LOK 2023 - Gedigte - Graad 12 HT

You might also like

Download as pdf or txt
Download as pdf or txt
You are on page 1of 25

Gedigte vir graad 12

Huistaal, 2023
Prof. Andries Visagie
Departement Afrikaans en Nederlands
Universiteit Stellenbosch
agvisagie@sun.ac.za
Struktuur en inhoud van hierdie lesing
1. Agtergrond oor N.P. van Wyk Louw as digter
2. Bespreking van “Suiwer wiskunde”
3. Agtergrond oor die digter Lina Spies
4. Bespreking van “ʼn Paternoster vir Suid-Afrika”
1. Agtergrond oor N.P. van Wyk Louw (1906 – 1970)
Agtergrond
• Louw is gebore en getoë in Sutherland en het aan die Universiteit van
Kaapstad gestudeer.
• Hy werk as literator in Afrikaans by onder meer die Universiteit van
Amsterdam en die Universiteit van die Witwatersrand.
• Hy word die belangrikste woordvoerder van die Dertigers in Afrikaans en
publiseer benewens poësie ook essays en dramas.
• As Dertiger publiseer hy aanvanklik hoofsaaklik belydenispoësie, maar
verkies in sy later werk die gestaltevers wat minder ek-gerig is.
• Louw se gedigte getuig van groot ambagtelikheid en met sy nougesette
aandag aan vorm én inhoud laat hy niks aan die toeval oor nie.
2. Bespreking van “Suiwer wiskunde”
Suiwer wiskunde

Die uurwerk kantel. En die ligbruin by


hang roerloos voor die blom wat nooit bevrug
word, nooit sal saadskiet, welk, en nooit verby
hierdie verstarde uur sal groei. Die lug

het stil soos ys gaan staan, so wit en blou.


Die brander wat wou oorbuig, val, en skuim,
bly in sy ligte sirkels vasgehou
en moet sy see 'n ewigheid versuim.

N.P. van Wyk Louw, Nuwe verse (1954)


Die titel
• Die titel van die gedig kan verstaan word as ʼn
afwysende of relativerende opmerking, iets in die
trant van byvoorbeeld “Dis sommer suiwer
versinsel” of, meer ter sake, “Dis suiwer abstrakte
wiskunde en het geen basis in die geleefde
werklikheid nie”. Dit mag dus wees dat die titel
ironies bedoel is.
• Die spreker dui met die titel aan dat die situasie
wat in die gedig uitgebeeld word, ʼn teoretiese
dinkeksperiment is.
• In die wiskunde, die fisika en die
kwantummeganika word daar inderdaad
geteoretiseer oor tyd en daar is erkenning vir die
ontglippende aard / relatiwiteit van tyd.
• Illustrasie: https://stock.adobe.com/search?k=Intersection+diagram&search_type=usertyped
Die titel
• Nog ʼn element wat relevant mag wees vir
die gedig is die wiskundige konsep van
vereniging, byvoorbeeld die saambring van
twee versamelings. Dink hier aan ʼn Venn-
diagram van twee versamelings as sirkels
wat mekaar kruis.
• Dit mag moontlik wees om die titel verder
te verstaan as ʼn uitnodiging om die
verstegniese elemente in die gedig ook te
versyfer en as ’t ware wiskundig te ontleed
(aantal lettergrepe per reël, aantal
versreëls per strofe, aantal strofes, aantal
rymklanke, aantal versvoete ens.)
• Illustrasie: https://stock.adobe.com/search?k=Intersection+diagram&search_type=usertyped
Die aard van die dinkeksperiment
• Definisie van ʼn dinkeksperiment: ʼn hipotetiese situasie waarin ʼn
hipotese, ʼn teorie of ʼn beginsel as vertrekpunt gebruik word met die
doel om dit uit te pluis en om die volle konsekwensies daarvan te
deurdink.
• In “Suiwer wiskunde” is die hipotetiese situasie die stolling van die
tyd: Wat sou dit kon meebring? Hoe sou dit kon lyk?
• Indien die tyd, voorgestel deur die uurwerk (= ʼn horlosie, spesifiek ʼn
staanhorlosie wat kan omval of kantel), tot stilstand sou kom of
gewoon sou ophou, sal alle beweging gestaak word.
Simmetrie in die twee kwatryne
• In albei kwatryne is daar vergelykbare voorbeelde van die wil tot
samekoms / ontmoeting / eenwording / vereniging wat verydel word deur
die opheffing van die tyd. Met hierdie insig kan ʼn mens die wiskundige
konsep van vereniging dus betrek.
• Strofe 1: Die by bereik nie die blom wat hy sal bestuif nie en daarmee word
die proses van seksuele voortplanting en verdere groei summier opgeskort.
• Strofe 2: Die brander (manlike in die simboliek) wat wil oorbuig en val om
weer by “sy see” (vroulik in die simboliek) aan te sluit, word in sy sirkels
(die omkrullende skuimkoppe van die branders) verstar. Personifikasie: die
brander “versuim” sy see.
➢ ʼn Verstarde soort eensaamheid omdat vereniging gefnuik word, is die
gevolg van die opheffing van tyd en beweging.
Verstegniese middele waarmee die
verstarring geïmpliseer word
• Daar is ʼn breuk (sesuur) in die heel eerste versreël wat met die punt
aangedui word. Die uurwerk kantel en onmiddellik daarna stol alle
beweging. Die oomblik van stilte wat die punt meebring, illustreer dus
ook die stilstand van die by voor die blom.
• Die enjambement tussen reël vier en reël vyf dwing ook ʼn pouse af
wat die verstarring van die lug illustreer: “Die lug // het stil soos ys
gaan staan”. Deurdat die verstilde lug met ys vergelyk word, verkry die
leser die indruk van ʼn starre kilheid wat die emosionaliteit van
verydelde vereniging verder beklemtoon.
• Louw kies drie voorbeelde, aarde, lug en see, om die volle omvang van die
opheffing van die tyd te verreken en te deurdink.
• Deurgaans is daar die (menslike) emosie van spyt en teleurstelling dat die
verskillende instansies nie hulle doelwitte kan bereik nie.
• Hierdie emosionaliteit gee te kenne dat menslike eenwording (met ʼn
liefdesmaat of selfs ʼn mistieke ontmoeting met die omgewing of met God)
ook op die spel is in die gedig.
• Suiwer wiskunde word meestal nie met emosies geassosieer nie, maar
Louw gaan ironies met sy titel om deurdat hy suggereer dat suiwer, nie-
emosionele wiskunde nie voldoende is om alles te interpreteer nie.
Gevoelens kom ook op die spel by vereniging en spesifiek die verydeling
van vereniging.
“Die groot
golf by
Kanagawa”

Katsushika
Hokusai
3. Agtergrond oor die digter Lina Spies

Bron: LitNet
Agtergrond
• Lina Spies is in 1939 in Harrismith in die Vrystaat gebore waar sy uiteindelik
ook matrikuleer.
• Sy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch onder D. J. Opperman wat
haar digterlike mentor word.
• Sy behaal ’n doktorsgraad in Amsterdam en word uiteindelik professor in
Afrikaans en Nederlands by US. Sy woon steeds in Stellenbosch.
• Sy debuteer in 1971 met Digby Vergenoeg waarin “ʼn Paternoster vir Suid-
Afrika verskyn.
• Behalwe vir haar gedigte oor katte is Spies bekend vir haar religieuse
poësie waarvan “ʼn Paternoster vir Suid-Afrika” ʼn vroeë voorbeeld is.
Bespreking van “ ʼn Paternoster vir Suid-Afrika”
'n Paternoster vir Suid-Afrika
Here, laat die name geheilig word
Maar die bale is lankal toegewerk en weggestuur,
van al die kinders van die land –
die wololie van my voete afgewas,
my bene nie meer lam getrap nie.
van hulle
wat modderkoekies gebak het uit sy aarde,
Vergewe ons, die vergeetagtiges, die uitgerustes,
dassies skrikgemaak het in sy klowe,
wol getrap het in sy krale. soos ons hulle vergewe, die luidrugtiges
wat nooit binne die kraal was nie,
wat nooit rietperd gery
Ek het asemloos toegekyk:
en kaalvoet geloop het nie,
swart bolywe geboë oor magtelose diere
en skerp skêre wat my laat wag het,
bang vir die glip slag, die bloed, die pyn. en Here, sien ons hande aan:
Maar die swart versigtige hande Kyk, om my wit pols is ʼn armband van gras;
het selde dieper as die wit geknip
my donker speelmaat het dit kunstig gevleg
en ek kon die lootjies uitdeel
soos ek nooit kon nie ...
want die arbeider was sy loon waardig
volgens die aantal wat hy vrygemaak het
om ligvoets teen die somerheuwels uit te wei.
Aan U behoort die land
en die son
en die skape van sy weiding

Gee ons liefdevolle hande, Heer,


en sny U self versigtig aan die belemmerende kleed
dat daar nie onnodig bloed verspil nie

en deel U self die lootjies uit


Titel van die gedig
• Die woord “Paternoster” verwys na die Latynse weergawe van die Onse Vader-gebed.
• Gedigte wat as gebede aangebied word, is heel algemeen in die poësie en het meestal die funksie
as ʼn soort wyding van iets of iemand aan God.
• Deurdat die Paternoster in die titel aan Suid-Afrika opgedra word, kan ʼn mens verwag dat daar
wysigings aan die tipiese formaat van die gebed aangebring sal word om dit toe te spits op die
konteks van Suid-Afrika.
• In die digkuns van Lina Spies is daar heelwat voorbeelde van gedigte wat as gebede aan mense
en selfs diere opgedra word.
• In die klaskamer kan leerlinge gevra word om verwysings na die Onse Vader-gebed uit te wys (bv.
die aanhef in die eerste reël, “Vergewe ons […] soos ons hulle vergewe”, “Aan u behoort die land /
en die son /en die skape van sy weiding”). Daar kan uitgewys word dat die verwysings op ʼn
volgehoue manier ingevoeg word sodat die leser enduit aan die gebedsaard van die gedig
herinner sal word.
• ʼn Ander bekende Christelike simbool wat sentraal
in die gedig voorkom, is die skape. Johannes 21:
15-19 – Jesus gee ʼn opdrag aan Petrus: ”Laat my
skape wei”. Jesus se volgelinge is sy kudde en hy is
hulle herder.
• Suid-Afrikaners van alle kleure, en spesifiek die
kinders, word in die gedig by implikasie as Jesus se
skape aan hom opgedra („Aan u behoort die land /
en die son / en die skape van sy weiding”).
Die skaapskeerdery: eenheid
teenoor verdeeldheid
In die lig van Suid-Afrika se sterk agrariese geskiedenis, is dit heel gepas dat
Lina Spies die toneel van die skaapskeerdery as die swaartepunt van haar
gedig kies.

Die fokus is op die betrokkenheid van die spreker as kind wat meegedoen het
aan die skaapskeerdery op ʼn plaas.

Hierdie gegewe word verder baie sintuiglik en konkreet (“skêre”, “wololie”,


“bale”, “bloed”, “lootjies”, die kleure“swart” teenoor “wit””) beskryf sodat die
leser suksesvol ingetrek word by die gedig as geheel.

Om die konkrete elemente in die gedig by die leerling in die klaskamer selfs
sterker tuis te bring, kan foto’s of video’s van skaapskeer vertoon word. Hulle
kan ook gevra word, wat ʼn mens onder “woltrap””,“wololie” en “lootjies” kan
verstaan.
Vanuit die konkrete beskrywing van skaapskeerdery word die leser gelei om
meer abstrakte afleidings te maak oor groter samelewingskwessies in Suid-
Afrika.
• In reël twee maak die spreker dit duidelik dat sy “al die kinders
van die land” (my kursivering) aan God wil opdra. Die volle
kollektiwiteit, die volle eenheid word in die oog gehou en deur
die loop van die gedig gereeld met die woord “ons” weer
opgeroep.
• Swart en wit mense is by die skaapskeerdery betrokke en werk as
ʼn span saam, maar daar is wel een element wat op die
onewewigtige magsverhouding tussen swart en wit dui: dit is die
jong (wit) kind wat toesig het oor die volwasse swart werkers se
loon: “en ek kon die lootjies uitdeel / want die arbeider was sy
loon waardig” (strofe 3).
• Die spreker is kennelik deel van die meer bevoorregte
boeregemeenskap en alhoewel sy ʼn “donker speelmaat” (strofe
5) het en deel van die werkspan is, behoort sy uiteindelik aan die
besittersklas.
• Daar is dus eenheid tussen wit en swart, maar terselfdertyd ook ʼn
skrynende verdeeldheid.
• Die spreker wys uit hoedat die swart
skaapskeerders vaardig met “versigtige
hande” die skêre hanteer en selde enige
van die skape raaksny.
• Hierteenoor is die spreker net vaardig
genoeg om wol te trap (en die lootjies
uit te deel).
• Haar “donker speelmaat” is ook die een
wat die kuns verstaan om armbande
van gras te vleg en boonop vir die
spreker ʼn armband skenk.
• Die leerlinge kan uitgedaag word om na
te dink oor ʼn moontlike (ironiese)
korrelasie in die gedig tussen die uitgee
van die lootjies en die gee van ʼn
armband.
• Die swart skaapskeerders het weliswaar “selde dieper
as die wit geknip” (strofe 3; my kursivering), maar daar
is tog die sluimerende moontlikheid van
bloedvergieting en pyn wat hulle sou kon toedien.
• Spies verwys klaarblyklik na die potensiaal van
rassegeweld soos tydens die Sharpeville-opstand in
1960 en die Soweto-opstande in 1976 (slegs vyf jaar ná
die publikasie van Digby Vergenoeg).
Die slotstrofes
• In die drie slotstrofes volg die spreker se versugting en bede vir die toekoms van
Suid-Afrika.
• Deurdat sy God as die enigste eienaar van die land beskou, relativeer sy die
baasskap en grondbesitterskap waaraan sy as wit kind deelagtig was.
• Sy vra God om “die belemmerende kleed” te sny, d.w.s. om die skeiding tussen
mense (weens onder meer die apartheidswette) ongedaan te maak.
• Hierdie deursny van die “belemmerende kleed” is gebiedend om bloedvergieting
te voorkom in die onderdrukking van die swart bevolking.
• Die spreker wil nie weer die een wees wat die lootjies uitdeel nie. Sy stel haar
hoop op God wat in sy wysheid die lootjies sal uitdeel in ʼn bestel wat deur groter
gelykheid gekenmerk sal word.
• Dit is goed moontlik om “ʼn Paternoster vir Suid-Afrika” saam met die jeugdige
Antjie Krog se opspraakwekkende gedig “My mooi land” (1970) te lees. Krog se
gedig begin met die volgende woorde: "Kyk, ek bou vir my 'n land / waar 'n vel
niks tel nie“.

You might also like