Download as docx, pdf, or txt
Download as docx, pdf, or txt
You are on page 1of 3

Tema: Kantlyn

Onderwerp: Die kantlyn-perk maak die Suid-Afrikaanse samelewing sterk

Die lewe is hard. En moeilik. ‘n Ewige geveg tussen reg en verkeerd, goed en sleg,
waarheid en leuen … die Bulle en die Stormers… Letters en syfers... “Konstrueer
kantlyn AB sodat dit lyn CD kruis teen ‘n hoek van 45 grade en ewewydig is aan
EF!” My analitiese brein het reeds by kantlyn die knie gebuig voor die kreatiewe
beelde van die brokaat kantlyn op ‘n aandrok of die vinnige vleuel wat die bal by
die rugbyveld se kantlyn uitskop…
Maar, V, D & H,
die gemene deler van die analities-wiskundige en rugbyveld se kantlyn, LYN,
vervat so duidelik soos daglig die begrip PERK. Die Verklarende
Handwoordeboek van die Afrikaanse taal verklaar dit as: GRENS – gebied
waarbinne iemand behoort te bly.
En dit is presies wat ek vandag wil argumenteer: Die perke wat kantlyne stel, is
broodnodig vir die Suid-Afrikaanse samelewing.

Die eerste nodige kantlyn wat ons oordadige samelewing beslis baat, is die fisiese
kantlyn rondom ‘n rugbyveld. My mond het oopgehang by die aanskoue van ouers
se intense betrokkenheid by ‘n vriendskaplike rugbywedstryd wat ek as standard 6
snuiter vrywillig verpligtend by ons broers oorkant die pad moes bywoon.
Passievolle pa’s dink hulle is self op die veld of dalk tot hulp-afrigter bevorder.
Mammas se stemme klief teen ‘n amper bewonderingswaardige oktaaf deur die lug
en trek selfs verder as ons destydse kaalvoetvroue oor die Drakensberge! Die
opposisie word met die hof gedreig en terwyl sy so draf-stap langs die kantlyn,
struikel-val sy oor iemand se blou toksak en verloor nét daar haar sonbril en
integriteit. Was dit nie vir daárdie paar sentimeter wit kalk van die kantlyn nie, sou
die hele rugbyspan, afrigters en die skeidsregter permanente skadevergoeding
moes ontvang.
Assistant Redakteur Anja Van der Merwe van Maroela media berig op 9 Junie
2023 op die instansie se tuisblad hoe die vuiste geklap het in ‘n onlangse wedstryd
tussen twee Gautengse skole nadat ouers oor die afbakening gespring, die
skeidsregter en lynregter gevloek en fisiek aangerand het. Na afloop van die
wedstryd het spelers mekaar ook bygedam en ouers het verder toegetree en selfs
spelers aangerand.
Hoe kan ‘n volwasse persoon so meegevoer raak dat ‘n kind aangerand word? Die
rugbyveld se kalkstreep moet maar breed gegooi word vir ons Suid-Afrikaanse
samelewing! Respekteer die kantlyn en behou jou waardigheid!

Ek beweeg aan. 29 Mei, 2024 is om die draai. Nee, dis ongelukkig nie nóg ‘n
vakansiedag opsy gesit vir ‘n bring-en-braai wat ons reeds sukkelende ekonomie
nog bietjie verder oor die afgrond help nie, maar dis Algemene Verkiesing. Die
kantlyn in my tweede argument is een waarop té veel Suid-Afrikaners stagneer
as stemtyd aanbreek. Die sombere toestand waarin ons land tans verkeer is aan
almal welbekend. Ons skud daagliks ons koppe vir die korrupte politici wat met
ons toekoms dobbel, maar breek stemdag aan, sak ons passief op die kantlyn neer
met gevoude arms en geligte wenkbroue. Ons kruip weg agter flou verskonings
soos: “Dit help in elkgeval nie om te gaan stem nie, die uitkoms gaan tóg dieselfde
bly” of “dis ‘n groot klugspel”. Te min kruisies word getrek en te veel vingers
word gewys.
Politieke joernalis Tania Venter versterk op 2 April 2023 my argument met die
publikasie van ‘n artikel op maroelamedia se webblad getiteld: “Stem, stem, stem
pleit Veelpartyhandves by land se jonges”. Sy bestempel mense wat op die kantlyn
staan en kritiseer maar nie stem nie, as ongeloofwaardig en bevraagteken hul
integriteit.
Ja! Kritiserende kantlyn-sittende, stem-ontduikers hoort reg langs die struikelende
ma en blou toksak. Stagneer jy op die kantlyn meneer? Ek stel voor dat jy die wit
kalk van jou boude afskud af en help veg vir ‘n beter Suid-Afrika.

Laastens: Reëls word met rede gemaak, maar die Suid-Afrikaanse samelewing
reageer deur dit met die grootste kreatiwiteit te omseil.
Pa haal ‘n omkoopgeldjie uit as hy afgetrek word vir spoed of as hy skrikkerig is
om in die pypie te blaas! Sy voorbeeld moedig my weer aan om sonder ‘n oogknip
stokkies te draai om my oormatige eetlus vir ‘n Netflix-reeks by Emma se huis te
gaan bevredig. Dis mos nie die einde van die wêreld nie! Of so vertel ons
onsself... Die spulletjie blaas toe redelik in my gesig op toe ek uitgevang word en
vergruis my reeds beperkte sosiale media-tyd en voorregte tot op die been.
Op 25 Maart vanjaar maan praktiserende maatskaplike werker en
motiveringspreker, Chrisna Roos op die webblad voelgoed.co.za ouers om nie
die waarde van hul eie voorbeeld te onderskat nie. Dade spreek harder as woorde!
Maar nee! Suid-Afrikaners maak ‘n bespotting van reëls en die reg. Wat gaan hul
kinders verhoed om presies dieselfde op te tree as hulle volwasse is?
Om die kantlyn te ignoreer, is nie die beste besluit nie – of so het ek op die harde
manier geleer. Daardie lyn is met ‘n rede en tot jou voordeel daar getrek.

V, D & H
Dat kantlyne in Suid-Afrika broodnodig is, het duidelik geblyk.
 Respekteer die fisiese kantlyn om die rugbyveld;
 Moenie op stemdag op die kantlyn stagneer nie; en
 Moenie die kantlyn sonder meer ignoreer nie!
Mis die blou toksak en behou jou integriteit en sonbril en onthou: die kantlyn-perk
maak ons samewing sterk!

You might also like