min vir my beteken. Totdat een man my hele wêreld
verander het. Sy naam was …. Gideon.
In sy eie woorde: Gideon was “’n rassis op ’n nuwe pad.” Sy openhartigheid het my
onmiddellik geskok. Hy het my van sy kinderjare in ’n dorpie, wat op die waarde van
Apartheid gebou was en sy ervaring by die Universiteit van Stellenbosch in die
vroeë 2000’s, vertel. Gideon se wysheid het my so beïndruk dat ek meer met hom
wou praat.
Die geleentheid om met hom te praat, was wel ’n draaipunt in my lewe. Ek het twee
belangrike lesse van hom geleer en hy het vir my ’n nuwe manier gewys om na
Suid-Afrika se samelewing te kyk.
Eerstens het hy gesê: “Ras is nie ’n vloekwoord nie.” Mense hardloop weg van ’n
soen van Ouma. Die onderwerp van ras is baie sensitief en laat Suid-Afrikaners
ongemaklik voel. Maar dit hoef nie so te wees nie. Ras is meer as net segregasie
of vooroordeel. Dit kan ’n poort tot die soeke na jou eie identiteit wees, die gevoel
van aanvaarding en ’n saak om voor te veg.
In die regte hande, kan ras ’n groot rol in die bou van ’n nasie speel. Nie een soos
Apartheid, nie, maar ’n gemengderasnasie – ’n reënboognasie! Suid-Afrika met ons
verskillende kulture en rassegroepe is in ’n unieke posisie. Dink aan die toekoms
wat ons kan bou as ons ’n mengsel van hierdie verskillende groepe vorm.
Dit is die tweede les wat Gideon vir my geleer het. In 1994 het ons ’n verandering in
ons regering gesien. Nou soek ons ’n verandering van gedagtes. As ’n
gemengderas Suid-Afrikaner is ek meer as net ’n gryspunt op ons “swart-teen-wit”
politieke klimaat. Ek verteenwoordig verandering. ’n Rede om vas aan die idee te
klou dat ras nie ’n bepalende faktor in ons land se toekoms sal wees nie.
Om Gideon aan te haal: “Dit is nie ek teen jy nie, maar ons teen die probleem van
ras en rassevooroordeel.”
Jessica Beukes
Graad 12 – Afrikaans Eerste Addisionele Taal

Digitale kokaïne
Die verslawing aan digitale kokaïne is besig om by die sekonde toe te neem weens
die blootstelling aan die verkeerde media en die konstante obsessiewe neiging tot ’n
selfoon of enige ander digitale elektronika.
Ja, sosiale media en tegnologie is nuttig. Dit verskaf aan ons die nuutste inligting
oor wêreldsake en help om probleme op te los. Dit is juis hierdie anonimiteit en
onmiddellikheid wat dit gevaarlik maak. Is al die aspekte van tegnologie en sosiale
media werklik so positief soos ons glo?
Sosiale media en tegnologiese toestelle belemmer konsentrasievlakke en beïnvloed
’n individu se produktiwiteit, indien dit nie doeltreffend binne perke gebruik word nie.
Hoe meer dit gebruik word, hoe erger word die verslawing.
Die verkeerde gebruik van sosiale media kan jou selfbeeld negatief beïnvloed
aangesien sosiale media ’n wanindruk skep van wat werklik in die samelewing
aangaan. Kuberboelie is ’n groot bekommernis en sosiale media skep die
geleentheid daarvoor en kan selfs lei tot selfmoordneigings.
Natuurlik is dit lekker om vermaak te word deur ’n aksie film op You Tube, maar kom
ons krap dieper.
Geweldadige beelde wat deur sosiale media op TV en selfone uitgebeeld word, kan
’n kind se neurologiese ontwikkeling negatief beïnvloed. ’n Kind kan slegs vanaf 0
tot 7-jarige ouderdom neurologies ontwikkel, bekend as die senscrium. Dus word
daar aanbeveel om kinders tussen hierdie ouderdomsperiode eerder aan aktiwiteite
bloot te stel wat die brein stimuleer en prikkel om tot volle kapasiteit te ontwikkel.
Tegnologie en sosiale media is toelaatbaar, maar nie alle aspekte daarvan is nuttig
nie.
Wees versigtig, want voordat jy besef, is jy in die web vasgevang en ook verslaaf
aan digitale kokaïne.
Inge du Plessis
Graad 12 – Afrikaans Eerste Addisionele Taal

You might also like