Download as pdf or txt
Download as pdf or txt
You are on page 1of 6

Woordsoorte

'n Grondige kennis van woordsoorte is noodsaaklik om goed te kan spel en skryf. As jy
byvoorbeeld weet dat Afrikaans 'n eienaam (taalnaam) is, weet jy dat dit met 'n hoofletter geskryf
word (want eiename word met hoofletters geskryf). As jy weet dat verafrikaans 'n werkwoord is,
weet jy dat dit met 'n kleinletter geskryf word (want werkwoorde word met kleinletters geskryf).

Onderstaande oorsig oor woordsoorte poog om 'n paar duimsuigreëls te verskaf - sonder om
aanspraak op enige wetenskaplikheid te maak. Dit moet gesien word as basiese toetse wat
meestal geld om tussen die hoofkategorieë te onderskei.

Wenk: As jy 'n beslissing moet maak oor 'n woordsoort se kategorie, gebruik onderstaande toetse
altyd in die volgende volgorde:

1. Naamwoord
2. Werkwoord
3. Adjektief
4. Bywoord
5. Die res van die kategorieë

Naamwoord

Sinonieme: nomen (meervoud: nomina); selfstandige naamwoord


Afkorting: N (ook s.nw.)
Betekenis: Gewoonlik een of ander ding (al kan dit soms abstrak wees)
Toets(e): 1. Kan daar 'n die of 'n voor die woord staan?
2. Het die woord 'n meervoudsvorm?

Voorbeelde: • stoel > die stoel; stoele


• hondehok > 'n hondehok; hondehokke

Subkategorieë: • Soortnaam = konkrete dinge wat getel kan word (stoel; hondehok;
Suid-Afrikaner)
• Versamelnaam = beskryf 'n groep soortname
(skool visse; trop skape)
• Massanaam = goed wat eintlik nie getel kan word nie; neem meestal
nie meervoud nie (vleis; goud) (Party bronne onderskei tussen
massaname en stofname.)
• Maatnaam = beskryf 'n afgemete deel van 'n massanaam
(twee kilogram vleis; 'n sak goud)
• Abstrakte naamwoord = ontasbare dinge (liefde; godsdiens)
• Eienaam = spesifieke persone, plekke, organisasies, publikasies, ens.;
neem gewoonlik nie meervoud nie (persoonsnaam = Piet Botha;
pleknaam = Oranjerivier; organisasienaam = Microsoft;
publikasienaam = Die Burger)
Werkwoord

Sinonieme: verbum (meervoud: verba)


Afkorting: V (ook ww.)
Betekenis: Gewoonlik een of ander aksie of proses (al kan dit soms abstrak wees)
Toets(e): 1. Kan jy hy of sy voor die woord gebruik (m.a.w. kan iemand dit doen of
uitvoer)?
2. Het die woord 'n verledetydsvorm?

Voorbeelde: • speel > hy speel; het gespeel


• ruik > sy ruik; het geruik

Subkategorieë: • Oorganklike hoofwerkwoord = met 'n voorwerp in die sin


(hy eet pap; sy kweek groente)
• Onoorganklike hoofwerkwoord = sonder 'n voorwerp in die sin
(hy eet lekker; sy stap graag)
• Voorsetselwerkwoord = altyd saam met 'n voorsetsel (hy hou van
pap; sy beskik oor die vermoë om groente te kweek)
• Koppelwerkwoord = koppel die sintaktiese onderwerp aan 'n
eienskap (hy word 'n onderwyser; sy is skatryk) (is/was, word; lyk;
skyn; blyk; ens.)
• Hulpwerkwoord van tyd = het (hy het sy pap geëet; sy het groente
gekweek)
• Hulpwerkwoord van modaliteit = sal/wil (hy sal môre sy pap eet;
sy wil graag groente kweek)
• Skakelwerkwoord = skakel gewoonlik 'n hulpwerkwoord en
hoofwerkwoord aan mekaar (hy sal probeer om sy pap te eet; sy wou
hom help om groente te kweek)
• Omskrywingswerkwoorde = word/is in die passief (die
pap word/is deur hom geëet)
• Samekoppelings = skeibare
werkwoorde/deeltjiewerkwoorde/partikelwerkwoorde (hy eet sy
pap op - hy sal sy pap opeet)

Adjektief

Sinonieme: byvoeglike naamwoord


Afkorting: ADJ (ook b.nw.)
Betekenis: Beskryf 'n eienskap van 'n naamwoord
Toets(e): 1. Kan dit voor 'n naamwoord staan, asook ná die koppelwerkwoord en
steeds iets sê oor die naamwoord?
2. Het die woord trappe van vergelyking?

Voorbeelde: • kort > 'n kort rok - die rok is kort; kort - korter - kortste
• opgewonde > die opgewonde gehoor - die gehoor is
opgewonde; opgewonde - meer opgewonde - die mees opgewonde

Subkategorieë: • Attributief = staan saam met die naamwoord, meestal voor die
naamwoord ('n kort rok; die opgewonde gehoor)
• Predikatief = staan saam met (gewoonlik ná) die koppelwerkwoord
(die rok is kort; die gehoor is opgewonde)
Bywoord

Sinonieme: adverbium (meervoud: adverbia)


Afkorting: ADV (ook bw.)
Betekenis: Beskryf die werkwoord of 'n adjektief
Toets(e): 1. Beantwoord dit die vraag: "Hoe V/ADJ?"
2. (Sommiges kan trappe van vergelyking neem)

Voorbeelde: • vinnig > hy hardloop vinnig (Hoe hardloop hy? vinnig)


• besonder > sy is besonder mooi (Hoe mooi is sy? besonder)

Subkategorieë: Daar is baie verskillende soorte bywoorde, waaronder:

• bywoorde van tyd (môre; gister);


• bywoorde van plek (hier; daar);
• bywoorde van wyse (vinnig; trapsgewys);
• bywoorde van graad (besonder; baie; erg);
• bywoorde van rigting (boontoe; noord);
• bywoorde van maat (ver; baie);
• bywoorde van frekwensie (dikwels; gereeld);
• bywoorde van modaliteit (miskien; dalk);
• bywoorde van ontkenning (nie; nooit);
• bywoorde van skakeling (byvoorbeeld; te wete);
• ensovoorts.

LET OP! Bywoordelike bepalings (ook genoem adjunkte) tree gewoonlik aan die einde
van 'n sin in die volgorde tyd, wyse en plek op. Byvoorbeeld:

• Ek gaan volgende week per motor Kaapstad toe.

Voorsetsel

Sinonieme: Preposisie
Afkorting: PREP (ook vs. of voors.)
Betekenis: Dui die relatiewe posisie of verhouding tussen twee elemente aan
Toets(e): 1. Kan jy 'n lidwoord en naamwoord (byvoorbeeld 'n meubelstuk) ná die
woord gebruik?

Voorbeelde: • voor/agter/bo-op/onder/langs/binne-in/onderaan die bank


• onder > onder die trap
• in > in die kamer

Subkategorieë: Geen
Voornaamwoord

Sinonieme: pronomen (meervoud: pronomina)


Afkorting: PRON (ook vnw.)
Betekenis: Verskillende betekenisse en funksies, afhangende van die subkategorie
Toets(e): 1. Persoonlike voornaamwoord: Kan dit in die plek van 'n naam staan?
2. Besitlike voornaamwoord: Kan dit in die plek van "X se" staan?

Voorbeelde: • hy > hy speel = Piet speel


• haar > haar boek = Fatima se boek

Subkategorieë: • Persoonlike voornaamwoord = ek; jy; hy; sy; dit; ons; julle; hulle
• Besitlike voornaamwoord = my/myne; jou/joune; sy/syne;
haar/hare; ons; julle; hulle
• Aanwysende voornaamwoord = hierdie; daardie; dié
• Vraende voornaamwoord = wie; wat; waar; wanneer; wie se;
waarom; hoe; hoekom
• Onbepaalde voornaamwoord = niemand
• Betreklike voornaamwoord = wat; wie; wie se
• Wederkerende voornaamwoord = myself; jouself; homself;
haarself; onsself; julleself; hulleself
• Wederkerige voornaamwoord = mekaar

Lidwoord

Sinonieme: artikel
Afkorting: ART (ook lw.of lidw.)
Betekenis: Bepaal 'n naamwoord
Toets(e): 1. Is dit die of 'n?

Voorbeelde: • die
• 'n
• de/den/der/des (slegs in versteende Afrikaanse uitdrukkings)

Subkategorieë: • Bepaalde lidwoord = die


• Onbepaalde lidwoord = 'n
Telwoord

Sinonieme: numeraal (meervoud: numerale)


Afkorting: NUM (ook telw.)
Betekenis: Dui aantal aan
Toets(e): 1. Kan jy dit in syfers uitdruk? Hooftelwoord (Engels: "cardinal number")
(Onbepaalde hooftelwoorde kan nie in syfers uitgedruk word nie.)
2. Dui dit 'n rangorde aan? Rangtelwoord (Engels: "ordinal number")

Voorbeelde: • sewentien > 17


• derde > 3de

Subkategorieë: • Bepaalde hooftelwoord = een; twee; drie; ...


• Onbepaalde hooftelwoord = baie; talle; horde; ...
• Bepaalde rangtelwoord = eerste; tweede; derde; ...
• Onbepaalde rangtelwoord = laaste; soveelste; ...

Voegwoord

Sinonieme: konjunk (meervoud: konjunkte)


Afkorting: CNJ (ook voegw.)
Betekenis: Skakel twee sinne of sinsdele aan mekaar
Toets(e): 1. Kan jy twee sinne maak as jy die voegwoord verwyder?

Voorbeelde: • en > Johan en Fikile het in die ry gestaan = Johan het in die ry gestaan
+ Fikile het in die ry gestaan
• terwyl > Johan het in die ry gestaan, terwyl Fikile kos gaan koop het
= Johan het in die ry gestaan + Fikile het kos gaan koop

Subkategorieë: • Neweskikkende voegwoorde = behou onafhanklike woordvolgorde


(daar is slegs ses neweskikkende voegwoorde: en; maar; want; of;
asmede; dog)
• Onderskikkende voegwoord = het afhanklike woordvolgorde tot
gevolg; dit is al die ander voegwoorde (terwyl; indien; mits; nadat;
omdat; ...)
Partikel

Sinonieme: deeltjie
Afkorting: PTCL
Betekenis: Het gewoonlik geen betekenis op sy eie nie
Toets(e): 1. Is dit die: (a) tweede nie in 'n sin; (b) se wat besitting aandui;
(c) so en soos wat in vergelykings gebruik word; (d)
die en ná sit/staan/loop/lê en nog 'n werkwoord; (e) die van wat 'n
gedeelte aandui; (f) die te wat saam met om gebruik word; of (g)
die te wat graad aandui?
2. Is dit 'n voorsetsel of bywoord wat eintlik vas aan die werkwoord
geskryf word?

Voorbeelde: Sien hier onder


Subkategorieë: • Ontkenningspartikel: nie > Hy is nie moeg nie. (Die eerste nie is 'n
bywoord van ontkenning.)
• Besitspartikel: se > Suléne se boek is in die kas.
• Vergelykingspartikel: so/soos > Hy is so arm soos 'n kerkmuis.
• Skakelpartikel: en > Julle moenie so sit en ginnegaap nie!
• Deelpartikel: van > Drie van die mans het in die hof verskyn.
• Infinitiefpartikel: te > Winnie hou daarvan om boek te lees.
• Graadpartikel: te > Hierdie malvapoeding is te lekker vir woorde!
• Werkwoordpartikel: op (e.a.) > Sy skryf die name op in 'n
boek. = Sy sal die name in 'n boek opskryf.
• Werkwoordpartikel: ver (e.a.) > Sy spring baie goed ver. = Sy kan
goed verspring.

Tussenwerpsel

Sinonieme: interjeksie
Afkorting: INTERJ (ook tw.)
Betekenis: 'n Uitroep of uiting wat alleen kan staan
Toets(e): 1. Kan die woord alleen staan in 'n sin?
2. Kan die woord gevolg word deur 'n uitroepteken of ellipsteken?

Voorbeelde: • Eina!
• Sjoe!
• Uhm ...
• Wow!

Subkategorieë: Geen

You might also like