Professional Documents
Culture Documents
Rebecca Winters - Per Ongeluk Swanger! (M&B)
Rebecca Winters - Per Ongeluk Swanger! (M&B)
Rebecca Winter
1
DIE Griekse bestuurshoof van die Simonideskorporasie, Andreas
Simonides (33), verstom die sakewêreld deur in 'n privaat seremonie
op Milos met die onbekende ses en twintigjarige Amerikaner, Gabriella
Turner, te trou.
Die groot opskrif in die Corriere della Sera tref Vincenzo Antonella
soos 'n vuishou in die maag. Hy het terwyl hy in die stad is voor
middagete 'n koerant gekoop, maar sou nooit kon droom wat hy sou
sien toe hy dit oopmaak nie. Hy gryp die kante van die koerant
onwillekeurig so styf vas dat dit in die middel begin skeur.
"Papa? Is jy kwaad?" Sy sesjarige seuntjie het opgehou om sy
pastaslaai te eet en staar sy pa aan.
"Nee," keer Vincenzo homself betyds. "Dit het per ongeluk geskeur."
"O. Kan ons nou parkie toe gaan om sokker te speel?"
"Nou-nou, Dino. Gee my eers kans om my koffie te drink."
Bronne na aan die Simonides-familie weier om die pers te woord te
staan, maar daar is 'n hardnekkige gerug dat die paartjie op 'n
Karibiese eiland wittebrood hou en vir 'n hele ruk nie vir foto's of
kommentaar beskikbaar sal wees nie.
Daar is allerweë verwag dat die bestuurshoof se voormalige Griekse
vriendin, Irena Liapis, met die briljante Simonides-miljoenêr sou trou.
Daar word verneem dat die sewe en twintigjarige nie. Liapis, wat aan
die hoof staan van die maandelikse leefstylblad in haar pa se koerant,
uit haar pos bedank en van die toneel verdwyn het. Dit is nie bekend
waar sy haar tans bevind nie.
Dit voel vir Vincenzo asof die lug uit sy longe gepers word. Van vroeg
in Julie toe Irena terug is Griekeland toe, het hy haar wense eerbiedig
deur haar nie te volg nie. Hy het elke dag verwag om te hoor dat sy
en die magtige Simonides getroud is.
Toe Vincenzo haar ontmoet het, het hy die man verwens en Irena
gedurig getakel oor haar vermeende gevoelens vir die man met wie sy
sou trou. Maar daardie sogenaamde gevoelens het haar nie verhoed
om 'n salige nag saam met hom wat Vincenzo is, deur te bring nie,
dink hy ergerlik. Hy het gehoop en geglo dat die nag vir haar ook
aardskuddend was en dat dit haar begeerte na sy teenstander sou
laat verdwyn.
Maar die koerantopskrifte bewys dat hy homself gebluf het. Hy het
nogal gedink sy is die een vrou op die planeet wat anders is.
"Irena!"
"Ek weet dis vir jou 'n verrassing om my te sien." Deline gee haar 'n
drukkie. "Net omdat ek gedink het jy's reeds weg Italië toe. Hoekom
het jy nie gebel om te laat weet jy's nog in Athene nie?"
"Ek ... ek kon dit nie waag nie," stamel sy.
"Nie waag nie?" Daar is besorgdheid in haar beste vriendin se bruin
oë. "Kom in, dan gesels ons." Irena stap in. "Ek het die tweeling so
pas klaar kos gegee.
Hulle sit in die sonkamer in hulle swaaie. Leon sal jammer wees dat
hy jou misgeloop het. Hy's 'n paar minute gelede weg werk toe."
"Ek weet, ja. Ek was vroeër al hier, maar het aspris gewag tot ek
hom sien wegry."
Deline was besig om Irena deur die Simonidesvilla te lei, maar nou
vlieg sy om ert sit 'n hand op Irena se arm. "Die oomblik toe ek jou
gesig gesien het, het ek geweet daar is groot fout. Wat pla jou,
Irena?"
"Op die oomblik is my grootste vrees dat jou huispersoneel sal weet
ek was hier en dat hulle Leon daarvan sal sê. Hy mag eenvoudig nie
weet ek was hier nie.
Sonder dat Irena nog iets hoef te sê, besef Deline wat dit ook al is
wat Irena na die villa laat kom het, is 'n saak van dodelike erns.
"Die diensmeisies kom eers vanmiddag. Die enigste persoon wat nou
in die omgewing is, is my huishoudster, Sofia. Ek sal haar nou dadelik
gaan sê dat jou besoek tussen ons moet bly. Sy is 'n gewaardeerde
werknemer en ek is seker sy is betroubaar. Maar ek sal dit nogtans
baie duidelik maak dat sy in groot moeilikheid sal wees as enige van
die personeel of my man van jou besoek moet uitvind."
Niemand kan vra vir 'n beter vriendin nie.
"Dankie, Deline," Hulle omhels mekaar weer.
"Ek is nou terug."
Toe sy wegdraf, stap Irena tot in die sonkamer. Die vyf maande oue
tweeling sit teenoor mekaar in hulle swaaie. Elkeen het 'n
plastiekspeelding en lyk heeltemal tevrede, maar toe hulle Irena sien,
beweeg hulle armpies en beentjies vinniger van opwinding.
Irena kniel langs Kris, wie se hartchirurgie so goed afgeloop het dat 'n
mens nooit sal dink hy is pas uit die hospitaal nie. Sy soen sy
wangetjie en dan draai sy om na Nikos. Die twee swartkoppies is
albei Leon uitgeknip. Die meeste mense sal aanneem dat Deline hulle
ma is omdat sy ook swart hare en 'n soel vel het.
Maar diegene wat die Simonides-familie goed ken, weet van Leon se
misstap tydens 'n onstuimige tydperk in hulle huwelik. Die pragtige
tweeling is die resultaat van 'n fout wat hy een nag in sy
dronkenskap met ene Thea Turner, 'n Grieks-Amerikaanse vrou, begaan
het. Sy is intussen oorlede.
Dis ongelooflik om te dink dat Deline, wat toe swanger was met Leon
se kind, hom lief genoeg gehad het om hom te vergewe en terug te
neem. Hulle is nou 'n gesin van vier met nog 'n kleinding op pad.
"Die probleem is opgelos," kondig sy aan toe sy die vertrek binnekom.
As dit maar so was ...
"Vertel my wat makeer," nooi Deline en gaan sit op die rusbank.
Irena kyk na haar geliefde vriendin wat haar skoonsuster sou gewees
het as die noodlot nie ingegryp het nie.
Alles het oornag verander. Leon se tweelingbroer, Andreas, is die man
met wie Irena gedink het sy gaan trou. Maar twee maande gelede
het sy vir haar werk na Cinque Terre in Italië gegaan en 'n ander
man ontmoet. Die wedersydse aangetrokkenheid en gevoelens tussen
hulle was so sterk dat sy nie van hom wou weggaan nie. Toe sy
teruggekom het Griekeland toe om vir Andreas die waarheid te kom
vertel, was hy om die een of ander geheimsinnige rede nie beskikbaar
nie.
Irena het gou uitgevind dat Thea se halfsuster, Gabi Turner, op die
toneel verskyn liet. Andreas het haar een kyk gegee en sy verhouding
met Irena verbreek. Toe sy weer sien is Andreas en die blonde
Amerikaner getroud en op pad om te gaan wittebrood hou.
"Irena Liapis - praat met my!"
Sy gaan aan die bewe. "Ek weet nie hoe om dit vir jou te vertel nie."
"Wat?"
"Jy gaan dit nie glo nie. Ek glo dit self nie."
"Is dit dan so erg?"
"Baie erger?"
"Is jy sterwend?"
Irena weet dis 'n ernstige vraag. "Nee, maar dit sou ten minste my
probleem opgelos het."
Deline spring sonder waarskuwing orent. "Dis nóóit 'n oplossing nie!"
raas sy. "En tensy jy aan 'n dodelike en ongeneeslike siekte ly, is daar
niks wat jy vir my kan sê wat so erg kan wees soos dit wat ek moes
deurmaak terwyl ek moes besluit of ek by Leon gaan bly of nie."
"Wat hiervan: Ek is swanger."
Deline word wasbleek. "Andreas se baba ..."
Irena huiwer 'n oomblik. "Heel waarskynlik," sê sy in 'n bewerige
stemmetjie.
"Ek vat Dino môre terug na sy ma toe. Kom saam, dan kan ons
gesels."
"Die hele pad Milaan toe?"
"Dis nie so ver nie."
Irena kyk nie na hom nie. "Dink jy dit sal 'n goeie idee wees? Jy
weet wat ek bedoel."
"Is jy bekommerd oor my eksvrou? Moenie wees nie. As dit 'n
probleem sou wees om jou saam te neem, sou ek dit nie voorgestel
het nie. Jy is tog hier om my te sien, nie waar nie?"
Sy kan dit nie ontken nie.
"Dino geniet jou geselskap." Hy praat verder asof sy hom geantwoord
het.
"Jou seun is soos enige kind. Hulle hou van enige iemand wat aan
hulle aandag gee."
"Dis waar, maar jy het sy vriendskap gewen toe jy tyd afgestaan het
om na die goedjies in sy kamer te kyk en oor die kasteel gepraat het.
Dis sy gunstelingfoto. As jy saamry, sal die rit vir hom 'n opwindende
avontuur wees."
Hy gee haar hand 'n drukkie voor hy dit laat los.
"Hoef ek vir jou te sê hoe ek daarna gesmag het om weer by jou te
wees? Twee maande het soos 'n ewigheid gevoel. Natuurlik verwag ek
nie dat dit vir jou ook so gevoel het nie. Anders sou jy nie
teruggegaan het Griekeland toe en my hier gelos het sonder enige
hoop om jou weer te sien nie."
Vincenzo het geen idee hoe diep haar gevoelens vir hom is nie. Maar
toe sy haar plan met Deline bespreek het, het sy nie geweet hy het
'n seun nie. Dino se bestaan verander die situasie drasties.
Tog is dit uit Vincenzo se woorde duidelik dat niks vir hom verander
het nie. Daar is nog 'n geleentheid vir hulle om te praat. As sy nie sy
uitnodiging aanneem nie, verbeur sy dalk die enigste geleentheid om
iets te maak van haar lewe en dié van die baba wat in haar groei.
Die tweede dokter wat sy besoek het, was nie so oortuig dat dit
Andreas se baba is nie. Hy het verduidelik dat daar nie vaste reëls vir
die verwekking van 'n kind en swangerskap is nie. Die kans is ewe
goed dat die kind Andreas s'n as Vincenzo s'n kan wees. En niemand
kan haar 'n definitiewe antwoord daarop gee nie, veral aangesien sy
slegs twee keer by Andreas geslaap het! Geen dokter kan op grond
van 'n paar vlietende ontmoetings seker wees nie. Die saak rus swaar
op Irena en dit word elke dag moeiliker. Sy weet dat sy daaroor met
Vincenzo moet praat. As sy net seker kon wees die baba is syne!
"Hoe vroeg wil jy wegkom Milaan toe?"
"Ons sal jou negeuur kom oplaai."
Irena knik. "Hoe sê 'n mens môre in Italiaans?"
Toe hy vir haar gesê het, kyk sy oor haar skouer "Domani, Dino." Sy
klim uit die motor en haas haar na die hotel.
2
IRENA lê die grootste deel van die nag wakker. Haar duiwels wil haar
nie met rus laat nie.
Al is sy vandat sy klaar studeer het 'n beroepsvrou, het sy nog altyd
gedink sy sal eendag trou en kinders hê. Iewers langs die pad het
Andreas deel van daardie fantasie geword.
Hulle families was oor die jare goeie vriende en daar is dikwels
opgemerk dat hulle twee oor die eienskappe beskik wat nodig is om
'n verhouding te laat werk. Irena het ook so gedink, maar toe hulle
ernstig begin uitgaan, het Andreas lank gewag voor hy met haar liefde
gemaak het. Hulle intimiteit was bevredigend, maar nie aardskuddend
nie. Dit het haar effens onseker laat voel.
Sy het vroeg al besef hy is 'n versigtige man. Sy reputasie dat hy nie
foute maak nie, het veroorsaak dat hy, eerder as sy tweelingbroer
Leon, die leisels van die Simonides-korporasie oorgeneem het toe sy
pa moes uittree.
Al het hy haar verseker dat sy die enigste vrou in sy lewe is, het dit
haar seergemaak dat hy nie wou verloof raak nie. Hy het gesê hy glo
nie aan verlowings nie. Hulle sou weet wanneer die tyd reg is om te
trou. Sy het verkeerdelik aangeneem dat die swaar verant-
woordelikheid wat hy as bestuurshoof moes dra, veroorsaak het dat
hulle so min tyd saam deurbring.
As sy eerlik moet wees, moet sy toegee dat sy lang werkure en die
feit dat sy vir die koerant moes reis.
hulle verhouding laat skade ly het. Toe Vincenzo haar so vurig die hof
gemaak het, was sy gevlei en uitgehonger vir aandag.
Maar hulle tien dae saam en die een nag van passie wat hulle gedeel
het, het meer geword as 'n blote vakansieromanse. Sy het toe al
geweet hy voel baie vir Vincenzo en om hom nou weer saam met sy
seuntjie te sien, het daardie gevoelens versterk. Daar is geen twyfel
dat sy sy baba wil hê nie. Sy begeer dit met haar hele hart en siel.
Veral nadat sy gesien het hoe lief Vincenzo vir Dino is, wou sy hê
haar baba moet ook syne wees. Maar toe sy vanoggend in die hotel
in Riomaggiore wakker word, het sy besluit om nie met haar plan
voort te gaan nie.
Die plan wat sy gehad het toe sy die dokter se spreekkamer verlaat
het, is deur 'n desperate vrou uitgedink. 'n Swanger een, voeg sy
heimlik by toe sy haar voorgeboortelike vitamines en die pil vir naar-
heid wat hy voorgeskryf het, neem.
Dit help nie om vir haarself te jok nie. Hoe kan sy vir een oomblik
dink dat Vincenzo dieselfde oor haar sal voel wanneer sy hom vertel
dat sy 'n kind verwag wat dalk syne is ... en dalk nie? Hy het reeds
sy eie dierbare, sesjarige seun.
Nadat sy tande geborsel het, kyk sy in die spieël.
Wie dink sy bluf sy? Wat sy behoort te doen, is om weg te gaan,
ver, soos Toronto toe in Kanada. Haar ouers sal verstaan dat sy haar
hartseer moet verwerk en sal nie druk op haar uitoefen terwyl sy 'n
nuwe lewe vir haarself probeer skep nie.
Toronto het 'n groot Griekse gemeenskap. Sy sal inpas as sy haar ma
se nooiensvan gebruik. Sy sal haar baba daar kry, en wanneer hy 'n
jaar oud is, sal sy teruggaan Athene toe en voorgee sy is geskei. Dan
sal sy haar kind kan grootmaak sonder dat enigiemand onraad merk
en haar geheim sal vir altyd bewaar bly.
Haar besluit geneem, trek sy 'n wit katoenlangbroek aan met 'n
ligblou syerige bloes wat in die sy vasmaak. Die uitrusting sal gemaklik
wees op die vliegtuig.
Voor sy enigiets anders doen, skryf sy vir Vincenzo 'n nota waarin sy
verduidelik dat dit lekker was om hom en sy seun te sien, maar dat
haar planne onverwags verander het en dat sy 'n vliegtuig moet haal.
Toe sy haar hare gekam en sandale aangetrek het, is sy gereed om
die hotel te verlaat. Dis slegs 'n kort rit na die lughawe, waar sy die
gehuurde motor sal teruggee. As Vincenzo dan nog nie na die hotel
gekom het nie, sal sy die nota by die concierge los.
Teen kwart voor nege staan sy by die ontvangstoonbank en kyk om
haar rond. Daar is geen teken van hom nie. Sy betaal die rekening en
los die nota voor sy met haar tas na die parkeerarea uitstap.
Tot haar skok staan Vincenzo met sy swart haredos teen die
bestuurderskant van haar motor aangeleun. Dit laat haar 'n warboel
emosies ervaar. Hoe het hy geweet watter gehuurde motor hare is?
'n Informele kakiebroek bedek sy sterk bene en gespierde arms steek
by sy wynrooi gholfhemp se kort moue uit. As hy so op 'n tydskrif se
voorblad moet verskyn, sal miljoene vroue dit koop.
Sy glimlag is skitterwit. "Goeiemôre, Irena."
"G-goeiemôre," stamel sy. "Waar is Dino?"
"Buongiornoï" roep sy seun uit. Toe sy omdraai, sien sy hom by die
Fiat, wat daar naby staan, se venster uithang. Sy het so hard daarop
gekonsentreer om weg te kom dat sy die glimlaggende gesiggie mis-
gekyk het. Hy dra 'n oulike wit hempie met 'n groot groen draak op.
"Hoe gaan dit vanmôre, Signorinai" Hy vra dit perfek.
"Dit gaan goed, dankie, Dino. En met jou?"
"Wonderlik!"
Vincenzo het hom waarskynlik vanoggend die woord geleer. Hy sê dit
met so 'n kostelike aksent. Haar blik verskuif na die blou oë wat haar
takserend dophou terwyl die son al warmer skyn. Hy stap na haar toe.
"Volg ons tot in Genua sodat jy jou motor kan teruggee voor ons
Milaan toe vertrek."
Sy snak effens na haar asem. "Vincenzo, iets het voorgeval en ek kan
nie meer saam met julle gaan nie. Ek het vir jou 'n briefie by die
ontvangstoonbank gelaat ... ek moet gaan, Vincenzo,"
Sy gesig verstrak. "Ek is geensins van plan om jou nota te lees nie,
en jy kan nie weggaan nie ... nie nou al nie. Jy het Dino belowe dat
jy saam met ons sal kom. Hy wil vir jou wys waar Rapallo se kasteel
in die see gebou is om seerowers weg te hou. Hy kan nie ophou om
daaroor te praat nie - jy kan hom nie teleurstel nie."
Een kyk na Dino se gesiggie, wat vol verwagting is, laat Irena instem.
Sy sal saam met hulle Milaan toe moet ry. Sodra hulle Dino afgelaai
het, sal sy Vincenzo vra om haar na die lughawe in Milaan te neem.
Sy kan van daar af Kanada toe vlieg. "Goed dan. Nog 'n paar uur sal
seker nie saak maak nie." Sy haal haar motorsleutel uit en druk die
knoppie om dit oop te sluit.
Vincenzo maak die deur oop en help haar om in te klim. Hy betrag
haar weer takserend voor hy die deur toemaak. Terwyl haar hart al
vinniger klop, sluit sy die motor aan en wag om hom te volg.
Gedurende die kort rit na Rappallo op die Italiaanse Riviera draai Dino
kort-kort in sy karstoel om en waai vir haar. Dit laat haar glimlag. Sy
waai terug. Toe hulle die dorp bereik, parkeer hulle in die historiese
stadskern en eet gelato terwyl hulle in die hawe rondstap.
Sy sê Vincenzo aan om Dino te vertel dat die klein, skilderagtige
kasteel in die water soos 'n speelgoedkasteel lyk. Sy seun lag en trek
haar aan die hand terwyl hulle oor die kort spoelbrug stap om dit te
gaan verken. Kort daarna smeek hy haar om met die kabelkar teen
Montallegro op te gaan. Wie kan hom dit weier?
Saam met die ander passasiers geniet hulle die panoramiese uitsig oor
die Golfo del Tigullio. Ná 'n heerlike middagete by die restaurant aan
die bopunt, ry hulle met die tandratspoor terug ondertoe waar hulle
motors staan en van daar verder tot in Genua waar sy hare aan die
motorhuurmaatskappy terugbesorg.
Vincenzo sit haar tas in die Fiat se bagasiebak waar hy Dino se tasse
ingepak het. Die tasse en die sak speelgoed laat haar hart krimp.
Binnekort sal hulle twee vir mekaar tot siens moet sê.
Dis duidelik dat Vincenzo mal is oor sy seun. En Dino is net so erg
oor sy papa. Dit moet baie moeilik wees vir hulle om van mekaar
geskei te wees, en tog mis Dino se ma hom seker vreeslik.
Irena besef nou meer as ooit dat sy haar oor 'n paar maande in 'n
soortgelyke situasie kan bevind. As Andreas die baba se pa is en hy
die waarheid moet uitvind, sal Irena hom moet toelaat om die kind te
besoek en deel van sy opvoeding te wees. Maar sê nou Vincenzo is
die pa? Wat hou die toekoms dan vir hulle in? Vincenzo weet reeds
hoe pynlik dit is om sy kind slegs nou en dan te kan sien. Sal hy dit
weer met hierdie baba wil deurmaak?
Op pad Milaan toe vermaak Dino haar deur haar 'n paar eenvoudige
Italiaanse kinderliedjies te leer. Vincenzo speel tolk. Sy weet sy het 'n
vreeslike aksent, maar sy doen haar bes om hulle te memoriseer en
saam te sing. Hy help haar hier en daar reg. Teen die tyd dat hulle
die buitewyke van die stad bereik, kan sy hulle sonder hulp sing.
"Bravo, Signorina."
Sy verskuif effens in haar stoel en glimlag vir Dino. "Grazie. Jy is 'n
uitstekende onderwyser."
Hy sê iets vir sy pa in vinnige Italiaans. Vincenzo antwoord hom.
Irena kan nie anders as om na hom te kyk nie.
"Wat het jou seun gesê?"
"Hy wens jy was sy Engelse onderwyseres. Meneer Fallow is in
Engeland gebore en het tien jaar gelede hierheen verhuis. Volgens my
seun is hy streng en knorrig omdat sy heup seer is. Jy is 'n baie
beter onderwyser en jy's boonop gaaf. Hy wil weet of jy wil hê hy
moet jou Italiaans leer."
Sy lag. "Ek kan nie dink aan enigiets beters nie. Wat is sy fooi?"
Daar is 'n glimlag in Vincenzo se blou oë toe hy die vraag vir sy seun
vertaal. Dino giggel en fluister dan iets vir sy pa.
Sy kyk nuuskierig na hom. "Wat het hy gesê?"
"Hy sal nie nee sê vir 'n sjokoladebocciballetjie nie."
"O, so. 'n Sjokoladeliefhebber. Ek sal dit in gedagte hou, maar wat sal
die tandarts daarvan sê?"
Hierdie keer lag Vincenzo hardop. Nadat hy vir Dino vertel het, lag
hulle al drie, maar dit vervaag toe hulle by die sekuriteitshek inry.
Alte gou hou hulle in - die binnehof van 'n luukse villa stil. Struike
verberg dit effens van die pad se kant af.
"Ek kom nou." Vincenzo klim uit om sy seun se tasse te gaan uithaal.
Irena bly in die motor terwyl Dino agter uitklouter en omdraf na haar
deur. Sy maak die venster oop en skud sy hand. "Dankie vir 'n
wonderlike, dag, Dino."
"Dankie vir jou ook. Hou jy van Papa?"
Hy lyk bekommerd. Dis te verstane dat hy wonder wat tussen haar en
sy pa aangaan. Wil hy hê sy moet van sy pa hou, of wil hy hê sy
moet weggaan en nooit weer terugkom nie? Wat sal Dino dink van 'n
nuwe bababoetie of -sussie?
Irena voel effens onrustig. Haar baba kan soveel mense se lewe
beïnvloed.
Sy skud die gevoel af en draai weer na Dino toe. "Ja, en ek hou van
jou ook." Sy druk haar wysvinger speels teen sy magie.
Dit laat hom glimlag. "Ciao, Signo rina."
"Ciao, Dino."
Sy kyk toe hoe hulle al Dino se bagasie tot by die villa se voordeur
dra. 'n Diensmeisie maak vir hulle die deur oop. Irena neem aan
Vincenzo gaan 'n rukkie weg wees. Sy laat haar kop teen die
rugleuning sak en sluit haar oë. Al weet sy wat sy vir hom gaan sê
wanneer hy terugkom, is sy angstig. Sedert sy gister na sy woonstel
gestap het, was hulle nog nie alleen nie. Sonder Dino as 'n buffer,
weet sy nie wat om van Vincenzo te verwag nie, en sy het geen idee
hoe hy op haar nuus gaan reageer nie.
Vincenzo hurk voor sy seun. "Dit was pret, nie waar nie?"
"Ja, dit was baie lekker! Sal Irena by wees as ek jou weer sien?"
"Ek hoop so."
"Ek ook. Sy maak jou gelukkig, nè?"
Sy seun se insig laat Vincenzo glimlag. "Ja."
"Het jy geweet sy is ook bang vir water? Sy't dit vir my vertel toe
ons by die kasteel se venster uitgekyk het."
H'm. Sy seun het dus 'n bondgenoot. "Maar ek dink nie sy is bang vir
hoogtes nie, want sy het daarvan gehou om in die kabelkarretjie te
ry."
"Ek weet. Ek het ook. Sy is pret!"
"Ek stem saam."
"Sy's ook baie mooi," voeg Dino in 'n fluisterstemmetjie by. "Maar
moenie vir jy-weet-wie sê ek het so gesê nie."
"Toemaar, ek sal nie. Maar voor jy-weet-wie met die trap af kom,
moet jy my eers 'n drukkie gee." Hy voel hoe Dino se arms om hom
vou en hom styf druk. "Ek sien jou weer die einde van die maand."
"Ek wens ons kon meer kere goed saam doen."
"Maar die reëling werk goed uit, nie waar nie?" Dino knik en vee sy
oë af. Net toe verskyn Mila. In haar kortbroek en top kan jy haar
deur 'n ring trek, soos altyd. Dino hardloop na haar toe en gee haar
'n groot druk. Sy soen hom op die kop voor sy vinnig in Vincenzo se
rigting kyk.
"Julle is later as wat ek verwag het."
Dino trek los en vertel haar opgewonde oor hulle - uitstappie na
Rapallo saam met signorina Spiros. Dit pas Vincenzo goed dat sy seun
die verduideliking gee.
Mila se gesigsuitdrukking word strak. "Neem jou goed boontoe, Dino.
Ek wil alleen met jou pa praat."
"Oukei" Hy draai na Vincenzo toe. "Lief vir jou, Papa."
"Lief vir jou ook."
Hy gryp sy sak speelgoed en kies koers met die trap op.
Toe hy buite sig is, draai Mila na hom toe. "Jy het Dino nog nooit
aan 'n ander vrou voorgestel nie. Hoe belangrik is sy vir jou?"
"Baie." Sy hart het die vorige aand byna gaan staan toe hy Irena by
sy voordeur sien staan. As hy hom nie misgis nie, het Mila bleek
geword.
"En sy's Grieks?"
"Dino het dit byna in soveel woorde gesê. Ek moet nou gaan, Mila.
Irena wag vir my."
"Is sy dan hier?"
"Sí. Sy is in die binnehof in my motor."
"Hoe durf jy haar hierheen bring, Vincenzo? En hoe durf jy in die
woonstel by 'n vrou slaap terwyl Dino jou daar besoek!"
"Jy ontstel jou verniet, Mila. Sy't in 'n hotel gebly."
"Ek sal dit nie duld nie, Vincenzo,"
Vincenzo voel hoe sy eie woede teenoor sy eksvrou dreig om na die
oppervlak te kom. "Jy sal wat nie duld nie? Ek het elke bepaling van
die toesigooreenkoms tot op die letter gehoorsaam. Daar is niks
daarin wat bepaal dat daar nie 'n vrou in my motor of in my eie
woonstel mag wees terwyl Dino daar is nie. My lewe het niks meer
met jou uit te waai nie, Mila."
"Ons sal sien!"
"As jy en jou pa nog geld wil uitgee deur met julle prokureur daaroor
te praat, kan ek julle nie keer nie. Maar ek waarborg jou, dit sal 'n
mors van tyd wees."
"Jy sal nie so selfvoldaan wees wanneer ek jou vertel en hy die
regter oorreed om die bepalings te verander nie."
"Dit gaan nie gebeur nie. Ciao, Mila." Met die dat Irena teruggekom
het, hou Vincenzo nou die troefkaart en hy sal nie skroom om dit te
gebruik nie.
"Waarheen dink jy gaan jy?" Haar stem slaan effens deur. "Ek is nog
nie klaar nie!"
"As jy nie is nie, behoort jy te wees. Dino het na jou verlang. Moenie
hom laat wag nie."
Hy verlaat die villa met die wete dat hy hierdie rondte gewen het.
Dis altyd moeilik om sy seun te groet, maar vir 'n verandering is daar
iemand wat vir hom wag. Hy is effens uitasem toe hy in die motor
terugklim en na Irena draai. Vincenzo is verheug daaroor dat hulle
eindelik alleen is.
Haar blink swart hare verberg haar gesig effens en hy leun nader om
dit agter haar oor in te vee. Hy kan dit nie weerstaan om aan haar
te raak voor hy die motor aansluit nie. 'n Lang oomblik kyk hy na
haar lieflike Griekse profiel voor hy by die hek uitry tot op die
hoofpad.
"Ek het 'n week verlof geneem om saam met Dino te wees en ek
hoef eers môreoggend weer terug te gaan werk toe. Kom ons maak
die beste gebruik van die tyd tot ons beskikking."
Sy skuif rusteloos rond. "Vincenzo - ek dink ons moet praat. Jy moet
weet waarom ek hierheen gekom het ... ek wou nie voor Dino iets sê
nie."
"Dis genoeg dat jy hier is."
"Ek is ernstig."
"Ek het nie gedink dat jy nie is nie."
"Luister asseblief na my. Ek gaan nie in Riomaggiore bly nie. Ek is op
pad Toronto toe. Ek sal dit waardeer as jy so gaaf sal wees om my
lughawe toe te neem."
Sy hardloop weer weg. Hierdie keer gaan hy haar nie toelaat om dit
te doen nie. "Ek dag jy het jou werk by die koerant bedank?"
"Ek het."
"Wat is dan in Kanada?"
"'n Ander werk weg van Griekeland af."
"As dit is wat jy wil hê, kan ek jou 'n openbarebetrekkingepos by die
aanleg in La Spezia aanbied." Hy sien hoe sy haar hande klem. "Ek
kan nie Italiaans praat nie."
"Ek sal jou leer."
"Vincenzo ..." roep sy gefrustreerd uit. "Ek het jou kom sien omdat ek
geweet het jy sou in die koerant gelees het van Andreas en Gabi se,
troue. Dit was vir my belangrik dat jy moes weet ek is nie 'n volslae
leuenaar nie. Toe ek weg is uit Riomaggiore, was ek van plan om my
verhouding met Andreas te gaan verbreek. Nadat ek jou ontmoet het,
het ek geweet my verhouding met Andreas was gedoem . . . daaroor
was jy reg. En Andreas het dit self ook besef."
Vincenzo is 'n oomblik stil voor hy reageer. "Jy kan bly wees
Simonides het sy instink gevolg."
"Of hy het of nie, dis presies wat ek gedoen het toe ek by jou
geslaap het. Dit was vir my die keerpunt." Die aangetrokkenheid
tussen hulle was te sterk. Hulle het hulle daardeur laat meesleur.
Hy draai af na 'n park toe, trek van die pad af en sluit die motor af.
Nou is al sy aandag op haar gevestig. "Vertel my waarom jy voor my
deur opgedaag het. Die waarheid." Vincenzo is nie onder 'n kalkoen
uitgebroei nie.
"Is jy so seker daarvan dat ek 'n agenda gehad het?"
Sy blou oë kyk priemend in hare. "Kom ons sê maar net daar is 'n
sterk aangetrokkenheid tussen ons. Wat ook al jou verskoning, glo ek
dit is eintlik wat jou laat terugkom het."
Hy is reg oor die intensiteit van hulle fisieke hunkering na mekaar.
"Sê nou ek vertel jou dat die verskoning 'n ernstige probleem is wat
veroorsaak het dat ek van koers moes verander en my eie vlerke
sprei?"
"Ek luister." Hy weet sy verwys na die vergelyking van die ganse.
Haar hart klop in haar keel. "Was jy ernstig toe jy gesê het jy dink
ons moet trou?"
"Doodernstig."
Sy kreun. "Dis nie regverdig om jou dit te vra nie. Die omstandighede
is nie dieselfde as wat dit twee maande gelede was nie. Ek het nie
geweet jy het reeds 'n seun en 'n geskiedenis van 'n mislukte huwelik
nie."
"Dis een manier om dit te stel."
"Ek ... ek is jammer jou eerste huwelik het nie uitgewerk nie ... " Haar
woorde laat haar in die steek, " ... maar dis nie al nie. Daar is iets
anders wat ek vir jou moet vertel, iets ..."
"Wat is dit, Irena? Wat het verander sedert ons laas by mekaar was?"
Vincenzo bly weer 'n oomblik stil. Hy is duidelik diep ingedagte. Dan
kyk hy weer na haar op. "Irena, is jy swanger ... met my kind?"
Geskok dat hy soveel insig het, laat sak Irena haar kop. Sy haat dit
wat sy vir hom moet vertel. "Ek is swanger, Vincenzo. Maar ek weet
nie of die baba joune is nie. Ek was by twee ginekoloë vir opinies.
Albei het tot die gevolgtrekking gekom dat ons nie met sekerheid kan
sê wie die pa is nie."
"En Simonides weet dit nie?"
Vincenzo is 'n trotse man. Sy het die vraag verwag en is voorbereid
daarop.
"Ek was gistermiddag voor ek hierheen gekom het, eers by die
tweede dokter."
"En hy is op sy wittebrood ... " Vincenzo se oë vernou. "Wanneer is jy
van plan om hom te sê?"
"Ek is nie."
"Bedoel jy, nooit nie?"
"As jy dink dit maak van my 'n bose mens, sal ek verstaan."
"Aangesien ek weet jy is nie boos nie, verstaan ek nie waarom op die
aarde jy hom nie wil sê nie. Hy het die reg om te weet."
"Dis 'n lang, ingewikkelde storie."
"Ek twyfel of dit so ingewikkeld is soos myne." Hy verwys al weer na
'n lewe waarvan sy so te sê niks weet nie. "Gaan aan."
"Kyk, Vincenzo, ek het genoeg van jou tyd gemors. Ek moes nooit
hierheen gekom het nie. Neem my asseblief net lughawe toe."
"Nie voor jy verduidelik nie."
Irena gooi haar kop agteroor sodat haar hare anders oor haar skouers
val. Sy maak haar oë toe. Dan haal sy 'n slag diep asem voor sy
begin praat. "Dit het alles meer as 'n jaar gelede begin toe Leon,
Andreas se broer, en Deline, Leon se vrou, 'n baie ernstige uitval
gehad het. As Andreas se assistent het hy lang ure gewerk. Hy was
selde tuis en dit het Deline baie seergemaak. Sy het Leon daarvan
beskuldig dat hy hulle huwelik en vir haar verwaarloos. Sy wou graag
met 'n gesin begin, maar kon nie daarin slaag om swanger te raak
nie. Dit het sleg gegaan met hulle.
"Hulle het vir 'n paar maande uitmekaar gegaan.
Toe Deline vir hom sê sy oorweeg dit om te skei, was Leon so
seergemaak dat hy sy vriende genooi het om op die Simonides-seiljag
uit te gaan. Sy vriende het 'n paar vroue saamgenooi en almal het
dronk geword. Toe gebeur daar iets verskrikliks."
Irena herleef die volgende paar oomblikke die nagmerrie wat amper
soveel gesinne vernietig het. "Ek weet nog steeds nie hoe Deline dit
hanteer nie. Afgesien daarvan dat sy Leon se baba verwag, sorg sy vir
die tweeling wat hy daardie nag aan boord van die seiljag by Thea
Turner verwek het."
"Sy moet baie lief wees vir hom."
"Sy is. Ek glo hulle huwelik het 'n goeie kans om te oorleef. Maar as
ek vir Andreas van ons baba vertel, kan dit dalk nie net vir hom nie,
maar ook sy huwelik vernietig. Gabi is 'n onskuldige party in die hele
saak. Sy het destyds vreeslik gely toe haar halfsuster dood is terwyl sy
geboorte geskenk het. Voordat Gabi met Andreas kontak gemaak het,
was dit sy wat die eerste vier maande van hulle lewe na die tweeling
omgesien het. Hoe gaan hierdie nuus haar raak as die baba Andreas
s'n is?"
Vincenzo verskuif sy hand om met haar hare te speel. "Soos die
verhaal ontvou, klink dit al meer nes my eie ingewikkelde familiesage."
Dis die tweede keer dat hy daarna verwys.
"Vir al die betrokke gesinne was dit 'n krisis, ook vir myne. My ouers
het daarop gereken dat ek met Andreas sou trou. Hulle was verpletter
toe hy met Gabi trou. Hulle dink hy het my hart gebreek! As dit sy
baba is, sal hulle daarop aandring dat hy verantwoordelikheid daarvoor
aanvaar. En Andreas sal daarop aandring om beheer oor te neem
want dit is hoe hy aanmekaargesit is. Maar dan sal almal betrokke
raak om seker te maak ek word nie te na gekom nie. Niks sal ooit
weer dieselfde wees nie."
Warm trane rol oor haar wange. "Dit sal soveel mense se lewens
verwoes - dis waarom ek Andreas nie hiervan kan vertel nie."
Vincenzo draai sy donker kop effens skeef. "Weet enige iemand
anders jy is swanger?"
"Maak dit saak?"
"Ja."
"Hoekom?"
"As ons gaan trou, dring ek daarop aan dat almal moet glo die baba
is myne."
Irena snak na haar asem. "Vincenzo, wat ek vroeër gesê het ... jy wil
nie met my trou nie! Veral nie nou nie."
"Irena, die kans is ewe groot dat die baba wat jy verwag, myne kan
wees. Soos jy verduidelik het, het Andreas reeds 'n vrou. Ek dring dus
daarop aan om verantwoordelikheid te neem. Jy het 'n man nodig, die
baba het 'n pa nodig en ek het 'n vrou nodig."
"Vincenzo ..."
"Ek vra jou weer. Weet enige iemand behalwe ek en die dokters dat
jy swanger is?"
"Ja."
"Wie?"
Sy byt op haar onderlip. "Dis Deline."
Vincenzo vryf oor sy ken. "Onder die omstandighede is sy waarskynlik
die enigste persoon wat jy ken wat jy moontlik kan vertrou. Dink jy
sy sal ons geheim kan bewaar?"
Ons geheim. Irena kan dit nie kleinkry dat hy werklik oorweeg om
met haar te trou, veral nie ná wat sy hom so pas vertel het nie. "As
ek dit nie geglo het nie, sou ek haar in die eerste plek nie vertel het
nie."
"Stem sy saam dat jy die waarheid van Andreas weghou?"
"Nee. Sy is bang as ek hom nie vertel nie, gaan die waarheid wel
eendag uitkom. Maar sy sal nooit my vertroue skend nie."
"Kan jy die dokters vertrou om nie met Simonides in verbinding te
tree nie? Hy is baie bekend - hulle weet seker wie hy is."
"Ek het gedoen wat jy gedoen het toe jy vir Dino gesê het my van is
Spiros. Hoe het jy dit in elk geval geweet?"
"Toe jy laas hier was, het ek die naam op jou paspoort gesien. Irena
Spiros Liapis."
Sy knipper haar oë. "Ek is verbaas dat jy dit onthou."
"Daar is niks omtrent jou wat ek vergeet het nie, Irena," Die sagte
woorde laat haar binneste smelt.
"Toe ek Ongevalle toe is, het ek vir hulle gesê my naam is Irena
Spiros. Ek is onder dieselfde naam na die ginekoloog verwys. Dieselfde
geld vir die dokter by wie ek gister was. Nie een van hulle het enige
benul dat ek die ander vrou is na wie daar in die koerantopskrifte
oor Andreas verwys is nie."
"Dis dan afgespreek. Ons sal trou so gou as wat ek dit kan reël.
Aangesien jy nie godsdienstig is nie, sal ons ons huweliksbeloftes in 'n
burgerlike seremonie aflê."
"Wag 'n bietjie, Vincenzo!" Sy skud, haar kop. "Jy beweeg heeltemal
te vinnig vir my ... en vir jouself."
"Moenie vir my sê wat ek voel nie, Irena. As dit moontlik was, sou ek
al met jou getrou het toe jy laas hier was."
Sy haal 'n slag rukkerig asem. "Sonder dat ek eers jou seun ontmoet
het?"
"Ek sou julle aan mekaar voorgestel het. Ons drie sou die dag saam
deurgebring het voor ek hom sou vra of hy wil kyk hoe ons trou."
Irena kyk af. "Hy sou ja gesê het, al het ek nie sy goedkeuring
weggedra nie. Hy is baie lief vir jou en sal enigiets doen om jou
gelukkig te maak."
"Maar ek sal nie met 'n vrou trou tensy sy hom ook gelukkig kan
maak nie."
"Jy ken my skaars, Vincenzo. Ons ken mekaar skaars."
"Ek weet een van die belangrikste dinge omtrent jou, Irena. Jy het 'n
besonder liefdevolle aard wat tot my seun spreek. Ná gisteraand en
vandag weet Dino dit ook. Moet ek vir jou sê wat hy, voor Mila haar
verskyning gemaak het, in die foyer in my oor gefluister het? Hy het
gesê hy hoop jy sal by my wees wanneer hy weer kom kuier."
Haar ooglede pyn. "Hy is dierbaar."
"Jy het tyd gemaak om met hom te speel en hom belangrik te laat
voel."
"Alle kinders is belangrik."
"Nie almal voel innerlik so nie. Ek het gesien hoe jy gisteraand met
hom praat. Jy het hom op sy gemak laat voel."
"Ek is bly."
"Bly genoeg om met my te trou en my te help om my seun groot te
maak terwyl ek 'n pa is vir ons baba?"
Sy vermy sy blik en kyk by die passasiersvenster uit. "Dis nie so
eenvoudig nie, Vincenzo."
"Natuurlik nie. Ek gee ook nie voor dat dit is nie. Ons sal een van
daardie nuwe generasie gesinne wees wat uit 'n klomp los deeltjies 'n
nuwe geheel maak. Hopelik sal dit werk, maar daar is geen waarborg
nie."
Irena gee 'n hartseer laggie. "Ons is glad nie dieselfde nie."
Sy blik is skielik behoedsaam. "Jy en Andreas is van dieselfde wêreld,
maar julle het nie die kansel gehaal nie. Ek was nie so gelukkig soos
jy nie, Irena, ek het nie betyds weggekom nie. My familie het gedink
ek behoort met iemand soos ek te trou, en kyk wat het dit my in die
sak gebring. Ek dink om teenoorgesteldes te wees met geen
verwagtinge nie, sal vir ons baie goed wees."
Hy het dit al voorheen gesê.
"Ek het jou begeer vandat jy die eerste oomblik by my kantoor
ingestap het. Dit het nie verander nie."
Haar hart slaan bollemakiesie. Sy eerlikheid skok haar, maar dit is ook
wat haar in die eerste plek na hom aangetrek het. Dit, en sy
voorkoms ... Sy kan nie ontken dat sy hom ontsettend aantreklik vind
nie. Noudat sy sy seun ontmoet het en weet hy is reeds 'n pa, is hy
vir haar begeerliker as ooit. Maar sy kan nie toelaat dat hulle
wedersydse aangetrokkenheid haar blind maak vir die werklikheid nie.
"Al sê jy ook Dino hou van my, sal dit vir hom 'n verlies wees as ons
sou trou. Jy sê jy sien hom net een naweek in 'n maand en twee
keer 'n jaar vir 'n week. As ons trou sal hy daardie kosbare tyd saam
met jou met my moet deel. Dit sal vir die ou dingetjie so moeilik
wees."
Die volgende oomblik trek Vincenzo haar in sy arms en verberg sy
gesig in haar hare. "As ons eers getroud is, sal alles vir albei van ons
ten goede verander."
"Vincenzo - ons kan nie eens daaroor dink sonder om Dino ook 'n sê
in die saak te gee nie."
"Ek is jou een voor, luister mooi." Hy lig sy kop op en dwing haar
om na hom te kyk. "Daar's 'n hotel hier naby waarheen ek Dino altyd
neem wanneer ek in Milaan vir hom kom kuier. Ek sal jou nou
soontoe neem en dan bring ek Dino saam met my terug. Ons sal
saam 'n vroeë aandete geniet en dan vertel ons hom van ons planne."
Dit gaan alles te vinnig. "Dit klink teoreties goed, maar jy't hom nou
net by sy ma afgelaai. Sê nou sy het iets spesiaals vir hom gereël? Hy
was 'n week laas by die huis."
Daar spring 'n spiertjie in sy wang. Sy het dit al voorheen gesien
wanneer hy uitermate gespanne is.
"As sy planne het, sal dit die eerste keer wees. En vir 'n verandering
sal my behoeftes voorkeur moet geniet." Hy plant 'n warm soen op
haar lippe voor hy haar teësinnig laat los en die motor aansluit.
3
WEES tog net daar, Arturo.
"Vincenzo! Ek het jou naam op die skerm gesien en kon dit nie glo
nie. Ons het jare laas gesels. Wat kan ek vir jou doen?"
"Ek het my prokureur se hulp nodig."
"Natuurlik."
"Ek is in Milaan op pad na Mila se villa om Dino te gaan oplaai. Dis
baie belangrik dat ek hom vir 'n paar uur uitneem. Sy gaan weier
omdat ek hom pas teruggebring het van ons vakansie in Riomaggiore,
maar daar het iets voorgeval wat dit lewensbelangrik maak dat ek
alleen met hom moet praat. Wees asseblief die meesterlike regsman
wat ek weet jy is en skakel haar prokureur om my spesiale omstandig-
hede aan hom te verduidelik."
"Ek doen dit dadelik."
"Grazie, Arturo," Hy lui af.
Of Arturo Mila se prokureur in die hande kry of nie, Vincenzo is glad
nie van voorneme om toe te laat dat sy eksvrou hom aan bande lê
nie. Sy is reeds vies omdat Dino haar van Irena vertel het. Hy kan
hom net indink watse bohaai sy gaan opskop as hy oor 'n paar
minute by haar voordeur opdaag. Maar hierdie keer gee hy nie om
nie, want dit is hopelik die laaste keer dat hy en Dino op dié manier
aan haar uitgelewer sal wees.
"Signore?" Die diensmeisie lyk verbaas om hom voor die deur te sien
staan.
"Sal jy asseblief vir Dino en Mila sê ek is hier om hulle te sien?"
"Sí."
Hy beweeg tot in die ingangsportaal en maak die deur toe. Die geluid
weerklink in die grafstil vertrek. Kort voor lank hoor hy
kindervoetstappe.
"Papa!" Dino hardloop in sy omhelsing in.
Mila kom agterna. "Waarom het jy teruggekom hierheen?"
"Iets belangriks het voorgeval. Ek moet 'n rukkie met Dino gesels. Ek
hoop nie jy gee om nie."
Sy dink daaroor na. "Julle kan in die sitkamer gesels."
"Nee, Mila. Ek bedoel ek moet elders met hom gesels."
"Ek wil nie hê hy moet die huis verlaat nie."
"Het julle planne?"
"Ons het nie, het ons, Mama?" praat Dino tussenin.
"Dis nie die punt nie, Dino."
"Dan sal dit nie saak maak as ek hom nog 'n paar uur neem nie. Ek
sal hom voor slapenstyd terugbring."
"Jy't reeds jou week saam met hom gehad, Vincenzo."
Sy gee nie om dat hulle seun dit hoor nie. Vincenzo haat dit, maar sy
bied hom geen ander keuse nie. "Wetlik het ek die reg om tot
negeuur vanaand by hom te wees. Ek bring hom vroeg terug uit
konsiderasie vir jou, Mila. Skakel gerus jou prokureur. Teen die tyd
dat jy hom in die hande kry, het ek Dino reeds teruggebring."
Hy kyk vlugtig na sy seun. "Ons gaan uiteet," sê hy.
"Kan ons pizza kry?"
"As dit is wat jy wil hê."
"Saam met háár?" eis Mila.
Vincenzo antwoord haar nie. Dino stap saam met hom by die deur
uit. Dit word hard agter hulle toegemaak.
"Mama is baie kwaad."
"Ek is jammer daaroor. Sy't baie na jou verlang."
Hulle klim in die motor. "Gaan ons saam met signorina Spiros eet?"
"Ja."
"Wou sy hê ek moet saamkom?"
"O, ja. Sy't om die waarheid te sê geweier om saam met my te gaan
eet tensy jy ook saamkom."
Dino glimlag breed.
"Haai ... dis ons hotel!" roep hy 'n paar minute later uit. "Wag sy in
ons kamer?"
"Ja."
Irena bedank die klerk in die geskenkwinkel en neem die twee
geskenke wat sy gekoop het terug na die hotelkamer. Vincenzo het vir
haar gesê dis die kamer waarin hy en Dino altyd bly. Hulle beskou dit
as hulle tweede tuiste. Hoe beter sy hom leer ken, hoe meer besef sy
watter uitsonderlike pa hy is.
As Vincenzo haar ongebore baba se pa is, kan dié vir geen beter pa
vra nie. Maar sy loop sake nou vooruit. Hulle moet nog eers die
troukwessie met Dino aanroer. Sulke dinge verg tyd.
Onder ideale omstandighede sou sy seun maande, dalk selfs 'n jaar,
nodig gehad het om aan die idee gewoond te raak. Met 'n baba op
pad het Irena ongelukkig nie soveel tyd nie. Sy het nog steeds nie die
idee om Kanada toe te gaan heeltemal laat vaar nie.
Sy hoor 'n sagte klop aan die deur. Senuagtig oor wat voorlê, draai sy
om en sien hoe hulle twee die vertrek binnekom. Dit tref haar skielik
dat hulle haar toekomstige man en stiefseun kan wees. Die gedagte
ontketen 'n klomp teenstrydige emosies van angs tot opwinding in
haar.
"Hallo, Dino!"
Sy bruin oë glimlag. "Hallo, Signorina!"
Vincenzo kyk om die beurt na hulle. "Ek het pas vir hom gesê ons
gaan hier aandete eet. Ek sal die kombuis bel. Hy wil pizza hê.
Waarvan sal jy nog hou?"
"Slaai?" Koffie?"
Hy knik en tel die kamerfoon op om hulle bestelling te plaas.
"Kom hier, Dino." Sy sit een van haar geskenke op die tafel. Toe hy
by haar aansluit, sê sy hy moet dit oopmaak. Hy haal 'n houer met
vyftig optelstokkies in uit. "Het jy dit al voorheen gespeel?"
Toe hy sy kop skud, kyk sy na Vincenzo. "En jy?"
Sy oë glinster. "Lank gelede. Ons het dit Shanghai genoem."
"Nou goed dan. Die speletjie wat ek ken, werk so." Sy maak die
houer oop en hou al die stokkies in haar hand. Dan sit sy dit op die
tafel neer en laat die stokkies val. "Die kuns is om al die stokkies een
vir een uit te haal sonder dat die ander beweeg," sê sy en haal die
swart stokkie uit. "Die een wat die meeste stokkies kan uitkry, is die
wenner."
Sy neem tien stokkies weg voor die hopie beweeg.
Dino kan nie wag dat dit sy beurt moet word nie. Die speletjie hou
hulle besig tot hulle aandete op 'n trollie bedien word.
Terwyl hulle eet, sorg Vincenzo vir die vertaling.
"Dino, ons het jou hierheen gebring om iets baie belangriks te
bespreek. Dit gaan oor my en Irena"
"Wat is dit?" Daar is 'n melksnor bo sy mond.
Irena kyk vlugtig na Vincenzo en hulle albei glimlag.
"Jy weet mos jy vra altyd vir my hoekom ek nie getroud is nie, en
dan sê ek dis omdat ek nog nie die regte vrou ontmoet het nie."
Hy knik. "Maar nou het jy Irena ontmoet, nè?" Toe Vincenzo
verduidelik wat Dino gesê het, voel dit vir Irena of sy weer kan
asemhaal.
"Ja. Ons wil dadelik trou. Hoe voel jy daaroor?"
Dino antwoord vinnig. "Kan ek kyk hoe julle trou?" vra hy sonder
huiwering.
Vincenzo vertaal wat hy sê.
"Ons doen mos alles saam, nie waar nie?" Dino knik. "Sal Oupa daar
wees?"
Weer word daar vertaal.
"Nie dié keer nie. Irena se familie sal ook nie daar wees nie, want
ons doen dit te vinnig vir mense om hulle daarop voor te berei."
"Dis nie te vinnig vir my nie!"
Die uitdrukking in Vincenzo se oë toe hy dit vertaal, spreek boekdele.
"Sal vader Rinaldo julle in die kerkie onder in die straat trou?"
"Ek weet nie. Dit hang van Irena af." Hy verduidelik wat sy seun
gevra het.
Dino kyk haar smekend aan. "Dis 'n baie mooi kerkie." sê hy in
Engels.
Irena voel nie gemaklik daarmee nie. Alhoewel sy sterk gevoelens vir
Vincenzo het, gaan hulle huwelik in die eerste plek oor gerief. Nie
een van hulle het al hulle liefde aan die ander verklaar nie en hulle
trou eintlik maar om die baba se onthalwe. Vincenzo weet nie eens
of die baba syne is of nie!
"Sê jou wat, Dino. Ek en jou pa sal daaroor gesels voor ons besluit.
Sal dit reg wees met jou?"
Hy laat die onderwerp vaar en vra nog 'n vraag voor hy van sy stoel
af opstaan en langs Irena kom staan. Hy kyk so ernstig na haar dat
dit haar hart laat smelt. Dan vra hy haar iets in Italiaans.
Weer verduidelik Vincenzo. "Hy wil weet of jy hom sal toelaat om
meer as een keer 'n maand te kom kuier as ons eers getroud is."
Sy hoef nie daaroor na te dink nie. "Sê vir hom ek wil baie graag hê
hy moet by ons kom bly, maar ek weet dat hy ook lief is vir sy
mamma."
Vincenzo maak keelskoon voor hy sy seun inlig.
Op daardie oomblik is Dino se spontane reaksie om haar 'n drukkie te
gee.
Irena druk hom terug. Sy is reeds lief vir hierdie dierbare seuntjie. Sy
vee haar trane af en sê hy moet 'n bietjie wag. Dan gaan haal sy die
ander geskenk waar dit op die telefoontafel lê.
"Dis ook vir jou," sê sy in Engels en gee vir hom die sakkie aan.
Sy gesiggie is die ene afwagting. "Twee presente?" sê hy in dieselfde
taal.
Sy verstaan wat hy bedoel. "Ja. Toe, maak oop laat ons sien.
Hy haal die klein boksie uit die sakkie en maak die deksel oop. Binne-
in is ses sjokoladebocciballetjies. "Stupendo! Grazie, Signorina."
"Di niente, Dino." Sy het dié uitdrukking al dikwels gehoor. "Noem my
Irena."
Dino gee haar weer 'n drukkie en bied dan vir hulle albei 'n sjokolade
aan. Irena wys hare van die hand omdat sy weet hoe baie hy daarvan
hou, maar sy pa het nie voorbehoude nie en stop een in sy mond.
Dino laat ook nie op hom wag nie.
"Delizioso? sê hulle albei gelyk.
Op daardie oomblik kan sy haar voorstel hoe Vincenzo moes gelyk het
toe hy 'n seuntjie van Dino se ouderdom was. Dis 'n beeld wat haar
altyd sal bybly.
Hulle speel nog 'n paar rondtes met die optelstokkies voor Vincenzo
aankondig dat hulle moet ry. "Jou ma wag vir jou en ek en Irena
moet vanaand nog terugry Riomaggiore toe."
Tot haar verligting lyk dit nie of dit Dino ontstel dat hulle moet gaan
nie. "Die speletjie is joune, Dino." Sy sit dit terug in die pakkie en
gee dit vir hom aan.
Hy hou sy sjokolade in sy ander hand toe hulle by die kamer uitstap.
Gou is hulle op pad na die villa. Irena geniet dit om te luister hoe
hulle twee in vinnige Italiaans gesels. Dino het honderde vrae wat hy
een na die ander afvuur.
Dit voel soos déjá vu toe hulle in die binnehof stilhou en Vincenzo vir
haar sê hy sal nou terug wees.
Maar hierdie keer klim Irena uit die motor om Dino met nog 'n
drukkie te groet. "Arrivederci, Dino." Sy is vasbeslote om so gou
moontlik Italiaans te leer.
Hy glimlag in sy skik. "Arrivederci, Irena."
Daar is geen omdraaikans meer nie. Irena het haarself verbind en dit
kan nie ongedaan gemaak word nie. Vincenzo moet sy euforie probeer
onderdruk toe Mila die deur persoonlik kom oopmaak, reg om hom
uit te trap. Maar vir 'n verandering lyk dit nie asof Dino haar
spanning aanvoel nie.
"Raai wat, Mama? Irena het vir my presente gegee. Sy en Papa gaan
trou en ek mag kyk!"
"Hoekom gaan jy nie boontoe om te gaan bad nie?" stel Vincenzo
voor. "Ek moet met jou mama praat."
"Okei."
"Ek sal jou môreaand bel en jou laat weet wat aangaan, oukei?"
"Oukei. Ciao, Papa." Hy huppel vrolik die trap op.
Vincenzo kyk na sy eksvrou. Onder haar woede lyk sy angstig, en met
goeie rede. Sedert hulle egskeiding gebeur alles op haar voorwaardes,
maar noudat hy gaan trou, sal die reëlings rakende besoeke nie meer
geld nie. "Dankie dat jy my toegelaat het om hom uit te neem. Soos
jy kan sien, was dit belangrik."
"Ek wil haar ontmoet."
"Nes jy wil. Waar is jou man?"
"Leo is in Rome."
"Moet ek haar hierheen bring, of wil jy na die motor toe kom?"
Sonder om hom te antwoord, stap sy by hom verby in die rigting van
die Fiat. Irena sien hulle aankom en klim uit. Waar sy nou daar staan,
is sy vir hom mooier as ooit - elegant en grasieus sonder om daarvan
bewus te wees.
"Mila Ricci, ek wil jou graag voorstel aan Irena Spiros van Athene," sê
hy in Engels. "Sy praat nie Italiaans nie, daarom sal ons liefs Engels
praat."
"Aangename kennis," sê Irena en skud Mila se hand. "Dino is 'n
wonderlike seuntjie."
"Dankie," antwoord Mila styf. Sy kyk Vincenzo ysig aan. "Hoe verwag
jy van Dino om die situasie te hanteer as sy nie eens Italiaans kan
praat nie?" vra sy in Italiaans
"Sy sal leer. Dino is gretig om haar te leer."
"Ek sal dit nie duld nie, Vincenzo."
Hy haal sy skouers op. "Jy sal maar net moet."
"Dit gaan niks aan jou besoekregte verander nie."
Sy gaan 'n verrassing kry. "Jy is ongeskik voor my verloofde, Mila," sê
hy en ignoreer haar dreigement doelbewus.
Rooi in die gesig, spreek sy Irena aan. "Het jy enige ervaring met
kinders?"
"Nee, maar wanneer Dino by ons is, sal ek my bes doen om hom
gelukkig te maak."
Mila het pas uitgevind dat Irena 'n vrou met klas en styl is. Dis
moeilik om teen goeie maniere te baklei sonder om soos 'n feeks te
lyk.
"My prokureur sal met joune in verbinding wees," sê Vincenzo vir
Mila. "Teen Dinsdag sal jy presies weet wat my planne is. Ciao, Mila,"
Hy help Irena weer in die motor en los Mila om die nuus te verwerk.
Teen die tyd dat hy weer na die bestuurdersitplek omgestap het, het
Mila reeds teruggegaan na die villa toe.
"Ek voel jammer vir haar," sê Irena toe hulle by die hoofpad kom. "Ek
dink nie daar is 'n vrou op aarde wat nie bedreig sal voel om te
weet dat haar kind van tyd tot tyd onder 'n ander vrou se invloed
gaan wees nie."
Hy klem die stuurwiel stywer vas. "Miskien begin jy nou verstaan hoe
ek gevoel het toe Mila weer getrou het."
Sy knik hartseer. "Die lewe behoort nie so te werk nie."
"Jy bedoel alles behoort perfek te wees en kinders behoort by hulle
eie ma en pa te woon tot hulle eendag self trou en die hele
wonderlike proses van voor af begin?"
"So iets," fluister sy.
"Jy het reeds 'n voorsmakie gehad van hoe dit gaan wees om met
Mila te doene te hê. Ek is bly sy het daarop aangedring om jou te
ontmoet."
"Ek ook."
"As haar optrede jou laat twyfel het, moet jy my dit nou sê. Ek sal
Dino bel en vir hom sê ons het van plan verander. Ek wil nie hê hy
moet vanaand onder die wanindruk gaan slaap dat iets wat hy al so
lank wou hê, gaan gebeur nie."
"Ek verstaan nie. Waarom sal die feit dat jy gaan trou so 'n groot
verskil aan hom maak?"
"My storie is net so ingewikkeld soos joune. Toe ek van Mila geskei
is, moes ek baie prysgee om my vryheid te bekom. Dino was
natuurlik die grootste slagoffer. Die spanning in ons onmoontlike
huwelik het hom soveel skade berokken dat 'n egskeiding die enigste
uitweg was. Maar ons albei se families het my daaroor onterf."
"Jy maak seker 'n grap."
"As dit maar so was. As ek my kind wou sien, moes ek instem om by
die streng voorwaardes wat sy gestel het, in te val."
"Kon 'n regter nie ingegryp het nie?"
"O, hy het, in albei ons families se guns. Hy en my oupa was goeie
vriende, nes jou ouers en die Simonides-familie. Volgens die hofbevel
was Dino uitgelewer aan 'n liefdelose huis met 'n pa wat blatante
minagting getoon het vir sy erfenis en status in die gemeenskap en
derhalwe 'n slegte voorbeeld was."
"Ek glo dit nie." roep sy geskok uit.
"Dis nie al nie. Die besoekreëls sou geld tot die dag dat ek tot my
sinne kom en met my eksvrou versoen raak."
"O, Vincenzo - dis aaklig. Nie een van daardie redes maak
hoegenaamd sin nie."
"Natuurlik nie. Mila het gewag dat ek na haar terugkom, maar sy het
vergeefs gewag. Ses maande gelede het sy uiteindelik getrou en nog
'n omwenteling in Dino se lewe veroorsaak."
"Hou hy van sy stiefpa?"
"Nie juis nie. Hy is vyftien jaar ouer as Mila en het 'n volwasse seun
en 'n dogter op, universiteit. Sy vrou is 'n jaar gelede oorlede en nie
lank daarna nie het hy Mila ontmoet. Hy het niks gemeen met 'n
klein seuntjie soos Dino nie."
"Dit moet jou baie pla."
"Dit pla my, ja."
"Wat gaan nou gebeur?"
"Môreoggend gaan ek my prokureur sien om die huidige
toesigooreenkoms te beëindig."
"Waarmee gaan jy dit vervang?"
"Gesamentlike fisieke toesig. Van nou af sal Dino twee huise hê."
"Maar die regter ..."
Vincenzo skud sy kop. "Moet jou nie bekommer nie. Sodra my
prokureur met Mila s'n gepraat het, sal alles gou verander."
"Hoe kan jy so seker wees?"
Hy haal 'n slag diep asem. "Omdat ek bereid is om iets te doen wat
ek voorheen geweier het om te doen. My pa sal so verheug wees dat
hy agteroor sal buig om aan al my wense te voldoen, en dit sluit in
om die regter te oortuig om die hofbevel terug te trek."
Irena probeer om tussen die reëls te lees. Sy weet nie wat dit is wat
Vincenzo geweier het om te doen nie, maar dit moet iets groots
wees. Wat het die regter bedoel toe hy verwys het na Vincenzo se
erfenis en sy plek in die samelewing?
Vandat sy hom die eerste keer ontmoet het, het sy aangevoel dat
daar meer in Vincenzo steek as wat 'n mens met die eerste oogopslag
sien. Hy weet te veel en het te veel insig om 'n doodgewone
Italiaanse man te wees. Hy straal onbewustelik intelligensie en gesag
uit.
Toe hulle by die fabriek aan mekaar voorgestel is, was sy bewus van
die personeel se respek vir hom. Asof hy iemand belangriks is.
Sy kyk na sy treffende gelaatstrekke terwyl hulle met die strada langs
na Cinque Terre snel. Met sy swart wenkbroue en prominente neus is
hy dodelik aantreklik. Hy het 'n lieflike soel vel en daardie skerp blou
oë is genoeg om haar bloeddruk op te jaag.
Daar is vir Irena skielik geen twyfel meer nie. Sy gesofistikeerdheid is
onmiskenbaar.
Wie is hierdie aantreklike man met sy weerbarstige swart hare wat
met 'n tweedehandse motor ry en in 'n klein woonstelletjie teen die
hang woon? Sy informele klere kan 'n mens in enige plaaslike winkel
koop en hy dra plakkies soos sy seun.
Sonder klere het hy gelyk soos 'n beeld van 'n god wat sy daardie
oggend in Rapallo gesien het. Die herinnering aan hoe hulle ses weke
gelede liefde gemaak het, stuur 'n warm gloed deur haar lyf. Ken sy
hom ooit?
"Jy's skielik baie stil."
Sy diep stem stuur 'n heerlike rilling deur haar. "Ek is besig om die
legkaart aanmekaar te sit."
"Hoe ver is jy van klaar af?"
Hy weet sy het sy geheim ontdek.
"Daar kort nog 'n paar stukkies. Presies wat is jou status in die
samelewing?"
"Ons kan móre oor dit alles praat."
Waarin begewe sy haar?
"Moet jou nie bekommer nie. Sodra ek met my prokureur gepraat
het, sal ek alles verduidelik. Slaap gerus. Ek kan sien jou oë wil
toeval. Daar lê nog 'n uur se ry voor. Ná so 'n emosionele dag is jy
beslis moeg. En jy moet jouself oppas, veral noudat jy ons baba
verwag."
Ons baba.
Die baba moet eenvoudig hulle s'n wees, Dit moet net! Tog wil die
twyfel nie wyk nie.
Irena is in der daad moeg. Sy is om die waarheid te sê heeltemal
uitgeput van al die gedagtes en emosies. "Wanneer dink jy moet ons
Dino van die baba vertel?" vra sy nadat sy haar oë toegemaak het.
"Hy sal waarskynlik vir ons 'n aanduiding gee. Hy het ongelooflike
insig vir so 'n klein seuntjie."
Sy gee 'n laggie. "Hoe lank dink jy sal dit my neem om Italiaans te
leer?"
"Twee maande vir die basiese kennis as jy elke dag daaraan werk. Die
res sal jy oor 'n leeftyd leer."
"'n Leeftyd. Dis 'n wonderlike gedagte."
Dis die laaste ding wat sy onthou toe sy die volgende oggend effens
naar in Dino se bed wakker word. Behalwe vir haar sandale, is sy nog
ten volle geklee. Sy het die vorige aand sommer omgekap. Vincenzo
moes haar by die woonstel ingedra het toe hulle daar aankom.
Die luike is nog toe, maar sy kan die son daardeur sien skyn. Sy gooi
die ligte deken van haar af en strompel venster toe om hulle te gaan
oopmaak. 'n Wonderlike uitsig oor die Middellandse See begroet haar.
Sy kyk op haar horlosie. Kwart voor elf. Irena kan dit nie glo nie.
Vincenzo het haar tas in die kamer gesit. Sy haal haar grimeersakkie
uit en stap badkamer toe.
Sy roep na hom, maar daar is geen antwoord nie.
Hy het gesê hy gaan vanoggend sy prokureur sien.
Dis duidelik dat hy onlangs in die badkamer was.
Dit ruik na die seep en sjampoe wat hy in die stort gebruik het. Sy
was haar hare met appelkoosgeur sjampoe, maak dit so goed sy kan
met die handdoek droog en haas haar terug na die slaapkamer.
Noudat sy skoon onderklere, 'n katoentop en langbroek aanhet, voel
sy effens beter, maar sy is honger. In die kombuis ontdek sy 'n nota
in sy kenmerkende handskrif op die tafel.
Ek sal teen twaalfuur terug wees en jou uitneem vir ete. Peusel gerus
aan enigiets waarvoor jy lus is. Soutbeskuitjies of roosterbrood sal dalk
help vir die oggendnaarheid. Daar is tee en koffie in die kas,
vrugtesap in die yskas. V.
Sy vind 'n broodrolletjie en druiwesap. Perfek.
Die kos help vir die hol gevoel in haar maag. Sy stap terug kamer toe
en borsel haar hare tot dit blink oor haar skouers val. Aangesien dit
reeds warmer in die woonstel is as die vorige dag, maak sy dit in 'n
los rol op haar kop vas. Dit sal koeler wees.
Noudat sy swanger is, is sy van soveel meer bewus.
Sy het gedink dis die angstigheid wat haar so moeg maak, maar die
dokter het haar die versekering gegee dat dit normaal is om so te
voel, veral in die eerste paar maande. Dit wil voorkom asof Vincenzo
reeds meer van haar toestand weet en verstaan as sy. Dis natuurlik
omdat hy by sy vrou gebly het toe sy Dino verwag het. Irena twyfel
nie daaraan dat hy haar baie goed versorg het nie.
Sy veg teen die trane, nie seker waarom sy in so 'n emosionele bui is
nie. Dis natuurlik 'n kombinasie van 'n klomp dinge, maar sy moet
erken dat 'n deel daarvan die manier is waarop Vincenzo die situasie
hanteer het. Hy is haar rots.
'n Ander deel daarvan is skuldgevoel. Sy het nodig om met iemand te
praat oor hoe sy voel en steek haar hand na die foon uit om Deline
te bel. Teleurgesteld toe sy die antwoorddiens bereik, laat sy 'n
boodskap om te vra dat Deline haar terugbel. Toe bel sy haar ma,
wat ná die tweede lui antwoord.
"Irena, my liefste dogter. Hoe gaan dit? Waar is jy? Ek en jou pa was
so bekommerd."
Nog skuldgevoel. Sy sak op die rand van Dino se bed neer. "Ek's
jammer. Ek wou julle al van die hotel in Riomaggiore bel, maar die
uitstappie saam met signore Antonello het langer geneem as wat ek
verwag het."
"Is jy weer by hom, in Italië?"
"Ja. Ek het mos in my artikel oor Cinque Terre geskryf. Dis die ene
krom straatjies en kleurvolle ou huise wat opmekaargestapel is. Ek
dink dis een van die mooiste plekke in die Mediterreense streek.
"Jy het dit al gesê, ja. Is hy 'n toergids?"
"Nee, nee. Hy werk by Antonello Liquers in La Spezia. Dis een van die
plekke wat ek toeriste in my artikel aanbeveel het om te besoek. Hy
is die man wat my die dorpie gewys het. Gister het ons saam met sy
seun na 'n kasteel in Rapallo gegaan."
"Ek is bly as jy dit darem geniet. As ek net dink aan wat Andrea ..."
"Los dit liewer, Ma. Daardie deel van my lewe is verby. Ek wil nie
weer daaroor praat nie."
"Ek het nie bedoel om jou te ontstel nie."
"Ek weet. Ek en Andreas was nie vir mekaar bedoel nie. Ek dink ons
het dit albei geweet en iets probeer aan die gang hou wat nie daar
was nie. Gabi se verskyning het dit bloot bevestig."
"Wat bedoel jy?"
"Dis moeilik om te verduidelik."
"Maar jy was lief vir hom!"
Dis moeilik om oor 'n lang afstand so 'n gesprek te hê. "Ja, ek was
lief vir Andreas, ek sal altyd wees." Sy kom gefrustreerd orent en
begin heen en weer loop, reg teenaan Vincenzo, wat haar aan die
boarms gryp om te keer dat sy val. Sy kan nie sy gedagtes peil nie,
maar daar is geen twyfel dat hy haar bekentenis gehoor het nie. Sy
tree stadig terug. "Ek moet nou gaan. Maar ek belowe ek sal môre
weer bel." Irena lui af. "Ek ... ek het met my ma gepraat," stamel sy.
"Het jy haar van ons vertel?"
"Ek het net gesê dat ek jou leer ken het toe ek die artikel geskryf
het en dat jy my rondgewys het sedert ek hier aangekom het. Ek is
nie van plan om haar enigiets anders te vertel voor ons planne
geformaliseer is nie." Sy vee haar hande senuagtig oor haar heupe en
sien hoe sy blik die beweging volg. "Hoe het dit met jou prokureur
gegaan?"
Daar heers 'n swaar stilte. "Kom ons praat oor ete daaroor."
"Wag, Vincenzo ..." Hy kyk oor haar skouer. "Jy het ingekom voor ek
my punt aan my ma gemaak het."
Sy gesig is uitdrukkingloos. "Jy skuld my geen verduideliking oor 'n
privaat gesprek met haar nie. Ek is die een wat onaangekondig
ingestap het" Met dié stap hy in die rigting van die woonvertrek.
Sy volg hom. "Maar ek wil jou vertel."
Hy draai om met sy hande in 'n volkome manlike gebaar op sy
heupe. "Wat wil jy my vertel?"
"My ma ly nog aan ontkenning as dit by my en Andreas kom. As ek
my sin kon klaarmaak, sou ek gesê het: 'Ek sal hom altyd liefhê as 'n
vriend, maar ek besef nou dat ek nooit verliéf was op Andreas of hy
op my nie.'"
Die uitdrukking op sy treffende gesig is onleesbaar. "Anders sou ek
nooit saam met jou bed toe gegaan het nie," voeg sy by. "Geen vrou
sou dit gedoen het as sy waarlik en innig lief was vir iemand anders
nie."
"Ek stem saam." Sy stem is hees.
"In teenstelling met wat jy dalk van my mag dink, was ek in die sewe
en twintig jaar van my lewe nog net met twee mans intiem. En jy is
een van hulle."
Sy gesig verstrak. "Ek het nooit bedoel om te sê dat jy promisku is
nie."
"Nee, maar jy het die volste reg om so te dink nadat ek soos die
spreekwoordelike ryp vrug in jou skoot geval het. As ek nou terugkyk,
kan ek nie glo wat ek gedoen het nie. Dit skok my steeds."
Sy aanloklike mond vertrek wonderbaarlik in 'n effense glimlag. "Ek
moet bieg ek kon my geluk nie glo nie - ek was in die hemel."
Sy het dit ook so beleef, maar sy kan haar nog nie so ver bring om
dit vir hom te sê nie. "Vincenzo," Irena kyk hom reg in die oë. "Kan
ons van die verlede vergeet? My verhouding met Andreas? Dis verby."
Hy knik stadig. "Amen. Sal ons gaan?"
Irena is dankbaar dat die geringe storm afgeweer is. "Ek kom. Ek kry
net gou my handsak."
"Hoe honger is jy?"
"Ek dink 'n pastaslaai behoort voldoende te wees."
"Daar is 'n trattoria oorkant die kerk waarvan Dino gepraat het"
"Ek ... ek het daaroor nagedink," stamel sy. "Miskien ... "
"Irena ... Dino het aangeneem dat dit 'n kerktroue gaan wees omdat
dit is hoe hy 'n troue verstaan," val hy haar sag in die rede. "Ons
hoef dit nie daar te doen nie, en ek verstaan jou voorbehoude oor so
'n reëling. Maar dit sal ander mense oortuig dat ons huwelik eg is.
Sal dit nie die beste wees, veral vir die baba nie?"
Sy weet Vincenzo is reg en voel aan dat hy ook graag in die kerk wil
trou. Sal sy so 'n publieke vertoon kan deurvoer ter wille van die
baba? Sy kyk na die aantreklike man voor haar wat soveel doen om
haar te help. Met 'n glimlag raak sy saggies aan sy arm. "Jy's reg.
Nadat ons met die priester gaan gesels het, sal ons oorkant die straat
iets gaan eet."
4
VINCENZO neem haar hand. Hulle stap in die straat af en om die
draai terwyl hulle die geur inadem van die blomme wat oral in helder
kleure pryk. Op 'n manier voel dit vir haar asof sy droom.
Kort voor lank sien sy die eeue oue geel kerk regs van hulle.
Hy hou haar hand stywer vas. "Dino hou daarvan om kerk toe te
gaan."
"Hy is so dierbaar. As dit vir hom beter gaan voel as ons in die kerk
trou, dan is dit vir my ook belangrik. Ek dink ook reeds aan die baba
se doop."
Daar is 'n tevrede glinstering in Vincenzo se oë toe hy die deur
oopmaak en hulle by die muwwerige voorportaal ingaan.
Sy kyk deur die binnedeure na die effens ornate binneruimte. Die
pragtige loodglasvensters maak van die kerkie 'n juweel.
"Vincenzo?" 'n Lang, middeljarige priester het deur 'n sydeur ingekom.
Die twee mans gesels in Italiaans.
Eindelik slaan Vincenzo weer oor na Engels.
"Vader Rinaldo, dit is my verloofde, Irena Spiros. Ons wil graag hê dat
jy ons moet trou."
"Dit is vir my 'n groot eer."
"Die eer is myne, Vader. Ek het die getekende dokument gebring wat
jou toestemming gee om die afkondiging van die huweliksgebooie te
laat vaar sodat ons Donderdag in 'n privaat seremonie kan trou." Sy
oë glimlag. "Julle is dus baie haastig."
"'n Mens kan so sê," antwoord Vincenzo in sy diep stem.
Daar slaan 'n gloed op Irena se wange uit.
"Dis hoog tyd, my seun."
"Ek moes wag vir die regte een, Vader."
"En hoe voel Dino daaroor?"
"Toe ons hom 'n rukkie gelede gesien het, het hy gesê hy kan nie
wag nie. Dink jy jy sal ons in jou besige program kan inpas?"
Die priester se uitdrukking word ernstiger. "Vir jou is niks onmoontlik
nie."
Weer kry Irena die indruk dat Vincenzo iemand van aansien is.
"Dankie, Vader."
"Is jy gedoop, signorina Spiros?"
Irena knik. "In Athene."
"Bene. Sal eenuur julle pas?"
Vincenzo kyk na Irena om te sien wat sy daarvan dink.
Sy knik. "Dit sal perfek wees."
"Kom tien minute vroeër om die dokumente te onderteken."
"Ons sal hier wees, Vader." Op daardie oomblik kyk Vincenzo na haar
op 'n manier wat haar knieë lam maak. Hy neem haar aan die
elmboog en stuur haar by die kerk uit.
Ná die swak lig binne-in die kerk, verblind die sonlig haar byna.
Hulle stap oor die straat na die volgepakte trattoria. Toeriste staan
tou om in te gaan. Maar sy is saam met Vincenzo. Toe hy verskyn,
word hulle dadelik welkom geheet en na 'n tafel op die stoep
geneem. Die kelner dans behoorlik om hulle rond.
"Jy't hom oorrompel," sê Vincenzo toe die jonger man met hulle
bestelling wegskarrel.
"Dink jy so?" terg sy.
"Ek weet. Het jy vergeet dat ek presies so na jou gekyk het toe jy
daardie dag by my kantoor ingewaai gekom het?"
Irena moet toegee dat dit 'n ongelooflike oomblik was. Op daardie
tydstip het sy haar gevoelens probeer ignoreer, maar sy het duidelik
nie hard genoeg probeer nie. Sy sit immers langs Vincenzo en het pas
met die priester gepraat wat hulle gaan trou.
"Soos enige vrou, geniet ek dit om gevlei te word, maar ek is bevrees
die kelner se aandag gaan oor jou.
Wie is jy, Vincenzo? Ek wil die man met wie ek gaan trou, graag leer
ken."
Een van sy wenkbroue lig. "Jy weet beter as enige iemand anders wie
ek is. Jy sal onthou dat ek jou vertel het my familie het my onterf.
Maar net sodat dit jou nie verras wanneer ons die huweliksregister
teken nie, moet jy weet my wettige van is Valsecchi."
Sy dink sy het dit al iewers gehoor, maar kan die naam nie mooi
plaas nie. "Dankie dat jy my dit gesê het."
Hy glimlag dieselfde glimlag wat haar tydens haar eerste besoek verlei
het. "Di niente. Ek kan nie toelaat dat my swanger bruid op ons
troudag flou word nie."
"Ek's nie die tipe wat dit sal doen nie."
"Dankie tog." Hy drink sy laaste sluk koffie. "Ek dink jy het lank
genoeg met jou slaai gesit en speel. Jou wange lyk effens rooi van die
hitte. Kom ek neem jou terug woonstel toe. Terwyl jy 'n uiltjie knip,
moet ek gou fabriek toe gaan vir 'n kort vergadering met die
personeel."
Om 'n rukkie te slaap, klink goed.
Hy lei haar deur die restaurant straat toe. Hulle stap hand aan hand
terug, dié keer opdraand. Vincenzo is 'n gevoelvolle, fisieke man, wat
dikwels aan haar vat.
Irena voel met elke aanraking hoe die lewe deur haar bruis. By die
woonstel laat hy haar ingaan en sê hy sal later terugkom. Skielik wil
sy hom nie laat gaan nie.
Toe hy weg is, besluit sy om 'n paar minute te gaan lê. Later hoor sy
haar foon lui en toe sy dit antwoord, is sy verras om te sien dat daar
reeds 'n uur verbygegaan het. Dit wil voorkom asof die pille wat die
dokter vir haar voorgeskryf het, begin werk. Dit neem haar naarheid
weg, maar sy voel lomeriger.
"Deline?"
"Ek het die tweeling pas neergelê vir hulle middagslapie. Ons kan dus
gesels. Vertel my wat aangaan."
Irena klim van die bed af en stap deur die woonstel na die stoep
waarop blomme van elke denkbare kleur in potte staan en blom. Sy
leun teen die reling en verlustig haar aan die asemrowende uitsig.
"Daar is so baie om jou te vertel dat ek skaars weet waar om te
begin. Om 'n lang storie kort te maak, ek en Vincenzo trou
Donderdag."
Die voelbare stilte aan die ander kant verbaas haar nie. "Gaan jy dit
werklik deurvoer?"
"Ja, ons het pas met die plaaslike priester gepraat
wat die seremonie gaan waarneem."
"Gaan julle dan in die kérk trou?"
"Dis wat Dino wil hê."
"Wie's Dino?"
Sy byt so hard op haar onderlip dat dit begin bloei.
"Vincenzo se dierbare, sesjarige seuntjie."
"Wát?"
"Ek weet dit is baie om in te neem. Vir my ook.
Kom ek begin van voor af." Irena vertel haar vriendin hoe dit alles
gebeur het.
"O, Irena ... ek beny jou dit nie dat jy met 'n eksvrou te kampe moet
hê nie."
"Ek is self nie verheug daaroor nie."
"En tog wil jy voortgaan met die troue. Jy is duidelik dolverlief op die
man, of hoe?"
"Verlief? Daarvan weet ek nie so mooi nie, Deline. Ek het gedink ek
was lief vir Andreas. Een ding weet ek wel - hy is vir my groter as
lewensgroot, Deline. Elke oomblik wat ons saam is, verwonder ek my
meer aan hom.
"Miskien te veel?"
Sy frons. "Wat bedoel jy?"
"Het jy jou dit al afgevra waarom hy so gretig is om met jou te
trou?"
"Deline?" roep sy gefrustreerd uit. "Dit was ek wat hom genader het,
onthou jy dan nie?"
"Ek weet. Ek is self nie seker wat ek bedoel nie."
"Hy wil hierdie baba hê en hy glo dis syne."
"Maar dit is dalk nie, Irena. As jy dit net kon uitvind voor jy met
hom trou."
Irena sak op een van die gietysterstoele neer. Sy maak haar oë styf
toe. "Die dokter met wie ek laaste gepraat het, het gesê slegs 'n DNS-
toets kan daaroor uitsluitsel gee."
"Laat dit dan doen. Ter wille van julle almal."
"Ek oorweeg dit."
"Om jou die waarheid te sê, is ek verbaas dat Vincenzo nie daarop
aandring nie. Veral aangesien hy so 'n groot opoffering maak om jou
te behou. Hy moet mal wees oor jou!"
Irena spring van die stoel af op. "Ek weet presies waarom hy met my
wil trou, Deline. Ek het dit besef die oomblik toe ek hom saam met
sy seun gesien het. Toe hy twee maande gelede die huweliksaanbod
aan my gemaak het, het hy dit nie ligtelik gedoen nie. Die feit is dat
hy aan 'n streng toesigbevel onderworpe is. Hy wil hê sy seun moet
by hom kan woon en so dikwels moontlik by hom wees. En daarvoor
het hy 'n vrou nodig, maar dit moet iemand wees wat Dino kan
aanvaar.
"Wat beteken jy het reeds sy vertroue gewen. Daar is nie 'n kind op
aarde wat nie vir jou lief sal wees nie, Irena."
Die trane brand in haar oë. "Jy is 'n beter vriendin as wat ek
verdien."
"Wie het mý deur die donkerste tyd in my lewe bygestaan?" sê
Deline byna kwaai. "Ek is bly as ek enigiets vir jou kan doen."
"Jy het reeds deur na my te luister. Deur met jou te praat, kon ek 'n
besluit neem. Hoe pynlik dit ook al vir al die betrokkenes gaan wees,
sal ek nooit gerus kan wees voor ek vasgestel het wie die baba se pa
is nie."
Deline kreun. "Nou maak jy my bekommerd."
"Om my te bekommer is al wat ek doen sedert ek van die baba
uitgevind het, maar vir die I eerste keer is ek seker. Ek weet wat ek
moet doen. As ek terugkyk, besef ek Gabi was gewapen met die
tweeling se DNS-resultate toe sy met Andreas kontak gemaak het.
Voordat hy jou man genader het, het hy seker gemaak dit klop met
Leon s'n. As ek vir Andreas sê ek verwag sy baba, sal hy DNS-bewyse
daarvan wil sien. Dit is dus die eerste ding wat gedoen moet word."
Skielik hoor Irena Vincenzo na haar roep. "Deline," fluister sy. "Ek
moet gaan."
"Ek verstaan. Laat gou weer van jou hoor."
Dis die tweede keer dat Vincenzo op Irena afkom waar sy oor die
telefoon praat en verbouereerd optree. Sy glimlag. Dit flous hom nie.
"Hoe het dit by jou kantoor gegaan?"
"Alles is gereël vir die tyd wat ons op wittebrood gaan wees
Haar glimlag verstyf. "Vincenzo ..."
"Ek het gehoop om 'n rukkie te rus sou jou goed doen, maar jy lyk
ontsteld. Wat makeer?"
"Daar is iets wat jy moet weet. Ons kan nie nou al trou nie."
Dit tref hom soos 'n vuishou in die maag. "As jy bekommerd is oor 'n
rok ..."
Sy gooi haar kop so heftig agteroor dat haar hare loskom en oor haar
skouers val. Al hou hy daarvan as sy haar blinkswart hare vasmaak,
verkies hy dit los.
"Jy weet dis nie wat my pla nie."
Irena het nie 'n ydel sel in haar lieflike lyf nie.
"Jy het gesê nie nou al nie. Wat presies beteken dit?" Hy kan sien
dat sy bewe.
"Wanneer ons getroud is, wil ek 'n goeie stiefma vir Dino wees, maar
eers moet ek nog 'n dokter gaan sien en 'n DNS-toets laat doen. Dis
vir ons almal se beswil," roep sy uit asof hy reeds beswaar gemaak
het. "Ek weet ek het vir jou gesê ek wil dit vir Andreas geheim hou,
maar dit was blote histerie aan my kant. Natuurlik moet hy die
waarheid weet as die baba syne is. Ek wil so gou moontlik antwoorde
hê."
Vincenzo wil ook dadelik weet, maar hy het hom dit reeds wysgemaak
dat die baba syne is. Sy slape klop. "Wanneer het jy dit besluit?"
Haar oë, die vensters tot haar siel, glinster van die trane.
"Terwyl ek met Deline gepraat het. As ek 'n toets laat doen, sal dit
alle onsekerheid uit die weg ruim. Ek is bevrees ek kan nie voortgaan
sonder klinkklare bewyse nie. Sodra ek weet wat die waarheid is, kan
ons van daar af verder gaan."
Solank sy nie weier om met hom te trou nie, kan Vincenzo daarmee
akkoord gaan. Al vrees hy dat Simonides die pa kan wees. "Dan doen
ons dit sommer dadelik."
Sy kyk hom smekend aan. "Haat jy my nie hiervoor nie?"
"Irena - jou swangerskap kan in gevaar wees as jy nie gemoedsrus het
nie. Is jy reg om te gaan?"
"Ja."
Hulle stap deur die kombuis. Sy tel haar handsak op en volg hom
buitentoe na sy motor. Haar gemoed is so swaar dat sy onsiende
deur die venster staar terwyl hulle met die steil pad na die Via
Colombo beweeg.
"Ons ry met die litoranea-pad na La Spezia. Jy sal onthou van toe jy
laas hier was dat die rit net twintig minute duur."
"Ja, soos jý bestuur," terg sy onverwags.
Sy mondhoeke vertrek effens en vir 'n oomblik lyk hy minder
gespanne. Toe sy haar kop teen die ruit laat rus, skakel hy die
lugreëling aan en skakel die hospitaal se ongevalleafdeling. Hopelik is
daar 'n ginekoloog op diens en hoef hulle nie lank te wag nie.
Die verkeer word druk toe hulle die stad bereik.
Hy vleg deur die strate tot by die hospitaal, waar hy stilhou. Dit is so
besig dat Vincenzo bly is hy het geskakel en 'n afspraak gemaak.
Nadat hy haar die ongevalleafdeling binnegelei het, wag hulle net tien
minute voor die hulpverpleër signorina Spiros se naam roep.
Hulle stap met die gang af na 'n kantoortjie.
Die vroulike ginekoloog, wat in haar veertigs is, groet hulle in goeie
Engels. "Ek is dokter Santi. Waarmee help ek?" '
Dis Irena se gebied dié. Vincenzo luister swyend hoe sy haar versoek
rig. Die dokter kyk met meegevoel na hulle terwyl Irena die
agtergrond skets.
"Jy bluf my nie." Toe sy sag lag, gee dit Vincenzo nuwe lewenskrag.
"Ek moet iets eet. Kom ek maak vir jou my eie weergawe van
bruschetta. Dino is mal daaroor."
"Ek is bevrees ek is ook weer honger. Die medisyne vir die naarheid
werk. Nou wil ek net eet en slaap." Sy volg hom kombuis toe.
"Ongelukkig was elke maaltyd wat ek nog in Italië gehad het, hemels."
Vincenzo lag binnensmonds. Haar eerlikheid is verfrissend. As sy van
iets hou, verlustig sy haar met haar hele hart daaraan. Terwyl hy die
bestanddele uithaal, hou sy hom dop. Hy hou baie daarvan.
Nie lank nie of hy het die voorgereg gereed. "Ek sou vir jou van
daardie soet plaaslike dessertwyn wat jy laas so geniet het, wou
aanbied, maar dit sal moet wag tot die baba gebore is."
Hulle oë ontmoet vir 'n oomblik. "Dit sal die ontbering werd wees."
Hy streel met sy mond oor hare voor hy haar die voorgereg laat
proe. Dit verskaf hom eindelose genot om haar dit te sien eet. Sy
staan langs hom by die kombuisblad. Nou en dan maak sy 'n geluidjie
van genoegdoening terwyl sy kou.
Vincenzo is mal daaroor dat sy nie praat oor hoeveel gewig sy gaan
aansit nie. Hy hou van alles omtrent haar. Toe hy weer van haar
mond besit neem, smaak dit na olyfolie en die geur van die kruie wat
hy bygevoeg het.
Dis hemels verby, en dit geld ook vir die gevoel van haar lyf toe hy
haar teen hom aan trek. "Ek smag al die hele dag hierna. Jy het geen
idee hoeveel ek jou begeer nie." Hy soen haar lank en driftig. "Die
afgelope twee maande sedert jy weg is, was 'n woestyn. Dino was al
wat my aan die gang gehou het. Wanneer gaan jy toegee dat jy my
gemis het?"
"Is dit nie wat ek nou doen nie?" Haar gedempte antwoord verheug
hom.
"Irena ..." Oorweldig deur begeerte, kelk hy haar gesig in sy hande
sodat hy haar gelaatstrekke een vir een kan soen, haar ooglede, die
hartstogtelike kurwe van haar vrygewige mond.
Hulle soen mekaar oor en weer, al inniger.
Net toe hoor hulle albei 'n klop aan die voordeur.
Dit onderbreek iets privaats en wonderliks. Irena se reaksie is om weg
te trek, maar Vincenzo weet wat die onderbreking beteken en trek
haar besitlik teen hom aan. Die geklop word harder.
Sy sit haar hande teen sy bors. "Wie dit ook al is, gaan nie weg nie."
"Die nuus van ons voorgenome huwelik het reeds uitgelek deur Mila
se prokureur." Hy soen haar handpalms een vir een. "Een van my
neefs het kom uitvind of dit waar is. Waarskynlik Gino. Voel jy dapper
genoeg om hom te ontmoet as ek hom laat inkom?"
"Moet ek bang wees?"
"Hy hou geen bedreiging in nie, maar jy is wel vir hom 'n bedreiging
omdat jy my vrou gaan word."
"Hoe so?"
"Omdat hy vir jare geen las van my gehad het nie. Maar sodra ons
terugkom van Kalifornië gaan hy en my ander neefs baie meer van
my te siene kry. Ek gaan maar oopmaak voor hy die plek afbreek.
Ons kan vir hom die bruschetta wat oorgebly het, aanbied," voeg hy
glimlaggend by.
Maar toe hy deur die woonstel stap en die voordeur oopmaak, is dit
sy stiefbroer Fabbio wat self daar staan. Hy vertrou skynbaar nie vir
Gino of Luca om sy vuilwerk te doen nie. Nou toe nou ...
Die hele onsmaaklike geskiedenis tussen hulle flits deur Vincenzo se
gedagtes. Hy kan die kere wat hy sy spoggerige, donkerblonde
stiefbroer die afgelope sewe jaar gesien het, op sy een hand tel.
"Entrate, prego."
"Ek verkies om te bly waar ek is. Is dit waar?"
Party dinge verander nooit.
Vincenzo kyk oor sy skouer. "Innamorata, kom ontmoet my
stiefbroer," sê hy in Engels.
Irena beweeg tot langs hom. Hy weet hy kan op haar reken om kalm
te bly te midde van 'n emosionele storm, behalwe wanneer dit by die
baba se vaderskap kom.
Die skielike flits van manlike belangstelling in Fabbio se grys oë toe
Irena by hulle aansluit, ontgaan Vincenzo nie. Nadat sy so deeglik in
die kombuis gesoen is, lyk sy begeerliker as ooit.
Hy sit sy arm om haar skouers en trek haar styf teen hom aan.
"Irena Spiros, ontmoet Fabbio. Te midde van vele talente, is hy ook 'n
avvocato."
"Dit beteken advokaat, nie waar nie?" Met die gemak en onbewuste
waardigheid van 'n ware dame, skud sy sy hand. "Aangename kennis,
Fabbio,"
Heeltemal onkant betrap, soek sy stiefbroer na woorde. Dis
buitengewoon vir Fabbio, wat 'n paar sentimeter langer as Vincenzo is,
om sprakeloos te wees. "Ek het jou al voorheen gesien."
"Mense sê dit dikwels vir my. Daar is seker baie vroue wat dieselfde
voorkoms as ek het."
Vincenzo het nog nooit iemand teëgekom wat op hulle voete kan dink
soos Irena nie.
"Nee." Fabbio wil die onderwerp nie laat vaar nie. Sy sê iets anders
om hom van stryk te bring. "Wil jy nie inkom nie? Vincenzo het pas
vir ons die heerlikste kos gemaak. As jy nie die bruschetta opeet nie,
gaan ek, en ek het reeds te veel geëet." Met daardie sensuele glimlag
van haar word sy getroude stiefbroer finaal oorrompel.
"Aangesien ek ongenooid opgedaag het, moet ons dit miskien by 'n
ander geleentheid doen." Sy blik dwaal van haar pragtige swart hare
al langs die kurwes van haar lyf tot by haar voete in sykouse, wat 'n
prentjie skep van twee minnaars wat 'n intieme aandjie geniet. Hy
skeur eindelik sy blik weg om dolke na Vincenzo te skiet. Fabbio het
hom jare gelede al doodgewens. "Kan ek 'n oomblik met jou praat?"
Irena gee sy arm 'n drukkie. "Ek is seker julle twee het baie om oor
te gesels. Ek gaan my uit die voete maak."
Voor sy kan wegtrek, plant Vincenzo 'n soen op haar rooi, effens
geswolle lippe. "Ek sal nie lank wees nie," fluister hy.
Sy knik. "Dit was goed om jou te ontmoet, Fabbio." Toe sy weg is,
leun Vincenzo met sy hande in sy sakke teen die kosyn. "Waaroor
gaan dit? Soos jy kan sien, het ek ander sake om aan aandag te gee."
Fabbio se wange vlam rooi. "Mila het pas uitgevind dat jy Dino
Donderdag weer vir twee weke uit die land neem."
"Dis reg."
"Daar word geen voorsiening gemaak vir veranderinge aan die
hofbevel nie."
"Jy weet baie goed dat my troue die egskeidingsbevel in effek sal
ophef. Die enigste rede waarom jy vanaand hierheen gekom het, is
om die bewyse met jou eie oë te sien. Noudat jy my verloofde
deeglik bekyk het, sal ek verkies dat jy gaan."
Fabbio se woede dreig om oor te kook.
"Jy gaan nie hiermee wegkom sonder 'n geveg nie," sê hy.
"Dis tog seker vir Papa om te besluit."
"Hy is siek."
"Net wanneer dit hom pas."
"Accidenti a te!"
"Jy kan my vloek nes jy wil, dit gaan jou niks baat nie."
Hy haal nou hard asem. "Die hele familie is teen jou."
"Dit was nog altyd so."
"Jy sal nie hierin slaag nie."
"Oppas, Fabbio. Jy verklap jou vrees."
"Jy ook, anders sou jy nie alles in die geheim gedoen het nie."
"Neem jy my dit kwalik dat ek haar so lank moontlik van die wolwe
wil weghou? Julle lê almal en wag om haar uitmekaar te skeur, maar
ek sal dit nie toelaat nie. Irena is nou die belangrikste ding in my
lewe." Hy kom orent en haal sy hande uit sy sakke. "Buonanotte,
Fabbio,"
Die oomblik toe Vincenzo die deur agter Fabbio toemaak, kom Irena
te voorskyn. "Dink jy nie dis tyd dat jy my van jou familie vertel nie?"
Hy lig 'n wenkbrou. "Behalwe vir my ma wat sewe jaar gelede
oorlede is, voer ek van my geboorte af al oorlog teen hulle."
Sy kom nader en soek in sy oë na die waarheid. "Jy maak nie 'n grap
nie." Die pyn in hare wys sy voel saam met hom.
"Ek het een keer vir jou gesê ons is teenoorgesteldes. Jy kom uit 'n
liefdevolle gesin en het byna in 'n familie ingetrou wat vir my ook
liefdevol en vergewensgesind klink. Ek is ook lief vir my pa omdat hy
my pa is, maar ek hou nie van hom of van my outokratiese oupa wat
nou oorlede is of my stiefbroer of my ooms nie. Selfs nie van my
neefs noudat hulle soos hulle pa's begin optree nie.
"O, toggie."
"Ek klink na 'n monster," kners hy dit uit.
"Nee." Sy dink 'n oomblik na. "Afgesien van jou ma, is daar geen
vroue in die groep nie?"
Hy gee 'n skerp laggie en sit sy hande op haar skouers. "Dosyne van
hulle."
"Maar hulle het geen sê oor die mans wat die dinastie oorheers nie,"
lei sy af. "Hoe dikwels is Dino by hulle?"
"Mila bring die meeste van haar tyd saam met hulle deur. Dit
beteken my seun doen dit ook. My pa is gek oor hom."
"Wie is nie? Ek is mal oor hom en ek ken hom nog net 'n kort
rukkie. Voel Dino soos jy?"
"Ek is nie seker nie."
"Hoe is dit moontlik? Hy vertel jou dan alles?" Hy skud sy kop.
"Sommige dinge hou hy vir homself. In my geval is ek bevrees my
gebrek aan betrokkenheid by die familie spreek vanself."
"As hy soms stilbly, is dit moontlik omdat hy skuldig voel."
Vincenzo soen haar op die punt van haar neus.
"Hoekom sê jy so?"
"Want hy weet hoe jy voel en hy wil nie iets doen wat jou sal
ontstel of seermaak nie. Of wat jou in die moeilikheid sal laat beland
nie," voeg sy sag by voor sy versigtig van hom wegtrek. "Soos dit vir
my klink, was jou besluit om met my te trou, 'n vonk in die kruitvat."
"Jy hoef jou nie daaroor te bekommer nie. Die familie het niks met
jou of my te make nie. Ons lewe saam met ons kinders sal ons eie
wees."
Sy kyk vinnig in sy rigting. "Ek het Dino lief asof hy my eie kind is. Ek
begeer niks meer as 'n lewe saam met ons kinders nie."
Gee Irena toe dat sy hom liefhet deur te sê sy het Dino aanvaar? Sy
het immers nog nie hulle baba gehad nie. Vincenzo weet die twyfel
wat daar oor die kind se vaderskap bestaan, rus swaar op haar ge-
moed. "Ek het vir ons 'n oplossing, maar slegs as jy daarvoor te vinde
is."
"Wat is dit?"
"Eendag sal ons nog 'n baba hê."
Haar oë skiet vol trane. "Waarom kry ek die gevoel dat jy dink ek
gaan daardie een vrou uit twee honderd wees?"
Vincenzo trek haar teen sy bors vas, "Jy is verkeerd, Irena. As jy
voortgaan met die toets, is ek seker alles sal oukei wees en ons sal
'n gesonde baba hê. Ek wil net hê jy moet weet hoe gretig ek is om
'n baba saam met jou te hê. Ons baba, sonder dat daar 'n swaard
oor ons koppe hang. 'n Kind wat nooit hierdie huis - ons huis - sal
hoef te verlaat nie. Die waarheid is dat ek nooit op Mila verlief was
nie en sy weet dit. Maar ons albei se pa's wou hê ons moes trou en
my siek ma het my aangemoedig omdat sy gedink het Mila sou vir
my 'n goeie vrou wees. Sy was bekommerd oor my wilde kant."
Daar speel 'n effense glimlag om Irena se mond.
"Ek sou nooit dink jy hét so 'n kant nie."
Hy byt saggies aan haar oorlelletjie. "My ma het gedink ek geniet dit
te veel om 'n vrygesel te wees. Nes alle ma's en pa's het my ouers
gedink om te trou sal 'n stabiliserende invloed op my hê. Toe trou ek
en Mila. Dit was die fout van my lewe. Om my daarvoor terug te kry
dat ek nie vir haar lief was nie, het sy my eers op ses maande, toe
sy dit nie meer kon wegsteek nie, vertel sy is swanger."
Die afgryse staan op Irena se gesig geskryf.
"Dino is vier weke vroeg gebore. Die twee maande voor hy gebore is,
was die gelukkigste van my lewe omdat ek geweet het ek gaan pa
word. Maar nadat hy gebore is, het dit in 'n nagmerrie verander. Sy
het geweier dat ek naby Dino kom. Haar dokter het gesê dit is
postpartum-depressie. Ek het besef wat dit was. Sy kon my nie
vashou nie, maar sy wou ons baba vir haarself hê. Teen die tyd dat
Dino drie maande oud was, was ek heeltemal uit sy lewe gesluit. Ek
het vir haar gesê ons kan nie so aangaan nie, maar sy het gesê daar
is niks wat ek daaromtrent kan doen nie. Ek het vir haar gesê dat ek
van haar sou skei. Sy het beweer ek sou dit nie waag nie."
Irena kreun.
"Aaklig, nie waar nie? Toe my pa uitvind ek gaan haar verlaat en
besef hy kan my nie keer nie, het hy my onterf en geskree dat hy
my nooit weer wil sien nie. Die enigste rede dat daar hoegenaamd
toesigregte aan my toegestaan is, was omdat my ma by my pa
daarvoor gepleit het voor sy dood is. Tot vandag toe het ons mekaar
nog nooit weer gesien of met mekaar gepraat nie."
"Die troue sal dus ..."
"'n Nuwe begin vir my en my pa wees," val hy haar in die rede.
"Hoe sal ons huwelik enigiets in sy oë verander?"
"Ek ken my pa. Hy wou my nooit onterf nie, maar hy moes sy
waardigheid voor Mila se pa behou. Noudat hy gehoor het ek gaan
weer trou, sal ek as 'n nuwe man na hom toe gaan en vir hom sê ek
wil graag hê ons moet oor begin. Deur hom te nader, sal ek hom in
staat stel om sy trots te behou. Hy sal verheug wees en die regter
vra om my volle regte as pa te herstel."
Daar is skielik 'n agterdogtige glinstering in haar oë. "Om met enige
vrou te trou, sou jou in staat gestel het om dieselfde te bereik."
Sy moed sak in sy skoene. "As 'n mens so daaraan dink, kon ek jare
gelede al getrou het, maar jy maak een groot fout. Waarom slaap jy
nie daaroor nie? Hopelik werk jy dit een van die dae uit," Hy asem
rukkerig in. "Gaan slaap, Irena. Jy lyk doodmoeg. Ek sal die kombuis
opruim en dan sien ek jou môreoggend."
5
IRENA se troudag breek aan, maar sy het nie die vorige nag goed
geslaap nie. Dis maar goed dat Vincenzo vroeg reeds weg is Milaan
toe om vir Dino te gaan haal. Toe sy in die spieël kyk en haar
afgeremde gesig sien, is sy bly sy het tyd om die skade te herstel
voor hulle terugkeer.
'n Deel van haar rusteloosheid spruit daaruit dat sy sedert haar laaste
oproep aan haar ouers nog niks verder vir hulle gesê het nie. Sy is
nie seker of sy hulle nou moet bel of eers ná die wittebrood nie.
Maar toe dit later word, besef sy sy kan nie langer uitstel nie. Om
hulle so seer te maak nadat hulle haar lewe lank vir haar wonderlike
ouers was, sou onvergeeflik wees. Sy sal hulle die waarheid moet
vertel. Nie alles nie, maar genoeg om hulle tevrede te stel.
Nadat sy haar vir die groot dag gereedgemaak het, stap sy kombuis
toe om haar pille te gaan drink en die oproep te maak. Dit blyk dat
haar pa reeds weg is werk toe, maar haar ma skakel hom sommer
daar en hulle hou 'n konferensie-oproep.
"Irena? Ek was bekommerd oor jou," val haar pa met die deur in die
huis.
"Ek weet. Hoe gaan dit met julle?"
"Goed, maar dis nie die punt nie." Haar pa klink ontsteld. "Wat hoor
ek van uitstappies saam met een of ander Italianer en sy seun? Wie
is hy?"
Sy haal 'n slag diep asem. "Sy naam is Vincenzo Antonello. Hy is
geskei en het 'n sesjarige seuntjie, Dino. Hy bestuur die Antonello
Liquers-fabriek in La Spezia."
"Die een wat jy vir die artikel besoek het?"
"Ja."
"Is hy die rede waarom jy nog in Italië is?" Haar ma vra dit nie om
dowe neute nie.
Haar hart klop in haar keel. "Ja."
"Ek sal Andreas nooit vergewe vir wat hy aan jou gedoen het nie,"
blaker haar pa dit uit.
"Moet asseblief nie so sê nie. Ek glo dis hoe dit moes wees. Hy kon
net so min verhelp hoe hy oor Gabi gevoel het as wat ... as wat ek
kan verhelp hoe ek oor Vincenzo voel."
Daar is 'n stilte.
"Wat voel jy vir hom?" vra haar ma.
Dis nou of nooit. "Toe ek hom twee maande gelede ontmoet het, het
ons al ons tyd saam deurgebring. Ek het dit nie so bedoel nie, dit het
net gebeur. Teen die tyd dat ek moes teruggaan, het hy my gevra om
te trou."
"Toe jy reeds aan Andreas beloof was?" Haar pa klink verstom.
"Ek was nie aan hom beloof nie, Pa. Ons was nie eens verloof nie!
Dis waar dat ons lief was vir mekaar, maar klaarblyklik nie genoeg om
die kansel te haal nie. Daar was tye wat hy sy gevoelens met Leon
gedeel het eerder as met my. Ek weet nou ek was nooit verlief op
hom nie. Dis waarom ek teruggekom het Riomaggiore toe."
Haar ma maak 'n vreemde geluid. "Wat sê jy nou eintlik?"
Sy klem die foon stywer vas. "Ek en Vincenzo trou oor 'n paar uur."
"'n Paar uur ... !" roep haar ouers gelyk uit.
"Ja. Daar is 'n kerkie in dieselfde straat as sy woonstel. 'n Vader
Rinaldo gaan ons trou. Ek weet dit is vir julle 'n groot skok. Dit is
eintlik vir my ook. Julle het geen idee hoe lief ek hom het nie. Hy is
'n wonderlike man met 'n dierbare seuntjie." Die besef dat haar
gevoelens jeens Vincenzo in liefde verander het, is vir Irena 'n skok,
maar die oomblik toe sy die woorde sê, weet sy dis waar.
Haar pa herstel eerste. "Bly die seun by hom?"
Irena maak haar oë toe. "Nee. Dino bly by sy ma. Hulle het 'n reëling
oor toesig."
"Jy gaan dus 'n deeltydse ma wees voor jy self ma word!" sê haar
ma.
Die trane rol oor Irena se wange. "Ek is baie bly daaroor en ek hoop
julle sal ook wees."
"Wanneer gaan ons hom ontmoet?" wil haar pa weet.
"Ons gaan vir twee weke in Kalifornië wittebrood hou. Ek sal julle bel
sodra ons daar aankom. Wanneer ons terugkeer en alles is rustig, sal
ons drie Athene toe vlieg. Ek het Vincenzo alles van julle vertel en hy
is gretig om ..."
"Irena?"
Dis Dino.
"Ek is jammer, maar ek moet nou gaan. Ek sal julle binnekort weer
bel. Lief vir julle." Sy lui af. "Hier is ek."
Dino kom die woonstel in 'n kortbroek en dinosourus-hemp
ingehardloop. Toe hy haar in die eetkamer sien staan, kom hy
terstond tot stilstand. "Jy is bellissima!"
Dit tref haar hoeveel sy hom gemis het. "Grazie" sê sy met 'n glimlag
en gee hom 'n drukkie.
Sy bruin oë neem die roomkleurige tweestukpakkie wat sy in een van
die boetieks gekoop het, in. Om haar nek hang die kantmantilla van
dieselfde kleur wat sy oor haar kop sal sit wanneer sy die kerk
binnegaan.
Toe hulle inkopies gedoen het, het sy Vincenzo gevra wat hy dink
goed sal lyk in haar hare. Hy het gesê dit maak nie saak nie, solank
sy dit los dra.
"Is dit tyd?"
Sy kyk op haar horlosie. "Amper. Ek was bang julle gaan nie betyds
wees nie."
Vincenzo kom van buite af in, ook in 'n kortbroek en T-hemp geklee.
Sy blik streel so intiem oor haar dat sy bewe. "Nadat ons uit Milaan
weg is, was daar 'n vreeslike ongeluk op die strada wat ons opgehou
het. Kom na my kamer toe, Dino, sodat ons kan gereed maak."
"Julle nuwe pakke is op die bed!"
"Fantastico!"
Sy hoor hoe die stortkraan oopgedraai word. Ná 'n rukkie kom Dino
teruggehardloop kombuis toe in sy nuwe donkerblou pak en wit
hemp. Vincenzo dra dieselfde uitrusting. Hulle dra albei blou en silwer
strepiesdasse.
Irena haal 'n bloemisteboksie met twee roomkleurige babarosies en
haar skouerruiker uit die yskas. Sy haal Dino s'n uit en steek dit aan
sy lapel vas. Dan soen sy hom op die wang. "Nou lyk jy bello soos
jou papa.
"Vleitaal sal jou alles in die sak bring," sê Vincenzo in sy diep stem.
Sy draai vinnig om en kyk in sy smeulende blou oë vas. "Kry ek ook
'n roos?"
Hy is ongelooflik aantreklik. Haar mond is so droog dat sy nie kan
praat nie. In plaas daarvan haal sy die ander roos uit en stap na hom
toe. Haar vingers sukkel lomp om dit vasgesteek te kry. Terwyl sy
besig is, plant Vincenzo tot Dino se vermaak soentjies oral oor haar
gesig.
"Nou is dit jou beurt, signorina Spiros," Hy steek die ruiker van
roomkleurige rosies naby die skouer van haar pakkie se baadjie vas.
"Jy besef natuurlik dat dit nie meer lank jou naam gaan wees nie."
Hoe kan sy dit vergeet? Dit was aan die een kant pyn en verwarring
en aan die ander kant die belaglike hoop dat Vincenzo sy
huweliksaanbod opreg bedoel het, wat haar so impulsief na
Riomaggiore laat kom het. En hier staan sy nou, gereed om te belowe
dat sy hierdie man wat sy slegs 'n kort rukkie ken, sal liefhê, eer en
koester.
Dis vreemd dat sy Andreas jare lank geken het, maar selfs nadat hulle
begin uitgaan het, het sy nooit die klein goedjies van hom geweet
wat sy reeds van Vincenzo weet nie.
Elke dag saam met hom, soms selfs elke uur, bring 'n nuwe verrassing
mee. Soms laat dit haar uitasem en soms laat die nuwe inligting wat
hy met haar deel, haar kop behoorlik draai.
Blosend en senuagtig draai sy na Dino. "Ek dink ons is gereed."
"Eers 'n paar foto's." Vincenzo sit sy kamera op die stoeptafel reg.
Sy sit 'n hand op sy arm. "Ek het pas my ouers gebel en vir hulle
vertel dat ons gaan trou."
Sy blik is vraend. "Moet ek verwag dat die polisie op my gaan toesak
voor ons by die kerk uitkom?" terg hy.
"Nee. Hulle is nie so nie. Maar hulle sal foto's wil sien."
"My pa ook."
Nadat hy die kamera gestel het, gaan staan hulle drie voor die
rankrose. Hulle neem vinnig 'n dosyn of wat foto's.
"Nou ja," sê Vincenzo toe hulle klaar is. "Kom ons gaan trou."
Dino stap voor toe hulle die woonstel verlaat.
Hulle vat hande met hom in die middel en volg dieselfde roete as
wat hulle daardie warm sonskynmiddag gestap het. Elke paar treë
keer toeriste hulle voor om hulle geluk te wens en foto's te neem.
Elke keer as sy na Vincenzo kyk, slaan hy haar asem weg. Hy en sy
glimlaggende seuntjie is ewe aantreklik.
Sommer gou staan die plaaslike inwoners langs die straat en juig hulle
toe. Irena sou haar dit nooit kon voorstel dat sy kerk toe sou stap vir
haar eie troue terwyl mense blomblaartjies op hulle gooi nie. Maar
nes alles wat in hierdie tuinparadys met Vincenzo te make het, voel
dit net reg.
Teen die tyd dat hulle die kerkie kan sien, het die skare aansienlik
gegroei. Irena dink aanvanklik dit is maar wat gebeur met elke
paartjie wat hier trou. Maar algaande word dit duidelik dat die mense
daar is oor Vincenzo.
Sy besef dat daar iets anders aan die gang is. Irena sou hom graag
daarna wou vra, maar dis te laat. Hy het reeds die deure oopgemaak
en sy moet Dino se hand laat los om die mantilla oor haar kop te sit.
Vincenzo help haar.
"Het ek al vir jou gesê hoe squisita jy is?" vra hy hees.
Hy lei haar deur die voorportaal en in die paadjie af tot voor waar
hulle op 'n bank gaan sit. Ná 'n rukkie kom 'n man en vrou die kerk
deur 'n sydeur binne. Hulle knik vir Vincenzo en gaan sit weerskante
van die gangetjie. 'n Oomblik later verskyn vader Rinaldo. Toe hy
nader kom, staan hulle drie op.
"Julle is laat."
Dino verduidelik in 'n stortvloed Italiaans die rede vir die oponthoud.
Die priester knipoog vir hom en streel oor sy kop.
"Ongelukke gebeur. Ek verstaan." Hy kyk vlugtig na Vincenzo. "Ons sal
die papierwerk ná die seremonie afhandel."
"Grazie"
"Dino, staan by jou papa. Signorina Spiros sal aan sy ander kant
staan. Vincenzo, neem Irena se hand, dan kan ons begin."
Sy bekende greep om haar hand stel haar gerus. Die priester lei die
seremonie in Engels. Dit is waarskynlik die kortste kerkdiens in
menseheugenis.
Sy twyfel nie daaraan dat Vincenzo vir sowel die taal as die lengte
daarvan verantwoordelik was nie.
Hulle antwoord albei op die gepaste tyd.
"En nou, Vincenzo en Irena, verklaar ek julle wettig getroud. Amen,"
sê die priester dan.
Hy glimlag vir Dino en sê iets in Italiaans. Irena sien hoe haar nuwe
stiefseun glimlag.
"Sí," sê hy opgewonde.
Vincenzo draai na haar toe. "Vader Rinaldo het pas vir Dino gevra of
hy dink ek behoort my nuwe bruid nou te soen."
Hy buk af en soen haar so teer dat woorde nie kan beskryf hoe diep
dit haar raak nie. Sy hoor skaars hoe die priester ook iets anders vir
Dino in Italiaans sê.
"Papa ..." Hy pluk aan sy pa se mou.
Toe sy weer sien, het hy 'n goue ring vir Vincenzo aangegee.
Hy draai weer na haar toe. "Dit was my ma s'n. Sy het vir my gesê
om dit te hou vir die vrou met wie ek gaan trou." Met dié glip hy
dit aan Irena se vinger.
Hy kon werklik nie lief gewees het vir Mila nie, anders sou hy dit vir
haar gegee het en dan sou dit steeds aan haar behoort het. Maar die
omstandighede rakende sy eerste troue is vir haar nog grotendeels
duister. Vincenzo laat nie aan hom voorskryf nie. Sy kan nie verstaan
dat hy met Mila sou getrou het omdat hy onder druk geplaas is nie.
"Irena?" Haar kop ruk op. "Vader Rinaldo het gevra dat ons hom na
die voorportaal moet volg sodat ons die huweliksertifikaat kan teken."
"Natuurlik."
Dino draf voor hulle uit. Die getuies teken eerste, dan is dit Irena se
beurt. Sy skryf Spiros en daarna Liapis.
Vincenzo teken laaste. Sy wag terwyl hy sy handtekening maak. Dit
neem so lank dat sy afkyk na die papier. Haar oë rek, want sy naam
gaan aan en aan met 'n sierlike kurwe.
Guilio Fortunato Coletti Vincenzo Antonello Gaspare Valsecchi.
Nadat hy geteken het, maak die vroulike getuie 'n effense kniebuiging
vir Irena. "Congratulazioni, Duchessa" prewel sy.
Irena is seker sy het nie reg gehoor nie, maar toe sy omdraai om
met die vrou te praat, het sy en die man reeds verdwyn.
"Vincenzo?" Sy gryp hom aan die arm. Hy lig sy donker kop op.
"Si, signora Valsecchi? Ek weet nie van jou nie, maar ek hou van hoe
dit klink. Ek hou baie daarvan." Sy smeulende blik laat haar binneste
smelt.
"Daardie vrou het my pas hertogin genoem."
Hy moet nog 'n vorm teken. "Moet jou nie daaraan steur nie," brom
hy. "Dis al jare lank 'n uitgediende titel. Maar sommige mense dring
steeds daarop aan om dit te gebruik om belangrik te voel."
Sy weier om haar van stryk te laat bring. "Is jy dan 'n hertog?"
"Dis betekenisloos, tesora"
Irena draai na Dino. "Weet jy wie jou pa is?"
"Sí. Hy is Papa!"
"Nee ... ek bedoel ... o," kreun sy gefrustreerd.
Vincenzo se binnensmondse laggie vererger dit. Hy staan eindelik op
en gee die papiere vir Dino aan. "Sal jy asseblief binnetoe draf en dit
vir vader Rinaldo gee? Ons wag hier vir jou."
Dino knik en skiet weg. Toe hy verdwyn het, neem Vincenzo haar in
sy arms.
"Nou goed dan. Ek gaan jou dit eenmaal vertel en dan hoef ons nooit
weer daaroor te praat nie. My pa is die huidige hertog van La Spezia,"
Sy knipper haar oë. "Die Valsecchi's was met ander woorde eenmaal
'n belangrike familie."
"Eenmaal," beklemtoon hy. "Toe ek met Mila getroud is, is daar
gevrees dat my pa kanker het. Hy het die titel toe aan my oorgedra.
Ek het my nie daaraan gesteur nie, maar ongelukkig het dit in die
koerante beland. Maar toe herstel hy. Nadat ek van Mila geskei is,
het hy my onterf en die titel is teruggetrek. Dis al."
Irena skud haar kop. "Dit kan nie al wees nie. Wie was jou ma?"
Hy betrag haar 'n oomblik. "Die Antonello's was 'n voormalige
koninklike familie van die Liguriese streek."
"En Mila?"
"Haar familie het uit Florence gekom en was minder belangrik. Dit
beteken absoluut niks, Irena,"
"Behalwe dat jy deur van haar te skei deur die adellikes uitgewerp is."
Hy haal sy skouers elegant op. "Dis een manier om dit te stel, maar
dis nou geskiedenis."
"Behalwe dat ek 'n gewone burgerlike is."
"Dis wat so wonderlik is." Die vuur in sy oë brand deur haar. "Ek het
uiteindelik gekry wat my hart begeer."
Voor sy hom kan vra wat hy daarmee bedoel, kom Dino
teruggehardloop. Vincenzo tel hom op en gee hom 'n drukkie. Hulle
voer druk gesprek in Italiaans. Wat dit ook al is wat sy pa hom
vertel, laat Dino jil van vreugde.
Toe hulle by die kerk uitstap, vertaal Vincenzo vir haar. "Ek het hom
gevra of hy gereed is om op ons wittebrood te gaan. Hy het ja gesê
en gevra of dit ver weg gaan wees. Ek het vir hom gesê ons moet
soontoe vlieg."
"Was hy al ooit in 'n vliegtuig?"
"Nee. Toe ek vir hom sê ons gaan met die Valsecchi-maatskappystraler
Disneyland toe vlieg, het jy sy reaksie gehoor."
"Irena, is jy hartseer dat ons vandag huis toe moet gaan?" Dino lyk
so kostelik in sy Indiana Jones-hoed.
Vincenzo is na Ontvangs om die rekening te gaan betaal en hulle
twee is 'n oomblik alleen.
"Sí, maar ek weet jou mama kan nie wag om jou te sien nie. Sy gaan
mal wees oor die geskenke wat jy vir haar gekoop het."
Hulle het gesorg dat Dino Mila elke middag skakel. Hulle gesprekke
was nie lank nie, maar as hy dalk huis toe verlang het, sou dit gehelp
het om sy ma se stem te hoor.
Irena kan nie glo dat sy ná net twee weke al 'n bietjie van sy
Italiaans begin verstaan en 'n paar sinne kan terugpraat nie - natuurlik
met hope foute en baie gelag tussenin. Hulle het afgespreek om
soveel moontlik Italiaans te praat, en dit werk. Vincenzo het gesê sy
sal deur sy seun gouer Italiaans leer as op enige ander manier en hy
was reg.
"Kyk!" sê sy vir hom. "Ons moes tree tasse koop om al jou nuwe
klere en aandenkings in te pak!"
Haar opmerking laat hom giggel terwyl hy in sy Indiana Jones-
mondering rondhardloop. Hulle het vir hom Indiana Jones LEGO
gekoop om by die huis te gaan bou. Adventureland was sy gunsteling
en hulle het agt keer soontoe gegaan, maar hy het steeds nie die
moed om alleen op die oerwoudrit te gaan nie.
Irena het vir hom gesê sy is ook senuagtig op bote, maar dat sy sal
gaan as hy gaan. Toe hy tot by die ingang kom, lyk dit asof sy
vordering maak, maar toe deins hy weer terug.
Vincenzo soen haar in haar nek. "Dankie dat jy hom probeer help."
"Miskien moet ek met iets eenvoudigers begin, soos hom help om in
'n swembad te gaan. Wat daarvan as ek saam met hom lesse neem?
Dink jy dit sal werk?"
"Miskien. Jy het 'n slag met hom."
"Dis omdat ek lief is vir hom."
"Hy kan dit aanvoel. Dis waarom jy amper daarin geslaag het om hom
om te praat."
Amper, maar nie stamper nie. In die kort tydjie wat hulle saam is,
voel sy hulle drie het 'n gesinnetjie geword.
6
VINCENZO kom aan boord en, sê vir die kaptein hulle kan vertrek. Hy
tref Irena in die klubarea aan. Sy sit toe-oë agteroor op een van die
sitplekke. Selfs ná die lang vlug lyk sy vars in haar geel
tweestuklinnepakkie. Sy het 'n wonderlike sin vir styl en sy gloei van
die, Kaliforniese son, of miskien is dit daaraan te danke dat sy
swanger is.
Hy het twee weke gehad om na te dink oor die moontlikheid dat die
baba nie syne is nie. Dit is vir hom steeds problematies om te
aanvaar en hy weet dit sal vir hom moeilik wees om die baba na die
biologiese pa te laat gaan, veral nadat hy dit soveel jare met Dino
moes verduur. Maar op die oomblik is hy eerder besorg oor Irena en
die baba se gesondheid.
Soms wanneer hy hom toelaat om te glo, die baba is syne, ken sy
vreugde geen perke nie. Hy sug swaar. Oor twee weke sal hulle weet
wat die waarheid is en dan sal hulle dit hanteer. Al maak sy voor
Dino asof daar niks skort nie, kan Vincenzo aanvoel dat Irena al hoe
angstiger word.
Hy stap onwillekeurig nader en soen haar ontblote nek, wat vir hom
verruklik is.
"Vincenzo ..." Haar oë vlieg verras oop.
"Ons gaan so te sê opstyg. Kom ek help jou." Hy maak haar
sitplekgordel vir haar vas, gaan sit oorkant haar en maak syne ook
vas.
"Hoe het dit gegaan? Is Dino bly om weer by die huis te wees?"
"Ek is seker hy was bly om sy ma te sien, maar Leo was daar en dit
het dinge vir hom onnatuurlik gemaak."
"Nadat julle so lank bymekaar was, weet ek dit sal vir julle albei
moeilik wees om weg van mekaar te wees. Dankie tog dat jy net tot
Woensdag hoef te wag."
Hy leun vorentoe en soen haar weer lank. Hy is lief vir haar omdat
sy lief is vir sy seun, omdat sy verstaan.
Hulle het nou reeds opgestyg. Hy wag tot hulle op vlieghoogte is voor
hy sy sitplekgordel losmaak. "Kan ek vir jou iets van die kombuis af
bring?"
"Nee, dankie. Ek het koeldrank gedrink terwyl ek vir jou gewag het."
Hy gaan soek na 'n koppie koffie.
Toe hy terugkom, lyk sy bekommerd en kyk vraend na hom. "Hoe het
Mila jou behandel?"
"Noudat die bordjies verhang is, was sy buitengewoon stil."
Irena skud haar kop. "Sy weet tog seker dat ek haar nooit in Dino se
lewe kan vervang nie? Sy is sy ma! Ek kan bloot hoop om met hom
vriende te wees."
"Daar steek meer in as dit, Irena."
"Wat bedoel jy?"
"Terwyl Dino ons enigste kind was, het Mila haar nooit daaroor
bekommer dat hy nie eendag my pa se titel sou erf nie."
"Jy het gesê dit is uitgedien," herinner sy hom. "Dit is, maar vir haar
en haar familie het dit steeds simboliese waarde. Ek kon dit vanaand
in haar oë sien. Die moontlikheid dat ons in die toekoms 'n baba kan
hê, maak haar rasend. Dit sal beteken dat Dino nie meer alleen op
die titel en die geld kan aanspraak maak nie."
Irena gee 'n laggie. "Is dit 'n groot fortuin?"
Hy pers sy lippe saam. "Ja."
"Wat doen die Valsecchi-familie?"
"Baie dinge - beleggings, verskeping, uitvoer en vervaardiging regoor
Oos- en Wes-Europa. Noudat my oupa oorlede is, is my pa Guilio die
bestuurshoof en die oudste lewende lid van die familie."
"Is dit 'n groot familie?"
"Gemiddeld. Die direksie bestaan uit sy twee broers, my oom Carlo en
my oom Tullio. Hulle vyf seuns, my eksvrou se broer en my stiefbroer
wat jy reeds ontmoet het, rapporteer aan hulle. Elk van hulle is
visepresident verantwoordelik vir die onderskeie af delings van die
besigheid."
"Waar pas jy in?" vra sy sag.
"Dis 'n lang storie. Ek was ses en twintig toe my ma dood is. Jy weet
reeds sy wou gehad het ek moes met Mila trou. Ek het verloof
geraak, maar het nie op 'n troudatum besluit nie, want ek het meer
tyd nodig gehad. Behalwe in tye van oorlog, kan ek nie verstaan
waarom 'n mens 'n troue sal uitstel buiten as jy twyfel of dit die
regte ding is om te doen nie."
Hy sit sy leë koffiebeker op die sytafeltjie neer.
"Skaars ses maande later het my pa weer getrou, met 'n
aristokratiese weduwee van Genua. Sy het 'n seun, Fabbio, wat sewe
en twintig was en 'n oujongkêrel. Hy het op Mila verlief geraak. As sy
nie so baie ambisie gehad het nie, sou sy seker gelukkig gewees het
by hom.
"My pa het gesien wat aan die gebeur was. Dit was toe dat hy
aangekondig het dat hy met kanker gediagnoseer is. Ek dink hy het
dit dalk versin om my te manipuleer. Tot my spyt het dit gewerk. Ek
het onder die druk geswig en met Mila getrou. Nadat sy swanger
geraak het, het my pa in die hospitaal beland met prostaatkanker. Op
daardie tydstip het ek skuldig gevoel omdat ek aan hom getwyfel het.
"Hy het gedink hy gaan sterf en het my as waarnemende
bestuurshoof aangestel. Voor dit was ek sy assistent. Dit is toe dat hy
die titel aan my oorgedra het. Natuurlik het dit die res van die
familie die harnas ingejaag en daar is links en regs hofsake gemaak.
Dit was broer teen broer, neef teen neef. Om die spanning te
ontlont, het ek die titel van die hand gewys. Dit het nie net my pa
ontstel nie, maar het ook Mila en haar familie woedend gemaak.
Hulle het my soos 'n uitgeworpene behandel. My pa het mettertyd
herstel, maar wou nie met my praat nie."
Irena maak weer 'n geluid in haar keel. "Dit moes vir jou aaklig
gewees het."
"Met ons baba op pad, was dit aaklig, ja. Ek was dikwels weg vir
besigheid. Teen die tyd dat Dino gebore is, was dit omtrent oorlog.
Soos ek vroeër vir jou gesê het, wou sy nie hê ek moes enigiets met
Dino te make hê nie. Toe skei ek van haar. Die res van die verhaal
ken jy. Die wrede gedeelte was die toesigooreenkoms wat my min of
meer van my regte ontneem het."
Sy staar verdwaas na hom. "Waar het jy voor dit gewoon?"
"In een van die familie se kleiner palazzos wat oor die water uitkyk in
La Spezia. Ná die egskeiding het Mila daar aangebly"
"En jou pa?"
"Hy en sy tweede vrou woon in die hoof-palazzo waar ek
grootgeword het. Dis hoër op teen die berghang."
"Ek dag Mila het teruggegaan Florence toe?"
"Sy het op albei plekke tyd deurgebring, maar wanneer dit my
besoekbeurt was, het sy dit altyd reggekry om in Florence te wees.
Sy sou enigiets doen om dit vir my moeilik te maak. Deesdae verdeel
sy haar tyd tussen Florence, La Spezia en Milaan. Soos ek sê, wanneer
dit my beurt is om my seun te sien, moet ek reis, maar ek gee
natuurlik nie om nie."
"Hoe het dit gebeur dat jy in Riomaggiore woon?" vra sy.
"Die Valsecchi-maatskappy besit etlike honderde huise en woonstelle in
Cinque Terre wat verhuur word. Ek het besluit om die een waarin ek
woon, te neem omdat ek daarvan hou en ook omdat dit naby die
fabriek in La Spezia is waar ek werk. Antonello's was deel van my ma
se bruidskat toe sy met my pa getroud is."
Die liggie wat aandui dat hulle hulle sitplekgordels moet vasmaak,
gaan aan. Hulle nader Genua.
"Jy's reg." prewel Irena terwyl sy hare vasmaak. "Jou familielewe is
baie meer gekompliseerd as enigiets wat al met my gebeur hef' Sy
vee die hare uit haar gesig. "Vincenzo, waarom het jou huwelik met
my jou in staat gestel om gesamentlike toesig te kry?"
Hy het geweet die vraag gaan kom en het gehoop hy kan dit nog 'n
rukkie uitstel om daarop te antwoord. "Ek sal jou sê wanneer ons in
die motor is. Dit lyk asof jy reeds vlugflou is. Jou pragtige oë fladder
weer so.
Sy opmerking laat haar bloos.
Maar Vincenzo weet dat sy vrou, wat nog nie in sy bed geslaap het
nie, verdien om te weet wat aan die gang is. Hulle huwelik was nou
wel 'n geriefsreëling, maar hy smag daarna om dit eg te maak. Die
waarheid is dat hy nie met haar durf liefde maak voordat hy dit die
volgende dag met haar dokter uitgeklaar het nie. As hulle die baba se
lewe voor die toets in gevaar kan stel deur intiem te wees, sal hy
wag tot dit veilig is. Hy het immers reeds die prys verower.
Dis al halfelf toe hy 'n limo ontbied om hulle na sy motor te neem.
Toe hy die bagasie ingelaai het en koers kies Riomaggiore toe, raak
Irena teen die deur aan die slaap. By die woonstel aangekom, is dit
nie sy seun nie, maar 'n uitgeputte Irena wat hy na Dino se kamer
dra.
Hy trek haar skoene uit en trek 'n ligte donskombers oor haar. Hy is
verlig dat hulle eers die volgende dag sal hoef te praat. Hy maak
seker sy gaan nie wakker word nie, en gaan haal dan hulle bagasie in
die motor en pak soveel moontlik daarvan uit.
Toe hy die ligte afgeskakel en die deure gesluit het, gaan hy terug na
sy slaapkamer en maak die deur toe. Ongelukkig is daar een
telefoonoproep wat hy beloof het om te maak sodra hy van sy
wittebrood terugkeer. Dit is deel van die ooreenkoms wat hy met sy
pa bereik het. Met 'n gevoel van onafwendbaarheid haal hy sy selfoon
uit sy sak.
"Vincenzo, is jy tuis?"
"Sí, Papa."
"Hoe gaan dit met my klein Dino?"
"Hy floreer ná al die nuwe avonture." Hy en Dino moes oor die jare
heen baie meer sulkes gehad het. Vincenzo spook om sy woede in
bedwang te hou.
"Bring jou vrou môre na die palazzo toe. Ek en Silviana het alles
gereedgemaak vir julle om in te trek."
Vincenzo se keel trek toe. Dis skielik moeilik om asem te haal. "Ek sal
haar môre kantoor toe bring. Ek sal verkies dat julle eerste
ontmoeting met haar plaasvind waar ek gaan werk. Ek wil haar die
plek wys en haar aan almal voorstel. Gee ons twee weke hier in die
woonstel, dan sal ons intrek. Ek het nog geen tyd alleen saam met
haar gehad sedert ons getroud is nie, Papa."
"Is jy so mal oor haar?"
Sy pa het geen benul nie. "Vandat sy die eerste keer glimlaggend by
my kantoor ingestap het, het ek geweet sy is my sielsgenoot." En van
toe af het dit net beter geword. In so 'n mate dat hulle teen die
einde van haar sakebesoek aan Italië met soveel passie liefde gemaak
het dat dit hom nou nog kortasem maak. Vir daardie betowerende
tyd het hy in sy hart geweet sy dink nie aan Simonides nie.
"Dit moet my seker nie verbaas nie. Ek het gehoor hoe Fabbio vir
Tullio sê sy's die asemrowendste vrou wat hy nog ooit gesien het. Dis
hoe 'n mens jou ma kon beskryf toe ek haar die eerste keer ontmoet
het. Hou Dino van haar?"
Vincenzo maak keelskoon. "Ek dink hy hou baie van haar, maar jy
moet hom liewer self vra."
"Ek is van plan om dit te doen. Wil jou nuwe bruid kinders hê?"
As 'n mens se hart vier keer vinniger kan klop, is dit wat Vincenzo s'n
nou doen. Hy is verbaas dat 'n weerligstraal hom nie tref toe hy
antwoord nie. "Om eerlik te wees, was ons so besig met Dino dat
daar nog baie dinge is waaroor ons moet praat. Dis waarom ons dit
sal waardeer om vir nog twee weke alleen te wees."
"In daardie geval moet julle dit maar geniet terwyl julle kan, want jy
gaan daarna baie besig wees. Ek hoef nie vir jou te vertel hoe verlig
ek is dat jy by my gaan oorneem nie, Vincenzo. Soos jy agtergekom
het toe jy deur die boeke gegaan het, het ons wins die afgelope paar
jaar afgeneem en jy weet waarom."
"Ek stem saam dat die syfers nie goed lyk nie."
"Jou neefs het eenvoudig nie die sakevernuf wat jy nog altyd gehad
het nie. Dis 'n bestiering dat jy juis nou tot jou sinne gekom het. Ek
is moeg daarvoor om alles aan die gang te moet hou."
Vincenzo het ter wille van sy seun tot sy sinne gekom en om geen
ander rede nie. Sy pa gaan nie hou van al die veranderings wat hy
wil aanbring nie, maar noudat hy nog twee weke saam met Irena
gegun is, wil hy nie vanaand al die besonderhede daarvan bespreek
nie.
Hy dink aan die dag wat voorlê. Irena se doktersafspraak is
laatoggend. Daarna sal hy haar Spoleto's toe neem vir middagete. Dis
een van sy gunstelingeetplekke.
"Ons sal so teen eenuur by die kantoor wees. Ciao, Papa."
"Ciao, figlio mio."
Sy pa het hom die afgelope sewe jaar nooit "my seun" genoem nie.
So lank het hy Vincenzo oor 'n titel gyselaar gehou! Die woede wel in
hom op. Hy sweer 'n eed dat hy nooit sal toelaat dat so iets met
Dino gebeur nie.
Kort nadat Vincenzo haar by die woonstel ingedra het, skrik Irena
wakker. Sy is gefrustreerd dat sy weer eens voor hom aan die slaap
geraak het. Sy het gedink hy sou haar vanaand na sy slaapkamer
neem. Hulle was meer as twee maande laas intiem. Noudat hulle
getroud en alleen is, verstaan sy dit nie.
Gretig om hom te vra wat makeer, stap sy in die gang af, maar sy
deur is toe. Sy het hom met iemand hoor praat, maar het geen idee
wie dit is of wat hulle sê nie.
Sy voel emosioneel en fisiek uitgesluit en besluit om maar te gaan
stort en gereed te maak om te gaan slaap. Haar hart klop vinnig toe
sy by die badkamer uitkom - sy hoop hy wag vir haar. Maar die
woonstel is donker en stil. Dino se bed bly leeg.
Irena se hart pyn. Toe sy Vincenzo aanvanklik ontmoet het, het alles
so natuurlik gebeur. Dit was nie nodig om oor enigiets na te dink nie.
Nou is sy sy vrou, maar sy kan dit steeds nie waag om na sy kamer
te gaan en saam met hom in die bed te klim nie.
Geen man kon meer liefdevol en bedagsaam gewees het as wat hy in
Kalifornië was nie. Hy het haar met soveel deernis behandel, maar
nou is hulle tuis. Sy het versekering nodig dat hy haar nog soos voor-
heen begeer.
Nadat sy in die bed geklim het, onthou sy iets wat Deline weke
gelede vir haar gesê het. Het jy jou al afgevra waarom hy bereid is
om so vinnig met jou te trou? Irena het onmiddellik geantwoord. Hy
moes trou om die toesigooreenkoms te kon verander. In haar hart het
sy geglo hulle wedersydse aangetrokkenheid dui op iets meer as dit.
Hy het gesê hy het gekry wat sy hart begeer het.
Maar as sy verkeerd is en sy begeerte na haar is reeds besig om te
taan, is dit te laat om nou enige iets daaromtrent te doen. Hulle is
getroud en Dino is haar stiefseun. Hy vertrou haar. Sy verwag 'n
baba. Al hang daar steeds 'n vraagteken oor die vaderskap, het Vin-
cenzo gesê hy wil haar help om die kind groot te maak.
Haar ouers weet hulle is getroud. Terwyl hulle in Kalifornië was, het
Vincenzo oor die foon met hulle gepraat en hulle op sy kenmerkende
manier met sy sjarme oorrompel. Môre het sy haar eerste mediese
ondersoek by dokter Santi. Daar is nou nie meer omdraaikans nie. Dis
haar lewe dié, en sy het dit self gekies. Sy kan nie teruggaan nie.
Die volgende oggend maak Irena haar op haar gemak gereed. Sy wil
haar so mooi moontlik vir haar man maak. Sy laat haar hare loshang
soos hy daarvan hou. Nadat sy 'n rukkie gewik en geweeg het, besluit
sy om 'n ligpienk romp met 'n helderpienk breistoftoppie te dra. Dit
het kapmoutjies en 'n lae, ronde halslyn. Gekombineer met haar
sonbruin vel en 'n nuwe lipstiffie, hoop sy om Vincenzo 'n tweede en
dalk selfs 'n derde keer te laat kyk.
Hy stel haar nie teleur nie. Sy het pas haar vrugtesap klaar gedrink
toe hy die kombuis binnekom en sy arms om haar vou. "Jy lyk
verruklik." Irena draai om, maar in plaas van die lang innige soen wat
sy verwag, gee hy haar slegs 'n vlugtige soentjie. "Jy smaak on-
gelooflik. As ek my nie inhou nie, kom ons nooit vandag by die
dokter uit nie."
Irena steek haar teleurstelling weg en neem haar handsak. Terwyl sy
hom by die deur uit volg, verlustig sy haar aan sy gespierde lyf. Hy
dra vandag ligte chino's en 'n helderblou sporthemp wat by sy oë
pas. Hy is die toonbeeld van Italiaanse styl, van sy kroontjie tot by sy
handgemaakte leerskoene. Sy glimlag laat haar tintel.
Toe hy haar 'n halfuur later die buitepasiënte afdeling binnelei, trek
sy kragtige, manlike charisma al die vroue in die wagkamer se aandag.
Dit was in Kalifornië ook so. Oral waar hy gaan, word hy bewonder.
Tog lyk dit nie asof hy hom aan al die aandag steur nie. Sy moet
erken dat hy aantrekliker as enige filmster of glanspersoonlikheid is.
Dit is heerlik vir haar om saam met hom te wees en hom haar man
te kan noem! Irena kan nie glo sy voel en tree soos 'n tiener op
terwyl sy in werklikheid sewe en twintig en boonop swanger is nie.
"Spiros?"
Irena is so ingedagte dat sy eers besef haar naam word geroep toe
Vincenzo opstaan. "Dis jy, esposa mia."
Sy kom orent en hulle stap na 'n privaat ondersoekkamer.
Toe hulle sit, kom dokter Santi ingestap. Sy knik vir Irena. "Jy lyk
goed, Signorina."
"Dis nou signora Valsecchi," korrigeer Vincenzo haar. "Ons is twee
weke gelede getroud en het pas teruggekeer van ons wittebrood."
"O ... dit verklaar waarom julle so mooi bruingebrand is. Geluk."
"Dankie," antwoord hy namens hulle.
"Nou ja, Signora, het jy besluit of jy oor twee weke met die toets wil
voortgaan? Indien wel, sal ons dit nou moet skeduleer."
"Ek het die besluit geneem toe ek laas hier was. Dit het nie verander
nie."
Die dokter verskuif haar blik na Vincenzo. "Stem jy ook saam? Geen
bedenkinge nie?"
"Dis my vrou se besluit."
Vincenzo het die woorde gesê, maar om die een of ander rede klink
dit nie asof hy haar besluit ondersteun nie. Irena draai verward na
hom toe. "Ek dag dis reg met jou?"
Hy sit sy hand op hare en gee dit 'n drukkie. "Dit is, want dit is wat
jy wil hê."
"Maar jy het nogtans bedenkinge?"
Die dokter staan op. "Ek sal julle twee 'n oomblik alleen laat om dit
te bespreek."
Toe sy uit is, vee Vincenzo 'n lok glansende hare agter haar oor in.
"Ek het jou voorheen al gesê dat ek nie bekommerd is daaroor dat jy
'n miskraam gaan hê nie, maar ek weet jy is bekommerd daaroor."
"Waarom sê jy so?"
"Omdat jy nagmerries gehad het terwyl ons weg was - vier, en nog
een gisteraand. Iets pla jou."
Irena knipper haar oë geskok en sit haar hand voor haar mond. Sy is
verbaas en verleë oor Vincenzo se insig. "Hoe het jy geweet dis wat
my pla?"
"Jy het elke keer die woord 'baba' geprewel. Dit wys hoe baie jy dink
oor die kind wat jy verwag. Ek is bevrees net jy kan bepaal of jy
daarmee sal kan saamleef as die toets wel tot 'n miskraam lei. Dit lyk
asof jy daardie skuldgevoel sal moet opweeg teen jou angstigheid
omdat jy nog sewe maande sal moet wag om uit te vind wie die
baba se pa is."
"Dis albei aaklige opsies."
Hy trek haar teen hom aan, sy een hand om haar agterkop gekelk.
"Irena, maak nie saak wat gebeur nie," sê hy sag teen haar slaap. "Ek
is hier vir jou."
"Ek weet dit. Ek is die gelukkigste vrou op aarde." Sy gee hom nog 'n
drukkie en trek dan weg voor sy sy pragtige hemp papsopnat huil.
"Sal jy dokter Santi gaan roep en vir haar sê ek wil voortgaan met
die toets?"
"Ek is nou terug."
Vincenzo is skaars by die deur uit toe hy die dokter in sy rigting
aangestap sien kom.
7
DIE besef dat hy nie wil hê hulle wittebrood moet verby wees nie,
laat Irena se hart vinnig klop. Vincenzo is van plan om vir haar 'n
ware huweliksnag te gee. Eintlik etlikes ná mekaar. Sy kan skaars
asemhaal van afwagting.
Toe hulle La Spezia nader, word Vincenzo stil. Vir Irena was die stad
wat oor die groen heuwels tot onder by die hawe strek, nog altyd
prentjiemooi. Maar wanneer sy nou na die kerke en privaat land-
goedere teen die hellings kyk, besef sy Vincenzo se
familie-palazzo is beslis een van die omgewing se indrukwekkendste
geboue.
Die Valsecchi-kompleks is 'n groep van vyf geboue, elk sewe
verdiepings hoog en omring deur goed versorgde tuine. Dit alles is
oor 'n groot area uitgesprei. Vincenzo hou op die BBP-parkeerplek stil
en lei haar die eerste gebou binne. Die familiewapen pryk op die
dubbeldeur.
Hy knik vir die sekuriteitswagte en laat haar by 'n privaat hysbak
instap. "Dit sal ons na my suite op die sewende vloer neem."
Toe hulle uitklim, stap hy met haar na 'n deur wat na 'n ruim,
elegant gemeubileerde kantoor met 'n pragtige see-uitsig lei. Daar pryk
Persiese tapyte op die houtvloere wat met inlegwerk versier is. Dit lyk
na 'n woonvertrek met skilderye, 'n koffietafel, tweesitplekbankies en
stoele en 'n groot versameling boeke.
Vincenzo stap om die groot eikehoutlessenaar en druk 'n knoppie op
die interkom. Aan die muur agter hom hang 'n
reuse-olieverfskildery wat die vertrek domineer. In 'n sierlike goue
raam pryk 'n vollengtevoorstelling van die hertog van La Spezia
uitgedos in sy koninklike drag. Hy was waarskynlik in sy vyftigs toe dit
geskilder is.
"Wat dink jy?" Vincenzo het sy arms van agter af om haar middel
geslaan. "Sien jy enige ooreenkoms?"
"Miskien sy liggaamsbou," waag sy dit. Sy is effens uitasem omdat sy
al na sy aanraking smag sedert hulle die oggend by die dokter weg is.
Bewustelik of onbewustelik streel sy hand oor haar maag asof hy die
baba wat binne-in haar groei wil voel. Die intimiteit van die oomblik
betrap haar onkant en sy gaan aan die bewe.
Hy vee haar hare weg en plant soene al langs die kant van haar nek.
"Ek is bly jy het nie gesê sy arrogansie of vernaamheid nie. Dit sou
my verpletter het."
"Noudat jy dit noem ..."
Hy swiep haar so vinnig om dat haar kop daarvan draai. Sy blou oë
smeul van begeerte. Dan laat sak hy sy mond en soen haar met 'n
byna primitiewe drif. Dit is waarna sy gesmag het. Die begeerte wat
sy sedert hulle wittebrood jeens hom koester, is net so sterk.
Om nag ná nag alleen in die hotelkamer te slaap terwyl sy weet dat
Vincenzo in die kamer net langsaan is, was onbeskryflik moeilik. Maar
sy wou graag hê dat Dino die spesiale tydjie saam met sy pa geniet
sonder om deur haar bedreig te voel.
'n Wulpse warmte stu deur haar lyf. Sy weet nie waar die een soen
ophou en die volgende een begin nie. Sy is so ver heen dat sy eers
besef iemand het die vertrek binnegekom toe sy 'n diskrete kuggie
aan die oorkant hoor.
Vincenzo gee haar mond stadig prys. Sy blik verlaat haar nie. "Kom
maar heeltemal in, Papa, en ontmoet my vrou, Irena Liapis Valsecchi.
.Dit is my pa, Guilio."
Die tydsberekening kon nie swakker gewees het nie. Sy trek stadig
weg en draai om na die deur wat van die hysbak af lei. Haar eerste
blik van sy pa gee haar 'n aanduiding van hoe Vincenzo sal lyk
wanneer hy in sy sewentigs is.
Guilio Valsecchi is 'n aantreklike man met silwergrys strepe in sy yl
swart hare. Hulle liggaamsbou is baie dieselfde, maar die siekte het sy
tol van Guilio geëis. Hy het nie meer sy seun se lewenskrag nie.
Vincenzo se pa kom nader. Sy skerp bruin oë betrag haar priemend.
Nes sy seun, laat hy 'n mens byna glo dat hy deur jou kan kyk. Hy
mag dalk fisiek ly, maar nóg sy ouderdom, nóg die kanker het afbreuk
gedoen aan die aura van gesag wat ook kenmerkend is vir sy seun.
Hy steek sy hand uit en soen haar agter op haar hand. "Ek was gretig
om die vrou te ontmoet wat hierdie wonderwerk bewerkstellig het,"
sê hy in Engels.
"Wonderwerk?" vra sy sag.
"Ek het nie gedink die dag sou kom dat Vincenzo van plan verander
en in my voetspore volg nie." Sy blik verskuif vlugtig na die skildery.
"My voorganger het 'n heilige ontsag vir sterk vroue gehad." Hy kyk
weer na haar. "Nadat ek met Dino oor jou gepraat het, kan ek
verstaan waarom. Hy glo jy het hom lief asof hy jóú seuntjie is."
Irena sluk hard. "Dis maklik om lief te wees vir hom.
Guilio pers sy lippe saam. "My skoondogter gaan deur 'n moeilike tyd."
Irena weet dit reeds, maar sy is verbaas dat dit die eerste ding is wat
hy vir haar sê. Tog moet dit haar nie verras nie - Vincenzo het
immers van hulle eerste ontmoeting af ook baie reguit teenoor haar
gepraat.
"Ek neem haar dit nie kwalik nie. Daar is 'n fyn lyn tussen 'n ma se
begeerte dat almal moet lief wees vir haar kind en die gedagte dat 'n
ander vrou, wat nie familie is nie, 'n liefde vir daardie kind het wat
dieper as die oppervlak strek."
Te oordeel na die vreemde glinstering in sy bruin oë is hy self nie
seker of hy van haar antwoord hou of nie. "Wat weet jy daarvan om
'n ma te wees?"
Die vraag is 'n aanslag op haar lyf, 'n lyf wat reeds 'n kind dra. Gaan
sy hierdie baba ooit leer ken? Sal die toets 'n sukses wees, of gaan
sy die kosbare kind wat in haar groei, verloor? Die vrees vir so 'n
verlies oorweldig haar byna, maar sy veg om haar selfbeheersing te
behou. "Net wat ek geleer het van my ma, wat 'n wonderlike
rolmodel was."
Vincenzo slaan sy arm om haar skouers en trek haar nader. "Waarom
vra jy haar nie oor besigheid nie, Papa? Sy het grootgeword met 'n
bekende pa wat een van die mees gesiene sakelui in die hele Grieke-
land is. Een van sy grootste bates is Athene se voorste koerant. Sy
het daarmee grootgeword en in elke afdeling gewerk."
Sy pa staar hulle om die beurt aan sonder om 'n woord te sê.
"Tot twee maande gelede het sy die gesogte pos van leefstylredakteur
beklee. Sy het oor die hele Oos- en Wes-Europa gereis. Die fotograaf
wat saam met haar Italië toe gekom het, het vir my gesê Irena was
jare lank haar pa se regterhand."
Irena het nie geweet die twee mans het oor haar gepraat nie.
"Daar is 'n gerug dat haar pa haar as sy opvolger gaan aanwys
wanneer hy gereed is om uit te tree. Maar daarvoor is dit nou te
laat."
"Hoe so?" praat sy pa eindelik weer.
"Omdat ek haar as my nuwe medevoorsitter benoem het. Sy gaan my
help om Valsecchi's te bestuur. Ek was te lank enkellopend en wil nie
van my nuwe vrou geskei wees noudat ek haar gevind het nie. In
plaas daarvan, sal ons saam werk en reis."
Irena val byna net daar flou. Sy is verbaas dat sy pa nie vir 'n stoel
mik nie.
"Ek het Bruno van die fabriek af gebring om ons assistent te wees.
Hy sal oor die naweek vir haar 'n lessenaar en toerusting hier
installeer."
Dokter Santi het Irena gewaarsku om haar goed op te pas en
onnodige spanning te vermy, maar Vincenzo se aankondiging het die
wind heeltemal uit haar seile geneem.
Sy pa frons vir hom. "Gaan jy nie eens vir Fabbio 'n krummel gooi
nie?"
"Ek het spesiale planne wat vir hom 'n uitdaging sal wees en hom sal
besig hou. Aangesien hy 'n geneigdheid het om verlief te raak op die
vroue in my lewe, het ek gedink dit sal beter wees as hy in 'n ander
gebou as ons werk."
Die opmerking moet by Guilio aanklank vind, want hy kap nie terug
nie. "Wat van Dino?" vra hy in Italiaans.
"Wanneer hy by ons woon, sal ons saam met hom by die huis wees
of hom op ons reise saamneem. Dit spreek vanself."
"Maar dit is absurd. Jou vrou kan niks doen as sy nie eens die taal
verstaan nie."
Haar man het haar voor sy pa by die diep kant ingegooi, maar dis vir
haar belangrik om nie heeltemal ontoereikend voor te kom nie. "Jou
seun en kleinseun is besig om my te leer," sê sy in redelike Italiaans.
"Dino is 'n baie goeie leermeester."
Terwyl sy pa haar weer 'n ongelowige kyk gee, praat Vincenzo verder.
"Bruno deel omsendbriewe uit om seker te maak almal kom
Maandagoggend vir die eerste raadsvergadering bymekaar. Dit is
belangrik dat die familie Irena ontmoet sodat ons 'n paar nuwe
beleide in plek kan stel. Ek sal graag wil sien dat ons finansies teen
die volgende kwartaal beter begin lyk."
Guilio se uitdrukking word hard. "Die ander sal dit nie duld nie."
Haar eg Italiaanse man maak weer daardie kenmerkende gebaar met
sy hande. "Dan sal hulle vir hulle ander werk moet soek - nes ek
moes toe jy my onterf het. Dit kan hulle tot groot hoogtes lei, maar
ek reken nie daarop nie. Nou moet jy ons asseblief verskoon - ek en
Irena geniet nog ons wittebrood en het ander dinge om ons tyd mee
deur te bring. Ciao, Papa."
Irena kan nie anders as om Vincenzo te volg nie.
"A presto, Signore," Sy steek haar hand, uit en hy het geen ander
keuse as om dit te neem nie. Toe haar man haar na die privaat
hysbak begelei, voel sy sy pa se priemende blik in haar rug.
Op pad ondertoe glip Vincenzo sy hand onder haar hare in. Hy
masseer die agterkant van haar nek waar die spiere van al die
spanning op 'n knop trek. "Ek kan op jou gesig sien jy is nie gewoond
aan 'n verhouding soos dié tussen my en my pa nie. Moet jou nie
daaroor bekommer nie. Ons verstaan mekaar."
"Hoe siek is hy?" vra sy toe hy haar in die motor help.
"Dis moeilik om te sê."
Sy laat haar kop sak. "Jou aankondiging het hom 'n knou gegee."
"Nie soveel as wat dit jou verstom het nie," sê Vincenzo en kyk
ondersoekend na haar terwyl hy die motor aansluit. "Maar ek ken jou
en weet hoe baie jy jou werk geniet. Net omdat ons getroud is,
beteken nie jy hoef op te hou werk nie. Dit sal pret wees om
Valsecchi's saam te bestuur."
Hy is stapelgek, maar dis die soort gekheid wat tot haar spreek.
"Sê nou die ander kom in opstand soos jou pa voorspel het?"
"Hulle sal nie. Ná hoe hulle grootgeword het, het hulle nie die passie
wat dit verg om op hulle eie sukses te behaal nie."
'n Ander vrees pak haar beet. "Jy ken die ou gesegde, Vincenzo: Goed
bekend, sleg geëerd." ·
"Dit sal nie in ons geval gebeur nie. Daar is iets wat jy moet verstaan.
Ek wil jou die hele tyd by my hê."
In haar hart is dit wat sy ook wil hê. Toe hy haar aanvanklik vertel
het dat hy die leisels by Valsecchi's gaan oorneem, het dit die mat
onder haar voete uitgeruk. Sy het al gesien hoe die besigheid hulle vir
jare van mekaar gaan skei.
"Later, as die baba eers daar is, sal ons aanpassings maak as dit
nodig is." Vincenzo sit sy hand op haar maag. "As die baba nie myne
is nie, hoop ek jy kan gesamentlike toesig kry en dit so laat uitwerk
dat dit saamval met wanneer Dino tuis is. Hy het 'n boetie of sussie
nodig, al is dit net op 'n deeltydse basis. Hulle sal albei jonk genoeg
wees om 'n band te smee."
Sy knik. Dit maak haar hartseer om te dink aan die ontwrigting wat
vir hulle voorlê as die baba Andreas s'n is. "Ek sou graag 'n groter
gesin wou gehad het."
"Teen die tyd dat my pa my 'n stiefbroer gegee het, was ek en
Fabbio te oud om mekaar te vind."
En jou huwelik het jou dit ontneem om 'n voltydse pa vir Dino te
wees. Die seer in sy stem raak haar diep. Dat hy moet wag om uit te
vind of hy haar baba se pa is, moet vir hom die moeilikste ding op
aarde wees.
Dit het skemer geword oor die Golfo dei Poeti. Volgens Vincenzo is
dit die plek wat Byron en Shelley, die Britse digters, gereeld besoek
het en waar hulle selfs 'n ruk gewoon het. Irena kan verstaan
waarom. Die Middeleeuse vissersdorpie van Portovenere wat hulle pas
verlaat het, is 'n juweeltjie in hierdie deel van Ligurië. Sy het heerlike
vis geëet en ook, Vincenzo se gunstelingpeer-en-sjokoladekoek met
warm sjokoladesous. Toe sy nie nog 'n kriesel kan eet nie, neem hy
haar hand besitlik en stap met haar met die promenade langs tussen
die veelkleurige toringhuise deur.
Toe klim hulle met die trap op na waar die San Pietro-kerk teen 'n
rotshang pryk. Hy trek haar teen sy bors aan en vou sy arms om
haar. Met sy ken in haar hare het hulle 'n onverbeterlike uitsig oor
Cinque Terre aan die een kant en die welige groen eiland van
Palmaria in die ander koers.
"Dis ons bestemming vir vanaand," fluister hy.
"Ons sal 'n entjie van die kus af in 'n beskutte baaitjie weg van almal
vasmeer tot môreoggend."
Sy bewe van verlange. Gretig om weg te kom van die malende
toeriste, stap sy saam met hom terug na die hawe.
Sy glansende wit seilboot met die dun swart streep op het 'n kombuis
en een slaapkamer onder die dek. Hy hanteer die boot asof dit deel
van hom is. Met dié dat hy sy lewe lank nog langs die Middellandse
See woon, het hy as 't ware op die water grootgeword. Dis vreemd
dat Dino met 'n wonderlike leermeester soos sy pa steeds bang is vir
die see. Irena swem self nie goed nie. Maar Vincenzo is mal oor
enigiets wat met die water te make het. Sy is dus vasbeslote om te
leer - veral nadat hy vir sy pa gesê het hy wil saam met haar
vakansie hou wanneer hulle nie werk nie.
"Wat beteken Spadinot" Die naam is op die kant van die boot geverf.
Sy glimlag is skitterwit. "Kyk en leer."
Toe hulle met behulp van die motor verby die boeie beweeg het,
word die aandbries sterker. Hy sluit die enjin af en hys die wit seil
waarop 'n afbeelding van 'n manjifieke swart swaard pryk. Dit is so
onverwags dat sy 'n uitroep gee. "Het jy dit na 'n seerower vernoem,
of omdat dit soos 'n swaard deur die water klief?"
Hy sit by die roer en stuur hulle na Palmaria. "Nie een van die twee
nie, alhoewel albei sin sou gemaak het. Die waarheid is dat ek die
boot ná Dino se geboorte nuut gekoop en die seil spesiaal laat maak
het om sy naam te vereer. Dit kom van die Italiaanse woord vir
swaardjie. Dis wat 'n spadino is - 'n klein swaard."
"O, Vincenzo, dit moet vir hom so opwindend wees."
Sy glimlag verdwyn. "'n Mens sou so dink, maar hy wil nie 'n voet
daarop sit nie. Jy het gesien hoe hy in Disneyland was. Hy kan hom
nie so ver bring om naby die water te gaan nie."
"Daar moet 'n rede wees." Sy stap na hom toe en sit 'n hand op sy
skouer. "Iets het hom bang gemaak."
Hy sit sy hand op hare en soen haar vingers. "Ek weet nie wat dit is
nie. Ek is bevrees dat hy 'n ervaring gehad het waarvan hy niemand
wil vertel nie. Dis vir my hartseer dat hy vir enige iets bang is."
Vincenzo wys nie dikwels sy piekerende kant nie, maar wanneer dit
by sy seun kom, weet sy hy kan dit nie verhelp nie. Sy draai om en
leun teen die reling toe hulle naderkom aan Palmaria. Hy het vir haar
vertel dat dit die eerste van drie eilande is. Die ander twee is Tino
en Tinetto, bekoorlike name.
Toe hy hulle om die eiland stuur, sien sy iets ongewoons teen die
helling. "Wat is dit?"
"'n Glybaan waarmee hulle destyds swart marmer met goudare in van
die steengroef na die bote hier waar ons nou is, vervoer het." Die
water hier is glad soos 'n spieël. "Ons gaan vanaand baie lekker slaap.
As jy solank ondertoe wil gaan en gereedmaak om in te kruip, sal ek
by jou aansluit sodra ek die boot versorg en die anker laat sak het."
"Kan ek jou nie daarmee help nie?"
"Ek wil jou versorg. Ek is die hele tyd daarvan bewus dat jy 'n baba
verwag."
Vanaand sê hy nie óns baba nie. Voel Vincenzo dalk ook dat die baba
miskien Andreas s'n is? Dit is nog twaalf dae voor die toets ...
Irena gaan ondertoe. Sy het half gehoop hy sal háár wil help om
gereed te maak vir die bed. Daardie nag toe hulle liefde gemaak het -
wat nou soos 'n eeu, gelede voel - kon hy haar klere nie vinnig
genoeg help uittrek nie. Die sensuele spanning wat oor daardie tien
dae opgebou het, het in 'n storm van begeerte losgebars. Hulle was
albei uitasem en het niks teruggehou nie.
Maar noudat sy swanger is, voel alles so anders.
Gisteraand het hy hulle 'n entjie met die kus langs geneem en gesê
hy sal binnekort by haar aansluit. Maar sy het so lank vir hom gewag
dat sy uiteindelik aan die slaap geraak het. Toe sy wakker word, was
hy reeds op en aangetrek. Hy het vir hulle ontbyt op die dek
gereedgemaak.
Hy hanteer haar asof sy van porselein gemaak is.
Soms is hy so teer dat sy daarvan wil huil. Maar dit lyk nou asof hy
nie meer die vurige passie wat daar aanvanklik tussen hulle was,
ervaar nie. As hy hoop dat sy gaan slaap wanneer hy ondertoe kom,
wag daar vir hom 'n verrassing.
Op die ou end is dit sy wat verras word. Sy wag omtrent 'n uur vir
hom, maar hy kom nie ondertoe nie. Onuitspreeklik seergemaak, trek
sy haar japon aan en gaan kaalvoet op dek toe. Sy tref hom aan
waar hy ineengedoke op een van die bankies sit en in Italiaans oor
die foon praat.
Die gesprek hou lank aan. Sy kan nie dink wie dit dié tyd van die nag
aan die ander kant kan wees nie, tensy dit slegte nuus oor Dino of sy
pa is. Niks anders kan sy gesig so stroef en oud laat lyk nie. Sy gaan
sit langs hom en wag dat hy klaarmaak.
Die oomblik toe hy van haar teenwoordigheid bewus word, knip hy die
gesprek kort en lui af. In die donker kan sy nie die emosie in sy oë
sien nie, maar sy kan aanvoel hy is nie bly dat sy nog nie aan die
slaap geraak het nie.
"Wie was dit, of moet ek nie vra nie?"
"Jy kan my enigiets vra. Dit was Bruno, my oë en ore. Dis niks
belangriks nie. Alles is oukei."
Sy draai nie doekies om nie. "Vincenzo, nadat jy vir jou pa gesê het
jy het my benoem om die besigheid saam met jou te bestuur, het ek
aangeneem ons deel nou alles - ons werk, ons gedagtes, ons drome,
ons verwagtinge, ons vrese, jou seun, die baba wat op pad is en . . .
ons bed. Moet my asseblief nie beledig deur vir my te sê alles is
oukei nie, want ek weet dit is
nie."
Vincenzo staan op en vryf oor sy nek. Dis 'n duidelike teken dat hy
nadink oor hoe hy moet antwoord en sy woorde versigtig kies. Die
gebaar maak haar vies. Sy spring orent en gaan staan reg voor hom.
Haar kop ruk agtertoe sodat haar hare oor haar skouers swiep.
"Hoekom sê jy dit nie sommer reguit nie ... ? roep sy uit.
Sy hoor hoe hy na asem snak voor hy sy hande op haar skouers sit.
"Wat de duiwel bedoel jy, Irena?"
"Jy ... ek ... óns! Ek het gedink jy het my saamgebring sodat ons ons
eie privaat wittebrood kan hou."
"Hoe kan jy hoegenaamd daaraan twyfel?" vra hy in daardie gladde
stem wat haar reddeloos maak van begeerte.
Haar wange gloei vuurwarm. "Jy is goed daarmee om op een vraag
met 'n ander te antwoord, Vincenzo. Dis jou slimste taktiek om 'n
onderwerp te vermy, maar dié keer gaan dit nie werk nie!"
Hy hou sy hande afwerend voor hom. "Ek sweer ek het geen idee
wat in jou gevaar het nie."
"Ek is nie so onnosel nie, Vincenzo," Sy ervaar genoegdoening omdat
haar stem vir 'n verandering nie bewe nie. "As jy spyt is omdat jy op
die ingewing van die oomblik iets gedoen het wat jy nou berou, sê
my net! Dit kan reggestel word."
Daar is kepe langs sy aantreklike mond. "Jy maak nie sin nie."
"Deur met my te trou, het jy gekry wat jy eintlik wou hê. Noudat jy
die titel het, is jou kop deur, Vincenzo. As jy dink jou pa gaan nie
verheug wees om van my ontslae te wees nie, dan is dit jy wat
onnosel is."
Dié keer gryp hy haar aan die boarms en skud haar effens. "Kom tot
die punt," kners hy dit uit.
Sy het hom nog nooit so ontsteld gesien nie. "Dino is nie my
biologiese seun nie. Dit sal dus geen impak op sy lewe hê as ons
vinnig skei nie. En anders as wat jy mag dink, vergoed 'n loopbaan as
medevoorsitter van jou maatskappy nie vir die man wat ek gedink het
ek mee trou nie."
Hy druk haar hard teen hom vas en soen haar so lank en vurig dat
haar asem opraak. "Jy weet baie goed waarom ek nog nie aan jou
geraak het nie."
Die woorde weerklink deur haar pyn en laat haar kop draai. Sy lig
haar kop en moet aan hom vashou om nie om te val nie. "Ek het
geen idee waarvan jy praat nie ..."
"As gevolg van jou swangerskap en die feit dat die toets binnekort
gedoen word! Dokter Santi het gesê dat intimiteit jou of die baba in
hierdie vroeë stadium skade kan aandoen, veral aangesien die toets
vir julle albei risiko's inhou. Sy het gesê dit sal beter wees as ons drie
weke wag, tot ná die toets, sodat ons seker kan wees jy is buite
gevaar."
Irena is 'n oomblik stil. Haar gelaat is bleek in die maanlig. Sy het
geen idee gehad dat haar man so konsidererend is nie. Haar
selfsugtige reaksie laat haar skielik naar voel. "Ek het geen benul
gehad nie, Vincenzo ..."
Hy kreun en druk sy voorkop teen hare. "Ek het gedink sy sou met
jou ook daaroor gepraat het. Maar klaarblyklik het sy nie."
"Nee," prewel Irena. "Ek wens sy het - ek was so verpletter, ek het
nie geweet wat om te doen nie. Ek het gedink dis ek ..."
"Irena," sê hy gevoelvol, "sedert ons Dino teruggeneem het Milaan
toe, verg dit elke greintjie wilskrag waaroor ek beskik om van jou af
weg te bly. As dit van my afgehang het, sou ons nooit uit die
slaapkamer gekom het nie."
Die verligting is so groot dat sy lam voel. "Kom ons gaan dan
ondertoe en hou mekaar net vas."
Die volgende oomblik vou hy sy arms om haar. Hy trek haar styf teen
hom aan en sy voel hoe sy hande al dringender oor haar rug vryf.
"Ek hou jou nou vas en dis nie genoeg nie." Sy asemhaling is
onreëlmatig. "Soos ek voel, is dit onmoontlik om langs jou te lê en
die vuur wat jy in my aansteek, te ignoreer. Ek kan net nie."
Hoe langer hulle lywe inmekaarvleg, hoe sekerder, raak sy daarvan dat
hy net so erg soos sy bewe. Dis 'n openbaring. Skielik besef sy hoe
volkome sy haar met sy gedrag misreken het. "Sal jy my vergewe vir
dit wat ek gesê het?" fluister sy teen sy lippe.
"Ek is bly jy het my bevlieg. Dit help om my nugter te hou tot ek jou
kan liefhê soos ek regtig wil. Gaan slaap nou, Irena, voor ek my
selfbeheersing verloor." Sy waag dit nie om verder aan hom te karring
nie.
Haar verskyning het sy telefoongesprek met Bruno kortgeknip. Daar is
nog iets wat hom pla. Maar hoe dit ook al sy, Vincenzo begeer haar
steeds. Voorlopig is dit genoeg om dit te weet. "Waar gaan jy slaap?"
"Net hier."
Dis 'n lieflike nag, warm en geurig van die blomme wat op die eiland
groei. Sy kyk toevallig na die stil water en sien iets wat na die
oppervlak kom.
"Vincenzo, wat was dit? Dis byna twee meter in deursnee!"
Hy kyk na die ronde voorwerp. "Dis dieselfde maanvis wat my laas
nag geselskap gehou het."
"Is hy dood?'"
"Nee, hulle slaap op die oppervlak. Kom ek wys jou." Hy trek 'n
roeispaan nader en laat die punt in die water plons. Die vis se vin
flits voor hy onder die water verdwyn.
"Ai, die arme ding."
Hy gee 'n laggie. "Hy sal binnekort 'n ander plekkie vind en weer aan
die slaap raak met niks anders wat hom steur as 'n irriterende mens
nie. Buonanotte, esposa mia"
Toe hulle die volgende aand by die woonstel instap, hoor Irena haar
foon lui. Dis die eerste oproep wat sy in twee dae ontvang. Pas twee
ure gelede het Vincenzo haar vir aandete na 'n lieflike bistro in
Vernazza geneem. Dit was hulle laaste vasmeerplek voor hulle huis toe
gekom het.
Terwyl hy hulle bagasie uit die motor laai, haal sy haar foon uit haar
handsak. "Ciao, Deline. Come stai."
"Dis skrikwekkend hoe Italiaans jy al klink."
Sy glimlag. "Dis omdat my man 'n ongelooflike onderwyser is,"
verduidelik sy toe hy die woonkamer ingestap kom. "Dis Deline," sê sy
vir hom omdat sy weet hy is nuuskierig om te weet wie gebel het.
Hy plant 'n soen op haar lippe voor hy die tasse verder dra.
"Bel my wanneer jy kan praat." Deline lui af.
Die skielike beëindiging van die gesprek laat Irena se maag op 'n knop
trek.
Haar vriendin het nog nooit voorheen so iets gedoen nie. Vaagweg
bekommerd, wonder sy wat moontlik kan makeer. Dit kan natuurlik
baie dinge wees. Daar is dalk probleme tussen Deline en Leon.
Miskien is daar komplikasies met haar swangerskap. Tog het Irena 'n
nare voorgevoel dat die oproep dalk iets met Andreas te make het.
"Dit was vinnig." Vincenzo het intussen na die vertrek teruggekom.
"Sy moes skielik aflui. Ek reken daar was 'n effense krisis met die
tweeling. Ek sal haar oor 'n rukkie terugskakel."
"Wil jy intussen saam met my met Dino praat? Ek gaan hom bel."
"Ek wil graag, ja."
"Goed so. Ek sal hom graag met die helikopter wil gaan oplaai, maar
hy't nog nooit in een gery nie. Ek sal moet hoor hoe hy daaroor voel.
As hy te bang is, sal ons die vliegtuig Milaan toe neem en hom so
terugbring."
Sy volg hom na die rusbank. Toe hulle albei sit, skakel hy die
nommer. Ná 'n rukkie antwoord Mila.
Sy sê kortaf dat sy Dino sal roep, maar dat hy nie lank kan praat nie.
'n Paar sekondes later hoor hulle Dino se stem.
"Papa? Is julle by die huis?"
Vincenzo sit die luidspreker aan. "Ja. Ons is pas terug van ons
uitstappie met die seilboot."
"Is Irena by jou?"
"Ja. Sy wil graag vir jou hallo sê."
Irena het haar Italiaans geoefen in die hoop dat sy hom sou kon
verras. "Ciao, amica. Come va? Mi sei mancato molto!"
"Ehi ... jy't baie geleer!" antwoord hy in Italiaans.
"Ek mis jou en Papa ook. Gaan julle my Woensdagmiddag kom haal?"
"Sí," antwoord Vincenzo. "Hoe sal jy daarvan hou om in die
maatskappy se helikopter te vlieg?"
"Maar daar's nie plek vir hom om te land nie!"
Vincenzo bars dawerend uit van die lag voor hy vir haar vertaal. Dino
is te skattig. "Ons sal op my kantoor se dak land."
"Is Irena bang?"
Sy dink sy verstaan hom. "Nee!" roep sy uit.
Op daardie noot praat Vincenzo 'n rukkie langer met hom en lui dan
af. Hy trek haar op sy skoot. "Hy sê hy sal dit doen omdat jy nie
bang is nie." Sy gesig versomber. "Hoe het ek so lank sonder jou
oorleef?"
Haar hart smelt. "Vincenzo ..." Sy neem die inisiatief en soen die ferm
mond waarvan sy nie genoeg kan kry nie.
Irena het nie bedoel om hom uit te lok nie. Sy wil haar baba behou
en het aanvaar dat hulle eers ná die toets sal kan liefde maak. Maar
sy het nie gereken op haar man se hartstogtelike reaksie of op haar
vatbaarheid vir sy begeerte wat elke soen inniger maak nie.
Op 'n manier beland hulle op die vloer met haar wat half bo-oor hom
lê. Dit is nie goed nie. Maar dit voel so reg en so goed dat sy dit
wat aan die gebeur is, nie kan keer nie.
"Irena," sê hy hees teen haar keel, "jy is so mooi dat dit seermaak.
Ek wil elke deel van jou soen, maar as ek eers begin, sal ek nie kan
ophou nie. Ons kan dit nie doen nie." Hy rol haar versigtig van hom
af tot op die vloer. Dan kom hy orent en staan
bo-oor haar. Sy oë brand van begeerte terwyl hy afkyk na haar. "Ek
gaan uit om af te koel. Ek sal nie lank wees nie." Binne sekondes is
hy weg.
Met 'n lyf wat steeds bewe van sy aanraking, kom sy orent. Haar
hare is heeltemal deurmekaar. Dit lyk asof hy nie sy hande daaruit
kan hou nie. Sover dit haar aangaan, kan hy vir altyd daarmee speel.
Toe sy die foon op die rusbank se armleuning sien lê, tel sy dit op.
Noudat Vincenzo weg is, kan sy privaat met Deline gesels. Sy skakel
die nommer en stap uit tot op die stoep waar die hitte die geur van
rose en jasmyn die lug in laat stuif.
Irena is bewus van 'n smagting wat haar hande laat sweet. Sy begeer
om deur hom besit te word. Daardie eerste keer twee maande gelede
was nie genoeg nie. Sy weet dit sal nooit genoeg wees nie.
'n Paar weke gelede het Vincenzo erken dat hy haar begeer. Maar
wat sy vir hom voel is baie meer as dit.
Sy is vir die eerste keer in haar lewe verlief. Geen emosies wat sy in
die verlede ervaar het, kan vergelyk met dit wat sy vir Vincenzo voel
nie. Sy is mal oor alles van die man met wie sy getroud is. As sy net
kon seker wees dat die baba wat sy verwag, syne is ...
"Irena? Is jy daar? Kan jy my hoor?"
Verbaas om Deline se stem te hoor, maak sy keelskoon. "Ja, ek het
uiteindelik 'n kans gekry om jou terug te bel. Jy het baie gespanne
geklink voor jy die foon neergesit het."
"Ek neem aan jy het nie onlangs die koerant gelees nie."
Sy sak op een van die stoele neer. "Nee."
"Ek dink jou pa het 'n artikel laat plaas om Andreas terug te kry."
"Wat bedoel jy?"
"Ek sal dit vir jou lees. Die opskrif lui: Enigste dogter van prominente
koerantmagnaat van Athene trou met adellike bestuurshoof in
Riomaggiore, Italië. Ná 'n warrelwindromanse het Irena Spiros Liapis,
wat volgens gerugte met die sakeman Andreas Simonides in die eg
sou tree, in 'n privaat seremonie met Vincenzo Antonello Valsecchi, die
hertog van La Spezia, getrou."
Irena vee die hare uit haar gesig. "Toe ek met my ouers gepraat het,
het hulle nie geweet van Vincenzo se titel nie. Hoe sou hulle daarvan
uitgevind het?"
"Jou pa is nie verniet 'n koerantman nie."
"Nee." Hy kon net so wel 'n rots van 'n berg afgerol het. As dit eers
momentum opgebou het, kan niks dit keer om alles wat voorkom plat
te vee nie. "Het Leon dit gesien?"
"Dit is hy wat dit vir my gewys het. Ek het gedink ek moet jou liewer
bel."
"Is hy agterdogtig?"
"Sê liewer hy kan dit nie glo nie. Ek het vir hom gesê ek weet jy het
'n man ontmoet toe jy vir jou werk daar was en dat dinge nadat jy
teruggegaan het, baie vinnig ontwikkel het."
Irena staar voor haar uit. "Wanneer Andreas van sy wittebrood af
terugkom, is dit waarskynlik die eerste ding wat Leon hom gaan
vertel. Maar om eerlik te wees, is ek meer bekommerd oor Vincenzo
se gevoelens. Ek is so vreeslik lief vir hom, Deline,"
"Ek weet. Dis waarom ek so jammer is om vir jou te moet sê dat
Andreas en Gabi reeds terug is. Hulle het vanaand geland. Leon het
hulle by die lughawe gaan haal. Ek sou saamgegaan het, maar Nikos
het verkoue. Jou troue gaan beslis een of ander tyd opgehaal word."
"Dit sal, ja."
"Ek is bly jy gaan die toets laat doen, Irena. As Andreas twee en
twee bymekaartel en jou dalk bel, sal jy reg wees vir hom. Het jy vir
jou ouers gesê jy verwag?"
"Nog nie. Ek en Vincenzo het besluit ons sal saam met Dino Athene
toe vlieg en hulle persoonlik gaan meedeel nadat ek die toets laat
doen het. Hulle wou nog altyd kleinkinders gehad het. Deline, dankie
dat jy my gewaarsku het."
"Natuurlik. Ons sal gou weer gesels."
"Ja." Irena lui af en stap na die reling.
Dit is waar Vincenzo haar 'n paar minute later aantref.
Sy draai na hom toe. "Ek is bly jy's terug." fluister sy emosioneel.
Hy kyk vraend na haar. "Wat het Deline gesê wat jou so bekommerd
laat lyk?"
Sy vertel hom alles. "Ek het nie gedink my pa sou die een wees wat
onwetend die tydraamwerk korter maak nie."
Vincenzo staan met sy hande in sy sakke, sy uitdrukking somber. "Hy
is lief vir sy dogter en hy het nie daarvan gehou dat sy seerkry nie.
Ek verstaan sy reaksie en die rede vir sy optrede. Dit was vir hom die
natuurlikste ding op aarde om ons huwelik aan te kondig. Hy is 'n
trotse man."
"Maar hy het geen idee hoeveel smart die blote bestaan van die titel
al vir jou veroorsaak het nie. Nou het hy dit aan almal gaan
uitblaker."
"Jy hoef jou nie oor my te bekommer nie."
"Hoe dan anders? Ek weet hoe belangrik jou privaatheid vir jou is. Ek
is so jammer." Sy hardloop by die huis in tot in Dino se slaapkamer
en val op sy bed neer. Sy klem die kussing vas asof haar lewe
daarvan afhang.
Die volgende oomblik voel sy die matras beweeg.
Vincenzo leun oor haar. "Vergeet van alles, Irena. Ontspan." Hy vryf
haar rug. "Al wat belangrik is, is jy en die baba. Ons gaan daardie
toets laat doen en dan gaan jy aan 'n sterk, gesonde baba geboorte
skenk. Ek wil nie hê dat jy jou oor enigiets anders moet bekommer
nie."
8
IRENA het voor Vincenzo opgestaan. Sy het ontbyt gemaak en die
tafel op die balkon gedek. Haar roomkleurige linnepakkie
komplementeer haar sonbruin vel en donker hare perfek. Haar kalm
gesigsuitdrukking verklap nie dat sy oor minder as 'n uur in die
konferensiesaal van die hoofkantoor gaan instap waar sy 'n vyandige
omgewing die hoof gaan moet bied nie.
Onderweg na La Spezia, help Vincenzo haar met die inleiding wat sy
in Italiaans wil aanbied. Hy is besonder trots op haar omdat sy so
vinnig leer. Haar aksent is ook glad nie te erg nie.
Toe hulle by die kompleks aankom, staan Bruno, Vincenzo se
rooikopvertroueling, by die deur na die konferensiesaal op die vierde
verdieping. Hy het Irena ontmoet toe sy die vorige keer in Italië was.
Sy glimlag word breër toe hulle mekaar in Italiaans groet.
Hy kyk goedkeurend in Vincenzo se rigting. Vincenzo knik en stuur
Irena die vertrek in. Die twaalf, soos Vincenzo aan hulle dink, sit om
die ovaalvormige tafel. Hulle houding is aggressief, gereed om toe te
slaan. Maar die oomblik toe hulle haar sien, val hulle monde oop.
Fabbio se tong hang behoorlik uit. Irena se skoonheid is van so 'n
aard dat dit die naweekverkeer op die autostrada tot stilstand kan
bring.
Vincenzo trek vir haar 'n stoel langs syne uit, maar hy bly staan.
"Goeiemôre, familie. Dit is vir my aangenaam om te sien dat julle in
die jare wat ek weg was van die maatskappy aan Papa lojaal gebly
het. Voor ons verder gaan, wil ek sê dat, indien een - of almal - van
julle voel dat julle nie dieselfde lojaliteit teenoor my kan openbaar
nie, kan julle nou uitstap. Ek sal verstaan en ons kan privaat gesels
oor julle aftrede."
Nes hy voorspel het, roer nie een van hulle nie.
"Julle het reeds gesien daar is etlike nuwe gesigte.
Laat my toe om my lieflike vrou, Irena Liapis van Athene, aan julle
voor te stel. Ek het haar gevra om as medevoorsitter op te tree en
sy het ingestem. Ons sal dieselfde kantoor gebruik."
Die aankondiging tref hulle soos 'n vloedgolf wat hulle letterlik in
hulle stoele laat wankel. Terwyl hulle die nuus verwerk, knik hy vir
Bruno, wat vir elkeen 'n lêer uitdeel.
"Bruno Torelli het saam met my by Antonello's gewerk. Ek het hom
hierheen gebring as ons persoonlike assistent. Hy is 'n bate van
onskatbare waarde. Op bladsy een kan julle die dossier van my vrou
se besigheidservaring lees.
"Sy is 'n vrou met vele verborge talente. Haar Italiaans vorder baie
goed, maar dis geen verrassing nie. Sy praat foutloos Engels. Danksy
haar familieverbintenisse kan sy ook Serbo-Kroaties en Sloweens praat.
Dit is lande waar ons baie besigheid doen. Ek plaas haar aan die hoof
van daardie lande. Sy sal ons behoeftes soos 'n handskoen pas."
Terwyl hy hoor hoe almal kug en na hulle asem snak, kyk hy vlugtig
na sy stiefbroer wat hom tot nou nie in die oë kon kyk nie. "Papa
het jare lank persoonlik toesig gehou oor die tuisbedrywe, maar nou-
dat hy uitgetree het, gee ek Fabbio vrye teuels."
Fabbio kyk verstom na hom. "Jy is uiters bekwaam om dit te kan
doen. Jy is dit al 'n ruk lank. Tref reëlings om jou kantoor in Gebou B
by Gino en Lucan te rig."
Hy het nog twee verantwoordelikhede om toe te wys.
"Oom Tullio, noudat Papa weg is, sal jy oorneem as
maatskappykontroleur in Gebou C.
"Oom Carlo, jy sal Tullio se vorige verantwoordelikhede saam met
joune oorneem en na Gebou D skuif." Tullio is mal daaroor om
belangrik te voel en Carlo keur nie die manier waarop Tullio besigheid
doen goed nie. Die veranderinge behoort hulle albei in 'n mate
tevrede te stel.
"Julle almal moet julle nuwe personeel aanstel en die nodige skuiwe
maak soos julle goeddink." Hulle het beweegruimte nodig, iets wat
Vincenzo se pa nooit verstaan het nie. "Ek verwag teen Vrydag verslae
op my lessenaar. Irena sal Mario, Cesario en Valentino se verslae
ontvang sodat sy 'n begrip kan vorm van die situasie in die areas
waarna ek verwys het. Voor die vergadering verdaag, wil sy graag 'n
paar woorde sê."
Nadat sy vrou haar kort toespraak in heel gangbare Italiaans gelewer
het, word hy bewus van 'n verandering in die atmosfeer. Sy wek die
indruk van iemand wat nie tierlantyntjies het nie, maar wat tog op
haar uiters vroulike manier sjarmant is. Hulle is nie
tevrede met haar aanstelling nie, maar hulle is nie meer so opstandig
soos voorheen nie.
Vincenzo is bly om te sien dat almal bladskud voor hulle uitstap. Hy
hou van die idee dat hy saam met sy vrou gaan werk. Solank hy haar
naby aan hom hou, sal sy nie anders kan as om aan hom te dink nie.
Tot die baba kom.
Gisteraand het hy gedroom dat die toetsuitslae gewys het Andreas is
die pa. Toe sy die baba vir Simonides moes gee vir toesig, was sy
verpletter en kon hy wat Vincenzo is haar nie troos nie. Hy het nat-
gesweet wakker geskrik. Hy hoop met sy hele hart die kind wat sy
verwag, is syne.
Irena sit oorkant Dino by die kombuistafel met haar sakwoordeboek in
haar hand. Vincenzo het homself verskoon om 'n oproep van Bruno te
neem. "Dino, maak jou papa jou gelukkig?" vra sy in Italiaans.
"Sí."
"wil jy hom gelukkig maak?"
"Hy is gelukkig."
Sy glimlag. "Ek weet. Hy hou van sy boot. Hy wil hê jy moet ook
daarvan hou." Sy het hard aan haar voornaamwoorde gewerk en
gebruik hulle op die regte plekke.
Hy kyk af. "Ek hou daarvan."
"Kom ons gaan saam met hom."
Dino skud sy kop.
"Waarom nie?"
"Ek kan nie swem nie."
Hy antwoord met 'n woord wat sy nie verstaan nie.
Toe sy dit opsoek, sien sy dit beteken "bang".
"Is jy pauro?"
Dié keer knik hy.
Sy soek haastig na 'n ander woord. "Is jy bang vir pesce luna?" Die
maanvis het haar daardie nag laat skrik, maar sy het dit waarskynlik
verkeerd uitgespreek.
"Nee." Hy byt op sy lip. "Squalo" prewel hy dan. Weer raadpleeg sy
haar woordeboek en spoor die woord op. Sy lig haar kop op. Hy is
bang vir haaie! Sy verstaan. "Capisco."
Irena weet 'n witdoodshaai is 'n ruk gelede in die Middellandse See
opgemerk. Dit was 'n rare verskynsel, maar duidelik het Dino iets van
die gediertes gehoor wat hom groot laat skrik het.
Later, toe hulle hom in die bed gesit het, bespreek sy dit met
Vincenzo terwyl hy met sy kop op haar skoot op die bank lê. Hy
speel vir hulle musiek waarvan hy dink sy sal hou.
"Ek dink ek kan verstaan waarom hy nie wil swem nie, Vincenzo. Hy
dink as hy nou leer sal jy van hom verwag om in 'n boot te ry. Hy
dink 'n mens kan maklik in die see val en deur 'n haai aangeval
word!"
Hy steek sy hand uit en trek haar kop ondertoe. "Jy het iets uit hom
gekry wat ek nooit kon nie. My nuwe medevoorsitter is briljant." Hy
soen haar op die mond. "Ek het 'n gevoel dat Papa hom vertel het
van die keer toe hy as tiener met 'n haai deurmekaargeraak het. Dit
het Dino waarskynlik doodbang gemaak."
Irena knik. "Ek het 'n plan. Hoekom vra jy hom nie wanneer hy
Vrydag vir die naweek kom, om saam met ons in die Lido se
swembad te swem omdat daar geen haaie daarin is nie. Miskien sal
dit werk en sal hy mettertyd sy vrees oorwin."
Sy blou oë smeul. "Ek sal dit probeer. Maar nou het ek 'n ander
plan. Kom ons dans."
Ja!
Daar is nog net nege dae oor voor die toets. As sy deur met hom te
dans vir 'n rukkie naby aan hom kan kom, sal sy dit aangryp. Maar
die oomblik toe sy opstaan en in sy arms smelt, klou hulle aan
mekaar, want hy begin haar met oorgawe soen.
Voor sy dit kan sê, sê hy dit is tyd vir haar om in sy slaapkamer te
gaan slaap. Alleen. Hy sal soos hulle afgespreek het, op die bank
slaap. Al wat hierdie tyd draaglik maak, is die feit dat hulle elke dag
saam kantoor toe gaan waar sy haar daaraan kan verlustig om te sien
hoe geniaal hy te werk gaan.
Vrydag kom doen Vincenzo se drie neefs aan haar verslag. Sy is nog
in gesprek met hulle toe dit tyd word om Dino te gaan oplaai. Sy
praat haar man om om sonder haar te gaan. Wanneer die helikopter
weer by die kompleks land, sal hulle drie saam huis toe ry.
Nie lank nadat hy weg is nie, sit sy haar notas van die vergadering en
opskryf toe Bruno uit die ontvangslokaal buite hulle kantoor lui. "Is jy
beskikbaar, Irena? Hier is 'n man om jou te sien."
Sy knipper haar oë verbaas. Dit moet iemand wees wat nie betrokke
is by die maatskappy nie. "Wie is dit?"
"Hy het nie gesê nie, maar ek het afgelei dis dringend. Sekuriteit het
hom reeds deursoek."
Irena het geen idee wie dit is nie. 'n Deel van haar was dit te wagte.
Niemand op aarde is meer diskreet as die man met wie sy gedink het
sy gaan trou nie. Andreas. Dit voel asof sy hom 'n leeftyd gelede
geken het, asof sy toe 'n ander vrou was. So baiehet intussen
verander!
"Sê asseblief vir hom hy moet inkom, Bruno,"
"Bene."
Sy staan op en wag. "Leon ..." sê sy verbaas toe Andreas se
tweelingbroer in 'n ligte pak geklee die vertrek binnekom.
Sy grys oë betrag haar geskok. "Sit, voor jy omval."
Irena stribbel nie teë nie.
Die man wat haar swaer sou gewees het, haas hom na waar sy sit
met 'n glas water wat hy van die sytafel af opgeraap het. "Jy is
bleek. Hier, drink dit. As jy nie binne dertig sekondes beter voel nie,
vat ek jou hospitaal toe."
"Ek sal oukei wees."
Sy drink die glas leeg voor sy na hom kyk. Hy hurk steeds langs haar.
Noudat hy so naby is, sien sy hy het dieselfde gesigsuitdrukking as
wat hy gehad het daardie maand toe Deline niks met hom te make
wou gehad het nie.
Die tyd om reguit te praat, het aangebreek. "Weet Andreas van die
baba?"
"Nee. Hy was siek toe ek hulle by die lughawe gaan haal het. Ons
het die dokter geskakel. Hy dink Andreas het 'n kiem opgedoen terwyl
hulle op hulle wittebrood was. Hy is op die oomblik in die hospitaal
op 'n drup. Hulle toets vir alles onder die son."
"Is Andreas dan siek?"
"Ek is bevrees hy is. Hy het koors en hy kan nie sy kos inhou nie."
Irena hoor die pyn in sy stem. Sy weet veral met dié dat Andreas sy
tweelingbroer is, ontstel dit hom erg.
"Ek kan dit nie glo nie." sê sy sag. "Arme Gabi. Hoe gaan dit met
haar?"
"Soos jy jou kan voorstel, is sy dood van bekommernis. Sy is die hele
tyd by hom."
"Natuurlik. Is hy al lank siek?"
"Nee. Gedurende die vlug van Nassau het hy so siek geword dat die
vlieënier en die vlugkelner hom moes help om by my motor te kom.
Toe ek uiteindelik tuis kom en vir Deline vertel, het sy begin huil en
my alles van jou swangerskap vertel. Dit was 'n groot skok."
"In die begin was dit vir my ook. Maar nie meer nie. Sy hoef haar
nie so op te werk nie." Irena sit 'n hand op sy arm. "Het hy gehoor
ons is getroud?"
"Ek weet nie. Hy het niks gesê nie." Dit klink of hy swaar asemhaal.
"Gabi is heeltemal verskrik omdat hy nie beter word nie."
Irena kan dit goed glo. As Vincenzo nou in die hospitaal moes wees .
. . "Wat ook al gebeur, moet julle glo dat hy gaan beter word, Leon."
"Een van die redes waarom ek hier is, is om seker te maak dat sy
toestand nie versleg nie. As hy moet uitvind van die baba ..."
Hy hoef nie verder te verduidelik nie.
"Ek kan nie keer dat mense praat nie, Leon, en ek kan beslis ook nie
keer dat Andreas sekere afleidings maak nie."
"Nee. Dit kan niemand doen nie."
"Ek het 'n toets geskeduleer vir Vrydag oor 'n week. Teen die tyd dat
dit beter gaan met Andreas, sal ons weet wie die baba se pa is. As
dit Andreas is, sal ek dit hanteer wanneer die tyd aanbreek. Maar tot
dan, Leon, neem ek aan en hoop ek die baba is Vincenzo s'n."
"Jy is 'n sterk vrou, Irena."
Terwyl hy haar 'n drukkie gee, hoor sy 'n jong stem.
"Irena:
Sy trek weg en sien Dino by die deur staan. Vincenzo staan agter
hom, sy gesig strak. Sy oë is op skrefies getrek.
"Kom hier, Dino." Sy beduie dat hy moet kom en hy hardloop nader
vir 'n drukkie. "Dino, ek wil graag hê jy moet Leon ontmoet. Hy is my
beste vriendin, Deline, se man. Ek het jou mos al van haar vertel."
Die seuntjie knik.
Sy kyk vlugtig na Leon. "Leonides Simonides, ontmoet my stupendo
stiefseun, Dino." Die manier waarop sy dit bewoord, laat hom giggel.
Leon glimlag. "Ciao, Dino. Come stai?"
Sy het vergeet hulle familie kan 'n bietjie Italiaans praat. Haar hart
klop vinnig toe Vincenzo naderkom. "Leon, dit is my man, Vincenzo
Valsecchi."
Die mans gee mekaar die hand. "Geluk met julle huwelik, signore
Valsecchi. Irena en haar familie is al baie jare met ons familie
bevriend. Ek het altyd gesê wie ook al haar hart verower, sal die
gelukkigste man wees.
"Grazie, signore Simonides," antwoord haar man hoflik. "Wat bring jou
al die pad hierheen?"
Haar hart klop in haar keel. "Andreas het siek van sy wittebrood af
gekom en is in die hospitaal." Vincenzo frons en Dino pluk aan haar
arm. Sy kyk af. "Wat is dit?"
"Wie is in die hospitaal?"
"Leon se broer."
"Was hy ook jou vriend?" vra hy onskuldig. Albei mans staar na haar
tot dit voel of sy skaars kan asemhaal.
"Ja, hy was."
"O."
"Dino," Vincenzo sit 'n hand op sy seun se skouer. "Kom ons gaan
solank kar toe en wag vir Irena terwyl sy vir signore Simonides tot
siens sê." Sy beleefde houding verklap niks van wat binne-in hom
aangaan nie.
"Ek is nou daar," verseker sy hom.
Toe hy die deur agter hom toegemaak het, sug Leon. "Jammer, Irena.
Daar is geen maklike manier om hierdie ding te hanteer nie."
"Moet jou nie daaroor kwel nie. Dis maar net die gewag vir die toets
wat op ons senuwees werk."
"Die man is dolverlief op jou. Dit kan enige een sien."
Dit verheug haar dat Leon so iets sê. Sy wens net haar man wou dit
vir haar sê. "Hy is die lig van my lewe. Ek is mal oor hom en ek sal
enige iets doen om te verhoed dat hy seerkry."
Hy skud sy kop. "Nou maak alles sin. Dis waarom jy Andreas sonder
enige drama laat gaan het ..."
"Ek was reeds beenaf op Vincenzo en gereed om met jou broer uit te
maak."
Leon se oë is vol pyn. "En nou bevind jy jou in 'n baie moeilike
situasie."
"Net jy kan verstaan hoe graag ek wil hê hierdie baba moet Vincenzo
s'n wees. Maar as dit nie is nie, sal ek dit op dieselfde manier as jy
hanteer."
Sy stap na haar lessenaar en haal haar handsak uit die laai. "Kom, ek
sal saam met jou tot in die parkeerarea stap. Daar is 'n seuntjie en
sy papa wat vir my wag."
Hulle ry met die privaat hysbak tot op die grondvloer. Voor hulle by
die sekuriteitswag by die ingang verbystap, draai sy na hom toe. "Ek
kan nie glo Andreas gaan dalk nie beter word nie. Ek oorweeg nie
eens so 'n moontlikheid nie."
"Dit maak twee van ons." Leon gee haar nog 'n drukkie. "Deline stuur
liefde."
"Neem myne terug na haar toe."
Terwyl Leon koers kies na sy gehuurde motor om terug te gaan
Athene toe, haas sy haar in die teenoorgestelde rigting na die BBP-
parkeerplek. Dino leun by die Fiat se agterste venster uit. Hy wag vir
haar. "Irena!" roep hy met 'n groot glimlag uit. Dit laat haar hart
warm klop.
Sy soen hom op die wang voordat sy by die voorste passasiersitplek
inklim. Vincenzo het oorgeleun om die deur vir haar oop te maak.
Sonder om met haar te praat, sluit hy die motor aan en trek weg.
"Waar is jou vriend siek?" wil Dino weet.
"Hy het 'n kiem." Vincenzo sien hoe sy op haar maag klop. Dit
herinner hulle albei aan die baba wat sy verwag. Hy vertaal vir sy
seun.
"Che tristezzai," sê Dino.
Ja, dit is hartseer. "Sí, Dino. Maar hy sal beter word."
"Die punt is, sal jy?" val Vincenzo hulle in die rede.
Sy stem is grof.
Leon se besoek het die kwessie van die baba se vaderskap weer eens
na vore gebring. Sy moet op 'n manier help om haar man se aandag
daarvan af te lei. Toe hulle agter die woonstel stilhou, kondig hy aan
dat hulle na die park toe gaan sodra hulle verklee het.
Dino klink in sy noppies en skarrel uit die motor. Irena volg hom
binnetoe. Sy trek 'n wit kortbroek en bypassende breistoftoppie aan.
Omdat dit so warm is, maak sy haar hare met 'n wit serp in 'n lae
poniestert vas.
Toe sy terugkom in die woonkamer, sien sy Vincenzo het sy pak vir 'n
blou kortbroek en ligblou T-hemp verruil, baie soos Dino se uitrusting.
Wanneer hy grootword, sal hy dieselfde gespierde lyf as sy pa hê.
Ook vir hom sal geen vrou kan weerstaan nie.
Die park is 'n entjie verder met die pad af as die kerk aan dieselfde
kant van die straat. Toe hulle daar kom, is daar reeds ten minste 'n
dosyn kinders aan die speel. Vincenzo maak die sportsak met sy seun
se toerusting oop en haal 'n sokkerbal uit.
"Kyk vir my, Irena!" Dino skop die bal saam met sy pa rond.
Vincenzo is 'n gebore atleet en het 'n natuurlike slag met kinders.
Alte gou kom die ander seuntjies saam speel. Irena sit op een van die
swaaie. Dis heerlik om na haar nuwe man te kan kyk vir solank as
wat sy wil. Sy sterk bene fassineer haar. Sy onthou hoe dit gevoel het
toe hulle met hare verstrengel was.
Daar is skielik 'n skerp pyn in haar hart. Irena wens sy kon haar
wêreld perfek maak, maar sy weet sy kan nie. Sy begin swaai soos
toe sy 'n kind was. Hoër en hoër.
"Oppas." Vincenzo vang haar met swaai en al in die lug van agter af
en bring haar tot stilstand. "Onthou die toets. Jy wil nie so naby aan
die datum iets laat gebeur wat 'n komplikasie kan veroorsaak nie. As
die swaai breek ..."
"Jy's reg." Sy glip van die swaai af en draai na hom toe om. "Ek het
nie gedink nie."
Sy blik streel intiem oor haar. Hy neem alles in van haar sandale tot
by die serp waarmee haar hare vasgebind is. Daar spring 'n spiertjie
in sy wang wat sy ingehoue emosies verklap. "Dit verbaas my nie. Dis
nie elke dag dat jy verneem Simonides is in die hospitaal nie."
"Vincenzo ..." Sy kyk pleitend na hom op. "Ek het geen benul gehad
dat Leon hierheen gevlieg het nie. As ek geweet het, sou ek jou
daarvan vertel het."
"Ek glo jou."
Sy lek senuagtig oor haar lippe, bewus van sy priemende blik. Oor sy
skouer kan sy Dino met die ander seuns sien sokker speel. Vir die
oomblik is hulle alleen. "Hy is bekommerd oor sy broer."
"Ek lei af hy wil nie hê jy moet enigiets sê of doen wat sy
tweelingbroer kan ontstel nie."
Sy kan nie verstaan dat Vincenzo, wat so 'n briljante man is, nie kan
insien hoe intens haar gevoelens vir hóm is nie.
"Ek het vir hom gesê ek gaan my oor niks bekommer nie, aangesien
ek daarop reken dat jy die pa gaan wees. Teen die tyd dat hy gesond
is, sal ek die toetsuitslag hê."
Vincenzo vryf met sy duim oor sy onderlip. "En wat dan?"
"As hy die pa is, sal ek Leon laat kies wanneer hy die DNS-uitslag
moet sien. Maar nou wil ek nie eens daaraan dink nie. Ek wil op ons
konsentreer."
"Ek ook," fluister hy teen haar lippe. Op daardie vertroostende noot
draai Vincenzo om en roep Dino om huis toe te gaan.
Dino kom met sy bal aangehardloop. "Wat gaan ons nou doen?"
Sy buk af na hom toe. "Wil jy hê ons moet gelato koop?"
"By die swembad?"
Irena kyk hom deur skrefiesoë aan. "Nee, by die gelateria."
"Wil julle nie swembad toe gaan nie?"
Sy verstaan nie. "Ek dag jy hou nie daarvan om soontoe te gaan nie."
Hy knik sy donker koppie. "Ek hou daarvan."
Die besef dat Vincenzo daarin. geslaag het om 'n deurbraak met sy
seun te maak, laat haar hart vinniger klop. "Veramente?"
"Sí." Dino lag. "Daar is nie haaie in 'n swembad nie. Almal weet dit!"
Sy gee hom verheug 'n drukkie. "Ek is so bly jy't dit vir my gesê. Nou
sal ek saam met jou swem.
"Fantastico! Kom ons gaan trek ons baaikostuums aan!"
Irena is so bly oor die vordering met sy seun, dat sy haar man wil
druk en hom nooit weer wil laat los nie. Maar die baba se vaderskap
hang steeds soos 'n donker wolk oor hulle toekoms. As die baba
Andreas s'n is, sal hulle gesin altyd verdeeld wees. Irena kan dit nie
verdra om daaraan te dink nie. In plaas daarvan, vestig sy al haar
aandag op Dino, die kind wat hulle op die oomblik het. Sy gee voor
dat dit Vincenzo se kind is wat in haar groei.
Teen Sondagaand, ná 'n heerlike naweek se geswem en gespeel, is
daar trane toe hulle Dino by die helikopterlandingsblad in Milaan
moet groet. Vincenzo staan buite die helikopter se oop deur, maar sy
seun weier om uit te klim.
"Hoekom kan jy my nie volgende naweek kom haal nie, Papa?"
Irena moet haar emosies in bedwang hou. Teen volgende naweek is
die toetsuitslag bekend en begin 'n nuwe hoofstuk in hulle lewe.
"Jou ma wil jou een naweek 'n maand by haar hê. Dis reeds gereël.
Maar ons sien jou Woensdag."
Dit beur hom effens op. "Oukei."
"Ek sal al die kleure leer, professore," belowe Irena. "Jy kan my toets
om te sien of ek enige foute maak."
'n Klein glimlaggie verskyn om sy mondhoeke. "As sy hulle almal reg
het, wat sal jy haar as beloning gee?" vra sy pa.
"Hou jy van sjokolade?"
"Ek kan nie daarsonder lewe nie."
Dino lag. Dis goed dat hy in 'n beter stemming weggaan. "Ciao."
"A presto, Dino. Ti amo." Sy wou al lankal vir hom sê dat sy lief is vir
hom, maar tot nou het die regte oomblik hom nie voorgedoen nie.
"Ti amo, Irena"
Dis vir hom ook die eerste keer. Hy is die liefste seuntjie op aarde.
Ná 'n vinnige drukkie draai hy om sodat sy pa hom kan aftel.
Toe hulle weg is met die limo, bel sy vir Deline. Sedert Leon se
onverwagse besoek Vrydag het Irena nie weer 'n woord van hulle
gehoor nie. Tot haar teleurstelling lui die foon so lank dat sy 'n
boodskap moet laat.
Vyf minute later bel Deline haar terug. "Jammer ek kon nie antwoord
nie. Ons was by Andreas in die hospitaal."
"Hoe gaan dit met hom?"
"Gister het hulle uitgevind hy het 'n seldsame parasiet, maar dit is
behandelbaar. Hulle gee hom nou antibiotika en sy koors het reeds
gesak. Hy het vanaand 'n broodrolletjie en vrugtesap geëet. As sy
toestand aanhou verbeter sal hy oor 'n paar dae huis toe kan gaan."
"Dis goed. Nou het ek wonderlike nuus. Vincenzo se seun het
vanaand vir my gesê hy is lief vir my."
"O, Irena ..."
"Dino gaan die wonderlikste ouboet vir my baba wees. Om ons almal
se onthalwe kan die toets nie gou genoeg kom nie."
"Dis nog net 'n paar dae. Vasbyt, Irena,"
9
DIE perinatoloog wat die prosedure gaan uitvoer, kom die vertrek
binne.
Hy knik in Vincenzo se rigting voor hy na Irena toe gaan. "Hoe voel jy
vanoggend, signora Valsecchi?"
"Goed. Angstig."
"Ek is seker dokter Santi het vir julle gesê wat gaan gebeur. Die
sonartegnikus sal saam met my werk. Nadat ek jou buik verdoof het,
sal ek 'n lang, dun naald insteek. Dit sal deur die uterus tot in die
plasenta gaan, waar ek 'n selmonster sal neem. Jy mag dalk ligte
krampe ervaar, maar die prosedure sal nie meer as vyf en twintig
minute duur nie. Het jy enige vrae?"
"Nee."
Die dokter is gereed om te begin, maar Vincenzo staan in die pad. Hy
het nooit van die idee gehou dat sy die toets ondergaan nie en
verkies steeds dat hulle dit kanselleer. Maar Irena is vasbeslote.
Hy leun oor sy vrou, wat die nodige glas water al 'n uur gelede
gedrink het en gereedgemaak is vir die sonar. "As jy my nodig het, is
ek net hier naby in die ontvangslokaal."
"Ek weet."
Haar fluweelbruin oë pleit by hom vir begrip. Maar haar moed is nie
die soort wat hy bewonder nie. Dit hou nie slegs 'n risiko vir die
baba in nie, maar stel haar ook fisiek en emosioneel in gevaar. Die
gedagte daaraan dat enigiets kan skeefloop - dit is vir hom net te
veel.
Sy gryp sy voorarm vas asof sy sy wroeging kan aanvoel. "Alles sal
oukei wees."
Vincenzo wil, móét dit met sy hele hart glo. Hy gee haar 'n soen voor
hy by die vertrek uitstap.
'n Maand gelede het hy innerlik geworstel met die kwessie van die
baba se vaderskap, maar nou besef hy al wat vir hom saak maak, is
sy vrou. Wat daarvan as die baba nie syne is nie? Hy wil net hê
Irena en die kind moet veilig en gesond wees.
Hy is 'n nuwe man sedert hy haar ontmoet het. Hy voel op elke vlak
vervuld. Solank hy haar het, kan hy enige ander frustrasie of
teleurstelling die hoof bied.
Hy moet iets vind om hom mee besig te hou en gaan kry vir hom
koffie by die masjien. Toe hy dit gedrink het, stap hy met die gang af
na die laboratorium en nader die ontvangsdame, wat lyk of sy in haar
vyftigs is.
"Is hier iemand aan die stuur van sake met wie ek kan praat?"
Sy lig 'n wenkbrou. "Ek werk al dertig jaar hier." Haar antwoord sou
hom geamuseer het as dit nie was dat hy so bekommerd is oor Irena
en die baba nie.
"My vrou ondergaan op hierdie oomblik 'n toets om die vaderskap
van haar baba te bepaal. Toe ek hierheen gekom het om 'n monster
van my wang te gee, het die tegnikus gesê ons albei se resultate sal
oor sowat tien dae gereed wees."
"Maar jy wil nóú weet."
Ehi. Sy werk nie verniet al dertig jaar hier nie. Vincenzo knik.
"As jy meer wil betaal, kan jy die resultate môre al ontvang."
Sy kop draai terwyl hy sy beursie uitpluk.
Sy lag. "Nie vir my nie. Die kassier onder in die gang. Alles word hier
op die wettige manier gedoen."
Hy haal 'n slag diep asem. Dit moet hom seker soos 'n swaap laat
voel, maar dis nie die geval nie. "Wat is die protokol? Moet ek die
laboratorium skakel?"
"Aangesien jy soos die dood lyk, sal ek jou teen twaalfuur
môremiddag skakel." Sy skuif 'n notaboekie deur die vensteropening.
Vincenzo skryf sy en Irena se name en selfoon-nommers neer en gee
dit vir haar terug. "As jy nie aan die ander kant van die ruit gesit het
nie, het ek jou 'n soen gegee, Signora."
"Signorina Lotti. As daar nie 'n ruit was nie, sou ek jou toegelaat het
om dit te doen."
"Grazie" sê hy opreg voor hy die kassier gaan opsoek. Nadat hy met
sy kredietkaart betaal het, gaan hy terug na Ontvangs.
Hy gaan nie vir Irena sê wat hy gedoen het nie. Dit sal haar net nog
angstiger maak. Haar gesondheid is al wat vir hom saak maak. Dokter
Santi het gesê sy sal drie dae nodig hê om te herstel. Daar kan 'n
bietjie bloeding wees, maar dis normaal. Sy moet bedrus kry en geen
swaar oefening doen nie.
Sodra hy van die laboratorium gehoor het, sal hy haar natuurlik sê.
Maar tot dan sal hy die volgende vier en twintig uur wag sonder dat
sy weet sy gaan die antwoord baie gouer hê as wat sy verwag het.
"Signore Valsecchi?"
Uiters verlig om te hoor dat hulle sy naam roep, volg Vincenzo die
verpleegster terug na Irena se kamer. Toe hy inkom, sit sy reeds
geklee in 'n rolstoel. Sy lyk heeltemal te goed vir iemand wat pas so
'n ongemaklike ervaring gehad het.
Hy leun oor en plant 'n vinnige soen op die lippe wat hy so begeer.
"Hoe voel jy?"
"Ek is regtig oukei," Grazie a dio. "Die gewag het jou seker
klaargemaak."
Dit laat sy hart vinniger klop om te weet dat hy die waarheid nog 'n
rukkie van haar moet weghou. "Ja, maar noudat ek jou kan huis toe
vat, is alles oukei."
"Sy's gereed," sê die verpleegster en sit 'n vel papier met instruksies
in Irena se hande. "As jy haar wil uitstoot, sal ek saamgaan tot by die
ingang en wag terwyl jy die motor bring."
Hy help haar versigtig by die motor in en hulle verlaat die hospitaal
se parkeerarea. Dan kyk hy na haar. "Is jy honger? Dors? Ek gee nie
om om stil te hou nie, en wat jy ook al wil hê, sal ek koop."
"Dankie, maar kom ons gaan net huis toe."
Hy gee haar hand 'n drukkie. "Dis wat ek ook wil hê."
Sy sug en hy voel haar emosie. "Ek is bly dis verby, Vincenzo."
"Ek ook. Ons sal binnekort weet wat die uitslag is en dan kan ons
aangaan met ons lewe. Voel jy al enige ongemak?"
"Nee. Die naald het effens gebrand, maar dit was gou verby. Ek voel
verbasend normaal."
"Jy lyk ook so. Maar moenie dat dit jou mislei nie.
Jy het gehoor wat dokter Santi gesê het."
"Ek weet. Ek sal my rustig hou."
"Ons sal albei. Ek sal vir jou druiwe voer terwyl jy jou verbuigings vir
my opsê. Teen die tyd dat ons Dino Woensdag gaan haal, sal hy so
beïndruk wees met hoeveel vordering jy gemaak het, dat hy my sal
vra om vir jou sjokoladebocciballetjies te koop."
"Dit klink lekker."
Hy vryf oor haar vingers voor hy haar hand laat los. "Jy gee nie voor
nie, of hoe? Voel jy regtig oukei?"
"Ja. Al wat my nou pla, is die tien dae wat ons moet wag. Teen
daardie tyd sal Andreas ..."
"Teen daardie tyd kon Simonides al uitgevind het van die baba, ja ..."
val hy haar in die rede en probeer om nie te kwaai te klink nie. "Ons
sal dit hanteer wanneer die tyd aanbreek ..." Sy stem vervaag.
"Ek's jammer, Vincenzo. Ek bedoel nie om gedurig van hom te praat
nie."
"Moenie jammer wees nie. As hy die pa is, gaan hy 'n feit van die
lewe wees soos Mila." As dit waar is, sal Vincenzo 'n manier moet
vind om daarmee saam te leef, maar in sy hart hoop hy steeds ...
Toe hulle in Riomaggiore aankom en hy agter die woonstel stilhou,
maak sy haar gordel los en wil uitklim, maar hy keer haar. "Jy't pas
chirurgie ondergaan. Laat ek jou help."
"Ek wou net by die huis instap. Dis nie inspanning nie."
Ontsteld hys hy hom uit sy sitplek en stap om die motor. "Of dit is of
nie, ek dra jou binnetoe."
Sy slaan haar arms om sy nek. "Jy doen te veel vir my. Ek voel soos
'n boef."
"Voel soos jy wil," kners hy dit uit. "Ek wil vir jou sorg."
Irena soen sy wang. "Dis al wat jy ooit doen. Ek is die gelukkigste
vrou op aarde." Sy teerheid laat haar oë vol trane skiet.
Hy dra haar vinnig by die voordeur in. Hy hoop sy voel nog so nadat
sy die toetsuitslag ontvang het. "Wil jy op die bed gaan lê, of liewer
op die rusbank?"
Vincenzo laat haar sak tot sy op die vloer staan.
"Ek maak vir ons iets om te eet."
"Dit klink perfek." Sy gee hom nog 'n soen en stap in die gang af.
Toe sy die deur toegemaak het, haas hy hom kombuis toe.
Hy sien die tuisgemaakte vulkaan op die blad. Sy het Dino Woensdag
gehelp om dit te maak. Ná etlike pogings het dit uiteindelik uitgebars.
Dit was so 'n groot sukses dat sy seun dit graag volgende week weer
wil doen.
Hy haal die kos driftiger uit die yskas as wat nodig is. In sy hart wil
hy hê haar baba moet syne wees; hy wil hê hulle gesin moet altyd
bymekaar wees, sonder die swaard van besoektye wat oor hulle hang.
Sodra die uitslag bekend is en Vincenzo die waarheid in die oë moet
kyk, sal hy alles dalk kan aanvaar. Maar op die oomblik voel hy soos
daardie vulkaan wat wag om uit te bars.
Irena skrik die volgende oggend wakker. Dis byna tienuur. Sy was die
vorige aand so senuagtig dat sy tot laat saam met Vincenzo na ou
flieks sit en kyk het.
Tot haar verbasing het sy goed geslaap, maar noudat sy wakker is,
onthou sy van die prosedure en haas haar na die badkamer.
Sy kan skree van verligting omdat daar geen vrugwater uitgelek het
nie. Daar is slegs 'n klein kolletjie bloed.
Nadat sy gou gestort het, borsel sy haar hare en sit lipstiffie aan. Sy
wil mooi lyk vir haar man. Volgende trek sy jeans aan waarin hy haar
nog nie gesien het nie. Daarby kies sy 'n moulose toppie in 'n ligte
koffiekleur met wit randjies om die armholtes en nek.
Toe sy by die kombuis instap, het Vincenzo reeds ontbyt gemaak. Sy
blik is angstig, vraend.
"Jy's wakker!"
"Vergewe my dat ek so laat geslaap het."
"Vergewe jou ..." roep hy onthuts uit. "Jy het dit nodig gehad. Maar
ek moet toegee, die afgelope drie uur het ek elke tien minute by jou
ingeloer. Ek was bang jy hou dalk op om asem te haal." Daar is diep
emosie in sy blou oë.
"Ek's jammer."
Sedert hy haar van die hospitaal af huis toe gebring het, is dit asof
hy gedurig in 'n angstoestand is en die ergste verwag.
"En, hoe lyk dit?"
"Tot dusver perfek!" Sy glimlag gerusstellend, maar hy is nie oortuig
nie. "Vincenzo, meer as twaalf uur het reeds verloop. Dokter Santi het
gesê dis die kritieke tyd. Maar alles is piekfyn. Daar was slegs 'n
spatseltjie bloed, niks meer nie. As ek 'n miskraam sou hê, sou daar
meer tekens gewees het"
"Geen pyn nie?"
"Niks!" Sy beduie met haar hande soos hy altyd maak om vir hom te
wys sy leer selfs Italiaanse handgebare, maar hy sien dit nie eens raak
nie.
"Jy sal nie vir my jok nie, sal jy?" Hy klink onseker.
"Waarom sou ek dit doen?" Sy neem 'n tree nader.
Sy sien nou 'n kant van hom wat sy nie verstaan nie. Sy
kwesbaarheid is 'n onthulling vir haar. Niemand wat hom so sien, sal
glo dat dit die selfversekerde, briljante, altyd-in-beheer hertog van La
Spezia is wat reeds radikale veranderinge by die Valsecchi-korporasie
aangebring het nie.
"Jy weet alles van my wat daar te wete is. Jy móét dit weet! Glo my,
as ek krampe gehad het en miserabel gevoel het, sou ek jou daarvan
vertel het, Vincenzo."
Sy kan sien dat iets anders hom pla en dat hy daaroor wil praat. Sy
probeer die luim ligter maak om hom die ruimte te gee om dit te
doen.
"Kyk, Vincenzo, dink jy ek sou sulke jeans vir jou gedra het as ek pyn
gehad het? Onthou jy toe jy my een keer uitgedaag het om sulkes te
koop toe ek die eerste keer Italië toe gekom het?"
Sy paradeer voor hom asof sy op die loopplank is. "Kyk mooi, want
dit sal my nie meer lank pas nie."
Sy gesig verstrak, maar hy volg elke beweging wat sy maak met sy oë.
Dit moet iets beteken. Is Vincenzo dalk noudat die toets afgehandel is
en sy nie 'n miskraam gehad het nie, bekommerd oor hulle toekoms?
Is hy spyt dat hy met haar getrou het om die baba se onthalwe?
Irena is vasbeslote om uit te vind wat haar man se skielike somber
bui veroorsaak het.
"Jy onthou dit dalk nie, maar ek onthou nog goed. Ons het met die
voetpad Manarola toe gestap agter 'n beeldskone Italiaanse meisie en
haar kêrel. Jy het my uitgedaag om vir my ook jeans soos hare te
koop. Wat my betref, kon sy hulle net so wel nie gedra het nie -
hulle het nie juis veel aan die verbeelding oorgelaat nie."
"Dis jou opinie," brom hy, maar sy hoor hom.
Ten minste luister hy. Dit gee haar die moed om verder te praat.
"Ek het vir jou gesê 'n dame giet haar nie in so 'n uitrusting in nie.
Jy het gesê 'n man wil nie altyd hê die vrou vir wie hy lief is, moet
soos 'n sakevrou aantrek nie. Miskien onthou jy dit nie, maar jy het
baie sulke goed vir my gesê kort nadat ons mekaar ontmoet het. Toe
jy vir my gesê het jy hou daarvan dat ek lank is, omdat daar meer is
om aan te vat, het ek verwag jy gaan aan my vat. Ek wou hê jy
moet dit doen en jy het dit geweet! Maar jy het my geterg deur my
nie te gee wat ek wil hê nie en my byna van my sinne laat raak van
begeerte!"
Die spiertjie in sy wang spring weer. "Dit was jy wat met my gespeel
het."
Sy sit haar hande op haar heupe, gefrustreerd omdat sy nie tot hom
kan deurdring nie. Wat is aan die gang? "Ek sal nooit met jou speel
nie, Vincenzo,"
"Waarom het jy dan teruggekom Italië toe? En praat die waarheid!"
"Die waarheid," roep sy uit, oorbluf deur sy vraag. "Jy weet goed
waarom, Vincenzo,"
Sy gaan na hom toe en sit haar hand op sy sterk arm. Hy krimp
effens ineen, maar trek nie weg nie. Irena weet sy moet haar man
van haar ware gevoelens vir hom oortuig. Sy het dit so lank vermy
om met hom te praat oor hoe sy voel, maar noudat die toets agter
die rug is, en hulle toekoms voorlê, is dit skielik bevrydend om dit te
kan sê.
"Vincenzo, die nag toe ek by jou geslaap het, het ek geweet ek het
vir die eerste keer in my lewe volkome en onherroeplik op 'n man
verlief geraak. Daardie man was jy! Jy was reg oor drome, Vincenzo.
Jy was reg oor alles! Ek het gedroom dat ek met Andreas sou trou,
maar dit was al wat dit was, 'n simpel droom, 'n fantasie.
"Noudat ek terugkyk, kan ek sien dat ons verhouding nog altyd futloos
was, al het ons soos die perfekte paartjie gelyk. Almal het so gedink.
Maar ons was nooit waarlik minnaars nie - ons het dit nie in ons
harte gevoel nie. Andreas het net twee keer met my liefde gemaak."
"Ek glo jou nie." Sy reaksie klink amper wreed.
"Glo dit. Albei kere was 'n teleurstelling."
Dit lyk asof haar man by die aanhoor van haar onthulling verbleek.
"Ag ... dis wat ek gehoop het om te hoor. Is jy reg vir goeie nuus?"
Haar hart klop vinniger. "Ja. Natuurlik."
"Terwyl jy gister die prosedure ondergaan het, het jou man 'n gesprek
met die hoof van die laboratorium gehad. Hy het gevra of hulle die
voorlopige verslag vinniger beskikbaar sal stel. Ek het die uitslag in my
hand. Albei jou dokters was wys om nie in die begin vir jou 'n
definitiewe antwoord te gee nie. Die baba is jou man s'n."
Dit voel vir Irena asof sy gaan flou word van vreugde. Haar hart juig.
"O, dokter Santi ..." Daar is trane in haar oë.
"Wat makeer?" roep Vincenzo bekommerd uit.
"Ek sien jou oor drie weke vir jou volgende afspraak."
Hy haas hom om die toonbank en slaan sy arms om haar. "Sê vir my
wat makeer, innamorata."
Sy druk haar hande weerskante van sy gesig vas.
"Niks makeer nie, nie 'n enkele ding nie. Vincenzo, jy is die pa van
ons baba! Jy het my swanger gemaak. Dis ons baba dié - joune en
myne!"
"Irena ..." Hy bedek haar gesig met soene. Hy kan nie ophou nie.
"Ons baba?"
"Ja, mia amore. Ti amo. En as ek dit nie reg gesê het nie, gee ek nie
om nie. Ek is lief vir jou, Vincenzo. Daardie nag toe ons liefde gemaak
het, het ons 'n gesin geskep, óns gesin. O, liefling ..."
Hy soen haar weer, oor en oor. Sy wil nie hê hy moet ophou nie.
Voor sy haar kom kry, is sy op die bed in sy slaapkamer, verstrengel
terwyl hulle hulle liefde uitstort. Hy het haar nog nie weer hierheen
gebring sedert die nag toe hulle baba verwek is nie. Van nou af is dit
waar sy gaan slaap. In sy arms.
"Ek weet ek moet stadig." fluister hy uitasem. "Die dokter het gesê
drie dae. Daar is nog twee oor voor ons weet dis veilig. Hoe gaan ek
dit uithou? Jy sal my moet help." Hy soen haar lank en innig. "Agape
mou."
Haar hart klop nog vinniger. "Jy het pas in Grieks gesê jy het my lief."
"Ek het nog nooit vir 'n ander vrou gesê ek het haar lief nie, maar ek
wou dit daardie eerste nag vir jou sê. Ek wou hê jy moet dit eerste
in jou eie taal hoor. Dink jy nie dis tyd dat ek dit leer nie? Ons wil
hê ons seun of dogter moet ewe tuis wees in albei tale, nie waar
nie?"
"O, ja!" roep sy sag uit en soen hom oral op sy gesig. "Ek sal jou en
Dino saam leer. Ons gaan die wonderlikste lewe hê!" Haar emosies
borrel oor en sy bars in vreugdevolle snikke uit. "Ek is lief vir jou,
Vincenzo. Ek is lief vir ons baba. Ek is lief vir Dino. Geen vrou op
aarde kan so gelukkig wees as wat ek op hierdie oomblik is nie."
"Ook geen man nie." sê hy teen haar lippe. "Vandag voel soos die
eerste dag van my lewe. Ons lewe." Vir 'n oomblik word hy ernstig
en kyk diep in haar oë. "Irena, ek is jammer ek was voorheen so
afsydig. Die gedagte dat enigiets met jou of die baba kon gebeur, het
my so bang gemaak. Julle het die belangrikste dinge in my lewe
geword en om julle te moet verloor ... ek dink nie ek sou dit kon
hanteer nie. Ek was ook bang dat die baba Andreas s'n kon wees en
dat die ontwrigting van toesig jou sou vernietig. Vir die eerste keer in
my lewe het ek magteloos gevoel." Hy soen haar.
Dit word iets wat so intens en vurig is dat dit hulle albei se asem
wegslaan.
"Dit is waarom ons nie langer op hierdie bed kan bly nie. Ek vertrou
myself nie om nié met jou liefde te maak nie."
"Ek wil ook niks doen wat ons baba kan seermaak nie. Kom ons gaan
geniet daardie wonderlike ontbyt wat jy gemaak het om hierdie
fantastiese dag te vier."
"En terwyl ons dit doen ..." Hy knabbel aan haar oorlelletjie. "Moet jy
die een persoon bel wat ons nuus moet hoor. Dan gaan ons heeldag
lank hier ontspan terwyl ek jou sjokoladebocciballetjies voer en ons
name uitdink."
"Dit klink wonderlik." Sy soen sy ferm wang. "En 'n babakamer begin
beplan."
"Het ek vir jou gesê Papa dring daarop aan dat ons by hom en
Silviana in die palazzo gaan bly? Ek het destyds ingestem om hom te
paai, maar ek is geensins van plan om dit te doen nie."
Irena verskuif sodat sy kan afkyk na hom. "Hoekom nie?"
Hy streel met sy vinger oor die buitelyn van haar mond.
"Jy weet hoekom, bellisima. Ons is albei vrygeeste.
Ek wil hê ons baba moet ook een wees. Ek doen ook alles in my
vermoë om Dino een te laat word."
"Maar watse skade sal dit vir 'n kort rukkie doen? Ons hou die
woonstel en skuif heen en weer. Jou pa het dalk nie baie tyd oor
nie. Dink jy nie hy het dit geëis omdat hy heimlik vrees dat jy nooit
uit vrye wil sou kom nie?"
Sy soen hom op die mond. "Ek dink dis sy manier om te vergoed vir
die jare wat julle vervreemd was. Dino hou daarvan by die palazzo.
Sal dit vir jou so onmoontlik wees? Ek weet jy is lief vir jou pa."
Sy hand klem stywer in haar hare en sy oë vlam diepblou. "Wat het
ek ooit gedoen om jou te verdien?"
"Sedert daardie dag toe jy my op daardie piekniek geneem het, vra
ek myself dieselfde vraag. Onder die toring het jy my met blomme
bestrooi soos 'n ridder van ouds dit met sy dame sou doen. Ek was
heeltemal betower. Jy het my betower. En weet jy, niks kan my
groter vreugde verskaf as die wete dat ek jou kind verwag nie. Ek
gee nie om waar ons bly nie, solank ek by jou is."
"Irena . . ." Hy druk haar nog een keer styf teen hom aan.
Teësinnig kom hy eindelik orent en trek haar saam met hom op.
Ingehaak stap hulle uit die slaapkamer kombuis toe. Vincenzo gee vir
haar die foon aan.
Bewend van opwinding skakel sy haar vriendin.
Dis Saterdagoggend. Sy kan in Athene of op Milos wees. Tel op,
Deline.
Ná ses luie antwoord sy. "Irena?"
Sy sit die luidspreker vir Vincenzo aan. "Ja! Waar is jy?"
"Op die boot saam met Leon en die tweeling."
"Goed so. Ek het nuus wat julle albei sal wil hoor." Irena se blik hou
haar man s'n gevange. Sy oë is veelseggend blink. "Vincenzo is die pa
van my baba!"
Haar vriendin se vreugdevolle uitroep is so hard dat dit hulle ore
seermaak. Sy skree reeds die nuus vir Leon.
Irena kan skaars praat, so vol emosie is sy. "Ons verwag oor so ses
en 'n half maande ons baba, 'n klein Valsecchi. Julle sal La Spezia toe
moet kom wanneer ons die kindjie laat doop. Julle sal natuurlik by
ons in die palazzo tuisgaan. Lief vir julle. Tot later. Ciao."
Sy lui af en slaan haar arms weer om Vincenzo.
"Ek is lief vir jou. Ek is so lief vir jou dat jy siek gaan raak daarvan
om dit te hoor."
"Ek gaan siek raak as jy dit nie sê nie. Gee vir my die foon. Daar is
'n oproep wat ek graag wil maak."
Irena bewe so erg dat sy aan haar man moet vasklou terwyl hy die
nommer bel. Hy sit die foon op luidspreker en skielik hoor sy haar
ma antwoord. Vincenzo vra haar om haar pa ook te laat luister. Hy
kom 'n oomblik later by.
"Ons het gewonder wanneer ons van julle twee gaan hoor."
Vincenzo glimlag af na haar.
"Soos julle weet, help julle briljante dogter my om die maatskappy
weer op koers te kry. Maar ons het drie dae vry geneem om iets te
vier. Ons wil hê julle moet dit saam met ons doen, aangesien julle
oor sowat ses en 'n half maande 'n kleinkind ryker gaan word."
"Is Irena swanger? Ons dogter is swanger!" Haar ma se stem is skril
van vreugde.
"Dis wonderlik." Haar pa klink bewoë.
"Irena sal julle later bel en al die besonderhede gee. Nou moet ek
eers my pa en sy vrou in kennis stel."
"Dalk is dit nog 'n klein hertog."
"Of 'n hertoginnetjie," terg Irena. Sy weet goed hoe Vincenzo daaroor
voel, maar dit sal nie skade doen om saam te speel terwyl haar ouers
so opgewonde is nie. "Maar moet dit nie waag om enigiets daaroor in
die pers uit te lap nie!"
Haar pa lag uitbundig voor hulle groet.
Nadat Vincenzo afgelui het, soen sy hom weer vurig. "Jy gaan die
wonderlikste pa wees. Wil jy 'n seun of 'n dogter hê? Besef jy ons
het nog nie eens daaroor gepraat nie?"
Hy verberg sy gesig in haar hare. "Ek gee nie om nie."
"Ek ook nie."
"Gee my jou mond, Irena. Ek smag daarna."
"Ek sal sodra jy jou pa gebel het. Laat ek hom vertel. Ons het begin
vriende maak."
"Ek weet. Hy is heimlik mal oor jou. Maar nou ja, ek is ook. Ek is
hopeloos verlief, squisita."
***WK***