Download as pdf or txt
Download as pdf or txt
You are on page 1of 2

Repliek: Wêêêla-kapêêêla, julle kan nie spel nie

Sonja Loots
Taalversorgers is dikwels ongewild. Hulle versondig hul medemens met hul haarklowery,
regverdigheid en ’n oneindige geblaai in woordeboeke.
Die meer flambojante lede van
die joernalistieke wêreld – die
verslaggewers en rubriekskrywers
– raak geïrriteerd wanneer ’n
dodelike noukeurige subredakteur
fronsend, met ’n sug en
tongklikkend hul spel- en
taalfoute redigeer. Ook die
redigeerder kan kwalik sy irritasie
met die “lomphede” van die
joernalis wegsteek!
Daarom is dit maklik om dié
spesie te verwens en te misken. Tradisioneel verdien hulle vrot salarisse. Met herstrukturering
is hulle die eerstes wat aan die nekvel gegryp word en op straat uitgegooi word. Is dit omdat
die meeste lesers dit nie eens sal agterkom wanneer daar ’n fout ingesluip het nie? As jy hoor
hoe mense deesdae praat, dan wonder jy...
Subredakteurs bestaan egter sodat lesers deur tydskrifte en koerante kan blaai sonder om
die prooi van onsteltenis te raak. Hulle maak jag op spel- en taalfoute sodat lesers kan
ontspan in die geruste wete dat iemand hulle teen stomonnoselheid beskerm. As
subredakteurs hul werk gedoen het, kan ’n mens maar in die appel byt, daar sal geen wurms
in sit nie. As hulle nié hul werk doen nie, of as genoeg van hulle die pad vat en hul jare lange
ervaring saam met hulle, word lees ’n gesondheidsrisiko. Natuurlik slegs vir diegene wat op
foutlose taal ingestel is!
Soos toe Die Burger onlangs die musiekgroep DNA Strings se naam in ’n foto-onderskrif
na DNS Strings verander het. (Met sulke oorywerigheid moet ’n mens seker bly wees The
Beatles het nog nie Die Kewers geword nie.)
Of Weekliks se artikel vroeër vanjaar oor ene Freddy Mercury (dalk die rockster Freddie
Mercury se alter ego?)
Maar die heel ergste was die Afrikaanse Pendoring-advertensie in verlede week se Rapport
Weekliks. Pendoring is glo toegespits op die bevordering van voortreflike Afrikaanse
reklame. Wat ’n lofwaardige strewe.
Afrikaanssprekendes is verantwoordelik vir 28 persent van die land se algehele
huishoudelike besteding, maar maatskappye betaal dikwels advertensie-agentskappe om
advertensies in Engels te bedink – en dit dan as ’n nagedagte in Afrikaans te vertaal deur ’n
vertaler wat die taal nie ten volle magtig is nie.
Gewoonlik vertaal hulle dit uiters vrot. Absa se volkleur-advertensie oor sewe bladsye in
verlede week se Rapport Weekliks is ’n goeie voorbeeld. (Die begroting moes enorm gewees
het, maar daar was nie geld vir ’n goeie taalversorger nie.) Die advertensie het nie minder as
twéé foute in nie. Daar bestaan geen vraagwoord soos “Op wat” in goeie Afrikaans nie.
“Waarop” is die woord waarna die vertaler op soek was. Die Afrikaanse woord vir die
Engelse fees is ook nie “fooie” nie. Wyle Dalene Müller, een van die mees formidabele
Afrikaanse subredakteurs wat ooit hierdie aardbol bewandel het, sit dit klinkklaar uiteen in
Skryf Afrikaans van A-Z: Die Essensiële Gids vir Taalgebruikers. Die Afrikaans vir ‘fees’ is
geld(e). ’n Fooi(tjie) is ’n geskenk wat in geld aan bv. ’n kelner of ’n parkeeraanwyser gegee
word vir ’n gelewerde diens.
Wonderlik wat woordeboeke en taalhandleidings ’n mens alles kan leer. Eers moet ’n
mens hulle egter optel en raadpleeg.
Terug by die Pendoring-advertensie. Reusagtig groot staan dit daar, met ’n spelfout in,
want in Afrikaans koop ’n mens jou brood by ’n “bakkery”, nie bakery nie.
Onderaan die advertensie pryk die logo’s van die Pendoring-borge trots. ATKV, Beeld,
Die Burger, die Dagbreek Trust, KykNET, Media24, Rapport en Toyota. Al die stoerste
hoeders van ons mooi taal. Nou hoekom is daar dan ’n spelfout?
Pendorings, jul spelfoute is ’n doring in die vlees. Belê gerus in ’n speltoetser of
woordeboek, of stel ’n ervare subredakteur aan!
Aangepas uit: Die Burger (9 Julie 2017)

You might also like