Download as pdf or txt
Download as pdf or txt
You are on page 1of 11

Waterbesoedeling

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Waterbesoedeling (Engels: Water pollution) is die


besoedeling van watermassa (soos mere, riviere,
oseane en grondwater). Waterbesoedeling kom voor
wanneer die besoedelende stof direk of indirek in die
watermassa beland sonder voldoende behandeling om
die skadelike stof te verwyder.

Waterbesoedeling beïnvloed plante en organismes wat


in die water lewe en in byna alle gevalle is die
uitwerking nie net skadelik wat individuele spesies en
bevolkings betref nie, maar ook die biologiese
gemeenskappe.

Die behandeling van water in 'n suiweringsaanleg


Algemeen maak die water skoner.

Water wat in die natuur voorkom, bevat altyd 'n


hoeveelheid organiese en anorganiese stowwe, waarvan die konsentrasies in 'n dinamiese ewewig verkeer
en deur 'n komplekse reeks prosesse gehandhaaf word (selfsuiweringsvermoë). Sodra hierdie balans
sodanig versteur is dat die water nie sonder nadelige gevolge gebruik kan word nie, is dit besoedel.

Oorsake kan van natuurlike oorsprong wees, soos byvoorbeeld erosie, waardeur groot hoeveelhede grond
in die water beland, of uitloging van die ondergrond, waardeur anorganiese soute en sure in die water
opgelos word. Oormatige waterbesoedeling is kenmerkend vir die bevolkingsaanwas en toenemende
industrialisasie van die 20e eeu.

Huishoudelike en nywerheidsafvalwater beland in riviere en damme, terwyl chemikalieë wat aan


landbougewasse toegedien word, nie net die grond besoedel nie, maar later in spruite, damme, riviere en
die see gevind kan word. Dit beteken dat nie net visse nie, maar ander waterdiere en plante ook vernietig
word. In die afgelope tyd was daar byvoorbeeld verskeie voorvalle van visvrektes in die Vaalrivier vanweë
waterbesoedeling deur fabrieksafvalstowwe.

Ontspanning het ook al 'n besoedelingsfaktor geword: rommel wat deur hengelaars en duisende
piekniekgangers in die water gegooi word en olie afkomstig van motorbote is van die grootste oorsake van
die besoedeling van natuurlike waterbronne. Sedert die sewentigerjare is daar ook beset dat besoedeling nie
net die verbruikersmoontlikhede van water beperk nie·, maar ook nadelig vir die omgewing is. Benewens
biologiese besware kan estetiese en etiese besware aangevoer word omdat vuil, lewelose water groot
afbreuk aan die natuurskoon doen.

In talle dele van die wêreld (onder meer Suid-Afrika) is water skaars en daarom moet die beskikbare water
ten volle benut word. Om besoedeling in Suid-Afrika te bekamp, is streng wetgewing ingestel (die
Waterwet, No. 54 van 1956) ingevolge waarvan die samestelling van nywerheids - en riooluitvloeisels wat
in riviere gestort word, streng beheer word.
Wetgewing rakende waterbesoedeling moet egter op internasionale vlak deurgevoer word om doeltreffend
te wees, aangesien die besoedelde water van riviere uiteindelik in die see beland.

Organiese besoedeling
Daar word 'n onderskeid gemaak tussen biologiese en chemiese besoedeling. Biologiese besoedeling
ontstaan wanneer water met menslike en dierlike uitwerpsel en slagafval besmet word en virusse, bakterieë
en ander siektedraende mikroörganismes in die water aanwesig is. Groot konsentrasies paratifus- en
tuberkulosebakterieë kom in rioolwater van groot stede en in die afvalwater van nywerhede voor.

Onsuiwerhede van natuurlike oorsprong in water word deur sommige aërobiese bakterieë afgebreek.
Oliebesoedeling is nie net tot die see beperk nie: olie en olieprodukte word vanweë lekkasies en die
uitspoel van oliehouers deur riole na waterbronne gevoer. 'n Olielaag op die wateroppervlak belemmer die
suurstoftoevoer na lewende organismes onder die oppervlak. Watervoëls kry dodelike hoeveelhede olie in
wanneer hulle hul vere probeer skoonmaak.

Die aktiewe bestanddele van wasmiddels wat in waterbronne beland, breek die drywende olie op in klein
druppels, wat deur visse en waterdiere opgeneem kan word. Landbouchemikalieë kan akute en chroniese
vergiftiging by diere en plante veroorsaak. Sommige giftige stowwe hoop op in dierlike weefsel, wat
vrektes kan veroorsaak, soos die geval was met die groot visvrektes in die Ryn in 1969. Gevoelige plant-
en diersoorte dien as biologiese indikators waarvolgens die giftigheidsgraad van water bepaal kan word.

Hulle dui die aanwesigheid, maar nie die aard nie, van gifstowwe aan. Sekere gifstowwe, soos DDT, is so
skadelik dat die gebruik daarvan streng beheer word. Navorsing het getoon dat gebiede wat ver van enige
menslike aktiwiteit geleë is, reeds met DDT besmet is: DDT is byvoorbeeld in visweefsel by Ross-eiland in
die Noordpool gevind.

Anorganiese besoedeling
Die anorganiese besoedeling van water, byvoorbeeld deur soute, sure en ione van swaar metale, lei tot
vergiftiging, versouting en eutrofisering. Die grootste sondaars op die gebied is nywerhede en myne wat
groot hoeveelhede koper, kwik, sink, chroom, lood, sianied, suur, ensovoorts in water laat beland. Die
landbousektor is eweneens skuldig aan besoedeling (kunsmis), terwyl huishoudelike afvalwater stowwe
soos fosfate en wasmiddels bevat. Nie alleen die oppervlakwater nie, maar ook grondwater word hierdeur
besoedel.

Vergiftiging

Vergiftiging word veral deur swaar metale veroorsaak. Metaalione word opgeneem deur skulpdiere soos
mossels, wat weer deur die mens geëet word. In die vyftigerjare is talle mense in Minamatabaai in Japan
weens kwikvergiftiging dood omdat hulle vergiftigde vis geëet het.

Versouting

Die toename in die soutinhoud van oppervlakwater berokken groot skade aan landbougewasse en skep
probleme in die voorsiening van drinkwater. Die belangrikste oorsaak van versouting in Wes-Europa is die
groot hoeveelhede sout afkomstig uit myne in Frankryk wat deur die Ryn weggevoer word. Dieselfde
probleem word in Suid-Afrika ondervind, veral in die Hartbeespoortdam suiwer rivierwater het 'n
soutinhoud van minder as 10 dele in 1 miljoen dele water. die soutinhoud van die Hartbeespoortdam het
van 34 dele in ʼn miljoen (1980) tot 45 dele (1982) gestyg.

Eutrofikasie

Eutrofisering vind plaas wanneer binnelandse water met fosfaat- en stikstofverbindings (afkomstig van
landbou- en huishoudelike afvalwater) "verryk" word. Die kunsmatige verryking van water bring sekere
fisiese en chemiese veranderings mee. Die gasbalans in varswater (O2CO2-verhouding) word deur
fotosinterende bakterieë en alge, wat suurstof produseer en koolsuurgas gebruik, in stand gehou. Indien
daar 'n skielike toevloei in voedingstowwe soos nitrate en fosfate is, neem die getalle van alge so drasties
toe dat hulle mekaar in die water oorwoeker.

Groot hoeveelhede sterf derhalwe af en stel sodoende nog voedingstowwe aan die aërobiese heterotrofe
bakterieë beskikbaar. Die bakterieë, wat suurstof gebruik en koolsuurgas produseer, vermeerder vinnig. Dit
versteur die gasbalans en veroorsaak dat baie plante en diere doodgaan en sodoende meer organiese
voedingstowwe aan die bakterieë beskikbaar stel. Na 'n tydperk is daar geen suurstof meer in die onderste
lae van die water oor nie, wat weer toestande vir die anaerobiese saprofitiese bakterieë gunstig maak (hulle
kan nie in die aanwesigheid van suurstof leef nie).

Die water se suurstofkonsentrasie is dus besonder laag, die pH daal (water word suurder) en weldra oorleef
net 'n paar vissoorte in die boonste lae van die water. Eutrofisering kan beheer word deur te verhoed dat
riooluitvloeisel in damme of mere beland of deur die nutriënte uit rioolafval te verwyder voordat dit in die
rivier of dam vloei. Die probleem kan verder bekamp word deur landboupraktyke met betrekking tot die
toediening van kunsmis te verbeter en deur fosfate uit waswater te verwyder.

Seebesoedeling
Seebesoedeling word veroorsaak deur besoedelde water van riviere wat in die see uitmond, afvalstowwe
wat van nywerhede en stede langs die kus afkomstig is, afval van skepe en giftige stowwe in die lug wat in
die water oplos. Daar is 'n wanopvatting dat die groot watermassa van oseane die besoedelingsprobleem
self kan oplos. Seebesoedeling het egter al sulke ernstige afmetings aangeneem dat die gevolge daarvan nie
langer onderskat kan word nie.

Besoedeling deur afvalwater

In die algemeen skep huishoudelike afvalwater geen probleem vir die oseane nie, maar ten opsigte van
kuswaters, riviermondings en baaie skep dit wel 'n probleem. Bakterieë en virusse wat siektes veroorsaak,
is in ongesuiwerde rioolwater aanwesig. Dit is baie gevaarlik om rou skulpdiere uit besoedelde seewater te
eet omdat skulpdiere bakterieë saam met water inneem en dit in hul weefsels behou.

Oesters moet byvoorbeeld gedurig gekontroleer word. Nitrate en fosfate wat nie vooraf uit huishoudelike
en nywerheidsafvalwater verwyder word nie, het ʼn ernstige uitwerking op die gehalte van seewater.
Ongeveer 50 000 ton fosfor beland jaarliks in die Noordsee. Die oormaat plantvoedingstowwe kan 'n
oordadige groei van alge meebring en uiteindelik veroorsaak dat die suurstofkonsentrasie daal, wat die
eutrofiseringsproses aan die gang sit.

Toksiese stowwe soos DDT en chemiese stowwe (swaar metale, sure en gasse) word via grondwater of
afvalwater na die see gevoer. DDT word nog steeds in plankton in die oseane en in die weefsel van robbe
en pikkewyne uit die poolstreke gevind. Wetenskaplikes glo dat twee derdes van die ongeveer 1,5 miljoen
ton DDT wat vervaardig is voordat die gebruik daarvan beperk is, steeds in afsaksels op die seebodem
voorkom.

Seebesoedeling via die lug

Tot in die sewentigerjare is geglo dat slegs radioaktiewe afval van kernproewe die see via die dampkring
besoedel. Dit blyk egter dat ander stowwe ook op die manier in die water val. Ongeveer 350 000 ton lood
(hoofsaaklik afkomstig van uitlaatpypgasse van motors) beland jaarliks in die see.

Ongeveer 100 000 ton kwik word ook na die see gevoer: Water wat met kwik besoedel is, kan dodelike
gevolge hê, soos die talle sterftes van mense in Minamatabaai getuig: 'n Chemiese nywerheid in Minamata
het onder meer van kwikverbindings gebruik gemaak en die afval in die baai laat vloei. Die uitwerking
daarvan het in 1950 duidelik geword toe dooie visse in die baai begin uitspoel het. Twee jaar later het katte
begin doodgaan en teen 1953 het die inwoners simptome van verlamming, blindheid en breinbeskadiging
begin toon.

Teen 1976 is 120 inwoners aan kwikvergiftiging dood, 800 het breinskade opgedoen en teen 1978 is
altesaam 1 500 vir kwikvergiftiging behandel. Die nywerheid se jarelange weiering om
verantwoordelikheid te erken en die besoedeling te staak, het die tragedie vererger.

Oliebesoedeling

Oliebesoedeling is 'n toenemende verskynsel wat dwarsoor die wêreld kommer wek. Dit is nie net
afkomstig van raffinaderye aan die kus en olietenkskepe wat vergaan nie, maar ook van tenk en vragskepe
wat toevallig of moedswillig olie in die see laat loop wanneer die tenks skoongespoel word. Olieprodukte
word verdeel in ligte, middelswaar en swaar fraksies en ru-olie bestaan uit 'n mengsel van al drie. Die ligte
fraksies soos petrol en bensien is maklik brandbaar, relatief oplosbaar in water, verdamp vinnig en
veroorsaak nie langdurige waterbesoedeling nie.

Hierdie fraksies is nie skadelik vir die gesondheid nie, maar dit kan die smaak van vis bederf. Ongeveer 3,5
miljoen ton beland jaarliks in die oseane. Middelswaar fraksies soos stook en gasolie is moeilik brandbaar,
kan nie in water oplos nie en verdamp baie stadig. Dit bevat ook toksiese bestanddele en veroorsaak
ernstige en hardnekkige besoedeling. Swaar fraksies soos teer en bitumien is nie brandbaar nie,
onoplosbaar in water en vorm harde klonte wat jare later eers deur bakterieë afgebreek word.

Die harde teerklonte is nie alleen uiters lastig op strande nie, maar bevat skynbaar ook stowwe wat kanker
kan veroorsaak. 'n Oliekol op die see is nie soseer 'n bedreiging vir die waterlewe nie, maar dit hou gevare
in vir seevoëls omdat hulle vere met olie oortrek word. Die olie belemmer die vere se isoleringsvermoë en
die voëls verkluim of verhonger omdat hulle nie behoorlik kan vlieg of swem nie. Olie naby die kus kan
ook katastrofiese gevolge vir die visbedryf, oesterkwekery en ontspanning inhou. Suid-Afrika (met 'n
kuslyn van 2 954 km) lê op een van die wêreld se belangrikste olieroetes. Hoewel ongelukke selde
voorkom, is die gevaar van oliebesoedeling altyd daar. In Februarie 1968 het 400 ton olie van die Franse
tenkskip Sivella die Kaapse seewaters besoedel.

In April 1968 het die Duitse tenkskip Esso Essen 15 000 ton ru-olie wes van die Kaapse Skiereiland
uitgestort. Honderdduisende liters olie van die Wafra het in 1971 verwoesting onder seevoëls gesaai. Vale
met 'n spesiale skoonmaakmiddel is van die VSA af na Suid-Afrika gebring en baie voëls kon gered word.
Na die botsing tussen die Venpet en die Venoil in 1977 het olie die strande van Port Elizabeth tot by
Mosselbaai bedreig. Die voortbestaan van sekere pikkewynspesies word ernstig deur oliebesoedeling
bedreig.
In die Esso Essen-ramp is 14 000 tot 19 000 pikkewyne dood. Oliebesmeerde pikkewyne kan gered word
deur hulle een-een met spesiale spuitmiddels te behandel wat die olie op hul vlerke oplos. Gewoonlik duur
dit 3 tot 4 weke voordat hulle volkome herstel het. Die brilpikkewyn is besig om uit te sterf en duisende
duikers, seeganse en albatrosse is vanweë oliebesoedeling uitgewis Verskeie metodes is ontwikkel om
oliebesoedeling op die see te bestry, maar die meeste metodes kan net in kalm waters toegepas word.

Drywende sperbome is nie altyd doeltreffend nie omdat die water en olie dikwels verby die sperbome dryf.
Chemiese middels help as dit binne 24 uur op die olie gespuit word. Dit kan egter meer skade as olie aan
see-organismes berokken, soos bevind is met die stranding van die Torrey Canyon in 1967 in die Engelse
Kanaal. Die Franse het 'n waterkering ontwerp wat uit versterkte touweefsel van 23 000 m bestaan en
gemobiliseer kan word in noodgevalle. Voorkomende maatreëls is uiters noodsaaklik. Suid-Afrika beskik
oor sleepbote soos die Wolraad Woltemade om tenkskepe wat in moeilikheid verkeer, op sleeptou te neem.
'n Waarskuwingstelsel is by alle hawens ingestel en kuswagskepe word gebruik om olielekkasies op te
spoor.

Maatreëls teen seebesoedeling

Nasionale maatreëls ter beskerming van kuswaters is dikwels doeltreffend. Teen 1957 het alle fauna en
flora in die mondingsgebied van die Teems feitlik uitgesterf. Na 12 jaar van biologiese en chemiese
suiwering van huishoudelike en nywerheidsafvalwater is daar nou weer 50 soorte organismes in die water
aanwesig. Internasionale maatreëls is onvoldoende en moeilik om af te dwing. Volgens die Verdrag van
Oslo (1972) is die storting van ru-olie, stookolie, swaar dieselolie, kwik, kadmium en radioaktiewe stowwe
verbode.

Stowwe soos lood, koper en sink mag egter in beperkte konsentrasies en in bepaalde gebiede gestort word.
Onwettige storting kom dikwels voor omdat kontrole nie streng genoeg toegepas (kan) word nie. Streng
internasionale maatreëls om die see van algehele besoedeling te vrywaar, het noodsaaklik geword, want
onherstelbare skade word nog steeds berokken.

Biologiese gevolge

Wanneer die water die sentrale verlaat, is die temperatuur 5 tot 10 °C hoër as die van die water waarin dit
afgevoer word. Prosesse soos asemhaling, fotosintese, ensovoorts, is temperatuursensitief en sodra die
temperatuur te hoog is, word hierdie prosesse ontwrig, wat die uiteindelike sterfte van organismes kan
beteken. Dit is moeilik om die optimale temperatuur (voorkeurtemperatuur) van die meeste
waterbewegende waterorganismes definitief te bepaal, want baie kan hulle by temperatuurskommelings
aanpas.

'n Skielike styging (byvoorbeeld 1 °C per uur) is baie skadeliker as ʼn geleidelike styging van byvoorbeeld
1 °C per dag. Verskille in watertemperatuur, of die minimum temperatuur, beïnvloed die paar- en
trekgewoontes van 'n groot aantal waterdiere. In die winter, wanneer die aanvraag na elektrisiteit hoër is as
in die somer, word meer koelwater afgevoer en dit kan veroorsaak dat die natuurlike seisoenverskille ten
opsigte van die watertemperatuur kleiner word en selfs kan verdwyn.

Aan die een kant word die voortplanting en voortbestaan van ʼn aantal soorte bedreig, en aan die ander kant
bied die hoër watertemperatuur nuwe leefgebiede vir ander soorte. So word die tropiese guppie (Poecilia
reticulata), wat voortplant in water met 'n temperatuur van ongeveer 28 °C, deesdae op baie plekke
aangetref. Die toename in die getalle van 'n subtropiese of tropiese diersoort gaan meestal gepaard met die
verdwyning van ʼn groot deel van die inheemse fauna.
Deur die verwarming van die water neem die suurstofgehalte af, wat die lewensomstandighede van die
diere nog verder benadeel. Ondersoeke na visse, week- en skaaldiere het aan die lig gebring dat hulle reeds
nadelig geraak word nog voordat 'n temperatuur van 30 °C bereik is. Uit 'n biologiese oogpunt sou ʼn
temperatuurgrens van maksimum 21 °C wenslik wees en dit beteken onder meer dat 'n ander vorm van
verkoeling by kragsentrales gedurende die somermaande, wanneer die temperatuur van die
oppervlaktewater aan hierdie kritieke grens raak of dit oorskry, gevind sal moet word. Daar bestaan die
moontlikheid van lugverkoeling, of om die lou afvalwater na landbougrond weg te voer waar gewasse wat
in hierdie toestande sou aard, verbou kan word.

Groot omgewingsprobleem
Dit is hoofsaaklik die mens en sy lewenswyse wat vir
waterbesoedeling verantwoordelik is: stowwe soos gevaarlike
afvalstowwe, metale, mense- en diere-afval, verf en chemikalieë en
selfs olie word deurlopend in riviere en ander waterbronne gestort.
Natuurrampe is soms ook vir besoedeling verantwoordelik,
byvoorbeeld aktiewe kraters wat as in die lug vrystel en daarna in
water opgeneem word, maar dis eerder die uitsondering. 'n Rivier wat met yster besoedel is,
het 'n onnatuurlike rooi skynsel.
Waterbesoedeling word gevolglik een van die wêreld se ergste
omgewingsprobleme geag – nie alleen wat riviere, damme en
oseane betref nie, maar ook grondwater. Vandaar die druk op veral nywerhede om verantwoordelik van
afval ontslae te raak en landbouers en selfs stadsrade om nie plaagdoders en kunsmis onnodig in water-
afloop en spoelriolering en uiteindelik ook in grondwater te laat beland nie.

Dit is ook misleidend dat besoedelde water nie op die oog af vuil hoef te wees nie. Helder water kan soms
bakterieë en virusse, chemikalieë en ander stowwe bevat wat tot siekte of selfs sterftes van mense en diere
kan lei.

Watergedraagde siektes weens swak watervoorsiening is veral in onontwikkelde gebiede ’n ernstige


probleem. Volgens statistieke (Websters, p. 1 183) word sowat 80% van alle siekte in dié gebiede deur
water oorgedra, met diarree die grootste oorsaak van veral kindersterftes. Malaria, wat meegebring word
deur muskiete wat in stilstaande water uitbroei, raak jaarliks ’n ontstellende 400 miljoen mense en
veroorsaak 5 miljoen se dood.

In nywerheidslande is die groot probleem water wat deur nywerheidsafval en selfs radio-aktiewe afval
besoedel is. Dit veroorsaak minstens hoofpyn of maagongesteldhede maar verskillende kankersoorte word
ook daaraan verbind. Besoedelde water is dus vandag ’n wêreldwye probleem.

Waterbesoedeling is uiteraard nie ’n moderne probleem nie: oor die eeue het cholera-epidemies en ook tifus
en disenterie (ontsteking van die ingewande) weens besmette water voorgekom.

Ewewig versteur
Die feit dat alle water wat in die natuur voorkom sowel organiese as anorganiese stowwe bevat, moet in
gedagte gehou word: dié stowwe kom in ’n kragtige ewewig voor te danke aan ’n ingewikkelde reeks
selfsuiweringsprosesse. Aërobiese bakterieë breek byvoorbeeld onsuiwerhede van natuurlike oorsprong
doeltreffend af.
Indien dié ewewig deur besoedelende stowwe versteur word – byvoorbeeld anorganiese soute en sure – sal
die water nie sonder skadelike gevolge gebruik kan word nie. Dit kan onder meer die dood van visse,
waterdiere en -plante en selfs voëls en ander diere veroorsaak.

Organiese besoedelende stowwe kan van biologiese en chemiese


oorsprong wees. Biologiese besoedeling is die gevolg van water
wat met mense en diere se uitwerpsels besmet word. Chemiese
besoedeling ontstaan wanneer onder meer olie en
landbouchemikalieë die ewewig versteur. Sekere gifstowwe,
insluitend DDT wat streng beheer word, is selfs al baie ver van die
bron van besmetting gevind. ’n Geval van visweefsel wat DDT
bevat is al by Ross-eiland by die Noordpool gevind.
Waterbesoedeling kan vissterftes
Anorganiese waterbesoedeling, onder meer deur ione, soute en sure veroorsaak.
van swaarmetale, kan tot vergiftiging en eutrofisering (oormaat
fosfaat en stikstof) van water lei. Nywerheidsafval soos kwik, lood
en sianied, landbou-afval (soos geloogde kunsmis) en huishoudelike afval (soos wasmiddels en fosfate) is
die sondaars.

Oorsake
Van die oorsake van waterbesoedeling sluit in:

Huishoudelike afval (waspoeier, seep en chemikalieë).


Fabrieke wat sure en olies in riviere en damme stort.
Afval van myne.
Kragsentrales.
Fossielbrandstowwe van motors (veroorsaak suurreën wat dan in ons waterbronne spoel).
Rioolvuil (mos groei baie goed daarin. Dit versmoor visse, gebruik te veel suurstof, vat
sonlig van waterplante weg so dit kan nie fotosinteer nie so dus het die waterdiertjies nie
meer kos nie).
Plaagdoders (maak water suur).
Olie van skepe en raffinaderye.
Rommelstorting (soos plastieksakke, hoofsaaklik van bote se afval maar 'n groot
hoeveelheid kom van die land).
Visvangnette wat verlore raak in die see (diere word verstrengel daarin en versmoor dan,
dier hou eers op om daarin te versmoor sodra te veel dooie diere daarin verstrengel is sodat
dit uiteindelik bodem toe sink).
Soos reeds gemeld, kan besoedeling ook deur natuurrampe meegebring word.
Vulkaanuitbarstings stel byvoorbeeld baie as in die lug vry en gedeeltes kan ook in damme,
riviere en die see beland.

Suurreën
Een van die besoedelaars waarvan nie altyd kennis geneem word nie, is suurreën – reën wat sure soos
swael en die sterk oksideermiddel salpetersuur bevat en die gevolg is van gasse soos stikstof en swael wat
met suurstof, waterdamp en sonlig verbind.
Steenkool wat brand veroorsaak die gasse koolstofdioksied en
swaeloksied, wat in die atmosfeer vrygestel word. Wanneer
swaeldioksied en water byvoorbeeld verbind, ontstaan suurreën. Dit
kan selfs die steenwerk van geboue beskadig en bome se groei
benadeel. Uitlaatgasse van voertuie veroorsaak ook suurreën.

Suurreën versteur die chemiese ewewig in damme en mere en


veroorsaak suurstoftekorte in die water, wat visse en plante laat
vrek. Selfs grondwater kan daardeur benadeel word en dit tas glo
ook mense se asemhalingstelsel aan, met asma en bronchitis die Suurreën, een van die
gevolge. In noordelike lande soos Swede, Denemarke en Noorweë waterbesoedelaars, kan selfs skade
is sowat 80% van die vis in mere reeds uitgewis. aan bome veroorsaak, soos dié bos
in die Noordelike Halfrond.
Landbouchemikalieë
Die besoedelende uitwerking van landbouchemikalieë op water is ook al heelwat nagevors. Volgens ’n
onlangse navorsingsverslag van Suid-Afrika se Waternavorsingsraad het landboubedrywighede die
potensiaal om ’n verskeidenheid gevaarlike chemikalieë in die land se waterbronne te besorg.

Kommer is in die verslag uitgespreek oor die moontlikheid dat verskeie plaagdoders wat op plase gebruik
word om gewasse te bespuit en dieresiektes te beheer, in riviere en damme kan beland. Deur van die water
te drink (mens en dier) of selfs daarmee in aanraking te kom deur watersport, kan dit endokriene
versteurings in mense veroorsaak.

Riglyne deur die betrokke besluitnemers oor die veilige gebruik van landbouchemikalieë in die bestuur van
waterhulpbronne sal uiteindelik noodsaaklik wees, is die gevolgtrekking van die navorsing.

Indringerplante
Indringerplante – plante wat floreer in gebiede waarin hulle nie voorheen natuurlik gegroei het nie – kan in
twee opsigte Suid-Afrika se waterbronne benadeel: Eerstens onderdruk hulle inheemse plante omdat daar
minder natuurlike plae is wat hul groei belemmer, gebruik hulle meer water en kan die afloop na riviere en
damme belemmer. Volgens statistieke van die Departement van Water en Sanitasie is indringerplante
daarvoor verantwoordelik dat die jaarlikse invloei na damme met 695 miljoen kubieke meter verminder
word (2013-syfers).

Tweedens kan hulle vir besoedeling en die benadeling van ander waterplante se groei, suurstof en selfs
vissterftes sorg, wat die besoedelingsprobleem vererger.

Waterhiasinte, tropiese waterplante van die spesie Eichhornia crassipes (afkomstig van Suid-Amerika en
reeds ’n probleem in meer as 50 lande), is een van die grootste nagmerries vir plaaslike
omgewingsbewaarders. In een seisoen kan so min soos 25 plante vir 2 miljoen nuwe plante sorg. Dit
veroorsaak nie alleen suurstoftekorte in damme en riviere nie, maar dreineer die water van voedingstowwe
vir ander plante en visse en blokkeer die sonlig. Vis- en plantsterftes kan die besoedelingsprobleem
aansienlik vergroot.

Hittebesoedeling
Hittebesoedeling (of termiese besoedeling) is ’n vorm van waterbesoedeling wat nie altyd in dieselfde asem
as ander vorme van besoedeling genoem word nie, maar steeds wye gevolge het. Dit is vrygestelde hitte
waarvan ontslae geraak moet word by onder meer fabrieksprosesse en die opwekking van krag.
Die biologiese gevolge van dié warm water, wat gemiddeld 5°C-10°C warmer is as die water waarin dit
afgevoer word, is dat dit ’n uitwerking het op prosesse wat sensitief is vir temperatuur, insluitend
fotosintese, en dat dit tot die dood van waterorganismes en –diere kan lei. Die warmer watertemperatuur lei
terselfdertyd tot nuwe leefgebiede vir ongewenste spesies, wat in die warmer water floreer ten koste van
inheemse fauna en flora.

Gevare
Die gevare van waterbesoedeling sluit in:

Bevat giftige chemikalieë soos kwik, lood, koper, sink en arseen. Metaalione word onder
meer opgeneem deur skulpdiere soos mossels, wat vergiftiging by mense kan meebring wat
dit eet. Mense is al dood weens kwikvergiftiging. Die daaglikse storting van kwikverbindings
(tot 275 kg is aan die orde van die dag) deur die Ryn in die Noordsee word as een van die
oorsake van sterftes onder seediere genoem.
Rioolafvoer bevat patogeniese organismes (byvoorbeeld Escherichia coli) en swaarmetale
soos koper, kadmium en lood. Dit kan selfs in die grond opbou en uiteindelik neerslag vind
in grondwater. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en Voedsel- en Landbou-
organisasie (VLO) het al gesamentlike riglyne neergelê oor gesondheidsrisiko’s vir mense
en diere weens plante wat aan te veel swaarmetale in water blootgestel is.
Noodsaaklike water-organismes gaan dood weens besoedeling, suurstoftekorte en
voedingsgebrek.
Die soutinhoud van oppervlakwater neem soveel toe dat dit probleme skep wat die
voorsiening van drinkwater aangaan. Dit benadeel ook die produksie van landbougewasse.
Robbe en seevoëls gaan dood van olie op hul lywe. Oliebesoedeling is een van die
groeiende probleme: dit is nie net afkomstig van olietenkskepe wat beskadig word of
vergaan nie, maar ook van raffinaderye in kusgebiede. Vragskepe en olietenkskepe wat olie
in die see verloor of selfs bepland olie in die see inspoel, is grootliks daarvoor
verantwoordelik. Statistieke dui op sowat 3,5 miljoen ton olie wat jaarliks in die oseane
beland en die seelewe benadeel, vis se smaak bederf en selfs tot die uitwissing van spesies
kan lei, byvoorbeeld die brilpikkewyn, albatrosse en seeganse.

Voorkoming
Om waterbesoedeling te voorkom, moet die volgende gedoen word:

Owerhede moet strenger wette uitoefen op waterbesoedelaars.


Ons kan self eerder skadelike stowwe in houers gooi en in vullis sit as wat ons dit met die
rioolpype afstuur.
Meld fabrieke wat besoedel aan.
Die doeltreffende behandeling van rioolafloop. Primêre
behandeling verwyder die meeste swaarmetale, terwyl
sekondêre behandeling van opgeloste organiese
materiaal ontslae raak. Van die wêreld se
rioolbehandelingsaanlegte kan tot 95% ongewenste
afval verwyder. 'n Doeltreffende suiweringsaanleg
Laat dit vir jou 'n eer wees om nooit te besoedel nie. kan tot 95% ongewenste afval
verwyder.
Maak soveel mense moontlik bewus van die probleem.

Bronne
Backeberg, Gerhard. Impact of agricultural chemicals on water resources. Artikel in Agri,
Desember 2015/Januarie 2016
England, Nick. Physics Matters. Hodder & Stoughton. 1989. ISBN 0-340-63935-0
Gesondheid en water [Besoedeling].  In: Lantern. Tydskrif vir Kennis en Kultuur. Jaargang
19, nr. 3, Maart 1970
Preston, IR, Le Maitre, DC, Blignaut, JN, Louw, L & Palmer, CG. Impact of invasive alien
plants on water provision in selected catchments. Navorsingsartikel in Water SA, Oktober
2018. ISSN 1816-7950
Mbangi, A, Muchaonyerwa, P & Zengeni, R. Accumulation of multiple heavy metals in plants
grown on soil treated with sewage sludge for more than 50 years presents health risks and
an opportunity for phyto-remediation. Navorsingsartikel in Water SA, Oktober 2018. ISSN
1816-7950
Paneel redakteurs. New Standard Encyclopedia Vol 19. Ferguson Publishing Company.
1999. ISBN 0-87392-103-8
Paneel redakteurs. The World Book Encyclopedia 21. World Book. 2009. ISBN 978-0-7166-
0110-4
Paneel redakteurs. Webster’s New World Encyclopedia. Prentice Hall.1992. ISBN 0-13-
947482-X
Paneel redakteurs. Wêreldspektrum. Ensiklopedie Afrikana. 1983. ISBN 0908409 70 2
Uys, Isabel. Feitegids. ’n Kernensiklopedie. Pharos. 2007. ISBN 978-1-86890-065-7.
Wêreldspektrum, 1982, ISBN 0908409702, volume 29, 67 - 75

Sien ook
Oseaanbesoedeling

Eksterne skakels

Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Waterbesoedeling.

Wikiwoordeboek het 'n inskrywing vir waterbesoedeling.

BNF: cb11931914w (https://catalogue.bnf.fr/ark:/12148/cb11931914w) (data) (https://d


ata.bnf.fr/ark:/12148/cb11931914w) · GND: 4189299-9 (https://d-nb.info/gnd/4189299-
9) · LCCN: sh85145467 (https://id.loc.gov/authorities/subjects/sh85145467) · LNB:
Normdata 000055852 (https://kopkatalogs.lv/F?func=direct&local_base=lnc10&doc_number=000
055852&P_CON_LNG=ENG) · NARA: 10641056 (https://catalog.archives.gov/id/10641
056) · NKC: ph135444 (https://aleph.nkp.cz/F/?func=find-c&local_base=aut&ccl_term=i
ca=ph135444&CON_LNG=ENG)

Ontsluit van "https://af.wikipedia.org/w/index.php?title=Waterbesoedeling&oldid=2594815"

You might also like