Download as pdf or txt
Download as pdf or txt
You are on page 1of 7

ARBEIDSTERAPIE EVALUERINGSVERSLAG

NAAM: Eli Rogers

GEBOORTEDATUM: 24 Januarie 2020

DATUM VAN EVALUERING: 5, 12 & 19 Mei 2021

KRONOLOGIESE OUDERDOM: 15 maande


Hierdie verslag (insluitend enige bylaes en aanhangsels) is opgestel vir die uitsluitlike gebruik en voordeel van die
kliënt en uitsluitlik vir die doel waarvoor dit voorsien word. Tensy ek vooraf skriftelike toestemming gee, mag geen
deel van hierdie verslag gereproduseer, versprei of gekommunikeer word aan enige derde party nie. Ek aanvaar
geen aanspreeklikheid indien hierdie verslag gebruik word vir 'n alternatiewe doel waarvoor dit bedoel is, of vir
enige derde party ten opsigte van hierdie verslag.

REDE VIR VERWYSING

Eli is gesien deur Dr Griesel in die Neuro-ontwikkelingskliniek by die Universiteit van die Vrystaat in April
2021. Daar was kommer dat Eli later is met sy ontwikkeling van spraak. Die evaluering het matige risiko
om op die outisme spektrum te val geïdentifiseer. ʼn Formele gehoortoets is aanbeveel en intervensie
wat fokus op sosiale interaksie en gedeelde aandag. ʼn Formele ADOS evaluasie binne die volgende
jaar is ook voorgestel.

AGTERGRONDINLIGTING

Eli is die enigste kind van Mnr. en Mev. Rogers. Die swangerskap met Eli was aanvanklik
ongekompliseerd, maar weens vroeë ontsluiting op 36 weke, was Mev. Rogers die laaste maand op bed
rus. Eli is op vol term gebore en geen neonatale komplikasies is gemeld nie. Hy het geelsug gehad en
dis tuis behandel. Mev. Rogers het komplikasies ervaar na die geboorte en is gehospitaliseer vir ʼn dag
en ʼn half. Eli het in hierdie tyd beide borsvoeding en bottelvoeding ontvang. Hy het goed geheg en sy
suig aksie was sterk.

Op vier maande het Mev. Rogers begin om vaste kosse aan te bied. Eli het die oorgang gemaklik
aanvaar en op ses maande al lekker begin eet. Eli het refluks gehad as baba en dieselfde ervaar met
vaste kosse. Op 8 maande het Mev. Rogers vir hom Nexium begin gee en dit het voorgekom of dit help.
Dit is gemeld dat Eli tans goed eet en graag homself wil voer. Hy verkies sout smake en is dus nie mal
oor vrugte nie.

Eli bleik maklik aan die slaap te raak. Dit neem so tien tot twintig minute waartydens hy homself aan die
slaap sus deur te suig aan sy fopspeen. Hy slaap van tien maande af al deur die nag.

Wanneer Eli speel geniet hy buite en binne spel. Hy pak die verskillende grootte koppies in en uit mekaar,
kap hout stokkies in ʼn houer met gate en “lees” boekie. Hy geniet dit om met die bal te speel, rond te
hardloop en op ʼn klein klimraam te klim en gly. Hy boots soms sy pa na wie in die tuin werk en maak die
plante nat. Eli geniet sand, grond en op die gras speel. Hy sal ook soms met sy teddiebeer speel en
maak asof hy sy hare kam of kos gee. Wanneer hy iets wil hê sal hy sy ma aan die hand trek, alhoewel
hy nie sal wys met sy vinger nie.

Eli is meestal skugter in ʼn nuwe omgewing en neem ʼn tydjie om die situasie eers deur te kyk voor hy sal
weg beweeg van sy ma. Hy sal soms begin huil wanneer hy aanvanklik in ʼn nuwe omgewing kom.
Wanneer hy speel tussen ander kinders verkies hy die ouer kinders. Eli hou daarvan dat dinge op sy
terme gebeur. Hy hou byvoorbeeld nie van massering nie en om vasgedruk te word nie, maar sal tog
lekker styf teen sy ma gaan lê wanneer hy behoefte het daaraan. Hy gebruik sy fopspeen en kombersie
om te self-reguleer. Volgens Mev. Rogers lyk dit soms of klere hom irriteer. Aan- en uittrek is ʼn redelike
stryd en Eli se aandag moet afgetrek word met ʼn boekie om die proses te voltooi. Hy het eers onlangs
begin om sokkies en skoene te dra en dra dit nie vir lank nie. In teenstelling met hierdie oënskynlike
sensitiewer tas sisteem, sal Eli nie wys wanneer sy doek nat of vuil is nie en net aanhou met speel.
Eli neem lank om te reageer wanneer hy op sy naam geroep word. Op ag maande het Mnr. en Mev.
Rogers gebare taal begin gebruik met Eli. Hy reageer nie konstant hierop nie, maar gebruik wel soms
die teken vir “meer” en “nee”.

TOETSE GEBRUIK TYDENS EVALUASIE

Checklist of Occupational Performance Components in Children (COPCC)


WITS ontwikkeling skaal (deur B. Steward-Lord)
KNOX spel skaal
Functional Emotional Developmental Levels (Floortime©)
Onderhoud met ouers
Sensoriese profiel (deur W. Dunn en D. Daniels) voltooi deur beide ouers
Observasies tydens gestruktureerde aktiwiteite

GEDRAG TYDENS EVALUASIE SESSIES

Eli is geëvalueer oor die verloop van drie sessies. Hy was skugter tydens die eerste sessie. Dit het
voorgekom of hy nie gemaklik was om in die vertrek te bly nie en het gou sy ma aan die hand gelei na
die deur. Stelselmatig het hy begin speel en meer op sy gemak voorgekom. Eli het aanvanklik op sy eie
gespeel met koppies wat hy van die huis gebring het. Die terapeut het soortgelyke koppies gebruik en
Eli se spel gedrag nageboots. Hierdie het ʼn aanknopings punt geskep en Eli het met tye dan die terapeut
se koppies saam met syne laat pas.

Hierdie gedrag van skugter wees met die aanvang van ʼn sessie het minder prominent geraak soos die
sessies gevolg het. Eli het wel gewoonlik met die aanvang van die sessie eers alleen gespeel in die
vertrek en stelselmatig òf sy ma òf die terapeut toegelaat in sy persoonlike ruimte en interaksie geniet.
Dit het voorgekom of hy tot so 20 minute neem om gemaklik te raak in die vertrek.

Eli het dit baie amusant gevind wanneer die terapeut agter hom op die blok trappe klim of hardloop in
dieselfde rigting. Hy het die fisiese spel geniet. Hy het ook lekker gelag vir “peeka-boo” speletjie en
definitiewe afwagting gewys. Eli hou ook daarvan dat wanneer hy iets probeer doen, die volwassenes
vir hom hande klap in erkenning en hy klap dan ook sommer saam.

Wanneer Eli moeg geraak het vir die interaksie (gewoonlik na so 10 tot 15 minute) het hy terug beweeg
na speel op sy eie. Meestal met sy koppies of sy boekie deur gekyk.

ASPEKTE WAARGENEEM EN INTERPRETASIE DAARVAN

 Sensoriese integrasie is tweeledig. Eerstens moet die persoon die sensoriese inligting ontvang van
die verskillende sintuie registreer en filter. Dit word sensoriese modulasie/regulering genoem.
Hierdie vind plaas op beide sellulêre (by die reseptors) en sentrale senuwee (in die brein) vlakke.
In die brein is daar ʼn noue interaksie tussen die gedeelte wat die filter werk doen en die emosionele
gedeelte van die brein. Dit is hoekom ons emosionele konnotasies maak met enige sensoriese
impuls wat ons ontvang, ʼn liedjie wat jy hoor of ʼn geur wat jy ruik. En dit is dan ook gedeeltelik
hoekom ons soms emosioneel reageer wanneer die sensoriese reaksies oor- of onder-aktief is.
Die tweede gedeelte in die sensoriese integrasie proses is die diskriminasie en prosessering van
die inligting wat wel gefilter is en na die hoër gedeeltes in die brein gestuur word. Hierdie proses
gee ʼn persoon terugvoer en begrip van waar en hoe sy/haar lyf beweeg binne die omgewing. Dit is
op hierdie vlak waar daar baie interaksie tussen die verskillende sintuie is om die persoon in staat
te stel om optimaal te reageer binne die omgewing met sy verskillende eise.
 Sensoriese modulasie/regulering. Daar is ʼn onderliggende neurologiese drempel in die sentrale
senuweesisteem wat bepaal hoe vinnig ʼn persoon ʼn impuls registreer. ʼn Hoër drempel verlang
meer impulse alvorens daar ʼn registrasie en dus prosessering met ʼn gevolgde reaksie sal plaasvind.
Dis byvoorbeeld ʼn kind wat jy vyf keer roep voor hul antwoord alhoewel gehoor normaal is. ʼn Laer
drempel daarteenoor registreer vinniger impulse en sal vinniger in oorlading ingaan. Dis
byvoorbeeld wat gesien word wanneer ʼn kind ʼn emosionele uitbarsting het na hy/sy begin speel het
op die sand of by ʼn partytjie waar daar baie geraas en kinders is wat rondom hom/haar beweeg.
Party persone is oor-reaktief en ander onder-reaktief teenoor sensoriese impulse.

Die sensoriese profiele ingevul deur Mnr. en Mev. Rogers het laer registrasie vlakke en gevolglike
reaksies teenoor sensoriese impulse aangedui. Met nadere ondersoek om vas te stel watter sintuie
tot hierdie telling gelei het, het dit voorgekom of dit meestal t.o.v. die gehoor sisteem was wat die
stadiger registrasie plaas vind. Dit is egter nou belangrik om eers vas te stel of die gehoor reseptore
in die middel-oor optimaal registreer en gelei na die brein alvorens daar afleiding gemaak kan word
t.o.v. sensoriese registrasie in hierdie verband. Die aanvanklike gehoor toets was nie beduidend
omdat dit moeilik was om Eli se volle samewerking te bewerkstellig. ʼn Tweede gehoor toets is
aanbeveel.

Die enigste aanduiding van ʼn effens laer neurologiese drempel was t.o.v. tas insette (aangedui uit
die profiel soos voltooi deur Mev. Rogers). Die items wat hierdie telling beïnvloed het was Eli se
vermyding om vasgehou te word en te “cuddle” soos reeds gerapporteer. Dit is dus die gevoel dat
in die afwesigheid van ʼn beduidende sameloop van inligting, Eli nie noodwendig ʼn sensoriese
disregulering het nie.

Hy gebruik wel kou om te self-reguleer en het voortdurend of aan ʼn stuk droë wors of sy fopspeen
gekou en suig tydens die sessies. Dit is belangrik om die interaksie tussen die gedeelte van die
brein wat die sintuie filter en die emosionele brein in ag te neem. Dit was die gevoel dat die behoefte
aan self-regulering tydens die sessies bes moontlik uit gelok is deur Eli onsekerheid in die nuwe
omgewing en moontlik die voortdurende interaksie uitputtend gevind het. Dit wil voorkom of Eli wel
emosioneel meer sensitief is en dat dit soms sy gedrag en reaksies beïnvloed. Dit sou van waarde
wees om hom te help met self-regulering wanneer hy gekonfronteer word met ongemaklike
ervarings soos ʼn nuwe speel area. Laat hom toe om eers die area te bespied, gee vir hom die
geleentheid om te kou en wanneer hy reg is sal hy ondersoek en saam speel. Dit is dan ook
belangrik om hom dop te hou en wanneer hy moeg raak en potensieel oorgestimuleer, skep weer ʼn
geleentheid vir self-regulering deur te self-isoleer en aan iets te kou of suig. Hierdie behoeftes aan
self-regulering behoort minder te word soos Eli se vermoëns om sy emosies te reguleer verbeter.

 Sensoriese diskriminasie en prosessering. Die drie sogenaamde liggaamsintuie (tas, vestibulêre


en propriosepsie) is baie belangrik vir die ontwikkeling van motoriese vaardighede en ruimtelike
persepsies. Daar is ʼn noue integrasie tussen die verskillende sintuie. Die visuele sisteem is nie net
belangrik vir dit wat jy sien nie, maar ook vir die vermoë om in ʼn omgewing te beweeg en balans te
hou. So is gehoor nie net belangrik vir hoor (ouditiewe prosessering) nie, maar ook vir oriëntering
in die ruimte waar iets is (soos die hond wat blaf) teenoor die persoon.

Geen gestandaardiseerde toetse is gebruik om die prosessering van die verskillende sintuie te
evalueer nie en hierdie is blote afleidings gemaak uit waarnemings.

Tas: Eli se manier van beweeg in die ruimte was tipies. Sy beplanning om op en oor voorwerpe te
kom was funksioneel. Sy grepe gevorm om voorwerpe op te tel en neer te sit asook om houers toe
te maak was tipies vir sy ouderdom. Mev. Rogers het gerapporteer dat Eli deesdae koue
oppervlaktes vermy en dit is ook waargeneem in die sessie waar hy van die matte vermy het en oor
dit of om dit geklim het. Hy het ook dadelik ʼn sagter mat opgelet en gaan ondersoek. Dit is die
gevoel dat die tas sisteem funksioneel diskrimineer en prosesseer.

Propriosepsie: Dit is die vermoë om te voel hoeveel krag en spoed jy gebruik in bewegings en dit
toepaslik aan te pas soos nodig. Die impulse word geregistreer deur sensors op die spiere en
gewrigte. Eli kon gemaklik krag bestuur en beheer in bewegings en wanneer hy ʼn swaai weg
gestamp het kon hy vinnig genoeg sy lyfie so posisioneer dat die swaai hom nie om stamp nie met
die terug swaai nie. Hy het ook mooi gekeer met sy voete wanneer hy na agter getree het en per
ongeluk op ʼn blok getrap het. Hy was dus bewus van die voorwerp en kon sy liggaam posisie
aanpas sodat hy nie val nie. Dit is die gevoel dat sy proprioseptiewe sisteem funksioneel is.

Vestibulêre: Hierdie sisteem se sensors is in die middel-oor en gee inligting oor die trek van
gravitasie op die liggaam asook die spoed en rigting waarin ʼn persoon beweeg. Eli het toepaslike
balans getoon in beide statiese en dinamiese posisies. Het kon op kruip by trappe en onafhanklik
afklim. Hy was nog nie heeltemal veilig in waar sy lyfie in die ruimte is nie en het soms amper na
agter geval. Sy manier van loop met ʼn wye basis van ondersteuning is tipies vir sy ouderdom. Hy
het gemaklik na agter beweeg en nie sommer beheer verloor nie. Dit is die gevoel dat die vestibulêre
sisteem funksioneel is.

Visueel: Daar is twee neurologiese bane waarin visuele inligting gelei word: die “wat” (parvosellulêre)
en “waar” (magnosellulêre) bane. Die “wat” stroom prosesseer die kwaliteit van wat jy sien, die
vorm, kleur of grootte. Die “waar” stroom prosesseer die posisie van die voorwerpe, gedraai, bo-op
of naby/ver en het ʼn noue integrasie met die vestibulêre sisteem. Soos gemeld het Eli sy koppies
baie geniet en het definitief ʼn persepsie van watter grootte koppies pas waar maar ook wie se
koppies pas bymekaar. Sy manier van in en uit pak was tipies vir sy ouderdom en Eli kon mooi
deksels op ʼn houer pas om dit toe te maak. Eli geniet prentjies in boeke en reageer positief op die
interaksie met watter klanke watter diere in die prentjies maak. Hy het bewegende voorwerpe mooi
gevolg en gou agtergekom as iets wegrol. Dit is die gevoel dat sy visuele sisteem funksioneel is.

Ouditief: Soos gemeld bleik hierdie sisteem stadiger te reageer op insette. Indien gehoor tipies is
sou dit van waarde wees om te ondersoek hoe die prosessering van hierdie sisteem verder
gestimuleer kan word. Dr Tomatis het dit so mooi gestel “You can’t produce a sound if you can’t
hear the sound.” Dit sou dus (indien gehoor tipies is) belangrik wees om die registrasie vlakke te
optimaliseer deur ander sintuie te gebruik om vlakke van registrasie te verhoog en dan die
prosessering te stimuleer.

 Spelpatrone. Daar is duidelike patrone waarvolgens kinders se spel ontwikkel. Dit gee vir ons baie
goeie riglyne van fisiese, psigiese en emosionele ontwikkeling.

Fisies: Eli se fisiese ontwikkeling bleik tipies te wees. Dit sluit beide groot en fyn motoriese
ontwikkeling in. Hy loop onafhanklik, kan gemaklik beweeg tussen verskillende posisies soos sit,
staan en buk. Dit was duidelik dat Eli die fisiese interaksie geniet het met die volwassenes om hom
en dat wanneer hy gemaklik is, hy lekker die omgewing ondersoek en eksperimenteer met wat sy
lyfie kan doen. Sy greep vorming, loslatings en dus oog-hand koördinasie het tipies voorgekom. Hy
kon al begin om voorwerpe soos watter deksel waar pas manipuleer en is nog tipies besig met
sensories-motoriese spel met min belangstelling in eindprodukte.
Psigies: Alhoewel Eli in die sessies meestal sensories-motories ondersoekende spel patrone gewys
het, het Mev. Rogers gerapporteer dat hy wel tuis eenvoudige aksies naboots soos sy pa wat tuin
nat maak. Hy sal ook aksies naboots soos om die teddiebeer se hare te kam of kos te gee. Dit is
aanduidend van die ontwikkeling van meer nabootsing en dramatisering wat visualisering en hoër
kognitiewe denk prosesse benodig.

Emosioneel: Eli is nog tipies in die stadium van alleen speel en kyk wat ander doen in spel. Hy het
so paar keer nou al gewys dat hy saam met ander kinders wil speel by ʼn speel area waar hy was
saam met sy ma. Die ander seuntjie het opgeklim en gly by die glyplank en Eli het agter hom
aangeloop, mooi gekyk wat hy doen en agter hom aan gegly. Mev. Rogers het ook vertel dat hy sy
emmer en grafie geneem het en saam met ander kinders gaan sit het om in die sand te speel. Hy
hou van aandag op homself en soos genoem wanneer hy iets probeer soek hy erkenning van die
volwassenes om hom.

Kommunikasie en interaksie: Tydens die sessies het Eli nie sommer iets aangebied en op hierdie
manier interaksie geïnisieer nie. Hy sou wel items van die terapeut neem om mee te speel. Wanneer
daar klanke gemaak is en soms woorde gebruik is het Eli wel gereageer deur te kyk of te glimlag. Dit
was egter nie deurgaans konstant nie en daar was oomblikke waar Eli se aandag gebly het waarmee
hy besig was en nie agting gegee het op klank of beweging in die omgewing nie. Hy het gereageer
op versoeke om iets te gee of te doen. Eli volg ʼn wys van die vinger maar sal nog nie self wys na
iets wat hy wil hê nie. Hy maak ʼn verskeidenheid van klanke alhoewel dit nie gebruik word met die
intensie om te kommunikeer nie. Eli gebruik wel gebare met tye en het “meer” gewys tydens die
sessie.

OPSOMMING EN AANBEVELINGS

Eli bleik tipiese sensoriese registrasie, regulering en prosessering van al sy sintuie te hê buiten gehoor.
ʼn Gehoor toets moet egter eers voldoende resultate aandui alvorens hierdie aspek verder aangespreek
kan word. Motoriese ontwikkeling, insluitend beplanning en koördinasie, bleik tipies te wees en Eli se
spelpatrone dui ontluikende perseptuele vaardighede aan.

Die DIR/Floortime© benadering tot interaksie en kommunikasie stimulasie is gedemonstreer aan Mev.
Rogers. Dit is die gevoel dat hierdie benadering tot Eli se interaksie eers gebruik moet word alvorens
verdere ondersoeke deurgevoer word. Eli het oor die verloop van die drie weke waartydens die evaluasie
sessies voltooi is reeds veranderende gedrag begin toon.

Die volgende aspekte van spel word verwag om te ontwikkel binne die volgende ses maande:
 Fisies: Bal gooi en later skop, meer beheer in bewegings m.a.w. Eli sal begin speel in hurkende
sit posisie, gemaklik op en af klim by groot stoele en trappe begin klim. Hy sal begin om meer
manipulerende spel, so nie net in en uit pak, maar ook voorwerpe uitmekaar te haal, te draai of
bymekaar te sit.
 Psigies: Eli sal meer verteenwoordigende spel toon en situasies wat hy al ervaar het uit te speel
soos kos maak, of die diere bad ens. Sy aandag sal begin ontwikkel dat hy tot 5 minute met een
voorwerp speel en tussen 5-10 minute op sy eie.
 Emosioneel: Eli sal meer kyk wat ander kinders in sy omgewing speel en begin met interaksie
soms. Hy sal ook begin om volwassenes instruksies te gee van wat hulle vir hom moet doen.
 Kommunikasie: Ons wil graag hê dat Eli soos hy aksies begin naboots ook klanke sal begin
naboots. Om hom hiermee te help is dit belangrik om hom te kry om na jou mond te kyk wanneer
jy klanke of woorde maak. Tel ʼn speelding op waarmee hy speel en sit dit langs jou mond om
hom uit te lok om te kyk en praat dan. Hierdie sal ʼn visuele leiding gee van wat die mond doen
om die klank te vorm. Gebruik dus oordadige bewegings van die mond, artikuleer baie duidelik
en maak gebruik van interessante stemtone om aandag te kry en ouditiewe prosessering te
vergemaklik. ʼn “Sing-song” stem kan nogal lekker aandag trek en die gebruik van die ritme
aktiveer die regterkant van die brein, wat dan maak dat beide links en regs werk (taal lê in die
linkerkant van die brein) wat prosessering dan ook kan vergemaklik. Praat baie stadig (90-110
woorde per minuut). Herhaal woorde en eenvoudige sinne.

Aanvanklik sou ek graag maandeliks Eli se ontwikkeling wil opvolg en verdere aanbevelings hiervolgens
maak.

Kontak my gerus indien u enige verdere inligting benodig.

Amy Rode
B. in OT (US)
Gesertifiseerde ASI® terapeut
Gesertifiseerde NDT terapeut
Gesertifiseerde DIR/Floortime terapeut (Vlak 2: Bekwaam)
Interactive Metronome verskaffer

You might also like